Esegiël 18:1-4, 25-32 – 1 Oktober

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Die eerste Sondag in Oktober is Wêreldnagmaalsondag. Dit sal goed wees om as gemeente op hierdie Sondag saam met gemeentes oor die wêreld heen die nagmaal te vier. Carolyn C Brown gee ’n paar kindervriendelike idees om Wêreldnagmaalsondag te vier. Volg hierdie skakel daarvoor of vra  ’n ouer en twee jongmense om die verhaal van die pa en die seuns op te voer. Dit sal nodig wees om vir die kinders die woord “wil” te verduidelik. Dit word op twee maniere in die teks gebruik: “Nee, ek wil nie” en: “Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Gesels met die kinders oor wat God se wil is. Vir verdere idees en ’n oulike voorstel vir ’n kindervriendelike skuldbelydenis, gaan kyk gerus na “Worshiping with children”.

Die preekskets veronderstel dat die prediker die hele hoofstuk verreken, nie bloot die twee seleksies van die Leesroosterteks nie. Ons teks kom uit ‘n tyd vol woelinge en swaarkry in die geskiedenis van God se volk, die ballingskap. Dit kon die volk op twee maniere lamlê. Dit kon aan die een kant hulle fatalisties maak.  Hulle pa’s en ma’s het drooggemaak, en nou is hulle in ballingskap sonder hoop en sonder uitkoms.   Hulle dra die kollektiewe skuld van die verlede en sal as gevolg daarvan verlore gaan. Dit kon hulle egter aan die ander kant verlei om hulleself te verontskuldig, hulle ouers die skuld te gee, en nie self verantwoordelikheid te aanvaar nie.  Hulle kon hulle eie aandeel aan die verlede en die persoonlike verantwoordelikheid vir hulle gedrag in die hede geringskat.

In beide gevalle kon hulle dus besluit om te doen wat hulle wil. Hulle sou kon lewe met die idee dat om God te dien en Hom te gehoorsaam, geen doel dien nie.  Hulle sou kon reken gehoorsaamheid al dan nie gaan nie saak maak vir God nie.  Hulle lot is in elk geval verseël en sal op niks uitloop nie.  Doen dan liewer presies wat ‘n mens self wil, en vergeet van God en sy gebod.

Daarom moedig Esegiël hulle aan om aan die een kant met die hoop te lewe dat God regverdig en genadig is.  Nie net behoort alle mense aan Hom nie (18:4).  Dit is duidelik beslis nie God se wil dat mense sterf nie, selfs nie die goddelose nie.  “My wil is dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23).   Soos Petrus lank hierna sal sê: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).

Aan die ander kant moedig hy hulle aan om persoonlik verantwoordelikheid te neem om volgens God se wil te lewe, reg te laat geskied en reg te doen (18:5).  God seën dié wat met “‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees“, lewe (18:31), wat toelaat dat Hy hulle lewens beheer.  En dít het nie net ‘n persoonlike uitkoms nie, maar ook een vir die geslagte, soos die woord in Eksodus 20:6 ons herinner: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Só sluit Esegiël ook vir ons die toekoms oop.  Dit is ómdat ons die hoop het dat God regverdig en genadig is, dat ons onsself aan Hom kan toewy en aan Hom gehoorsaam kan lewe.  Só sê Paulus immers in Filippense 2: “12Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Laai af: WordPowerPoint

Jona 3:10-4:11 – 24 September

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel gewoon die verhaal in Familietyd! Jy kan dalk hierdie video gebruik, of hierdie een. Hierdie video se kwaliteit is nie so goed nie, maar Jona is so lekker dramaties! Hier is mooi inkleurprente, o.a. van ‘n knorrige Jona onder ‘n bos. En hier is ‘n idee van ‘n plant wat jy kan maak met ‘n lekkergoed-wurm. Dis natuurlik ‘n ander plan – deel “sour worms” uit en gesels oor hoe ons soms suur raak wanneer God mense vergewe vir wie ons nie wil vergewe nie.

