18 Januarie 2004

tweede sondag na Epifanie

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir die Sondae na Epifanie gebruik te word.

Fokusteks: Jesaja 62:1-5

Ander tekste: Psalm 36:5-10; 1 Korintiërs 12:1-11; Johannes 2:1-11

Inleiding

Die fokus van hierdie Sondag is tradisoneel die eerste wonderwerk van Jesus by die bruilof te Kana. ln Jesaja 62 en Psalm 5, asook Johannes 2 is daar baie mooi teologiese aksente teenwoordig wat met die beklemtoning van lig- en doopmotief van Epifanie verbind kan word. Veral Jesaja 62 is `n pragtige Epifanieteks wat God se verbondstrou, die nuwe naam wat God gee en die ligmotief, almal gelyk vashou. Psalm 36:5-10 beklemtoon dat God se seën en liefde vir geregtigheid nie alleen `n kultiese aangeleentheid is nie, maar ook in die hele lewe en die skepping weerspieël word. Johannes 2 wat handel oor die bruilof te Kana en die verandering van water in wyn kan ook maklik met die doop verbind word, terwyl ons as liggaam van Christus in 1 Korintiërs 12 met die viering van die nagmaal as gedagtenismaal herinner word dat ons self, deur die Gees die gebroke en opgestane liggaam van Christus, op aarde is.

god versamel ons voor hom

Drumpelgebed

Seën hierdie dag, o Here

en almal wat vandag oor die wye wêreld lewe.

Seën elke stukkie van u skone natuur,

laat die blomme en vrugte en graangewasse

uitspruit en uitreik na U wat hulle laat groei.

Here, versadig die aarde met u goedheid!

Seën die jare wat vir ons voorlê;

Laat ons elke dag lewe tot u verheerliking.

Here, soos U die mense seën,

seën tog ook die nederige diere

en ander lewende wesens

wat op die aarde, en in die lug, en onder die aarde woon.

U het hulle so mooi en sterk en slim gemaak.

Dink aan hulle wat ons gebruik om vir ons te werk.

Beskerm hulle teen hitte en reën.

Gee tog kos en skuiling aan dié

wat ons nalaat om te versorg.

Groot is u barmhartigheid,

Redder van die wêreld,

moenie een van u skepsels vergeet nie. (Russiese gebed wat aansluit by Ps. 36 en Jes. 62).

Aanvangslied

Lied 368:1,3,4 "Wyl herders by hul kudde wag"

Aanvangswoord (alternatief vir die voorstel in die basisliturgie)

Jy sal `n nuwe naam kry,

`n naam wat die Here self vir jou gekies het.

Die Here sal jou soos `n sierlike kroon

in sy hand hou,

Jou God sal jou soos `n koninklike tulband vashou.

Seëngroet

Die Here wat aan jou `n nuwe naam gegee het

en jou vashou groet jou:

Genade en vrede vir julle

van God ons Vader

en van die Seun, Jesus Christus

deur die werking van die Heilige Gees. Amen

Aanbiddingslied (gemeente kan bly sit)

Lied 511:1,2 "Lei ons, Lig"

Skuldbelydenis

O, Here, skep in my die wil en die behoefte om U te soek.

Draai my om, sodat ek in u rigting kyk.

Here, U het my nie verlaat

soos ek so dikwels met U doen nie.

Ek bly op al my dwaalweë tog altyd bewus

van u teenwoordigheid êrens langs my, in my.

Hier kom ek, Here

na wie anders kan ek gaan,

wat my nie sal verwyt,

of sal wil terugbetaal nie,

wat selfs die trane van my oë sal afvee?

Skepper-God

Ek weet dat U wat alles gemaak het,

my ook sal oormaak.

O, Gees en Trooster,

Ek weet dat U my sal troos

Al is dit ek wat U in die steek gelaat het.

Here, God van liefde,

dankie dat U my hoor.

Here, verander my hart

sodat ek U waaragtig sal liefhê (Augustinus, 5de eeu).

