1 Samuel 16:1-13 – 22 Maart
Vierde Sondag in Lydenstyd
Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die verhaal vertel of die teks dramaties lees of die ingeslote skakel na ‘n video gebruik. Jy kan ook ‘n groep kinders die teks laat “opvoer” terwyl jy dit lees. Die verhaal “How to train your dragon” sluit ook goed hierby aan. Hiccup is ‘n jong Viking, die hoofman se seun, maar hy stel heeltyd teleur. Hy is nie groot genoeg nie en hy hou nie daarvan om te baklei nie. Maar wanneer hy een van die drake wat die dorpie terroriseer, mak maak, sien almal dat hy die leier is wat hulle benodig. God kyk nie na hoe ons buite lyk nie, maar aan die binnekant. God sien die hart, soos die OAV sê. Die Bybelverhaal speel af in die tyd van Koning Saul as koning van Israel. Die Here en die profeet Samuel is egter hartseer oor Saul. Hy het ontaard in ‘n tragiese karakter. In Samuel 15 sê God dat Hy jammer is dat Hy Saul koning gemaak het. In hierdie tyd stuur die Here vir Samuel om ‘n nuwe koning te gaan salf. Wanneer Samuel bang is om hierdie opdrag uit te voer, omdat hy bang is Saul – wat nog koning is – sal dalk uitvind dat hy ‘n nuwe koning gaan salf, verbloem die Here die werklike rede vir Samuel se besoek aan Isai. Wanneer Eliab opdaag, is Samuel oortuig daarvan dat hierdie oudste seun van Isai die verkose koning moet wees. Iemand skryf oor Eliab: “He’s got future written all over him.” Vinnig kom ons egter agter dat die Here nie na dieselfde eienskappe as mense kyk nie. Die Here kyk dieper as die oppervlak – anders as mense se eerste indruk. Die Here kyk na die innerlike – dalk wil Hy wil onder andere weet hoe ons saam met mense kan huil en bid. Hy wil weet of ons ‘n passie het vir geregtigheid en ‘n hart vir verdwaaldes. Om hierdie rede vra die Here van Samuel om nog nie met sy soektog vir ‘n koning onder Isai se seuns op te hou nie. Uiteindelik moet Samuel egter vir Isai vra of hy nie nog ‘n seun het nie. Isai antwoord: “Daar is die jongste.” Hy gee nog nie eers die seun se naam nie, so onwaarskynlik en onbelangrik word hierdie seun geag. Uiteindelik word hy tog geroep. Wanneer hy (ons ken steeds nie sy naam nie) opdaag, ruik hy waarskynlik nie goed nie en is hy waarskynlik ook vuil omdat hy pas uit die veld kom waar hy sy pa se skape oppas. Wanneer hierdie seun voor Samuel verskyn, hoor hy by die Here dat dít die seun is wat hy tot die koning van Israel moet salf – ongeag hoe hy lyk, of hy nou vuil is of nie. Dit is nie die uiterlike wat die Here beïndruk nie, maar Dawid se hart wat vir die Here wys dat hy ‘n koning is. Hiervoor moet Samuel nie op sy menslike logika vertrou nie, maar op die wysheid en leiding van die Here. Uiteindelik sal ons leer dat daar beduidende verskille tussen Saul en Dawid is. Saul het indrukwekkend gelyk, maar het as koning uiteindelik nie beïndruk nie. God is veel meer geïnteresseerd in die nuwe koning se hart en karakter – wat God liefhet en dien. Dawid word uiteindelik Israel se mees besondere koning.