24 OKTOBER 2004

TWINTIGSTE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

PREEKSTUDIE – PSALM 102:13-23

Teks

Volgens die ongewone opskrif is hierdie psalm ’n klaaglied van die enkeling. Dele daarvan volg ook die tipiese patroon van so ’n klaaglied: ’n inleiding waarin Jahwe se Naam aangeroep en Jahwe gevra word om die noodkreet aan te hoor (2-3), ’n beskrywing van die noodsituasie (4-22, 24) en die versoek dat Jahwe moet ingryp (25). Na aanleiding van vers 4-6 meen sommige dat dit spesifiek die klaaglied van ’n sieke is wat vrees dat sy lewe kortgeknip gaan word (12 en 24-25a). Maar vers 14-23 gaan om die herstel van Jerusalem (Sion) en lyk meer na ’n klaaglied van die geloofsgemeenskap ("u knegte" in 15). Vers 12 en 25b-28 prys Jahwe as Skepper en ewige Heerser, soos in lofliedere. Vers 29 is die soort uitspraak van vertroue wat soms aan die einde van klaagliedere aangetref word. Omdat die woord "knegte" in hierdie vers voorkom, lyk dit asof dit nou aansluit by verse 14-23.

Geleerdes probeer op verskillende maniere hierdie uiteenlopende temas verklaar. Sommige glo dat ons met twee afsonderlike psalms te make het: ’n klaaglied van die enkeling (2-12 en 24-25a) en ’n klaaglied van die gemeenskap (13-23 en 25b-29). Brinkman vind selfs vier afsonderlike dele, elk met ’n eie tema. Ander meen dat ’n oorspronklike klaaglied van die enkeling later (selfs meer as een keer) uitgebrei en aangepas is, dalk om dit meer geskik vir gesamentlike aanbidding te maak. Daar is ook heelwat geleerdes wat glo dat die psalm as eenheid gelees moet word en dat die vermenging van temas binne die konteks sin maak.

Sulke skynbaar puntenerige meningsverskille het ’n invloed op die prediking van verse 13-23. My mening is dat hierdie verse wel binne die konteks van die psalm as geheel verstaan moet word. As die psalm nie as geheel in sy huidige vorm ontstaan het nie, is die uitbreidings tog kunstig in die geheel geïntegreer. Byvoorbeeld, in vers 12 en 13 is ’n merkbare kontras tussen die ellendige se kortstondige lewe en God se ewige heerskappy. Vers 13 en 14 hoort ook saam, want die eerste praat oor Jahwe wat regeer (letterlik "sit") en die tweede oor Jahwe wat sal ingryp (letterlik "opstaan"). Die kontras tussen die kort "dae" van die mens en Jahwe se ewige "jare" (25) verbind weer die klaagtema met die loftema in verse 26-28. Terwyl die bidder se naam as vloek gebruik word (10), sal Jahwe se naam geëer en geprys word (16 en 22). Die bidder voel alleen en verstote (8), maar Jahwe verenig alle nasies (23). Vers 11 praat oor Jahwe se woede en vers 14 oor sy barmhartigheid en genade. Let op die verband tussen vers 2-3 en 18, en tussen vers 21 en 25.

Mays praat selfs van die "impressive compositional unity" van die psalm en wys daarop dat tyd die saambindende tema is. In vers 2-12 word telkens van die dae (of dag) van die ellendige gepraat, met die implikasie dat die bidder in ’n noodtyd verkeer (3 en 9) en dat sy of haar dae besig is om te verstryk (4 en 12). Vers 24 en 25 praat weer oor die dae van die ellendige wat alte gou kortgeknip gaan word. Maar Jahwe se heerskappy duur vir ewig – van geslag tot geslag (13, 25b, 27-28). Soos Jahwe in die oertyd skeppend ingegryp het (25), so sal daar weer ’n genadetyd kom (14). Jahwe se heerskappy verseker ’n toekoms vir die geloofsgemeenskap (17-19, 22-23) en dus vir elk lid daarvan (28).

