11 Januarie 2004

EERSTE SONDAG NA Epifanie

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 43:1-7

Ander tekste: Psalm 29; Handelinge 8:14-17; Lukas 3:15-17

Inleiding

Hierdie is `n baie gepaste Sondag om te doop, omdat daar op die eerste Sondag na Epifanie op Jesus Christus se doop gefokus word.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Drumpelgebed

Is U by my?

Vandag, Here,

breek daar voor u oë en myne

'n splinternuwe dag.

Dit lê oop voor U en my.

En hier is ek op die punt om die dag in te gaan.

Maar ek voel onseker, Here,

selfs bang vir wat die dag mag inhou;

vir wat dit alles van my sal eis.

Het ek krag en die integriteit, Here,

om te lewe soos iemand in wie U lewe?

Kan ek die dag ingaan

met die vreugde en kalmte en die vertroue

dat U by my is?

My kind, dit is dag waarin Ek soos altyd by jou sal wees.

Aanvaar dit met vreugde.

Gaan dit dansend tegemoet

en dra saam met jou

die vreugde van die opstanding,

die vrede van diens aan ander,

die liefde wat kan vergewe en aanvaar.

Jy moet vreugde hê aan hierdie dag, my kind.

Gee jou daaraan oor.

Aan wat ook al oor jou pad kom.

En sien My raak in elke mens,

in elke stukkie skoonheid

en in almal wat jou nodig het.

Want Ek sal daar wees.

Jy is nooit sonder My nie.

Here, ek dink ek het U met my hoor praat.

U is by my, u Gees in My.

Ek vrees nie meer die dag nie (Anoniem).

Aanvangslied

Liedboek 511:1, 2 "Lei U ons, Lig."

Aanvangswoord (Moontlike alternatief vir basisliturgie vir Epifanie.)

Luister, so sê die Here

Wat jou geskep en gevorm het

Moenie bang wees nie,

Ek verlos jou

Ek het jou by die naam geroep

Jy is Myne.

Seëngroet

Genade vir julle en vrede van God ons Vader

en Jesus Christus, die Here

dit is Hy wat lig gee in ons lewe.

Aanbiddingslied (gemeente kan bly sit)

Liedboek 454:1,2,3 "Vader ons eer U"

Diens van die water

Skuldbelydenis

Liedboek 239: 1, 2, 3 "Jesus, Rots vir my geslaan "

Toe-eiening van genade (gebed)

Here, God

enige iemand wat die saak met U uitgemaak het

kan altyd weer na U terugkeer.

Daar is niks wat U nie weer kan heel maak nie.

Vergewe ons al ons ongehoorsaamheid.

Ons bid:

Herinner ons aan u Naam,

sodat ons weer na U kan draai

wees ons Vader en ons Moeder

weer en weer, hou ons vas

en gee ons lewe

al verdien ons dit nie,

vandag en elke dag,

vir altyd en ewig.

Roep die kinders vorentoe en verduidelik vir hulle wie Johannes die Doper was. Lees Lukas 3:15-17. Johannes se bediening het slegs vooruit gewys na Jesus Christus wat sou kom. Terwyl Johannes met water gedoop het, kom Jesus en doop met die Heilige Gees en met vuur. Die Christelike doop is tegelyk `n teken van oordeel en verlossing. Die Gees van Christus wat in ons lewe werk, spreek ons vry en reinig ons lewe. Om dit in herinnering te roep kan `n eenvoudige gebed soos die volgende gebid word:

Gebruik die gebed wat by hierdie punt in die basisliturgie vir Epifanie gebruik word.

Die gemeente kan antwoord met: Liedboek 290:1, 2 "Dit is my troos dat ek gedoop is"

Aangesien ’n doopherinnering die klem veral op God se genadige toesegging laat val, is dit meer gepas om die wet as reël van dankbaarheid later in die diens te plaas.

Lofliedere

Liedboek 453:1, 2, 3 "Aan die Vader dank en ere"

Liedboek 200:12 "U goedheid, Heer"

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Psalm 29 laat die klem val op die krag van God se stem, dit sou ook as aanvangswoord gebruik kon word

Voorganger: Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

Gemeente: Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

Voorganger: Die stem van die Here weerklink oor die waters.

Gemeente: Dit is die magtige God wat die weer laat dreun;

Voorganger: Die Here self is op die groot waters!

Gemeente: Die stem van die Here is magtig en vol majesteit.

Voorganger: Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.

Gemeente: Hy laat die Libanon bokspring soos `n kalf

en die Sirjon soos `n jong bees.

Voorganger: Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.

Gemeente: Die stem van die Here laat die woestyn bewe.

