Ander
tekste: Johannes
15:26-27; Handelinge 2:1-21; 16:4-15; Psalm 104:24-34
Hierdie
gedeelte word ook bespreek in Woord teen
die Lig (II/1) Riglyne vir prediking
oor die profete. Die plek waar hierdie profesie inpas binne die geheel van
die boek word daar bespreek. Volgens die kommentatore is dit deel van die derde
gedeelte van die boek (Esegiël 33-48) waarin God Homself op ’n nuwe manier aan
die volk openbaar. Hierdie toewending van die Here aan die volk sal vir hulle
heil bring. Die gedeelte het nie baie groot eksegetiese probleme nie. Die
volgende sake verdien egter aandag.
Hierdie
gedeelte het parallelle in 1:1-3:15; 8:1-11:25 en hoofstukke 40 en verder. Die
profeet word geroep om onder die mag van die Here te profeteer. Dit val uiteen
in twee dele, naamlik ’n beeld (37:1-10) en ’n interpretasie daarvan
(37:11-14). Die interpretasie bevat die werklike boodskap van die beeld vir die
volk. In hierdie geval is dit die “huis van Israel”.
Die beeld
van die bene in die vlakte wat in 37:1-10 aangetref word, word in 37:11-14
vervang met die beeld van die grafte. Volgens Zimmerli moet dit ons nie
daartoe verlei om te dink dat hierdie twee gedeeltes heeltemal geskei moet word
nie. Albei beelde beklemtoon een saak, naamlik dat die toestand van die volk
hopeloos is. Die volk bevind hulself in Ballingskap. Hulle eie klag beklemtoon
hulle hopeloosheid en hooploosheid: Hulle sê: Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met
ons (37:11). Ook die profeet is nie baie optimisties oor die toestand van
die volk nie. Hy verklaar dat die bene “baie” droog was (37:2). Op die vraag
van die Here of die bene weer lewendig kan word, antwoord die profeet volgens
Coenie Burger baie dubbelsinnig: Nee, dit
weet net U, Here my God (37:3). Burger sê: “Meeste kommentatore
interpreteer die antwoord dubbelsinnig: aan die een kant, op bloot menslike
vlak, sien Esegiël geen hoop nie. Aan die ander kant ken hy God se almag wat
lewe kan voortbring uit selfs die haglikste situasie. Daarom moet vers 3
verstaan word as 'n versigtige belydenis dat deur God se genade daar dalk tog
weer heil kan kom vir die volk.”
Die
onvoorwaardelike betrokkenheid van God by die volk kom baie sterk na vore in
hierdie gedeelte. Ten spyte van die totale hopeloosheid van hulle toestand,
openbaar God Homself as die een wat lewe gee. Hierdie lewe kom uit die hand van
God en deur middel van die betrokkenheid van die “gees” (37:5-9). In hierdie
gedeelte moet ons nie die Heilige Gees inlees waar “gees” staan nie. Die Here praat hier met Esegiël deur middel
van ’n beeld. Deel van hierdie beeld is die wind of “gees”. Dit is, soos
Genesis 2:7, die begin van ’n nuwe lewe. Daar is net een basiese verskil. In
Genesis 2 is dit die Here self wat die lewensasem in die mens blaas. In Esegiël
37 is dit vier winde van die aarde wat in “opdrag” van die profeet die klomp
dooie beendere lewe gee. Hoe dit ookal sy, een saak staan vas: die lewe kom van
God en Hom alleen. Hierdie alleenwerksaamheid van God in die skepping van die
nuwe lewe word verder beklemtoon deur die woorde in 37:12-14 waarin die Here
die enigste persoon is wat handel: Ek sal
julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring
na die land Israel toe. 13 Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle
laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14 Ek sal
my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land
laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal
dit doen,” sê die Here. Daarom verklaar Zimmerli: “There is no sign of a
connection with any merit, which might seem to exist somewhere on the part of
the people of God. From his free will God gives life to his own who are
condemned to death.”
