Ander
tekste: Psalm 98;
Hebreërs 1:1-4 [5-12]; Johannes 1:1-9 [10-18]
Hoewel een
van die bekendste Jesaja profesieë, is die vertolking van die teks baie moeilik
en debateerbaar. Sommige geleerdes meen
dit is 'n na-eksiliese ‘messiaanse' belofte van 'n komende Dawidiese koning,
moontlik koning Hiskia. Andere beskou
dit as 'n troonbestygingsprofesie vir 'n toekomstige Dawidiese koning en koppel
dit aan koning Josia se regeringstyd (640-609 v.C.). Om die teks noukeurig aan
geskiedkundige gebeure te koppel is onmoontlik. Dat Assirië die onderdrukkers was, is redelik seker.
Die
afgrensing van die perikoop is eweneens nie so eenvoudig nie. Ou-Testamentici
soos Zimmerli, Kraus en andere meen 8:23 (prosa) verwys na die gebeure van 733
toe die Assiriese grootkoning Tiglat-Pileser III die noordelike gebiede van
Israel (Sebulon en Naftali) verower en beset het (vgl. 2 Kon 15:29) en moet die
perikoop (poësie) inlei. Wolff en
Rendtorff koppel weer die historiese agtergrond van die teks aan die jaar 701
v.C. toe koning Sanherib van Assirië Jerusalem verower het en meen dat 9:1 die
perikoop inlei. Vers 6 vorm beslis die einde van die
perikoop. Vir die doel van hierdie
preekskets kies ons laasgenoemde perikoop indeling.
Hierdie
eskatologiese danklied besing die bevryding en verlossing wat die
troonsbestyging van 'n nuwe Dawidiese koning, wat nog gebore moet word, teweeg gaan bring. Die struktuur en eenheid
van die teks lę in sy sintaksis en samestelling. Die geheel word gedomineer deur die voegwoord (kî)
wat in verse 3, 4 en 5 elke toespraak inlei.
Die dominante posisie van die perfekte werkwoorde (vv. 1, 2, 3 en 5a) is
opvallend: die profeet praat asof dit wat hy voorspel alreeds bewaarheid is. In
die volk se donkerste uur van wanhoop en vertwyfeling weerklink ‘n hoopgewende
loflied (2). Die einde van hulle militęre verdrukking het aangebreek (2-4). God
gaan hulle bevry van die Assiriese onderdrukking en alle oorlogsgeweld. Die
toekomstige verlossing sal gekenmerk word deur drie dinge. Vryheid van die vreemde oorheersing, want God
sal in die onmoontlikste menslike omstandighede vir Israel 'n oorwinning gee
(3). Die toekomstige verlossing sal ook
die einde van 'n heilige oorlog teen hulle vyande beteken, want al die
oorlogsbuit, ook die soldatestewels en uniforms, sal verbrand word (4). Die toekomstige verlossing sal ook die
herstel van die Dawidiese ryk se mag en die glorie beteken (5-6).
Die inhoud
van ons teks kan in drie begrippe saamgevat word: lig (1), heerskappy (2) en vredevors (3):
1. Mense in die duisternis leef aan die
rand van die dood. Hulle voel asof hulle alreeds in die onderwęreld is. So voel
mense ook wat deur ‘n magtige vyand verdruk word (Ps 18:18). Hulle voel asof hulle alreeds in die onderwęreld is. Vir hierdie volk wat deur ondergang bedreig word, straal die
helder lig van ‘n nuwe dag waarop God hul lot gaan verander, deur. Die profeet
prys Jahwe as die skepper van die nuwe dag met sy vreugde en vrede. Die vreugde en vrede wat die volk te beurt
sal val, word vergelyk met dié van die oestyd (Ps 126:6; 65:14) en die
verdeling van die oorlogsbuit na ‘n veldslag (1 Sam 30:16). Jahwe is die een wat die spiraal van
verdrukking, die vreemde heerskappy (die drukkende ‘juk’), die dwangarbeid
(OAV: ‘die roede van hulle drywer’) en die vernedering (‘die stok waarmee hulle
geslaan is’) gaan verwyder. Jahwe gaan hulle vyand oorwin en verslaan soos wat
Gideon destyds die Midianiete verslaan het (Rig 7). Die oorlogsbuit behoort aan
Jahwe, want dit is sy oorwinning. Volgens die tradisie van die heilige oorlog
mag soldateskoene en oorlogsuniforms nie deel van die buit gewees het nie. Dit moes vernietig word, sodat die aarde
bevry kon word van oorlog en geweld (Ps 46:10). ( Jahwe is die Waarborg van
nuwe lewensmoontlikhede vir sy volk.)