Voorganger: Die Here laat die Kadeswoestyn bewe.

Gemeente: Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik.

Voorganger: Dit stroop die bosse kaal.

Gemeente: In sy paleis roep almal uit: "Hoe geweldig!"

Voorganger: Die Here heers oor die watermassas,

Gemeente: Hy heers vir altyd as Koning.

Voorganger: Die Here gee krag aan sy volk;

Gemeente: Die Here seën sy volk met oorvloed.

Psalm 29 kan as alternatief ook in die plek van die gebed gesing word.

Skriflesing en prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalsherinnering

Die Voorganger gaan staan by die nagmaalstafel en sê:

Die brood en wyn is vir ons die tekens

dat God se koninkryk naby gekom het,

daarom kan ons ons nood en die nood van ons wêreld met vrymoedigheid voor Hom bring.

Bring die konkrete nood van die gemeente en ons land voor God

deur die voorbiddingsgebed van die tafel af te doen.

Voorbidding

Geloofsbelydenis

Dankoffers

Uitsending

Wet (as verbintenis en uitsending)

Kom ons verbind onsself as geroepe mense opnuut aan God en aan mekaar met die volgende belydenis:

Voorganger: Met u woord in ons hart

en ons hande vaardig om vir U te werk

bely ons, o Heer

teenoor U en ons naaste:

Voorganger en gemeente:

dat ons U sal dien en niemand anders nie –

dat ons u beeld en gelykenis sal erken –

dat ons u Naam sal heilig –

dat ons u dag sal vier –

dat ons ons ouers sal eerbiedig –

dat ons die lewe sal vier –

dat ons aan mekaar trou sal wees –

dat ons niks van mekaar sal begeer nie –

dat ons mekaar met waarheid sal ontmoet –

dat ons mekaar die goeie van die lewe sal gun –

Voorganger namens gemeente:

So het ons gehoor,

so sal ons doen

Here, ons God

U is groot.

Voorganger: Amen

Gemeente Amen

Slotsang

Liedboek 280:1,2,3 "Here, Redder groot en magtig"

Seën

Gaan uit en weet God is altyd by jou:

Die genade van ons Here, Jesus Christus

Die liefde van God, ons Vader,

en die gemeenskap van die Heilige Gees

gaan saam met julle. Amen

of

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te wou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val

Die Here is rondom jou om jou te beskerm

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen

 

INLEIDING tot JESAJA

Jesaja se plek aan die begin van die profetiese boeke in ons Bybel is sekerlik geregverdig. Alhoewel hy nie die oudste van die profete was nie, het die Masorete (die Jode wat verantwoordelik was vir die versorging en oordrag van die teks van die OT) om verskillende redes geoordeel dat dié boek die eerste plek moes inneem. Verder word daar ook in die Nuwe Testament meer uit dié boek as enige van die ander profetiese boeke aangehaal.

Daar is min bekend van dié Jesaja en sy lewensomstandighede. Hy het in Jerusalem gewoon en as profeet opgetree, was getroud en het waarskynlik drie kinders gehad. Hy is in ongeveer 740 v.C. as profeet geroep en sy profetiese werksaamhede het oor `n tyd van meer as veertig jaar gestrek. Die tyd waarin hy as profeet opgetree het, was in baie opsigte moeilik, omdat Juda op daardie stadium deur die Assiriërs, as wêreldmoondheid, bedreig is. Onder hierdie omstandighede waarsku Jesaja die volk van die Here dat hulle net op Hom moet vertrou en nie koalisies met ander nasies moet aangaan nie.

Wat die binnelandse omstandighede betref, het dit met die volk van God nie baie goed gegaan nie. Jesaja benadruk die feit dat God nie tevrede is met vormgodsdiens en onreg aan hulpeloses nie. Die Here het sekere vereistes en as sy volk dit nie nakom nie, sal Hy hulle straf. Die wonderlike van Jesaja se prediking is dat hy nie net vir God as ‘n straffende God beskou nie, maar ook as die Een wat redding wil bewerk. Vir Jesaja sal God sy verbondsverhouding met sy volk handhaaf deur hulle te red, onder meer deur `n persoon/koning uit die stam van Dawid, wat daarvoor toegerus is. Ook die ander nasies sal in hierdie redding deel en die Here dien!

