25 desember 2003

Kersfeediens 2003

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 52:7-10;

Ander tekste: Psalm 98; Hebreërs 1:1-12; Joh 1:1-14

Inleiding

Deur die weke van Advent het ons Jesus beleef as die Verlosser wat steeds aan die kom is. Vandag vier ons sy koms met vreugde omdat die verlossing van die wêreld `n werklikheid geword het.

’n Feesdiens is meer as blote herinnering aan ’n historiese werklikheid. Die gebeure moet gevier word. Dis rede tot blydskap. God het beslissend in die wêreld ingegryp. Ons vier daarom nie `n dag nie, ons vier die aanbreek van God se teenwoordigheid in die tyd en in die ruimte van ons bestaan. Ons huidige bestaan is anders omdat Jesus eens gebore is. God is met ons. Ons menslike bestaan is daardeur ingrypend omskep.

Verder skep ’n feesdiens ook verwagtings. Beloftes herleef. Die toekomsverwagting word afgestof en uitgestal. Ons verwag niks minder as wat die profete voorspel het nie. Jesus is steeds aan die kom. As komende Messias bly Hy steeds die inspirasie vir ons verwagting van ’n nuwe hemel en nuwe aarde waarin ons as mense gaan deel hê.

Om die diens `n karakter van feestelikheid te gee, word sang en musiek oorvloedig gebruik. Ander kunsvorms moet verkieslik ook ingespan word. Die liturgiese kleur van Kersfees is oorheersend wit.

Die liturgiese verhaal

Die liturgie van Kersdag fokus vanjaar op die oproep tot blydskap en vreugde omdat God deur Jesus se koms die finale oorwinning behaal het. Die profetiese woord oor Jerusalem is bewaarheid: "Jou God is Koning." Gelukkig is elkeen wat die boodskap dra. Vandag dra ons dit liturgies voort.

Die jubelroep van die fokusteks, Jesaja 52:7-10, word met Psalm 98 ("aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar") aangevul. Dis profetiese woorde vol lofbetuigings. Dis ook `n boodskap en oproep vir die volkere van die wêreld. Ons weet vandag dis waar. Hiernaas is die gedeeltes uit die Nuwe Testament bietjie meer sober, dog steeds poëties. Die tema van beide hierdie teksgedeeltes is die Woord – God praat (finaal) deur Jesus. Die beloftes van God oor Jerusalem is dus vervul. Die Nuwe-Testamentiese tekste bied stof tot nadenke, wat die gemeente se vreugde sal verdiep. Die samehang van die teksgedeeltes maak dit duidelik dat ons opgeroep word tot lof en dank omdat die profesie, die goeie nuus, oor Jerusalem nou in Jesus vervul is en dat dit vir die ore van die wêreld bestem is as God se Woord van verlossing.

Omdat lofprysing die hoofmotief is, stel ons voor dat die verhaallyn eenvoudig die "oproep tot lof" (OT) met "stof tot nadenke" (NT) afwissel. Skriflesing vorm binne die gewone verloop van die diensorde die raam van die liturgie soos volg:

Johannes – Psalm – Johannes: julle het die evangelie met blydskap ontvang.

Jesaja (preek) – Hebreërs – Jesaja: laat die evangelie nou voortleef.

Gepaste gemeentelike respons voltooi die liturgie.

Sommige gemeentes verkies om nagmaal te bedien en die realiteit van God se teenwoordigheid kan so beklemtoon word.

Die diens verloop sonder aankondigings of onderbrekings indien dit op skrif beskikbaar gestel kan word.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Voorbereidende musiek of orrelspel gee uiting aan ons lof aan God.

`n Eenvoudige uitbeelding van die Kersverhaal (moontlik deur kinders voorgedra). Musiek in die agtergrond.

Aanvangslied

"Weer dink ons saam aan daardie nag" Lied 338 (let veral op v. 2 – "die Woord het mens geword’\").

Aanvangswoord

Johannes 1:1-4, 14

Die Christuskers word aangesteek. So word bevestig dat die lof van die psalm, Jesus toekom.

Voorganger: Ons steek die Christuskers aan om ons te herinner

dat die Lig vir die wêreld gebore is.

