Ander
tekste: Lukas 3:7-18; Psalm 48; Filippense 4:4-7
Die opskrif
(1:1) plaas Sefanja in die regeringstyd van koning Josia van Juda (639-609
v.C.). Die tyd rondom 630 v C word
algemeen gesien as die waarskynlikste vir die optrede van die profeet. Sefanja tree dus op voor die
godsdienshervormings van Josia (628 v.C., 2 Kron 34: 3 ev. en 622 v.C., 2 Kon
22-23).
Vanaf die
middel van die sewende eeu v.C. word die tekens van ‘n naderende verskuiwing op
die terrein van die internasionale politiek sigbaar. Assirië word gedwing om die westelike dele van sy ryk met groter
toeskietlikheid te behandel omdat hy sy hande vol gehad het met die onrus in
die oostelike dele onder leiding van die Babiloniërs, Elamiete en Arabiese
stamme. In Egipte hou Psammetichus I in
655 v.C. sy skatpligbydraes terug en herstel formeel die onafhanklikheid van sy
land. Kort hierna breek die Babiloniese
opstand (652 v.C.) uit. Assurbanipal slaag eers na ‘n lang tyd daarin (648 v C)
om die opstand te onderdruk. Die
groeiende onvermoë om die Assiriese Ryk bymekaar te hou, skep ‘n gulde
geleentheid in Palestina vir ‘n finale ontplooiing van die ryk van Israel. Die ongeveer vyf en vyftig jaar wat Manasse regeer
het, kom tot ‘n einde. Amon, wat
Manasse opvolg, sterf ná twee jaar in ‘n komplot deur sy hofdienaars en die
agtjarige Josia begin sy lang periode van regering (639-609 v C). Alhoewel hy aanvanklik nog aan Assirië
skatpligtig is, skep besondere omstandighede in die kwynende Assiriese Ryk vir
hom spoedig die geleentheid vir betekenisvolle politieke en godsdienstige
hervormings. Dit is dan knap voor
hierdie hervormings dat ons profeet optree.
Wat die
verdere geskiedenis betref:
Assurbanipal sterf in 627 v C en sy opvolgers kan die Assiriese Ryk nie
langer byeenhou nie. In 627 v C stig
Nabopolasser die Nieu-Babiloniese Ryk.
Die gesamentlike aanslag van hierdie nuwe opkomende wêreldmoondheid saam
met die Skite en Meders skud die Assiriese magsposisie tot in sy
fondamente. In 612 v C word Nineve
verower en in 609 v C val Haran die laaste vesting en hoofstad van die
Assiriese Ryk voor die aanslae van die Galdeërs. Hierdie jaar (609 v C) is ongelukkig die sterfjaar van Josia deur
die hand van Nego by Megiddo. Daarmee
word ‘n unieke fase in die geskiedenis van God se volk afgesluit.
Sefanja
verbreek dus ‘n lang profetiese stilte in Juda. Miga se stem is reeds sowat 115 jaar stil en dié van Jesaja
(1-39) sowat sewe dekades. Die enigste
profeet wat optree in die lang tyd waarin die bose Manasse regeer is Nahum – en
hy doen dit waarskynlik per brief vanuit Assirië (Van der Woude 1978a). Alhoewel Sefanja in die 7de eeu v. C.
optree, beteken dit nie dat die boek in dieselfde tyd voltooi is nie. Daar bestaan redelike eenstemmigheid dat die
boek redaksionele prosesse ondergaan het.
Waarskynlik was daar twee basiese prosesse naamlik ‘n voor- en ‘n
eksilliese/na-eksilliese stadium. Die
boek vorm ‘n planmatige geheel.
Prinsloo (1987:281) bespreek die boek aan die hand van die volgende
groot eenhede:
A 1:2-2:3 Onheil oor Juda/Jerusalem, B 2:4-15 Onheil oor die
nasies C
3:1-8 Onheil oor Jerusalem
en oor die nasies, D
3:9-20 Heil vir Juda en vir
die nasies
Hoofstuk 3:
1-8 (C) is dan ‘n samevatting van A en B.
