24 augustus 2003
Tiende Sondag in Koninkrykstyd
Liturgiese Voorstel
Fokusteks:
Psalm 84Ander tekste: 1 Konings 8:30; Efesiërs 6:1 - 20; Johannes 6:56 - 69
Inleiding
Die volgende verbeeldingryke uittreksel uit die preekstudie behoort 'n goeie idee te bied van wat die erediens vandag beoog: 'n Groep pelgrims nader Jerusalem om die loofhuttefees te vier. Moontlik stap die koning self vooraan op die laaste skof. Die loofhuttefees was 'n herfsfees wat verskeie dae geduur en verskillende seremonies ingesluit het. God is gedank vir die afgelope oes en terselfdertyd is daar ernstig gebid vir die vroeë reëns, sodat die boere weer kon begin ploeg na die droë somer. Tussen die oestyd en die saaityd lê hierdie godsdienstige fees, wat ook vir die Israelitiese boere hulle jaarlikse vakansie was. Op die fees sal die feesgangers dank- en lofliedere sing, in klaagliedere hulle harte voor God uitstort en priesterlike seënwense ontvang. Daar sal ruimte wees vir voorbidding en belydenisse van geloof en vertroue. Boonop sal plattelanders hulle verkyk aan die tempel en die tempelstad. Terwyl die pelgrims nog oppad is sing hulle hierdie lied van verlange en verwagting (Psalm 84).
God vergader ons voor Hom
Aanvangslied
"Here Jesus, ons is saam" NSG 345 verse 1-3/ Lied 157
Voorganger: Here ons ween oor die wêreld waarin ons leef.
Gemeente: Ons kinders kwyn onder dwelms, bendes en geweld.
Voorganger: Ag, as ons maar vlerke gehad het
Gemeente: Dan sou ons wou wegvlieg, weg van bedreiging en ellende
Etos van God
Soos in basisliturgie voorgestel
Votum
By U wil ons skuil. n Dag in u voorhowe is beter as duisend daarbuite. Ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. Die Here God is n son en skild.
Seëngroet
Ek groet u namens die drie-enige God. Genade, barmhartigheid en vrede van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Sang
"Juig, aarde, juig voor God die Heer!" NSG 22: 1 - 4/ Lied 100
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord/epiklese
Voorganger: Here Jesus, ons dank U vir u Woord.
Gemeente: U is die vleesgeworde Woord.
Voorganger: Heilige Gees verlig ons harte en verstande.
Gemeente: Praat met ons deur die geskrewe Woord.
Voorganger: Vader gee ons gewillige hande en voete.
Gemeente: Maak ons gehoorsaam aan die gepredikte Woord.
Skriflesing
Psalm 84
Sang
"Gee my 'n Samuels-oor, o Heer" NSG 205 vers 4/ Lied 254 "Spreek, Heer"
Preek
Sang
"Maak my soos Samuel gehoorsaam aan U stem" NSG 205 vers 5
Oomblik van stilte
Apostoliese Geloofsbelydenis
Offergawes
Diens van die tafel
Dieselfde as in die basisliturgie vir Koninkrykstyd.
Lees
Tien Gebooie as padtekens na vryheid (oftewel na lewe onder Gods regering)
Uitsending
Sang
"Bring hulle in, verlore seuns en dogters" NSG 196 verse 1 - 3
Seën
Voorganger: Die Here sal u seën.
Gemeente: Die Here sal ons beskerm.
Voorganger: Die Here sal sy aangesig oor ons laat skyn.
Gemeente: Die Here toon aan ons sy genade.
Voorganger: Die Here verhef sy aangesig oor ons.
Gemeente: Die Here gee ons sy vrede.
Sing
"Amen" Lied 312 315/NSG 355 en 366
PREEKSTUDIE PSALM 84
Inleiding
Al is hierdie psalm redelik bekend (danksy die gewilde beryming), is dit nie maklik om n greep daarop te kry nie. Die Hebreeuse teks is moeilik en sedert die vroegste tyd verskil die vertalings dikwels van mekaar. Boonop verskil geleerdes oor die uitleg van party verse. Selfs as n mens verby sulke geleerde probleme kyk, is dit moeilik om hierdie psalm in ons alledaagse ervaringswêreld in te pas. Dit is asof die psalm ons in n ander wêreld inlei. Die grootste uitdaging vir die prediker is om die "vreemdheid" van hierdie wêreld vir die gehoor minder vreemd te maak.