(Christuskers word aangesteek)

Gemeente: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien;

oor dié wat in die donker land was, het `n lig geskyn.

Voorganger: Vir ons is `n Seun gegee. Hy sal heers en Hy sal genoem word:

Gemeente: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors,

sy naam is ook Immanuel omdat God deur Hom by ons kom bly.

Voorganger: Liefdevolle Vader, dankie vir hierdie Lig

en vir die hoop wat U aan ons skenk …

(eerste Adventskers word aangesteek)

en die vrede wat U gee …

(tweede Adventskers word aangesteek)

en die vreugde wat U gee …

(derde Adventskers word aangesteek)

en die liefde wat U oor ons uitstort ...

(vierde Adventskers word aangesteek)

(Gebedsboek met Liturgiese Voorstelle, red. Johan van der Merwe; Lux Verbi, 2001. Voorstel gewysig)

Groet

Voorganger: Die Here is by julle.

Gemeente: Hy is by jou / u ook.

Voorganger: Die Here het waarlik na ons toe gekom.

Gemeente: Ons juig oor sy genade.

Voorganger: Die Here sal weer in heerlikheid kom.

Gemeente: Sy liefde duur tot in ewigheid.

Voorganger: Laat ons vandag sy koms met blydskap vier.

Gemeente: Loof die Here. Amen.

Sang

Lied 358 "God is liefde, juig ons harte"

Lees

Psalm 98

Sang

Sing een of meer liedere wat van blydskap en aanbidding getuig.

Lied 345 "Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde" (Lofdansers beeld lofprysing uit terwyl die lied gespeel en gesing word.)

Lied 365:1-3 "Hoor die blye eng’lelied"

Doopherinnering

Voorganger lei van die doopvont af.

Kindertyd

Vertel van Johannes die Doper wat Jesus met water ontmoet het om aan ons die belofte te gee dat Jesus rein sal wees en die wêreld van vuilheid sal skoonmaak.

Sang

Lied 357 "’n Kindjie is gebore" (Kinderkerslied)

Lees

Johannes 1:6-13

Sang

Lied 319:1-3 "Lofwaardig is ons God, die Heer" (die loflied van Sagaria, Johannes se vader) of

Lied 354:1-4 "O Christus, ons verlange" (met beurtsang)

Gebed

"U het na U wêreld toe gekom.

U eie mense het U nie verwelkom nie.

Ons is vol sonde en duisternis,

blind vir u heerlikheid.

Tog het U aan ons geloof geskenk om U te erken,

Jesus van Nasaret,

Seun van God, gebore uit die maagd Maria.

Deur die doop het U bevestig dat ons in U sal lewe.

Laat ons u grootheid opmerk,

U wat in heerlikheid verskyn."

Sang

Lied 340 "Kom ons loof die Jesuskind" (sing oor vergifnis wat Hy gebring het)

DIENS van die woord

Gebed vir die opening van die Woord (epiklese):

Sonder woorde het U gekom,

met babataal wat die lof van die Vader verkondig;

wyl ander monde bespiegel en profeteer

en engele in lofsang uitbreek.

Dieselfde tong het God se koninkryk geskilder

en strome van lewende water in harte uitgestort.

U woorde is `n vloed wat die wêreld oordeel en red,

die bron van lewe.

Amen.

(Bron: onbekend)

Skriflesing

Jesaja 52:7-10

Preek

Sang

Lied 348 "Stille nag"

DIENS VAN DIE TAFEL

Die voorganger(s) lei van die nagmaalstafel af.

Lees

Hebreërs 1:1-12

Sing (as geloofsbelydenis)

Lied 264:1-4 "Hoe heerlik is die Jesusnaam" (Die naam van Jesus sluit aan by Hebreërs)

Gebed

"Lof en dank aan U, Here Jesus Christus.

U het U vir ons kom leef

en vir ons kom sterf.

Deur brood en wyn, u liggaam wat vir ons gegee is,

deel ons die lewe wat aan U behoort.

Ons verlustig ons in U."

