19 Oktober 2003

Agtiende sondag in koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Job 38: 1–7; 34-41

Ander tekste: Psalm 104; Hebreërs 5:1-10; Markus 10:35-45

Inleiding

Die fokusteks is ‘n gedeelte uit die Godspraak, in reaksie op Job se beskuldigings en uitdagings aan God. In hierdie antwoord word Job se aannames oor God en godsdiens uitgedaag. Die liturgie wil die moontlikheid bied om ‘n nuwe verstaan van God, sy skepping en by name die mens, vierend te fasiliteer. Uiteraard gaan dit om God se bevrydende teenwoordigheid – juis te midde van sonde en lyding. Die teks uit Markus kon ongelukkig nie in die liturgie ingewerk word nie. (Sien ook die "Inleiding" by 26 Oktober)

God vergader ons voor Hom

Aanvangswoord/votum

Voorganger: Voor God en sy gemeente bely ek

dat ek sy wil vir my lewe weerstaan het.

Bid vir my – dat ek mag lewe voor sy aangesig

om Hom te dien, al my dae.

Gemeente: Die Here sal jou vergewe

en jou bewaar vir sy toekoms

Voorganger: Amen!

Gemeente: Voor God, te midde van sy gemeente,

bely ons, dat ons sy wil vir ons lewe weerstaan het.

Bid vir ons – dat ons mag lewe voor sy aangesig,

om Hom te dien, al ons dae

Voorganger: Die Here sal julle vergewe

en jul bewaar vir sy toekoms

Gemeente: Amen!

Voorganger: Juis omdat God ‘n nuwe koers in ons lewe begin het, is ons hier vierend voor Hom bymekaar. Kom ons roep Hom aan.

Gemeente bid hardop saam: "Ons Vader, wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. " Amen (Stilte)

Seëngroet en die gemeente groet mekaar met sy seën

Loflied

Psalm 104 (Indien melodie onbekend is, kan melodie van Ps 134 gebruik word)

Diens van die Woord

Sang

Lied 254 3x

Skriflesing

Job 38:1 – 7, 34 - 41

Preek

Stilte en gebed deur liturg

Diens van die Tafel

Tafelherinnering

Lees Hebreërs 5:1 – 10 by die tafel

In die nagmaal beleef ons die waarborg van ‘n Hoëpriester, wat in elke omstandigheid bevrydend by ons teenwoordig is.

Voorbiddingsgebed

Deur ‘n lidmaat

Uitsending

Sang

Lied 575

Seën

Gemeente sing: Amen

 

PREEKSTUDIE – JOB 38:1-7, 34-41

Algemene inleiding tot die Jobtekste

Dit word in die algemeen aanvaar dat die lydingsvraagstuk die oorhoofse tema van die boek Job is. Soos by Job en sy vriende, beweeg ons gedagtes, gevoelens en handelinge tussen twee vrae, wat soms oorwegend bepaal hoe ons lyding ervaar en dit benader: (i) Waarom die lyding, en; (ii) Wie is God? Wie is ons? Volgens McKenna is die waarom-vraag `n etiese benadering, terwyl die wie-vraag die klem op spiritualiteit plaas; op die verhouding met God. In Job 38:1-7; 34-41 dui God aan uit watter perspektief Job, en ons vandag, na krisisse en lyding behoort te kyk. Mense worstel nog steeds met die lydingsvraagstuk. Die God-antwoord (Jahwe-antwoord) moedig ons aan om in elke konteks (in tyd en plek), perspektiewe te ondersoek en te suiwer, van waaruit die waarom- en wie-vraagstukke benader kan word.

Met die "wie"as fokus, kan die lydingsvraagstuk beskou word as `n toets vir vroomheid (piëteit); die mens se verhouding tot God, ander mense en die natuur. Vir van Zyl is die kern vraag of Job die "vroomheidstoets, naamlik om Jahwe nie te vervloek nie", slaag. Van Zyl gebruik vroomheid as die sleutelwoord in sy eerste en vyfde teksgroeperings (TG) en benamings vir die Boek Job. Hy plaas die Job-tekste soos volg in die vyf teksgroeperings en benamings as `n breë uiteensetting van die Boek Job:

 

 

TG

BENAMING

 

1:1-2:10

2:11-31:40

32:1-37:24

38:1-42:6

 

 

 

 

