Jesaja 61:1-4, 6-8 (Andries Cilliers)

12 Desember 1999

Derde sondag van Advent

Sy koms bring vreugde !

 

Jesaja 61:1-11 word in Woord teen die Lig I/7 , p116 en verder bespreek.  Daardie bespreking word hier veronderstel.

Die eerste vraag wat gestel kan word, is wie die spreker in 61:1-4 is.  Hieroor loop die gedagtes uiteen.  Die mees algemene opvatting is dat dit ‘n profeet (“Trito-Jesaja”) is wat hier vertel van sy roeping.  Smith (1995:23 ev) ag dit die waarskynlikste verklaring, maar wys ook op ander moontlikhede.  Steck is byvoorbeeld van mening dat die spreker Sion self is, terwyl Smart weer meen dat Israel as die volk van God hier aan die woord is.  So sê Vermeylen ook (aangehaal in Smith, 1995:24): “61:1-4 is not the speech of a prophetic figure, but the hopeful response of the community of the faithful to the statement made in 60:1…”  Achtemeier (1982:88) dink in dieselfde rigting, maar identifiseer die spreker met die onderdrukte, getroue Levitiese-profetiese gemeenskap (vir meer besonderhede oor haar standpunt word terugverwys na die gegewens by Eerste Sondag van Advent).  In hierdie preekskets word daarvan uitgegaan, in navolging van eksegete soos Westermann en Kessler (1960:61), dat die spreker ‘n onbekende profeet is wat in die Jesaja-tradisie staan.  Die doel van die eerste vier verse is dan om die gesag waarmee die profeet kom, aan te dui, sowel as die inhoud van sy boodskap.

‘n Tweede belangrike vraag raak die mense wat hier aangespreek word.  Hulle word aangedui as “die mense in nood”; “dié wat moedeloos is”; “die gevangenes”.  Baie van die eksegete dink hier aan ‘n groep binne die Joodse geloofsgemeenskap (só Westermann, en met haar spesifieke beklemtoning van die onderdrukte Levitiese groep, ook Achtemeier).   Só sê Holladay (1978:180) ook: “…here it is not Zion that is being addressed, but the afflicted…”, wat hy as ‘n spesifieke groep verstaan, min of meer in dieselfde lyn as Achtemeier.  Saam met Smith (1995:25) ag ek dit waarskynlik dat die hele Joodse gemeenskap in Jerusalem en omstreke bedoel word.  Hy haal Whybray aan: “…both refers to the Jewish community of Palestine as it continues to hope  for the fulfilment of the prophecies of Deutero-Isaiah…”  Uiteindelik open hierdie perspektief myns insiens die weg om ook oor die kerk as ‘n teleurgestelde gemeenskap te praat (selfs wanneer dit net sommige gelowiges is wat dié teleurstelling aan die lyf voel).

Die woord “gestuur” word gevolg deur sewe infinitiewe wat die doel en uitwerking van die profeet se boodskap teken.  Die heil word hier sonder voorwaardes aan die verslae volk toegesê.  Die interessante is dat die profeet blykbaar daarop reken dat die boodskap self dit wat verkondig word, tot stand sal bring.  Westermann vind dit vreemd: “Somewhat oddly, they combine the prophet’s task with its purpose or results… All that he has to do, is to speak.  Nevertheless, in and through this proclaiming he is to effect a change on those to whom he is sent.”  (19804:366)  Hierdie vreemdheid kan verstaan word teen die agtergrond van Jesaja 55:11.  Omdat die woord van die profeet die Woord van God is, doen dit iets.  Die troos wat hier vir gebrokenes aangekondig word, is ‘n effektiewe troos: dit maak ‘n daadwerklike verskil aan die mense én hulle omstandighede.

Vers 5 reken dus daarop dat die getrooste mense ook weer in beweging sal kom: “Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou…”  Dit is juis hulle troosteloosheid en uitsigloosheid wat hulle  lamgelê het.  God hanteer die probleem nié deur sy volk te kapittel nie; Hy wat die gebrokenes van hart verstaan, hanteer die probleem juis deur hulle te troos sodat hulle weer in aksie kan kom.  Kessler (1960:64) stel dit treffend: “Die mense, wat self eers innerlik omskep is, spring aan die werk, om ook die land te omskep; hulle word weer bouers.”  Die belangrike is dat hierdie verandering nie deur ‘n wettiese oproep tot stand kom nie, maar deur ‘n genadige en liefdevolle ingrype van God.  In die prediking behoort hierdie moment ‘n belangrike rol te speel.