Sang

Sing in kanon Lied 369 "Ere aan God"

UITSENDING

Lees

Jesaja 52:10

Sang

Lied 366 "Die vreugdelied wat engele sing" (oor ons as getuies van die boodskap)

Seën

Gevolg deur Lied 315 Amen

PREEKSTUDIE – TITUS 2:11-15

Konteks

By die eerste lees van die teks spreek dit 'n mens nie aan as 'n aangrypende Kersfeesteks nie. Die eerste probleem is dat die menswording van God hier op 'n oënskynlik statiese manier beskryf word. Koel – en byna afgetrokke – word bloot gesê dat die reddende genade van God aan die mensdom verskyn het, en dat die gevolg daarvan is dat dit ons as Christene opvoed "om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug" te leef. Die negatiewe verwysings na die "goddelose en wêreldse begeerlikhede" en die positiewe waardering van "godsvrug" is nie die tipe taalgebruik wat ons predikers graag in die 21ste eeu gebruik nie. Dit klink net te outyds en wêreldvreemd, die taal van 'n vervloë tyd. Verder is hier geen Kersverhaal, geen engelekore, herders, wyse manne nie. Niks wat gebeur nie, net die blote feit dat God se reddende genade aan alle mense verskyn het. Nie onbelangrik vir die Kersdagpreek nie, maar vir enige ander preek oor Titus 2:11-15.

Daar is 'n tweede, dieper teologiese probleem. Wie Titus saam met Romeine, Galasiërs, Korintiërs of selfs Efesiërs ideologies-krities lees – in die sin dat ons heeltyd vra: watter lewens- en wêreldbeskouing propageer die skrywer? watter waardes is vir hom belangrik? – word getref deur ’n ander klimaat. Wanneer Paulus in sy hoofbriewe oor etiese kwessies skryf (bv. Rom. 12), begrond hy dit op die genade van God (bv. Rom. 1-11). Selfs wanneer hy oor praktiese sake skryf, soos die eet van offervleis (1 Kor. 8), motiveer hy dit deur sy lesers te herinner dat "daar… vir ons net een God (is): die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe: en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe" (1 Kor. 8:6). In sy hoofbriewe skroom Paulus nie om direk te vermaan nie (bv. oor 'n losbandige lidmaat, 1 Kor. 5), maar hy vermaan nie net op grond van sy gesag nie. Telkens motiveer hy sy vermaninge teologies.

By die eerste lees van Titus kry ’n mens die gevoel van ’n ander klimaat. Onmiddellik na die groet, gee die skrywer (ons neem aan dit is Paulus) opdragte aan Titus dat hy ouderlinge moet aanstel (1:5-9), dat hy sekere Joods-Christelike elemente moet kortvat (1:10-16). Daarna volg in Titus 2 ’n gedragskode vir ouer mans (1-2), ouer vroue (3), jonger vroue (4-5), jonger mans (6-8), slawe (9-10). In hoofstuk 3 gaan Paulus voort deur mense daaraan te herinner dat hulle hulself aan die gesag van die owerheid moet onderwerp. Al hierdie vermaninge word gegee sonder veel van ’n motivering, behalwe ons eie teks in 2:11-15 en 3:4-7. Die noue verband wat ons in Paulus se hoofbriewe kry tussen God se heilstoesegging (die indikatief) en die vermaning (die imperatief) ontbreek skynbaar in Titus.

Die probleem word nog groter as ’n mens kyk na die inhoud van Paulus se vermaninge aan Titus. Die vermaninge as geheel wek die indruk van 'n sterk konserwatiewe etiek: Die bestaande orde moet gehandhaaf en protesteerders kortgevat word. Sommige Joodse gelowiges se "mond moet gesnoer word" (1:10). Die bestaande sosiale orde moet gehandhaaf word: ouer mans moet nugter en eerbaar wees, ouer vroue moet nie kwaadpraat nie, jonger vroue moet aan hulle mans en slawe aan hulle eienaars onderdanig wees. Sommige geleerdes het hierdie "konserwatiewe tendens" as ’n bewys gesien dat nie Paulus nie, maar ’n Paulus-volgeling die brief geskryf het. Of dit so is of nie, is nie hier die kwessie nie. Dit is glad nie onmoontlik dat Paulus die outeur is nie. Wie ook al die brief geskryf het, die probleem is dat ’n mens by die eerste lees die indruk kry dat die Titus-brief ’n produk van ’n tweede- of derdegenerasie-Christendom is waarin die radikale spits van Jesus se etiek deur ’n konserwatiewe benadering vervang is. Op sigself sou ’n konsolidering na ’n radikale begin ’n normale ontwikkeling in enige organisasie wees. Die probleem is egter dat dié konsolidering gepaard gegaan het met in skynbare inperking van die bevrydende momentum wat Jesus in sosiale verhouding gebring het. Ongelukkig, sê die hedendaagse kritici van die kerk, was dit nie net ’n tydelike insinking nie. Van daardie punt af het die verdere ontwikkeling van die Christendom skeefgeloop. Die Christendom het ten opsigte van sosiale gebruike ’n verdediger van die status quo geword, in skrille kontras met die radikale optrede van Jesus en met die vryheid en gelykheid en volkome aanvaarding van mense, afgesien van sonde, ras, klas of geslag wat onder die Jesus-volgelinge geheers het.

