Ander
tekste: Jesaja 52:13-53:12; Hebreërs 10:16-25;
Johannes 18:1-19:42
Die Psalm
is reeds in die Woord teen die Lig-reeks
hanteer deur D J Louw/B A Müller (1982:73-80), asook in die Preekstudies van
die Leesrooster (99-103) van twee jaar gelede.
In beide gevalle is dit aangebied met riglyne ook vir ‘n preek op Goeie
Vrydag. Dit is noodsaaklik dat dit
gelees word, omdat al die kernvraagstukke in die psalm daarin aandag kry. Daarom gaan dit nie hier in detail behandel
word nie.
Vrae wat
beantwoord moet word, is: Wie is die bidder wat hier in die Psalm aan die woord
is? Maak die feit dat Jesus uit hierdie
psalm in sy kruiswoorde aanhaal noodwendig daarvan ‘n Messiaanse Psalm?
J Ridderbos
in sy Commentaar op het Oude Testament
stem saam met Calvyn “dat hier in die eerste instansie een menselijk subjekt
aan het woord is (dat wij voor David houden …) en dat dit menslijk subjekt type
is van Christus”. Sonder om op al die
ander standpunte te noem of daarop in te gaan, aanvaar ons saam met Ridderbos
dat ons hier in die Psalm met ‘n persoon te make het wat deur donker dieptes
gaan as gevolg van persoonlike omstandighede.
Oor die
kwessie of die psalm ‘n Messiaanse karakter dra, blyk duidelik uit die Nuwe
Testament deurdat by die vermelding van Jesus se klere in Johannes 19:24
uitdruklik verklaar word dat dit geskied het sodat vervul kon word wat in vers
19 van Psalm 22 geskrywe staan. Dit
bewys egter nog nie dat die psalm ‘n regstreeks-Messiaanse karakter het
nie. Daar is baie Ou-Testamentiese
uitsprake, waarvan ons in die Nuwe Testament verneem, wat in Christus vervul
is, maar wat dit tog duidelik is, dat hulle in die eerste instansie byvoorbeeld
op Israel of op ‘n aardse koning betrekking het.
Van Zyl
(1987:87-90) beskou Psalm 22 as een van die beste voorbeelde hoe die
Ou-Testamentiese getuienis van ‘n vrome wat onskuldig gely het, se woorde
gebruik is om Jesus se lyding aan die kruis te beskryf. In hierdie psalm word ‘n hele aantal
ondervindings van die bidder beskryf en party van hulle het amper letterlik net
so op die lydenspad van Jesus gekom, veral toe Hy aan die kruis gehang het
nadat hulle sy hande en voete vasgebind het (Ps 22:17c). Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere onder mekaar verdeel, en oor sy onderkleed
geloot (Matt 27:35; Joh 19:23; vgl Ps 22:19).
Toe Jesus gesê het: Ek is dors
(Joh 19:28) en hulle vir Hom suur wyn aangebied het (vgl Ps 69:22), het sy tong aan sy verhemelte gekleef (Ps
22:16).
Die mense
wat op Goeie Vrydag die stad van die noordekant af binnegekom het om die
paasfees te vier, het hulle nie-herkende Paaslam aan die kruis verag en almal
wat Hom gesien het, het met Hom gespot
en gesê: Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom
het (Matt 27:39-43; vgl Ps 22:7-9).
Die
psalmdigter het sy lyding saamgevat in die beginwoorde (Ps 22:2) van sy
klag: My God, my God, waarom het U my
verlaat? Dieselfde is deur Jesus in sy
eensame lyding aan die kruis gedoen (Matt 27:46), en kort daarna terwyl die
mense nog met Hom gespot het, het Hy gesterf (Matt 27:47-50). Dit het nie met die psalmdigter gebeur nie,
want hy het ná sy lyding getuig: U het my gebed verhoor (Ps 22:22d) en God
gedank, dit wil sê aan God die eer gegee vir die uitkoms wat Hy gegee het (Ps
22:23-32).
Deur die
beginwoorde van die psalm in hierdie uur van verlatenheid aan te haal, het
Jesus eintlik die hele psalm gesiteer.
