Ander
tekste: 1 Kronieke 28:1 –10, 20-21; Psalm
125; Markus 7:24-37.
Spreuke
22:1-23 (voorgeskrewe perikoop van Die
Leesrooster) vorm deel van Spreuke 10:1-22:16, die sogenaamde Spreuke van
Salomo en Spreuke 22:17-24:22, ook genoem: Die
woorde van die wyse manne. Spreuke
10:1-22:16 bestaan uit 'n aantal kort spreuke wat weinig logiese samehang
het. Eintlik is dit net 'n soort lys of
aaneenryging van aforismes (spreuke) sonder enige konteks. Die enkel sinne kan wel rondom 'n bepaalde
onderwerp saamgegroepeer word. Spreuke
22:17-24:22 bestaan uit 'n aantal algemene spreuke waarvan 'n deel verband hou
met die Egiptiese leer van Amen-em-ope
uit die periode tussen 600 en 1000 vC
In die lig van die genoemde teksverdelings, wat algemeen aanvaar word,
word Spreuke 22:1-16 as perikoop vir die doel van die preekstudie aanvaar.
In die teks
is presiese parallelismes skaars. Verse
3, 15 en 16 is voorbeelde van antitetiese parallelismes. In verse 2, 5, 7, 8 en 14 is sintetiese
parallelismes gebruik. Verse 4, 11 en
13 bevat geen parallelismes nie. Verse
6 en 10, wat met 'n imperatief ingelui word, vorm 'n tipe instruksie. Vier spreuke verwys na Jahwe: verse 2 en 14 met verwysing na 'n vreemde
vrou, en in verse 4 en 12 in 'n genitiefkonstruksie. Vers 11 verwys terloops na die koning.
Die
onderwerp waarop die meeste gefokus word, is die verhouding tussen ryk en arm
(vv 1, 2, 7, 9, 16). Verse 1 en 2 stel
rykdom ondergeskik aan hoër beginsels.
Volgens vers 1 is 'n goeie reputasie en geestelike kwaliteite meer werd
as rykdom. Die sekuriteit wat rykdom
bied, het dus beperkinge (vgl ook 11:4, 7). Voor die Here is daar nie
klasseverskille nie: almal, alle skepsels van God, is gelyk (2). Tog is vers 2 'n veelkantige spreuk wat oop
is vir baie interpretasies. Om die
presiese betekenis daarvan te bepaal of 'n bepaalde dogma daarvan af te lei
blyk onmoontlik te wees as Spreuke 15:15 en 13:8 met mekaar vergelyk word. Spreuke 15:15 en 13:8 dui die positiewe en
die negatiewe aspekte van die vergelyking tussen ryk en arm in vers 2 aan. Volgens Spreuke 15:15 wil dit voorkom of die
rykes se lewe uit een ononderbroke ketting van goeie dae bestaan. Spreuke 13:8, daarenteen, teken 'n baie
donkerder prentjie: rykes kan ook die
pynlike ervaring van afpersing belewe;
iets wat die armes nooit oorkom nie.
Vers 7 verwys na die harde werklikheid van die mag van geld, wat verband
hou met die teenstelling tussen hardvogtige (8) en mededeelsame mense (9). Volgens vers 7 is die rykes die magtiges en
invloedrykes. Die armes is die
onmagtiges wat dikwels, vanweë skulde, deur ryk skuldeisers verslaaf word (vgl
ook 18:23; Eks 21:2-7; 2 Kon 4:1; Am 2:6:
Neh 5:5). So 'n slawerny was ten
dele 'n uitkoms vir die armes.
Andersyds het dit hulle gesins- en gemeenskapslewe verwoes. Die wat die armes help, word ryklik deur die
Here geseën. Hiermee word die
ooreenkoms tussen sosiale betrokkenheid en selfvervulling gepostuleer. Hierdie seën is slegs diegene se deel wat sy
medemens se nood sy nood maak en wat betrokkenheid by sy medemens se welsyn as
'n barometer van sy eie menslikheid sien.
Vers 16 is problematies om te verklaar, want inhoudelik het die twee
vershelftes weinig verband. Dit kan as
'n dubbele veroordeling geïnterpreteer word:
die onsinnige verdrukking van armes ter wille van selfverryking en die
vry na die guns van rykes vanweë domheid.
Skynbaar vergelyk vers 16 armoede met piëteit en rykdom met
goddeloosheid. Spreuke 22:16 en 11:24,
25 wys op die intrinsieke waarde wat daarin lê om armes te help. Sodoende word die gevaarlike gaping tussen
ryk en arm, wat 'n gevaar vir 'n hele gemeenskap inhou, verklein. Daarbenewens hou dit ook groot voordele vir
die hele gemeenskap in.
Die
vergeldingsgedagte kom in drie spreuke voor:
die wat die Here dien, word ryklik beloon (4); die wat onreg saai, sal sekerlik gestraf word (8); die wyses behoed God, maar die dwases en
misdadigers straf Hy (12).
