4 Januarie 2004
EPIFANIEfeesdiens
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks:
Psalm 72Ander tekste: Jesaja 60:1-6; Efesiërs 3:1-12; Matteus 2:1-12
Inleiding
Wat is Epifanie?
Dit is die fees van God se verskyning in Jesus van Nasaret (dus steeds Kersfees). Die woord "epifanie" beteken verskyning. Die tradisie van die fees kom uit die Oosterse Kerk. Christus se koms as Koning word op die eerste Sondag van die jaar gevier.
Die Heilige God word as Gewer van Lig gedank en geëer.
Ons proklameer: "Christus, die geopenbaarde Lig vir die ganse wêreld, is julle Koning."
Ons getuig dat Jesus se koms `n nuwe tydvak inlui.
Ons lofbetuiging word die grondslag van die geloof waaruit ons voor die wêreld sal leef.
Ons bely: Jesus se koms het sy kerk in sy wese algemeen, Christelik en heilig gemaak.
Ons geloof in Jesus word bevestig as God se konfrontasie met die daaglikse ervarings van onsekerheid, kwellinge en vernietiging.
Só begin ons jaar met `n bede van hoop.
Hoe word die fees gevier?
Jaar na jaar word dieselfde teksgedeeltes voorgelees. Die tekste vertel van die grootsheid van Jesus se koms, die erkenning wat Hy geniet het, die heiligheid van God en die wêreld se onheiligheid.
Kleure vir Epifanie moet vrolik en vol vreugde wees: oorheersend wit, goud en geel. Die Adventskrans (en ander simbole wat vir die Kerstyd gebruik word) behoort tot op hierdie Sondag behou te word. Waar gemeentes nie elke Sondag nagmaal vier nie, behoort hierdie Sondag beslis as nagmaalgeleentheid oorweeg te word. Ons verbondenheid aan Jesus in die nagmaal dien as `n vertrekpunt vir die vertroue waarmee ons die jaar aanpak.
Verhaallyn
Aangesien die psalm hierdie jaar die fokusteks is, word die gewone orde van Skriflesing verander sodat die psalm reg voor die preek gelees kan word. Deur die Matteusteks (die fokus van Epifanie) vroeg in die diens te lees, word daaraan `n prominensie gegee wat meebring dat die verdere Skriflesings betekenis aan die gebeure toevoeg.
Tema: Jesus se verskyning maak die lig van God se koninkryk sigbaar onder mense.
Ons word begroet met liedere en woorde wat ons herinner dat dit steeds die Kersgety is, die begin van die nuwe jaar in ons lewens. Ons sing weer daaroor.
Dan hoor ons die verhaal van die Wyse Manne se besoek (Matt.). Ons kom onder die indruk dat Jesus se geboorte wêreldwye impak het. Sy ster is simbool van die koers wat Hy aan mense van oral oor kan gee.
(Opmerking: Matt. is tradisioneel die ankerteks. Die wyses verteenwoordig die wêreld wat aan die Koning eer betoon. Hierdie woord roep die volkere weer op om Jesus te erken. Die kerk word terselfdertyd teen `n neiging tot eksklusiwiteit gewaarsku.)
By Jesaja hoor ons wat God lank tevore reeds aan Jerusalem beloof het. Daar sou Hy die Lig vir die wêreld opsteek. Ons sien met ons eie oë hoe seuns en dogters volgens Jesaja se belofte met vreugde na God gebring word om aan Hom te behoort. Ons sing weer daaroor want die lig wat Hy gebring het, skyn ook oor ons in Suid-Afrika. Dis `n lig wat nie uitgedoof word nie.
(Opmerking: Bediening van die doop behoort nie as `n losstaande, onverbonde item "aangelap" te word nie. Epifanie getuig dat Jesus die verbond met Abraham kom bevestig het deur gelowiges uit nie-Joodse volkere (soos ons) in te sluit. Let op die woorde van Jesaja: "jou seuns kom van ver af, jou dogters word met liefde gebring" (Jes. 60:4). Ook Ef. 3: "In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en met vertrou na God gaan" (v.12).)
Wat beteken die lig waarvan Jesaja gepraat het en waarna die Wyses kom ondersoek instel het? Ons verneem dat Psalm 72 meer daaroor te sê het. Ons lees en sing verse uit die psalm en verdiep ons in dinge wat God daarin openbaar maak.