Zimmerli
wys daarop dat hierdie gedeelte in die geskiedenis dikwels in die Joodse
tradisie as ’n aanduiding van ’n werklike opstanding van dooies gesien is. Daar
word selfs deur mense uit hierdie tradisie beweer dat sommige van die
opgewektes liedere gesing het en dadelik weer gesterf het en ander getrou en
kinders gehad het. Die Palestynse Targum van Diez-Macho beweer dat hierdie
mense die 30000 Efraimiete was wat veertig jaar voor die einde van die ballingskap
teruggekeer het en deur die Filistyne doodgemaak is. Justinus, Ireneus,
Tertullianus, Ciprianus en ander het hierdie gedeelte ook gesien as ’n
voorspelling van die opstanding uit die dood. Uiteraard het dit ook gelei tot
prediking wat die betekenis van die Nuwe-Testamentiese opstanding uit die dood
op die teks afgedwing het. Tereg sê Zimmerli dat hierdie verklarings nie die
bedoelings van Esegiël weergee nie. Dit moet duidelik en ondubbelsinnig gesê
word dat Esegiël 37:1-14 twee beelde (droë bene en grafte) gebruik om “the
event of the restoration and the regathering of the politically defeated
all-Israel” te beskryf. Hieronymus en die eksegete van Antiogië het dit reeds
verstaan.
In die lig
hiervan moet daar versigtig te werk gegaan word met Nuwe-Testamentiese gegewens
om hierdie teks te verklaar. Esegiël het in ’n bepaalde tyd en konteks
opgetree. Natuurlik kan Nuwe-Testamentiese gelowiges vandag aspekte van sy
boodskap in die lig van die Nuwe Testament anders verstaan. Ons kan egter nie
woorde in sy mond plaas nie. Coenie Burger het in sy artikel in Woord teen die Lig (II/1) Riglyne vir prediking
oor die profete, na verskillende preekmodelle in hierdie verband gekyk. Die
prediking oor hierdie gedeelte het om verstaanbare redes hoofsaaklik tydens
Opstandingsondag en Pinksterfees aandag gekry.
Gedurende
die afgelope jare verskyn daar telkens artikels as reaksie op die sogenaamde
pragmatisme in gereformeerde kringe.
Dit hou veral verband met literatuur wat in gereformeerde
“gemeentebou”-kringe verskyn en wat vir die teenstanders daarvan te naby aan
menslike inmenging lyk in die werking van die Woord van die Here in ’n
gemeente. Hierdie gedeelte laat ’n mens nogal twee maal dink oor die besware
uit hierdie kringe. Kan dit nie maklik gebeur dat ons dink dat die voortgang
van die Here se kerk van menslike planne en strategieë afhang nie? Natuurlik is
dit belangrik om te beplan, maar word die gedagte dat Christus self sy kerk in
stand hou nie dalk deur ons planne en strategieë bevraagteken nie? Natuurlik is
dit ook waar dat die kerk in totale passiwiteit kan verval. Die boodskap van
die profeet is duidelik: God skep lewe uit die dood. Dis nie van mense
afhanklik nie. Tog is dit ook waar dat die profeet hierdie boodskap moes gaan
verkondig. God sluit ons dus in by sy plan, maar die uitkoms daarvan berus by
Hom alleen.