Vers 5 word in die aangegewe Skriflesing uitgelaat.  Hoewel dit, volgens die meeste uitleggers, ‘n integrale deel vorm van Trito-Jesaja se siening, is dit moeilik om dit in die hedendaagse prediking te hanteer sonder ‘n deeglike omskrywing van waarom die profeet die heidene se diensbaarheid as deel van die heil gesien het.  Dit sou myns insiens te veel tyd in beslag neem en die fokus van die preek verskuif van die profetiese roeping in 1-4 na ‘n ondergeskikte aspek van sy boodskap.  Daarom hanteer ek dit ook nie in die preekskets nie.

Die selfopenbaring van die Here in 8-9 behoort volle klem te kry in die uitleg van hierdie gedeelte.  Ek is van mening dat die pad van Jesaja 61 na Lukas 4:16 en verder nie gesoek moet word in ‘n simplistiese belofte-vervulling-skema nie, omdat dit te maklik meebring dat die betekenis van Jesaja volledig opgaan in dié van Lukas 4.  Dan kan die ervaring van hedendaagse gebrokenes van hart te maklik opsygeskuif word met die standpunt dat ons in Christus die volle antwoord op al ons probleme het.  Dit gaan eerder daarom dat die God wat Homself aan die profeet geopenbaar het, self mens geword het in Jesus van Nasaret.  Hy bly dieselfde – en Hy is die God wat sê: “In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het.” (61:8b)   Hier speel die gedagte dat die Here sy eie eer handhaaf in sy trou aan sy volk (wat veral ook in Esegiël 36 na vore kom) ‘n belangrike rol.  Daarom meen ek Holladay (1978:180) se gedagte dat die “day of vengeance” van vers 2 (“die dag waarop ons God sy vyande straf”) eerder verstaan moet word as die “day of vindication” ondersteuning verdien: dit is die dag waarop gewys sal word dat God – teen alle menslike twyfel in – getrou is aan sy belofte.  Hierdie “vindication” vind ons nog sterker in die optrede van Jesus Christus.  Die belofte word nie in Christus finaal en volkome vervul nie; daarom is daar steeds in die kerk spanning en dikwels teleurstelling rondom God se beloftes.  Maar dit is wel in Christus bevestig, sodat ons seker kan wees van die uiteindelike vervulling, en troos kan vind in die spanning waarin ons nou nog staan.  Hierdie aspek speel ‘n belangrike rol in die preekskets.

Verse 10-11 kan verstaan word as die vreugde van die profeet oor sy taak (Smith, 1995:29); of van die volk oor die aangekondigde heil (Westermann. 19804:371).  Ek kies laasgenoemde moontlikheid.  ‘n Nuwe-Testamentiese parallel, in lyn met wat in (7) gesê is oor Christus, kan gevind word in 2 Kor 1:19b-20: “Hy is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God.  Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê.

Konteks

As konteks vir hierdie preek word gekies vir die ervaring van teleurstelling in die beloftes van God, soos dit spesifiek in die Kerstyd ervaar kan word.  Hier word “gebrokenes van hart” toegepas op die mense vir die belofte van Kerstyd leeg en sonder betekenis geword het.

Die teleurstelling kan ook deurgetrek word na die spanning en onsekerheid wat ons in ons huidige situasie ervaar.  Die gevaar dat mense terugleef na die verlede, eerder as om uit te sien na die vervulling van God se beloftes, is tans baie groot in die Afrikaanse kerke.  Daarom word hier gekies vir die gedagte dat Jesaja 61 se boodskap ons juis vir aanvuur om weer oor God se beloftes te droom sodat ons weer bouers kan word.

Die preek vind die eenheid tussen Jesaja 61 en Lukas 4 in die teologiese lyn: in die bewoënheid van God oor gebrokenes van hart, soos dit openbaar is deur die profeet en in Christus.  Daarmee word gepoog om ‘n wettiese aandrang tot verandering te vermy, maar tog die moontlikheid te open dat daar anders geleef kan word saam met gebrokenes as wat ons tans dikwels geneig is om te doen.

Preekvoorstel

Kerstyd is feestyd, geskenketyd, gesinstyd.  Vir die meeste van ons is dit 'n tyd om 'n bietjie terug te sit en te vergeet van alles wat verkeerd is.  Terselfdertyd sê statistieke dat die selfmoordsyfer met Kersfees die hoogte in skiet.  Die mense met depressie word in die Kerstyd verder afgedruk, die dieptes in.  Persone wat 'n geliefde aan die dood afgestaan het, ervaar dat hulle verlange met Kerstyd ondraaglik raak.  Dit is asof sulke mense so stukkend is dat hulle hulleself kan vereenselwig met die vrolikheid nie.  Hulle voel uitgesluit uit die ligkring van Kersboom en geskenke en geselligheid.