Vryspraak (gebed)

Die woorde van Psalm 36:6-11 kan as vryspraak gebruik word:

Here, u liefde reik tot in die hemel,

u trou tot in die wolke,

u geregtigheid tot op die hoogste berge.

Die reg wat U spreek,

tot in die dieptes van die see.

U sorg vir mens en dier, o Here.

Hoe kosbaar is u trou, o God!

U beskerm die mense wat by U skuil.

In u huis geniet hulle oorvloed,

U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.

U is die bron van die lewe,

Deur u lig lewe ons.

Laat u liefde bly by die wat U erken.

en u trou by die wat opreg is. Amen

Diens van die water

Die voorganger gaan staan by die doopvont en lees Johannes 2:1-10. Die liturg kan die volgende in aansluiting by die teks sê: Hoewel Jesus aanvanklik sê dat sy tyd nog nie gekom het nie, besluit God dat die aardse bruilof die plek is waar sy Seun se heerlikheid kan bekend word. En net daar verander Jesus water in wyn. Die wonderwerk word deur Johannes 'n teken genoem. Die water verander in wyn om te sê wie Christus en wie God is. Dit wil vir ons 'n venster oopmaak op wie God is en hoe sy karakter lyk. God se liefde word nie ingeperk deur wat ons dink moontlik of onmoontlik is nie. Ons doop is die teken van God se vernuwingswerk in die harte van sondaarmense. Elke keer dat ons die doopwater sien, word ons herinner aan die bloed van Christus wat gevloei het om aan elkeen van ons `n nuwe lewe te skenk.

Lofliedere

Lied 505:1, 2, 3 "Jesus, U gaan voor"

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 62:1-5

Psalmrespons

Psalm 36:5-10

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

1 Korintiërs 12:1-11

Skriflesing uit die evangelies

Johannes 2:1-11

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Die liturg gaan staan by die nagmaaltafel en sê: Elkeen wat `n nuwe naam en nuwe identiteit in Christus ontvang het, is deur die werking van die Gees ook deel van die liggaam van Christus op aarde.

Lees 1 Korintiërs 12:1-11. Elke keer as ons die brood breek en die wyn drink, word ons herinner dat ons deur die Gees deel in die kruisiging en die opstanding van Christus, dat ons `n nuwe naam, maar ook gawes ontvang het om die gemeente, maar ook die wêreld tot diens te wees. Uiteindelik behoort ons aan die wêreld omdat ons aan Christus behoort. Wanneer ons die brood en wyn gebruik, word ons met nuwe krag vervul om die gawes wat God ons gegee het, in diens van ander te stel. Daarom bid ons:

Voorbidding

Geloofsbelydenis

Dankoffers

Uitsending

Die wet (as verbintenis en wegsending)

Lees Lukas 6:20-23 in plek van die tien gebooie. Lees moontlik saam met Lukas 10:25-27 die "groot gebod".

Alternatief:

Voorganger: As getuies van u genade en goedheid

en met harte versterk om vir u te leef

verbind ons ons, o Heer

uit liefde vir U en ons naaste:

Gemeente: Om U te dien en niemand anders nie

om u beeld en gelykenis in Jesus Christus te eer;

om u Naam te heilig;

om u dag te vier;

om ons ouers te eer,

… aan almal die lewe van harte te gun,

… die huwelik heilig te hou,

… nie te steel nie,

… niemand vals te beskuldig nie,

… en nie te begeer wat ons nie toekom nie.

Slotsang

Lied 334:1-4 "God is Liefde! Juig ons harte"

Seën

Die Here sal vir julle wees soos reën vir die plante

soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.

Hy sal jou red as jy om hulp roep,

Hy sal jou help as daar geen helper is nie.

