26 Oktober 2003
negentiende sondag in koninkrykstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks:
Job 42:1-6, 10-17Ander tekste: Psalm 34, Hebreërs 7:23-28; Markus 10:46-52
Inleiding
Uiteraard sluit die fokusteks nou aan by dié van 19 Oktober. Die teks handel oor Job se respons n.a.v. die tweede Godspraak, asook die herstel van sy voorspoed. Job het uiteindelik, deur sy lyding, ‘n ander insig en visie op God én homself gekry. Sy idee oor God word nie meer beheers deur die algemeen aanvaarde tradisie nie. Nou het hy God "gesien". Hy verstaan dat God ook teenwoordig was in sy lyding.
Die liturgie wil ook die tradisionele opvatting oor God uitdaag. Dit wil ook vierend bevestig dat God se etos juis by ons menslike patos aansluit en dit omvou – om inderdaad lyding te beperk of te verwyder – sodat sinvolle lewe in en ná lyding moontlik is. Jesus het dit juis geïllustreer in sy houding en ontferming teenoor die blinde Bartimeus (Mk 10: 46 – 52)
God vergader ons voor Hom
Aanvangswoord/votum
Voorganger: Voor God en sy gemeente bely ek
dat ek sy wil vir my lewe weerstaan het.
Bid vir my – dat ek mag lewe voor sy aangesig
om Hom te dien, al my dae.
Gemeente: Die Here sal jou vergewe
en jou bewaar vir sy toekoms
Voorganger: Amen!
Gemeente: Voor God, te midde van sy gemeente,
bely ons, dat ons sy wil vir ons lewe weerstaan het.
Bid vir ons – dat ons mag lewe voor sy aangesig,
om Hom te dien, al ons dae
Voorganger: Die Here sal julle vergewe
en jul bewaar vir sy toekoms
Gemeente: Amen!
Voorganger: Ongelukkig beleef ons nie elke dag die nuwe koers wat God in ons lewe begin het nie. Inderdaad: Ons beleef baie vorme van lyding. Maar hoor die Here se Woord, te midde van ons swaarkry: Lees Ps 34: 16 – 23
Kom ons bid ook dat ons meer hiervan in ons lewens sal raaksien.
Gemeente bid hardop saam: "Ons Vader, wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. " Amen (Stilte)
Seëngroet
Loflied
Psalm 34: 1 – 3, 6
Diens van die Woord
Sang
Lied 254 3x
Skriflesing
Job 42: 1-6, 10-17
Preek
Stilte en gebed deur liturg
Diens van die Tafel
By hierdie diens is dit belangrik dat die nagmaal wel gebruik sal word: Om inderdaad die resultate van ons Hoëpriester se offer te vier. Daarmee ontvang ons ook die waarborg van sy teenwoordigheid, in en te midde van ons lyding.
Lees
Hebreërs 7: 23 – 28 met ‘n kort verduideliking soos hierbo.
Voorbereiding
Geloofsbelydenis
Vredeshandeling
Gemeentelede groet mekaar onderling met ‘n handdruk of omhelsing, met die woorde: Vrede vir jou/u!
Gebed
Instellingswoorde
Uitdeling en kommunie
Gebed
Voorbidding deur ‘n lidmaat
Uitsending
Sang
Lied 573; NSG 255
Seën
Gemeente sing: Amen Lied 312-316/NSG 355 en 366
PREEKSTUDIE – JOB 42:1-6, 10-17
Teks en konteks
Die ontleding van die teksgedeelte en riglyne vir die preekvoorstel word vanuit die volgende vertrekpunt benader: om sin te ervaar, moet die "sien" van God lei tot die transformasie van die Christen, en aspekte van sy/haar kultureel-godsdienstige elemente in en deur krisisse of lyding.
Van Zyl (sien verlede Sondag se preekstudie) se vierde teksgroepering van die Boek Job (38:1-42:6) sluit Job se antwoord/respons (42:1-6) op die tweede Jahwe-antwoord in. Die herstel van sy voorspoed (42:10-17) val onder die vyfde teksgroepering (42:7-17).