Iets soortgelyk het gebeur met die gemeente in Jerusalem vir wie die boodskap van Jesaja 61 gepreek is.  Hulle het geleef in die tyd ná die ballingskap, toe die volk teruggekom het na Sion.  Daar is sulke mooi beloftes aan hulle gemaak; hulle het met soveel verwagtings en feesvierings teruggekom... maar daar was 'n wêreld se verskil tussen die beloftes wat gemaak is en die werklikheid wat hulle teengekom het.  Die land was verwoes; die stede was niks meer as puinhope nie.  Boonop was die landbou-omstandighede haglik.  Uit Jesaja 62:8 kan ons aflei dat hulle hard gewerk het om 'n oes te kry – maar die oes is deur ander geëet; hulle swaarverdiende geld het in die sakke van vyande gevloei.

Toe hulle nog in ballingskap was het God vir hulle 'n boodskap gestuur: "Maak vir die Here 'n grootpad!"  Met dié pad sou God hulle uitlei uit Babel, terugbring na Jerusalem.  Nou hét God hulle teruggebring; maar God se grootpad, het dit vir hulle gelyk, het 'n doodloopstraat van armoede en skuld en sukkel geword.  Hulle het soveel ellende geken – waar moes hulle nog die krag kry om stede te herbou?

Daarom praat die profeet van hulle as "die mense in nood"; as die "moedeloses".  Die woord wat in die Nuwe Vertaling vertaal word met "moedeloses", was in die Ou Vertaling: "gebrokenes van hart", 'n begrip wat ons meermale in die psalms ook kry.  'n Gebrokene van hart is iemand wat oorweldig is deur die een of ander lewenskrisis.  Hy het eenvoudig nie meer die krag om dit te hanteer nie.  So iemand beleef sy krisis veral as 'n geloofskrisis: hy voel deur God in die steek gelaat.  Hy voel God het nie woord gehou nie; God het beloftes gemaak wat nie waar geword het nie.

Dit was Israel na die ballingskap: gebrokenes van hart.  En dit is die mense wat sukkel om saam met ons Kersfees te vier.  Eintlik is baie van ons maar só – daarom is ons Kersvreugde so bolangs.  Ons word so 'n bietjie bly, miskien, maar môre staan ons al weer moedeloos voor die probleme waarmee ons sukkel.  "Gebrokenes van hart" het baie gesigte: 'n mens kan hulle ontmoet in hospitale en op bankrotvendusies; jy kan hulle teenkom in eensame kamers waar niemand ooit kom nie én by raserige kantoorpartytjies, besig om hulle sorge te probeer vergeet.  Jy kan 'n gebrokene van hart kry wat in 'n krot woon en wonder waar môre se kos vandaan moet kom; jy kan ook een kry wat in 'n weelderige huis woon en wonder waarom sy nog steeds nie gelukkig kan wees nie.

Ons het dikwels nie baie te sê vir hierdie gebrokenes van hart nie – ons het dan nie eers raad vir onsself wanneer ons in 'n krisis beland nie!  God is nie verleë met hulle nie.  Miskien omdat ons God se hart al so baie gebreek het; omdat Hy krisis op krisis met die mensdom beleef, verstaan God sulke mense.  Daarom sê Ps 39:19: "God is naby die gebrokenes."  In Psalm 51:19 staan: "'n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!"  Ps 147:3 belowe: "Hy genees die gebrokenes van hart."

Daarom stuur God se profeet met hierdie preek vir die gemeente in Jerusalem, 'n blye boodskap aan mense in nood; 'n trooswoord aan die mense wie se harte gebreek is.  Hy sê: Ek is by julle; Ek sal 'n verskil maak aan julle nood. 

Eeue later sou Jesus kom, die Seun van God.  In Lukas 4 lees ons hoedat Hy die boekrol in die sinagoge opgeneem het, en hierdie boodskap voorgelees het – en toe gesê het: "Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul."  Want Hy het gekom om gebrokenes van hart te kom genees.  Daarom het hulle na Hom gestroom: die verwerpte en die armes; die siekes en die onreines; die slegtes en die versteurdes.  Nooit het Jesus hulle weggewys nie.  In Matteus 9:36 lees ons hoedat Jesus elke soort siekte en kwaal gesond gemaak het, en dan staan daar: "Toe Jesus die menigte gesien het, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie."

Dit is hoe Jesus kyk na die mense – dit is hoe God na mense kyk.  Die skares, skares mense wat loop, moedeloos en moeg omdat hulle lewens nie sin maak nie en hulle geen vreugde ervaar nie.  God is bewoë oor sy mense – en dit is die bewoë God wat praat in Jesaja 61; wat méns geword het in Jesus van Nasaret.

Ons moet goed hoor hoé hierdie God praat.  Dikwels as ons te doen het met 'n gebrokene van hart, iemand wat oorweldig is deur 'n krisis, het ons niks beters om te sê nie as: "Jy moet maar berus, jy moet aanvaar..."  Wat sê ons eintlik daarmee?  Ons sê dat sy krisis sonder einde is, dat niks dit kan verander nie; hy moet maar sy kop buig en dit gelate aanvaar.