Hy sal Hom oor jou ontferm en jou beskerm. Amen

of

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val

Die Here is rondom jou om jou te beskerm

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid. Amen

PREEKSTUDIE – JESAJA 62:1-5

Teks

Dit lyk asof dieselfde persoon hier aan die woord is as in 61:1-3. Dit kan die profeet self wees, of dalk iemand groter as hy. Daar is uitleggers wat beweer dat God self hier aan die woord is. Hulle grond hul opinies op uitsprake in die boek (42:14; 57:11; 64:12; 65:6) dat God nie langer oor Jerusalem sal swyg nie. Jesaja 62:4 bevat ook `n oproep om nie te swyg nie, alhoewel dit hier egter nie op God dui nie, maar op die persone wat bid. Alles in ag genome, wil dit tog daarop dui dat die profeet (Trito-Jesaja) hier aan die woord is (Volz).

Die belangrike gedagte wat die profeet in 62:1 wil deurgee, is, dat hy nie sal ophou bid alvorens daar vir Jerusalem totale redding deurgebreek het soos `n nuwe dag nie. Net soos die sanger van Psalm 137 nie van Jerusalem kan vergeet nie, kan die profeet nie stilbly namens Jerusalem nie (Volz). Jerusalem was op daardie oomblik maatskaplik, polities en godsdienstig in `n baie slegte situasie na Israel se vrylating uit die ballingskap. Die volk was ontnugter deur verwoesting, armoede en vyandigheid van die kant van die mense wat hulle tydens die ballingskap in Jerusalem gevestig het. Die volk het gewonder waar God was, omdat die beloftes van die profeet (Deutero-Jesaja) nie gerealiseer het nie.

Die profeet (Trito-Jesaja) neem nou die immanente verlossingsboodskap van Deutero-Jesaja (sien preekstudie by 11 Jan. 2004), en verander dit (onder andere) in `n visie van toekomstige verlossing. Hiermee bedoel hy dat Jerusalem aan die einde van die tyd volkome herstel sal word. Daar is teoloë wat sê dat Jesaja 60-62 in drie dele volgens hoofstukke uiteen val. Elkeen van die hoofstukke bevat `n weeklaag, teengewerk deur `n woord van verlossing. Dit was omdat die praktiese situasie waarin die volk hulle bevind het, nie ooreengestem het met die eskatologiese (toekomstige) visies van verlossing wat beskryf is nie. Wat belangrik is, is dat die toekomstige visies van verlossing swaarder geweeg het as die beswaar of weeklaag. Volgens Soards kan die drie hoofstukke onder die volgende tema gerangskik word: ‘n Proklamasie van redding: 1. Die nasies sal in Sion aanbid; 2. Die salwing van `n profetiese tussenganger; en 3. Die herstel van Sion.

Die groot verandering wat vir Jerusalem beplan word, sal deur konings en nasies gesien word (62:2). Hulle sal sien dat die volk gered is en mag het. Hierdie verandering word uitgedruk deur te sê dat hulle `n nuwe naam sal kry. Dit was destyds `n gebruik wat verandering aangedui het. Die feit dat die Here self die naam sal gee, bevestig die nuwe situasie waarin hulle sal wees, asook die betekenis daarvan vir hulle. Yahweh sal hulle gevolglik weer legitiem maak. Die "gevalle dame" sal `n nuwe reputasie kry (Weems).

Omdat die Here self die redding van Israel bewerkstellig, bewys Hy sy koninklike mag oor nasies en gebeurtenisse. Daarom is Jerusalem vir Hom soos `n sierlike kroon in sy hand, en sal hulle deur Hom soos `n koninklike tulband vasgehou word (62:3). Dit is interessant dat die profeet nie sê dat God die kroon en tulband op sy kop het nie, maar in sy hand. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat dit destyds van die heidense gode gesê is. Daarom onderskei hy op hierdie manier tussen die God van Israel en die heidense gode. Hiermee beklemtoon hy ook God se absolute mag oor Israel en sy lotgevalle – hulle is in sy hand!