God wek
lewe uit die dood deur sy Woord. Uit die gedeelte is dit duidelik dat die
woorde van die Here nie onsekerheid bevat nie, maar heil vir sy mense laat
deurbreek. God het gespreek en dit sal gebeur. Die heilskarakter van die Woord
in die gereformeerde tradisie is ’n onverhandelbare gegewe. Uit Luther se mond
word gehoor dat die mens by die woorde van Christus moet bly en die gedagte
moet laat vaar dat God die sonde op 'n ander wyse as deur die mondelinge Woord
vergewe het, of sal vergewe. Christus kom immers deur die prediking self na die
mens, tot in sy hart. Die Woord is geadresseer pro me. Hierdie Woord wat gepreek word, is die pyp waardeur die
Heilige Gees in die hart van die mens stroom en die heil aan die mens geskenk
word. Calvyn, soos Luther, lê klem daarop dat die Here dit so bestem het om
deur die verkondiging van die Woord die genade van God aan mense te skenk. Waar
die evangelie gepreek word, is dit die uitspraak van God self, in die hoogste
vierskaar afgekondig, in die boek van die lewe opgeskryf, in die hemel vas en
seker bevestig. Deur die prediking van die evangelie reformeer Hy die mens na
sy beeld, formeer Hy ’n nuwe hemel en aarde, word die poort van die hemel
geopen en kom Christus met al sy weldade na die mens as die Oorwinnaar oor die
sonde en skuld. Deur die prediking versoen God Hom met die mens en druppel die
bloed van Christus op die skare. Daarom is die prediking vir Calvyn noodsaaklik
in die verkryging van die saligheid.
Die
vryspraak van die goddelose, sondaar en vyand van God, is nog ’n gereformeerde
beginsel wat in hierdie teksgedeelte terug gevind kan word. Zimmerli haal ’n
gedeelte uit die ’n Palestynse Targum aan waarin die “rede” waarom een liggaam
na die opwekking bly lê het: “For interest and surcharge he has lent (his
money), therefore he is not honest (enough) to receive life along with his
brothers." Volgens Zimmerli staan
dit lynreg teenoor die basiese boodskap van Esegiël 37:1-14, waarin God se
genade onvoorwaardelik toegesê word. Die opwekking tot die lewe in hierdie
gedeelte het ’n spesifieke agtergrond in die boek Esegiël. Allereers dui die
begrip lewe die seën of bestemming vir die regverdige aan. Dit is duidelik dat
die keuse wat die mens in Esegiël. 18 en 33 tussen die goddelose of regverdige
pad gemaak het, 'n keuse om lewe en dood was. Bekering lei tot die lewe en
volharding in goddelose dade lei tot die dood. Greenberg wys die gedagte van 'n
Nuwe-Testamentiese ewige lewe in hierdie verband af en sê dat die lewe waarvan
daar in Esegiël sprake is eerder sy agtergrond in die algemene opvatting van
lewe deur die ou Israeliet, as "this wordly enjoyment of good things"
het. Hy koppel hierdie gedagte aan Deuteronomium se siening van lewe. In Deuteronomium
word lewe veral in verband met die nakoming van die wet, voorspoed en die
verkryging van die beloofde land gebring.
Waar daar
egter van Greenberg verskil moet word, is sy eng siening van lewe in Esegiël.
In Deuteronomium het lewe met die rykdom van die verbondswerklikheid te doen.
Hierdie lewe binne die verbondswerklikheid sluit ook die belofte van die land
in. Esegiël praat egter met mense wat geen uitsig op 'n toekoms het nie. Daarom
is dit belangrik om in te sien dat lewe in Esegiël 'n ietwat omvattender en
ryker betekenis het.
Die begrip
moet binne die konteks van Esegiël 18:5-9 gesien word as 'n belofte wat aan die
persoon gegee word wat totaal op die weg van Jahwe wandel. Hierdie persoon is
die een wat in terme van Psalm 15 en 24 en Jesaja 33:14 v.v. gemeenskap met
Jahwe mag beoefen. Dit is daarom belangrik om die lewe wat aan die regverdige
beloof word nie los van die kultus te sien nie: "It was in the sanctuary
as the sphere of the divine presence that life was available and was bestowed
on the pilgrims who came to seek Yahweh" (Mays).
Deelname
aan die kultus was vir die Israeliet die beoefening van gemeenskap met Jahwe.