Aan die Here se tafel lees ons uit Efesiërs 3. Die geheimenis van God word as `t ware voor ons oë verklaar en ons neem deel aan die band wat ons met Jesus bind – sy liggaam en bloed. Ons is dankbaar want ons weet: God is met ons aan die begin van die jaar en Hy sal tot aan die einde met ons bly.
Met `n lied in die hart gaan ons die nuwe jaar binne. Die koninkryk van Lig moet geproklameer word. God stuur ons as ligdraers.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Die gemeente word begroet met Kersmusiek en ’n kleurvolle kerkgebou waarin baie wit en goud sigbaar is. Wierook kan ook gebrand word.
Aanvangslied
Aanvangswoorde
Indien die aanvangswoorde voor die groet plaasvind, word dit deur ’n medevoorganger of deur ’n lidmaat voorgelees.
Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid.
Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans toe
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het. (Jes. 60:2-3)
Seëngroet
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: En ook met jou.
Voorganger: "Die heerlikheid van God skyn oor ons."
Gemeente: "Loof die Here."
Gemeentsang
Sing twee of meer liedere uit die rubriek vir Epifanie Lied 334 "God is Liefde"; Lied 336 "Dit is die dag deur God geskenk"; Lied 338 "Loof God, o Christen, Hy is groot"; Lied 340 "Kom ons loof die Christuskind"; Lied 351 "Kom verwonder julle, mense".
Skriflesing uit die evangelies
Matteus 2:1-12. Voorgelees deur `n lidmaat.
Gebed
Wonderbare en wyse God,
deur die lig van ’n ster het U eens wyse manne uit die Ooste gelei
om aan u Seun, Jesus, hulde te bring.
Lei ons ook deur die lig van geloof om u heerlikheid te aanskou.
Sang
Lied 369 "Ere aan God" – Die lied kan ook deur ’n sanggroep of kantory voorgedra word waarna die gemeente met Lied 368 kan respondeer.
DIENS VAN DIE WATER
Die diens van die water word by die doopvont hanteer al word daar nie kinders gedoop nie.
Liedere by die doop: Lied 478 "Op vaste fondamente" (v. 2 bring die gedagte van die volkere met die doop in verband) of Lied 293 "Jesus neem ons kleine kinders" (in aansluiting by die Jesajateks).
Inleidende woorde
Die wêreld is vol duisternis. Die duisternis is ook in ons harte. God het nog altyd beloof dat Hy die duisternis sal verdryf. Hy sal die wêreld se sondes kom skoon was. Luister weer hoe Jesaja die koms van die Lig beskryf het:
Skriflesing uit die Ou Testament
Jesaja 60:1-6
Oproep van doopouers
Ons het die voorreg om vandag te sien hoe die beloftes van God in Jesaja waar word. Kinders word met vreugde gebring omdat hulle aan God behoort. Haal Efesiërs 3:12 aan.
Geloofsbelydenis
Die geloofsbelydenis word saam met die ouers se beantwoording van die doopvrae hardop bely.
Gebed na die doop of as herinnering aan die doop
Ons Vader wat in die hemel woon,
voor U verdwyn die duister.
U het die duister in ons vernietig
deur ons saam met Christus in die dood te doop
sodat ons nou kan glo dat ons saam met Hom leef.
Ons bid:
Lei ook al die mense van hierdie land
en van die ganse wêreld
om in vrede met mekaar te lewe
sodat daar rustigheid en regverdigheid mag wees;
dat mense mekaar mag respekteer
en saam sal werk om alle euwels uit te roei.
Gee op aarde eerbied en liefde vir alles wat U gemaak het
en aan die mensdom toevertrou het;
laat ons die hulpbronne tot voordeel van almal gebruik
en tot die eer van u Naam.
Vertroos almal wat na liggaam en gees ly;
bring vir hulle hoop en moed in hulle swaar
en stuur aan elkeen ’n boodskapper
wat die vreugde van u verlossing bring (vgl. Ps. 47).
DIENS VAN DIE WOORD
Inleiding
Jesus het as Koning gekom. Psalm 72 skets die verwagtinge van `n koninkryk wat lig bring en nie duisternis nie.
Gebed om die opening van die Woord
Sang
Lied 190:3 "U, oor alles God en Hoof".