Teks
In n preek is daar nie ruimte vir lang stories oor die Hebreeuse (of Griekse) teks en moontlike alternatiewe vertalings nie. Predikers moet nogtans kennis neem van vertalingsprobleme, sodat hulle nie hulle preke bou rondom twyfelagtige vertalings nie. Hier is n paar waarskuwings, sonder om die menigte vertalingsprobleme uitvoerig te bespreek.
Vers 3: Die Hebreeuse woord wat in albei Afrikaanse vertalings met "jubel" vertaal word, dui op n harde uitroep, nie noodwendig n uitroep van blydskap nie. Volgens Mays moet "die lewende God" eerder gelees word as "die God van lewe". Dit gaan daarom dat God die bron en gewer van lewe is.
Vers 6: Die OAV se "in wie se hart die gebaande weë is", word "[hulle wat] graag na u tempel toe gaan" in die NAV. Eersgenoemde vertaling is meer letterlik, maar die gedeelte verwys sekerlik na die roetes na Jerusalem wat pelgrims gereeld gevolg het. Die NIV vertaal mooi: "whose hearts are set on pilgrimage". Dit pas goed in by die volgende twee verse. Dit gaan nie hier om "die wat kleef aan die ou tradisies" nie.
Vers 7: Die Hebreeuse teks is hier waarskynlik swak oorgelewer. Die vertaling "droë (of dorre) laagte" is baie onseker. Die Hebreeus kan beteken "die dal van die balsemboom" of, met effense wysiging, "die tranedal". Die laaste gedeelte van die vers is ook moeilik. Die vroeë reën bring of seëninge of poele in Hebreeus is die twee woorde baie eners. Dalk is daar n doelbewuste woordspeling, want die waterplasse wat die vroeë reëns bring, is natuurlik n seëning na die dorre somer.
Vers 10: "Ons skild" kan verwys na God (OAV) of na sy gesalfde, die koning (NAV). As die eerste lesing korrek is, is die koning self dalk die bidder, wat hier namens die volk optree (Booijs). Die gedagte is aantreklik, want in vers 12 word God n skild genoem (OAV, wat meer letterlik vertaal as die NAV), terwyl ander verklarings verse 9-10 los van die geheel laat staan. Dit is egter glad nie seker nie.
Vers 11: Al ontbreek n woord in die Hebreeus na "duisend", is die betekenis redelik duidelik. Die psalm word meestal as loflied beskou en word soms meer presies ingedeel by die Sionsliedere, die liedere wat Sion (Jerusalem) prys as God se woning. Dit volg egter nie die tipiese vorm van lofliedere nie. Vers 1 kan n loflied inlui (vgl Ps 8:1), maar verse 3 en 9-10 herinner aan sommige klaagliedere (veral Ps 42-43). Uitsprake van vertroue (soos in verse 12-13) kom ook soms aan die einde van klaagliedere voor. Die saligprysinge (verse 5, 6 en 13) is tipies van die wysheidspsalms (bv Ps 1, 112, 119, 127). As verse 9-10 nie uit die mond van die koning self kom nie, het ons met voorbidding vir die koning te make (vgl Ps 20, 132). Laastens toon die psalm ooreenkomste met Psalm 91.
Die psalm bevat dus verskillende vorme uit die n ryk psalmtradisie. n Mens kan hierdie vermenging van vorme beter verstaan deur aan die volgende situasie te dink: n Groep pelgrims nader Jerusalem om die loofhuttefees te vier. Moontlik stap die koning self vooraan op die laaste skof. Die loofhuttefees was n herfsfees wat verskeie dae geduur het en verskillende seremonies ingesluit het. God is gedank vir die afgelope oes en terselfdertyd is daar ernstig gebid vir die vroeë reëns, sodat die boere weer kon begin ploeg na die droë somer. Tussen die oestyd en die nuwe saaityd lê hierdie godsdienstige fees, wat ook vir Israelitiese boere hulle jaarlikse vakansie was. Op die fees sal die feesgangers dank- en lofliedere sing, in klaagliedere hulle harte voor God uitstort en priesterlike seënwense ontvang. Daar sal ruimte wees vir voorbidding en vir belydenisse van geloof en vertroue. Boonop sal plattelanders hulle verkyk aan die tempel en die tempelstad. Terwyl die pelgrims nog op pad is, sing hulle hierdie lied van verlange en verwagting.
