26 SEPTEMBER 2004

SESTIENDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Nahum 1:1-15

Ander tekste: Jeremia 32:1-15; Psalm 146; 1 Timoteus 6:1-19; Lukas 16:19-31

Inleiding

’n Vraag wat ons ons gereeld moet afvra, is wie is God waarlik? In die Woord leer ons dat die Here ons God nie ’n God is met wie ons kan speel nie. Ja, die Here ons God is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. Maar Hy wreek Hom op sy teenstanders soos Nineve gaan ondervind.

Ons kan die Here in die liturgie met ontsag dien.

GOD VErsamel ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Aanvangswoord van die basisliturgie

Seëngroet

Sang

Psalm 146:1, 6 "Prys die Here, loof en prys Hom"

NSG 409 "Prys Hom, prys Hom!"

Ja, prys die Here! Prys die Here so lank jy lewe. Besing die lof van jou God so lank jy daar is. Maar pasop, moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen (n.a.v. Ps. 146:1-4).

'n Groot probleem is dat ons dikwels nie tevrede is met wat God ons toebedeel nie. Daarom lees ons in Timoteus: "Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê" (1 Tim. 6:1-19).

Sang

Lied 489:1, 2 "Waak, Christen, staan in die geloof"/NSG 276

DIENS VAN DIE woord

Epiklese

Psalm 119:121-128

Skriflesing

Jeremia 32:1-9,14-15

Respons

Lied 231:1, 3 "Heilig, heilig, heilig, Here"\NSG 61

Skriflesing

Nahum 1:1-15

Woordbediening

Gebed

DIENS VAN DIE TAFEL

Die nagmaal is ’n bewys van God se liefde en sorg in ons lewe. Dat hy ons arme sondaars genadig wil wees. Dit het die Psalmdigter ook besef en daarom skryf hy: "Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses. Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. Prys die Here!" (Ps. 146:5-10).

Sang

Lied 295:1, 3 "Heer, U laat ons hier vergader"

Nagmaalsepiklese

Groot Nagmaalsgebed

Nagmaal

Instelling, uitdeling en kommunie

Dankoffers

UITSENDING

Skriflesing

Lukas 16:19-31

Slotsang

Lied 286

Seën

Mag God wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom (1 Tess. 5:23)

Sang

Lied 312 tot 315 "Amen"

PREEKSTUDIE – NAHUM 1:1–14

Teks

Die profeet Nahum tree op gedurende die politieke heerskappy van die Assiriërs. Die plek van sy herkoms, Elkos, kan nie presies aangedui word nie. Dit blyk dat Nahum kennis gedra het van die verowering van No-Amon (663 v.C.) deur Assurbanipal. Die val van hierdie stad in Egipte, ook bekend as Thebe, het die bloeityd van die Assiriërs ingelui. Die einde van Assirië se oorheersing het aangebreek met die val van sy hoofstad, Nineve (612 v.C.), wat deur Nahum voorspel word. Die profesie kan dus tussen 663 en 612 v.C. geplaas word. In sy huidige vorm kan die boek in die geheel as ‘n eenheid beskou word, hoewel daar by sommige geleerdes twyfel bestaan oor die oorsprong van die oorblyfsels van die akrostiese lied (1:2-8). Die voorstanders vir die eenheid van die boek glo egter dat dié lied die teologiese begronding bevat van en ten nouste aansluit by die boodskap wat volg. Nog `n argument ten gunste van die eenheid van die boek is dat die visioen van Nahum oorspronklik in briefvorm uit Assirië na die inwoners van Juda gestuur is. Nahum sou hiervolgens waarskynlik in Assirië vertoef het saam met die ballinge wat uit die Noordelike Ryk, Israel, reeds weggevoer was deur Assirië. Verder toon die skrywer `n besondere kennis van Nineve, terwyl daar `n opvallende gebrek aan gegewens oor die toestande in Juda is. Ook die feit dat die oorspronklike teks etlike Assiriese woorde bevat, ondersteun die teorie dat die outeur uit Assirië skryf. Etlike verwysings na Basan, Karmel en Libanon, versterk die opinie dat Nahum oorspronklik uit die noorde van Israel is.

