18 Augustus 2002
Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Jesaja 56.
Ander tekste: Psalm 67:2-8; Romeine 11:13-15, 29-32; Matteus 15:21-28.
INLEIDING
Hierdie uitbreiding op die basiese liturgie vir Koninkrykstyd probeer, in aansluiting by die fokusteks en die ander
tekste, om die aksent op die universaliteit van die geloofs- en aanbiddingsgemeenskap te plaas.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Ons betree in die geloof die teenwoordigheid van dié God wat die mense van die hele aarde oproep om Hom te
eer.
"Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop
sonder geld en sonder om te betaal ..." (Jes 55:1).
Votum
Psalm 67:1-8.
Liturg: Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn, sodat sy dade oor die
hele aarde bekend mag word, sy reddende krag onder die nasies.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!
Liturg: Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!
Liturg: God, ons God, het ons geseën. God het ons geseën.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! Die mense op die hele aarde moet U eer.
Antwoord op seëngroet
Gesang 5:3/NSG 10:3, gevolg deur Gesang 12 (nie in NSG nie) of JSB 2 lied 3.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese
Skriflesing 1
Romeine 11:13-15, 29-32.
Sang
Gesang 309:3/NSG 347:3.
Skriflesing 2
Jesaja 56:1-8.
DIENS VAN DIE TAFEL
Gereedmaak van die tafel
Gesang 264:5/NSG 216:5, gevolg deur Gesang 223:1, 2/NSG 190:1, 2.
Berig
Matteus 15:21-28.
Liturg: Lees Matteus 15:21-22.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!
Liturg: Lees Matteus 15:23-25.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!
Liturg: Lees Matteus 15:26-28.
Gemeente: Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! Die mense op die hele aarde moet U eer.
Kindertyd
Kindertyd kan deel wees van die berig. Beurtlesers, kinders of volwassenes, word vooraf aangewys vir die rolle van
’n verteller, die Kanaänitiese vrou en die dissipels. Die gemeente doen in ’n spreekkoor steeds die refrein uit Psalm
67 op die plekke soos hier bo aangedui.
Formulier
Lees uit die formulier die paragraaf: "Die nagmaal is in die derde plek die viering van die gemeenskap ..."
UITSENDING
Wet
Matteus 5:43-48.
Sang
Gesang 222:1, 3/NSG 186:1, 3.
Tema
Ons moet ons verantwoord oor ons houding teenoor en hantering van dié wat anders is as ons.
Teks
Die Leesrooster gee die hele hoofstuk as teks aan. Op die oog af het verse 1-8 niks met verse 9-12 te doen nie.
Hoe ons dus ons teksafbakening gaan doen, gaan bepaal watter perspektief ons op die teks gaan hê en watter
aksente in die preek gelê gaan word. Op histories-kritiese basis beskou Westermann (p 305) Jesaja 56:1-8 as
sekondêr en verbandloos met die res van Jesaja 56-66. Dit is moontlik om 56:1-8 bloot as "fitting link" tussen
Tweede en Derde Jesaja te sien (vgl Hanson, p 193). Teenoor die heilsbelofte-boodskappe van Jesaja 40-55 in die
ballingskapstyd, kom hierdie verse met ’n "tipiese" na-ballingskapsaksent op doen (56:1-2). Met hierdie aksent is
die inleiding dus "paradigmaties" van die na-ballingskapse geloofsaksente.
Tog is dit moontlik om ’n tematiese verband tussen Jesaja 56:1-8 en die volgende verse te sien. Jesaja 56:9-13 en
57:1-13 doen ’n striemende aanval op die volks- en geloofsleiers oor hulle goddeloosheid, laksheid en onreg.
Hierteenoor stel 56:1-8 dat selfs die tradisioneel uitgeworpenes voorrang by God, en selfs in die tempel, sal hê
indien hulle getrou is aan die verbond. Deur dus die hele hoofstuk 56 as teks te neem, word die aksent op die
toelating van die tradisioneel uitgeworpenes in skerper reliëf gestel, naamlik teenoor dié wat uit hoofde van hulle
posisie daarop aanspraak maak, maar sonder die nodige morele basis.
Vers 3 vorm die inleiding en vers 8 die slotsom van die aankondiging dat nie-Israeliete/nie-Jode en ontmandes nie
net deel van die geloofsgemeenskap kan word nie, maar selfs ’n besonderse plek in die tempel kan kry. Hierdie
aankondiging staan duidelik lynreg teenoor die bepalings van die wet in Deuteronomium 23:1-3.