Skriflesing
Psalm 72
Na die Skriflesing kan die gemeente `n vers of twee van Psalm 72 sing.
Die respons op die preek kan ook in die vorm van `n lied wees, byvoorbeeld Lied 331 "Want so lief het God die wêreld gehad" van Chris Lamprecht.
DIENS VAN DIE TAFEL
Volg hier die voorstel van die basisliturgie vir Epifanie.
Efesiërs 3:1-3 word gelees in plaas van die geloofsbelydenis. Die gemeente word daaraan herinner dat die woorde van Efesiërs 3 op `n besondere wyse aan die nagmaaltafel uitgedruk woord. Indien daar nie nagmaal gebruik word nie, behoort die teks steeds gelees te word met verwysing na ons deelname aan die goddelike geheimenis in die nagmaal.
Die herinneringswoorde uit die Groot Dankgebed
Voorganger: In die nag waarin Hy oorgelewer is,
het Hy brood geneem,
en nadat Hy God daarvoor gedank het
dit gebreek en aan sy dissipels gegee en gesê:
"Dit is my liggaam; dit is vir julle.
Gebruik dit tot my gedagtenis."
Gemeente: As mens is U gebore,
Vir die mensdom het U gely en gesterf,
Ons ontvang u liggaam wat verrys het.
Voorganger: Net so het Hy ook na die ete die beker geneem en gesê:
Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is.
Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink tot my gedagtenis".
Gemeente: As mens het u bloed gevloei
As mens het U weer opgestaan.
In u bloed ontvang ons ons nuwe toekoms.
Maranata.
`n Alternatief vir die inroeping van die Heilige Gees wat by die teks van Efesiërs 3 aansluit:
Ons nader U vrymoedig en met vertroue,
o God,
omdat U Uself aan ons verbind het
en omdat ons in U glo.
Mag die wonder van u liefde vir ons, weer duidelik wees:
die onpeilbare rykdom van Christus
waardeur U mense wat voorheen uitgesluit was
nou deel gemaak het van u kerk
sodat U alle magte in die hemel en op die aarde
mag weet dat u Lig en vrede is
tot in alle ewigheid.
Amen.
Lofprysing
Lied 365:3 "Jesus, ware Vredevors"/NSG 20
uitSENDING
Oproep tot diens
(met aankondigings uit die bulletin)Lees Psalm 147:10-11 (as afsluiting van die oproep). Dit kan ingelui word met woorde soos: "Onthou, die Koning wat Lig bring in duister, vir Wie ons dien, werk deur ons soos Psalm 47 getuig:"
Sang
Lied 586 "Hef op jul hoofde, vromes." (Oor die wederkoms; met baie geskikte woorde om die verhaal van Epifanie verder te neem.)
Seën
Die Lam van God
wat die sondes van die wêreld weggeneem het
sal u gebede verhoor
en alles aan u skenk
wat u nodig het om te leef:
lewenskrag en vreugde,
hoop en goedheid,
wat mense verbind
om saam die pad te stap
van die een wat ons Lig is:
Jesus Christus,
vandag en tot aan die einde van die tyd.
Of
Mag die Here Jesus Christus
en God die Vader wat ons liefhet
vir elkeen ewige hoop gee
deur die werk van sy Gees.
Amen.
PREEKSTUDIE – PSALM 72
Teks
Waaroor gaan dit in dié Psalm? Wat is die tema van Psalm 72?
In `n eerste poging om die inhoud van Psalm 72 en die boodskap daarvan vir prediking in Epifanie te bepaal, suggereer opskrifte in verskillende vertalings van die Bybel dat dié psalm oor koningskap handel. Die opskrifte van die vertalings lê verskillende nuanses, maar die koningskap-tema word herhaal. Dit is `n gebed vir die koning dat hy lank mag lewe (NAV), as lied by `n spesiale geleentheid (kroonbestyging). Daarom beskryf die 1933-vertaling (Afrikaanse Bybel) dié psalm as kroningslied. Die New King James Version (NKJV) interpreteer dié psalm messiaans, as eskatologiese loflied: "Glory and Universality of the Messiah’s Reign." Psalm 72 is moontlik vir die kroning van `n Dawidiese koning gedig, maar verskillende ander geleenthede tydens `n koning se regeringstyd kon ook die loftaal van Psalm 72 inspireer: "At a birthday celebration for the king, upon the birth of the king’s heir, or on those rare occasions when the king made an official visit to one of his provinces with his royal brigade in tow" (Weems).