Kraus verklaar die vermenging van individuele klag en gemeenskaplike hoop vir Sion, goed. Tradisioneel kon die individuele ellendige troos vind binne die versekerde geloofsgemeenskap. God se verbond met Israel, waarvan die besit van die land, Jerusalem en die tempeldiens sigbare tekens was, was as ’t ware die geloofsfondament waarop die bidder kon bou. Maar met die ballingskap (verlies van die land, verwoesting van Jerusalem en die tempel) het hierdie fondament begin verbrokkel. Kan die enkeling nog op God se hulp vertrou as die hele verbondsraamwerk uiteengespat het? Daarom gryp die enkeling in nood na profetiese beloftes oor die herstel van die hele geloofsgemeenskap. Die ellendige se toekoms is verweef met die toekoms van God se volk. Alleen as Jahwe se band met sy "knegte" (’n nageslag van dienaars) ’n toekoms het, kan die enkeling met vertroue om hulp roep.

Hierdie verklaring berus op die aanname (wat die meeste uitleggers maak) dat die psalm uit die tyd kort na die ballingskap kom. Jerusalem en die tempel is blykbaar nog nie (heeltemal) herbou nie (14-18). Vers 13-23 en 25b-27 het baie raakpunte met Deutero-Jesaja (Jes. 40-55), die profesie oor Israel se herstel na die ballingskap (v. 14 herinner aan Jes. 40:1-2, 17, aan Jes. 44:26, 21, aan Jes. 49:9, en 26-27 aan Jes. 51:6). Dat Jahwe ewige Skepper is en dat alle nasies Jahwe sal dien, is ook tipiese temas in Deutero-Jesaja.

Ek verkies die Ou Afrikaanse Vertaling bo die Nuwe Afrikaanse Vertaling vir hierdie en ander digterlike gedeeltes. Die volgende aantekeninge oor woorde en vertalings is op die ou vertaling gebaseer. "Gedenknaam" (13) kan ook vertaal word met "gedagtenis". Die idee is dat Jahwe deur die gebruik van die Naam tydens aanbidding in herinnering geroep word. Die Hebreeuse woord kom vyf maal in die gedeelte voor en word deurgaans met "want" en "omdat" vertaal: vers 14 (twee maal), 15, 17 en 20. Die woord kan egter ook ’n tydsaanduiding ("dan", "wanneer") of ’n beklemtoning ("inderdaad", "sekerlik") wees. In vers 15 lyk dit asof die hoofdoel beklemtoning is, maar party uitleggers verkies om daar en in verse 14 en 17 met "wanneer" en "dan" te vertaal. In vers 20 sal "dat" ’n goeie vertaling wees.

In vers 14 kan "U sal opstaan" ook vertaal word as ’n indirekte bevelsvorm (jussief), ’n oproep aan Jahwe om op te staan. In vers 19 het ons stellig met so ’n oproep te make; die nuwe vertaling is hier beter as die oue. Party ander werkwoorde in die gedeelte kan met die verlede tyd of die toekomstige tyd vertaal word – vergelyk gerus verskillende vertalings. Gelukkig is die verskille nie deurslaggewend vir die prediking nie, want daar is nie maklike "korrekte" antwoorde op die vrae nie.

In vers 18 dui "wie ontbloot is" op mense wat alles verloor het; "kaalgestrooptes" is ’n goeie vertaling. "Die kinders van die dood" in vers 20 dui op diegene wat (letterlik of figuurlik) ter dood veroordeel of aan die dood uitgelewer is. In Psalm 79:11 kon dieselfde uitdrukking ook voor saam met "gevangenes" (lett. diegene wat vasgebind is).

Die gang van die gedeelte is redelik eenvoudig. Vers 13 sluit by wyse van kontras aan by die vorige klag. Maar Jahwe, wat vir ewig heers ("sit"), kan ook op enige stadium ingryp ("opstaan"), en die woede van vers 11 kan plek maak vir die barmhartigheid en genade wat in die Ou Testament as die tipiese kenmerke van Jahwe geld (14). Die herstel van Sion sal enersyds die bittere hartseer van God se volk heel, en andersyds alle volke met ontsag vir Jahwe vul (15-17). Hierdie hele gedeelte fokus op Jahwe: hierdie naam kom sewe maal voor (een maal in die verkorte vorm). In die voorafgaande klag draai alles om die toestand van die ellendige; in vers 13 en 14 staan Jahwe se Naam met klemtoon voorop.