So het Hy Hom in daardie oomblik ook ver van sy hulp en heil en
verlosser gevoel. Dit is eintlik die
swaarste van al die lyding wat Hy moes verduur. Ook Dawid het dit as die grootste smart denkbaar beskrywe. Toe hy voor Saul moes vlug en uit sy land
moes padgee, het hy ooreenkomstig ‘n gedagte uit daardie dae dat die Here net
in Palestina, sy land, gedien kan word, gekla dat hy nou nie meer die
geleentheid het om sy God te dien nie, want hy was nou weg van die ark en die
tabernakel af.
Juis daarom
is die smart van die bidder in hierdie psalm so groot. God is ver en verlos nie; dag en nag roep hy
maar God antwoord nie; teenoor die vyand wat dreig, staan hy weerloos; alleen
moet hy die spotstem aanhoor. God het
die roepstem van die voorvaders gehoor en verlos, maar hy, die bidder, pleit
tevergeefs. En tog hou hy maar aan om
te roep. Moet tog nie so ver van my weg bly nie. Die vyand se verdrukking sou hy nog kon verduur. Maar hierdie gevoel dat die Here hom verlaat
het, verteer hom. Daarom bid hy: My God, my God, waarom het U my verlaat? Sy lyding is nou nie meer eensaamheid soos
hy dikwels moes verduur het toe hy alleen en deur mense verlate was nie. Sy smart is nou eensaamheid, want die Een
wat altyd by hom was, is nou ook nie meer daar nie.
In hierdie
verlatenheidsgebed van hom het die bidder woorde gebruik wat later in
herinnering geroep sou word by ‘n lyding wat ver bo syne sou uitstyg: die
lyding wat onskuldig gely is in belang van ander toe Jesus, Seun van God wat
mens geword het, die donker dal van verlatenheid deurworstel het. Toe het Hy die klanke van hierdie gebed
opgevang en herhaal omdat die stryd van die sonde om God en sy Woord nie net
partymaal nie maar vir altyd geen plek in die mens se lewe te gee nie, tóé sy
felste vorm aangeneem het. En nadat Hy
dit verduur het, het die vooruitsig van die laaste deel van Psalm 22 ‘n
werklikheid geword. Die lyding wat in
diens van God staan, dien ‘n hoër doel; die lyer wat onder Gods bestel ly, dien
‘n ruimer kring as net homself. Daarom
sê die nagmaalsformulier dat Hy Hom toe verneder het tot in die allerdiepste
versmaadheid en angs van die hel, met liggaam en siel aan die kruishout, toe Hy
met ‘n groot stem uitgeroep het: My God, my God, waarom het U my verlaat? –
sodat ons tot God geneem en nimmermeer
deur Hom verlaat sou word nie.
Daar is
geen rede om te ontken dat Dawid die digter sowel as die subjek van die psalm
is nie. Hy is duidelik die simbool van
die enkeling wat met sy krisisse en lyding met die Here worstel, juis omdat hy
dink dat God hom in sy situasie verlaat het.
Hy verwoord sy ervarings só dat dit ook slaan op die ervarings van sy
volksgenote.
Die psalm
word redelik algemeen beskou as ‘n klaagpsalm.
Dit gaan in die psalm egter nie net om klagtes nie. Die eerste deel van die psalm (1-22a)
beskryf die lyding van die digter, maar die tweede deel (22b-32) teken vir ons
wat die noodwendige afloop daarvan is wanneer ‘n gelowige sy situasie na God
neem. Die eerste deel kan nie van die
tweede deel losgemaak word nie.
Ridderbos se indeling van die psalm in drie dele laat die hele verloop
van die proses wat die digter met God deurmaak, selfs sterker na vore kom. Hy sê in die eerste twee dele (2-12 en
13-22) kla die digter oor sy nood en bid hy om verlossing. In die derde deel (23-32) dank en loof hy
die Here in die vooruitsig van die verwagte verhoring van sy gebed.
Die digter
kla oor sy vyande wat hom bespot en verag (7-9). Hy sien hulle as ‘n wreedaardige klomp mense en vergelyk hulle
met die magtige en gevaarlike beeste van Basan se uitgestrekte en vrugbare
vlaktes (13). Hulle bedreig hom van
alle kante. Hulle maak ook allerhande
opmerkings teenoor hom wat (14) hom totaal kragteloos en nikswerd laat voel
(15-16). Hy het sy menswaardigheid
verloor en voel so veragtelik soos ‘n wurm wat op die grond kruip en enige
oomblik platgetrap kan word (7). Dit
maak hom beangs en depressief. Sy ervaring
is dat God hom ook in die steek gelaat het.
