Ander tekste: Ps 100 of Ps
95:1-7a; Efes 1:15-23; Matt 25:31-46
Die teksverse vir hierdie week moet binne die geheel van Esegiël 34
beskou word. Eseg 34, 'n hoofstuk
waarin die beeld van die verhouding tussen herders en kleinvee sentraal
funksioneer, val in drie dele uiteen:
- Die oordeel oor die vorige herders (verse 1-10)
- God as Herder by uitnemendheid (verse 11-24)
- Die kosmiese implikasies van God se versorging van die kleinvee (verse
25-31).
Die eerste 10 verse is 'n harde oordeelswoord wat aan die herders van
Israel gerig word, omdat hulle nie hulle herderstaak na behore uitvoer
nie. Die swakkes en siekes word versaak
en die afgedwaaldes word nie teruggebring nie.
In plaas daarvan dat die herders die skape behoorlik versorg, buit hulle
die skape uit. G’n wonder dat die
kleinvee rigtingloos en verward is nie.
Zimmerli wys daarop dat die herders van Israel op twee maniere hulle mag
misbruik het: hulle het nie omgegee
vir die swakkes, siekes of afgedwaaldes nie en hulle het bedwelmd geraak met
hulle eie magslus. Die herders sorg dus vir hulleself en nie vir die vee
nie. Daarom gaan die Here die herders
straf en self die herder vir die
kleinvee wees. Verse 11-24 vertel van
die toegewyde en deernisvolle manier waarop die Here vir die volk 'n herder sal
wees, terwyl verse 24-31 weer wys op die verreikende kosmiese implikasie van
God se sorg.
Die boek Esegiël is bekend vir sy oordeelsuitsprake. Die teks vir hierdie week is egter een van
die aantal uitsprake (soos Eseg 36:1-15; 37:1-14) wat 'n boodskap van hoop
bring. Die hart van hierdie boodskap
van hoop vind 'n mens in vers 11 waar die Here sê: “Ek sal self my kleinvee
soek en na hulle omsien.”
Die toegewyde versorging van die herder aan sy kleinvee dien as beeld vir
God se verbintenis aan die volk te midde van hulle ervaring van verlies. Die agtergrond vir hierdie woorde hang
duidelik met die ballingskap saam. Vir
die verstrooide volk is dit 'n donker tyd.
Hulle land is hulle ontneem en hulle stad is geruïneer. In die vreemde land het hulle daagliks met
die realiteite van wanhoop en onderdrukking te make. In só 'n situasie is die gevaar dreigend dat die identiteit en
roeping van die volk verswelg kan word deur dit wat hulle elke dag beleef. In hierdie moeilike tyd is daar vir die volk
egter nie 'n gebrek aan leiers nie, maar wel 'n gebrek aan verantwoordelike
leierskap. Dit is dié agtergrond
waarteen 'n mens Esegiël se boodskap van hernuwing, soos wat 'n mens dit in sy
hoopvolle uitsprake vind, moet interpreteer.
Vir Esegiël moet daar 'n nuwe Israel gebore word uit diegene wat so
jammerlik na Babilonië as ballinge weggevoer is. In die proses is goeie leierskap uiteraard baie belangrik. Leierskap of koningskap (in spesifiek die
tipe koningskap wat met die Dawid-dinastie geassosieer is) was nog altyd vir
die volk belangrik vir hulle gevoel van identiteit en roeping. Die gedagte dat Dawid en sy afstammelinge
oor Israel heers, het vir die volk die gevoel gegee dat hulle uitverkore is en
dat die Here hulle seën. In die tyd van
Esegiël is dié gedagte bedreig: die laaste aantal konings in die lyn van Dawid
was nie baie gewild nie en hulle het afbreuk gedoen aan die manier waarop mense
die gedagte van grootsheid met die koningskap in verband gebring het. Sedekia, die laaste koning wat op die troon
in Jerusalem gesit het, het sy laaste dae in skande en vernedering
deurgebring. Sulke herinneringe, tesame
met die volk se huidige ervaring van swak leierskap, het die volk se wanhoop en
visieloosheid versterk. In hierdie
situasie bring Esegiël 'n boodskap van hoop.
Die profeet is dus bereid om te bly hoop, te midde van die seer en
teleurstellings van die verlede.