In plaas daarvan dat Jerusalem so verlate soos `n verstote vrou sal wees, sal sy bevolk wees (62:4). Sy sal wees soos `n meisie wat met `n jong man trou en deur hom versorg word. En dit is omdat die Here haar liefhet soos `n bruidegom sy bruid liefhet, en oor haar bly is (62:5)! Everson sê: "By using the marriage imagery, the prophet is clearly reminding the people of their ancient covenant relationship with God." Westermann sê voorts dat in al die Ou-Testamentiese tekste waar ‘n verhouding met God in terme van `n huwelik uitgedruk word, God se "huweliksmaat" altyd `n gemeenskap is en nooit `n individu nie. Uiteraard is God ook altyd die subjek van so `n verhouding.

Wat die struktuur van hierdie perikoop betref, val dit in drie dele uiteen. Vers 1-2a handel oor die profeet se aanklag teen `n swygende God, en sy besluit om uit frustrasie, namens die Here te praat. In vers 2b-4a verskuif die aksent van God na Sion, en kondig hy haar nuwe naam aan. Sy sal nie meer "die verstote vrou" wees nie, maar "die een vir wie die Here liefhet". Hierdie perikoop eindig met die rede vir haar naamsverandering, naamlik dat die Here haar liefhet. Die beeld van `n huwelik is dan ook te verstane!

Konteks

Die logika van ons teksgedeelte word nie in vers 5 voltooi nie. Die leser moet verder lees, want vers 6-12 verduidelik eintlik hoekom die profeet met soveel vrymoedigheid namens God kon praat. In vers 6 verwys hy na wagte wat op Jerusalem se mure uitgesit is en wat dag en nag sal roep. Dit is beeldspraak, maar volgens die profeet dra dit `n definitiewe betekenis en boodskap. Die Hebreeuse woord vir wagte is mazkirim. Dit beteken letterlik "hulle wat in herinnering roep". Hierdie mense was in antieke Israel hofamptenare wie se funksie dit onder meer was om rekord van die hofgebeure te hou (2 Sam. 8:16; 1 Kon. 4:3; Jes 36:3). Hierdie wagte verwys volgens Muilenburg na profete, terwyl Kessler sê dit is persone wat bid.

Die wagte sou oor God se beloftes beskik het. Hulle moes Hom dan ook geen rus gee voordat Hy Jerusalem, soos Hy belowe het, herstel het en die hele wêreld die roem van Israel gesien het nie (62:7). Vers 8-9 verskaf verdere redes waarom die profeet met soveel onbeskaamdheid namens God kon optree. Vir hom was die Here se beloftes met `n eed bevestig en het God die mag gehad om dit te verwesenlik (Jes. 41:10; 45:23; 54:9). Hierin het hy absoluut geglo.

Vers 8-9 beklemtoon nog `n interessante gedagte, naamlik dat die swak ekonomiese omstandighede waarin die volk hulle bevind het, hulle aanbidding negatief beïnvloed het (Jes. 60). Wanneer dit ook eers verbeter het, sal dit in die volk se aanbidding van God weerspieël word. Duhm sê: "The verse speaks of the three great festivals which from the time of Deuteronomy onwards (ch. 16) were celebrated at the temple, and at which men gave thanks to God for the new harvest of grain and for the vintage, struck up the note of festal joy, and ‘rejoiced before God’ as they enjoyed the new gifts."

Verse 10-12 kan as die konklusie van die gedeelte gesien word. Dit onderstreep die vertroue waarmee die profeet opgetree het - God sal Israel verlos en die redding sal volkome wees. Volgens Muilenburg is hierdie verse `n aaneenskakeling van aanhalings uit Deutero-Jesaja, maar omdat die situasie tussen God, Deutero-Jesaja en die volk anders was as in Trito-Jesaja se geval, het dieselfde woorde nou `n nuwe betekenis.