Die sekerheid dat Jahwe sal ingryp, is gewortel in die tradisie dat Jahwe die gebed van die noodlydendes verhoor (18). Jahwe, die verhewe Koning, sien terselfdertyd om na diegene wat vasgevang of aan die dood uitgelewer is (20-21, vgl. Ps. 113:5-9). Hierin lê die waarborg dat Jahwe se volk steeds ’n toekoms het. Die Skepper van hemel en aarde kan uit die puin ook weer ’n nuwe volk, ’n nageslag, skep (19). Met hierdie sekerheid wil die bidder die "voorspelling" van herstel laat opskryf vir die nageslag, sodat Jahwe se lof weer in die herstelde Jerusalem kan weerklink wanneer die woord bewaarheid is (19, 22). Let op hoe die geloofstradisie van vers 20-21 omraam word deur vers 19 en 22. Vers 23 bevestig dat die herstel van Jerusalem (Israel) meer is as ’n terugkeer na die verlede: dit sal ook ’n uitbreiding van Jahwe se heerskappy op aarde insluit. Die nuwe skepping oortref dus die oue.

Vanuit hierdie "groot" prentjie kan die ellendige terugkeer na sy of haar eie "klein" noodsituasie en met vertroue smeek om nie (nou al) uit die prentjie gehaal te word nie (24-25). Verskeie verklaarders wys daarop dat die lot van die enkeling in nood en die lot van Israel mekaar hier weerspieël. Die enkeling, soos die volk, moes deurloop onder Jahwe se toorn (11). Vir die volk is ’n nuwe genadetyd belowe; die enkeling gryp hierdie belofte aan. Inderdaad, as die nuwe genadetyd selfs die heidense volke sal insluit, hoe kan dit enigeen uitsluit? As daar ’n nageslag van "knegte" sal wees om Jahwe se verlossingsdade te loof, moet daar ’n voorgeslag wees om van sulke verlossingsdade in hulle lewens te getuig.

Vers 13-23 pas dus beslis in die geheel van die psalm. Die ellendige is, soos Burden tereg sê, gedisoriënteerd, afgesny van ander mense en van "normale" liggaamlike gesondheid, slaap en eet. Ook binne die geloofsgemeenskap is daar geen oriëntasiepunt nie, want Jerusalem en die tempel lê in puin en Israel is nog (minstens deels) verstrooid. Dus gryp die bidder na die beloftes van die herstel van Sion, van ’n herskepping, wat nogtans gewortel is in die tradisies oor Jahwe as Heerser wat ingryp om die lot van lydendes te verander. Soos Allen dit stel: "Faith rises above both personal and national circumstances and clings to the God of hope."

Konteks

Al het die woord "transformasie" deesdae byna altyd ’n positiewe konnotasie, moet ons erken dat verandering nie altyd verbetering is nie. Rampe – siekte byvoorbeeld – verander ons lewens drasties en ten kwade. Dan soek ons skuiling binne gemeenskaplike raamwerke wat nog vas staan. Byvoorbeeld, my gesin of my kerkgenote "dra my deur" my krisis. Ongelukkig is die gemeenskaplike raamwerke soms ook stukkend, want gesinne en kerke word ook deur verandering geskud. Selfs my persoonlike geloof is geen stewige vesting meer nie, want "my geloof" is nie my privaatbesit nie; dit is grootliks gebaseer op dit wat ek met ander deel. Anders gestel: ek glo, as deel van ’n geloofsgemeenskap en as mededraer van ’n geloofstradisie. As die tradisie sy vanselfsprekendheid verloor en die geloofsgemeenskap kwyn, bly van "my geloof" min oor.