Die wyses
se siening van opvoeding is: Buig die
boompie terwyl hy nog jonk is (6). In
die kinderjare moet 'n bepaalde lewenstyl by die kinders vasgelê word. Om die doel te bereik, moet die roede nie
gespaar word nie (v 15; vgl ook 19:25, 27; 13:24), want dit bewaar die kind van
latere dwaasheid. Lyfstraf was in die
Ou Nabye Ooste deel van die opvoeding.
Die orige
spreuke bestaan uit enkel aforismes, wat uit onpersoonlike veralgemenings oor
die lewe bestaan: vers 3 sê wyses vermy
onheil; vers 5 sien 'n mens se lewe en
gedrag as 'n pad; vers 10 bevat
gedagtes oor rusies; vers 11 verwys na
gedrag waarvan 'n koning hou; vers 13
handel oor luiheid en vers 14 waarsku teen die gevaar van 'n slegte vrou.
Vir die
prediking van die teks is dit belangrik dat ons eerstens vra na die dwaasheid
van die ryke. Die dwaasheid van die
ryke in ons teks lê daarin dat hy vanweë sy rykdom homself verhef tot 'n ander
klas en statuur as die armes (1). Dit
verdeel 'n gemeenskap (2). Die effek
van hierdie soort dwaasheid kos die kerk in Suid-Afrika 'n baie duur prys wat
sy boodskap en geloofwaardigheid betref (vgl
D.J. Smit: Woord teen die lig III/I, pp 229-236).
Die
sekuriteit en gerief van rykdom het ook 'n pynlike kant: dit is baie kwesbaar
en onstabiel, mot en roes verniel dit (Matt 6:20). Jy kan dit onder andere verloor deur: afpersing, swak rentekoerse,
'n dalende ekonomie en politieke omstandighede buite jou beheer. Dit veroorsaak groot kommer en onrus in
harte, maar ook 'n gejaagdheid!
Die mag van
geld maak nie net van jou 'n slaaf van Mammon nie, dit verander jou ook in 'n
goddelose, hartelose skuldeiser en verdrukker wat nie die armste mens sal
ontsien solank jy jouself ten koste van hom/haar kan verryk nie. Geld vernietig nie net jou eie
medemenslikheid nie, dit vernietig ook ryk en arm gemeenskappe. Onbetaalde skuld, uitbuiting en verarming
laat mense hulle vryheid en menswaardigheid verloor. Die smagting na geld dryf huisvrouens en jong dogters tot
prostitusie met al die skadelike gevolge vir hulle persoonlike, huweliks- en
gesinslewe. Verarming gee ook
aanleiding tot wanpraktyke soos diefstal,
dwelmsmokkelary, bendegeweld en misdaad.
Verarming vergroot nie net die gaping tussen ryk en arm nie, dit is ook
'n dodelik tydbom tussen ryk en arm gemeenskappe, want dit veroorsaak agterdog,
spanning, begeerte, diefstal, geweld en selfs moord.
Die mag van
geld kan ook 'n helende faktor in enige gemeenskap wees. Vir 'n ryk gemeenskap wat finansieel en
persoonlik by 'n arm gemeenskap betrokke raak, kan dit ware lewensvervulling
bied. Sulke betrokkenheid is van die magtigste bakens wat daar vir die kerk en
koninkryk van God opgerig kan word. Vir
'n arm gemeenskap kan sulke betrokkenheid opheffing, beter geriewe, 'n beter
lewenskwaliteit en die herstel van hulle menswaardigheid inhou. Daarmee word die tydbom van vervreemding
tussen ryk en arm gekelder!
Vir die
prediking is dit ook belangrik dat ons sal vra wat God se wysheid is wat
teenoor die genoemde dwaashede van die rykes staan? Geld en besittings is genadegawes uit God se hand. God is Eienaar van alles wat ons besit. Die mens wat sy lewe en sekuriteit daarin
soek, sal soos die ryk dwaas van Lukas 12 bedroë daarvan afkom, want ons is
slegs rentmeesters (bestuurders) daarvan.
God het dit aan ons toevertrou om aan sy koninkryk op aarde gestalte te
gee. God maak nie onderskeid tussen
mens en mens nie. God verdeel ook nie
mense in verskillende klasse nie. As
arm mense verdruk word, neem God hulle saak op hom. In Ou-Testamentiese tye was daar reeds wetgewing wat daarop gemik
was om verarming teen te werk en 'n gelyke lewenstandaard te verseker. Elke sabbatsjaar moes die oes byvoorbeeld
vir die behoeftiges gegee word (Eks 23:11) en alle skuld moes afgeskryf word
(Deut 15:1). Die jubeljaar was 'n jaar
van algemene amnestie waarin elke man die eiendom van sy voorvaders kon
terugeis (Lev 25:10). In die
Lukas-evangelie word die rykes in jubeljaartaal uitgedaag om 'n betekenisvolle
deel van hulle rykdom prys te gee, om riskante lenings te verskaf (Luk 6:32-34)
en sekere skulde af te skryf (Luk 6:37).