42:7-:17

Job se vroomheid getoets

Die interaksie tussen die drie Vriende en Job

Die Elihu-monoloë

Die Jahwe-antwoord(-e) en Job se response

Die eerste Jahwe-antwoord (38:1-40:5)

Jahwe-antwoord (38:1-40:2)

Job se respons (40:3-5)

Die tweede Jahwe-antwoord (40:6-42:6)

Jahwe-antwoord (40:6-41:26)

Job se respons (42:1-6)

Job se vroomheid bevestig en voorspoed herstel

Job se vroomheid bevestig (42:7-9)

Job se voorspoed herstel (42:10-17)

 

 

Teks en konteks

Ons teksgedeelte (Job 38:1-7, 34-41), val onder die vierde teksgroepering en benaming wat van Zyl soos volg uiteensit:

Bekendstelling - 38:1

Tematiese Uitdaging - 38:2-3

a. Plan

b. Uitdaging: Omgord

Uitbreiding van Tema (kern):

a. Lewelose natuur 38:4-38; Skepping van die aarde 38:4-7; Donderstorm 38:34-38

b. Lewende natuur 38:39-39:30; Leeus en kraai 38:39-41

Hierdie Jahwe-antwoord is `n reaksie op die gebeure voor die stormwind-toespraak, maar spesifiek op Job se beskuldigings en uitdagings aan God. Die inhoud kan direk of indirek herlei word na Job se toesprake in die vorige hoofstukke. Elihu se toespraak (hfst 32 tot 37) is feitlik `n opsomming van die belangrike argumente in die wyer konteks van die Boek Job. Tog praat hy ook anders met Job oor God se bedoelinge met die lyding.

Die vriende praat met Job óór God

Elihu beweer dat hy nie sy vriende se argumente sal gebruik nie (32:14), maar volgens van Zyl word "ál die kernargumente van die drie Vriende herhaal". Dit is argumente wat "direk verband hou met hulle soeke na die antwoord op die waarom-vraag van Job se lyding. Die argumente weerspieël die wyer konteks – die kulturele-godsdienstige perspektiewe – se invloed op die vriende se benadering tot die waarom-vraag.

Die beheptheid met die waarom-vraag reflekteer hulle kontekstuele beskouing van God. God is magtig en regverdig (34:17; 36:5-7). Die wolke, weerlig, reën, see, sneeu en stortreën wat mensewerk tot stilstand bring, en die voorsiening van voedsel, getuig van God se krag (35: 27-33; 36:6-7). God is regverdig, "Hy straf die mens net vir wat hy doen, Hy laat hom net kry wat hy verdien" (34:11). Job is `n sondaar, daarom straf die almagtige en regverdige God hom. God louter en vermaan Job deur die krisis en lyding. Met die loutering hou God hom weg van die "verkeerde dade" af (33:17-19); met die lyding vermaan God Job om hom "van die sonde te bekeer" (36:10). Volgens Elihu is daar `n duidelike lyn: as Job regverdig is, dan sal God hom bevry en sal hy voorspoedig wees (36:11, 15); as dit nie gebeur nie, sal Job, net soos die goddeloses wat God se toorn teen hulle ophoop, gestraf word (36:13-14).

Elihu en sy vriende oordryf `n "vergeldingsbeginsel" tot `n "vergeldingsdogma" (van Zyl). Vanuit hierdie en soortgelyke kulturele-godsdienstige perspektiewe, beskuldig die vriende Job en praat hulle óór God. Job moet weet: deur "groot krag" laat God "reg en geregtigheid geskied." Hy moet dus net sy "sonde" aanvaar en die almagtige en regverdige God se werke in die natuur "roem" (36:23-24). Elihu, as `n soort voorloper vir die stormwind-toespraak, klink tog so absoluut reg en oortuigend! Maar is sy onderliggende godsdienstige perspektiewe suiwer?

Job praat uitdagend en beskuldigend met God

Kulturele-godsdienstige perspektiewe bepaal ook hoe Job uitdagend en beskuldigend met God praat oor die oorsaak van sy (onskuldige) lyding. God moet as regter optree in `n soort regsgeding. God moet ingryp en verduidelik waarom hy ly, en daardeur die saak tussen Job en God, asook tussen Job en sy vriende, skik. In die proses ondermyn Job vir God. Hy beskuldig God as wreed, onregverdig en afwesig. Die implikasies is dat hy homself op dieselfde vlak met God stel. Is hulle op dieselfde vlak?