Brueggemann noem dit 'n “responsible alternative tot the memory of hurt
to the failed monarchy” (Israel’s Praise,
73).
Skifverklaarders wys daarop dat geen beeld oor leierskap meer ingeprent
in die populêre verbeelding was as die beeld van 'n herder met sy kudde
nie. Sommige voer dit terug na
Mesopotamië in die vroeë jare van die tweede millennium voor Christus toe
Babiloniese konings die beeld gebruik het om hulle leierskap te legitimeer
(Clements). Ander (bv Blenkinsopp) wys
daarop dat die herderbeeld reeds in die 3de millennium v.C. deur die Sumeriërs
op konings en gode van toepassing gemaak is (vgl die herder-god Dumuzi). Hoe dit ook al sy, Esegiël sluit aan by
die bekende beeld van leiers as herders en wys daarop dat Israel slegte herders
gehad het (eksegete soos Allen en Blenkinsopp meen dat Jeremia 23:1-2 hiervoor
as bron dien). Naas Esegiël se oordeel
oor die slegte herder, wys hy ook heen
na die toekoms wanneer die leiers op betroubare en regverdige wyse sal
regeer. In verse 23 en 24 is daar die
duidelike verwysing na die dienaar Dawid as die een herder wat deur die Here
aangestel sal word. Dit wys iets van
die versugting van 'n leier wat weer met die grootsheid van die Dawid-dinastie
verbind kan word.
In verse 11-16 (wat die sentrale deel van die lesing vir hierdie week
uitmaak) sien 'n mens hoe die Here beloof om self vir sy mense te sorg. God is dus nie 'n anargis of 'n rewolusionêr
(Zimmerli) wat net oordeel, wegneem en afbreek nie. Die redding kom nie bloot deur die wegneem van die kwaad
nie. God wys sy geregtigheid deur vir
hulle te sorg. In hierdie verse sien
ons hoekom Esegiël hoop kan bring: hy “sien”vir God. Hy het 'n visie van 'n God wat swakke mense nie los nie, maar juis
toewyding en deernis teenoor hulle toon - dié Herder is anders as die volk se
herders. Die deernisvolle versorging
van die goddelike Herder is opvallend.
Daar is 'n sekere intimiteit en sagtheid in hierdie verse. Iets hiervan word deur die herhaling van
eerste persoon voornaamwoorde teweeggebring:
“Ek sal self my kleinvee soek ...” (vers 11)
“... so sal Ek omsien na my
kleinvee...” (vers 12)
“Ek sal hulle tussen die ander
volke uitbring ... Ek sal hulle
versorg op die berge ...” (vers 13)
“Ek sal vir hulle sorg vir
goeie weiding... (vers 14)
“Ek sal self my kleinvee se herder wees... (vers 15)
“Ek sal die soek wat weggeraak
het... (vers 16).
Duidelik hoor 'n mens die toewyding van die Herder om self vir sy kudde
te sorg. Hy red sy kudde nie net van
uitbuiting nie, maar ook van tuisteloosheid en ongeborgenheid. Die verstrooide skape sal teruggebring word
na hulle land waar hulle in vrede en veiligheid sal wei. Die taal van verse
11-16 herinner sterk aan Psalm 23. In
dié psalm gaan dit ook oor die geborgenheid wat ten spyte van donker
omstandighede beleef word, aangesien die goeie Herder teenwoordig is (vgl Ps 23
vers 4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U
is by my. In u hande is ek
veilig).
Van die kudde wat met soveel deernis en toewyding versorg word, word
egter ook geregtigheid verwag (vgl verse 17-22). Die “onderdane” moet ook waak teen 'n miniatuurvorm van magslus -
binne die kudde is daar ook weer sterkeres wat swakkeres kan uitbuit. God se oordeel rus ook op onderdruktes wat
ander onderdruk. Die Here se geregtigheid is dus konsekwent - almal moet regverdigheid uitleef. Die oordeel rus op hulle wat die swakkes
uitbuit en hulle pastorale taak teenoor hulle versaak (die verband met die
profetiese rede oor die laaste oordeel in Matt 25:31-46 - een van die ander
leesrooster-tekste vir die week - is duidelik herkenbaar).