Die belofte van lewe het dus ook met die gemeenskap met Jahwe verband gehou. In
Amos 5:4 word hierdie gedagte versterk wanneer die volk opgeroep word om Jahwe
te soek sodat hulle kan lewe. Jahwe, die bron van die lewe, moet in die
heiligdom gesoek word. Ook hier word die verkryging van lewe vasgeknoop aan die
nakoming van die goeie (Am 5:14) waardeur gemeenskap met Jahwe verkry word. Daar
is dus drie elemente wat in die bespreking van die uitdrukking onlosmaaklik aan
mekaar verbonde is, naamlik die kultus as gemeenskap met Jahwe, die nakoming
van sekere bepalings en die belofte van lewe. Lewe kry, volgens Zimmerli, binne
kultiese verband dus verdere fasette van verlossing en sekuriteit of
beveiliging by. Dit het aan die aanbidder die versekering gegee het dat Jahwe
verhoor het (Ps 6:10), gehelp het (Jes 41:10,14) en verlos het (Jes 43:1;
44:22). Dat Jahwe met die aanbidder is en hom van al hierdie gawes van
verlossing verseker, staan in 'n direkte teenstelling met alle uiterlike
seëninge: "This does not arise from any indifference to the world and its
gifts, marking a retreat into inwardness, but from the knowledge that in this
affirmation about Yahweh all other gifts are included, however little they can
be seen at present".
Esegiël
bevind hom in 'n situasie waarin die realiteit van die heiligdom, die
gepaardgaande seën en die belofte van lewe vir hom verdwyn het. Tog, sê
Zimmerli, het Esegiël van 'n nuwe lewe geweet (Eseg 37:1 v.v.). Vir Esegiël het
hierdie lewe 'n terugkeer na die land (37:12-14) en na die heilige berg van die
Here met sy heiligdom beteken (20:40). Daar sou Jahwe weer teenwoordig wees en
die lewe tot beskikking van die aanbidder wees (Eseg 40:48). Al wat Zimmerli
hierdie lewensbelofte wil noem, is die "Ja" van God. Hierdie
"ja" van God kan nie tot een of twee spesifieke sake gereduseer word
nie: "This would be to say both too much and too little."
In die Nuwe
Testament vind die lewe wat nog in die toekoms lê, sy hoogtepunt in die seën
wat aan die gelowige beloof is, naamlik die ewige lewe. In die Nuwe Testament
kry die begrip lewe sy volle betekenis. Lewe in die Nuwe Testament, soos dit
ook in die Ou Testament die geval is, is lewe in gemeenskap met die lewende
God. Dit is in gemeenskap met die lewende God dat die Ou-Testamentiese mens die
lewe en al die seëninge wat daarmee saamgaan, as 'n gawe van God gesien het.
Die gawe kon dus nooit van die Gewer losgemaak word nie. Na die wederkoms van
Christus sal georganiseerde kultiese samekomste, eredienste en kerke nie meer
nodig wees nie, omdat God se woonplek dan by die mens sal wees (Op 21:3). Ewige
gemeenskap, ewige kultiese gemeenskap sal dan die nuwe bestaanswyse van die gelowige
kenmerk. Reeds in Esegiël 11:16 is Jahwe die heiligdom vir sy volk. Na die wederkoms van Christus sal die lewe
wat in die kultiese samekomste van Israel en die eredienste van die gemeente
geniet is, in sy hoogste vervulling gaan. Lewe in die Nuwe Testament is 'n lewe
waarin God altyd by sy volk sal wees.