God in-stryd met Job vanuit die stormwind

In die Jahwe-antwoord word Job se veronderstelling van God en godsdiens, indirek aangespreek. Net na die Elihu-toespraak, spreek God hom aan. Die inleidende sin (38:1) verwys na die gebeure in die onmiddellike konteks - in tyd ("toe...") en plek ("uit `n stormwind"). God se toespraak is die antwoord op Job se aanhoudende uitdaging, spesifiek op sy pleidooi: "Roep my, en ek sal antwoord, of anders, laat ek praat en U antwoord my" (13:22); "nou moet die Almagtige my antwoord" (31:35). Job het lank gewag vir `n antwoord. Nou vervul God sy wens en antwoord hom, maar nie volgens sy verwagting nie. God is nie `n regter wat die saak tussen Job en God, en tussen Job en sy vriende op `n logies en wettiese manier moet skik nie. Job word uitgedaag vir `n ander soort stryd, `n reeks vrae (38:3). Iemand staan in `n verkeerde verhouding met God, met betrekking tot God se bedoelinge. Wie is hy wat God se bedoelinge met die natuur dwarsboom? Waar was en wat kan dié persoon doen? Job word oorweldig met vrae aangaande God se skepping, teenwoordigheid en instandhouding van die skepping. Dit alles wek sekerlik vrees en eerbied in hom op.  Daardeur moet Job iets anders as die oorsaak van sy lyding en wie reg of verkeerd is ontdek. Hy moet herontdek wie God is en wie hy as mens is.

In vers 4 en 7 verskyn die aanduiding van tyd ("toe") weer, sodat Job kan besef dat hy as mens nie teenwoordig was toe God die aarde geskep het nie. Waar was hy toe die fondament van die aarde gelê is, meer spesifiek, daardie oggend toe die sterre saamgesing het en die hemele gejubel het? Hierdie "toe" plaas God se identiteit in tyd en plek. As bron van die skepping, was en is God altyd teenwoordig en voer Hy sy goddelike plan uit. Die lewelose natuur - die aarde (38:4-7), donderstorm - en lewende natuur (38:34-41) - openbaar God se identiteit en plan.

Anders as Job, was God daar "toe die aarde se fondament gelê" is (vers 4). Let op na die woorde wat die gedagte van konstruksie uitbeeld (Van de Lugt): God het self die aarde "afgemeet", die "maatlyn oor hom gespan" (vers 5), en "aanmekaargesit". God was en is in `n skeppende hoedanigheid teenwoordig, daarom weet God waarop die voetstuk van die aarde neergesit is (38:6). Daardie spesifieke oggend "toe" die sterre en die hemele in blydskap uitgebars het, was Job nie daar nie (vers 7). Dus, hoe ver strek Job se kennis oor die fundamentele struktuur van die aarde en hemel? Kan hy met sy kennis doen wat God doen? As hy nie kan nie, kan hy volhou om God te beskuldig as afwesig en onregverdig teenoor hom en ander weerlose mense; die weeskind, die arme, en diegene wat onregverdig behandel, uitgebuit en aangerand word (24:1-12)?

Wanneer `n krisis die lewelose natuur bedreig – "wanneer die grond kliphard is en daar net groot kluite lê" (38:38) – verander God in wysheid en krag die situasie (v 34-38). Weerligstrale wat self soveel energie uitstraal, voer God se opdrag uit deur hulleself by die mens aan te meld: "Hier is ons" (vers 35). God het ook die "kennis om genoeg wolke bymekaar te bring" (v 37). Wolke luister na God, dan sak `n stortreën neer (v 34) of die "waterkruike" van die hemel word omgekeer (v 37).

Die oopdraai van waterkruike voorspel `n moontlike krisis. Daarom gee God verstand aan die "ibis" om die mens te waarsku teen `n vloed (vers 36). Die haan het die godgegewe insig, wat die mense nie het nie, om die "die dag aan te kondig" (vers 36). Alles gebeur nogtans in verhouding en tot voordeel van die mens, wilde diere en voëls. Die mens kan nog steeds nie die leeu en kraai met voedsel voorsien soos God nie (verse 39-41). Hulle word met die jaginstink gebore en is dus wesenlik onafhanklik van die mens. Besef Job dit alles? Of dink hy dalk, soos Elifas hom beskuldig het: "wat weet God? Hy regeer uit die donkerte uit" (22:13). Dus, deur die retoriese vrae word God se identiteit geopenbaar. Dit skep terselfdertyd die ruimte waaruit Job sy identiteit geleidelik kan herondek en herdefineer, te midde van sy lyding en vanuit God se perspektief. Newell erken die veeldoeligheid en die "wie" fokus van die Jahwe-toesprake en vrae: "...his speeches were not designed to be merely a display of his power and authority, but also for a relational purpose. They were designed to teach Job about God and about himself, and to draw a response."

