Die kuns van die prediking oor Psalm 22 op hierdie besondere dag in die
kerklike jaar is daarin geleë om nie die teks alleen as 'n nuttige
aanknopingspunt vir die 'eintlike' agenda vir die dag te gebruik nie, maar om
die teks self te laat praat en in hierdie spreke van die vroeë bidder nie
alleen my eie versugtinge nie, maar ook die lydingsroep van die Verlosser aan
die kruis te hoor. Waar die Nuwe Testamentiese en veral die Evangeliese tekste
oor die lyding van die Seun van God praat, word hier in die eerste plek oor die
lyding van die gelowige mens gepraat. Om die verrassende ontknoping van die
teks binne die konteks van Goeie Vrydag tot sy reg te laat kom is dit belangrik
dat hierdie volgorde gehandhaaf word.
Voorts is dit belangrik om te begryp hoe die Geskrifte, waaronder die
Psalms sorteer, binne die Joodse kanon, die Tenach, funksioneer. Op 'n eerste
vlak lê die Tora, oftewel die Pentateug soos wat ons dit ken. Die Tora bevat
die Openbaring van God se Naam, wie God is. Op 'n tweede vlak vind ons die
Profete, dit is die getuienis van hoe die Openbaring van God die menslike
geskiedenis aanraak en omvorm. Derdens is daar die Geskrifte, oftewel die
menslike reaksie op die Goddelike Woord en verkondiging. Dit is dus in die
eerste plek met hierdie menslike reaksie wat ons in Psalm 22
gekonfronteer word.
Die Psalm val in twee duidelik onderkenbare gedeeltes uiteen. "Die
lied lei ons eers af in die diepte van die uiterste lyding, 'n lyding wat die
gelowige tot op die rand van die graf gebring en hom tot volkome desperaatheid
gereduseer het. (1-21) Dit styg dan op tot die hoogtes van 'n prys- en 'n
danklied wat ontspring uit gebedsverhoring...(22-32)" (Weisser). Die hele
Psalm 22 is 'n klaaglied wat omgekeer word, waarin die klag verander word tot
lof (Westermann).
"Psalm 22
thus embraces the elements of lament and both narrative and descriptive praise,
in the sequence lament-psalm of thanksgiving-hymn. In this, it witnessses to
the fact that these three elements all belong together; all three are rooted in
God's act of compassion for a sufferer, v.31b. Simply from this all-embracing
significance of Psalm 22 , as revealed in its structure, we can understand why
it has had a special significance for the gospels' portrayal of the passion and
death of Jesus." (Westermann)
Oor die presiese ontstaan van die Psalm bestaan daar 'n wye
verskeidenheid van uiteenlopende menings. Alhoewel dit met die eerste oogopslag
net soos die klaaglied van die enkeling lyk, is daar tog ook ooglopende
verskille met ander soortgelyke klaagliedere. Daar is 'n aantal eksegete wat
meen dat die lied eintlik die gemeenskaplike klag van die volk van God is en
wat dit dus heeltemal uit die individuele sfeer wil wegneem. Sonder om in die besonderhede van hierdie
debat in te gaan, kan daarmee volstaan word dat die Psalm 'n aantal individuele
kenmerke bevat wat dit moeilik maak om dit binne 'n kollektiewe verband te
interpreteer (Weisser). Tog bly die betekenis van die klag nie ingeperk binne
die sfeer van die enkele lydende individu nie, maar raak dit op 'n besondere
wyse nie alleen die roep van die kinders van God nie, maar ook van die Seun van
God.
Hendrikus Berkhof het 'n ongewone maar 'n fassinerende voorstel rakende
die wyse waarop dit gebeur. Hy sê dat dit duidelik is dat Psalm 22 'n groot rol
speel in Jesus se lyding aan die kruis. Maar hy voorsien dan 'n veel groter rol
as die eerste vers My God, my God, waarom
het U my verlaat? Daar is naamlik soveel aanhalings en elemente uit die
Psalm in die lydingsverhaal ingeweef dat die vermoede bestaan dat die
evangeliste die kruisgebeure binne die konteks van die Psalm gelees het. (Vergelyk onder meer die gedagte van vers
19: Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel) Binne
hierdie verstaan van die Psalm beteken dit dat Jesus nie alleen die eerste vers
aan die kruis geprewel het nie, maar dat Hy inderdaad die hele Psalm gesê het.
