Habakuk 1:1 – 4; 2:1 – 4 (Jaap Durand)

7 Oktober 2001

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste:  Psalm 95:1-2,6-9; 2 Timoteus 1;6-8.13-14; Lukas 17:5-10

Teks

Daar is al beweer dat die boek Habakuk meer die karakter het van ‘n psalm as die van ‘n profesie.  As ons die moeite doen om die hele boek eers deur te lees voordat ons die aandag bepaal by die paar aangewese tekste, sal ons gou weet waarom so gesê word. 

Anders as in die meeste profetiese boeke kry ons hier ‘n gesprek tussen die profeet en God.  ‘Gesprek’ is miskien nie die regte woord nie.  Dit is méér as ‘n gesprek;  dit is ‘n worsteling met God, ‘n worsteling waarin die profeet op soek gaan na antwoorde op vrae wat hom diep kwel.  Geweld, onreg en verdrukking vier hoogty en die wet is nie meer van krag nie, kla hy ( 1: 2-4).  Dit het tot gevolg dat die slegte mense oorhand oor die goeies kry (1: 4).

Habakuk kan dit nog aanvaar dat hierdie dinge in die wêreld gebeur en dat mense sulke dinge doen.  Hy het genoeg lewenservaring om te weet dat die wêreld nooit sonder brutale geweld en die verkragting van die reg sal wees nie.  Sy probleem is egter dat God blykbaar belangeloos toekyk as daar soveel ellende is (1:3)  Waarom herstel God nie reg in Juda en onder die volke nie?  Waarom laat Hy  toe dat die slegte mense die oorhand kry?

Die vraag is:  watter situasie het Habakuk in die oog en wie is hierdie slegte mense waarna hy verwys?  Is dit korrupte toestande in Juda self of is dit ‘n mag van buite wat vir Juda hierdie toestande skep?  Het dit te doen met die Assiriërs wat Juda verdruk of met die Chaldeërs wat God gestuur het juis om die Assiriërs te straf (1:5-11), maar self nou op hulle beurt onreg pleeg waarop God nie ag slaan nie (1:12-13)?

Verskillende eksegete gee verskillende antwoorde op hierdie vrae.  Gelukkig is dit nie nodig om, met die oog op die prediking, hier ‘n keuse te maak nie.  Wat ook al die geval is, dit was ‘n situasie waarin die onreg gedy het en slegte mense straffeloos geweld kon pleeg, sonder dat dit lyk of die Here omgee.

Habakuk is nie bereid om te aanvaar dat God bly swyg oor die beskuldiging dat Hy die geweld en onreg eenvoudig ignoreer nie.  God swyg, maar dit beteken nie dat die profeet berus in God se swye nie.  Hy gaan staan op sy uitkyktoring op die vestingmuur om te wag op God se antwoord (2:1).

Dit is weer eens nie duidelik waarna hier verwys word nie.  Die uitkyktoring kan òf  ‘n plek van fisiese afsondering op die vestingmuur wees, òf dit kan bloot daarna verwys dat die profeet in afsondering gaan om te wag op God.

Habakuk se wag is nie tevergeefs nie.  God antwoord hom op geen onduidelike wyse nie.   Omdat die boodskap twyfel by baie gaan oproep, moet daar geen  misverstand wees oor die inhoud van hierdie antwoord van God aan Juda nie.  Habakuk moet die antwoord in duidelike skrif op kleitablette skryf (v 2).  Dit moet vir almal toeganklik en maklik verstaanbaar wees.

Voordat die Here egter oorgaan om die inhoud van sy boodskap aan Habakuk oor te dra, gee Hy eers ‘n aanduiding van die ‘wanneer’ daarvan (v 3).  Op die oog af het ons in hierdie vers ‘n teenstrydigheid:  die openbaring waarvan hier sprake is, sal gou kom, maar tog ook nie.  Die skynbare teenstrydigheid het egter daarmee te doen dat God, en God alleen, oor die tye van sy koms en openbaring beskik.  Dit is nie vir Juda om tydsberekeninge te maak nie.  Dit mag hulle egter weet:  Die openbaring van wat God gaan doen, God se koms tot hulle te midde van hulle nood, is seker.  Daarom kan hulle geduldig bly wag.