Die psalm word deur verskillende geleerdes op verskillende maniere ingedeel. Die eenvoudigste is om te onderskei tussen twee hoofdele: vers 2-8 en vers 9-13. Binne hierdie hoofdele kan n mens dan verdere verdelings maak: vers 2-5 en vers 6-8; vers 9-10 en vers 11-13 (v 6 is eintlik n oorgangsvers wat twee onderafdelings aan mekaar haak). In hierdie skema begin en eindig die psalm met die lof van die tempel, wat as plek van God se teenwoordigheid skuiling, veiligheid en lewe bied. Die twee dele tussenin kyk terug met dank (v 6-8) en kyk vooruit met hoop (v 9-10).
Die verlange van vers 3 kry ons weer in vers 11. Beide verse praat van die hunkering om naby God te wees. Die teenwoordigheid van die lewende (lewegewende) God waarborg veiligheid en vrugbaarheid. Vers 4 vat albei hierdie elemente saam in die beeld van die nes, wat die plek is van veiligheid en van nuwe lewe. Vers 12a prys God as lewegewende son en lewebeskermende skild (die NAV verbloem die letterlike Hebreeus). Vers 5 prys die mense wat as t ware nes geskop het in die tempel, maar vers 13 herinner ons dat almal wat op God vertrou in hierdie geluk deel. Vers 5 praat van die weg van die pelgrim na die tempel en die geluk wat dit bring, maar vers 12b sê dat God die goeie gee aan hulle wie se lewensweg reg is (Die NAV verbloem die "wandel" in die Hebreeus).
In vers 6-8 kyk die pelgrims terug op hulle reis. Wat n swarigheid kon gewees het, het n seën geword. Die koms van die eerste reëns wys weer vir ons dat die lewende God vrugbaarheid gee. In die Ou Testament is die verandering wat reënbuie in n dorre land kan bring boonop n simbool van die omwenteling van verlossing (vgl Jes 41:17-20; Ps 126:4). Waar Jahwe is, is daar volheid van lewe op alle terreine. Dit gaan nie net om gewone gang van die natuur wat die reën bring nie. Die pelgrims, byvoorbeeld, "gaan van krag tot krag" (OAV), dit wil sê, in plaas daarvan dat hulle natuurlikerwys moeër word op die reis, word hulle al sterker hoe verder hulle gaan. Dit is asof God die sentrum is van n magneetveld wat hulle al sterker trek hoe nader hulle kom. Juis daarom is die pelgrims reeds seker dat hulle hul doel sal bereik.
Die verwysing na water en reën in verse 6-8, herinner aan landbou en vrugbaarheid; die verwysing na die gesalfde as skild in verse 9-10, herinner aan die regering en beskerming. As skild moes die koning nie alleen die volk teen vreemde aanvallers beskerm nie, maar ook die swakkes en armes teen uitbuiting beveilig (vgl Ps 72:2, 4, 12-14; Jes 11:4). Ook hier is die alledaagse die wortel van dieper verwagtings. Die koning moet elke dag vir reg en orde sorg, maar die ideale koning sal n heel nuwe wêreldorde bring. Nogtans kan die koning opsigself niks bereik nie. Selfs die koning leef en werk net vanuit die genadige aandag van God (v 10).
Soos ons gesien het, keer die laaste afdeling terug na die tema van die eerste afdeling, wat hier met nuwe vertroue en in n wyer konteks herhaal word. Die pad na die tempel is nie n doodloopstraat nie. Die pelgrims moet weer ander paaie ook loop. Maar die reis was nie verniet nie, want in die ontmoeting in die tempel leer ken die pelgrims God as son en skild, as getroue gewer van die goeie. In vertroue (v 13) leef hulle ook buite die tempel die gelukkige lewe van die "wat woon in u huis" (v 5).