D, dit is 3:9-20 vorm weer die teenpool van 3:1-8 en dus ook van A en
B. Die opbou van die boek lyk soos ‘n
ketting met skakels waar die een perikoop telkens by die vorige aanknoop en die
tema of hoofargument verder voer of in ‘n ander rigting stuur. Wanneer die opbou van die boek ter sprake
kom, gaan die geeste daarom ook uiteen.
(Sien hieroor ook Du Preez 1985a en 1985b.)
Die eerste hoofafdeling is ‘n oordeelsaankondiging teen
Jahwe se eie volk, Juda. Die gerig sal
plaasvind in die vorm van die ‘ dag van die Here’. Hierdie dag neem ook universele afmetings aan. Hier word nie ongekwalifiseerde oordeel
verkondig nie, want as die volk reageer op die boete-oproep sal hulle ‘miskien’
(v 3) die oordeel van dié dag gespaar word - die moontlikheid van heil bestaan
nog.
In die tweede hoofafdeling word die
algemene of universele aard van die ‘ dag van die Here’, wat in die vorige deel
net aangeraak is, sterk uitgebou.
Hoofstuk 2:4-15 bestaan uit oordeelsaankondiginge teen die omringende
volke; 2:4-7 is teen die Filistyne gerig.
Die profeet is self aan die woord.
‘n Vernietigende oordeel word oor die belangrikste Filistynse stede en
oor die Filistynse kusvlakte uitgespreek.
In hierdie oordeelsaankondiging kom daar tog ook ‘n heilsorakel vir Juda
voor (vgl 2:7). In 2:8-11 is die
oordeelsaankondiging teen Moab en Ammon gerig in die vorm van ‘n godsrede. Jahwe is self aan die woord, en totale
vernietiging word oor Moab en Ammon uitgespreek. Weer eens word ‘n heilsorakel uitgespreek oor die ‘oorblyfsel’
van die volk Juda. Hoofstuk 2:12
bestaan uit ‘n kort oordeelspreuk teen die Kussiete, en 2:13-15 is ‘n
oordeelsaankondiging teen Assirië en sy hoofstad Nineve. Verwoesting is hulle voorland. Die oordeelsaankondiging teen die volke
geskied volgens die vier windrigtings waardeur doelbewus die alomvattendheid en
universaliteit van Jahwe se oordeel beklemtoon word.
Die derde groot afdeling van die boek (3:1-8) is ‘n
samevatting van 1:2-2:3 (oordeel oor Juda/Jerusalem) en 2:4-15 (oordeel oor die
volke), want in hierdie gedeelte word ‘n oordeel uitgespreek oor Jerusalem
sowel as oor die volke. In 3:1-5, die
oordeelsaankondiging teen Jerusalem, is die profeet aan die woord, terwyl
3:6-8, die oordeel oor die volkere, ‘n Jahwewoord is. Die oordeel oor Jerusalem, ingelei deur ‘n geykte wee-uitroep
(‘Ellende wag op ...‘, v 1) beklemtoon die onafwendbaarheid van die oordeel. In 3:1-2 word die sonde van Jerusalem gelys
om die aanklag te versterk. Die leiers
van Jerusalem (die amptenare, regters, profete, priesters) word ook opgenoem om
aan te toon dat die skuld op hulle skouers rus. In teenstelling hiermee staan die ‘eienskappe’ van Jahwe (3:5) om sy regverdigheid en getrouheid na
vore te bring. Hoofstuk 3:6-8
beklemtoon weer eens dat die ‘dag van die Here’ nie net teen Jerusalem gerig is
nie, maar dat dit universeel is.