Voltaire
word dikwels aangehaal as sou hy gesê het dat daar oor 50 jaar nie meer van die
Bybel gehoor sal word nie. Hy het geleef van 1694-1778. Dieselfde prognose word
ook dikwels vir die kerk gegee. In baie gevalle word nie eens meer 'n prognose
gegee nie. Die diagnose is klaar: Die kerk is dood. Daar is geen lewe of hoop
meer nie. Die kerk is op pad uit. Die kerk is terminaal siek. Die prediker sou
heelwat hieroor kon uitwei en nalees om die meriete van hierdie diagnose te
beklemtoon. Dalende lidmaatgetalle, erediensbywoning, bidure, bydraes,
afvalligheid, onenigheid, verwagtingloosheid en belangeloosheid is deel van die
kerk se storie. Coenie Burger het in sy boek, Gemeentes in transito (Burger 1994, 14) heelwat hieroor te sê.
“Daar is
rede om te dink dat hierdie langer en ingrypender as verwagte oorgangstyd veral
baie ontwrigtend kan wees vir kerke soos die NG Kerk, wie se lidmate uit die
tradisioneel bevoorregte deel van die bevolking kom. Probleme wat direk en
indirek saamhang met die oorgangstyd, kan dalk binne die volgende paar jaar
tegelyk op die kerk se tafel kom:
Lidmaatgetalle kan krimp. In ’n meer pessimistiese scenario
kan getalle tot 25% en meer afneem. Een van die lastige probleme, wat ons reeds
in studentegemeentes begin sien, is dat ons toenemend sukkel om die jeug vir
die kerk te behou.
Finansiële druk op die kerk kan verder
vergroot. Dit is alreeds 'n feit dat die kerk meer
sukkel om finansieel sy verpligtinge na te kom as vyf of tien jaar gelede. Dié
druk kan in die volgende klompie jare selfs nog verder vergroot, en gemeentes
verplig om ál meer in terme van "besnoeiing" en "inkorting"
te dink - 'n baie gevaarlike manier van leef vir 'n kerk, met sekondêre
implikasies na baie kante.
Die NG Kerk gaan 'n minder belangrik
instansie wees as vroeër. In die vorige bedeling was
seker meer as die helfte van die regerende politici lidmate van die NG Kerk.
Dit het uiteraard aan die kerk besondere status en mag gegee. Nagenoeg alles
wat die NG Kerk gesê en gedoen het, was nuus. As kerkmanne gepraat het, was
baie mense gereed om te luister. Op talle plekke het die kerk direk en indirek
inspraak gehad. Dié prentjie kan in die volgende tien jaar ingrypend verander.
By 'n baie groot deel van die regeringspolitici sal daar weinig van 'n oor wees
w die NG Kerk se mening. Om die waarheid te se: vanweë die NG Kerk se rol in
die formulering en legitimering van apartheid kan daar eerder 'n weersin jeens
die kerk wees. Ongetwyfeld mag dit veroorsaak dat die NG Kerk meer op die rand
van die Suid-Afrikaanse toneel gaan beweeg en 'n baie groot deel van sy
tradisionele mag en inspraak sal verloor.
Die kerk sal heelwat vrae moet beantwoord
oor sy aandeel aan die apartheidsbeleid.
Die kanse dat mense die kerk se aandeel aan die apartheidsbeleid gaan
vergeet, is nie goed nie. Van die vrae sal sekerlik van ons broers en susters
van ander kerke se kant kom, maar toenemend gaan die vrae ook vanuit NG
Kerk-geledere self gevra word - veral van die jong geslag! En as ons nie die
moed het om dié vrae eerlik te beantwoord en in die reine te kom met die
verlede nie; as mense die gevoel kry dat ons nie bereid is om reg te maak wat
verkeerd was nie, gaan die kerk se geloofwaardigheid 'n fatale knou kry. As ons
nie die uitdagings van die nuwe Suid-Afrika met integriteit opneem nie, mag
meer lidmate as wat ons verwag het stil-stil wegraak en hulle smaak vir die
kerk heeltemal verloor.
Sekularisasie gaan toeneem.