Daarom praat Berkhof ook van Psalm 22 as die Psalm van die sterwende Jesus.
Die Jode was gewoond daaraan om 'n Psalm nie soseer met 'n nommer aan te
dui nie, maar met die eerste woorde van die Psalm. ('n Gewoonte wat vir ons ook
nie vreemd is nie, bv ons praat ook van Die
Here is my herder as ons na Psalm 23 verwys.) Gegewe voorts die vreemdheid
van die woorde My God, my God, waarom het
U my verlaat?, maak dit heeltemal
sin om dit nie as 'n geisoleerde greep uit die Psalm te sien nie, maar
inderdaad as deel van 'n groter uiting, 'n uiting van iets waarin Jesus iets
van sy eie swaarkry vertolk sien.
Berkhof wys daarop dat Matteus en Markus niks meld van die dors van Jesus
nie, maar dat hulle direk na die woorde My
God, my God, waarom het U my verlaat? sê dat iemand vir Hom 'n spons met
suur wyn gee. Dit is moontlik dat die
omstanders die woorde van vers 16 Ek is
so min werd as 'n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte
geinterpreteer het as synde Hy dors is en daarom die spons met suur wyn
aangegee het.
Johannes 19:30 sê Nadat Jesus die
suur wyn gekry het, het Hy gesê: Dit is volbring! Die laaste woord van
Psalm 22 ...die Here het dit gedoen kan
inderdaad ook vertaal word met die woorde Dit
is volbring! Dit is dan nie, soos wat dit dikwels gelees word, 'n uiting
van oorgawe of 'n wanhoopskreet nie, maar juis in lyn met die hele Psalm 'n
juigkreet, 'n kreet van triomf: Dit is
God se werk! God het dit gedoen!
"Want nooit het die Seun sy volkome vertroue in sy Vader verloor
nie. Hy het deur die diepste skagte van vertwyfeling gegaan. Maar Hy het geweet
dat die laaste woord van die onbegryplike Vader 'n ewige 'Ja!' sou wees. Die
reddingswerk wat Hy in die Seun en in Hom, met die wêreld, begin het - Hy het
dit volbring en sal dit Self volbring." (Berkhof).
Reg aan die begin van sy boek A grief observed skryf CS Lewis die volgende
woorde oor sy eensaamheid na die dood van sy vrou:
"Waar is God? Terwyl 'n mens gelukkig is, só gelukkig is dat jy geen
gevoel van behoefte aan Hom het nie en jy dan skielik weer aan Hom dink en
jouself aan Hom oorgee met dank en lof - dan - of so voel dit in elk geval,
ontvang Hy jou met ope arms. Maar wanneer jy na Hom toe gaan terwyl jy
desperaat is, as alle ander hulp niks werd blyk te wees, wat vind jy dan: 'n
deur wat in jou gesig toegemaak word, die sleutel wat aan die binnekant gedraai
word. Na dit: stilte. Jy kan maar net sowel wegloop. Hoe langer jy wag, hoe
duideliker sal die stilte word. Daar is geen ligte in die vensters nie. Dit kon
maar net sowel 'n leë huis gewees het. Was dit ooit bewoon? Wat kan dit alles
beteken? Waarom is Hy so teenwoordig in ons voorspoed en so afwesig in 'n tyd
van probleme?"
CS Lewis gaan dan voort en sê: "Ek het vanmiddag van hierdie
gedagtes met 'n vriend gedeel. Hy het my daaraan herinner dat Christus
dieselfde oorgekom het. Waarom het U my
verlaat? Ek weet dit. En maak dit die verstaan enigsins makliker?.....Ek
dink nie dat daar 'n gevaar bestaan dat ek sal ophou om in Hom te glo nie. Die
werklike gevaar is dat ek dalk allerhande vreeslike dinge omtrent Hom kan glo.
Die gevolgtrekking wat ek vrees is nie: 'So, daar is geen God nie', maar: 'Só
dit is hoe God wérklik is. Moenie jouself langer mislei nie."
Daar is waarskynlik baie gelowiges wat met hierdie waarnemings van CS
Lewis sal kan identifiseer. Nie almal se krisisse is ewe ingrypend nie en nie
almal ken die ervaring om letterlik deur die dal van doodskaduwee te gaan nie.