Die fokusteks val in Koninkrykstyd, daarom kan dit maklik gebeur dat die geloofslewe vanuit morele en etiese kwessies op die voorgrond geplaas word. Newsom meen egter dat morele riglyne nie die primêre doel van die Jahwe-toesprake is nie. Die toespraak is eerder "’n moment van openbaring", met `n onbegryplike en geheimsinnige kwaliteit. Dit kan dus nie tot `n morele boodskap vereenvoudig word nie. Die fokus moet liewer op die "lewegewende saad" van die moment geplaas word, wat kan ontkiem in `n totale nuwe verstaan van God, wêreld, en mens. `n Persoon of gemeenskap word herhaaldelik deur hierdie moment nader getrek. So word die stories en momente van openbaring onthou as deel van `n persoon se lewe en van `n gemeenskap. Prediking is deel van `n groter proses om die moontlikhede te ontgin vir die geloofslewe. Die proses mag `n leeftyd duur, "but in that process one engages the existential questions of identity and vocation that God poses to us in divine speeches" (Newsom). God se bevrydende teenwoordigheid ("redemptive presence", Migliore) in die stormwind verbind die "lewegewende saad" met identiteit en "vocatio" ("roeping") in tye van krisis en lyding. In plaas van die waarom-vraag word hierdie verhouding deur die wie-vraag op die voorgrond geplaas.

Preekvoorstel

Die sleutelgedagte vir die preekvoorstel is: In krisis en lyding kan die lidmaat, gemeente en Kerk, terugkyk en vashou aan die bevrydende teenwoordigheid van God in die stormwind, aan die kruis, en in die graf van Christus. Hiermee kan die prediker poog om direk kultureel-godsdienstige perspektiewe uit te wys wat `n impak het op hoe ons voor God op ons eie en ander se lyding reageer. Met die volgende prikkelgedagtes en refleksies kan sy/hy die gemeente help om voor die stormwind te staan en terug te kyk na godsdiens-in-aksie in die Boek Job, asook gedurende die persoonlike en gemeenskaplike krisisse en lyding van vandag.

Een van die aangrypendste herinneringe van 11 September 2001, is die foto van`n kruis op `n Grieks-Ortodokse kerk. Die kruis op die toringspits van die kerk staan afgeëts teen die dubbele torings van die Wêreld Handel Sentrum (WHS) in New York. Die kerkgebou en die WHS, wat ekonomiese-politieke mag en krag simboliseer, het ineengetuimel (Migliore). Op die foto simboliseer die kruis die bevrydende verteenwoordigheid van God voor, tydens, en na die ramp en lyding. Bepaal die simbool van die kruis of van die WHS, hoe individue en gemeenskappe in Suid-Afrika, in Amerika, met God en mekaar praat, wanneer hulle oor en oor vra: Waar was God daardie oggend? Hoekom het dit gebeur? Verteenwoordig die reaksies die oriëntasies van Job se vriende of dié van Job voordat God met hom uit die stormwind gepraat het? (Hier kan die prediker die kultureel-godsdienstige elemente uit die Boek Job en uit vandag se konteks inbring).

Eerstens, volgens die vriende is God teenwoordig, maar gebruik die lyding as strafmaatreël vir een of ander sonde. God is betrokke by lyding as regter. Daar is talle voorbeelde van hoe individue en die kerk vir God as regter voorstel. Iemand word verkrag en word deur die magistraat onskuldig verklaar. Nie lank daarna verongeluk die persoon. Dit word gesien as God se straf en vergelding: Boontjie kry sy loontjie! Of, soos `n bejaarde in Tygerberg hospitaal dit vir my verduidelik het: Hy het probleme met sy bene en aanvaar dat God hom straf vir al die jare se dans ("dans is sonde"!). Of, die WHS in New York word vernietig en duisende mense ly. Dan volg `n uitspraak met godsdienstige elemente tydens die lyding en, dikwels, in die teenwoordigheid van die slagoffer: God wil die ekonomiese-politieke stelsels (van mag en oorheersing) totaal vernietig! Met hierdie soort taal kan dit maklik gebeur dat individue en gemeenskappe apaties word teenoor hulle eie of die lyding van ander, van die slagoffers. Of, persone kan aanvaar dat hulle die slagoffers van omstandighede is. `n Godsdienstige taal "wat nie werk nie" (Nicol) veroorsaak verwarring, bitterheid, en laat mense twyfel oor God se teenwoordigheid. So kan mense soos Job voel en dink: God is nie teenwoordig nie, daarom ly en sterf die onskuldiges.

