29 mei 2003

HEMELVAART – feesdiens

liturgiese voorstel (1)

Fokusteks: Psalm 47

Ander tekste: Handelinge 1:1-11, Efesiërs 1:15-23; Lukas 24:44-53.

Inleiding

Die hemelvaart van Jesus is 'n baie vreemde troos vir die Here se mense. Vir ons dag is dit omtrent belaglik om dit regtig te glo. Luister maar na die volgende:

"Reeds meer as negentien honderd jaar, het 'n sekere Jesus ten hemel gevaar.

Maar volgens die ruimtemanne - meld persburo Tass - is dit duidelik dat dit maar net 'n sprokie was".

Maar nou, dit is eintlik nie so uitsonderlik nie. In Efesiërs 1 bid Paulus ook maar vir wysheid en oë wat vir hierdie heilsdaad van God geopen moet word. En in Handelinge 1 moet twee engele kom om die volgelinge van Jesus se oë oop te maak. Niemand glo sommer maar vanself in Jesus se hemelvaart nie. Maar wat laat God ons in die Hemelvaart volgens Paulus ontdek: Jesus se hemelvaart is nie 'n verdwyning nie, maar sy nuwe verskyning en teenwoordigheid op aarde. Vergelyk die simboliek van die wolk [God se teenwoordigheid] Handelinge 1. Maar dit is nog duideliker uit Efesiërs 1 dat Jesus se hemelvaart sy Heerskap op aarde in alles bevestig. [Aan die regterhand van God]. Christus is in volle beheer van alles, oral. Dit is 'n vreemde troos. Ons sien niks daarvan en tog glo ons God beheer alles tot in die fynste detail. Nie 'n haar van ons kop val buite sy beheer nie. Niks is van nou af meer toevallig nie, sê Hemelvaart. Christus in totale beheer, maak ons elke dag uit beheer. Kyk weer na die Efesiërs gedeelte. Dit is God se mag wat in ons uitgeoefen word. Dit beteken totale oorgawe. In hierdie sin maak Hemelvaart ons heeltemal broos, in totale afhanklikheid van God. Ons word voortaan deur God in Christus gelei, waar ons nie wil wees nie, maar waar Hy wil. [Joh 21] Elk van hierdie aspekte van Hemelvaart word nou in die liturgie hieronder gevier.

Let wel, die prediking word volgens hierdie liturgie soos volg gedoen: Nadat die eerste aspek van die prediking afgehandel is [byv "waarom Hemelvaart"], antwoord die gemeente met die betrokke lied. Daarna volg die tweede aspek van die preek en antwoord die gemeente met die lied en so voort tot die einde.

God vergader ons voor Hom

Die gemeente antwoord God omdat Hy ons voor Hom vergader het, staande

Taize 48 x2

Sing almal halleluja!

Sing lof en eer aan God

Sing eer en halleluja

Sing lof en dank aan God.

of

Lied 425: 1-4

Aanvangswoord/votum

Psalm 47 verwerk

Voorganger: Almal klap julle hande, juig tot eer van God met 'n jubelende stem, want aan die Here, die Allerhoogste kom eerbied toe.

Gemeente: Christus het na die hemel opgevaar.

Voorganger: Hy is die Groot Koning oor die hele aarde.

Gemeente: Christus het na die hemel opgevaar

Voorganger: Hy het almal aan Hom onderwerp, almal aan Hom onderhorig gemaak.

Gemeente: Christus het na die hemel opgevaar

Voorganger: Die Here gaan op terwyl die trompette blaas.

Gemeente: Christus het na die hemel opgevaar.

Voorganger: Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning. God is koning oor die hele aarde,

sing vir Hom 'n lied, want Hy is Koning oor almal

Gemeente staande: Lied 191:1,2/NSG 10

Grote God, ons bring U eer, ons aanbid U Koning Heer.

U kom toe die lof alom – U wat was, wat is, wat kom.

Voor U buig die skepping neer – U wat ewig sal regeer.

Om u troon bring eng'le eer: Heilig, Heilig, Heilig, Heer!

Hier op aarde word 'n lied deur die eeue aangebied:

Die getuies van u Naam, jubel in hul lofsang saam.