Weems tipeer Psalm 72 as koningspsalm op grond van die oordadige beskrywing van die Dawidiese koning as personifiëring van God se verteenwoordigende heerskappy op aarde. Ingebed in die denkraamwerk van die wêreld van die antieke Nabye-Ooste, waarvolgens gode hul doelstellings deur aardse konings verwesenlik, stel koninklike psalms soos dié een, die koning voor as bron van goddelike seën te midde van die nasie. Psalm 72 word as Israelitiese koningspsalm getipeer, met die klem op die wese of wesenlike taak van die koning. Dié taak is in die Ou Testament gelegitimeer deur die opvatting dat God die koning tot sy seun aangeneem het. Die taak word nader omskryf deur die opvatting dat hy per definisie God se gesalfde is (Van Uchelen).
Die teks self ondersteun koningskap as tema van Psalm 72. Die woord "koning" (Heb. melek) word in verskillende verbande gebruik. In vers 1 kom dié woord twee keer voor. Die NAV vertaal beide Hebreeuse uitdrukkings (melek en le ben-melek) hier as "die koning". Die 1933-vertaling (AB) het dit as "koning" en "seun van die koning". Die NKJV se messiaanse interpretasie skryf die Hebreeuse woord "ben" in die tweede uitdrukking met `n hoofletter (Eng: The king’s Son). Die woord "koning" verwys in dié vers na die koning vir wie gebid, of ter wille van wie die lied aan God opgedra word. In die ander gevalle (10, 2 maal; 11, 1 maal) verwys die woord "koning" na heersers oor wie dié koning sal heers, of heersers wat hom sal dien en vereer.
Vers 1 bevat nog twee woorde wat later in die psalm (2, 3, 4, 7) `n sentrale rol vervul, naamlik die woorde "geregtigheid" (Heb. sedáqáh, Eng: righteousness) en "regverdige oordeel" (Heb: mishpát; Eng: judgments). Hier verteenwoordig dié woorde wesenskenmerke van God en dien as beskrywing van sy karakter. Die bidder vra dat dié eienskappe van God ook as karaktertrekke van die koning sigbaar sal word, én die grondslag van sy regering sal vorm. Vers 1 bied `n beknopte inleidende samevatting van dié gebed of lied. Die Een (God) tot wie die versoek gerig word (Subjek van handeling), word hier aangekondig as "elohim". Twee dinge word van Hom gevra as afgeleide taak vir die koning: verskaffing van reg aan die sosiaal verdruktes in die land (2, 4, 12, 13, 14) en magsuitoefening oor die konings van die aarde (9, 10, 11, 17c, d) (Van Uchelen).
Van Uchelen onderskei vyf gedagte-eenhede in dié psalm. Strofe een (1b-4) lê klem op die karakter van die koninklike ampsbeoefening (reg doen aan die volk). Strofe twee (5-7) lê klem op die begeleidende omstandighede van die koninklike heerskappy (duursaamheid en vrugbaarheid). Strofe drie (8-11) handel oor die omvang van sy heerskappy en konings se onderdanigheid aan hom. Strofe vier (12-14) beskryf die koninklike ampsbeoefening as goddelike amp, met betrekking tot die versorging van behoeftiges. In die vyfde strofe (15-17) is die fokus op die koning self, sy verhouding tot die volke en die gevolge van sy heerskappy vir die land.
Die koningskap-tema word verder ondersteun deur die werkwoorde wat die optrede of taak van die koning beskryf. Hy sal red en bevry (4, 12, 13, 14). Hy sal regeer of heers (9). Hy sal ontferming betoon (13). Ook die werkwoorde wat die optrede van mense teenoor die koning beskryf, ondersteun die interpretasie van dié psalm as koningspsalm. Die mense sal hom vrees, of aan hom eerbied betoon (5). Mense sal voor hom neerbuig en die stof lek (9). Hulle sal voor hom neerval (11,12) en hom dien (12). Dié gebed word inderdaad gebid vir `n persoon met gesag en wat gesag afdwing – `n heerser of koning.