Volgens die sosioloog Peter Berger begin ’n wêreldbeeld verkrummel as die "plausibility structures" (tasbare strukture, bv. geboue, visuele simboliek, ens.) waarop dit berus, ondermyn word. En sonder ’n wêreldbeeld verloor my lewe sin en rigting en het ek geen greep meer op die werklikheid nie. Daarom is ons almal op een of ander gebied tradisionaliste. Elkeen van ons het ’n "Sion" of ’n "tempel" waaraan ons vasklou, omdat dit vir ons die sentrum van ons wêreld is. Wanneer hierdie Sion verwoes lê, omhels ons nog die klippe en huil ons op die puinhope. Probleme wat ons andersins sou kon hanteer, word onhanteerbaar in die lig van die een groot probleem. Dit is die situasie van die ellendige in hierdie psalm.

Gelowige Israeliete kon die dood aanvaar, selfs sonder duidelike hoop op ’n lewe na die dood. ’n Voortydige dood is wel as ’n ramp beskou, maar vir hierdie ellendige is nie net die lewe nie, maar die sin van die lewe op die spel. Sy of haar lewe dwarrel weg soos rook (4), want dit is die lewe van een wat "weggegooi" is (11). Vers 12 gaan oor meer as ’n vroeë dood; dit dui op die algemene nietigheid van die menslike lewe (vgl. Jes. 40:6-7). Die mens se "dae" is altyd onvolledig (Mays), hoe lank hulle ook al duur.

Om bloot te sê dat God ewig is, bied min troos en kan selfs tot groter mismoedigheid lei. Mays wys daarop dat die psalm nie praat oor Jahwe se ewige bestaan nie, maar oor Jahwe se ewige heerskappy: "It is in the everlasting time of the Lord’s reign that the lowly one seeks the answer to his incomplete time." As Heerser en Skepper gryp Jahwe in om te herstel en nuut te skep. Tussen ’n ewige Wese en sterflike wesens is daar net skeiding; tussen ’n ewige Heerser en sy knegte is daar ’n band wat voortduur "van geslag tot geslag".

Stel die ewige Heerser enigsins belang in sterflike diensknegte? Ironies genoeg vind die ellendige bevestiging hiervoor juis in sy lyding. As die noodlydende (en Israel as volk) Jahwe se woede en verwerping moes verduur, beteken dit dat Jahwe inderdaad "inmeng" in mense se sake. Beide individu en volk is in die grond geboor – maar Jahwe luister mos na die noodkrete van sulkes. Verdere bevestiging word in die geloofstradisie gevind: in die profetiese beloftes en in Jahwe se "reputasie" as by uitstek ’n genadige en barmhartige God.

Let op dat die bidder met die omweg van vers 13-23 ’n gemeenskaplike raamwerk herstel het. Deur die ellendige se medelye met ’n ellendige volk word die enkeling se lyding mede-lyding. Enkeling en volk is verenig in hulle hulpgeroep. Omdat die ellendige die volk se lyding "aanneem" as eie lyding, kan hy of sy ook die profetiese beloftes op herstel, wat aan die volk gerig is, toe-eien. Eers vanuit hierdie gedeelde nood en hoop vra die bidder om nog te mag lewe; in vers 4-12 het die lewe waardeloos voorgekom. Die gedagte aan ’n nageslag wat met lofliedere Jahwe se verlossingswerk in hierdie noodsituasies sal herdenk, gee klaar lewensin. Die ellendige is nie meer ’n eensame voël op die dak nie, maar deel van ’n voortgaande drama. Trouens, hy word een van baie medeskrywers van die drama (19).

En wat van Jerusalem en die tempel, die vernietigde simbole van die geloofstradisie? Albei is herbou – en albei is later weer vernietig. Die nuwe Jerusalem en die nuwe tempel het in ieder geval nie die oues geëwenaar nie, want God herstel nie volgens ons bouplanne nie. God se ewige heerskappy en God se unieke "onveranderlikheid" sluit nie verandering uit nie – dank Vader. As die herstel nie vernuwing (nuwe skepping) was nie, was ons nou nog heidene, buite die verbond (vgl. Ef. 2:11-19). En as ons nie nog ’n nuwe Jerusalem verwag nie, het ons nie eens die nuwe verbond verstaan nie. Die gebed om herstel in die psalm laat reeds blyk dat voortsetting van die tradisie ook wysiging van die tradisie insluit. Die herstelde Sion sal die pelgrimsoord vir alle nasies wees – nie net vir Israel nie. En boonop bevat die tradisie nou ’n nuwe psalm.