Soortgelyke godsdienstige elemente het mense van verskillende geloofsoortuigings sekerlik beïnvloed op 11 September 2001 en daarna. Met vrae oor God se teenwoordigheid en die sin van die tragedie, het hulle na kerke en moskees gestorm. Maatskappye het ruimtes geskep sodat mense oor die gebeure kan reflekteer. `n Gemeenskap het by Princeton kweekskool bymekaar gekom, toesprake gelewer, en geworstel oor, byvoorbeeld, die doel van godsdiens en openbaring(s) in die Bybel en vandag. In sy toespraak kom Johnson tot die slotsom: "If there is any meaning to be found in these events, it will only be found in the righteousness of our response." `n Reaksie moet voorkomend wees om soortgelyke gebeure te verhoed. Tog moet dit `n kritiese selfondersoek insluit: Wie is ons eintlik voor God en ander mense?

Miskien het (of sal) iemand na Job 38 gryp en as ’t ware voor die stormwind gaan staan, en `n ander perspektief en respons ingebring. Daardie oggend toe God die fondament van die aarde (die grond waarop die Grieks-Ortodokse kerk en die WHS gestaan het) gelê het, waar was ons? Net soos voor, tydens, en na `n ramp of lyding, is God nog steeds op `n bevrydende manier teenwoordig.

Die gesprekke oor God gaan voort. Ja, God is en was teenwoordig maar hoekom hoor, sien, en voel ons dit nie konkreet nie. Gevoed deur kultureel-godsdienstige elemente, word verwagtings geskep dat God op `n dramatiese en bombastiese manier teenwoordig moet wees; mense verwag en soek die "Super-Bowl" ervaring en effek. Aan die ander kant word dit tereg genoem dat God deur ons, as "instrumente", teenwoordig en betrokke is. Die gevolge kan vir die slagoffers of gemeenskap tragies wees. Die bedoelinge is goed, maar word gekniehalter deur elemente in "godsdiens wat nie werk nie". So `n godsdiens laat mense twyfel en ander verwagtings koester: is God regtig konkreet betrokke deur ons wat dikwels agter godsdiens skuil en ons eie dinge nastreef en soms lyding veroorsaak? Kan God nie deur mag en outoriteit betyds intree, die lyding verhoed, en dinge anders laat verloop nie?

Toe die reën uitsak oor die grond en rommel, waar die Grieks-Ortodokse Kerk en die WHS gestaan het, het God al ver in die verlede die kennis gehad en op die regte tyd die wolke bymekaar gebring (v 37). Die reën het dit moeilik gemaak vir die reddingswerkers. Nogtans val dit altyd op die regte tyd en oomblik, al lyk dit soms nie so nie. Dalk het dit iemand verder en dieper laat kyk en laat reageer op God se mag en outoriteit met betrekking tot die lewelose en lewende natuur. So `n reaksie is sekerlik die resultaat wanneer God ingryp, "Wanneer die grond kliphard is en daar net groot kluite lê" (v 38). Wie anders het soveel mag en outoriteit om `n bedreiging, wat die mense en natuur in die gesig staar, af te weer? Wie kan uit die rommel, die harder grond, en die kluite weer hoop bring? Dit is God wat op `n besonderse manier die energie aan die weerligstrale verskaf om een sterk boodskap uit te stuur: "Hier is ons" (v 35).