Jesaja 40-66 is teen `n ander historiese konteks as hoofstuk 1-39 (tyd wat die profeet geleef het), geskryf. Die eerste deel (hfst. 40-55) handel oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en `n halwe eeu na die tyd van die profeet Jesaja. Deutero-Jesaja, `n direkte afstammeling van die pre-eksiliese profete, wat tussen 587 v.C. toe Jerusalem verwoes is en 539 v.C. toe die Babiloniese ryk geval het, opgetree het, is vir dié deel van die boek verantwoordelik. Daar is feitlik geen inligting oor hom beskikbaar nie, selfs nie eers sy naam nie. In Jesaja 40:6-7 lig hy egter vir `n oomblik die sluier oor homself: "Iemand sê: `Roep!’ En ek vra: `Wat kan ek roep?’ Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos `n veldblom: gras verdor en blomme verwelk, as die Here sy wind daaroor laat waai."

Die profesie van Deutero-Jesaja is gerig aan `n platgeslane volk in ballingskap. Dit fokus hoofsaaklik op die val van Babel, asook die bevryding, terugkeer en herstel van Israel. Blydskap, ook by wyse van liedere, neem hier `n belangrike plek in.

Histories gesproke was die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die volk Israel vir Deutero-Jesaja, die uittog uit Egipte. Die prominensie wat hy hieraan verleen, het heel waarskynlik gespruit uit die feit dat hy self in so `n situasie was. Alhoewel hy as profeet die klem op redding laat val het, het hy eintlik nader aan die pre-eksiliese profete, wat weer sterk op die oordeel gefokus het, gestaan. Ook het Deutero-Jesaja dikwels die taal van die psalmis gebruik. Daarom staan hy ook as die digter-profeet bekend.

Hierdie gedeelte (Jes. 40-55), wat op enkele uitsonderings na in sy geheel aan Deutero-Jesaja toegeskryf kan word, val ook weer in twee kleiner dele uiteen, naamlik hoofstuk 40-48 waarin verkondig word dat Israel die dienaar van die Here is en dat God die Persiese koning gaan gebruik om die verbondsvolk te bevry. In hoofstuk 49-55 gaan dit weer oor die herstel van die volk en die stad Jerusalem.

Deutero-Jesaja het waarskynlik `n hele klompie dissipels gehad, maar definitief een waarvan ons weet, naamlik Trito-Jesaja (Elliger). Hy het in die vroeë post-eksiliese periode opgetree, waarskynlik tussen 537 v.C. en 521 v.C. Die duur van sy optrede is nie bekend nie. Westermann beweer enersyds dat dit moontlik `n paar jaar kon gewees het, maar andersyds dat dit dalk selfs minder as `n jaar was, dan wel in 530 v.C.

Trito-Jesaja het Deutero-Jesaja se boodskap van verlossing laat herleef, deur die ballinge wat na Jerusalem teruggekeer het, te bemoedig en aan te moedig om die Here te aanbid, te dien en aan Hom offers te bring. Die rede waarom hy Deutero-Jesaja se boodskap lewend gehou het, was dat die volk teleurgesteld was. Hulle het nie die luisterryke, alles-veranderende verlossing waarvan Deutero-Jesaja geprofeteer het, ervaar nie. Trito-Jesaja het daarom sy taak om `n ontnugterde volk te bemoedig, ernstig opgeneem. Sover ons weet, is hy die laaste persoon in Israel wat van homself gesê het dat hy as boodskapper deur God na sy volksgenote gestuur is.

Gewoonlik word hoofstuk 56-66 van die boek Jesaja as `n eenheid behandel en ook toegeskryf aan Trito-Jesaja. Volgens onder andere Ewald en Volz, is hoofstuk 56-66 nie `n eenheid nie en kan alles in hierdie hoofstuk nie aan `n enkele profeet toegeskryf word nie. Dit bevat wel `n sekere kern, maar hierby is sekere ander dele gevoeg. Die kern van dié deel is Jesaja 57:14-20; 60-62; 65:1-16a; 66:6-16. Die gedeelte buite dié kern wat die naaste daaraan staan, is hoofstuk 58. `n Mens kan met redelike sekerheid aanvaar dat dié gedeeltes deel van die profesie van Trito-Jesaja was.

Die feit dat Christus volgens Lukas 4:18 uit Jesaja 61:1-2 aangehaal het, dui egter op die belangrikheid van Trito-Jesaja vir die volk van God. Selfs Christus het gevoel dat Hy sy taak kon saamvat en beskryf in dieselfde woorde as hierdie profeet, wat ongeveer 500 jaar voor Hom geleef het.

Bibliografie

Aalders, G CH Oud-Testamentische Kanoniek; Ridderbos, J Korte Verklaring der Heilige Schrift – Jesaja. The New Bible Dictionary; Westermann, C Isaiah 40-66.