Konteks
Toe die Amerikaanse digter Robert Frost gesê het: "A poem begins in wonder and ends in wisdom", kon hy van hierdie psalm gepraat het. Dit is jammer dat die NAV vers 2 begin met: "Hoe lief het ek u woning", in plaas van: "Hoe lieflik is u woning". Die ouer, meer letterlike vertaling, kry n beter greep op die verwondering waarmee die psalm begin. Dit bring boonop mooi na vore hoe die gewone aardse werklikheid en die geestelike in die Ou Testament nie los van mekaar staan nie. Natuurlik was die tempel lieflik op allerlei maniere; dit was, onder andere, ook n lus vir die oog. Diegene wat God wil beperk tot n enkele (sogenaamd geestelike) lewensterrein, onderskat die lewendigheid van God gruwelik. En diegene wat wil wegkom van die "aardse" om "dieper" waarhede na te streef, moet onthou dat ons nooit op aarde iets dieper as water, wyn en brood (doop en nagmaal) sal sien nie. God gebruik die gewone as tekens.
Hier, so lyk dit vir my, lê ons probleme met hierdie psalm. Die vraag is nie of ons geestelik genoeg is om soos die psalmdigter te smag na God se teenwoordigheid nie, maar of ons nie dalk te vergeestelik geword het om God se teenwoordigheid in nessies en waterstrome te ervaar nie. Immers, in die psalm roep ook die "vlees" (die aardse, verganklike aspek van menswees) luidkeels na God (vers 3). Dalk is dit so dat die hartstogtelike verlange na die tempel die noodroep is van mense wat n jaar lank in die sweet van hulle aangesig brood verdien het en nou n vakansie broodnodig het. Miskien het ons hier te make met kindertjies wat gil as hulle in Desember na n lang reis die see sien. Wat daarvan? Hoe miserabel uit voeling het ons met onsself en met God geraak, as ons hierdie verlangens en vreugdes verloor het. As ons klaar die wonder van waterpoele miskyk en ophou bid vir die reënboognasie wanneer ons die reënboog sien, kan hierdie psalm beswaarlik nog iets vir ons sê.
Fees en vakansie en vriendskap en fantasie is nie bloot dinge van die oppervlak nie. Hierdie dinge gaan dwarsdeur tot by die kern hulle vertel waarvoor ons eintlik gemaak is. Hoe meer ons n veilige, vrugbare nessie begeer, hoe duideliker word dit dat daar vir ons hier geen nes-skopplek is nie. Hoe dieper die verwondering aan water, hoe dorser word ons. Pelgrimstogte en feeste het, soos Tate sê, "surplus meanings". n Mens kan selfs sê hierdie psalm kyk vooruit na die voleinding, want dit herinner ons dat ons altyd pelgrims op weg na n fees is. Fees en vakansie is nie tydelike onderbrekings nie, maar ons eintlike doel en bestemming. As ons verstand dit nie meer vir ons sê nie, moet ons begin luister na ons "vlees" (natuurlik nie in die sin waarin Paulus die woord gebruik nie).
Fees en vakansie is daar waar die lewende God is, waar ons nie meer vir onsself skilde hoef te maak en te swoeg om lewe nie. "Pilgrimage ta Gods plae is a rituale of entery intog Gods ordening of reality and the conditions of human existence" (Mays). Daarom bly ons klein tempels en ons klein pelgrimtoggies daarheen ook belangrik. Die laaste reis is nie kerk toe nie, maar die kerk kan ons help onthou waarheen ons op pad is. Die kerk stel weer voor ons n ander "ordering of reality" een waarin, soos CS Lewis gesê het, "joy is the serious business".
Die psalm eindig in wysheid. Op aarde is dit nie altyd vakansie nie en onderbreek feeste die "gewone" gang van die lewe. Op die pad terug van die tempel af, moet die pelgrim weer pligsgetrou trap, gesteun deur vertroue eerder as aanskouing. Die wysheid van die tussentyd is om God te eer en af te wyk van die kwaad (Job 28:28; vgl Efes. 5:15-17). Die dissipline van dissipelskap en die alledaagse werk om te mag eet (2 Tes 3:6-12) geld nog vir ons. Nogtans was die oomblik van verwondering nie nutteloos nie, want daardeur is pligpleging weer in perspektief geplaas. Ons lewenspad gaan inderdaad deur plig en sleur en dissipline, maar ons lewens gaan nie daarom nie. Trouens, reeds nou is die lewende God ook buite die tempel besig om alles nuut te maak, om blote nood te omskep in barensnood en geboorte-blydskap. Vir hulle wat in verwondering voor God gestaan het, bars die getroue teenwoordigheid van God elke keer weer deur die nate van die alledaagse: die God van reënbuie en reënboë, van brood en wyn, tafel en bed, krip en kateder.