Vers 5 is die sleutel teks: "Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien". Dit kan dien as invalshoek vir die uiteensetting van die fokusteks se konteks. In terme van die wyer konteks, wat Job tot nou toe "gehoor" het, verwys eerstens na die kultureel-godsdienstige agtergrond. Dit het Job se verhouding en ontmoetings met God gevorm. Sy godsdiens het vir hom goed "gewerk". Toe die krisisse en lyding begin, het hy geworstel en kon hy nie sy lyding en swakheid verstaan nie. Hy het God beskuldig wat hom, as onskuldige, onregverdig behandel. Job het verwag dat God as "regter" sy onskuld teenoor die skuld van sy vriende moet bewys (19:23-29). Net soos sy vriende, het Job hom op die vergeldingsleer beroep. Hy het hulle gewaarsku teen die oordeel van God. Die vriende moet die "swaard vrees, want in sy toorn straf God die sonde met die swaard" (29:29). Die verabsolutering van die vergeldingsleer, die regstradisie en logika in sy godsdiens, het Job meestal beperk in sy pleidooi tot God (Newell). Tot voor die stormwind-toespraak, was sy inligting en gesprekke met God meestal op hoorsê (godsdienstige tradisie) gebaseer.
Wat hy "gehoor" het, verwys ook na die onmiddellike konteks, veral as die verhouding tussen verse 4 en 5 beklemtoon word. Volgens Newsom is hierdie verhouding die kern tot die verstaan van die "gehoor" en "gesien": "...one should take 42a as Job’s confirmation that he has indeed listened, as God has commanded him; the consequences of that hearing is that Job now ‘sees’ God, i.e ‘I have listened to you with my ears, and now my eyes see you" (Newsom). Met ander woorde, "nou" dat Job na God "geluister" het (v 4) en, gevolglik, vir God "self gesien" het (v 5), kom hy tot `n ander insig oor wie God is en wie hy as mens is.
Hierdie onmiddellike "hoor" en "sien" vanuit die stormwind, laat hom skuif vanaf die fokus op "waarom?" (etiek) na "wie?" (spiritualiteit), te midde van die lydingsvraagstuk. Volgens McKenna vrae Job nie meer "hoekom" nie, maar "wie". Die wie-vraag het twee kante wat elke persoon moet beantwoord; of sy/hy as `n onskuldige, of as `n skuldige ly. Wanneer iemand vra wie sy/hy self is, open dit die weg vir die belydenis van `n tekortkoming, of behoefte. Die vraag oor wie God is, eindig (gewoonlik) in `n bevestiging van geloof (McKenna). Die dinamiek en kragveld tussen belydenis en die bevestiging van geloof, word die ruimte waaruit Job sy verhouding met God en ander mense heroorweeg. Sy reeks reaksies (42:1-6), die verandering van sy omstandighede, en sy nuwe gesindheid teenoor sy vriende (42:10-17), is die uitkoms van `n goddelike perspektief vanuit die stormwind.
Die kontras tussen die "gehoor" in die verlede en die huidige "sien", skets die verskil in die impak van die kultureel-godsdienstige elemente op die "waarom" en "wie"-vrae. Toe Job net "gehoor" het in die verlede, het hierdie elemente veroorsaak dat hy meestal by die "waarom" van die lydingsvraagstuk gebly het. Nou het hy "gehoor" en "gesien", daarom word die elemente se invloed minder en die wie-vraag dominant. Nogtans bly die skuif na die wie-vraag moeilik. Die verandering wat Job ondergaan, beteken nie dat sy belydenis en bevestiging van geloof totaal vry van die elemente se impak is nie.
Job is deurgaans deur (wysheid)tradisie beïnvloed in gesprekke met sy vriende en met God. Ten spyte hiervan, besef hy eintlik nou eers, na die stormwind-toespraak, wie hy is en wie God is. Hy kom nou agter en bely dat hy min weet van God se krag en bedoelinge (v 2). Job het soveel woorde sonder insig en begrip gebruik, en in die proses God se bedoeling gedwarsboom (v 3). Hy kom ook agter dat hy niks werd is nie (v 6). Terselfdertyd bevestig Job sy geloof in die God wat deur krag en mag sy bedoelinge uitvoer (v 2). Die kontras tussen Job en God word soos volg deur Alden opgesom: "...he confessed that his God had been too small. He needed the theophany to remind him of the fact that the God of the universe and the Creator of all creatures is greater, grander, higher, and wiser than a mortal can imagine, much less challenge."
In vers 6 verwys die "nou" (wat in die 1953-vertaling met "daarom" weergegee word) na die konsekwensies van Job se "gehoor" en "geluister". "Nou" "verag" Job homself, hy het "berou" (vers 6) oor hoe hy oor en met God gepraat het – beskuldigend en sonder insig. Job se reaksie in 42:2-6 (vgl ook 40:4-5), getuig van ‘n beter insig en intiemer verhouding met God (Newell ). In sy belydenis oor sy tekortkominge, "bekeer hy hom alreeds" (McKenna).