Seëngroet

Genade en vrede vir julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon en van Jesus Christus, die geloofwaardige Getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het. [Openb 1:4]

Gemeente groet mekaar met die seën van God

Gemeente antwoord staande

Lied 427:1

Alle volke loof die koning!

oorwinnend gaan Hy na sy woning,

in goddelike majesteit.

Op 'n wolk voor mense oë,

onpeilbaar deur die hemelboë

vaar Hy omhoog in heerlikheid.

Aan God se regterhand

hou Hy sy werk in stand.

Loof die Koning!

Buig voor Hom neer,

bring aan Hom eer:

Oorwinnaar, Redder, Christus -- Heer!

Diens van die woord

Gebed om die opening van die Woord/ Epiklese

Die Bybel

Handelinge 1 en Efesiërs 1:15-23

God se Woord vir vandag/prediking

Waarom Hemelvaart en hoe dit ons raak?

Gemeente antwoord

Lied 429: 1,2,3,5/NSG 128 [vreemde troos]

Die volgende aspek van die prediking

Hemelvaart en ons totale afhanklikheid van sy heerskappy

Gemeente antwoord

Lied 308:1,2 ,1/NSG 260 [Ons toewyding]

Die volgende aspek van die prediking

Hemelvaart en ons broosheid. U wil nie ons s'n nie

Gemeente antwoord

Lied 505:1,2,3/ NSG 161 [Ons broosheid]

Tafelherinnering

Sy liggaam en sy bloed

Herinneringsgeleentheid [sien Basisliturgie vir Koninkrykstyd]

Dink na hoe die liggaam en die bloed van Christus hier voor ons sy teenwoordigheid, sy heerskappy, sy sorg in detail, sy broosheid in die navolging van die wil van sy Vader vir ons teenwoordig maak.

Dankgebed

[Behoort liefs nie deur die dominee-voorganger gedoen te word nie, maar iemand uit die gemeente]

Here in u hand verander die wêreld.

U sê: Ek is die opstanding en die lewe!

En alles verander voor ons oë.

Ons aarde, plek van haat, word u ryk,

u werkdomein.

In mense, in hul dwaasheid en armoede

sien ons die toekomende heerlikheid van u skepsels.

Ons vreugde wat so gou verbygaan,

word vir ons die begin van ewige vreugde;

ons oomblik van geluk

word die teken van ewige oorvloed en vryheid.

Die dood is nie ons verlosser nie,

want hy maak 'n end.

U is ons Verlosser,

U wat ons ewige begin is.

Van U Here, ontvang ons lewe,

selfs waar die dood regeer,

om hier, waar alles tot 'n einde kom

die oorvloed van die lewe te bewerk.

U lewe, U het opgestaan

en oorwinnend opgegaan.

Amen

[Uit Pad na gebed, Jörg Zink, verwerk]

uitsending

Handelinge 1:10-12

Die volgelinge van Jesus het stip na die hemel bly kyk omdat hulle Hom nie meer kon sien nie. Twee engele in spierwit klere moes hulle oë toe van die hemel wegdraai na die aarde [lewe] toe: Waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel opgeneem is, sal net so terugkom, soos julle Hom na die hemel sien opgaan het! Daarna het hulle na Jerusalem [die lewe] teruggegaan ….

Gemeente staande

Lied 280:1 en 3

Seën

Amen

Lied 314/NSG 355/356

 

LITURGIESE VOORSTEL (2)

Fokusteks: Psalm 47

Ander tekste: Handelinge 1:1-11; Efesiërs 1:15 – 23; Lukas 24:44-53

Inleidend

Dit sal die liturgie vir vandag se feesdiens pas om die liturgiese kleure van wit (vreugde,vrede) en goud (oorwinning) ruim, opsigtelik en kreatief plek te gee. Selfs in hoë (meters) dimensies sodat die erediensgangers daarna kan opkyk (soos ‘n wit wolk, wat die teenwoordigheid van God uitbeeld). Die liturg lei vandag ‘n feesdiens – soos die tekste ook van spreek wat vra na feestelike liggaamshoudings, gesigsuitdrukkings en deelname.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/votum

(Aan die hand van die Taizé-lied: "Kom en vul ons met vrede. U alleen o Heer is heilig. Kom en vul ons met vrede. Hallel-u-ja")

As die Liturg musikaal selfvertroue het – kan sy/hy dit sonder – of met ligte begeleiding sing. Andersins kan dit in beurtspraak afloop of beide:

Voorganger: Here – kom en vul ons met vrede

Gemeente: Want U alleen, o Heer, is heilig

Almal: Halleluja ! Amen

Seëngroet

(Aan die hand van die ander tekste Lukas 24:50 en Handelinge 1:8)

Vriende – maak julle oë toe en sien met jou geloofsoë hoe Jesus sy hande ophef … – soos wat hy gedoen het voordat hy opgevaar* het na die hemel – en jou seën met die woorde: "Geseënd is jy want die "’’Heilige Gees sal oor jou kom."