Hulle word ook uitgedaag om medelydend en mededeelsaam te wees soos wat
hulle Vader in die hemel is (Luk 6:36).
Ambrosius het mos gesê: Jy het nie nodig om skure te bou nie, jy het
skure: die harte van die behoeftiges, die huise van die weduwees, en die monde
van die weeskinders en armes.
Ons
kapitalistiese stelsel met sy ongelykhede noodsaak 'n herverdeling van rykdom,
want dit skep groot maatskaplike spanning en is eties nie geregverdig nie. Die feit dat slegs individue en groepe
individue eiendom versamel, terwyl ander mense daaronder ly, gee aanleiding tot
diefstal, geweld, armoede en misdaad.
In die
prediking kan twee sake gekontrasteer word.
Enersyds is daar die mag van geld wat individue en gemeenskappe verdeel,
vervreem, verslaaf, verdruk, in armoede en lyding dompel en vernietig. Andersyds is daar die mag van geld wat
individue en gemeenskappe se nood verlig, hulle lewenspeil ophef, hulle bevry,
hulle menswaardigheid herstel, gemeenskappe herstel, lewensvervulling gee en
vrede en harmonie skep.
Die wysheid
van Paulus is so in die kol in 1 Timoteus 6:10: Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Hierdie uitspraak spreek tot die diepe mag
en besithonger van die mens. Geld is so
'n mag. Dit verslaaf en tiranniseer jou
as jy die Eienaar buite rekening laat en nie erken nie. Dit maak van jou 'n gulsige hê-mens wat geld
slaap, eet en droom. Geldgierigheid
neem jou so op sleeptou dat jy nooit genoeg daarvan kry nie. So 'n lewensgulsigheid maak dat jy geen
mens, hoe arm ookal, ontsien nie, en elke denkbare metode (diefstal, korrupsie,
bedrog, ens.) gebruik om geld te maak.
Mammon maak van jou 'n hartelose verdrukker, wat armes (Jak 5:4) vir 'n
paar rand hof toe sleep en hulle uitbuit (Jak 2:6). Die soeke van jou eie koninkryk laat jou soos die ryk man
liefdeloos by die Lasarusse in hulle armoede en vodde verbyry sonder om hulle
nood raak te sien of daarby betrokke te
raak. Die fisiese en geestelike nood
waarin armoede en werkloosheid gemeenskappe dompel, raak jou nie. Hierdie ongevoeligheid en onsensitiwiteit is
ook deels die gevolg van die feit dat geld en besittings mense in verskillende
klasse (ryk/arm) verdeel. Die rykes,
magtiges en invloedrykes word gewoonlik anders behandel, omdat hulle op die
uiterlike beoordeel (Jak 2:1, 9) word.
Hierdie soort onderskeid tussen mens en mens veroorsaak diep klowe
tussen gemeenskappe en vervreem hulle van mekaar vanweë baie onreg. Die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika vertel sy
eie verhaal in dié verband.
God het nie
besittings aan ons as sy rentmeesters toevertrou sodat dit ons lewens moet tiranniseer
en van ons lewensgulsige, hartelose mense moet maak nie. God het nie in Sy wysheid ons met geld en
besittings toevertrou, sodat ons mekaar daarmee moet vernietig en in armoede,
lyding en vervreemding dompel nie. God
oordeel ons nie op grond van die uiterlike en bevoordeel die rykes ten koste
van die armes nie. Inteendeel, Hy is in
'n besondere sin die God van die armes en noodlydendes, wat hulle saak op Hom
neem. Nee, God het aan ons eiendom
gegee ter wille van ons daaglikse brood, maar ook die ander se brood en die
uitbreiding van sy koninkryk. God het
aan ons besittings gegee om mekaar daarmee te dien en te versorg, sodat almal
'n menswaardige lewe kan lei en tot sy eer kan lewe. God se gawes aan ons is nie net bedoel om van ons heel mense te
maak wat 'n menswaardige bestaan voer nie.
Hy het dit ook aan ons gegee, sodat ons ons naaste in nood so kan bedien
en versorg dat hulle heel gemeenskappe tot die eer van sy Naam kan wees. Die loon vir sulke mededeelsaamheid is rus
en vrede op aarde en 'n geseënde, vervulde lewe. Daartoe bevry die Gees van wysheid ons. Hy maak ons hande en harte vir mekaar oop. Hy verlos ons van die mag van geld.
Bibliografie
Loader, J.A. 1983: Aantekeninge oor Spreuke. In: Verklarende Bybel (1983-vertaling). Kaapstad: Lux Verbi. McKane, W. 1977: Proverbs: A new approach. London: SCM.