Hoe hy nou na God kyk, verander ook sy siening van homself en sy situasie. Fisies en moreel, "sien" hy nou anders. Die uitkoms van die belydenis en bevestiging is `n spiritualiteit waar die verhouding met God `n impak het op Job se verhouding met ander mense. Dit is `n spiritualiteit wat (weer) vriende en ander mense eerste stel bo die materiële voorspoed. Deur gebed versoen hy met sy vriende (vers 10), en ontvang en eet hy saam met sy broers, susters, en ander vriende in sy huis (v 11). Die verklaring van die verband tussen hierdie spiritualiteit en voorspoed, moet versigtig benader word. Job se vriende en familie besoek hom nie omdat hy weer voorspoedig is nie. Vers 11 en 12 verwys na een van die maniere hoe God Job se materiële voorspoed herstel het (Newsom). Nog voor sy voorspoed herstel is, besoek hulle Job, eet saam met hom, betoon medelye, troos hom en gee aan hom geskenke. Sy voorspoed word in die proses van ontvang en gee, tussen Job en God en tussen Job en ander mense, herstel.
Die morele konsekwensies van sy "sien", het nie net op die individuele vlak geeïndig nie. Job laat erf sy seuns en dogters (v 15). Daardeur minag en ondermyn hy `n ou tradisie in die aristokratiese en patriargale samelewing wat bepaal dat dogters nie mag erf terwyl daar (nog) seuns oor is nie (Num 27:3-4; 42:15). Net soos voor die stormwind-toespraak (hfst 31), is dit nog `n bewys van Job se sosiale bewussyn en besorgdheid vir diegene wat deur kultureel-godsdienstige tradisies tot op die kantlyn van die samelewing gedryf word. Hierdie handeling weerspieël `n prentjie van `n vreugdevolle en vreedsame samelewing (Carson). Wat met Job gebeur en, deur hom, met al sy vriende, familie en ander mense, maak deel uit van sy voorspoedige en "volle lewe" (v 17).
Preekvoorstel
Die prediker kan weer kortliks aansluit by van die kultureel-godsdienstige elemente en reaksies van die drie Vriende en dié van Job voor die stormwind-toespraak. Hierdie preekvoorstel fokus net op enkele aspekte wat lig werp op Job se voorbeeldige reaksie ná die toespraak. `n Belangrike vertrekpunt is die wisselwerking tussen die transformasie van die individu en aspekte van die kultureel-godsdienstige oriëntasies voor, tydens, en na `n krisis of lyding. Met hierdie invalshoek word Newsom se kort refleksies oor die teksgedeelte verder uitgebrei as deel van die preekvoorstel. Die prediker kan die preekvoorstel verder uitbrei met haar/sy eie illustrasies wat die verhouding tussen oriëntasies en `n krisis of lyding uitbeeld.
Lyding is deel van die Lewe
Wat kan ons, in tye van krisis en lyding verwag van iemand wat die lewe meestal of net in terme van reg en verkeerd verstaan? Hoe sou so `n persoon se moontlike optrede tot die situasies, iemand in lyding, en God wees? Die regsperspektief veroorsaak dat Job na sy ondervinding en belewenis (meestal) in terme van reg en verkeerd kyk. Voor die stormwind-toespraak het hy soms sy eie reg en geregtigheid teenoor, soos hy dit sien, die onreg en ongeregtigheid van `n afwesige God gestel. Nogtans het hy nie sy omstandighede verstaan nie, en het die realiteit van sy lyding selfs ontken.
Die uitdaging van God uit die stormwind, bevestig dat die chaotiese onlosmaaklik deel van die lewelose en lewende natuur is. Sy belydenis sluit ook sy nuwe perspektief in. Nou sien hy dat lyding deel van die lewe is – die chaotiese in die lewe. Tweedens, dat God die mag het om alles uit te voer volgens die goddelike besluite. Hierdie godgegewe perspektief na die stormwind-toespraak vervang die regsperpektief. God is ook teenwoordig in die chaotiese omstandighede, om die lyding te beperk of te verwyder sodat mense nog voluit in of na die lyding kan lewe.