2. Jesaja se profesie moet teen die
agtergrond van sy tyd en binne die konteks van Israel se oorleweringe verstaan
word. Die geboorte in die sin van ‘n
goddelike aanneming moet teen die agtergrond van die troonsbestyging van die
nuwe koning verstaan word (vgl. Ps 2:7 en 2 Sam 7:14). Troonsbestygings het gepaard gegaan met die
oorhandiging van die septer en naamgewing.
Hoewel Jesaja nie van aanneming praat nie, ken hy die geboorte van ‘n
kind wat as teken van toekomstige redding sal dien (7:14) en die geboorte van
‘n nuwe heerser in die huis van Dawid, wat die verlossing sal bring
(11:1.v.v). Die geboorte van die seun
is reeds vir die volk ‘n teken van redding waaraan hulle kon vashou. Die troonsbestyging en die naamgewing moet
teen die agtergrond van die Egiptiese troonsbestygingsfees verstaan word. Hierdie koning sal nie met vorige
Israelitiese konings nie, maar eerder met die farao’s wat die węreld regeer
het, vergelyk kon word. Daarom is daar
ook ooreenkomste tussen sy troonname en die van die farao’s. Die name wat die koning by sy
troonsbestyging ontvang, sę iets van sy wese en die verwagtinge wat aan hom
gekoppel word. As ‘Wonderbare Raadsman’ is Hy die een wat deur sy magtige
reddingsdade die groot momente van die heilsgeskiedenis skep (Eks 15:11; Ps
78:12). As die ‘Magtige God’ is Hy die ’ęl gibbôr,
letterlik die Godheid. Hy maak nie net
grootse planne en neem magtige besluite nie, maar Hy het ook die vermoë en die
moed om daaraan uitvoering te gee. As
die Ewige Vader is hy die een wat vir sy volk sorg en hulle beskerm.
3. As Vredevors maak hy nie net 'n einde
aan alle oorlog nie. Hy skep ook ‘n
toestand van totale sjalôm gebaseer
op reg en geregtigheid. Aan die vrede sal daar geen einde wees nie, omdat die
heerskappy van hierdie Dawidseun onstuitbaar sal uitbrei ‘van nou af tot in
ewigheid’. Met dié verskil: Dawid se ryk was op geweld gebou; hierdie
ryk sal deur vrede en voorspoed (orde) gekenmerk word. Hy sal nie sy koninkryk vestig en instandhou
deur wapengeweld (vgl. 10:7v.) of verdrukking of politieke dienstigheid nie
(vgl. 1:17, 23; 3:14; 5:7, 13), maar ‘reg en geregtigheid, van nou af en vir
altyd’. Niemand en niks sal dit kan teenstaan nie. Die waarborg van hierdie
profetiese visioen lę in die ywer van die Here en sy onweerstaanbare mag wat
die menslik onmoontlike moontlik maak.
Die
prediking van Jesaja 9:1-6 het twee kante:
die magtige, vernietigende oorwinning en die oneindige vrede wat volg,
'n vrede wat deur geweld bekom is. As Paulus in Efesiërs 2:14 sę: ‘Christus is ons vrede…’, is dit nie 'n
vrede wat deur geweld tot stand gekom het nie, maar deur die onselfsugtige
offer van Christus aan 'n vloekhout.
Dit is 'n vrede wat gekom het langs die weg van lyding, selfverloëning
en vernedering.
In Jesaja
se profesie is die koning wat die volk gaan verlos net 'n teken van die
oorwinning en die vrede. Jesus
Christus, daarteenoor, is die Een wat die bose magte oorwin en die vrede skep
wat die węreld nie ken nie (Joh 14:27).
Hy is nie net die stadhouer van God op aarde nie, maar ook die ewebeeld
van God, wat nuwe betekenis en inhoud aan die name van Jesaja 9:5 gee.
Jesaja
9:1-6 skets die voleinding van God se vredesryk. Die Nuwe Testament sien die koms van Jesus Christus na hierdie
węreld as die aanbreek van God se koninkryk.
Hyself is die Vredevors wat hierdie vrede op aarde laat posvat deur sy
navolgers.
Hierdie
profetiese boodskap is geen onwerklike veraf utopie of 'n droom nie, maar het
deur God se heilshandelinge deur Jesus Christus 'n universele werklikheid
geword. 'n Werklikheid wat die Nuwe
Testament op geen manier relativeer nie (vgl. Op 21:25). Die verskil tussen aardse utopieë en die
Bybelse eskatologiese hoop lę daarin dat die verkondiging van die ryk van God
nie net beter sosiale omstandighede verwag nie, maar ook 'n nuwe mensdom met 'n
nuwe lewenswandel.