In verse 23 en 24 (soos reeds genoem) word die hunkering na 'n leier soos
Dawid verwoord. Interessant genoeg word
hierdie nuwe leier nie koning genoem nie (die profeet noem hom vors/ prins - nasi’).
Wat die rede hiervoor is, is nie seker nie. Dalk was dit bloot polities, uit sensitiwiteit vir die
Babiloniese maghebbers. Sommige meen
weer dat daar 'n dieper teologiese rede is: hy sal nie heers soos die tipiese
Nabye-oosterse monarg nie, maar as God se kneg. Dit gaan dus nie oor 'n misbruik van mag nie, maar oor
ondergeskiktheid en verantwoordelikheid aan die Here. As die Here se kneg en verteenwoordiger sal die nuwe
herder-koning die genadige dade van die Here verrig.
Die situasie waarin die eerste hoorders van Eseg 34 hulle bevind het, is
van so aard dat baie mense vandag daarmee sal kan identifiseer. Die ballingskap-ervaring was een van
ontnugtering, wanhoop en verlies aan identiteit en roeping. Dit kan tereg beskryf word as 'n ervaring
van verlies. Hoewel dit gevaarlik sou
wees om 'n te direkte verband te trek tussen die situasie van die hoorders
vandag en die van die volk destyds, is dit tog so dat baie van ons vandag met
so 'n ervaring van verlies kan identifiseer.
Die prediker kan hier aansluit by die konkrete situasie in die gemeente
vir voorbeelde ('n mens dink byvoorbeeld aan verlies as gevolg van ekonomiese
veranderinge; verlies aan sekuriteit; verlies van iemand naby jou; verlies van
jou gevoel van identiteit, roeping en lewensin). Hoewel die hedendaagse hoorders se situasie verskillend is as die
van die volk, is dit dieselfde God wat vandag deur die woorde van Eseg 34 mense
wat verlies of ongeregtigheid beleef van sy toewyding en deernisvolle sorg vir
hulle wil verseker. Saam met die
troosvolle versekering dat die Here self na sy kudde sal omsien, moet ook die
waarskuwing dat die verdruktes moet waak om nie self onregverdig te leef nie,
gehoor word.
Die laaste Sondag van die kerklike jaar is 'n feesgeleentheid waarin
Christus se koningskap gevier word.
Hiermee word “koninkrykstyd” afgesluit en dien dit as 'n oorgang na
Advent. By hierdie geleentheid is
Esegiël 34 'n gepaste teks. In dié teks
sien ons die versugting na 'n herder-koning wat regverdig sal regeer en deernis
met die swakkes en weerloses het. As
Christene glo ons dat die God wat hierdie woorde van hoop tot die volk in hulle
wanhopige situasie gerig het ook ons God is en dat Hy in 'n besondere wyse sy
verbintenis aan ons gewys het deur mens te word in Jesus Christus. In Jesus Christus sien ons die Herder-koning
by uitnemendheid. Duidelik sluit
teksgedeeltes soos Joh 10: 1-18 aan by Eseg 34. In Joh 10 sien ons Jesus as die goeie Herder - die Een wat bereid
is om alles op te offer vir sy skape.
Die intimiteit tussen dié Herder en die skape word ook beklemtoon. Hierdie gedagtes vorm 'n gepaste aansluiting
by die laaste Sondag van die kerklike jaar.
Dit dien vir ons as 'n herinnering aan die vreemde koningskapstyl van
Christus - 'n herder-koning wat deernis met sy weerlose kudde het en oor hulle
heers deur sy lewe vir hulle te gee.
Deur sy koms het vrede en rus vir skape 'n werklikheid geword en deur sy
tweede koms (waaraan ons onsself ook in die volgende dae van Advent herinner)
sal dit finaal in vervulling kom.