God is teenwoordig in die dorre woestyn en by die randfigure
Om te voel soos Job tydens krisisse en lyding, naamlik verwerp en eensaam, omdat God jou verlaat het, bewys hoe ons God se teenwoordigheid ervaar en daaroor dink. Die regsmetafoor in die godsdienstig-kulturele perspektiewe, word nie net gebruik om reg en verkeerd te onderskei nie. Dit word ook gebruik in pogings om te bepaal waar God teenwoordig is. Waar is God teenwoordig? In die goeie tye en gunstige omstandighede – waar daar voorspoed is en dit blyk asof "alles altyd reg verloop"? In chaos – waar daar teenspoed is en dit voorkom asof "alles altyd verkeerd verloop"?
Job se getuienis oor sy omstandighede weerspieël sy verstaan en ervaring van God se teenwoordigheid voor sy lyding. Toe sy kinders nog rondom hom was en saam die "volop dikmelk en strome olie geniet" het, het Job voorspoed in sy gesin ervaar. Jonk en oud het hom gerespekteer, leiers en die vernames in die gemeenskap, het na hom geluister en aan hom eerbied betoon. Dit het gebeur omdat hy teenoor die blindes, kreupeles, weeskinders, die vreemdelinge en die armes goedgunstig was; reg en geregtigheid laat geskied het. Alles was deel van, soos hy dit sien, "die beste jare van my lewe toe ek nog `n vertroueling van God was. Toe was die almagtige by my...." (vgl 29:4-6). Hy erken God se teenwoordigheid in die verlede, toe God by hom was en, dus, nog goed gegaan het. Hoe kan hy dus anders as om net die goeie te verwag. Hy het klaar gedink en geweet dat hy baie jare gaan lewe, "altyd nuwe krag sal hê", en "sonder sorge" sal sterf (vgl 29:18-20).
En nou, in die lydingsfase, beskou hy die jakkalse en volstruise as sy enigste vriende (30:29). Hy is hulpeloos en weerloos teenoor diegene vir wie hy so goed was, die randfigure wat uit die gemeenskap verwyder word. Die uitgeworpenes lag en bespot hom. Bo alles, God is nie besorg nie, maar gebruik geweld teenoor hom. Die jakkalse en volstruise herinner hom aan wie hy regtig is en aan sy omstandighede. Hy is `n verstoteling, `n uitgeworpene op `n "puinhoop". By so `n persoon en in sulke omstandighede, dink Job, kan God tog nie teenwoordig wees nie. Vir Job is God (net) teenwoordig in die goeie tye en gunstige omstandighede, maar nie in chaos en tye van teenspoed nie.
Job het heeltyd net aan homself gedink: oor my gesin, "my lewe", die almagtige "by my", oor my aansien in die samelewing, en oor my chaotiese omstandighede. Tydens sy lyding het hy net homself gesien as `n uitgeworpe randfiguur vir wie God verlaat het. Hy dink nie eers meer aan die ander randfigure vir wie hy omgegee het voor sy lyding nie. Wanneer hy aan hulle dink, dan is dit om God te herinner hoe goed en onskuldig hy nog altyd was. Hy het sekerlik gedink dat God die ander randfigure ook verlaat het, nou dat hy nie meer daar vir hulle namens God is nie, nou lag en spot hulle hom. Daar is dus geen rede om nou verder te gee nie; om `n vriend en vader vir die ander randfigure te wees nie.
Die skeppingsbeeld van die lewelose en lewende natuur wys dat God anders kyk na die jakkalse, volstruise, die diere van die "dorre woestyn", dus ook na die randfigure. Hulle is nie maar net nog uitgeworpenes en vreemdelinge nie. Net soos oor die "dorre woestyn" (38:25-27), so laat God die stortreën uitsak oor Job (38:25-27). Niemand en niks is buite God se bereik nie. Na die stormwind-toespraak het Job "gehoor" en "geluister". Nou weet hy wat God in staat is om te doen. Hierin het hy God "self gesien" (v 5).
God beperk of verwyder die lyding sodat ons weer kan ontvang en gee
Volgens die skeppingsbeeld is lyding nie net deel van die lewe nie. Dit word ook beperk sodat die persoon nog sinvol kan voortgaan. Met hierdie beeld uit die stormwind daag God Job uit om helder, beter, te "sien". Die mag en bevrydende teenwoordigheid ("redemptive presence") van God is nie net om te laat besef dat lyding deel van die lewe is nie. Daar is meer: Job moet weet dat God ook troos en versterk. Soos `n wilde perd word die chaotiese in die natuur in toom gehou deur die grense van die skeppingsordes wat ook die goeie inhou. Of, net soos met die dood, so word die "angel"(vgl 1 Kor. 15:54-55) uit die krisisse en lyding verwyder. Die chaotiese het nie die laaste sê nie. Dit word beperk of oorwin. Daarom kan die Christen tydens en na krisisse en lyding steeds ontvang en gee. Opgesom: as Christene kan en behoort ons `n oorvloedige en "volle" lewe in Christus en onder mekaar te geniet.