Ons tradisies en simbole, ons Jerusalems en ons tempels, bly permanent onvolmaak – en permanent onmisbaar. Natuurlik gaan dit "werklik" ("ten diepste") om ons verhouding met God en ons medemense. Maar TS Eliot het ons herinner dat mense nie te veel werklikheid kan hanteer nie; ons bereik selde die dieptes en dan slegs deur die oppervlakke van ons simbole. Ten beste dien hierdie simbole en tradisies as vensters waardeur ons ’n kykie kry op God en ons medemense. As die vensters met verloop van tyd vuil word, sien ons net die vensters, in plaas daarvan om deur die vensters te sien. Dan help dit as die vensters gebreek word om weer lig in te laat, al laat die skielike lig ons oë traan.

Die psalm praat van ’n lewe wat deur so ’n verbreking op persoonlike en gemeenskaplike vlak omgekeer is. In "my dae" was daar skielik geen fondamente meer nie, dus moes die ellendige grond vir nuwe fondamente soek. In vers 13-23 skemer iets hiervan deur. Die eerste ankerpunt is "Maar U, Jahwe" (13). God wat as Heerser sit, sal op die regte tyd opstaan om te herstel. Die tweede is die mede-lye, wat die ellendige verbind met almal wat "ontbloot" (kaalgestroop) en aan die dood uitgelewer is. In die diepste nood vind die ellendige waarom dit "ten diepste" gaan. Maar hierdie ontdekking vra ’n nuwe getuienis, ’n nuwe simbool, wat opgeskryf word vir latere geslagte (19).

Preekvoorstel

My uitleg veronderstel dat die gedeelte binne die konteks van die klaaglied van die enkeling sy betekenis kry. Dit beteken dat die skynbare "sekerhede" van vers 13-23 teen die agtergrond van ontworteling van vers 4-12 en 24-25 gepreek moet word, met vers 13-15 as fokus. Die inleiding kan klem lê op die krisisse wat mense se lewens skud en die gevoel laat dat die lewe betekenisloos is.

Maar ook kerklike tradisies staan nie ewig vas nie. Dat hoofstroomkerke in Suid-Afrika tans deur postmoderne en post-Apartheid-veranderinge geruk word, is duidelik. Dit sal help om daarop te wys dat die geloofsgemeenskap van Israel ook pynlike "transformasies" ondergaan het. Met die ballingskap het dit gelyk asof al die fondamente van Israel se geloof verbrokkel het. Selfs die "herstel" was nie ’n terugkeer na die vorige toestand nie.

Die prediker sou hier kon praat oor die rol van ons gemeenskaplike tradisies en die relatiewe veiligheid wat hulle vir individue in nood bied. Dink maar aan bekende ou kerkmusiek, liturgiese vorme en kerkdrag, en ook aan die raamwerk van "Christelike waardes" in die samelewing (staat, skool, media). Omdat hierdie hele simboliese wêreld vir ons ’n gevoel van stabiliteit gee, voel ons diep bedreig as dit verander. Tog kan hierdie waardevolle (onmisbare) raamwerk ons ook afsny van God en ons medemens.

"Maar U, O Here" (13) bring ’n dubbele kontras. Dit plaas ons "nietige lewens" teenoor God se ewige heerskappy en dit laat ons wegkyk van onsself en ons beheptheid met ons eie sekerheid. As God dan steeds heers, is ook die omkering van ons wêreld nie buite God se beheer nie. Daarby sit God ook nie stil nie; die heilsgeskiedenis is oor God se "opstaan" – spesifiek om te sorg vir hulle wat kaalgestroop is. God is geen onveranderlike beginsel nie, maar ’n uiters aktiewe Heerser, wat juis in genade ons wêreldjies omwoel. Wanneer ons "veilige" raamwerke tronkselle word, bevry God ons deur die raamwerk flenters te ruk en "herstel" ons deur ons nuut in ons verhouding met God te plaas. Die ou tempel en die liggaam as tempel in die Nuwe Testament kan as voorbeeld gebruik word.