Tog het die meeste mense die een of ander tyd hulle eie kwota leed, hulle eie
pyn en vrae.
Die vraag wat ons egter moet beantwoord, is dít: Wat maak 'n mens met
hierdie tye? Wat doen ek as my geloof tot die uiterste beproef word? En veral:
Wat doen ek as ek met alles in my aan God wil vashou, Hom by my wil hê, sy
vertroosting en bystand meer as enige iets nodig het, maar dan soos CS Lewis
gekonfronteer word met hierdie leë stilte, as ek nie meer weet wát om van
hierdie God te glo waarin ek so graag wil glo nie? Ons ken die bekende antwoorde, die gewone godsdienstige raad:
Bid, lees die bybel. Maar wat as dit juis my probleem is, as my gebed stom
geword het en as ek geen raad in die bybel vind nie - wat dan?
In Psalm 22 lees ons van die klagtes van 'n gelowige wat vanweë sy
persoonlike omstandighede, in diepe ellende verkeer. Wat presies die aard van
sy omstandighede is, is nie heeltemal duidelik nie. Die diepte van sy nood en
sy gevoelens word egter baie goed beskryf:
My God, my God,
waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep
bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.
As 'n mens mooi na die Psalmis se klag luister, word dit duidelik dat dit
nie net oor een spesifieke saak gaan wat hy nie kan verstaan nie, maar dat dit
oor sy hele bestaan gaan. Hy voel volkome weerloos en uitgelewer. Ek is soos 'n wurm (7), soos uitgestorte water (15), ek is min werd soos 'n potskerf (16).
Hy verklaar: ékself, met al my vermoëns, met al my insigte, ek kom tot niks, ek
is volkome hulpeloos. Ek sien nêrens meer lig nie. Ek is soos iemand wat in 'n
woud verdwaal het. My enigste wysheid is die insig dat ek geen wysheid het nie.
Wat egter baie duidelik uit sy klagtes blyk, is dat die Psalmis nie aan
die bestaan van God twyfel nie. Sy 'waarom' druk veel eerder die vrees uit dat
die afstand tussen hom en God langer kan voortduur of dat hy van God geïsoleer
kan word. Die Psalmis weet dat God ís, dat God bestaan, maar hy weet ook dat
God nie by hóm is nie, dat God hom nie bystaan nie.
Die Duitse teoloog, Jürgen Moltmann, vertel dat hy na die tweede
wêreldoorlog as 'n jong en ongelowige man in 'n Geallieerde konsentrasiekamp
was. Daar was 'n kapelaan wat aan hulle
bybeltjies uitgedeel het. Hy het begin om die Evangelies te lees maar dit het
vir hom geen raad te midde van sy omstandighede gehad nie. Gelukkig was daar
ook Psalms agter in die bybeltjie. Daarin het hy tot sy verwondering sy eie
ellende in verwoord gevind, daar het hy gelees van sy vrese en sy
hulpeloosheid. En langs hierdie weg het hy vir God gevind.
Op die vraag aan die begin: Wat moet ek doen as my gebed stom raak en die
bybel geen raad meer bied nie, sou 'n mens na aanleiding van Moltmann se
ervaring kon antwoord: Moenie vir raad in die bybel gaan soek nie en hou
gerus op om self te probeer bid.
Begin dan om vir God in die Bybel te soek en laat sy Gees
vir u bid. Miskien is dit die eerste
ding wat ons te midde van lyding kan leer: Die bybel is nie 'n soort heilige
handboek of 'n soort resepteboek met gepaste raad vir elke situasie nie. Die
bybel is 'n boek vol van menslike nood en te midde van die nood is.....God.
In die Woord van God gaan dit oor meer as die woorde van 'n leermeester.
Dit gaan oor die Meester Self. Hy openbaar Homself nie net in wonders en vuur
nie, maar ook in die klagtes, in die smeekbedes, in die verlatenheidsroep van
mense. Hy openbaar Homself nie alleen in die woorde van die wet nie, maar ook
in die mees weerlose lydingskreet van die individu. In Psalm 22 word dit op een van die mees treffende en die mees
aangrypende wyses in die hele bybel duidelik.