Die preekriglyn begin met die feit dat Jona nie vir God kans sien nie. God is te veel vir hom. Spesifiek God se genade oor die heidense stad, Nineve. ‘n opbloeiende stad van die Assiriese ryk. Assirië, die wrede en gewelddadige empire wat uiteindelik die noordelike tien stamme van die Godsvolk in ballingskap sou wegvoer. Ons sal die Assiriërs vandag kon vergelyk met die Nazi’s of – weens hulle wreedheid – met moderne volksmoordenaars en etniese suiweraars. Gaan kyk weer na wat die profeet Nahum profeteer teen Nineve en hoe hy die bloedspoor beskryf wat die stad in sy strooptogte agtergelaat het (3:1-3). Jona vind dit onmoontlik om genade vir so ‘n stad aan te kondig. Hoe kan God sy oordele oor Nineve opskort in die lig van Nineve se berou en bekering? Vir die Joodse profeet, Jona, was dit te veel.

Wat is die boodskap van hierdie teks vir ons vandag?

Eerstens word ons getref deur die genade van God. God se liefde en trou verander nooit nie, God se oordele verander dikwels. Soos God kan ons gerus ook oop bly vir verandering, berou en bekering. Ons moet ook bereid wees om te vergewe en te omhels.

Tweedens is die oordeel van God geregverdig en gepas. Nineve en Assirië se wreedheid skrei ten hemele en verdien oordeel. Uit die geskiedenis weet ons Assirië het bly volhard en is in 612 v.C. met die aarde gelyk gevee. God haat die hoogmoedige, onbekeerlike maghebbers en rig hulle ten gronde. Bekering, berou, restitusie en vergifnis is die weg van God se koninkryk, die weg na God se hart.

Derdens word ons geroep om vanuit die krag van liefde en deernis op te tree en die kwaad te oorwin. Dit lyk soms belaglik om met liefde en diens op onreg te reageer. Liefde en diens verdoesel nie onreg nie, maar ontmasker dit. Jesus het aan die kruis vir sy vervolgers gebid. Die kruis was die hoogtepunt van al die geweld wat teen die koninkryk van God geloods kon word. Die kruis het geweld ontmasker en vernietig. Dit geld tot vandag toe.

Vierdens help Jona ons om nie te dink ons vyande is ook God se vyande nie. Die boek wys hoe onverwags God se genade is. Die Leesrooster vir Lidmate stel dit so: “Ons sien hoe God se genade verby die grense en stereotipes beweeg wat ons telkens keer om genade aan ons medemens te betoon. Die verhaal van Jona is soos ‘n spieël wat opgehou word voor onsself. Dit help ons nadink oor of ons regtig gemaklik is met God se genade. Of is ons soos Jona wat weier om die radikale aard van God se verlossing te aanvaar? Watter gevoelens en emosies maak die verhaal by jou wakker?”

Vyfdens help Jona ons verstaan niemand is so verlore dat redding nie moontlik is nie. Nie individue nie, ook nie stede, state of empires nie. Die Christelike evangelie skep altyd die moontlikheid van verlossing vir elkeen. Dit is God se diepste bedoeling dat niemand verlore gaan nie, maar dat almal hulle bekeer en lewe.

In die sesde plek het Jona eintlik nie ‘n slot nie. Ons hoor nooit wat Jona se reaksie was nie. Het sy houding verander? Het hy insig in God se genade ontwikkel? God sien en dink anders as ons. Die oordeel behoort aan God. Laat ons mense vanuit God se genade benader. Op hierdie manier skryf elkeen van ons die slot van die boek Jona vir onsself en ons tyd.

Laai af: WordPowerPoint

Romeine 14:1-12 – 17 September

Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown sluit vir die Familietyd aan by die kerngedagte uit die fokusteks, naamlik dat christene veral uiters versigtig moet wees om mense nie te oordeel nie, om ruimte te laat dat ander mense anders mag dink en voel en optree. En sy gebruik die alledaagse voorbeeld van kos- en eetvoorkeure.

Die preekriglyn sluit aan by die feit dat verskillende gebruike en sieninge in gemeentes dikwels verhoudinge en geloofsgemeenskap onder geweldige druk bring. Paulus roer in Romeine 14 presies sulke verskille in die gemeente aan. Dit het tot ernstige verdeeldheid gelei. Dit is die moeite werd om eers deur die teks te stap en te fokus waarop Paulus die klem plaas – die verskille rondom dae en dieet. As ‘n mens dít goed verstaan, kan jy die twee opdragte wat hy gee, aan boord neem. Om mekaar te aanvaar, omdat die Here ons aanvaar; Om te leef vir die Here, want Hy is die enigste Een wat oordeel oor ons.

Laai af: WordPowerPoint