Die inhoud van God se boodskap aan Habakuk (v 4) is nie sonder eksegetiese probleme nie.  In die eerste plek geld dit die woordjie tsaddiq wat deur die 1983-vertaling in Afrikaans met ‘wie reg doen’ vertaal word.  As ons die geleerde eksegete kan glo, verwys hierdie woordjie na ‘n verhouding tussen twee persone wat deur getrouheid gekenmerk word, in hierdie geval die verhouding tussen God en sy volk.  Die Ou Testament maak dit duidelik dat hierdie verhouding nie iets is wat deur Juda verdien word nie.  Dit is geskenk deur God.  Terselfdertyd roep hierdie verhouding egter ook op tot gehoorsaamheid.  In hierdie sin moet ons die 'wie reg doen’ verstaan.  Dit gaan hier om ‘n reg doen deur mense wat reeds tevore genadiglik deur God uitverkies is om in ‘n besondere verhouding tot Hom te staan.  Dit is daarom nie verbasend  dat die ou Afrikaanse vertaling tsaddiq met regverdige vertaal nie, in die sin van: die een aan wie God geregtigheid skenk.

Van hierdie regverdiges word verwag dat hulle volhardend getrou sal bly binne hierdie verhouding met God.  Dan sal hulle lewe.  Hulle sal met ander woorde al die seëninge, al die heil wat God aan sy kinders binne die verbondsverhouding skenk, ten volle ervaar, terwyl hulle toekyk hoe die goddeloses en geweldenaars wat die oorsaak van al hulle ellende was, hulle verdiende loon ontvang.

Konteks

Die protes van Habakuk is soos dié van Asaf in Psalm 73 die taal van die geloof.  In die aangesig van soveel onreg en geweld probeer hy nie om ‘n gesprek met God te vermy nie, maar vra hy dat God Hom moet verantwoord:  hoe kan Hy maar net toekyk as sulke dinge gebeur?

God antwoord Habakuk.  Dit is ‘n egte antwoord, maar dit sien anders daaruit as wat die bidder verwag het.  God gee nie rekenskap van sy besluit om die Galdeërs te gebruik as instrumente van sy toorn en hulle dan self toe te laat om as verdrukkers en geweldenaars op te tree nie.  Wel gee Hy ‘n aanduiding dat ook die Galdeërs hulle verdiende loon sal kry, maar bowe-al wys Hy vir Habakuk hoe Juda onder hierdie omstandighede behoue kan bly.  Watter vrae hulle ook al mag vrae, van hulle kant moet hulle net sorg dat hulle ‘reg doen’ en volhardend ‘getrou bly’ aan God.

Dit mag op die oog af lyk asof God hier die onmoontlike vra, totdat ons besef dat God in die eerste plek Juda se aandag vestig op dit wat hulle reeds besit en wat nooit van hulle weggeneem kan word nie: hulle verbondenheid aan God self as sy volk.  Hierdie grootste van alle gawes wat deur God self aan hulle geskenk is, is hulle behoud te midde van alle swaarkry en ellende.  Die gawe is egter ook 'n opdrag, ‘n oproep tot getrouheid. 

Wanneer ons só na die boodskap van Habakuk kyk, kan ons goed verstaan waarom die apostel Paulus die tweede deel van 2:4 as die sleutel tot sy Romeinebrief gebruik (Rom 1:17). Daar is van verskeie kante beweer dat die apostel Habakuk 2:4 verkeerdelik aanhaal en daaraan ‘n ander betekenis gee wanneer hy sê:  “Elkeen wat vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe” (NAV).  Dat Paulus egter dieper gekyk het en nie net bloot met ‘n woordelikse aanhaling uit Habakuk na vore gekom het nie, maar daaraan ‘n verdiepte betekenis gegee het, word duidelik as ons daaraan dink dat dit vir sowel Paulus as vir Habakuk om die voorrang van die genade van God gaan.    By Habakuk gaan dit om die regverdige wat met God wandel in vertroue op Hom en dáárom met getrouheid aan Hom; by Paulus gaan dit om die goddelose wat sonder verdienste deur God vrygespreek is en wat deur die geloof op hierdie vryspraak vertrou.

Paulus kon hierdie verdiepte betekenis aan Habakuk se woorde gee omdat hy Jesus Christus leer ken het, Hy deur wie die mens vryspraak ontvang het.