Lofprysing

Lied 547

Lied 422/NSG 113

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/Epiklese

Lukas 24:45 (deel van ander teks) spesifiek kan in hierdie gebed verbatum gebruik word. :46 "Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan "

Bybel en Boodskap

Psalm 47

Lofrespons

Lied 411/NSG 112

Gebed

uITSENDING

Sang

Lied English and other texts 10 ["Joy to the World" of Lied 201/NSG 13 (verkieslik met addisionele vokale sangleiding)

Seën

Efesiërs 1:18,19 – ander teks

Mag Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Amen

Sing Lied 314/NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE – PSALM 47

Teks en konteks

Psalm 47 word dikwels as teks vir Hemelvaartdag gebruik. Die rede is duidelik: dit is 'n loflied op die koningskap van God: "Hy is die Groot Koning oor die hele aarde" (v 3b). Met Christus se hemelvaart bely die kerk dat Christus opgevaar het na die hemel en dat Hy aan die regterhand van God sit – 'n posisie van heerskappy.

Daar is verskeie moontlikhede vir die ontstaan van hierdie tipe lofpsalm aan God as koning. Odendaal skryf hieroor uitvoerig in Woord teen die Lig II/4. Dit is moontlik dat die soort psalms vir 'n historiese geleentheid geskryf is, byvoorbeeld die inwyding van die eerste tempel. Of dit mag dalk uitdrukkings wees van 'n geloof dat God eendag in die toekoms sy Koningskap oor die ganse aarde sal sigbaar maak. In so 'n geval is Palm 47 'n uitdrukking van 'n eskatologiese verwagting. 'n Derde moontlikheid is dat Psalm 47 gesing is by die jaarlikse viering van die Joodse Nuwejaar – by 'n kultiese seremonie in die tempel, waar God se troonsbestyging jaarliks gevier is.

Dit is ook natuurlik moontlik, selfs waarskynlik, dat Psalm 47 in al die kontekste gefunksioneer het, moontlik is dit die eerste keer by 'n historiese feesgeleentheid gesing, maar toe telkens weer, by enige van Israel se baie feeste. Die belangrike punt om in te sien is dat by meeste van hierdie geleenthede, daar op 'n eskatologiese manier oor God se heerskappy gesing is. By meeste van die geleenthede toe Psalm 47 gesing is, was die feitelike situasie nie so dat dit vir almal in die wêreld duidelik was dat Israel se God oor die wêreld geheers het nie. Die naaste wat daaraan gekom is, was moontlik by 'n geleentheid soos die inwyding van Salomo se tempel. Vir 'n kort rukkie kon 'n Israeliet toe wel gedink het dat sy land in die Midde-Ooste die toon aangee. By die meeste geleenthede daarna, by die Nuwejaars- of ander feeste, was dit vir die objektiewe waarnemer hoegenaamd nie duidelik dat Israel se God "die Groot Koning oor die hele aarde" is nie (v 3).

By die uitleg van Psalm 47 is dit uiters belangrik om dié feit te onthou. Die tempelkoor sing dus nie uitgelate oor God se heerskappy omdat hulle dit aflei uit hulle omstandighede nie. Al die volke word nie opgeroep om met jubelende stemme tot eer van die Here te juig omdat Israel so voorspoedig is nie, of omdat die groot wêreldmagte Egipte, Assirië of Babilonië tot 'n val gekom het en alle nasies Israel as supermoondheid erken en probeer om in haar goeie boekies te kom nie. By meeste van die geleenthede wat Psalm 47 gesing is, het nie een van hierdie dinge pas vantevore gebeur nie. Selfs wanneer die psalm die Here loof omdat "Hy…volke aan ons onderwerp" het (v 4), verwys die psalm nie na Israel se suksesvolle magspolitiek van die oomblik nie, maar na die uittog uit Egipte en die intog in die beloofde land – dit wil sê, aan God se reddingsdaad in die geskiedenis: "Hy het ons besitting vir ons uitgekies, die pragtige land van Jakob, wat Hy liefhet" (v 5). Die tempelkoor sing oor God se heerskappy, nie omdat dit duidelik af te lei is uit dit wat op daardie oomblik in en rondom Israel gebeur nie, maar ten spyte daarvan.