Waarom is dit vir die prediker nodig om van hierdie skerp kritiek op die Christendom en op ’n deel van die Bybel kennis te neem – in die voorbereiding van sy Kersboodskap? Veral as, soos die preekstudie hieronder aanbeveel, die prediker nie die gemeente met bogenoemde problematisering moet belas nie?

Eenvoudig omdat Suid-Afrikaanse predikers in die jaar 2003, na die kulturele revolusie van die afgelope dekade, sulke kritiek nie mag ignoreer nie. Die rede waarom ons dit nie mag ignoreer nie, is dat dié skerp kritiek nie altyd uit die hoek van ’n radikale teologie van die revolusie kom nie, maar wel van lidmate (of gewese lidmate) van ons eie kerke. Dit is nie onmoontlik nie dat sommige van dié vrae mag leef in die harte van die kerkgangers wat op Kersfees in die kerk is, byvoorbeeld Irma Kroeze, UNISA-professor in die regte. Sy sê dat die (Gereformeerde) kerk was "vir so lank as wat ek kan onthou … ’n natuurlike … deel van my lewe. Om ’n meelewende lidmaat te wees, was vir my so natuurlik soos asemhaal. En dan op ’n dag, sonder dat ek weet hoe en hoekom, gebeur dit: ek sit in ’n erediens en skielik voel dit vir my so vreemd soos wetenskapfiksie". Die hoofrede hiervoor is dat sy tot die besef gekom het dat die institusionele kerk ’n deur-en-deur manlike kerk is en dat dit in dié kerk se aard is om manlikheid te bevorder en vroulikheid te verdruk. "Die logika is eenvoudig: as God `n man is, is mans ook nader aan goddelikheid as byvoorbeeld vroue. Om hierdie posisie te handhaaf moet die sigbare kerk en sy ampsdraers mans wees. Daarom dat die manlike hiërargieë so streng gehandhaaf en so eksklusief moontlik gehou word." Sy kom tot die oortuiging dat sy dié institusionele, manlike kerk "moet groet". Die rede is nie dat sy haar Christelike geloof verloor het nie, maar omdat sy tot die oortuiging gekom het dat die institusionele kerk die saak van Jesus verraai het. Sy verlaat die kerk dat sy na Jesus se radikale boodskap wil terugkeer. "Ek is op soek na ’n kerk wat, soos die Ons Vader sê, die koninkryk op aarde wil laat kom. En dit beteken vir my dat die kerk dit wat Christus vir ons geleer het, moet laat waar word in die wêreld waarin ons woon. Christus het nie ’n gemeenskap of kerk voorgestaan waarin daar base en hierargieë en klasse is nie … Dáárom behoort die kerk aan die voorpunt te wees in die stryd om gelykheid vir vroue. Dáárom behoort die kerk die sondige seksisme in sy leerstellings en rituele te bely en te beveg" (Woord en Daad 1991, ook by Litnet, Geestelike briewe – "Ek groet die kerk").