Die koningskap-tema in dié psalm kom ook ter sprake wanneer twee stelle karakters oor wie die koning sal heers, aangekondig word. Hulle is enersyds dié groep mense wat deur die koning se regering versorg en beskerm moet word (landsburgers), en andersyds dié oor wie sy gesag in breër verband uitgestrek word. Eersgenoemde groep karakters is die volk (Heb: am, 2, 3, 4), armes (Heb: ani, 2, 4, 12) en behoeftiges (Heb: ebjon, 4, 12, 13). Die motivering vir dié gebed (2) bring die wesenskenmerke van God (1) met dié groep karakters in verband. God se wesenkenmerke moet in die karakter van die koning weerspieël word, sodat sy beslissings oor die volk en die hantering van die verdruktes God se regverdigheid en geregtigheid vertoon. Die koning moet volgens God se wil teenoor verdruktes, armes en verdrukkers (Heb: awoshak) optree. Hy moet die reg van die verdruktes beskerm, die armes te hulp kom en verdrukkers verbrysel.
Die tweede groep karakters waaroor die koning sal heers, word aangedui as woestynbewoners en vyande van die koning (9), konings van lande en streke (Tarsis, die kuslande, Skeba en Seba, 10), alle konings en al die nasies (11). Selfs die natuur (berge en rante) sal hul verbly oor die karakter van die koning, omdat hy vrede (Heb: shalóm ) en reg (Heb: tsedek ) vir die volk bring (3). Die regverdige optrede van die koning word beskryf met behulp van `n beeld uit die natuur (6), waar reën en water die aarde voed. So moet die koning vir sy mense wees. Hierdie tweede groep karakters sal die koning dien (9, 11), voor hom buig (11), vir hom geskenke bring (10, 15) en aan hom belasting (10) betaal.
Van Uchelen wys op Psalm 72 se dubbele perspektief; `n messiaanse perspektief op die toekoms, met die verwagting van `n ryk waarin heil en vrede op die hele aarde sal heers, asook `n terugblik op die verlede, waarin die goue eeu van koning Salomo se ryk in herinnering geroep word. Vers 6-11 bevat `n versugting van die bidder se toekomsverwagting, met die samevatting (11): "Mag alle konings voor hom buig en al die nasies hom dien." Dié twee perspektiewe op ons psalm bring die geloof waarmee die Kerk in Epifanie leef, na die oppervlak. Die toekomsvisie vestig die oog op die Seun van God, wie se geboorte op Kersfees herdenk is, én wie se teenwoordigheid op aarde beleef word. Die terugblik op die verlede herinner aan God se betrokkenheid in die geskiedenis én sy beloftes vir die toekoms, gebaseer op sy betroubaarheid.
Konteks
Die naam van die koning vir wie in dié psalm gebid word, word nooit genoem nie, terwyl die politieke omstandighede uiters vaag bly (Van Uchelen). Dié opmerking van Van Uchelen bring `n eerste konteks waarop ons psalm toegepas kan word, ter sprake; die politieke en sosiale konteks waarbinne konings en leiers hul mag beoefen. Die vaagheid van die gebed (Van Uchelen) gee aan Psalm 72 `n oop karakter wat dit moontlik maak om dié gebed in nuwe tye en omstandighede te bid. Dit skep die geleentheid om die leiers van ons tyd en politieke omstandighede van die jaar 2004 in gedagte te roep, sodat God se seën en heerskappy oor sy kerk en die nasies afgebid kan word.
Terwyl dié preekstudie geskryf word (Mrt. 2003), is die oorlog in Irak aan die gang. Psalm 72 se gebed vir `n aardse koning in wie se ampsbeoefening God se karakter sigbaar moet word, roep die name van die twee leiers in dié oorlog op – presidente Bush (VSA) en Hoesein (Irak). `n Vriend skryf op 19 Maart 2003 uit Boston in die VSA, waar hy `n referaat by `n konferensie moet lewer, dié boodskap: "Bykans op die uur dat ek begin praat op 20 Maart om 16:00, beplan die VSA sy aanval in Bagdad, as die Vader in die hemel ons nie van die oorlog behoed nie. Ek is self diep benoud oor die tragiese ontwikkeling. Laas jaar al het prof Dirkie Smit my vertel hoe erg die koors hiervoor in die VSA opgejaag is. Die Amerikaners hier is merendeels vir 'n patriotiese bystand van hulle troepe in die oorlog, maar daar is ook baie sterk en prinsipiële opposisie op vele vlakke. Mense vra of ons dan nie behoorlik kan dink en debatteer voor ons doen nie?"