Dit voel vir hom asof God nie na hom luister nie. Sy voorvaders het op God vertrou vir hulp en
Hy het hulle gehelp, maar sy hulpgeroep baat hom niks. Dit is deel van sy smart en lyding dat sy
vyande daarmee spot dat God hom moet help, maar dit blykbaar nie kan of wil
doen nie.
Dit alles
maak nog nie dat die digter hom nie op God beroep nie. Hy bid steeds dat die Here wat hom
die eerste
lewenslig laat sien’ het en van kleins af vir hom gesorg het, ook in hierdie
tyd van nood nie so ver van hom af weg moet bly nie. Hy erken dat niemand anders vir hom uit sy ellende kan help nie
en dat alleen God se hulp voldoende is (10-12).
Die digter
glo die hele tyd dat God sy enigste kans op redding is en daarom smeek hy dat
God hom moet help (20). Hy voel
weerloos en magteloos en die noodtoestand en vrees wat die hele situasie by hom
opwek, put hom psigies en fisies uit.
Sy bene wankel onder hom, sy hart (bestaan) voel swak en sy tong is
droog (15-16). Hy is bekommerd oor wat
nog vir hom mag voorlê. Dinge soos
mishandeling en selfs teregstelling is nie uitgesluit nie. Sy vyande is soos honde (17– gemeen en wag
net om op ‘n weerlose prooi toe te sak), leeus (14, 22 – dreigend en gevaarlik
deur die geluide wat hulle maak, maar ook deur fisies hul prooi te verskeur) en
wilde beeste (13, 22 – sterk en as gevolg van hul oormag en kragtige en skerp
aanvalstuie storm hulle oor enigiemand wat in hul pad kom). Omdat sy lewe vir God en homself kosbaar is
(21) roep hy herhaaldelik om hulp en redding.
Nadat die
digter homself, sy situasie en sy vyande in oënskou geneem het, en besef het
dat God is sy enigste hulp, begin hy God te eer en te prys. Hy maak ‘n gelofte van wat hy sal doen as
God sy gebed verhoor. Hy sal van God
getuig (23) en die gemeente oproep om God saam met hom te verheerlik. In ootmoedige gesindheid (soos armes, 27)
sal hulle saamkom en die verlossing feestelik vier.
Die digter
sien dat hierdie lof aan God oor die hele wêreld sal uitkring en mense hulle
tot Hom sal bekeer (28-32). God is nie
net helper nie – Hy is Koning! Dit wat
hy vir die digter gedoen het, sy verlossingsdade, sal vir geslagte oorvertel
word.
Die psalm
is dus ‘n klaaglied, ‘n gebed om hulp en ‘n danklied in een. Te midde van sy ellende en lyding sing hy
reeds ‘n lof- en danklied vir God se verlossing. Daarom moet die bekende melodie van die lied ‘soos ‘n wildsbok
van die daeraad’ (1) gevolg word.
Die Bybel
is nie maar net ‘n boek wat vir ons goeie raad aanbied nie – dit bring God na
ons toe. Dit openbaar God aan ons.
Psalm 22
wil ons in kontak met God bring – juis wanneer ons in die grootste nood
verkeer. Want Jesus self het Hom in sy
oomblikke van doodsbenoudheid aan die kruis op hierdie psalm beroep. Aan die kruis, die hoogtepunt van God se
selfopenbaring aan die mense, vertolk sy Seun die ervaring van die ganse
mensdom in nood: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Die
boodskap van Goeie Vrydag is dat God in ons diepste nood ingedaal het – ook al
ervaar ons die grootste ellende soos die digter van Psalm 22. Wat gebeur het op daardie Vrydag op Golgota,
is niks anders nie as dat God die noodkrete van die digter en sy Seun en van
elke kind van Hom gehoor het.
Elkeen van
ons het al in tye gekom, of is in ‘n tyd dat ons totaal hulpeloos en moedeloos
voel. ‘n Jong man wat vir allerhande
avontuur kans sien, kan in so ‘n situasie kom.
‘n Ryk sakeman kan so voel: verstote, hooploos. ‘n Jong vrou wat gehoor het van die
kwaadaardige gewas wat verwyder moet word, kan so platgeslaan voel. ‘n Bejaarde eensaam in ‘n kamer in sy
kinders se huis, kan hulpeloos voel.