Die laaste afdeling van die boek bestaan uit ‘n heilsorakel,
3:9-20. Hierdie gedeelte vorm nie net
‘n teenpool vir 3:1-8, wat direk voorafgaan nie, maar ook vir die res van die
boek. Sefanja 3:9-13 is ‘n
eskatologiese heilsbelofte aan die volke (v 9-11) en aan die gesuiwerde
oorblyfsel van Israel (v 12-13). Jahwe
is nie meer aanklaer en regter nie, maar Hy bewerk heil en sal sy eie volk en
ook die ander volke suiwer van sonde en ongeregtigheid. Hoofstuk 3:14-15 is ‘n oproep tot ‘n
jubellied. So seker is die profeet dat
die heilsbelofte vervul sal word dat hy Jerusalem oproep tot ‘n loflied. Hierdie gedeelte bestaan uit ‘n oproep (daar
is vier imperatiewe in v 14) en verskaf die grond vir die oproep (Jahwe is
koning, v 15). Hoofstuk 3:16-20 is ‘n
heilsaankondiging. Jerusalem se
grootste troos lê daarin dat Jahwe by hulle is. Hy is die almagtige God by wie sy volk hulp kan verwag, en Hy is
die liefdevolle God, wat sy volk in hulle lyding raaksien.
Odendaal
(1985:24 e v) wys op die sentraliteit van die ‘dag van die Here’ in die boek
Sefanja. In sy bespreking van die
inhoud hou hy basies by die indeling hierbo, maar onderstreep telkens die rol
wat die dag van die Here in elke (onder)afdeling speel.
In 1:2-2:3
word die groot dag in sy universele implikasies geteken as ‘n dag van oordeel
teen die ontroue volk van God.
In 2:4-3:8
word die dag geteken as ‘n dag van oordele en gerig oor Israel se bure. Die gerig tref ook die besoedelde Jerusalem
wat ten spyte van Jahwe se teenwoordigheid skaamteloos voortgaan om onreg te
doen.
‘n Verdere
betekenis van hierdie dag is ‘n nuwe heilswerklikheid vir die oorblyfsel van
God se volk (3:9-20). Die Here
verberg/beskerm die oorblyfsel – vergelyk die betekenis van die naam
Sefanja. Uit die oordeel kom daar ‘n
nederige oorblyfsel, ‘n gelouterde volk wat beantwoord aan die standaarde van
sy verbond. Hy is self in hulle midde
en verheug hom met onbeskryflike vreugde oor hulle.
Die
aantasting van die diens aan die Here (1: 4-5; 3:1-5), die deur
welvaart-veroorsaakte (1: 12) wêreldgelykvormigheid (1: 8-9) en asosiale
arrogansie van die afgestompte elite van die godsvolk roep die oordeel op (Van
der Woude 1978b:83).
Die oordeel
kom juis in die vorm van die dag van die Here.
Oor die oorsprong van die konsep van die dag van die Here is dit nie
nodig om nou hier in te gaan nie. Die
prediking van Sefanja kan nie anders as eskatologies geïnterpreteer word
nie. Die konsep ‘die dag van die Here’
is deel van die Ou-Testamentiese eskatologie en daarin gaan dit nie oor ‘n
chronologies-begrensde dag nie. Eerder
het die profete meer as een dag in gedagte.
Hulle bring die dag van die Here telkens met bepaalde historiese gebeure
in verband. Hierdie ‘dag van die Here’
is dae wat telkens aanbreek waarop God homself laat geld. Die ‘dag van die Here’ moet dus eerder kairos-ties as chrono-logies verstaan word.