Hoofstuk 1 kan maklik in drie afdelings verdeel word: die opskrif (1); `n lied oor God se majesteit (2-8), en; die aankondiging van die naderende oordele van God oor Nineve, wat verlossing inhou vir sy eie volk (9-14). Vers 15 pas eerder by die boodskap in die begin van hoofstuk 2.

Die opskrif (1)

Dit blyk duidelik dat die boek die visioen van Nahum bevat. In die oorspronklike teks word `n woord aangetref wat die boodskap aandui as `n las wat Nineve opgelê word – `n woord wat dikwels `n boodskap van groot bedreiging vir die ontvanger inlui. In die huidige vertaling – uitspraak of Godspraak teen Nineve – word egter presies aangedui dat dit in die boek Nahum gaan oor die aankondiging van God se oordeel oor Nineve.

Die lied oor God se majesteit (2-8)

Hierdie verse vorm `n afgebakende eenheid. Daar is tekens dat ons in die Hebreeuse teks te make het met die oorblyfsels van `n akrostiese gedig (vgl. Ps. 111; 112 en 119), waar elke lyn of vers met `n letter van die alfabet begin. Die doel hiervan was om dit makliker te onthou en te herhaal. Soms word die hele alfabet nie gebruik nie. In hierdie geval ontbreek die hele tweede deel van die alfabet. Heel waarskynlik was dit `n bekende gedig wat gebruik is vir liturgiese doeleindes.

Eerstens begin die profeet met `n stelling oor Jahwe se besorgdheid oor sy volk (2a), wat die sterk band tussen verbondsgod en -volk aandui. Die oorspronklike woord, wat vroeër vertaal is met "jaloers" (2), word in die NAV vertaal met "wat begaan is oor sy volk". Dit verklaar God se jaloesie in `n groot mate. Sy volk is sy eiendom. Die persone of volkere wat dit waag om God se eiendom skade te berokken, sal hulle beslis vasloop in God se wraak. Die hele hoofstuk word oorheers deur die grondliggende tema dat God Hom gaan wreek op Nineve. In hierdie veroordeling van Assirië, vir die gruweldade teen Juda en ander volkere, is Nahum nie alleen nie. Sefanja, sy tydgenoot, verkondig ook dat God die bloedstad gaan omskep in `n wildernis. Vyf maal in vers 2 en 3 verskyn die naam van Jahwe, en drie maal word Hy beskryf as `n wrekende God. Hy laat geen skuldige ongestraf bly nie. Almal, veral sy eie volk, moet besef dat Jahwe lankmoedig is (3). Hy word nie gou tot wraak gedryf nie, maar dieselfde vers benadruk ook dat God baie sterk is in sy toorn. Hy verwoes met groot krag, maar Hy beskerm ook met groot krag. Dit behoort die volk in sy huidige omstandighede te bemoedig.

Tweedens, om die hoorders te oortuig van die sekerheid en die onafwendbaarheid van God se wraak oor sy teëstanders, wys die profeet ook op God se heerskappy oor die natuur. In sy almag is God in staat om die natuurkragte aan te wend in die uitvoering van sy wraakplanne (3 en 4). In beeldryke taal word die groot krag van die Here vergelyk met `n rukwind en storm. Verder oefen Hy ook beheer uit oor die wolke, die see en die riviere. Selfs aardbewings (5) is middels van verwoesting wanneer Hy verskyn in sy woede (6). Niemand kan sy gloeiende toorn, wat soos `n veldbrand sal versprei, weerstaan nie. Die grootste rotse kan Hom nie stuit nie (6). God se wraak is gefokus op die hele gebied wat aan die Assiriërs behoort. Die hele land sal juis deur so `n natuurramp meegesleur word (8). Al die planne wat die vyand teen Jahwe beraam, sal tot niet gemaak word. As God se lankmoedigheid tot `n einde kom, dan volg die straf onafwendbaar. Hierdie gedeelte van die lied beklemtoon dat die verwoesting van Nineve `n uitvloeisel is van God se majesteit en sy heerskappy as Skepper oor die hele natuur, asook oor al die volke.