Die lyding,
pyn, uitbuiting, verdrukking en verslawing wat Assirië destyds vir Israel
veroorsaak het, duur vandag nog steeds in verskillende vorme in verskillende
węrelddele voort. Net soos wat Assirië destyds die werktuig of instrument
daarvan (vgl. Jes 7:18-20; 10:5) was, so is veral regerings, strukture en
filosofieë dit vandag. Agter hierdie teks lę God se geskiedenis van oordeel en
genade. God is egter die een wat
verneder én verhoog. Deur alles
wat met ons gebeur, maak God met die mens 'n persoonlike geskiedenis. Hy beskik
oor ons wel en ons weë. Onder die
pynlike en seer van die Assiriërs se geweldsdade het 'n stuk van God se
geskiedenis met hierdie węreld afgespeel.
Daarom kan hulle wat vandag nog in die duisternis leef en verdruk word, saam met die gemeente sing: ‘Ons vrees nie julle mag nie, want julle mag
is verbreek: die Kind het dit verbeek. Daaroor bestaan daar geen twyfel nie’.
Julien
Green het ‘n roman geskryf met die titel:
Elke mens in sy nag. Elke mens
het inderdaad sy eie nag, sy eie stuk uitsiglose duisternis. Of dit nou ‘n nag
van sonde is en of dit uitsiglose omstandighede is, elke mens het sy nag! Vir
die noordelike gebiede van Israel, Sebulon en Naftali, in die jaar 732 v.C. was
alles nag vanweë die onderdrukking van die Assiriërs. Hulle het mense lewendig op skerppuntpale opgehang, swanger vroue
oopgesny, met ysterlemme oor mense heen gejaag, stede afgebrand en hulle as
slawe gevange geneem. Hulle nag het nie
net daarin gelę dat die Assiriërs dit vir hulle galbitter gemaak het nie. Geestelik was dit ook vir hulle nag, want
hulle het eerder na heidense profete geluister as na God s'n.
1. Ons het ook elkeen ons nag. Ons is deel van
‘n gewelddadige węreld waarin baie baie mense reken die vuis, die skoen en die
patroon maak alles reg. Miljoene mense het die slagoffers geword van oorlog,
geweld, misdaad, kaping, verkragting, uitbuiting en onderdrukking en beleef
hulle lewensomstandighede as een uitsiglose nag. Hierdie węreld en die omgewing
waarin hulle leef, bied vir hulle geen veiligheid, geborgenheid en vrede nie –
selfs nie eens binne die gesin nie. Geweld binne die gesin het die regering
genoodsaak om spesiale wetgewing aan te neem. Geweld het so deel van ons
leefwyse geword dat ons dit selfs al geniet.
Daarom kyk ons so graag na geweld op TV. Daarom kry ons kinders selfs gewere, pistole en messe as
Kersgeskenke. Ons is nie net met die
geweer en die vuis gewelddadig nie, maar ook met die mond. Laat ‘n ou dit net waag om my skeef aan te
kyk op die pad, dan vloek ek hom reg. Ons veroorloof ons dit om mekaar met die
mond uitmekaar te skeur deur mekaar te vloek, te skel, sleg te maak en te
beskinder.
2. Dit is dan in hierdie donker nag wat
die profeet vir hulle die blye, hoopvolle boodskap bring: “…in die land waar daar duisternis is, sal
daar nie langer donkerte wees nie”
(8:23). Vir die volk wat in
duisternis was, het daar skielik ‘n “groot lig” opgegaan. In die “donker land” het daar ewe skielik
“‘n lig geskyn”. Oor Galilea – die gebied wat so dikwels deur vyandelike magte,
veral die Assiriërs, vertrap en vernietig is (8:23), het die strale van ‘n nuwe
dag ewe skielik gebreek. Want God gaan
die lot van sy volk verander. So seker
was die profeet daarvan dat hy verlede tydsvorme gebruik, asof dit alreeds
gebeur het. God sal die ou volk, wat
geen volk meer is nie en van wie daar net ‘n handjievol oorgebly het weer laat
vermeerder. God sal die volk weer
vreugde laat vind in Sy teenwoordigheid.