Daar kom dus ook ‘n finale dag van die Here waarvan al die ander dae as
voorstadiums dien. Telkens wanneer die
Here op ‘n besondere wyse in die geskiedenis ingryp, is dit ter voorbereiding
van die dag van sy wederkoms. Vergelyk
in die verband Matteus 14:41 en Sefanja 1: 3; Openbaring 6:17 en Sefanja 1:14;
Openbaring 14:5 en Sefanja 3: 13; Openbaring 16:1 en Sefanja 3:8. Die Nuwe-Testamentiese gemeente het die
verwagting van die laaste gerig en die verwagting van die nuwe Jerusalem op
haarself betrek in voortsetting van Sefanja se verkondigingslyn. Die eskatologiese heil word ook in die Nuwe
Testament toegesê aan die armes en sagmoediges (Mat 5:3 en 5 en – vgl OAV ‘die
ootmoediges van die land’ van Sef 2: 3).
Soards,
Dozeman en McCabe(1994:42) wys ook dat die ‘in die tyd’ (OAV) van 3:20 ook
hierdie gedeelte binne die konteks van die tekening van die
dag-van-die-Here-beeldspraak plaas. Om
hierdie heilsgedeelte in isolasie van die res van die boek te preek, sou
hermeneuties onverantwoordbaar wees omdat daar aan die veelkantigheid van die
betekenis van die dag van die Here ingeboet sal word.
Onder
hierdie rubriek sou dit ook nodig wees om iets te sê oor die Derde Sondag van Advent. Die naam van hierdie Adventsondag word
ontleen aan Fillipense 4:4-7: ‘Verbly
julle…’ – Gaudete! Net soos op die derde Sondag voor Pase, Laetare, word die liturgiese kleur
vervang met ligroos. Vir die kinders in
sy gemeente bring Berkhof (1984:148) hierdie Sondag met ‘n bergklimuitstappie
in verband. Op so ‘n uitstappie, sê hy,
sien ‘n mens nie altyd die spits of einddoel waarheen jy oppad is nie. Dit is net wanneer jy in ‘n oopte tussen die
bosse of op ‘n voorspits kom dat jy weer jou doel sien. Dit gaan nog ‘n rukkie duur voordat jy jou
bestemming bereik, maar ‘n mens skep weer moed en jy weet dit is die moeite
werd om te volhard – selfs al sou jy vorentoe dalk weer die einddoel tydelik
uit die oog verloor. Dit is dan op
hierdie manier dat ‘n mens op die voorspits van Gaudete, in die alreeds-van-Advent, ‘n blik kan kry op die
nog-nie-van-die-Messias se komende ryk.
So sal ons ook later op Laetere,
in die alreeds van die lydenstyd, ‘n blik kry op die nog-nie van die opstanding
van ons Here – en ook weer moed skep.
Op hierdie
Roos-Sondag in ‘n purper advent sal kreatiewe homilete seker heelwat kan maak
van die interne spanning, nie net in Paulus se ‘Verbly julle…’ vanuit ‘n
gevangenis nie, maar ook van die interne spanning in die jóm Jhwh van ons profeet.
Du
Preez(1985b) bied verskeie preeksketse.
(Raadpleeg ook Du Preez 1985a vir bruikbare eksegetiese insigte). As raamwerk vir een preek stel hy die
volgende voor:
a. Die Here sluit Israel (Jerusalem) by sy
gerig oor die nasies in (8).
b. Hy skep vir Hom ‘n gelouterde Godsvolk uit
Israel en die nasies (9-13).
c. Hy gee aan Israel (Jerusalem) roem en eer
onder die nasies (14-20)
As raamwerk
vir ‘n tweede preek bied hy die volgende aan:
Tema: Die Here skep vir Hom deur oordeel heen ‘n
gelouterde volk uit Israel en die ander nasies.
a. Hy
skep rein lippe vir ‘n rein hart (9, 12),
b. sodat
almal die een Naam sal aanroep (9, 12b),
c. Hom
soos een man sal dien (9),
d. Hom
deur hulle besittings eer (10),
en nederig
voor Hom wandel (11, 12).
Met die oog
op advent kan die volgende dalk gebruik word.
Die Skriflesing is Sefanja 3:9-20 en Filippense 4: 4-7.