PREEKSTUDIE - JESAJA 56
Die term vir ontmande wat hier gebruik word, is die algemene term vir "hofdienaar". Die hofdienaar Potifar was
byvoorbeeld getroud (Gen 37:36) en die Joodse seuns in die Babiloniese hof word met dié term aangedui (2 Kon
20:18), asook Israelitiese amptenare wat in die heiligdom kon ingaan (1 Sam 8:15). Ons teks is egter duidelik omdat
hier van "’n droë boom" sprake is.
In Ou Nabye Oosterse hofhoudings is ten minste die haremwagte waarskynlik om praktiese oorwegings ontman (vgl
Est 2:3). Dat daar by sekere nasies ook ’n godsdienstige motief vir ontmanning was, is moontlik. Dit is egter
waarskynlik nie die primêre rede vir Israel se afkeer van sulke persone nie. Manlikheid was in die Israelitiese
wêreldbeeld van besondere belang. Vergelyk byvoorbeeld prokreasie in die skeppings- en Abrahamverhaal. Vir die
voortsetting van die verbondslinie was ’n nageslag van besondere belang. Daarby was fisieke welgeskapenheid ’n
voorvereiste vir toegang tot die heiligdom, en dit was in elk geval net mans wat daar toegelaat is. Wat die dimensies
van ontmanning alles vir die Ou-Testamentiese gemeenskap ingehou het, is moeilik om te peil. Vergelyk die feit dat
in Afrika-gemeenskappe wat besnydenis toepas, ’n onbesnedene, al is hy ook hoe oud, nie op dieselfde vlak as "die
manne" gereken word nie en nie ’n "manlike rol" in religieuse funksies kan vervul nie.
Die belofte wat aan ontmandes gemaak word (Jes 56:5) herinner aan die motief van God se ontferming oor
kinderloses in die lofsange van Hanna en Maria (vgl Jes 54:1). In kinders is jou voortbestaan ("naam") verseker (vgl
Abraham). Aan die ontmandes word nou ’n ewige naam belowe wat nie kan doodloop soos ’n nageslag wat uitgeroei
word nie. Dié naam word teen die mure van my huis aangebring – dit bly dus ewig en onophoudelik voor God. Wat
’n belofte!
In haar vroeë geskiedenis was Israel oop ten opsigte van die opname van nie-Israeliete (vreemdelinge) in die
geloofsgemeenskap. Met die uittog uit Egipte en die intog is baie lede van ander nasies in Israel opgeneem (Eks
12:38; Ragab, Rut). In die koningstyd, soos afgodery al hoe meer ’n probleem geword het en Israel en Juda deur
ander nasies verdruk is, het weerstand teen die insluiting van vreemdelinge gegroei. Dit is uit dié tyd dat
Deuteronomium (23:3) dateer. Die positiewe houding teenoor "die nasies" by ballingskaps- en na-ballingskapse
profete weerspieël hoofsaaklik twee motiewe: die universele heerskappy van God, en die toekeer van nasies na
Sion as proseliete (ook in Sag 2).
Hierteenoor het daar veral in die na-ballingskapstyd in Levitiese/priesterlike kringe, dit wil sê diegene wat die sê oor
die tempel gehad het, ’n baie sterk afkeer gegroei van enige nie-rasegte Jood in die gemeenskap, en nie net in die
heiligdom nie (Esr 9:1 ev; Neh 9:1 ev). Ester (9:27) getuig dat nie-Jode baie later deel van die fees- (kultiese?)
gemeenskap kon wees, maar dit was in Persië.
Aan hierdie proseliete, wat net in die voorhof vir vreemdelinge (en vroue) toegelaat is, word in vers 7 volle toegang
belowe, ook wat die offerkultus betref. Met hulle toelating kom daar ’n aksentverskuiwing ten opsigte van die
tempelerediens, naamlik dat dit nou "’n huis van gebed vir al die volke" genoem word. Dit is (sover ons weet) eers
hier en net hier dat dié aksent gelê word.