Die aanvanklike interpretasie van die aanval op die World Trade Center in New York (11 Sept 2001), as sou dit `n stryd tussen die Christendom en bose magte verteenwoordig, word nie meer maklik aanvaar nie. Alle Christene aanvaar nie sonder meer dat die VSA in dié oorlog die regverdige saak van God verteenwoordig, en Irak die bose magte (spesifiek Islam) nie. Groot getalle Christenleiers oor die wêreld heen kritiseer mnr. Bush en die Geallieerde Magte vir die besluit om Irak binne te val. Binne die VSA self is daar toenemende kritiek teen mnr. Bush. Tydens die jaarlikse Oscar-toekennings vir die Amerikaanse filmbedryf (24 Mrt. 2003), het verskillende ontvangers van dié toekenning hulle teenkanting openlik uitgespreek. Binne dié konkrete politieke konteks en die name van spesifieke leiers, word predikers in Epifanie met Psalm 72 se gebed vir `n koning gekonfronteer. Kan die kerk nog bid dat God se regverdige oordeel en geregtigheid sigbaar word in die ampsbeoefening van `n Christen-politieke leier?
Die politieke mag van dié koning word egter gerelativeer as besef word dat Psalm 72 `n gebed is. Vers 1 tipeer die aard van dié psalm as voorbede tot Jahwe die God van Israel (18) ten behoewe van die koning (Van Uchelen). Die saak van die koning word aan `n hoër gesag opgedra, in die vorm van `n aantal bedewense, met spesifieke verwysing na sy ampsbeoefening. Die bedewense fokus op verskillende aspekte van die koningsamp: sy koninklike heerskappy (2a, 4a, 12a, 13a, 14a), die gevolge van sy heerskappy vir volk en land (3a, 4c, 5a, 7a, 8a, 16a, 16d), en die houding van konings en volke teenoor sy heerskappy (9, 10, 15b, 17c, d). Vir dit alles is hy van God afhanklik, asook vir sy lewe (15). Dié perspektief is belangrik vir die prediking. God is die absolute gesag aan wie die koning verantwoording verskuldig is. Dié perspektief beklemtoon ook die rol van die volk of geloofsgemeenskap as `n biddende gemeenskap.
Die koning se optrede as regeerder oor die volk en sy onkreukbare karakter in die uitvoering van God se wil het ten doel dat die mense vir God moet dien (5). Die koning moet mense op God rig, want hul skeppingsdoel is om God te dien. As die koning regeer soos wat God wil, sal die mense self ook hul doel bereik. Juis daarom moet vir die koning gebid word (15) en moet die volk die koning gedurig aan God opdra. In dié verband beklemtoon die gebed vir die koning die priesterlike amp van die gelowige. Gelowiges behoort vir hul leiers by God in te tree en vir hulle voorbidding te doen. Die koning van ons psalm het krag en ondersteuning van God nodig om volop graan vir die land te verseker (16) en `n naam te bou wat altyd onthou sal word (17). Net so is elke leier van God afhanklik vir wysheid en regverdige leiding.
Die gebed tot God gee erkenning daaraan dat God die absolute koning is en dat die koning van Israel in afhanklikheid van God die Here, die God van Israel, regeer. Dié perspektief belig `n kritiese element wat die profetiese amp van die gelowige bidder ter sprake bring. Die koning se optrede moet in die lig van sy afhanklikheid van en onderdanigheid aan God beoordeel word. Die profetiese amp van die gelowige roep die gelowige bidder op om die koning (leiers) aan God se karakter en wese te herinner. Wie anders kan die Christenleier aan God se wil herinner?