Ons hoor hierin die smeekgebede van die geteisterde mens, van die mens
wat wanhoop aan sy eie vermoëns en verlate van God voel. Ons kan duisende jare
nadat hierdie woorde geskryf is, dit gaan lees in die gees van Moltmann: as
iemand wat self onder dié leed ly. Dan verloor die Psalm sy veraf klank. Dan
volg die verrassende ontdekking: Hierdie roep is ook my roep! Hierdie gebed is
ook my gebed! Dan lees ek nie meer van iemand anders se worsteling en trane
nie, dan skeur hierdie woorde uit my eie bors: My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom bly U so ver as ek om
hulp roep?
Iemand het by geleentheid gesê dat hy meer gehelp is deur die woorde van
mense wat sy nood kan artikuleer as diegene wat met hulle woorde vir hom
probeer raad gee het. As ons in hierdie wêreld van die bybel ingaan, die
woordwêreld van Ps 22, as ek die woorde van die Psalmis met herkenning lees,
dan wag daar egter ook nog 'n groter ontdekking: Nie alleen ek nie, maar ook Jesus Christus het hierdie woorde,
het hierdie smeekroep aan die kruis op Golgota, syne gemaak: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Nie alleen ek ken verlatenheid nie, ook die Seun van God ken dit. Nie
alleen ek ken pyn en lyding nie, ook die Seun van God ken dit. Maar veral: in
die verlatenheid, in die pyn en lyding kan ek die grootste ontdekking doen: Die
ontdekking van Iemand wat my verlatenheid deel, Iemand wat sy omgee nie deur
troosvolle raad bewys nie, maar wat dit wys deur in ons skoene te kom staan.
Maar boweal gaan dit in hierdie roep van Jesus en op hierdie dag daaroor dat
Jesus se verlatenheidsroep tog ook anders is as myne, anders is as dié van die
Psalmis of dié enige iemand anders. Hy was verlate ter wille van 'n verlore
wêreld en ter wille van verlore mense. Hy was van God verlate sodat ons nooit
weer van God verlate hoef te wees nie.
'n Duitse skilder, Manfred Hausmann, het in 'n skildery met die titel
'Een moet waak' hierdie plaasvervangende lyding van Christus uitgebeeld. In die
skildery lê Johannes teen Jesus se bors en slaap. Terwyl sy dissipel slaap met
'n rustige en vreedsame gelaat, kyk Jesus oor die wêreld heen met 'n blik wat
alles deurgrond, sien Hy al die ellende in die wêreld. Hy hoor die steunpyne
van hulle wat gefolter word en in angs verkeer. Hy sien elke mens wat swaarkry.
Hy sien selfs die diereryk, waar die prooi vervolg en verskeur word. Selfs in
die huise waar mense oënskynlik gelukkig is, sien Hy die stille swaarkry.
Eén moet waak. Net Eén moes werklik verlate wees. Dis Hy wat vandag nog
oor die verlatenes waak. Hy waak ooreenkomstig die laaste belofte van Jesus aan
die kruis. Want as Jesus sê: Dit is volbring, dan sê Hy wat die Psalm sê: Die
Here het dit gedoen. Die kruis is nie die neerlaag van God voor die aanslag van
die wêreld nie. Die kruis is Gód se keuse. Die kruis verkondig: Só is God
werklik. Só het Hy lief.
As Jesus sê: 'Dit is volbring', is dit daarom nie die tragiese held wat
die laaste asem uitblaas nie, maar is dit God wat van die verskriklike Vrydag
'n goeie Vrydag maak. Soos wat die Psalmis ervaar het dat God die leegte van
verlatenheid weer kan vul deur sy nabyheid; so maak die sterwe van Jesus plek
vir die lewende nabyheid van God by al sy kinders. As die Psalmis roep: God het
dit gedoen!, dan roep Jesus: God het dit vir goed gedoen! Daarom is die dag Goeie Vrydag. Omdat die
goedheid van die Here die laaste woord kry, omdat sy goedheid triomfeer - vir goed
triomfeer oor ons verlatenheid én ons verdorwenheid.
Bibliografie
Berkhof, H: Bijbeloverdenkingen. 110-114; Burger, CW, Muller, BA & Smit, DJ (reds): Woord teen die Lig
1/2. 73-80; Lewis, CS: A grief
observed; Westermann, C: The living
Psalms. 79-91.