Tog is daar konvensionele perspektiewe en waardes wat `n struikelblok kan word. Dit sien ons in die effek wat onskuldige troos en bemoedigende woorde, soos om "Job se geduld" te volg of dat lyding (dalk) `n teken is dat God jou louter of straf, kan hê op diegene wat in `n krisis gedompel is. Hierdie woorde kan `n persoon laat voel dat nog net jakkalse en volstruise sy of haar vriende is. Die persoon kan`n gevoel van isolasie, vervreemding, en godverlatenheid ontwikkel. So kan die persoon moeilik voor God en saam met ander sinvol en voluit lewe.
Job het uiteindelik die geleentheid gekry en self na God geluister. Nou"verag" hy homself, en sit hy "vol berou, in sak en as" (42:6). Tog is dit nie `n teken van isolasie, vervreemding, of godverlatenheid nie. Daardeur bewys hy hoe oop en ontvanklik hy voor God en gevolglik vir ander mense word. Dit getuig van `n "vol lewe" in-wording in en na sy krisis en lyding.
Job aanvaar `n versoek van God. Hy moet vir sy drie vriende bid, wat hom in die verlede beskuldig het en "nie die waarheid oor God gepraat het nie" (42:7). Om met sy vriende te versoen, beteken dat Job homself moet losmaak van die verlede en iets van homself gee. In en deur gebed maak hy hom los van die afbrekende argumente van die verlede. Hy dra iets van sy versoening met God aan sy vriende oor. Deur Job se gebed versoen God ook met die drie vriende.
In die lig van hierdie vertikale en horisontale versoeningshandeling, is Job bereid om die gasheer vir sy ander vriende te wees. Hy vra nie waar hulle was nie toe hy homself as die vriend van jakkalse en volstruise beskou het. Wat belangrik is, is die versoenende handeling en egte gemeenskap (koinonia) deur middel van saam eet en gesels. Hy kry nie net nog `n geleentheid om te gee nie. Job kry ook die kans om van die gaste te ontvang.
Die gee en ontvang vind nie binne `n neutrale of totale vreedsame en vreugdevolle samelewing plaas nie. Deur sy drie dogters saam met die sewe seuns te laat erf, is`n voorbeeldige gebaar wat geslagsgrense oorsteek en tot voordeel is vir sy dogters as randfigure. Dit kon nie ongesiens by sy vriende en die gemeenskap verby gegaan het nie.
Job se gesondheid en omstandighede verander in en deur die hele proses van gee en ontvang. So word die laaste deel van sy lewe "voorspoediger as die eerste". Dit is alles te danke aan God as die gasheer, die Goeie-gewer wat hom laat "sien" en "`n vol lewe", ‘n oorvloedige lewe, skenk.
Bibliografie
Alden, RL 1993. The New American Commentary: An Exegetical and Theological Exposition of the Holy Scripture (NIV Text); Carson, D.A 1992. "Mystery and Faith in Job 38:1-42:1-6", in Roy . Zuck (ed.), Sitting with Job: Selected Studies on the Book of Job; Johnson, WS 2002. "Probing the ‘Meaning’ of September 11, 2001". The Princeton Seminary Bulletin Vol 23(1):36-53; McKenna, D 1992, in Roy B Zuck (ed.); Migliore, DL 2002. "September 11 and the Theology of the Cross". The Princeton Seminary Bulletin Vol. 23(1):54-58; Newell, LB 1992 in Roy B. Zuck (ed.); Newsom, CA 996. "The Book of Job", in David I Peterse en John L. Collins (eds), The New Interpreter’s Bible (A Commentary in Twelve Volumes); Nicol, W 2000. Godsdiens wat wérk: ontdek die soort godsdiens wat vir jou die beste werk; Van der Lugt, P 1995. Rhetorical Criticsm and the Poetry of the book Job; Van Zyl, Leon 1994. `n Teologiese Beoordeling van die Jahwe-antwoord (Job 38:1-42:6) in die Boek Job; "Windows on a Shatterred World", in Inspire (Winter 2002): Princeton Theological Seminary.