In Epifanie is die koningskap-tema natuurlik belangrik. Die opskrif by dié psalm in die vertaling van die NKJV maak sin binne die konteks van die aard en bedoeling van Epifanie: "Epiphany celebrates the manifestation of our Savior’s glory in the ordinary here and now of human existence" (Weems). Deel van die verwagting van Epifanie bestaan daarin dat die verskyning van ons Here gepaard sal gaan met `n glorieryke vertoning van sy verlossingsmag. Dit is die konteks van die kerklike jaar waarbinne ons op dié Sondag Psalm 72 lees en oordink. Die heerlikheid van Christus moet in dié werklikheid sigbaar word, ook in die koninklike amp van die gelowige. Die Christen wat verantwoordelikheid aanvaar vir die versorging van God se skepping, beklee saam met Christus die posisie van koningskap in terme van God se koninkryk. Wie dié roeping verstaan en die ampsposisie uit God se hand dankbaar aanvaar, kan nie anders as om die Verlosser van ons lewe in dié wêreld te verheerlik en sy teenwoordigheid hier sigbaar te maak nie.
Die gebed en erkenning van die koning se afhanklikheid van God bring `n draaipunt in die psalm, en word `n loflied tot God die Here, die God van Israel (18). Dit is Hy wat die magtige dade doen. Daarom moet sy Naam altyd geloof word (19). Dit roep weer vers 11 in herinnering waar die toekomsvisie van die bidder saamgevat word: "Mag alle konings voor hom buig en al die nasies hom dien." Nou is die klem op God as koning. Die aardse koning wat regverdig regeer se naam sal wel onthou word, maar dan net in afhanklik van en in verhouding tot die God van Israel. Die grond en perspektief vir die beskrywing van die koningskap is met God se koningskap gegee, en word geprojekteer op die menslike koningskap oor die volk en land van Israel (Van Uchelen).
In Epifanie open Psalm 72 nuwe insigte tot die lewe: "Epiphany allows us to journey into the new year beholding from different angles what it means that Christ was born in the world." Die historiese ontwikkeling van die betekenis van die woord "epifanie" help om die interpretasiegeskiedenis van Psalm 72 as messiaanse psalm, beter te begryp, asook die toepassing van dié psalm vandag, in `n poging om die vraag te beantwoord wat dit beteken dat Christus in die wêreld gebore is. Die woord "epifanie" is oorspronklik in die Grieks-Romeinse wêreld gebruik as aanduiding van die amptelike staatsbesoek van `n koning of heerser aan `n stad van `n provinsie, veral in gevalle waar die koning homself aan die burgers wou bekend stel. Die vroeë kerk het dié woord geleen en toegepas op Jesus se vroegste verskyning in die wêreld as Goddelike Redder, wat hoofsaaklik plaasgevind het in die tyd van sy geboorte (Weems).
Preekvoorstel
Müller (WtL I/7) stel voor dat Psalm 72 vir twee agtereenvolgende Sondae in Advent onder twee punte gebruik word: Waar is die Koning? En: Waar is Gods koninkryk in hierdie wêreld? Vir die eerste voorstel stel Müller die vraag: Waar is die koning van die Jode? Hy argumenteer dat Psalm 72 sê wie God se vreemde koning is. Ongelukkig is dié Koning van die Jode vandag in ons samelewing nog altyd incognito. Die tweede voorstel begin met die vraag: Waar is die koninkryk van hierdie Koning? Is dit ook incognito? Müller antwoord dié vraag negatief: Nee! Psalm 72 sê die koninkryk van God is daar waar die Koning is, waar sy Naam deur nasies geroem word, waar die kerk sy geslote ruimtes vir die magtige dade van God open, sodat die wêreld van sy lof kan vol word.
Hieronder is `n preekvoorstel met die klem op voorbidding vir die koning, en toegepas word op die jaar wat voorhande is, terwyl die rol van die voorbidder as priester-koning ter sprake kom. Binne die konteks van Epifanie kan dit by Müller se gedagtes aansluit: Waar is die Koning? en: Waar is Gods koninkryk in dié wêreld?
Die Bybel praat dikwels oor ons verhouding tot die owerhede. Jesus leer sy dissipels (Matt. 6:10) om te bid dat God se koninkryk kom, en sy wil ook op die aarde geskied. Paulus leer die Romeine (hfst. 13) dat elke mens onderdanig moet wees aan die owerhede oor hulle. Petrus moedig die gelowiges in Klein-Asië aan (1 Pet. 2:17) om God te vrees en die keiser te eer.
In Psalm 72:1 bid die gelowige Israeliet dat God die koning moet leer om volgens sy wil te regeer.
Daarom die vraag: Hoe bid ons vir die owerhede van ons land en die wêreld?