Die beloftes aan albei groepe (Jes 56:5 en 7) word egter aan duidelike voorwaardes gekoppel (vv 4 en 6). Die
parallel tussen die verse en die inhoudelike en terminologiese verband daarvan met die inleiding in verse 1-2 is
opvallend. Vir die detail daarvan word die leser na kommentare verwys. Die kern daarvan is dat "my verbond" en
"(my) sabbat (heilig)" gehou moet word. Die sabbat het in die na-ballingskapstyd al meer die simbool van Joodse
identiteit geword. "Verbond" moet, volgens vers 1, verstaan word as die doen van die verbondsbepalings (mispsat
en sedakah). Dit vra ’n bewuste keuse vir ’n bepaalde leefwyse (bhr – v 4b; lhm – v 6).
Hoe belangrik die voorwaardes ook al is, is dit kennelik nie die punt van hierdie verse nie. Daarvan getuig die slot
in vers 8. Dié moeilike slotuitdrukking dui daarop dat náás die versameling van die verstrooide Joodse bannelinge,
ook ander – dié wat in verse 3-7 genoem word, tot in die heiligdom versamel sal word. Daarin kom die redding (js’)
en geregtigheid (sedekah) wat in vers 1b ter sprake is, tot uitdrukking (Von Rad).
Konteks
Dat die profeet hierdie uitsprake ten opsigte van vreemdelinge en ontmandes maak, is klaarblyklik in reaksie op
hulle ontevredenheid met hulle uitsluiting (vgl die formulering van v 3). Hierdie uitspraak moet egter nie gesien word
as bloot die afkondiging van nuwe reëls of praktyk teenoor dít wat in die wet in Deuteronomium 23 staan en wat
dan daarna sonder meer só toegepas is nie.
Profete het gewoonlik nie wette en ordereëlings aangekondig nie, allermins vir die erediens. Hulle uitsprake is
uitsprake in die spervuur, op die rand van die aanvaarde. Hulle breek perspektiewe oop wat nie deur ander gesien
is nie. Hulle wys menings, houdings en gedrag uit wat onbevraagteken voortbestaan, maar wat uit verkeerde
motiewe voortkom of wat tot afwykende gedrag lei. Dikwels kies hulle (die ongewilde) kant tussen konflikterende
partye (soos Jeremia) of verteenwoordig die stem van die benadeeldes teenoor diegene met mag (soos Amos).
Die uitspraak van Jesaja 56:1-8 moet verstaan word binne die konteks van die spanning tussen diegene wat toegang
tot die heiligdom versoek het (v 3), net soos op grond van vroeëre profetiese uitsprake in verband met die toekeer
van die nasies, en die groeiende klem op suiwerheid by die priesters (vgl die opmerkings hier bo). Die profeet
kies kant teen laasgenoemde (kyk hoe hy hulle beskryf in 56:9 ev!) ten gunste van hierdie mees uitgeworpenes,
hulle wat in terme van die wet (!) geen kans het op ’n plek in die heiligdom, die hart van die geloofsgemeenskap,
nie.
Hierdie uitspraak van Jesaja het waarskynlik geen hond haaraf gemaak nie. Dat dit as deel van die kanon oorleef
het, is ’n wonder. In die Jodedom het proseliete proseliete gebly (Matt 15:26-27). Uit die rabbynse literatuur blyk dit
dat die bepalings van die torah geldend gebly het ten opsigte van ontmandes.
Selfs Jesus se bediening was hoofsaaklik op die "verlore skape van die huis van Israel" gerig (Matt 10:5-6; 15:24).
Sy bediening het egter, soos Jesaja 56, in die teken van konflik met die bewakers van die suiwerheid van die tempel
gestaan. Maar, soos Jesaja 56:9 en die volgende verse, het Hy juis vir hulle uitgewys as dié wat van die "huis van
gebed" (Jes 56:7) ’n rowerspelonk gemaak het (Matt 21:12-14, let op v 14). In sy bediening het Jesus Hom geskaar
aan die kant van die uitgeworpenes, hulle wat te onrein was om in die tempel te kom, die vissers en belastinggaarders,
melaatses en prostitute. Aan dié van hulle wat hulle in geloof tot Hom gewend het, het Hy genesing en
vryspraak gegee. Ja, ’n plek in die paradys vir die moordenaar aan die kruis.