Die belangrikste punt vir die verstaan en uitleg van Psalm 47 is dat die taal van die psalm geloofstaal is, en nie 'n beskrywing van 'n ervaarde werklikheid nie. Dit word uiteindelik die punt van die preek.

Psalm 47 is nie 'n oorwinningslied oor 'n oorwinning wat so pas behaal is nie, maar 'n geloofsuitspraak dat God ten spyte van die huidige omstandighede, steeds oor die wêreld regeer – en 'n geloofuitspraak dat Hy in die toekoms eendag wel sy koninkryk ten volle sal laat kom. Die kerugmatiese Sitz im Leben van Psalm 47 is nie die feesvieringe in Mei 1945 op Trafalgarplein oor die kapitulering van Duitsland nie, maar eerder die somber lesinglokaal in die Universiteit Bonn in 1946, toe Karl Barth onmiddellik na die oorlog na sy ou universiteit teruggekeer het om vir 'n semester lank klas te gee oor die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hy skryf self hieroor in die inleiding tot sy Dogmatics in Outline – daardie lesings wat met snelskrif opgeskryf en later in boekvorm uitgegee is: "Hierdie lesings is gegee in die semi-ruïnes van dit wat eens die statige keurvorspaleis in Bonn was, en waarin die universiteit later ingerig is. Ons het elke oggend om sewe uur begin, na ons eers, om onsself op te beur, 'n gesang of psalm gesing het. So teen agtuur het die bouers se geraas in die vierkant ons herinner aan die oorlogsrommel wat nog opgeruim moes word… In die gehoor was teoloë, maar die grootste deel was studente van ander fakulteite. Die meeste Duitsers van daardie tyd het baie swaargekry en moes baie deurmaak – elkeen op sy eie manier. Ek kon sien dat die studente van Bonn dié soort ervaringe geken het. Met hulle ernstige gesigte, wat van vooraf moes leer om te glimlag, het hulle 'n groter indruk op my gemaak as ek op hulle. Ek was die vreemdeling en oor my is ou skinderstories van die ou dae (toe Barth professor in Bonn was, voor hy deur die Nazis na Switserland gedeporteer is) vertel. Vir my was dit 'n onvergeetlike ervaring. Toevallig was dit my vyftigste semester. En toe dit verby was, het ek gevoel dat dit vir my die beste ooit was."

In dié lesings praat Barth aangrypend oor die geloofsartikel "Ons glo in Jesus Christus… opgevaar na die hemel." Die geloofsbelydenis, sê Barth, stuur duidelik op 'n doel af - dit wil bely oor wat die doel van Christus se koms is. Die belydenis kyk vorentoe, die toekoms in. Maar dit alles is gebou op die onbeweegbare stene van dit wat reeds, in die verlede, in Christus gebeur het; Hy wat ontvang is, gebore is, gely het, gekruisig is, gesterf het, begrawe is, ter helle neergedaal het, opgestaan en opgevaar het. Dan word ons skielik met die hede gekonfronteer: "en sit aan die regterhand van God". Nou besef ons dat ons in die hede, in ons eie tyd, is, sê Barth: "Die heilsfeit het nou deel van die wêreldgebeure geword." En die tyd waarin ons nou lewe is 'n tyd waar God se heerskappy oor die wêreld nie altyd duidelik is nie. Om die waarheid te sê, wanneer ons met 'n analitiese oog na die wêreld rondom ons kyk, is dit dikwels moeilik om God se heerskappy raak te sien. 'n Hemelvaartdiens se funksie is om ons geloofsoë te open, sodat ons verby die klaarblyklike werklikheid kan sien – en God as Koning kan raaksien. Hemelvaart herinner ons daaraan dat dieselfde Jesus wat gely, gesterwe en ter helle neergedaal het, nou aan die regterhand van God sit, vanwaar Hy oor ons wêreld regeer.