As
inleiding kan die prediker die gebruik van stilte in die adventstyd
verduidelik. (Sien Leesrooster vir lidmate, Jaar A [s a]:Simbole en rituele in
Advent.) Ek het ook die vermoede dat op
die meeste Adventsondae in die kerk waarvan ek lid is dit nie die gebruik is om
stil te wees nie – veral nie op hierdie Sondag (Gaudete!) nie.
Sou ons
stil wees, sou dit ‘n fout wees om passief stil te wees. Daar is mos ‘n verskil tussen passief sit en
wag en om, andersyds, met gespanne verwagting uit te sien. Van ons word verwag om nie net te wag nie,
maar om waaksaam te wag, die tyd uit te koop.
Aan die ander kant, sou ons sing, sou dit ook ‘n fout wees om te sing
net om ons besig te hou, of, omdat sang in kerstyd so lekker is. (Het ons dalk so bang vir onsself geword dat
ons nie meer by en met onsself kán stil wees nie. Is ons gesingery en gedoenery nie dalk pure ontvlugting nie…?) Kortom:
In ons wag kan ons ons waaksaamheid verloor, selfs vergeet waarvoor ons
wag. Of, ons kan so besig wees dat ons
nie eers daarvan bewus is dat ons veronderstel is om waaksaam te wag nie.
Sefanja se
hoorders het hulle skynbaar aan albei hierdie foute skuldig gemaak. Hier kan 1:4, 5 en 9 as voorbeeld van
singende-fouteerders gekontekstualiseer word:
Dalk is ons afgodery en sinkretisme nie so ooglopend nie, maar dat ons
‘n fabriek van afgode is (Calvyn), staan vas.
Is ons ywerige doeners in die koninkryk wat, helaas, dink dat dit in die
godsdiens gaan oor wat ek daaruit kan kry, dat dit net gaan om ‘n
subjektiwistiese privaat-godsdiens (lees: ek-diens) wat draai om innerlike
belewenis en persoonlike ontwikkeling, selfvervulling en uitlewing? (Verwys die Verslag oor oopgesprekke wat
tydens die 1999 sinodesitting van die NG Kerk in SA Suid- en Wes-Kaap gedien
het asook na die voordrag van Prof D J Smit tydens hierdie sitting.) Ons kan soms verskriklik besig wees in die
kerk, maar ongelukkig net met onsself.
‘Die kerk (en dus elke lidmaat) is op ‘n besondere wyse medeverantwoordelik
vir wat met homself en met die nasies in die wêreld gebeur. Daar is ‘n lydingspad vir die wêreld waaraan
die kerk self skuld mag hê, en daar is ‘n lydingspad vir die kerk waaraan die
kerk self skuld mag hê’ (Du Preez 1985b:268).
Afgodery is nader aan ons as wat ons mag dink.
Vers 12 van
Hoofstuk 1 beskryf weer die argelose en selftevrede niksdoen-wagters – hulle
wat dik geword het op hulle afsaksel (OAV).
Raadpleeg die kommentare. Hoe
dit ookal sy, of ons sing en of ons spring, ons almal loop die gevaar dat ons
aanhangers van die Godsbeskouing van vers 12 is – anders gesê, dat ons dreig om
soos die kinders op die markplein te word waarvan die Here Jesus ons vertel
(Mat 11: 16 e v).
Dalk speel
die wêreldgebeure ook ‘n rol in Sefanja se gemeente se opvatting oor God. (Hier kan die prediker sy gemeente kortweg
inlig oor die wêreldmagte waaraan die kleine Juda uitgelewer is.) Amper soos wat Suid Afrika eensklaps deel
geword het van en uitgelewer is aan dit wat ons globalisasie noem, of, baie
soos ‘n voorheen invloedryke geloofsgemeenskap wat nou net maar een van vele
geword het (hierdie opsie is seker hermeneuties suiwerder).