Wanneer God se musterion, dat in Christus nie-Jode voor God volkome gelyk is met Jode (Ef 3:6), in Handelinge
werklikheid begin word, ontstaan die konflik juis op die punt van ons teks: Kan onbesnede nie-Jode op gelyke vlak
in die boesem van die gemeente toegelaat word? Die antwoord van die vroeë kerk was duidelik. In Galasiërs 3:28
formuleer Paulus dit op sy duidelikste: Geen menslike kwalifikasie of fisieke kwaliteit gee aan enigiemand voor-rang
of agter-stand in die geloofsgemeenskap nie. Dit is opvallend dat die eerste nie-Joodse bekeerling uit Afrika ’n
eunug was (Hand 8:27 ev).
Op baie plekke waar Europeërs met mense van ander kulture in aanraking gekom het, was "gesamentlike aanbidding"
in mindere of meerdere mate ’n probleem, maar nêrens meer as in ons land nie. Die besluite wat in 1881
en daarna tot die stigting van afsonderlike kerke vir verskillende bevolkingsgroepe binne die Nederduitse Gereformeerde
verband gelei het, was maar net die formalisering van ’n lang geskiedenis. Net so het die sinodebesluite
wat die NG Kerk weer "oop" gestel het, nie die probleem van vooroordeel en afkeur in die niet laat verdwyn nie.
Maar ook in die VGK, wat in sy wese ’n protes teen hierdie rasseskeiding is, is die gebrek aan volle aanvaarding
van mekaar op grondvlak waarskynlik die enkele grootste probleem van die kerk. Wat ’n ironie! Profete word maar
swaar gehoor!
Maar ons kan ook nie oor ons teks preek sonder om ernstige vrae aan onsself te vra oor ons houding teenoor mense
met MIV/vigs en in besonder teenoor homoseksuele persone binne die geloofsgemeenskap nie. Op die oog af gee
ons teks ’n maklike oplossing: Ons moet hulle aanvaar al het ons sinodes (die wet) in die verlede wat ook al gesê.
MAAR, sê ons teks, hulle moet hulle eers bekeer en die verbond en sabbat, ons godsdienstige spelreëls, aanvaar.
Natuurlik bly grondige bekering en ’n toegewyde Christelike lewenswandel vir almal, en nie net vir die ánder nie (vgl
Jes 56:9 ev), ’n voorvereiste vir deelgenootskap aan die geloofsgemeenskap. Maar wat beteken dit vandag vir
homoseksuele mense? Dat die kerk ten minste ernstig hiermee worstel, is positief. Die probleem is egter baie meer
ingewikkeld as die blote aanhaal van ’n paar tekste, ook ons teks, met óns semantiese lees, na watter kant toe ook
al.
Dit is duidelik op grond van ons teks (profeties) dat persone wat tradisioneel nie deel van die (ons) geloofsgemeenskap
was nie, volle toelating moet kry. Die vraag is op watter voorwaardes. Waarvan moet hulle bekeer word
en watter lewenspatroon word van hulle verwag? Met betrekking tot mense met vigs en homoseksuele persone is
die vraag van "skuld", van aanspreeklikheid van belang. In vigsgevalle is dit ook nog redelik duidelik: Al het die
persoon deur eie onverantwoordelikheid dié siekte opgedoen, beteken dit dat hy of sy daardie leefwyse moet laat
staan en, synde dan met die toestand, as verantwoordelike gelowige moet lewe.
In die geval van homoseksualiteit sal ons ernstig moet vra na die oorsake daarvan: Kan die persoon vir sy of haar
situasie aanspreeklik gehou word? Was daar ’n keuse, met ander woorde, kan daar nou anders gekies word? Is dit
inderdaad moontlik vir die persoon om anders (niehomoseksueel) te lewe? Natuurlik moet hier tussen sogenaamde
permissiewe en konstitutiewe homoseksualiteit onderskei word, met grade tussenin.
Hierdie teksgedeelte uit Jesaja 56 plaas die prediker onomwonde voor die uitdaging om oor hierdie uiters aktuele
maar netelige kwessies van vigs en homoseksualiteit te preek. Wat hierdie onderwerp so sensitief maak, is die feit
dat seksualiteit vir gelowiges so ’n private en heilige saak is, terwyl dit deur die moderne wêreld en media uitgebuit
word. Daar moet verseker gewaak word om klinkklare antwoorde en oplossings op al die vrae oor hierdie sake te
bied. Maar die teks roep daarom dat ons onsself, die "standaard-geloofsgemeenskap", sal verantwoord oor ons
houding teenoor en ons hantering van hulle wat anders is (dit wil sê anders as ons). En dit moet die prediker op
profetiese wyse doen.