PREEKSTUDIE – JESAJA 43:1-7

Teks

Teenoor die donker omstandighede van Israel se nood en sonde op daardie stadium, hou Jesaja `n blink toekoms vir die volk van die Here voor. Hy voeg sy stem by dié van die voorvaders van Israel wanneer hy vir hulle sê dat God die oue neem en dit splinternuut maak. In dié gedeelte (43:1-7) wil die Here volgens die outeur, sy volk bemoedig. Hy verseker hulle dat Hy die Skepper is en hulle sy volk, dat Hy hulle sal bevry en so bewys dat net Hy God is. Die Here noem sy volk Israel en Jakob (1). Daarmee bedoel Hy dat daar tussen Hom en sy volk `n intieme verbondsverhouding is, asook `n besondere eenheid tussen die verbondsvolk in die noorde en die suide.

Volgens Deutero-Jesaja het God nie net eenmaal by die skepping opgetree nie, maar is Hy nog steeds Skepper en daarom op `n besondere manier aan die werk. Met die uitdrukking "Ek het jou op die naam geroep" (1), wil God eintlik vir sy volk sê dat Hy hulle vir Hom geskep en gevorm het, met die doel om sy volk te wees. Volgens Elliger en Beuken het die besef om op die naam geroep te wees, alle vrees by die volk oorwin. Die Here se onvergelyklike reddende mag, genade en verhouding tot sy volk blyk onder andere uit die volgende uitdrukkings: "Moenie bang wees nie, Ek verlos jou" (1); "Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder" (3). Volgens Westermann dra die Hebreeuse werkwoord vir "verlos" die betekenis van iemand wat `n familielid uit die tronk uitgekoop het, weens skuld. Dit was oorspronklik `n tegniese term binne familie-wetgewing.

Die opdrag "Moenie bang wees nie" kom dikwels in Deutero-Jesaja se boodskappe voor (40:9; 41:10,13; 44:2; 54:4). Hiermee wou hy vrese bylê van mense wat gedink het dit sou onmoontlik wees om deur die onstuimige en stormagtige riviere van Babilon te gaan. Ook vir diegene wat gedink het dat die son in die woestyn hulle erg sou brand, wou hy gerusstel. Hy wou eintlik sê dat Yahweh mag oor die geskiedenis, maar ook die natuur, het (Ps. 29).

Die profeet wil deur verdere beelde, soos dié van water en vuur (2; sien Ps. 66:12), aandui dat die Here sy volk uit alle gevare sal red, soos toe Hy hulle uit slawerny uit Egipte uitgelei het. Hulle sal oorleef. Hoe? Deurdat Yahweh elke tree met hulle sal wees! Die frase "Ek is by jou" (2) word dikwels in die Josefverhaal van die Bybel aangetref. Dit dateer dus uit Israel se vroegste geskiedenis, maar word ook in Sumeriese tekste aangetref. Hierin het dit oor `n god gegaan wat oor `n sekere area geheers het. Wanneer iemand dan oorweeg het om daarheen te gaan, sou die god vir hom/haar gesê het dat hy met hom/haar sou wees. Deutero-Jesaja het hier dieselfde idee oor God in gedagte.

Volgens Noth is die frase "Ek is die Here jou God" (3) dieselfde as waarmee die eerste gebod ingelui word (Eks. 20:2). Ook word "die Heilige van Israel" (3) dertien keer deur Deutero-Jesaja gebruik (Jes. 41:14, 16, 20; 43:3,14,15; 45:11; 47:4; 48:17; 49:7; 54:5; 55:5). Die helfte van hierdie gedeeltes bevat dieselfde kombinasie naamlik: "die Heilige van Israel, jou Redder." Die uitdrukking "die Heilige van Israel" is reeds in die agste eeu v.C. deur die profeet Jesaja gebruik. Hiermee het hy verwys na God se heiligheid as regter (Jes. 1:4). Dit het geïmpliseer dat God ook oordeel, maar juis hierin het Hy Hom as hulle God geopenbaar. Deutero-Jesaja het hierdie frase oorgeneem, waardeur die tradisielyn vanaf Jesaja van Jerusalem tot Jesaja van die ballingskap loop.

Volgens Deutero-Jesaja bepaal God ook die gebeurtenisse in die volkerewêreld. Met die uitdrukking "Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek" (3) bedoel Deutero-Jesaja waarskynlik dat dieselfde veroweraar wat onderskeidelik vir Etiopië en `n land suid daarvan ingeneem het, die volk van God uit ballingskap sal laat terugkom. Omdat Israel vir God so kosbaar is en Hy hulle so hoog aanslaan, gebruik Deutero-Jesaja hier uitdrukkings wat selde in die res van die Ou Testament voorkom.