Dit is nie wat God sê nie!  Dit is ook nie wat Jesus kom sê het nie!  As daar een ding is wat Kersfees vir ons sê, en wat die kruis op Golgota nog duideliker sê, dan is dit: "God berus nié."  God aanvaar nié dat ons harte gebreek moet wees, dat ons platgeslaan moet word deur die lewe nie.  God genees die stukkende hart, Hy tel die platgeslane mens weer op.

Die hartseer ding van 'n gebroke mens is dat hy nie meer kan droom nie.  Dit was waar van Israel ook.  Waarom kon hulle nie die stede bou nie?  Dit was nie omdat hulle nie stene en klei gehad het nie.  Dit was nie omdat hulle nie die vermoë gehad het nie.  Dit was om een rede, om een rede alleen: Hulle het ophou droom. 

Hulle het teruggekom na Jerusalem toe met die droom: ons gaan die Godstad herbou.  Dit was 'n goeie droom, want dit was wat God wou hê; dit was God se droom!  Maar toe kom sit hierdie mense tussen die puinhope en die swartgebrande huise – en die werklikheid oorweldig die droom.  Omdat hulle nie kon droom nie, kon hulle ook nie bou nie.  Omdat hulle nie gebou het nie, het die droom al hoe meer onwerklik begin lyk.  Hulle was vasgevang in 'n selfvernietigende kringloop: wanhoop lei tot passiwiteit en passiwiteit verdiep die wanhoop.

God het nie ophou droom nie.  Daarom het God vir hulle vertel wat Hy gaan doen.  God het gesê: "Julle sal weer bou!"  As hulle maar net weer saam met God wou droom – dan sou hulle Jerusalem weer 'n stad kon maak.

Die boek Nehemia bied vir ons 'n interessante kommentaar hierop.  Dit vertel vir ons hoe Nehemia gehoor het dat die mure nog nie opgebou is nie en dat die mense in ellende lewe.  Dit het Nehemia se hart gebreek – soos 'n ware gebrokene van hart het Nehemia dae lank gehuil.  Maar hy het sy stukkende hart voor God gelê – en hy het God se droom vir 'n herstelde Jerusalem begin droom.  Met daardie droom in sy hart het hy die heidense koning trotseer, vyande weerstaan, sy eie mense se lamsakkigheid oorwin – en die mure IS gebou.  Omdat God Nehemia se gebroke hart geleer het om te droom.

Dit is altyd die diepste krisis van die gebroke hart – dat jy nie meer droom nie; dat jy nie meer glo in God se droom vir jou nie.  Die man wat sien hoe sy lewenswerk op 'n vendusie verkwansel word, kan nie meer droom oor 'n toekoms vir hom en sy gesin nie.  'n Eensame vrou kan nie meer droom oor vriende en menslike samesyn nie.  'n Verveelde ryk man kan nie meer droom oor iets om te bereik nie.  Daarom doen hulle niks; hulle aanvaar, hulle berus, hulle gaan lê.  Dikwels lê die antwoorde op hulle probleem voor die hand; maar hulle sien dit nie, omdat hulle nie kan droom dat daar 'n antwoord is nie.

Dit is my grootste vrees vir ons in ons huidige omstandighede: dat ons sal berus en aanvaar; dat ons nie meer sal droom dat dinge anders kan wees nie.  Dat ons nie meer sal werk om op te bou, ook om dinge wat in puin lê, op te bou nie, omdat ons nie meer 'n droom het nie. 

Kersfees vertel ons van God se grootste droom vir ons: dat ons verander sal word van mense wat net vir onsself leef, na mense wat leef as kinders van God en broers en susters van mekaar.  Ek dink ons kan maklik maar berus daarin as ons nie lyk soos wat God wil nie; as gelowiges leef asof God geen sê het oor hulle lewens nie; as Christene by mekaar verbyleef, of selfs baklei asof hulle vyande is eerder as die huisgesin van God.  Dit is nou maar so, sê ons – aanvaar dit maar! 

Kan ons nie hierdie Kersfees weer ons gebroke harte na God bring nie; om weer genees te word, sodat ons weer oor die kerk van Christus kan droom as 'n huisgesin van ons Vader nie?  En sal ons dan nie met die droom in ons harte begin werk aan ons gemeente nie?  Want as Christene sal leef as God se gesin, dan sal gebrokenes van hart nie uitgestoot en terneergedruk voel wanneer ons Kersfees vier nie; hulle sal uitgenooi voel om self troos te vind, self saam met ons te leer om weer te droom oor wat God in hulle lewens kan doen.