Daar is 'n paar faktore wat nie direk te doen het met die politieke
oorgang nie, maar op 'n sekondêre vlak tog daarmee saamhang. Lankal is dit nie
meer 'n skande vir Afrikaanse mense om nie te glo of nie aan 'n kerk te behoort
nie. Die Afrikaanse gemeenskap wat tot 'n 20 jaar gelede nog baie homogeen was,
raak dus toenemend heterogeen en gesekulariseer. Die kerk is nie regtig gerat
vir hierdie groeiende heterogeniteit nie en op 'n bedieningsvlak gaan dit ons
nog heelwat kopsere gee.
Al hierdie
ontwrigtende sake gaan binne die volgende tien jaar by die kerk die gevoel laat
dat hy aan die gly is, dat hy agteruit boer, dat hy besig is om meer en meer
veld te verloor. Hierdie "sinkende skip"- ervaring by ons lidmate
gaan waarskynlik een van die heel moeilikste probleme wees om te hanteer.”
Hierdie
diagnose en prognose klink soos die wanhoop wat daar oor die toestand van
Israel bestaan. Die taal van die profeet en die klag van die volk oor hulle
toestand is ’n duidelike aanduiding daarvan. Dis asof die profeet saam met die
volk met skeptisisme sê: net die Here weet of hier nog iets van kan kom! Die
oorsaak van hierdie hopeloosheid lê waarskynlik daarin dat die mense gedink het
dat daar ’n verandering in hulle lot sou kom. In Esegiël 33:21 kom die berig
egter: die stad is ingeneem. Esegiël sien hierdie moedeloosheid en gebrokenheid
37:1-10. Die dood is ’n volslae feit. Hulle is in hulle graf en hulle bene is
reeds baie droog.
Is daar
hoop te midde van soveel doodsheid, gebreke, tradisie, onentoesiastiese
leraars, kerkraadslede en lidmate? As ons die boodskap van ons teksgedeelte
ernstig neem, sal ons moet sê: Ja, beslis. Die wonder van hierdie plan van God
is dat dit nie van mense afhang nie. Dit is op twee vlakke waar. Allereers soek
God nie eers gestalte waarin daar lewensmoontlikhede is nie. God wonder nie
eers of bene regtig verstaan dat hulle dood is nie. Die bene moet nie eers
kreun oor hulle droogheid voordat God die lewe wek nie. Die bene hoef nie eers
te bid of te bely nie! God spreek die goddeloses vry! Natuurlik wil ons graag
hê dat God se genade aan meriete gekoppel moet wees. Hier kan daar na die
Targum verwys word. Maar God skep uit die stof die lewe (Gen 2:7) en uit die
dood die lewe (Ef 2:1-10).
Hoe doen
God dit? Dit is die tweede vlak waarop God se heil nie van mense afhanklik is
nie. God doen dit deur sy lewende en kragtige woord (Eseg 37:4,12) van
vergifnis (36:25). Deur sy Gees herskep hy mense tot die lewe en ’n nuwe
gehoorsaamheid (36:26,27). Hy maak van lyke lewende mense wat sy kunswerke word
(Ef 2:10). By hierdie gedeelte kan oor die aard van die nuwe lewe gepraat word.
Wat kan en
moet die kerk doen? Kyk wat moet die profeet doen. Hy moet aan dooies die lewe
verkondig! Nie ons diagnoses, prognoses, aksies, programme gee die deurslag
nie, maar dit wat God wil. God werk met sy Woord en boodskappers in hierdie
wêreld met die boodskap van die lewe: die mens wat die evangelie verkondig, sê
nooit iemand die dood aan nie - net die lewe.
Hoekom doen die Here dit? Wanneer die kerk dood is, sien die wêreld dit (Eseg 36:20). Wanneer die kerk nie hoop het nie, lyk dit of hulle nie 'n God het nie. Dit gaan oor die eer van sy Naam. Wanneer God red sal hulle erken dat Hy die Here is (13,14). Maar so ook die nasies. Die nasies sal erken dat Hy die Here is (36:23)