Die tweede deel van die perikoop (5-7) is wel korter as die eerste deel (1-4), maar stem wat struktuur en inhoud betref baie ooreen (later meer hieroor). Deutero-Jesaja se verwysing na die vier windrigtings (5b-6) moenie geografies of polities verstaan word nie, maar eerder as "a perfectly clear promise of the return of the diaspora from exile" (Westermann). Vers 7 wat die twee gedeeltes van dié perikoop afrond, wys daarop dat die doel van die verlossing uit ballingskap net die eer van God op die oog moes hê. Al was Israel vir God so kosbaar dat Hy hulle sou verlos, het dit nie beteken dat hulle in hulself kon roem nie. Dit moes oor God se eer gaan, want hulle is na sy Naam genoem en Hy het hulle self daarvoor in die lewe geroep.

Deutero-Jesaja laat meer as een maal die klem val op die feit dat die volk van die Here nie bang moet wees nie. Volgens Westermann is die outeur se bedoeling hiermee nie `n sielkundige vermaning aan sy gehoor om moed te skep nie, maar eerder beskrywing van `n Goddelike aksie wat alle vrees wil verdryf. Westermann wys verder op twee kontekste waarbinne vrees verdryf kan word. Eerstens waar `n priester die volgelinge of aanbidders van God bemoedig om nie die teenwoordigheid van God te vrees nie – soos Moses vir Israel bemoedig het om nie die teenwoordigheid van die Here op die berg Sinaï te vrees nie (Eks. 20:18-21). `n Tweede konteks waarbinne vrees verdryf kan word, is gedurende tye van swaarkry, waar `n individu of die volk deur een of ander gevaar bedreig word. Jesaja 43:1-7 val in die tweede kategorie. Twee keer in dié perikoop word vrees verdryf. Dit dui op `n Goddelike versekering van redding! Soos die Here vir Moses onder moeilike omstandighede bemoedig het toe hy Israel uit Egipte moes uitlei, so wil Hy nog steeds sy volk bemoedig.

Die meeste uitleggers beskou hierdie mooi, suiwer stukkie poësie as sogenaamde heilsorakel. Jesaja 43:1-7 is, wat struktuur betref, eintlik ingewikkeld. Dit bestaan uit `n reeks herhalings. Die perikoop begin (1) en eindig (7) met verwysing na God wat die Skepper van Israel is. Vers 2 en 6 bied `n voorstelling van hoe God by sy volk sou wees wanneer hulle sou reis. In die middel van dié perikoop (3-5) word die verhouding tussen God en sy volk beskryf. Binne dié raamwerk kan ook duidelik tussen twee eenhede onderskei word (1-4 en 5-7). Dit bevat baie dieselfde elemente, alhoewel nie in dieselfde volgorde nie, soos: die toesegging van heil saam met die feit dat die volk nie moet vrees nie (1b en 5a); die begronding van die heil (1b, 3-4 en 5a); `n proklamasie of Goddelike belofte van immanente voorsienigheid (2, 4b en 5b-6) (Soards,..). Vers 7 handel oor die doel van Jahwe se liefde en bemoeienis met sy volk.

Konteks

Hierdie geskiedenis van God se verbondsvolk moet binne `n breër raamwerk gesien word – een wat die verskriklike lyding wat hulle deurgemaak het tydens die beleëring en val van Jerusalem en die wegvoering daarna in ballingskap, beskryf.

Ons kan met dié breër perspektief begin, deur te verwys na die Tienstammeryk wat reeds vroeër na Assirië in ballingskap weggevoer is (2 Kon. 17:6). Juda het dit egter net-net vrygespring, maar daarna `n moeilike tyd beleef. Teen die einde van die sewende eeu voor Christus het die Assiriese Ryk plek gemaak vir die Nieu-Babiloniese of Galdese Ryk, waarvan Nebukadneser die bekendste koning was. Juda het hoë verwagtings rakende staatkundige selfstandigheid of onafhanklikheid gekoester en daarom verskeie kere met Egipte saamgespan teen koning Nebukadneser. Dit het Juda egter duur te staan gekom.

In 597 v.C. het koning Nebukadneser van Babel teen koning Jojagin van Jerusalem opgetrek en rondom Jerusalem stelling ingeneem. Koning Jojagin het oorgegee. Nebukadneser het Jerusalem binnegegaan en al die skatte wat daar in die tempel en in die koning se paleis was vir hom geneem. Die goue voorwerpe wat Salomo vir die tempel gemaak het, is stukkend gebreek. Die bekwame mense (dié mense wat vir koning Nebukadneser iets in Babel kon beteken) het hy met hom saamgevat. Daar was amptenare, ambagsmanne, soldate, die koning se ma en `n klomp vroue.