Ons almal kan so voel. En dan
vra ons ook: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
In hierdie
een vraag wat die digter in die psalm gevra het, het hy net gepleit dat God hom
moet help. Hy wil nie verduidelikings
hê nie. Hy soek nie redelike antwoorde
nie – al klink dit miskien so. Nee, hy
vra dat God moet ingryp in sy lewe.
Goeie
Vrydag bring ons voor die kruis. Want
die kruis is die plek waar ons die diepste kan in kyk in die hart van God. Dit is die plek waar ons met God kan praat –
reguit en met al ons emosies – en God met ons kan praat (al klink dit soms of
dit ons eie woorde is wat ons hoor).
‘n
Voorbeeld van iemand wat so met God gaan praat het, kry ons in Psalm 22. Hierdie digter het geen hoop nie. Wat hom so moedeloos en wanhopig gemaak het,
weet ons nie presies nie. Die opskrif
van die psalm sê vir ons dat Dawid die skrywer van hierdie lied was. Dit is moontlik dat Dawid se vervolging deur
Saul die historiese agtergrond van ons psalm is. Die eerste deel van die psalm gee ‘n beskrywing van die ellende
en lyding van die bidder. Ons kom agter
dat hy hulpeloos is. Hy beleef wanhoop
en angs. Ons moet net onthou dat die
grootste angs wat ‘n Ou-Testamentiese mens kon ervaar, die angs van
Godverlatenheid was. Dit was vir hulle
‘n teken van God se oordeel en vloek oor jou.
Dan was jy oorgegee aan die vernietigende magte. Dan was dit so goed jy was in die hel. Oënskynlik het God hom verlaat, sy rug op
hom gedraai – waarom weet hy nie. En
dit raak nou sy hele bestaan. Juis
omdat hy God geken het as die Verbondsgod, as die God op wie sy voorvaders
vertrou het, as die reddende God, is sy stryd soveel intenser.
Ons kan ons
die radeloosheid voorstel, omdat van ons dalk self so voel, van ‘n mens wat
soveel wanhoop en verlatenheid ervaar het.
Baie van ons het dalk al te make gehad met situasies wat ons so
afgetakel het dat ons al ons menswaardigheid en selfrespek verloor het.
Aan die
eenkant worstel hy met hoe sy vyande, die oorsaak van sy ellende, hom
sien. Hulle is gevaarlik en
wreedaardig. Hulle bespot en verag
hom. Hulle bedreig hom. Hulle laat hom nikswerd voel. Hulle maak hom beangs en depressief. Hulle spot sy God wat hom nie wil help
nie.
Aan die
ander kant worstel hy met God en met hoe God hom ken. Hy beroep hom steeds op God.
Hy bid steeds. Hy erken dat
niemand anders hom kan help nie.
Hy worstel
ook met homself. Hy sien homself as
weerloos en magteloos. Hy is bang vir
wat nog mag voorlê. Hy is
uitgeput.
Hoe lank
hierdie worsteling van die digter geduur het, weet ons nie. Ons kan vermoed dat dit ‘n lang en moeisame
pad was. En hoe presies hy daar
uitgekom het, weet ons nie, maar op ‘n dag het hy sy ellende en sy uitkoms
verwoord in hierdie psalm sodat ons geslagte later en mense oor die hele wêreld
kan hoor: die Here het dit gedoen.
Ons weet
nie eens of al sy pyn en wanhoop in ‘n oomblik verdwyn het nie. Al wat ons weet is dat God “nie die nood van
die hulpelose verontagsaam en gering geskat het nie, Hom daarvan nie
teruggetrek het nie, maar die hulpgeroep na Hom gehoor het.”
Eerwaarde
Henry Francis Lyte was die skrywer van die lied wat ons ken as “Bly by my,
Heer, terwyl die skadu’s daal …” Hy was
op die rand van moedeloosheid. Hy was
predikant van ‘n klein gemeentetjie en hy het gevoel na al sy jare van arbeid
daar het niks gebeur nie. Hyself was
nie gesond nie en sy dokter het hom meegedeel dat hy nog net ‘n paar maande sou
lewe. So het hy eendag teneergedruk in
sy studeerkamer gaan sit en deur sy Bybel begin blaai tot by die gedeelte oor
die Emmausgangers wat Jesus gevra het om nie verder te gaan nie, maar om by
hulle te bly omdat dit al aand was.