Hulle dink
nou: God doen niks nie. En hierteen
waarsku Sefanja. God slaap nie. Daar kom ‘n dag soos in 1:14 beskryf
word. Vir Juda breek hierdie
verskriklike dag 587 jaar voor Christus se geboorte aan.
Maar, God
slaap nie, ook nie as Hy moet red nie, en ‘n oorblyfsel kom terug. En deur hierdie oorblyfsel verander Hy die
volke (3:9). Want daar was vir die
oorblyfsel ook ‘n verskriklike dag, op Golgota, sodat ‘n einde aan ons straf
gemaak is (3:15) sodat daar vir ons nie ‘n verskriklike dag hoef te wees
nie.
Daarom kan
daar by ons geen passiwiteit en selfgenoegsaamheid wees nie. Sal ons nie daarom juis vra na die wil van
die Here nie, na geregtigheid en nederigheid streef nie (2:3)? Jesus sê gelukkig is hulle wat dit
doen… Daar kom immers weer ‘n dag
waarop die son van redding met genesing in sy strale sal skyn, maar wat ook sal
brand soos ‘n oond.
Ons kan daarom
op hierdie Sondag opkyk na die spits waarheen ons oppad is – wanneer die tyd
daar is, sal ons bymekaar gemaak word, ons lot verander word, die trane
afgedroog word (3:18, 20).
Omdat ons
moed geskep het kan ons ons verbly. Nog
meer, hoef ons oor niks besorg te wees nie.
Kan ons genadiglik deur gebed en smeking met danksegging vasstaan in ons
verhouding tot God. En in die kerk sal
ons eensgesind wees, daarbuite inskiklik en welwillend teenoor alle mense.
Of ons nou
sing en of ons stil is, ons is getroos.
Só lyk ons vrede, só lyk ons blydskap.
Bibliografie
Berkhof, A
W 1984. Derde Advent Lucas 3: 10-18, in
Van der Laan, J H, Klijn, A F J en Noort, E (reds), Woord in beweging 1 – Advent tot Epifanie1, 140-149. Kampen: Kok. Du Preez, J 1985a. Sefanja 2: 1-3: 7, in Burger, C W, Müller, B
A en Smit, D J (reds), Riglyne vir
prediking oor die profete, 250-261.
Kaapstad: NG Kerk-uitgewers.
(Woord teen die lig 11/1). Du Preez, J 1985b. Sefanja 3: 8-20, in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds),
Riglyne vir prediking oor die profete,
262-271. Kaapstad: NG
Kerk-uitgewers. (Woord teen die lig
11/1). Leesrooster vir Lidmate, Jaar
A [s a]. Stellenbosch:BUVTON. NG Kerk in SA, Wes- en Suid-Kaap Sinode
(43ste 1999, Kaapstad). Verslag oor
oopgesprekke. Die NG Kerk in SA:
Uitdagings en prioriteite vir die volgende tien jaar. (Ten tye van die skryf van hierdie preekskets was die Acta van die Sinode nog nie beskikbaar
nie.) Odendaal, D H 1985. Die profete van die sewende en die begin van
die sesde eeu voor Christus, in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds), Riglyne vir prediking oor die profete,
21-36. Kaapstad: NG
Kerk-uitgewers. (Woord teen die lig
11/1). Prinsloo, W S 1987. Die boek Sefanja, in Burden, J J en
Prinsloo, W S (reds), Tweegesprek met God,
281-286. Kaapstad: Tafelberg. (Die literatuur van die Ou Testament, Deel
3). Soards, M, Dozeman, T and McCabe, K
1994. Preaching the Revised Common Lectionary: Year C
Advent/Christmas/Epiphany. Nashville:
Abingdon. Van der Woude, A S
1978a. Jona Nahum. Nijkerk:
Callenbach. (POT). Van der Woude, A S 1978b. Habakuk
Zefanja. Nijkerk: Callenbach. (POT)