Dit moet met die geloofsoog raakgesien word. Soos die Israeliete van ouds, in die tempel God se teenwoordigheid, sy heiligheid en sy heerskappy kon besing in die woorde van Psalm 47 – terwyl sy magtige bure jaloers na Israel bly kyk het. Soos die boek Openbaring sy vroeë Christenlesers in die jare 90-99 herinner het dat die werklike mag nie aan die Romeinse keiser behoort nie, maar "aan Hom wat op die troon sit en die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag" (Openb 5:13).

Waarom is dit so verskriklik belangrik om te verstaan dat die lofpsalm se belydenis dat die Here regeer, in Psalm 47 in omstandighede gebore is toe dit juis nie so ooglopend was nie? Omdat dit vir Westerse Christene dikwels 'n versoeking is om God se heerskappy bevestig te sien in die heerskappy van die Westerse lewens-en-wêreldbeskouing. Vir Amerikaanse Christene na 11 September 2001, is dit nog makliker om in die versoeking te val om die oorwinning van die Amerikaanse politieke, ekonomiese en selfs militêre magte oor Moslem-fundamentalisme, te vereenselwig met God se heerskappy.

'n Ander versoeking vir Christene, om in 'n wêreld wat skynbaar al hoe minder respek vir die Christelike geloof toon, die heerskappy van God wat hulle met hulle geloofsoog raaksien en waarvoor hulle bid, onbewustelik te assosieer met die verlede. Gelowiges het dikwels 'n swakte vir die nostalgie. Die verlede word so maklik geromantiseer. In die Afrikaanse wit gemeenskap wat sy politieke mag verloor het, is daar nog die ekstra gevaar dat wanneer mense verlangend bid vir God se koninkryk wat moet kom, hulle onbewustelik terugverlang na die verlede, toe "daar nog orde was en misdadigers kortgevat is". Dit is natuurlik 'n skepping van hulle eie verbeelding waarin daar geen herkenning is vir die lyding, vernedering en swaarkry van swart en bruin Suid-Afrikaners nie. Die prediker hoef nie noodwendig hierna te verwys nie – sy moet net seker maak om nie in die slaggat te trap om so negatief oor die Suid-Afrika van 2003 te praat dat haar gehoor dit noodwendig in alle opsigte sal kontrasteer met die heerskappy van God nie. Dit is veral by die inleiding van die hemelvaartdiens waar die prediker versigtig moet wees. Dikwels begin die hemelvaartsprediker, wat haar gehoor 'n visie wil gee van die opgestane Jesus wat op die troon sit en regeer - "ten spyte van dit wat ons elke dag beleef", met 'n beskrywing van hoe sleg gelowiges die wêreld ervaar. Niemand het vandag meer respek vir God en sy gebod nie; diegene wat in ons wêreld die toon aangee – politici, sakelui, die vermaakliheidsindustrie – dink geen oomblik aan wat God wil hê nie. Kyk net hoe lyk die wêreld! Presies by hierdie punt is die versoeking vir baie Suid-Afrikaanse Christene om terug te verlang na die ou dae – toe ons voordeure nog oop en winkels op Sondae gesluit was – en vir 'n paar oomblikke teruggevoer te word na goeie ou dae. Wanneer die hoorder weer by die werklikheid aansluit, is die prediker besig om oor God se heerskappy te praat – en net daar assosieer die hoorder "God se heerskappy" met die ou bedeling.

Miskien is die veiligste pad vir die prediker om: (1) nie met so 'n inleiding te begin nie, en (2) deurentyd te beklemtoon dat die werklikheid van die Vader wat regeer en Christus wat aan sy regterhand sit, 'n werklikheid is wat ons nou deur die geloof sien, maar wat ons eendag in sy volheid verwag. In teologiese taal: dié werklikheid is 'n eskatologiese werklikheid.