Jesaja 62:1-5 moet as deel van die groter eenheid van hoofstukke 60-62 gesien word. Dié hoofstukke vorm deel van die kern van Trito-Jesaja se profesie (sien inleidingsartikel) wat geskryf is om die ballinge wat na Jerusalem teruggekeer het, aan te moedig om die Here waarlik en opreg te dien. Jesaja 60-62 gaan oor meer as die historiese herstel van Jerusalem. Dit het ook eskatologiese betekenis (Op. 21:9-22:5). Die Here se magtige teenwoordigheid sal vir Israel `n lig wees en Hy sal hulle `n lig vir die nasies maak. Israel was deur die nasies verdruk, van hulle besittings beroof en verstrooi, maar die rolle sal omruil. Die verbondsvolk sal uit alle streke terugkom na hulle land toe. Hulle sal met liefde hanteer word, rykdomme van nasies ontvang, en deur die nasies gedien word. Die heiligdom van die Here sal roem ontvang, en die Here geprys en geëer word. Hy self sal Israel se lig wees en Hy sal vrede, geregtigheid en voorspoed in die land laat heers.

As ons meer spesifiek na Jesaja 62:1-5 terugkeer, val die beeld van `n huwelik op. Die profeet gebruik waarskynlik hierdie beeld omdat dit die instelling is wat vir ons wil leer hoe twee partye met mekaar behoort saam te leef. Dit gaan oor interaksie en liefde vir mekaar. Dit leer om geduldig met mekaar te wees, deernis met mekaar te hê, en mekaar te vergewe. Trito-Jesaja sê vir die volk dat dít is hoe God se verhouding met hulle sal wees. Op die stadium was daar nog verwydering tussen die volk en Jahweh as gevolg van die sonde van vormgodsdiens en onreg. Die wonderlike van Trito-Jesaja se boodskap is dat hy nie net van God se straf en oordeel praat nie, maar beklemtoon dat God se liefde groter as sy toorn is. Die Here het hulle liefgehad soos `n bruidegom sy bruid liefhet. Hy het deernis met hulle gehad, ten spyte van hul sondige optrede. Dié versekering van God se liefde en deernis vir sy volk is steeds vir ons in die 21ste eeu waar.

Everson het in die Augsburg Sermons `n praktiese preek oor dié teksgedeelte geskryf onder die tema: Finding hope amid ashes and ruins. Die preek handel oor mense wat op grond van hoop, deur tragedies in hul lewe gekom het. Die vermoë daartoe is `n geskenk van God.

Preekvoorstel

Die opskrif van die NAV vir ons perikoop is: Die Here het jou lief. Die onderstaande preekvoorstel sluit by dié opskrif aan.

As mens in die Bybel kyk na wie God is en hoe Hy is … As jy na eienskappe van God gaan soek …, ontdek jy eintlik die veelkantigheid, die veelsydigheid, die veelkleurigheid van God. Die Bybel sê op sekere plekke vir ons dat God altyd dieselfde is. Op ander plekke sê dit weer dat God verander. Dan sê die Bybel weer dat God magtig is, terwyl dieselfde Bybel elders sê dat God ook weerloos is. Die Bybel sê dat God hoog is, maar op ander plekke weer dat Hy laag is. Dan sê die Bybel dat God regverdig is, maar, al straf Hy, is Hy ook so ontsettend liefdevol teenoor en vol deernis vir die sondaarmens. Ja, God is inderdaad veelkantig. Hy is verskriklik ruim. Dit laat `n mens eintlik duisel.

In die voorstel val die klem op die laaste twee eienskappe van God. Enersyds is Hy regverdig, met ander woorde toornig oor die sonde, maar andersyds is God liefde. As `n mens mooi daaroor dink, moes God eintlik sy volk vernietig het, so ook vir ons. Maar nou kom (veral) Trito-Jesaja en sê dat God ons te liefhet om ons te vernietig. Sy genade vir en sy deernis met ons, is te groot. Hy kan dit nie oor sy hart kry om ons uit te delg nie!

Nou begin die hart van God vir ons oopbreek. Ons ontdek as ’t ware die spanning in God se hart. Ons sien iets van die stryd in sy hart. Hoe God teen Homself veg. Hoe sy regverdigheid teen sy liefde veg, alles ter wille van ons. Maar Goddank, ons sien die resultaat van dié stryd. Die toorn en die liefde van God storm op mekaar af en ontplof net buite Jerusalem, op Golgota. Daar sien ons dit die duidelikste. My liefde, sê God, brand te sterk vir my volk, vir die mens. Ek kan hulle nie vernietig nie (Hos. 11).