Derdens, word dit duidelik waarom dit alles gaan? Dit gaan om die bewaring en beskerming van sy volk. God waak met jaloerse besorgdheid oor sy verbondsvolk (2). Vir diegene wat hulle nie by die vyand skaar nie en wat in Hom glo en aan Hom getrou bly, is daar `n woord van versterking te midde van hulle vrees vir die vyand. Die Here is goed en Hy is `n toevlug vir diegene wat by Hom skuil (7).

Die aankondiging van die naderende oordele van God (9-14)

Alhoewel dit vir die hoorders duidelik is dat die wraak van God onafwendbaar nader kom, leef die vyande van God in die waan dat niemand hulle kan oorrompel nie. Die verwaandheid van die inwoners van Nineve dat niemand teen hulle bestand is nie, is `n sterk verswarende faktor sover dit die onomkeerbaarheid van die oordeel betref. Assiriese konings spog op spykertabletinskripsies hoe hulle vroue en kinders weggesleep het van hulle gesneuwelde mans en vaders en daarna weggevoer het as buit op hulle oorwinnings. In die historiese annale word die onoorwinlikheid van die Assiriese konings op arrogante wyse besing saam met hulle minagting van menswaardigheid sover dit die vernietiging van hulle vyande betref. Goddelose mense mag in die waan verkeer dat hulle kan wegkom met sonde omdat dit vir lang tye ongestraf voortduur. Nahum voorspel egter dat Assurbanipal wat op `n pad van bloedvergieting is, nie na Nineve sal terugkeer nie (1:11; 2:1, vgl. ook 3:19), maar dit sal die bloedige stad, wat die setel van kwaad was, nie spaar nie. Sover dit God betref, sal Hy onverbiddelik met hulle handel. Hulle ondergang is seker (9). Niemand verdring sy majesteit en tas sy eer en die eer van sy volk aan nie.

Vir die oordeel van God gebruik Nahum hier `n bekende metafoor uit die landbou-aktiwiteite. Die vyande sal soos dorings inmekaar gevleg word en soos kurkdroë stoppels bymekaargemaak en verbrand word (10, vgl. ook Jes. 5:24; Joël 2:5; Ob. 18). Nahum sien verder die boosheid van die volk van Assirië saamgetrek in die persoon van `n leier wat uit hulle na vore kom. Hy is so veragtelik dat spesiale vernedering vir hom en sy nageslag uitgesonder word. Die Assiriese gode sal ook in hulle tempels neergewerp word en die leier sal in die graf begrawe word wat God vir hom gegrawe het (11-14). Aan die ander kant is daar troos vir die volk van God. Hy sal sy eie volk nie verder verneder nie (12). Hy sal die juk wat op hulle gedruk het, verwyder en die bande waarmee hulle gebind was, losbreek (13).

 

Konteks

Die profeet Nahum word soms, ten onregte, beskuldig van vooroordeel en nasionalisme, vanweë sy gebrek aan veroordeling van sy eie volk se sondige praktyke. Sulke kritiek is egter misplaas en slaag nie daarin om die profeet se ware boodskap te snap nie. Soos Eybers dit stel: "Die profetiese oog van Nahum was gefokus op Nineve, en daarom gee hy hier feitlik geen aandag aan Juda en die toestande daar nie. Die profeet verkondig allereers die soewereiniteit van God oor die geskiedenis van die wêreld. God is regverdig, maar as die Regverdige is Hy ook goed. Daarom is Hy die kampvegter vir die verdruktes en die weerloses en Hy sal onder geen omstandighede die verdrukkers laat wegkom nie. Tweedens verkondig hy dat God besorg is en beskerming verleen aan diegene wat in Hom glo en wat hulle nie skaar aan die kant van die vyand nie. Dit vorm die kern van sy profesie." Hoofstuk 1 moet beoordeel word as inleiding tot die tema van God se wraak oor Nineve.