Maar dit is nie die hele storie nie. Ons kan onsself nie eenvoudig by hierdie "rewolusionêre" God skaar en ons verlekker in die afbreek van tradisies nie, want dan ontken ons ons menslikheid – en ons mede-menslikheid. Inderdaad, God se naam domineer vers 13-23, maar die ellendige bid hier (anders as in vorige verse) namens en as deel van ’n gemeenskap. In vers 15 kom dit duidelik na vore. Om neer te sien op hulle wat kaalgestroop is van hulle vertroude simbole is geen danige vroomheid nie. Dit is waansinnige hoogmoed wat ons laat dink dat ons uit God se posisie oor sulke dinge kan oordeel. Gedeelde menslikheid dwing ons tot medelye met ontworteldes. Ons plek is nie saam met God op die troon nie, maar saam met ander mense – en met trane in ons oë – op die puinhope. Of is ons eie fondamente nog nie geskud totdat ons dae vir ons soos rook wegdwarrel nie?

Juis wanneer ons onsself as mede-mense by ander kaalgestrooptes skaar, is ons op twee maniere die naaste aan God. Ons bevind ons dan by diegene na wie God in die eerste plek omsien (Hy bekommer Hom nie oor die engele nie) en na wie se gebede God luister. Daarby word ons so (en nie wanneer ons regter speel nie) God se verteenwoordigers. Vers 15 sê letterlik: "u knegte . . . is genadig teenoor sy puin" – net soos vers 14 van God genade verwag. Genadelose makers en brekers is nie ambassadeurs vir die God wat van aard "genadig en barmhartig" is nie. Ons het nie die aarde gegrondves nie (26), dus is dit nie ons reg om dit te skud nie, al het dit dikwels skud nodig.

Die slot kan terugkeer na die lot van die enkele ellendige, die "eensame voël op ’n dak". In vers 13-23 het hierdie verdwaalde tog weer rigting gevind. Onder die ou stene van tradisie was daar kompasstene: profetiese beloftes van herstel, belydenisse oor ’n barmhartige en genadige God wat omgee vir kaalgestrooptes, geloof in ’n God wat ewig regeer en telkens ingryp om nuut te skep. Die ellendige het hierdie kompasstene eers ontdek toe hy (of sy) in medelye met ander lede van die geloofsgemeenskap op die puinhope gaan treur het. Toe kon hulle saam weer glo en hoop "that the reign of God can and will rule over and overrule even their failure" (Mays).

Ten slotte, twee gedagtes wat aansluit by temas in die preek: Onlangs het ’n brief in die koerant voorspraak gemaak vir die orrel as die instrument wat by uitstek geskik is vir kerkmusiek. Immers, het die briefskrywer aangevoer, die orrel word al vir eeue in die kerk gebruik. Waarom moet dit nou vervang word met ander, minder "gewyde", instrumente? Eintlik is die orrel ’n betreklike nuweling in die erediens. Vir veel meer eeue is geen instrumentale begeleiding van kerksang geduld nie. Groot was die vrees dat eredienste sou ontaard in sekulêre konserte toe sommige mense instrumente in die kerk begin gebruik het! Tradisies kom en gaan.

Maar: "If blood of Martyrs is to flow on the steps

We must first build the steps;

And if the Temple is to be cast down

We must first build the Temple." (T.S. Eliot)

Sonder die tradisies, simbole en tekens – en hulle verbreking – gaan die drama van die heilsgeskiedenis nie voort nie.

Bibliografie

Allen, L C (Word); Anderson, A A (New Century Bible); Brinkman, J M (T&T); Burden, Davidson, R The Vitality of Worship; Gerstenberger, E S (FOTL); J J Kraus, H-J (BKAT); Mays, J L (Interpretation); McCann, J C (NIB); Weiser, A (OTL); Westermann, C The Living Psalms.