Verwondering wat nie in wysheid uitloop nie, bly wensdenkery. Dit is nie getrou aan hierdie aarde nie, maar ook nie getrou op die aarde nie. Wysheid wat nie wortels in verwondering het nie, bly vaskyk in dorre "werklikhede". Dit sien niks van God se belofte van veiligheid en vrugbaarheid raak nie. Omdat dit rigting verloor het, slaan dit maklik om in bitterheid en sinisme.
Preekvoorstel
Hoe groot die versoeking ook al mag wees, behoort hierdie psalm nie misbruik te word om te preek oor gereelde kerkbywoning nie. Die verlange na die tempel het min te make met die plig om die tempel te besoek. Om mense deur verwondering na wysheid te lei, verg n preek wat poëties eerder as prekerig is Die volgende riglyne mag help:
1. Al praat die psalm van die tempel en van die verlange na die tempel, gaan dit in die eerste plek om die teenwoordigheid van die lewende God, wat n son en n skild is. God staan in die sentrum. Juis die lewende God is egter "God van Jakob" en "my God", dit wil sê, die God wat my in my behoeftes en verlangens kom ontmoet. Om bloot teoreties oor die "teosentriese teologie" van hierdie psalm te praat, sal nie deug nie.
2. Daarom kan hierdie psalm sonder om af te dwaal praat oor reën en regering, ekonomie en politiek. As hierdie dinge nie hier ter sprake kon kom nie, was God nie die God vir ons aardse mense nie, maar n God vir engele. Die beelde van die nes, die son en die skild, kan help om hierdie deel van die preek uit te bou en te wys hoe diep ons behoefte aan vrugbaarheid en veiligheid is.
3. Natuurlik gaan dit nie om "blote" vrugbaarheid en veiligheid in die kruuste sin nie. Omdat dit God se wêreld is, is die dinge in die wêreld beide wat hulle is en meer as wat hulle is (brood, water, wyn). Ons het nie n "dieper" taal as die konkrete, aardse taal van digterlike simbole nie. Hier kan die prediker voorbeelde gee van hoe die Bybel op sleutelpunte van alledaagse simbole en beelde gebruik maak, juis om verby die alledaagse te kom.
4. Nou kan tempels, pelgrimstogte, feeste en vakansies (en hulle moderne ekwivalente) binne hierdie prentjie gebring word. Al het hulle geen absolute betekenis (los van die teenwoordigheid van God) nie, is hulle nogtans onmisbaar. Hulle gee vir ons n nuwe kyk op die lewe en bring weer die alledaagse binne die kragveld van die lewende God. Hulle is padwysers en voorskouings wat dit vir ons moontlik maak om wys te lewe.
5. Die slot kan n Nuwe-Testamentiese perspektief op hierdie psalm gee. Soos die ervaring van God se teenwoordigheid in die Ou Testament nie die aardse wêreld laat verdwyn nie, maar dit vul met groter betekenis, so trek die koms van Jesus geen streep deur die Ou-Testamentiese vroomheid nie. Inderdaad, mense leef nie van brood alleen nie, maar van elke woord van God. Tog het die Woord ook n liggaam gekry en nou word hierdie liggaam vir ons gegee as brood. Wat die psalm gesê het, kan ons met nog voller betekenis sê terwyl ons wag vir die voleinding.
Bibliografie
Anderson, A.A. Psalms II (NCB); Booijs, Th. Psalmen III (POT); Brinkman, J.M. Psalmen III (Tekst en Toelichting); Davidson, R. The Vitality of Worship; Jacquet, L. Les Psaumes et le Coeur lHomme II; Kraus, H-J. Psalmen 64-150 (BKAT); Mays, J.L. Psalms (Interpretation); Sabourin, L. The Psalms; Weiser, A. The Psalms (OTL); Cole, RL. The Shape and Message of Book Three (Psalms 73-89); Goulder, M.D. The Psalms of the Sons of Korah; Levenson, J.D. Sinai and Zion.