Nebukadneser het koning Jojagin se oom, Mattanja, as koning aangestel oor hulle wat agtergebly het. Sy naam het hy na Sedekia verander. Na ongeveer nege jaar het Sedekia egter in opstand gekom teen koning Nebukadneser, waarop laasgenoemde teruggeslaan het. Hy het die stad vir ongeveer twee jaar van die buitewêreld afgesny. In dié tyd het die mense begin sterf van honger. Dit het so erg geword dat mense hul kinders begin eet het om aan die lewe te bly (Jer. 19:9; Klaagl. 2:20; Eseg. 5:10). Die uiteinde was dat die Babiloniërs die belangrikste stede van Juda verwoes het, asook Jerusalem, en die tempel tot op die grond toe afgebreek het. Hulle het Sedekia gevang, sy oë uitgesteek en sy twee seuns voor hom geslag. `n Groot deel van die bevolking is in 586 v.C. in ballingskap weggevoer. Al mense wat in die land oorgebly het, was die armstes wat op die lande en in die wingerde moes werk. Juda het voor die grootste krisis in sy volks- en godsdienstige geskiedenis te staan gekom.

Die manier waarop Deutero-Jesaja die terugtog van die volk na Jerusalem beskryf en hoe die Here hulle sou beskerm, is dit `n geweldige troos. Dit laat die gelowige besef dat jy nie mag toelaat dat `n onseker toekoms jou ontstel nie. Om in sulke tye te weet dat jy aan God behoort, behoort beide vir die gelowige individu en groter geloofsgemeenskap, gerusstellend te wees. Geen lewenskrisis behoort daarom vir jou te groot te word nie. Vir die Nuwe-Testamentiese gelowige is daar die versekering in Christus deur die Heilige Gees dat God tot aan die einde van die wêreld met ons is. Wanneer jy deur `n woestyntyd in jou lewe gaan, of deur stormagtige waters, en jy wonder hoe jy sal oorleef, kan jy weet dat God net so in jou lewe werk soos in die lewe van sy verbondsvolk. Jy kan Hom vertrou!

Klaagliedere 5 beskryf hoe negatief die volk van die Here hulle situasie in ballingskap ervaar het. Dit het vir hulle gevoel of God hulle vergeet het, of ten minste baie ver van hulle af was. Hulle het gewonder hoe lank hulle nog sou moes ly onder mense wat hulle gespot, verneder, beroof, verkrag, besteel, vermoor, belieg en bedrieg het. Klink dit dalk vir jou bekend? Hoe dikwels bevind jy jouself nie ook in die stortreën van die lewe nie? Elke hoofbedekking van jou weggeneem? In sulke omstandighede kan die bladsye van die Bybel so nat word dat jy dit nie meer kan omblaai nie. Jy onthou dalk `n paar teksverse, ja, maar dit het nie eintlik op daardie oomblik vir jou betekenis nie. Dit voel of God ver is. Jy bid, maar dit voel of jou gebede teen jou kamer se plafon vasslaan.

Miskien is dit die dood van `n geliefde of `n egskeiding … Dalk `n likwidasie, `n kind wat jou teleurstel, jou werk wat jy verloor het, ambisie en ideale wat jy nie bereik het nie … Of dalk voel jy sommer net deur `n onseker toekoms oorweldig. Dalk is jy of `n familielid naby aan jou verkrag, besteel of beroof. Miskien is jy teleurgesteld in die kerk en die nuwe Suid-Afrika. Dit voel vir jou of jy `n vreemdeling in jou eie land geword het. Of jy deur omstandighede gevange gehou word. Jy het jou entoesiasme vir baie dinge verloor. Jy kan nie meer ‘n nuwe lied tot eer van God sing nie. Jy wat altyd sagmoedig en vredeliewend was, voel soms hoe woede in jou opwel as jy lees van onskuldige mense wat gekaap en vermoor word. Jy ken jouself nie. Dis asof jy vir jouself `n vreemdeling geword het!

Inderdaad sou `n mens kon sê dat mense wêreldwyd in hul eiesoortige ballingskap verkeer. Nie net `n ballingskap van persoonlike swaarkry, lyding, vrees en vereensaming nie, maar ook in ballingskappe van politieke magte en kragte wat ons lewe domineer. Van ekonomiese werklikhede wat ons laat swaarkry en ly, van materialistiese dominasie en van verontmensliking. Maar belangrik om te onthou, teenoor die donker omstandighede van Israel se nood en sonde, hou Deutero-Jesaja `n blink toekoms vir die volk van die Here voor. Marion Soards (e.a.) sê dat God Homself op grond van die verhouding waarin Hy met sy volk staan, as ’t ware hiertoe verplig voel.