Preekvoorstel

Inleiding: Wat 'n wonderlike gesig is dit nie! Die gesig wat die tempelkoor in Psalm 47 vir ons skilder: Alle volke wat juig en jubel – tot eer van die Here. Al die volke van die aarde – van Mauretanië tot Mongolië – wat aan God eerbied betoon. Wat Hom erken as die "Groot Koning" (vers 3). 'n Mens kan nie anders as om geroer te word deur daardie groot oomblikke as die aandag van die hele aardbol op een gebeurtenis fokus nie – danksy televisie is dit vandag heeltemal moontlik. New York 11 September 2001. Prinses Diana se begrafnis. Sportskouspele: Olimpiese Spele, Wêreldbekertoernooie (2002 sokker, 2003 rugby). Hoe sou dit nie wees nie as al dié aandag en entoesiasme deel was van 'n wêreldwye lofprysing aan God!

Sou die psalmdigter iets hiervan ervaar het? Was hy miskien 'n hofdigter aan die hof van Salomo, toe die ryk van Dawid deur Salomo nog verder uitgebou is en die klein koninkryk van Israel vir die eerste keer in die geskiedenis vir die vorste en vorstinne van die aarde die middelpunt van belangstelling geword het? Toe koning Hiram van Tirus nie net Salomo as koning erken en verwelkom het nie, maar ook Salomo se God met die woorde geëer het: "Geloof sy die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het!" (2 Kron 2:12)? Toe die koningin van Skeba moes sê: "nie eers die helfte (is) vir my vertel oor u groot wysheid nie" (2 Kron 9:6)?

Miskien was Psalm 47 by so 'n grootse geleentheid gedig, maar dit is telkens weer by feeste daarna in die tempel gesing. Volgens sommige Skrifuitleggers is dié psalm veral by Israel se Nuwejaarsviering elke jaar gesing. Miskien is dit gesing in die dae van glorie onder Salomo – maar van toe af gereeld, ook in die dae, net na Salomo, toe die ryk in twee geskeur het. Toe ander volke op Israel en Juda en hulle God neergesien het. En nog later is dit steeds gesing, toe die een koning na die ander gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Toe omtrent niemand in Israel en Juda die God van Abraham, Isak en Jakob vereer het nie. Toe Assirië en Egipte, en later Babilonië voor die poorte van Jerusalem gewag het – nie om God as die Groot Koning te vereer nie, maar om Hom in sy eie tempel te onteer. Ook toe het gelowiges Psalm 47 gesing en afgesluit: "Die heersers van die aarde is onderworpe aan God, Hy is bo almal verhewe" (vers 10).

Psalm 47 is familie van Psalm 74, waarin die digter glo God regeer, maar as hy rondom hom kyk, sien hy die teenoorgestelde. Daarom herinner hy God daaraan dat Hy die heerser is en dat Hy so moet regeer: "Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here, 'n barbaarse volk belaster u Naam… Dink tog aan u verbond… Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie… Kom tog, God! Laat geld tog u reg" (Ps 74:18-22).

Dan gaan die prediker verder om te beklemtoon dat Psalm 47 geloofstaal is. Soos ons deur die geloof vandag ook weet dat, ten spyte van dit wat ons rondom ons ervaar (moenie te veel hieroor uitwei nie): God regeer! Christus het inderdaad opgestaan en sit aan die regterhand van die Vader. Dit is dieselfde visie wat die Openbaringboek kommunikeer aan verdrukte en bedreigde gelowiges onder keiser Domitianus in die jare 90 nC: "Aan Hom wat op die troon sit en die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag" (Op 5:13).

Dit is dieselfde visie waarmee Karl Barth negentien honderd jaar later op 9 Desember 1968, die aand voor sy dood, sy vriend Eduard Thurneysen gegroet het: "Ja, die wêreldsituasie is donker… Maar – moenie moed verloor nie! Nooit! Want daar word geregeer – nie alleen in Moskou of in Washington of in Peking nie, maar daar word regeer – en wel hier op aarde! Van bo af, vanuit die hemel! God regeer! Daarom vrees ek nie. Laat ons bly vertrou, ook in die donkerste oomblikke! Laat ons die hoop nie loslaat nie – die hoop vir alle mense en vir die hele wêreld. God laat ons nie los nie - niemand van ons nie en ook nie ons almal nie. Daar word regeer…" (Kupisch).

Bibliografie

Barth, Karl 1975. Dogmatics in Outline; Odendaal, DH en CW Burger 1988. Ps 47 in Woord teen die LigII/4; Kupish, K. 1972. Karl Barth. Baarn.