Lukas 12:32-40 – 07 Augustus
Koninkrykstyd 9
The Greatest Treasure deur Demi sluit baie goed aan by vers 34 van vandag se Skriflesing. Hier is ‘n video daarvan, of neem dit vir ‘n uur uit om in Familietyd te gebruik. Carolyn Browne stel voor dat jy die Skriflesing met drie mense doen, wat verskillende ligte ophou (teks ingesluit). Kinders kan papier-lanterns maak terwyl hulle saam na die preek luister. Die preekriglyn begin met die verhaal van iemand wie se kleindogter graag wegkruipertjie speel. Sy hou haar twee ogies styf toe, tel tot tien en roep dan: “Here I come, ready or not,” waarna sy opgewonde haar ma begin soek. So sê die Here Jesus vir gelowiges met hierdie teks: “Here I come, ready or not.” Daarom moet gelowiges altyd gereed wees om die Here te ontmoet wanneer Hy weer kom! Om dit te verduidelik, bespreek Jesus twee alledaagse gebeure in Lukas 12. Eers fokus Hy op ‘n huiseienaar wie se verantwoordelikheid dit is om sy huis teen diewe te beskerm. As hy geweet het wanneer hulle kom, kon hy hulle ingewag het. Ongelukkig kom hulle onaangekondig; daarom moet hy bedags, maar ook snags voorsorg tref vir ingeval hulle hom sou verras en beroof. Dit vra dat hy altyd waaksaam en op sy hoede sal wees. Tweedens fokus Jesus op ‘n huishulp wie se verantwoordelikheid dit is om die eienaar se huis netjies en skoon te maak. Om dit te doen moet sy haar lang linnerok met ‘n gordel om die heupe vasbind. Sy doen dit sodat sy oral kan skoonmaak en nie verhinder word as sy wil buk of strek nie; ook sodat sy nie struikel en val terwyl sy die eienaar se besittings ronddra nie. Dit moet ‘n daaglikse, selfs uurlikse roetine wees, want sy weet nie wanneer die eienaar van die troue af gaan terugkom nie. Dit gaan heel waarskynlik onverwags wees – ná middernag of eers met hanekraai. Die huishulp moet egter altyd op haar pos wees, gereed om die eienaar by die deur te ontmoet. Dan moet die huis se ligte brand, die tafel moet gedek wees, daar moet kos in die oond wees en die bed moet skoon oorgetrek wees sodat dit vir die eienaar lekker sal wees om huis toe te kom. Gebeur dit nie, ervaar die eienaar teleurstelling, selfs verlies, en is daar geen vreugde in daardie huis nie.