Kyk hoe anders is God se mag en outoriteit! Dit oorheers nie die lewelose en lewende natuur nie, dit skep en hou die lewe in stand. Dit gee hoop vir die mens. Deur God se wysheid, het die "ibis" die kennis om die mens "teen die vloed te waarsku" (v 38). Vergelyk dit met die mensgemaakte instrumente wat vooraf waarsku teen `n tornado of aardbewing. Die godgegewe kennis van die "ibis" is so anders en so uniek. Die mens kan die waarskuwingsmeters vervaardig, maar nie die "ibis" nie. Job moet weet: deur die "ibis" waarsku en beskerm God die mens teen die ergste krisis en lyding. Of, net soos God die "maatlyn" gebruik het om die aarde af te meet (v 38), so gryp God in en gebruik `n "maatlyn" om die krisisse en lyding te meet en te beperk (Newsom). God "meet om te weet" en in te gryp!

Hoe werk godsdiens vir diegene wat daardie oggend in die WHS of elders was, met hulle vrae en reaksies op God se ingrype? ‘n Persoon was laat vir werk en het dus nie die gebou gehaal nie. Iemand anders het die oggend afgevat om sy kar reg te maak. `n Vrou het die verkeerde trein geneem ("Windows on a Shatterred World", Inspire). Is dit per toeval? Was God aan my kant? Sodra hierdie vrae en reaksies vanuit `n ander hoek beskou word, open dit ander perspektiewe. Wat van die persone wat in die gebou was, wat gesterf het of noodlottig beseer is: dié wat betyds by die werk aangekom het; dié wat nie die oggend by die huis gebly het nie, en; dié wat die regte trein gevat het. Dit kan tog nie eenvoudig beteken dat God "met ons" (sekere persone) was nie en, dus, "teen ander" nie. Hier moet ons waak teen `n "human entitlement that God can in no event let us down"? (Johnson). Wanneer ons voel dat God nie betyds en volgens ons verwagtings ingryp nie, kan ons dalk, net soos Job, God van afwesigheid en onregverdige optrede beskuldig. Ons godsdienstige worsteling kan dalk ons ongeloof weerspieël. Ons kan dalk sondig in die proses!

"Godsdiens wat werk" help ons om voor, tydens, en na `n krisis of lyding, op God se belofte en getrouheid te steun. Oor daardie oggend, 11 September 2001 (die prediker kan ook aan ander gebeure dink), moet godsdiens mense die ruimte gee en help om God aanhoudend te dank, te loof, en klaagliedere te sing. Deur die verskillende emosies, gedagtes, en aksies as "vrug" van hierdie ontmoetings met God, herontdek ons wie God is en wie ons is. Terselfdertyd bring dit ons in kontak met ander mense se krisisse en lyding. Die ontmoetings inspireer en voorsien die krag waarmee dié wat lyding veroorsaak teengestaan kan word. Dalk sing ons die klaagliedere teen onsself, die gemeentes en Kerk teen haarself! Nogtans sal die liedere ons, met ons godsdiens en al, terugneem na God se bevrydende teenwoordigheid "toe": die sterre saamgesing en al die hemele gejubel het oor God se "bedoelinge"; die Grieks-Ortodokse kerk, met `n mensegemaakte kruis, en WHS ineengestort het; die Christus aan die kruis gehang het, begrawe is, en uit die graf opgestaan het.

Bibliografie

Alden, RL 1993. The New American Commentary: An Exegetical and Theological Exposition of the Holy Scripture (NIV Text); Carson, D.A 1992. "Mystery and Faith in Job 38:1-42:1-6", in Roy . Zuck (ed.), Sitting with Job: Selected Studies on the Book of Job; Johnson, WS 2002. "Probing the ‘Meaning’ of September 11, 2001". The Princeton Seminary Bulletin Vol 23(1):36-53; McKenna, D 1992, in Roy B Zuck (ed.); Migliore, DL 2002. "September 11 and the Theology of the Cross". The Princeton Seminary Bulletin Vol. 23(1):54-58; Newell, LB 1992 in Roy B. Zuck (ed.); Newsom, CA 996. "The Book of Job", in David I Peterse en John L. Collins (eds), The New Interpreter’s Bible (A Commentary in Twelve Volumes); Nicol, W 2000. Godsdiens wat wérk: ontdek die soort godsdiens wat vir jou die beste werk; Van der Lugt, P 1995. Rhetorical Criticsm and the Poetry of the book Job; Van Zyl, Leon 1994. `n Teologiese Beoordeling van die Jahwe-antwoord (Job 38:1-42:6) in die Boek Job; "Windows on a Shatterred World", in Inspire (Winter 2002): Princeton Theological Seminary.