Dit is belangrik om van hierdie kritiek kennis te neem, veral vir die prediker wat die Kersdiens op byvoorbeeld ’n plek soos Stilbaai hou, waar daar ’n moontlikheid sterk is dat iemand soos Irma Kroeze tog op Kersdag (miskien ter wille van die familie) wel in die kerk is. Dit is veral belangrik om van hierdie kritiek kennis te neem as die prediker voel om, ter wille van die konteks, die hele Titus 2 te lees. Indien ’n mens dié gedeelte hardop sou lees, sou jy, gegee die kritiese klimaat waarin die kerk op die oomblik haar getuienis moet lewer, nie verse 1-10, met sy skynbare sanksionering van slawerny en die onderdanigheid van vroue, kan ignoreer nie. As die verse gelees word, moet daaroor iets gesê word.

Die ruimte ontbreek om hier uitvoerig op die kultuurkritiek hierbo te antwoord. In kort kan slegs gesê word dat in gedagte gehou moet word dat Paulus raad gee aan Titus, ’n jong helper, wat skynbaar in ’n gemeente- situasie was wat op die rand van chaos gewankel het, deels as gevolg van die gebrek aan respek vir die jong Titus. In hierdie omstandighede huiwer die skrywer nie om by Titus aan te beveel om sy gesag te laat geld nie, soos Paulus dit self in briewe aan ander gemeentes gedoen het (bv. 1 en 2 Kor.). In dié omstandighede ag Paulus dit raadsaam om Titus te adviseer om die gemeente te dissiplineer om nie die beskuldiging van hulle teenstanders in die owerhede te bevestig nie; dat die jong Christelike gemeentes anargisties en ’n gevaar vir die bestaande orde was. Paulus se advies hier is situasie-bepaald en moet as sodanig verstaan word, en nie in alle ander situasies net so toegepas word nie.

Dit is wat ’n mens kortliks ter verdediging van die Titusbrief sou kon sê – indien die Titusbrief in die preekinleiding geproblematiseer sou word. My raad sou egter wees om dit nie by ’n Kersfees-preek te gebruik nie, om redes hieronder aangedui.

Preekvoorstel

Vir die preek van Titus 2:11-15 op Kersdag is my eie gevoel dat Kersfees nie die geleentheid is om oor die bevryding van slawerny en vroue, en die kerk se moontlike versaking van Jesus se radikale boodskap, te preek nie. As ’n mens by enige ander geleentheid oor Titus 2:11-15 sou preek, sou jy beslis oor die probleme hierbo moet praat. Kersfees is egter ’n geleentheid waar die kollig myns insiens op die vleeswording van God moet val. Om tegelyk twee sake – die vleeswording en die skynbare legitimasie van ’n manlike gesagstruktuur – in een Kersboodskap te probeer behandel, sal myns insiens net een gevolg hê: ’n preek sonder fokus. Omdat dit Kersfees is, kies ek om op die vleeswording te konsentreer. Om daardie rede sal ek nie eers Titus 2:1-10 lees nie, vir die rede hierbo gegee: as dié konserwatief klinkende teks hardop in die erediens gelees word, kan dit nie geïgnoreer word nie. Dan moet ’n mens iets daaroor sê – wat dan nie genoeg tyd vir die boodskap oor die vleeswording sal laat nie. My raad is: Lees net Titus 2:11-14 en preek daaroor, sonder verwysing na die konteks. By die maak van ons preek word die konteks wel in ag geneem, maar ter wille van ’n gefokusde kommunikasie, word die konteks nie by die preek ingesleep nie.

Wat is daar dan te sê oor Titus 2:11-14, gesien in die lig van die teologiese probleme hierbo genoem en die statiese karakter van die teks? Tog wel iets.

Die genade van God het verskyn (11). In die Pastorale briewe gebruik Paulus dikwels die werkwoord "verskyn" (faneo) in verskillende vorms: behalwe die eerste verskyning van Gods genade in Jesus (11), sien Paulus uit na "die gelukkige dag" wanneer die Christus in sy heerlikheid weer sal verskyn (13); in Titus 3:4 sê hy dat "die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn (het)"; in 2 Timoteus 1:10 sê hy dat die genade van God nou in Jesus ons Verlosser nou "aan ons geopenbaar" (fanero) is.