Die tema van lig en donker in hierdie wêreld word op ‘n besondere manier deur Deutero-Jesaja beklemtoon. Wat hy doen, is om die volk van God, maar ook die moderne mens, te verseker van die manifestering, die "epifanie" van God se heil, of dan van sy genade.

Coenie Burger verwys in die Woord teen die lig 1/5 na twee preke wat in dié verband bruikbaar sou wees, naamlik dié van Haarbeck en Wolff. Haarbeck werk met `n driedeling van angs, troos en hoop. In `n eerste punt word die nood en angs geartikuleer. In `n tweede punt word heengewys na die troue God wat, ten spyte van ons ontrou deur woord en daad, ingryp en Homself openbaar as Heer van die geskiedenis. In `n derde punt kom die hoop ter sprake.

Wolff laat reg geskied aan die troos en sekerheid wat spruit uit die heilsindikatiewe. In `n eerste punt fokus hy op angs en nood waarin die heilstoesegging geskied. Verder gaan sy preek oor die feit dat God die Subjek en Hooffiguur in ons lewe is. Dit is Hy wat ons van alle kante omring en juis daarom hoef ons nie te vrees nie. Omdat God self vir ons verlossing en hoop instaan, kan ons seker daarvan wees.

 

Preekvoorstel

Volgens Soards (e.a.) is daar drie vrae wat beantwoord moet word in die verstaan van hierdie teks vir die prediking. Eerstens: Wat het aanleiding gegee tot die vrees-situasie in die lewe van God se volk? Tweedens: Hoe vernietig God hierdie vrees? Derdens: Hoekom wil, of liewer, móét God vrees vernietig?

Om uit te vind wat aanleiding gegee het tot hierdie situasie van vrees waarin Israel verkeer het, moet ons na Jesaja 42:18-25 gaan kyk. In dié gedeelte word Israel as ’t ware verhoor. Hier is sprake van `n sosiologiese én teologiese moment of dimensie. Sosiologies gesproke gaan dit oor die hulpeloosheid van Israel in ballingskap. In 42:22 kom dit sterk uit. Hier word gesê dat hulle as `n stuk buit weggevoer is, in gate gevange gehou is, in gevangenisse opgesluit was en dat niemand hulle gered het nie. Maar dis juis dié sosiale omstandighede wat die teologiese tafel dek. Hoe sleg hulle situasie ook al in ballingskap was, dit is God wat dit oor hulle gebring het. God, en nie die Babiloniërs nie, was Israel se vyand: "Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog …" (42:25). Dit is dié oorlog van God teen Israel wat tot hulle vrees aanleiding gegee het.

Tweedens moet gevra word: Hoe sal God die vrees vernietig? Dit lê volgens ons teks nie in die moed of dapperheid van Israel nie. Dít sou nie genoeg wees om die vrees te oorwin nie. Soards (e.a.) sê: "Courage in the face of God’s holy war is both stupid and futile. Only God can banish fear by reversing his holy war against Israel, and this is what Isaiah 43:1-7 is about." Hierdie teksgedeelte sê dat God die vrees op twee maniere sou wegneem: deur redding en deur verder self in die lewe van sy volk teenwoordig te wees.

In dié verband kan dus gesê word dat God se mense terugkeer-mense is na daar waar Hy staan en wink. Nie op grond van óns dapperheid of een of ander menslike eienskap nie, maar slegs omdat Hy die terugkeer-werk doen. Hy is die Een wat red, maar wat dan ook op grond van sy teenwoordigheid die vrees in `n mens se lewe wegneem. Soms lyk die pad terug na God toe, steil en moeilik. Maar dit is moontlik om dié pad aan te durf, omdat Hy dit bewerkstellig en omdat Hy ons by die naam geroep het. Dié God wat skep, is ook dié God wat ons teen vrese, onsekerhede en moeilike lewensomstandighede wil beskerm. Ons kan Hom vertrou!

In dié verband kan ook na ons doop verwys word. Die doop is elke gelowige se waarborg dat God Hom aan ons by name, verbind het. By die doop word dan ook die Naam van God-drie-enig genoem. By die doop, sê Coenie Burger dit so treffend, plaas God sy Naam op die spel! In Jesaja 43:1-7 tref ons dit dan ook aan. In vers 1b roep God ons by die naam, maar dit word gebalanseer in vers 7a, met die gedagte dat ons na God se Naam genoem is. Dit gaan met ander woorde nie net om ons naam nie, maar ook dat God se naam op die spel is.