Is wat die Bybel oor die verhouding tot die owerhede sê, nog in die jaar 2004 van toepassing? Kan ons ook tot God bid dat die owerhede volgens sy wil regeer? Wat vra jy van God wanneer jy bid?: Laat u koninkryk kom! Laat u wil ook op die aarde geskied! Wat beteken dié woorde?
Psalm 72 is 'n gebed van God se biddende volk – baie konkreet – vir die nuwe koning. Hulle bid dat hy volgens God se wil sal regeer, dat die koning in sy regverdige optrede vir God in Israel teenwoordig sal stel; Hom sal verteenwoordig.
Psalm 72 is 'n politieke gebed, maar dan nie "politiek" in partypolitiese sin nie. Die woord "politiek" is 'n omvattende beskrywing van die gemeenskapslewe en -organisasie. Politiek het te doen met hoe menslike lewe georden word. Vir die gelowige Israeliet het die gebed om die koms van Gods koninkryk beteken, dat God sal regeer! Ook op die aarde!
Die OT volk van God het nie onderskei tussen politiek en godsdiens nie. Die geregtigheid van God moes ook in die strukture en verhoudinge van die samelewing sigbaar word. Geloof in God en gedrag in die wêreld (etiek) moes pas. Die koning as verteenwoordiger van God in Jerusalem moes sorg dat God se geregtigheid in elke lewensverband waar word.
Die bidder van Psalm 72 bid vir 'n koning wat aan dié vereistes voldoen: God se koningskap erken; God se wil soek en doen; God onder die mense verteenwoordig; die reg handhaaf en regverdige beslissings vel.
Dié psalm het die karakter en kenmerke van 'n voorbede; 'n gebed tot die Here van Israel ten behoewe van die koning, wat veral betrekking het op die uitoefening van sy amp. Die bidder vra dat die Here die koning moet leer wat dit beteken om as koning van die Here oor die land en sy mense te regeer; wat die gevolge van sy regering vir volk en land inhou; wat die houding van ander konings en volke teenoor dié koning van die Here behoort te wees.
Wat sou dié gebed vir Suid-Afrika aan die begin van 2004 beteken? Kan ons dié gebed ook vir president Mbeki bid? En vir mnr. Bush? En vir oudpres. Hoesein?
Kersfees het ons aan God se Messias-koning herinner. Jesus Christus is die Here! In Hom het God se koninkryk, sy heerskappy oor alle dinge, sigbaar geword. In Matteus 2:2 vra die sterrekykers uit die Ooste: "Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?" As Jesus sy aardse bediening in Galilea begin, kondig Hy aan: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom" (Mark 1:15). In Markus 15:2 vra Pilatus vir Jesus: "Is jy die koning van die Jode?" Toe Jesus aan die kruis sterf, sê ’n Romeinse offisier (Matt. 27:54): "Hierdie man was werklik die Seun van God."
God se koninkryk het aangebreek. Daarom behoort ons te bid dat dit ook onder ons sigbaar word. Dat die owerhede van ons land en die wêreld inderdaad volgens God se wil sal optree en regeer.
Maar ons moet self ook God se wil sigbaar maak. Petrus (1 Pet. 2:9) skryf vir die gelowiges in Klein-Asië dat hulle ’n koninklike priesterdom is: Heersers en bidders. Wat ons vir die owerhede bid, moet ons self ook uitleef. God se koninklike priesterdom moet sy verlossingsdade verkondig. Die gebed vir die koning is 'n gebed om die koms van God se koninkryk, ook in ons lewe.
Daarom sluit Psalm 72 met 'n loflied aan God – Hy is die koning! Geloof sy God die Here, die God van Israel. Dit is net Hy wat magtige dade doen! Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word. Mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit.
Mag God die leiers in die nuwe jaar inspireer om vir die mense van ons land en die wêreld `n voorbeeld te wees van die leierskapstyl van God se Messias-koning. Mag ons gebede vir die leiers ons oë open vir ons eie rol as God se koninklike priesterdom.
Bibliografie
Brueggemann, W 1984. The Message of the Psalms; Kraus, H J 1986. Theology of the Psalms; Müller, B A 1990. Psalm 72:1-19, in WtL I/7, 19-31; Van Uchelen, N A 1977. Psalmen deel III. POT; Weems, R J 2000. The Season of Epiphany, in New Proclamations (YearC, 2000-2001), pp. 69-70, 74.