Die gebruik van die werkwoord "verskyn" moet ons egter nie mislei nie. In Afrikaans het "verskyn" die konnotasie van iets wat nie werklik is nie, maar die indruk van werklikheid gee. As iemand sê iemand het verlede nag aan hom verskyn, boedel hy daarmee dat ’n gedaante aan hom verskyn het, maar nie dat hy ’n ontmoeting met ’n vlees-en-bloed-mens gehad het nie. Die huidige geestesklimaat in die Afrikaanse gemeenskap is ’n baie avontuurlike een – mens wil graag horisonne verbreed, nuwe ervarings opdoen, nuwe insigte uit die Oosterse godsdienste kry. By laasgenoemde is daar ’n sterk tendens om die grens tussen illusie en werklikheid te laat vervaag. Hier kry mense "spirituele" ervarings wat in jou gees plaasvind, maar wat glo meer werklik is as die werklikheid rondom ons. As so ’n denkmodel op die Christelike geloof toegepas word, is dit genoeg om te sê dat God in Jesus verskyn het, maar dan word met "verskyn" so iets bedoel dat dit gelyk het of God in Jesus was. Ander sal sê dit maak tog nie regtig saak nie. Of God werklik in Jesus was en of dit net so gelyk het – wat is die verskil? Vir die een wat die ervaring gehad het, was dit "werklik" en dit is al wat tel.

Vir die Christelike geloof is die individuele belewing van die geloof nie al wat tel nie. ’n Mens moet dit met ’n ander kan deel. Daarom is dit gegrond, nie op individuele spirituele ervaring nie, maar op dit wat in die geskiedenis werklik gebeur het.

Sulke denkstrome is, soos meeste dwaalleringe, nie nuut nie. Die Christelike kerk moes vroeg reeds ’n antwoord gee op die doketisme (van die Grieks dokein, dit lyk asof), wat geglo het dat God nie werklik in Jesus mens geword het nie, maar dat dit net gelyk het asof God in Jesus was. Die latere gnostisisme, wat uitgegaan het van die grondbeginsel dat die stoflike boos en die gees suiwer is, het by die doketisme aangesluit. Beide dié twee denkrigtings het daarvan gehou om te sê God het in Jesus "verskyn", maar dan het hulle dit op ’n spirituele (nie-werklike) manier bedoel. Gans anders gebruik Titus 2:11 dit. Hier word "verskyn" gebruik in lyn met die Ou Testament-Joodse tradisie, waar die frase "die aangesig van God" graag gebruik word om te sê God het Homself sigbaar en bereikbaar gemaak.

Wanneer in die Titus-brief gesê word dat Jesus as die reddende genade van God verskyn het, word daarmee dieselfde bedoel as Johannes 1:14: "God het mens geword en onder ons kom woon." Hoe onbegryplik dit ook al mag wees dat die grote God Homself sigbaar en bereikbaar gemaak het, dit het gebeur. God het een van ons geword. Alles wat ons as mense ooit sou moes deurmaak – vernedering, pyn, verwerping – dit alles, en nog meer, het God in Jesus ervaar. Die gevolg daarvan is dat wanneer ons ook al die ergste vorm van pyn of lyding, verwerping of menslike verlatenheid moet verduur, ons mag weet – die mensgeworde God het dit alles (en nog meer) self deurgemaak. Hy het dit self aan die lyf gevoel. Ons kan met alles wat ons ervaar het, openlik praat – Hy weet waarvan ons praat. Inderdaad, "die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie" (Heb. 5:15). Daarom het ons volkome vrymoedigheid om Hom in alle situasies te nader.

Die genade van God het aan alle mense verskyn (11). Dit is interessant dat die Pastorale Briewe, wat verdink word van ’n konserwatiewe afval van die oorspronklike Jesus-boodskap, telkens die universele gerigtheid van die Christelike boodskap beklemtoon. Volgens 1 Timoteus 2:4 wil God hê dat "alle mense gered sal word en tot kennis van die waarheid sal kom". Titus 3:4 praat van God se goedheid en sy liefde vir mense (filanthropia) wat verskyn het. Hier beklemtoon Titus 2:11 dat God se genade aan alle mense verskyn het. Dit is duidelik dat die Pastorale briewe op hierdie punt met Jesus volkome eens is dat God se genade nie net vir die godsdienstiges, die wetsgehoorsames, die vromes bedoel is nie, maar vir almal –insluitende die prostitute, tollenaars, Fariseërs, melaatses en sondaars. Eintlik trek die Briewe aan Titus en Timoteus die lyn net verder: God se openbaring in Jesus bring God se genade nie net naby aan die am ha-arets (letterlik "die volk van die land") in Israel nie, maar aan alle mense – insluitende dié wat nie uit Israel gebore is nie.