Jesus se doop in die Jordaan herinner ons ook daaraan dat Hy die Verlosser, maar ook die Voorsiener is. Hy staan nog steeds in die water en wag, ook in die stormwaters van die lewe, om, die oomblik dat ons daar ingaan, ons nuut te maak. Weems sê dit mooi: "You will recognize Christ as the One, only as you are crossing stormy waters and find yourself wondering what’s keeping you from drowning."

God praat dus deur sy profete met sy mense en Hy wil vir sy volk sê dat Hy hulle nie vergeet het nie. Hy is nie saam met Jerusalem of die tempel vernietig nie. Hy is nie weg nie, maar op weg met sy kinders! God het sy volk daar gaan soek waar hulle in ‘n vreemde land was. Hy soek ons nog steeds op, ook in `n nuwe Suid-Afrika. God se volk het destyds daarvan gehou om Hom in voorspoed te kry. Hulle het vir God dikwels net in hulle planne en oortuigings gesoek. Net tussen hulle mense. En as dinge nie so uitgewerk het nie, het hulle begin dink dat God hulle vergeet het. Is dit nie maar dikwels van ons ook waar nie?

Derdens, hoekom soek God ons op? Hoekom wil Hy die vrees uit ons lewe verdryf? Omdat Hy op grond van die besondere verhouding wat daar tussen Hom en sy mense is, dit móét doen. Hy kan nie anders nie. Daarom kan Soards (e.a.) skryf: "Thus holy war against Israel cannot be the final word, instead redemption must be. God has obligations that require the banishment of fear at some point, not because Israel necessarily prompts this action, but because kinship relationships are presupposed, which in the end, outweigh all other considerations. In other words, God must banish fear."

God is nie `n wispelturige God nie. Nee, God het Israel geskep en het Hy hulle ontsettend lief. Ja, hulle het God teleurgestel en daarom het Hy hulle in ballingskap laat wegvoer, maar op grond van die spesiale verhouding tussen Hom en sy volk, op grond van die feit dat hulle Syne was en vir Hom kosbaar is, het Hy hierdie verpligting teenoor hulle gehad. Dis op grond van hierdie (liefdes)verpligtinge dat God sy Seun vir ons gegee het. In Jesus het God vir die mensdom kom wys Hy het ons nie vergeet nie. God se mense is terugkeer-mense. Dié storie is nie klaar geskryf nie. God is steeds besig om elke dag sy mense uit ballingskap na Hom te laat terugkeer.

Dié storie gaan volgens die Bybel `n wonderlike einde hê. God se nuwe wêreld gaan al meer sigbaar word. Hoe? In en deur die lewe van God se mense! Hulle gaan al meer terugkeer na God, omdat Hy hulle gaan help om meer na Jesus te kyk, Hom gelykvormig te word en Hom te manifesteer! So op hul terugkeer-pad gaan hulle die struikelblokke oorwin met die gesindheid van Jesus. `n Gesindheid van onder andere liefde, vrede, vreugde, nederigheid, diensbaarheid en vergifnis, totdat God sy nuwe hemel en aarde uiteindelik sal vestig.

Die boodskap van Epifanie gaan juis oor Christus as die geopenbaarde Lig vir die wêreld. Hierdie belydenis dat God in Christus die Lig in `n donker wêreld vol onsekerheid, vrese, kwellings en swaarkry is, moet kragtig uitgedra word. Dit is in der waarheid `n goddelike triomf oor die magte van die wêreld. Dit is `n wonderlike troos en gerusstelling hier aan die begin van `n nuwe jaar om te weet God se verlossingsdade bring uitkoms. Dit bring verligting en vreugde. Dit bring nuwe lewe in die Lig.

Weems skryf: "Epiphany brings new learning, new insights, and new opportunities for us to know God’s perfect will by sending Christ into the world. It also gives us the opportunity to glimpse once more what we may have forgotten since we last beheld him, and that is the depth, breadth, and height of God’s love toward us … Christ manifested himself not once, twice, but again and again – and desires to be manifested again and again to each generation." Waar ons dít regkry, bring ons al die eer aan God wat Hom toekom!

Bibliografie

Burger, C Woord teen die Lig, 1/5; Koole, J L Commentaar op het Oude Testament ll; Noth, M Exodus; Pervo, R I Proclamation 6 – Series C, Epiphany; Soards, M, Dozeman, T & McCabe, K Preaching the revised common lectionary; Ridderbos, J Korte verklaring der Heilige Schrift – Jesaja; Lewende Woorde (8/2000) pp.148-150; Weems, R J 2000. The Season of Epiphany, in New Proclamations YearC, 2000-2001, pp.69-70, 79-81.