Wanneer Jahwe voorgestel word as `n jaloerse God wat wraak uitoefen, moet in hierdie terme nie sinistere by-betekenisse gesoek word wat op mense van toepassing is nie. Jahwe word voorgestel as `n jaloerse God waaronder basies twee sake verstaan moet word: (i) dat Jahwe die regverdige God, sy teëstanders en die vyande van sy volk sal oordeel en straf as gevolg van hulle morele en etiese oortredings; (ii) Hy sal beskerming gee aan hulle wat in Hom glo en vertrou, want Hy is goed. Die jaloesie van die Here moet dus gesien word as sy vaste voorneme om die teenstanders van sy koninkryk en sy volk uit te roei terwyl Hy sy eie koninkryk vestig en uitbrei. Hy sal niks en niemand toelaat om sy volk te verniel nie. Hy waak oor hulle met jaloerse besorgdheid. God se ywer of sy jaloesie kom dikwels voor (vgl. Num. 25:11; Deut. 6:15; Jes. 59:17; Eseg. 5:13; 38:18). Die woord kom ook in die konteks van God se verbond met Israel in die wet van God voor (Eks. 20:5). Daar word die vroeëre "jaloerse God" tans vertaal met "eis onverdeelde trou aan My" (NAV). God duld geen mededingers in die verbond nie. Dit geld vir die afgode asook die maghebbers, volke en stede wat hulleself hoër ag as God. Hy is die enigste Here (Deut. 6:4). God word nie vinnig tot wraak gedryf nie (3), veral nie deur menslike begeertes nie. Dit beteken egter nie dat sy vyande ongehinderd kan voortgaan en uiteindelik sy toorn sal ontwyk nie. Hy sal beslis wraak neem en sy gloeiende toorn sal nie versadig word voordat sy teëstanders uitgeroei is nie. Almal moet besef dat God in staat is om sy voornemens uit te voer.

In die lig hiervan moet die uitwissing van Nineve nie as `n blote historiese gebeurtenis beskou word nie. God se heerskappy strek oor sy eie volk asook al die volkere wat volgens dieselfde geregtigheid geoordeel word. Dit is deel van God se hoedanighede. God gee om vir die regverdiges, en Hy wreek Hom op sy volk se vyande. God se beplanning en die voltrekking van die vonnis is seker en onomkeerbaar. Dit vind konkreet plaas in die geskiedenis van die wêreld. Nineve is nie maar net `n gewone stad nie en Assirië ook nie maar net `n gewone goddelose beskawing nie. Hulle word beskou as deel van die kwaad wat God en die uitbreiding van sy koninkryk dwarsboom. Die finale vernietiging van alle bose magte word beskou as `n teken van God se almag en oorwinning. Hierin is gegrond die basis van hoop vir sy kinders dat God se almag uiteindelik en sekerlik sal seëvier oor die kwaad.

Jahwe se almag en heerlikheid kom aan die orde. Die profeet se doel is om aan te toon dat niemand teen Jahwe bestand is nie. Per slot van rekening is dit nie die oorwinning van Juda, as sodanig, wat hier ter sprake is nie, maar die profeet verkondig allereers die almag van Jahwe wat verantwoordelik is vir die vernietiging van die kwaad. Jahwe is eenvoudig magtiger as Assirië en die vyand sal nie aan sy almag ontsnap nie. In hierdie waarheid kan die volk van Juda moed skep en hulle geloof in die Here plaas. Juda kan hom geensins in trotsheid verhef nie. Die volk van God se verlossing is nie aan eie prestasie te danke nie, maar dit is inbegrepe in Jahwe se almag. Sy oordeel is regverdig en binne sy geregtigheid is die sekerheid van die vernietiging van die vyand asook die redding en heil van die volk. Ofskoon daar by Nahum nie veel verwysing is na die volk van Juda se eie sondige vergrype nie, kan die volk seker wees dat Jahwe beslis ook hulle sondes raaksien en hoewel Hy lankmoedig is, sal hulle sonde nie ongesiens en ongestraf by die regverdige God verbygaan nie.