Die herderbeeld is op vele maniere in byvoorbeeld die skilderkuns en
musiek ontgin. Op 'n ander vlak help
dit vir ons om iets van die ryk betekenis van tekste soos Psalm 23, Eseg 34 en
Joh 10 te beleef. Om twee voorbeelde te
noem:
-
In die Christelike tradisie is daar 'n ou
muurskildery wat Jesus uitbeeld as die goeie Herder. Dit kom uit 'n familiegraf in 'n Romeinse katakombe. In dié uitbeelding sien 'n mens Jesus by
twee skape (sy kerk). Sy klere is die
eenvoudige klere van 'n gewone herder, sodat hy maklik die skape kan volg en
versorg. Op die klere is daar egter
pers strepe (pers is die kleur vir persone met mag). Die goeie Herder se regterhand is verder oopgestrek in 'n
uitnodigende gebaar. Oor sy skouer hang
'n leersak met voorrade in wat hy vir die skape kan uitdeel. Op sy skouer dra hy nog 'n skaap - as beeld
van die toewyding aan die swak of afgedwaalde skape. Aan die linker- en regterkant van die goeie Herder is daar die
buitelyne van bome waarin duiwe sit met olyfblare in hulle bekkies. Dit dui op die vrede, rus en hoop wat die
goeie Herder bring.
-
Die uitbeelding is omsirkel en dit suggereer dat
hierdie sorg en toewyding van die Herder ewigdurende betekenis het (vir 'n
afdruk van die uitbeelding, sien Lawrence, K T (red), Imaging the Word. An Arts and
Lectionary Resource, p197).
-
Die herdermotief word ook treffend weerspieël in J S
Bach se Schafe können uit Kantate nr
208.
Die woorde lui:
Schafe können sicher weiden,
Wo ein guter Hirte wacht.
Wo Regenten wohl regieren,
Kann man
Ruh’ und Frieden spüren
Und was Länder glücklich macht.
Schafe
können sicher weiden
Wo ein guter Hirte wacht.
(Die skape kan in veiligheid wei
waar 'n goeie herder waghou.
Waar heersers goed regeer
kan 'n mens rus en vrede bespeur
en dit wat volke gelukkig maak
Die skape kan in veiligheid wei
waar 'n goeie herder waghou.)
In Eseg 34 vers 11 lees ons dat die Here sê: “Ek sal self my kleinvee
soek en na hulle omsien.” Dié woorde
kom tot 'n gestrooide groepie mense - die volk in ballingskap. Hulle stad en hulle land is verwoes. Hulle
bevind hulle in 'n vreemde land.
Waarskynlik is hulle gemoedstoestand baie broos. Wanhoop dreig om hulle te oorweldig en die
vreemde situasie lyk of dit hulle gevoel van identiteit en selfwaarde
verswelg. Om alles te kroon het hulle
slegte leiers. Hulle leiers buit hulle
uit. Vir dié mense, wat in die verlede
goeie konings soos Dawid gehad het, was die ervaring pynlik.
Dit is in hierdie situasie wat Esegiël 'n woord van oordeel en hoop
bring. Hy kondig die Here se oordeel
oor die slegte leiers aan. Maar die
Here gaan nie net die slegte leiers straf nie.
Hy gaan self intree. Hy sal
hulle in liefde opsoek en geregtigheid teenoor hulle laat geskied. Hy sal hulle
vrede en rus laat beleef.
Baie mense kan vandag identifiseer met die situasie identifiseer waarin
die volk hulle bevind het. Ons sou baie
voorbeelde kom opnoem uit ons eie lewens of dié van ander wat getuig van
ervarings van verlies of uitbuiting (hier kan die prediker aansluit by die
leefwêreld van die betrokke hoorders).
In sulke tye is persone en groepe dikwels onseker oor wie hulle is en
wat hulle in so 'n situasie te doen staan.
Daar is 'n behoefte aan rigting en sterk leiding. Wanneer dit ontbreek, voel mense inderdaad
herderloos en ontnugter.
In sulke situasies waarin ons weerloosheid beleef, is die versoeking
groot om te dink dat God afwesig is.
Die gevolg kan wees dat 'n mens deur die verpletterende gevoel van die
onsekerheid en hopeloosheid van die situasie lam gelê kan word. 'n Ander
moontlike reaksie is om te meen dat ons nou moet leer om by wyse van spreke
sonder 'n herder te leef - om horings te ontwikkel sodat ons self kan reg
kom. Om voortaan nie meer 'n weerlose
slagoffer te wees nie, gaan ons eerder ander uitbuit as wat ons toelaat dat
hulle ons uitbuit. Al wat oorbly is die
wet van die oerwoud.