Soos wat mense bly is wanneer daar geoes word en soos wat soldate bly is
as die oorlogsbuit verdeel word, so sal God die volk weer blydskap laat
ervaar. Soos wat Gideon destyds ‘n
wonderbaarlike oorwinning behaal het oor die Midianiete (Rig 6:33-7:25), wat
hulle so verdruk het, so sal God wonderbaarlik ingryp en Israel red en van
hulle vyandelike juk verlos. Hy sal
sorg dat alle vyandelikhede teen die volk gestaak word en dat alle krygstuig
vernietig word. Hy sal hulle volkome
vryheid verseker. ‘Seun’ wat vir ons
gegee is, is die een enkele oorsaak en verklaring vir die nuwe dag wat
deurbreek na die lang nag. Hy alleen is
die oorsaak van die vreugde, blydskap, verlossing en vryheid. Hy is die lig wat die donker nag met al sy
duisternis en uitsigloosheid in ‘n helder dag van hoop en verwagting omskep. Want
hierdie Seun is ‘n besondere en unieke koning. Die name wat by sy
troonsbestyging aangekondig word, sę iets van sy wese en karakter. Dit voorspel wat van hom en sy regering
verwag kan word: sy aansprake, sy
vermoëns, sy taak en opdrag. Anders as
die Egiptiese konings wat by hulle troonsbestyging vyf name gekry het, het
hierdie koning net vier. Hy sal genoem
word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Soos die Oosterse konings met al hulle
wysheid sal hy al die wysheid hę om sy volk se Raadgewer te wees in hulle
nood. Hy sal ‘n magtige Kryger wees wat
sy volk teen die vyand kan aanvoer en hulle keer op keer sal oorwin. Hierdie
koning sal ook vir sy volk ‘n ewige Vader wees, wat vir hulle sorg. Hierdie
koning wat die nag in ‘n helder dag omskep, sal ook ‘n Vredevors wees. Hy sal nie net ‘n einde aan alle oorlog maak
nie, maar die totale węreldorde herstel met ‘n vrede wat gebou is op reg en
geregtigheid. Sy vrederyk sal uitbrei
en gekenmerk word deur voorspoed. Aan
sy heerskappy sal daar geen einde wees nie.
God self is die waarborg dat hierdie belofte waar sal word.
Jesaja het nie geweet wie hierdie koning sou wees wat so sou heers en regeer nie. Ons wat 2300 jaar na hierdie profesie leef, glo en aanvaar dat die Kind van Betlehem, die Seun, die beloofde Koning is. Hy is, soos Lukas sę, die ‘die môreson’ wat ‘uit die hoogte op ons afstraal’. Hy het lig gebring ‘aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe’ (1:79). Anders as in Jesaja 9 waar die beloofde koning maar net die teken van die beloofde oorwinning, verlossing en vrede was wat God sou gee, is Jesus Christus die verpersoonliking daarvan. Hy het persoonlik alle magte en owerhede deur sy dood en opstanding oorwin en deur sy kruisiging die vrede bewerkstellig – ‘n vrede wat nie van hierdie węreld is nie (Joh 14:27). Hierdie oorwinning en vrede het Jesus nie deur geweld daargestel nie, maar deur sy onselfsugtige offer aan die kruis. Deur Jesus se koms en werk op aarde het die beloofde vredesryk in hierdie węreld ingebreek. Dit moet elke donker stad, dorp, straathoek, stegie, kantoor, plakkerskamp, huis, huwelik, gesin en mens verlig deur ons wat onsself Christene en die lig van die węreld noem. Maar dan moet ons vredemakers wees. Mense wat teen elke prys vergifnis, versoening en geregtigheid met alle mense najaag. Ons moet nie in die taal van Efesiërs 6 soldate met ‘n geweer of AK 47 in die hand wees nie, maar soldate met die Woord van God. Nie soldate wat toegerus is met pantserkarre en met koeëlvaste baadjies nie, maar gepantser met reg, geregtigheid en betroubaarheid! Nie soldate wat toegerus is met soldatestewels wat vertrap en vernietig nie, maar soldatestewels met die handelsmerk: Bereidheid vir die evangelie van vrede! Die bereidheid om sonde en skuld teenoor my naaste te bely. Dan sal die bevrydende lig van God se heerskappy in ‘n donker węreld met sy uitsiglose nag deurbreek. Dan sal die uitsiglose nag wyk voor die dag – die dag van verlossing en bevryding. Verlostes en bevrydes sal hul stem by dié van die engele voeg: ‘Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde…’. Saam met Lukas sal ons in ons donkerste nag kan bely: Hy is ‘die môreson’, wat ‘uit die hoogte op ons afstraal’.