Ten spyte van verdrukking deur die vyand, word die verbondsvolk egter verseker en ook bemoedig deur die sterk aksent wat die profeet plaas op die geregtigheid van God. Hy bly getrou aan sy beloftes en in die donkerste omstandighede vergeet Hy nie sy volk nie. Selfs die gevaarlikste vyand is nie teen Hom bestand nie. Hierdeur word die volk geleer om op Hom te wag. Sy tydskedule is anders as dié van mense.

Die vraag na die uitoefening van God se toorn in `n spesifieke historiese situasie is moeilik om te beantwoord. Dis menslik om te aanvaar dat die drastiese optrede van God teen die Assiriërs `n model is wat van toepassing gemaak moet word op soortgelyke gevalle in die huidige geskiedenis. `n Simplistiese gevolgtrekking kan nie gemaak word en eenvoudig aanvaar word dat God in Nahum 1 `n vaste patroon van aksie vasgelê het nie. Wat dan van so baie wrede tiranne en koninkryke wat blykbaar skotvry daarvan afgekom het? Hulle bestaan nie meer nie, maar hulle regerings is nie so drasties vernietig soos dié van Assirië nie. `n Belangrike vraag is: Hoe suiwer is ons menslike oordeel? Is ons nie baie subjektief in ons aannames oor wat reg en verkeerd teen God se bestel is nie? As Christene behoort ons saam te stem met G. F. Wessels dat ons belydenis dat God in beheer is van die geskiedenis, `n geloofsuitspraak is. Binne die omvang van my geloof mag dit my nooit die reg en vryheid gee om te eis dat God in beginsel verplig is om op te tree om dié of daardie te vernietig nie. Vanuit die geloof glo die Christen dat die einde van die geskiedenis wel sinvol en tot eer van God sal wees. Nie "omdat die geskiedenis regverdig verloop en elke tiran in die geskiedenis sy verdiende loon gekry het nie, maar omdat ons glo dat die einde, die afloop van die geskiedenis, aan God behoort – wanneer Jesus weer kom". Hy is die Heer van die geskiedenis. En wat belangriker is vir die verstaan hiervan is die feit dat God onder alle omstandighede die Verbondsgod bly. Juda, die volk aan wie Hy troue bystand beloof het, word oorheers deur `n wrede vyand, wat `n goddelose kultuur en godsdiens aan sy heilige volk opdring. Daarom tree Hy op! "Die Here is `n God wat baie begaan is oor sy volk" (2) en "Hy is goed en `n toevlug in tyd van nood" (7). Laat die oordeel dus oor aan God. Dit is waar dit hoort. Moenie toelaat dat jou eie, dikwels onbetroubare oordeel, jou dryf om te verlang en te bid dat God een of ander vyand van jou moet vernietig nie.

Preekvoorstel

Mense in die hedendaagse samelewings in Suid-Afrika kan, vanuit hulle verskillende omstandighede, hulle maklik vereenselwig met die volk van Juda in die tyd van Nahum. Mense is onvergenoegd, om die minste te sê. Op politieke en ekonomiese gebiede veral het verwagtings nie werklikheid geword nie. Rooskleurige toekomsideale het nie gerealiseer nie. Werkloosheid, prysstygings, geweld en vrees het spanningstoestande veroorsaak en by baie is pessimisme aan die toeneem. Wat sake vererger, is dat daar in die onmiddellike toekoms geen sekerheid van beter dae is nie. Trouens, die vooruitsigte word al slegter. En tog, ondanks dit alles, gaan mense darem nog kerk toe. Die Woord van die Here bly vir baie mense nog die enigste anker in die onsekerhede. Hulle weier om die kerk en die Woord van God te veronagsaam, al is kerkgaan vir baie tans maar net `n gewoonte. Baie sit egter in die kerk met die twyfel in die hart of die kerk en die Woord van God hulle ooit uit hulle donker toekoms kan help. Die kerk het hulle "gedrop"! Nog ander besoek steeds die kerk, maar hulle is lankal aktief besig om ander opsies te volg – al is dit nou nie so streng ooreenkomstig "kerklike of Bybelse beginsels" nie, maar op die oomblik is dit die enigste wat help in hulle konkrete nood.