Skielik het hy krag gekry om sy lot te aanvaar, om sy gemeente te
aanvaar, en om die sin van sy lewe te ontdek.
Tóé het hy dié onvergeetlike woorde neergeskryf:
Abide with me; fast falls the
eventide;
The darkness deepens; Lord, with me
abide;
When others helpers fail, and
comforts flee,
Help of the helpless, oh abide with
me.
Miskien
moet ons ‘n keer onsself so ver kry om ons af te sonder voor God. Dan moet ons tyd neem en ‘n bietjie deur die
psalms lees. Want saam met die psalms
kan ons sommer ons hart uitpraat met God.
En daar verneem ons van mense wat soos ek en jy gevoel het en hoe God in
hul lewens ingegryp het – of eintlik het Hy nie ingegryp nie. Hy het ook nie ritse en ritse antwoorde op
al hul vrae gegee nie. Hy het hulle net
laat besef dat Hy altyd by hulle was en dat hulle die hele tyd daarop kon
reken. Ook toe dit vir hulle gevoel het
asof God hulle verlaat het. Miskien wil
die Here dat ons net weer rustig deur Psalm 22 moet lees, sodat ons die Here
self daarin kan ontmoet en saam met die digter vir Hom kan sê: “U het my gebed
verhoor! Ek sal tot eer van u Naam
getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys.”
God
luister. God help. Hy stuur nie net vir ons ‘n boodskap
nie. Hy kom self na ons toe in sy
Seun. Hy daal in ons ellende neer. Hy gee Homself tot in die dood. Hy ver-een-selwig Hom met ons in ons
nood. Jesus is die enigste Een wat die
vraag kon vra: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
H Vogel
skryf in Communio Viatorum: “Iemand sou die dwase vraag kon stel: Wat is nou
die mees hopelose plek in die wêreld?
Hy sou dan aan ‘n siekbed kon dink of aan ‘n martelpaal van ‘n
konsentrasiekamp, of aan een van die gasoonde waar mense gedwing is om in te
gaan, of aan ‘n dodesel, of watter plek van diepste vertwyfeling. In waarheid is egter die mees hopelose plek
ter wêreld daar, waar die mens wat nooit vir God verlaat het nie self verlate
hang. Hierdie plek is ‘n kruis. ‘n Duister anders as alle duisternis in
hierdie wêreld is dit, waaruit Hy roep: My God, my God, waarom het U my
verlaat? Daar is geen plek en geen
gebeure, waar die toekoms van die mens so verlore skyn te wees as hier
nie. Die wonderlike, wat met geen
menslike woorde te beskryf is nie en deur geen kennis te bereik is nie, is
daarin geleë, dat juis op hierdie plek toekoms vir die mens ontsluit word,
ewige toekoms. Hierdie mens Jesus is
immers diegene, in wie die Seun van God, dus God sélf, Hom tot ons naaste
gemaak het. Hy is die een wat die vraag
van die hele mensdom gehoor het, anders as wat ons mense onsself begryp. Langs duisend weë van ons godsdienstigheid
soek ons God en eindig by die afbeeldinge van onsself. Hy soek ons en vind ons daar, waar ons
sonder meer verlore en aan die einde was. Omdat Hy egter in dood en lewe by ons
wil hoort, hoort ons by Hom. So is Hy
vir ons die deur na God se toekoms. Hy
sélf is die toekoms van die mens.”
Daarom kom
bring die Here ons ook vanoggend saam rondom die kruis op Golgota. Sodat ons met ons kruis langs sy kruis kan
kom staan. Sodat ons kan sien dat ons
kruis is eintlik sy kruis. So lyk God
se liefde vir ons. As Hy uitroep: “My
God, my God, waarom het U my verlaat? Weet ons: dis vir ons, sodat ons ‘n
toekoms kan hê!
Bibliografie
Burger, CW, Müller, BA & Smit, DT (reds): Woord teen die Lig I/2 73-80; Cilliers, Johan: In die greep van God. 121-126; Ridderbos, J: Commentaar op het Oude Testament. De Psalmen. 180-200; Ridderbos, N H: Korte Verklaring. De Psalmen. 227-244.