So word `n eens geruïneerde stad in `n wêreldbekende stad omskep. Omdat daar `n kruis wat God en mens asook mens en medemens versoen, buite die stadspoorte ingeslaan is. `n Stad van waaruit die transformerende krag van die gebeure waarin God sy hart vir die mens ontbloot het, alle verwagtinge oortref. Dit het alle grense deurbreek. Christus het vyandskap, skeidsmure tussen mense, haat en vooroordele, afgebreek en vernietig (Ef. 2:11-22; Kol. 3:11). Dit kan ook nie anders nie, want Christus is die Lig vir `n wêreld (Joh. 8:12; 9:5) wat vasgevang is in duisternis. Die Godstad wat volgens Trito-Jesaja in duisternis was, is verlig. God het onder sy volk kom woon en "die nasies sal in die stad se lig lewe … Die poorte daarvan word gedurende die dag nooit gesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. Die mense sal die skatte en die rykdom van die nasies daarheen bring" (Op. 21:24-26).

Op grond van die verskyning van God in Christus aan die wêreld raak dit vir ons moontlik om ligdraers in die wêreld te wees (Matt. 5:14, 16; Ef. 5:8), om in liefde en vrede met mekaar saam te leef, om ons skatte en rykdomme wat dikwels jaloesie en spanning tussen mense veroorsaak, met mekaar te deel – soos `n man en vrou in `n huweliksverhouding dit doen. Net deur die liefde waarmee God ons liefhet te leef, sal die duisternis in hierdie wêreld minder word en God al meer verheerlik word.

Die verhaal word vertel van `n pa wat baie kwaad was vir sy seun oor ‘n klomp goed waarteen hy hom herhaaldelik gewaarsku het. Hy het vir hom gesê: "As jy ooit hierdie dinge doen, my seun (hy het dit opgenoem), sal ek jou moet straf – goed moet straf. Want as daar een ding is wat pa se hart baie seer sal maak, dan sal dit wees as jy hierdie dinge doen."

En soos dit maar is, oortree die seun toe. Hy doen toe die dinge waarteen sy pa hom gewaarsku het. In daardie tyd is die kinders nog met `n kats geslaan. `n Kats het klippies en stukkies glas in die voorpunt gehad. Dit was bedoel om seer te maak – om oop te kloof. Die pa het toe die seun se hand geneem en oorgehaal met die kats. Terwyl hy met die seun se hand in syne staan, het hy gesê: "Ek het mos vir jou gesê jy moet dit nooit doen nie." Toe haak hy af en slaan, maar terwyl die kats afkom, het die pa homself bedink, sy hand boontoe gedraai en homself stukkend geslaan – oopgekloof voor die oë van sy seun.

God is toornig ja, maar sy liefde is groter as sy toorn!

Die volk was eens soos `n afgekapte stomp, maar God het `n nuwe lootjie daaruit laat voorkom (Jes. 11). Die gedagte aan die oorblyfsel wat behou word, is een van die kenmerkendste bestanddele van die boek Jesaja. God handhaaf sy verbondsverhouding met sy volk, onder meer deur `n persoon wat op `n besondere manier daarvoor toegerus sou word – `n koning uit die stam van Dawid. Die wonderlike is dat alle nasies in hierdie vrede, liefde en deernis wat Hy sou bring, kan deel. Kan aanhou deel, totdat hierdie bruidegom uiteindelik na sy bruid sal terugkeer en hulle in die nuwe stad Jerusalem sal vestig!

Bibliografie

Everson, A J Augsburg Sermons; Pervo, R I Proclamation 6 – Series C, Epiphany. Review and Expositor, Isa. 62:1-7; Soards, M, Dozeman, T & McCabe, K Preaching the revised common lectionary; Ridderbos, J Korte verklaring der Heilige Schrift – Jesaja; Weems, R J 2000. The season of Epiphany, in New Proclamations YearC, 2000-2001, pp. 69-70, 87-89; Westermann, C. Isaiah 40-66.