Esegiël 34 herinner ons dat ons in weerlose tye kan weet: Ons is nie aan onsself oorgelaat te midde
van ons ervarings van verlies of broosheid nie. Al voel dit vir ons dat ons horings wil hê om die gevoel van
weerloosheid tee te werk, kan ons weet dat ons iets beters het - ons het 'n
Herder. Ons het nie 'n Herder wat afwesig is en ons aan ons eie lot oorlaat
nie. Nee, ons goddelike Herder sien ons
te midde van ons ervarings van verlies en swakheid in deernis aan. Hy laat ons nie rigtingloos en herderloos
nie. Hy gryp self in. Hy laat ons vrede, geborgenheid, rus en
geregtigheid beleef. Hierdie herder is
toegewyd aan sy kleinvee. 'n Mens hoor
dit in die baie voornaamwoorde wat in die verse wat ons saamgelees het gebruik
word. Dink maar aan verse soos vers 11:
“Ek sal self my kleinvee soek..” en vers 15: “Ek sal self my kleinvee
se herder wees...” In hierdie woorde
hoor 'n mens die herder se toewyding aan sy kleinvee. Ons kan weet dat die God wat hierdie hoopvolle woorde aan die
volk in die ballingskap gerig het, ook ons God is. Daarom kan ons hoor dat Hy vandag vir ons te midde van situasie
waarin ons verlies en verlatenheid beleef, sê: Ek sal self julle opsoek en na
julle omsien. Dít is die belofte wat
ons kan toeëien.
Kom ons keer terug vir 'n oomblik terug na die volk wat die beloftewoord
van God se geborgenheid en sorgende teenwoordigheid ontvang het. Hulle was nie vir ewig in ballingskap nie.
Hulle het teruggekeer na hulle land en begin met herbouing. Tog was daar nie nou volledig rus en vrede
nie. Daar was maar weer vorme van
uitbuiting en ongelykheid. So het die
behoefte bly voortleef na 'n herder-koning wat regverdig sal regeer. As
christene glo ons dat God ag gegee het op die versugting na 'n herder-koning
wat in heerlikheid en met regverdigheid sal regeer. Uit die geslag van Dawid is Jesus Christus gebore - die
Herder-koning by uitnemendheid. In Joh
10 lees ons hoe Jesus as die goeie Herder hom aan sy skape verbind. Soveel so dat hy bereid was om vir hulle te sterf.
Hierdie herder is egter 'n vreemde herder.
Die een wat ons moet beskerm en versorg, kan homself nie beskerm teen
die onderdrukking van die mense wat hom onskuldig kruisig nie. Die herder lyk weerloos. Hy word 'n geslagte lam. Hy word self swak
en weerloos ter wille van sy skape.
As ons met geloofsoë kyk dan sien ons egter dat dit juis deur hierdie
weerloosheid is dat Christus sy heerskappy wys. Hierdie geslagte Lam is ook die een wat opgestaan het en sit op
die troon aan die regterhand van God.
Hierdeur het dit vir ons moontlik geword om te midde van die realiteit
van verlies en verlatenheid die dieper realiteit van God se versorging en
geborgenheid te beleef. Daarom kan ons
weet: ons het nie horings nodig nie, ons het 'n Herder wat ons versorg en voed. Van tyd tot tyd eet ons as gelowiges saam
die brood en drink ons die wyn wat ons herinner: Die herder se liggaam is
gebreek en sy bloed het gevloei ... vir ons.
Daarom kan ons bely: Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie ...
Vanaf volgende Sondag vier ons Advent: Kom ons maak gereed vir dié vreemde
Herder-koning wat gekom het en weer kom!
Kommentare: Allen, L
C (WBC); Blenkinsopp, J (Interpretation);
Clements (Westminster Bible Company);
Eichrodt, W (OTL); Vawter, B en
Hoppe, L J (ITC); Zimmerli, W
(Hermeneia).
Aanvullend: Augsburg Sermons (OT Lessons - Series A), 251-255; Bohren, R, Trost, 83-91; Brueggemann, W et al, Texts for Preaching: A Lectionary Commentary Based on the NRSV - Year A, 571-573; Brueggemann, W, Israel’s Praise, 73-74; Burger, CW, Müller, BA en Smit, DJ, Woord teen die lig 111/1: Riglyne vir prediking oor vrede, 133-152.