Ons het dit nie in onsself om in die weg van wetsgehoorsaamheid ons vryspraak voor God te verwerf nie.  Ook het ons dit nie in onsself om getrou te bly nie.  Dit het die geskiedenis van Israel bevestig en dit ervaar ons in ons eie lewens elke dag.  Daarom moes Jesus kom om enersyds in ons plek die volkome regverdige te wees, dié Een wat sou reg doen en getrou bly;  andersyds om die skuld van ons onreg en ontrouheid weg te neem. Dit is die rede waarom ook aan Hom die waarom-vraag ontpers is toe die duisternis van Golgota op Hom toegesak het  en God Hom oorgegee het aan die hel van Godverlatenheid.   Hier het die grootste onreg en geweld in die wêreldgeskiedenis plaasgevind, omdat Hy wie dit moes ondergaan, die heilige en sondelose Een was wat van God na sy eie skepping toe gekom het.

In die waarom-vraag van Jesus aan die kruis op Golgota word die waarom-vraag van Habakuk en die waarom-vrae van talle mense deur die eeue heen wat geweld en onreg moes gade slaan, opgeneem.  In dieselfde Jesus word ook die antwoord op die waarom-vraag gegee, as God Hom opwek tot die lewe omdat Hy aan God getrou gebly het.

Omdat Jesus opgewek is uit die dood en lewe,  is daar ook vir die kinders van God ‘n toekoms, ‘n uitsig op ‘n lewe wat kom waarin die onreg, die geweld en die ellende nie meer sal wees nie en die wil van God sal heers (2 Pet 3:13).

Net soos vir Habakuk is daar vir ons die belofte dat hierdie nuwe voor die deur is, dat dit verseker sal kom.  Dit is hierdie sekerheid wat ons oproep tot volharding om reg te bly doen en getrou te bly te midde van so baie vrae wat ons kwel wanneer onreg en geweld skynbaar die oorhand het.

Twee dinge weerhou ons daarvan om boedel oor te gee en op te hou om te doen wat reg is:  eerstens die wete dat Christus aan ons sy geregtigheid geskenk het, dat ons dit as ‘n genadegawe ontvang het en tweedens, dat die volle verlossing uit die mag van die sonde op hande is.

Preekvoorstel

Daar is verskeie moontlikhede vir die aanpak van ‘n preek oor hierdie Habakukgedeelte.

Een van die moontlikhede is om te begin met die waarom-vraag wat seker so oud soos die mens self is.  Daar is niemand wat nog nie by die punt gekom het dat die vraag na die waarom van die dinge wat gebeur, nie by hom of haar opgekom het nie.  Dit kan dinge wees wat in die persoonlike lewe van die hoorders gebeur het en wat hulle nie anders as onreg kon ervaar nie.  Hier kan dan beklemtoon word dat dit nie verkeerd is om hierdie vraag aan God te stel nie.  Die protes van Habakuk is die taal van die geloof wat by God meer vermag as ‘n soort vroomheid wat alle worsteling met God probeer vermy. Asaf se beswaardheid in Psalm 73 oor God se skynbare laat gaan van die goddelose in hulle winsgewende bedrywighede en Job se totale onvermoë om God se handelswyse teenoor hom te verstaan kan hierby betrek word. Ten slotte is die tema wat hulle aanspreek, baie dieselfde as dié van Habakuk. Die waarom-vraag het natuurlik nie net ‘n persoonlike kant nie.  In der waarheid val Habakuk se klag binne ‘n sosiaal-politieke konteks.

In die Suid-Afrikaanse konteks is Habakuk se protes dikwels in die verlede gehoor toe die samelewing gereguleer was deur ‘n onregverdige politieke en sosiale sisteem.  Polities het dinge verander, maar daar is nog steeds sosiale oorblyfsels van die verlede wat by baie nog vrae oproep na die regverdigheid van die dinge.  Dit enersyds, andersyds het daar ‘nuwe’ probleme na vore gekom:  so kan byvoorbeeld die vloedgolf van misdaad, geweld en terreur wat skynbaar onbeteueld oor ons land spoel, nie anders nie as om vrae op te roep in die gemoed van elke gelowige mens. Waarom laat God toe dat die onreg skynbaar straffeloos sy gang gaan?

Die antwoord van God aan Habakuk is binne hierdie konteks nog belangriker as die vraag wat hy stel.  God verwag van sy kinders dat hulle steeds sal doen wat reg is en getrou aan Hom sal bly, selfs onder die grootste provokasie;  dat hulle nie die onreg met onreg sal beantwoord nie.

Slegs diegene wat in geloofstrou aan God bly vashou en op grond daarvan steeds doen wat reg is, sal uiteindelik saam met Habakuk sy onvergelyklike loflied kan sing:

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe

aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God,

my Redder.” (Hab 3:17-19)