Oopmaak was nog nooit maklik nie. Nie in Jesaja of Jesus se tyd nie, en ook nie vandag nie.
Harrington se sentrale gedagte in sy preek oor hierdie gedeelte is: "Isaiah’s words challenged the status quo and
called upon his listeners to re-examine their beliefs and values" (p 208).
Preekvoorstel
Miskien moet ’n mens, soos Jesaja in 56:1-2, begin met ’n punt waarmee jou hoorders onomwonde sal saamstem.
En die beste bly nog om ’n storie te vertel wat mense sal aanspreek.
Begin byvoorbeeld met die storie van Soetlief en die Ondier. Vertel dit met die aksent op mense se vooroordele en
aversie van iemand wat anders, "vreemd" of watter woord ook al, as die ander is. Brei uit oor die eensaamheid van
Ondier en sy behoefte aan aanvaarding. Wys hoe Soetlief bereid was om teen die populêre gevoel in haarself te
gee om Ondier gelukkig te probeer maak. Sy kon dit regkry omdat sy die mens in Ondier raakgesien het en nie net
teen die skynbare ondier vasgekyk het nie.
Gee nou aandag aan die teks en wys hoe Jesaja met sy "so sê die Here" sy tydgenote ’n ander kyk gee op dié wat
volgens die "standaard" van die geloofsgemeenskap uitgesluit is. Beweeg aan na die Nuwe Testament en toon hoe
dít wat Jesaja aangekondig het, eers baie later daadwerklik ernstig geneem is en begin deurbreek het in Jesus en
Paulus se bediening, soos hier bo aangetoon.
Indien die aanvaarding van "nie-Jode" (hulle wat nie "natuurlik" deel van die dominante groep is nie) nog ’n kwessie
in die gemeente/gemeenskap is, behoort dit vanuit die teks aangespreek te word. Hier kan die kriteria vir insluiting
soos in die teks aan die woord kom (56:1-2, 4, 6), dat dit gaan om wat "My behaag, my sabbatte, my verbond". Waar
die kerk/gemeente ’n eie/ons saak word, daar word die "huis van gebed vir alle volke" tot rowerspelonk.
Afhangende van die vlak van bewusmaking ten opsigte van die kwessies van vigs en homoseksualiteit in die
gemeente, moet hierdie sake aan die orde kom. Vertel van die kerk en kerke se worsteling om God se stem oor
homoseksuele mense goed vir ons tyd te hoor. Hier kan gewys word dat in die tyd van Deuteronomium, sake oor
ontmandes en nie-Jode skynbaar duidelik en uitgesorteer was. Maar in latere tye en omstandighede was dit nie
meer so duidelik nie. Die probleem was, en dit is waaroor ons teks handel, dat waar daar onkrities en selfvoldaan
aan ou beslissings vasgehou word, die lewende stem van God doodgedruk mag word.
Wat meer is, die evangelie wat Jesus kom preek en doen het, kyk anders as dié wat weet: dit gee ’n oor aan dié
wat nie gehoor word nie (56:3). Soos Jesaja 56 en Jesus sê, dit beteken nie dat ons onkrities word en alles nou
maar oorboord gooi nie. Dit is juis hoekom daar so ernstig geworstel (moet) word. En as die kerk op ’n punt is waar
dit nie (voorlopig) klaar geworstel is nie, beteken dit hopelik dat die kerk se stem stil geword het sodat dit weer ’n
slag na God se stem vir ons tyd kan luister. En daarvoor moet ons almal bid.
Wat van deurslaggewende belang is, is die manier waarop in die prediking oor hierdie sake gepraat word. Onthou
die opmerkings in die slotparagraaf van Konteks hier bo. En onthou deurgaans ons tema: Óns houding teenoor en
óns hantering van hulle wat anders is. Uiteindelik is dit net die Gees van God wat ’n mens by die (vir jou) skynbare
ondier in ander kan laat verbykyk en die mens met pyn en verlange na medemenslikheid en aanvaarding kan laat
raaksien om vir hom of haar ’n broer en ’n suster te word.
Bibliografie
Hanson, P D. Interpretation. Watts, J D W. Word Bible Commentary, Vol 25. Westermann, C Old Testament Library.
Harrington, P L1980. Ausburg Sermons, Old Testament lessons A. Sinodestukke oor vigs en oor homoseksualiteit.
Cilliers, Pieter 1999: ’n Kas is vir klere. Human en Rossouw.