Vir al hierdie mense in die gemeente behoort `n preek oor die eerste hoofstuk van Nahum tog van belang te wees. Dit bemoedig in huidige omstandighede, bring sekerheid oor die toekoms, maar waarsku ook betyds teen enige sondige praktyke of gewoontes. Dit is `n getuienis van God se goedheid, geduld en lankmoedigheid. Sy onbetwiste heerskappy oor geskiedenis en natuur kom sterk na vore. Die preek word alte dikwels net gebruik wanneer daar oor die eskatologie gepreek word om veral die gedagte dat God uiteindelik in beheer is, te beklemtoon. Maar Nahum herinner ook mense dat God se oordeel nie net aan die einde kom nie, maar dwarsdeur die geskiedenis – te eniger tyd. Daarom behoort Nahum se profesie gebruik te word as `n ernstige oproep tot berou en sondebelydenis. Mense moet besef dat hulle nou hulle sondige aktiwiteite moet laat vaar en onder alle omstandighede God moet vertrou en volgens sy gebooie moet lewe: "Hy sorg vir dié wat by Hom skuil" (7). Hy is en bly `n toevlug ook vandag nog – `n toevlug wat deur Jesus Christus en die Heilige Gees vir ons almal beskikbaar is. Die preek is veral geskik gedurende die koninkrykstyd, wanneer daar in die prediking spesifiek gekonsentreer word op ons alledaagse lewe as gelowiges. Deur die krag van die Heilige Gees behoort ons in ons gedrag te strewe na die voorbeeld van Jesus se lewe en ons oë gevestig te hou op God se gebooie en beloftes.

`n Preek oor Nahum 1:1-14 kan die volgende belangrike punte te beklemtoon: Inleidend kan die konkrete situasies waarin baie mense vandag verkeer, geskets word. Die prediker moet die realiteite van die samelewing en probleme wat mense ondervind, konkreet uitlig om aanklank te vind by die konteks waarin die volk van God hulle in Nahum se tyd bevind het. Juda se toekoms het net slegter en slegter geraak. Die groot probleem was die vyand wat hulle oorheers het. As die vyand maar net uitgeroei kan word! Maar in hulleself is daar net magteloosheid en die een môre so uitsigloos soos die ander. Sekerlik was daar by baie die versugting dat God moet ingryp en die Assiriërs moet uitroei! Maar God gryp nie in nie!

In dié gesindheid maak hulle gereed vir die fees, wat hulle darem nog deur die vyand toegelaat word. As dit by die Skriflesing kom, hoor die beswaardes die profesie van Nahum. Dit begin eerstens, met `n ou lied oor die wraak van God (2-8). Spesiale klem word gelê op die feit dat Jahwe Hom wreek op sy vyande. Dit beteken dat nie een van sy vyande ongestraf sal ontsnap nie (3b). Jahwe is lankmoedig, dit wil sê Hy word nie tot optrede gedryf nie, maar daar moet onthou word dat sy krag groot is (3a). Hy het self in beheer oor die kragte in die natuur en kan dit ook aanwend teen sy vyande (3c tot 5). Tweedens word juis die Assiriërs aangedui as God se vyand (9-14). Vir die volk van Juda het dié gedeelte van die boodskap besondere betekenis. Dis waarvoor hulle wag! Jahwe sal Nineve met `n vloed van sy plek af wegvee. Die Assiriërs sal soos kurkdroë stoppels verbrand word. Selfs al beraam hulle allerhande planne teen God, niks sal slaag nie. Derdens, Jahwe sal sorg vir die beskerming van sy eie volk. Hy is vir die volk `n toevlug in nood. Hy sorg vir dié wat by Hom skuil, want die Here is goed.