Die vleeswording van God in Jesus bring dus die verlossing naby aan alle mense, van watter groep, ras of geslag ook al. Van vroeg het die kerk na haarself verwys as die "katolieke kerk" – ’n inspirerende naam, wat eenvoudig beteken "die kerk in die geheel", of "die almal-insluitende kerk". Dit is wat ons bedoel as ons die Geloofsbelydenis bely dat ons in "een, heilige, algemene (of katolieke) kerk" glo. Dit beteken eenvoudig dat daar in één kerk vir mense van allerhande soorte kulture, rasse, ouderomsgroepe ensovoorts plek moet wees – en as dit nie so is nie, moet daar vir hulle plek gemaak word. Hier is ’n gaping vir die prediker om darem tog na die Kersverhaal te verwys: sy kan die gehoor herinner dat die "kerk" by Jesus se geboorte al so was: kort na sy geboorte het wyse (maar moontlik heidense) manne Hom vereer, saam met herders, wat as gevolg van die feit dat hulle dikwels met dooie diere moes werk, chronies ritueel onrein was – en nie in die tempel kon aanbid nie. Wanneer ons met Kersfees vir God dank dat Hy mens geword het, ten einde versoening tussen mens en God te bring, herinner Hy ons daaraan dat Hy dit ook gedoen het om versoening tussen mens en mens te bring – en dat sy liggaam, die kerk, hiervan ’n konkrete bewys behoort te wees.

Hierdie genade van God voed ons op (12). Ons ontvang God se genade verniet, nie as ’n beloning op iets wat ons gedoen het nie – maar dit is God se bedoeling dat ons wel iets met die genade sal doen. Die werkwoord "opvoed" is nie in die indikatief nie, maar in partisipium-vorm. Dit stel dus nie ’n feit nie – Gods genade voed ons op – maar wel ’n bedoeling: Gods genade wil ons opvoed. Die 1953-vertaling bring die oorspronklike Grieks se bedoeling goed na vore: "Die reddende genade van God… leer ons…" Die genade is hier ’n onderwyser wat iets aan sy leerders onderrig. Of hulle dit wel ontvang, en so opgevoed raak, is nie ’n uitgemaakte saak nie. Dit word bepaal deur dit wat die leerders met die reddende genade maak. Dié genade leer ons om met "opregtheid en godsvrug" (12) te lewe. Ons ontvang God se genade en goedheid verniet, maar dit is sy bedoeling – sy hoop – dat dit in ons lewens ’n verskil sal maak. Die Here hoop dat ons die lesse wat sy genade en goedheid ons wil leer, sal leer. En die les is naamlik dat ons "regverdig en vroom" (1953-vertaling, vers 12) in hierdie lewe sal leef.

Eendag sal die heerlikheid van God verskyn (13). Die reddende genade wil ons in hierdie lewe, in "die teenswoordige wêreld" (12) opvoed. Ons lewe in die tyd tussen die twee verskynings van God op aarde – tussen Kersfees en die wederkoms. God het in Jesus aarde toe gekom – en dit is waar ons die reddende genade moet ontvang en aan ander moet uitdeel. Dit is hier – en nie in die hemel nie – waar ons van die reddende genade van God moet leer, sodat ons verander sal word, en sodat God deur ons die wêreld rondom ons kan verander. Eendag sal die heerlikheid van God weer op aarde verskyn. Maar tot dan toe moet ons die heerlikheid van sy eerste verskyning op aarde reflekteer. Totdat God se heerlikheid weer verskyn is dit hier – op aarde – waar sy koninkryk moet kom – en waartoe God se genade ons iets wil leer. Die vraag is: Is ons vatbaar vir onderrig?

Bibliografie

Theron. S W 1991. Orthodoxy, orthopracxis and orthonoetic disposition in a pagan macro-environment, in Teologie in konteks (red. J H Roberts e.a.); Francois Wessels (021) 919-5903 gfwes@adept.co.za.