As ons met Fensham saamstem dat die doel en betekenis van Nahum ten beste begryp word as dit in die lig van God se regverdige optrede bepaal word, dan is daar twee sake wat in die preek duidelik aan die orde moet kom. Allereers word God se geregtigheid geopenbaar in sy straf vir sy en sy volk se vyande. Assirië het alle morele en etiese grense oortree en sal dus kennis maak met die wraak van God. Maar verder, God se geregtigheid sluit ook sy beskerming van sy verbondskinders in. Vir sy hedendaagse gemeente het Hy voorsiening gemaak in Jesus Christus in wie daar skuiling en verlossing is. Die profesie van Nahum is dus nie net vir bedruktes wat uitsien na verlossing nie. Dit is ook `n waarskuwing vir almal wat op arrogante wyse in sondige trots volhard om God te terg deur teen sy wet op te tree. Hy sal geen kwaaddoener laat wegkom nie. Gelowiges in Jesus Christus mag in die boek Nahum geen regverdiging sien vir hulle begeertes dat God hulle teëstanders moet vernietig nie. Die preek is `n oproep om die wraak oor te laat in die hande van die Regverdige Regter, wat beheer uitoefen oor die geskiedenis en die natuur. Nahum 1 is dus geldig vir mense in huidige konkrete omstandighede, wat opgeroep moet word om elke dag te lewe voor dieselfde God van Nahum wat gister, en vandag en tot in ewigheid dieselfde is.

Die volgende skets is `n poging om ruimte te bied vir al die bostaande fasette.

Tema: Die Here is ‘n regverdige Regter.

a. As regverdige Regter straf Hy sy teëstanders.

Hy oefen wraak uit op sy teëstanders (2b).

Hy sal geen skuldige ongestraf laat wegkom nie (3b).

Hy tree nie haastig op om menslike begeertes te bevredig nie. Hy is lankmoedig (3a).

Wanneer Hy egter wraak neem, is Hy erger as die natuurrampe (3c–6).

Hy is dus in beheer van die geskiedenis en die natuur.

b. As regverdige Regter beskerm Hy sy kinders.

Hy bly die ewige verbondsgod wat Hom verbind het aan sy volk (2a).

In tye van nood is Hy ‘n skuiling en ‘n toevlug vir sy kinders (7b).

Hy verlos ten volle van verdrukking (9c).

Jahwe is goed. Hy voorsien in alle behoeftes (7a).

Bibliografie

Maak gebruik van die bibliografie soos aangebring by G F Wessels, 1985. Nahum 1:2-8, in Burger C W, Müller B A & Smit D J Woord teen die Lig II/1; RJ Coggins & E S P. Re’emi 1985. Nahum, Obadiah, Esther, International Theological Commentary, WB Eerdmans; O P Robertson, 1990. The Books of Nahum, Habakkuk and Zephaniah, The New International Commentary on the Old Testament, W B Eerdmans; E Achtemeier, 1986. Nahum – Malachi, in Interpretation, John Knox Press; Ridderbos, J 1963. Nahum, in De Kleine Profeten II, Korte Verklaring van de Heilige Schrift, J H Kok; W J Wessels, 1987. The Book of Nahum, in Burden J J & Prinsloo W S Dialogue with God, The Literature of the Old Testament, Vol.3; Fensham, F C 1969. Legal activities of the Lord according to Nahum, in Biblical Essays, Proceedings of the 12th meeting of Die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap in Suid-Afrika; Eybers, I H 1969. A note concerning the date of Nahum’s prophecy, in Biblical Essays, Proceedings of the 12th meeting of Die Ou- Testamentiese Werkgemeenskap in Suid-Afrika.