Ander
tekste: Psalm 146;Markus 12:28-34; Hebreërs
9:1-14
Let op die
voorafgaande vers(e) in Rigters 21:25: "daar was nog geen koning in Israel
nie," dit wil sê geen tekens in Israel wat heenwys na die Koning daarbo
nie, geen koning wat "die reg handhaaf" en wat sorg vir die arme, die
verdrukte, die wees en die weduwee nie (vgl. Ps 72:1,2; 12-14). Die gevolg? 'n
Soort wetteloosheid (vgl maar hoofstukke 20,21) waarin "elkeen gedoen het
wat reg is in sy eie oë," Watter onreg, geweldpleging, korrupsie die
eiereg teenoor ander ingehou het, maak nie saak nie. Solank dit maar reg was in
eie oë, vir eie gewin . . . .
In so 'n
donkere tyd, "die tyd van die (sogenaamde) leiers" gekenmerk deur
chaos, geweld, godsdienstige verval en burgeroorlog, speel die geskiedenis van
Rut af (1a). Aan die hand van die lotgevalle van 'n gesin uit Bethlehem word
die toenemende duisternis beskrywe totdat dit stikdonker word. Dit begin by die
hongersnood in Bethlehem waarin die basiese vir die lewensonderhoud, die
brood-nodige, ironies genoeg juis in die "huis van brood" (=
Bethlehem) ontbreek! En van die huis van (of sonder?) brood trek hulle die
vreemde in, na Moab, die land van die onegte kindskap (Gen 19:37; vgl Deut
23:3: Moabiete mag nie lid van die gemeente van Israel word nie). Nog erger: in
die vreemde sterf Elkana, die broodwinner, wat aan die gesin ook 'n regsposisie
in die samelewing gegee het. Maar daar sterf ook die twee seuns kinderloos wat
die toekoms van die gesin totaal uitwis! Geen wonder dat Naomi in die
duisternis, in die gevoel van Godverlatenheid, verbitterd en Godverwytend,
uitroep: moenie my meer Naomi (die skone) noem nie, maar Mara, die bittere, die
verbitterde (20,21). Die verhaal loop inderdaad al dieper af in die dieptes van
donkerte: geen koning, geen reg, geen brood, geen regsverteenwoordiger, geen
toekoms, sodat uiteindelik die naam van die vrou, bekend as die
"sweetie," as gevolg van haar namelose ellende, herskryf word met 'n
pen gedoop in bittere gal. Die bitterheid is sekerlik verstaanbaar, in 'n sin
bejammer ons haar – maar in haar sélfbejammering en selfgesentreerdheid (vgl
die twaalfmalige "ek"-taal in 11-13,20,21) raak sy letterlik
afstootlik, stoot sy almal rondom haar af (11-15,20,21). En op die uiteinde
blameer sy, in haar verbittering, vir Jahwe wat alles oor haar laat kom het
(21b). Sy is letterlik sonder God, sonder hoop in hierdie wêreld (vgl Ef 2:12).
In hierdie
donkere beskrywing breek daar tog uit 'n vreemde oord 'n lig deur: uit Moab wat
nie net die oorblyfsel van Elimeleg (= God is koning!) in die lewe moes hou
nie, maar ook in die persoon en optrede van die Moabitiese dogter Rut. Dikwels
word sy voorgestel as 'n beskeie, nederige gehoorsame dogter. Allermins! Sy het
'n wil van haar eie, maak 'n doelbewuste keuse teenoor die uitgesproke wens van Naomi, teenoor die voorbeeld van haar skoonsuster, teenoor haar ouerhuis en volk (vgl 2:12) en teenoor die gode van haar verlede. Sy draai nie om soos sy versoek
word nie, maar gaan as 'n vreemdeling na 'n vreemde land en vreemde volk by wie
sy geen "plek" volgens Deuteronomium 20:23 het nie – in die skaduwee
van 'n verbitterde, toekomslose weduwee (vgl hoe Rut se vreemde afkoms telkens
beklemtoon word in 2:2a,6b!). Bewustelik kleef sy Naomi aan (14b: dabaq is die selfde woord wat in Gen
2:24 gebruik word vir die huweliksverhouding), hou sy vas aan Israel en aan die
God van Israel (vgl 17b). "There is no more radical decision in all the
memories of Israel" (Trible). Kultureel gesproke, kies sy dood bo lewe,
onderweg-wees bo rus, vreemdelingskap bokant bekende omgewing. Gedra deur haar
lewensomwentelende keuse, word sy iemand wat uit diepe oortuiging handel, die
een wat altyd uitdagend op 'n pad gaan (vgl 16-19, 2:2v); daarin handel sy
sonder om op regte aanspraak te maak. Inteendeel, sy kan net op genade pleit
(2:10). In volledige oorgawe aan en vertroue op Jahwe onder wie se vleuels sy
skuiling soek (2:12b), waag sy dit. In volle vertroue waag sy en wag sy op die
garslande en by die dorsvloer van Boas! Inderdaad sal sy brood eet in
Bethlehem, in die huis van brood sal sy wel genadebrood eet. Genadebrood
uitgereik aan 'n vreemdeling wat in die duister vaskleef aan die God van Israel
wat genade betoon teenoor verworpenes – teenoor uitsiglose, toekomslose bedelaars
wat soos hondjies soek na die krummels wat van God se kindertjies se tafel val
(vgl Mk 7:28).
Op die rand
van dié gebeure staan Boas wat nog nie as losser optree nie, maar wat as
Israeliet teenoor die vreemdeling met gulhartigheid en beskerming optree. En op
grond waarvan tree hy so op? Omdat sy oë op 'n ander manier na die hulpelose
meisie kyk. Met oë wat nie haar Moabitiese vreemdheid en verlatenheid soos die
ander sien nie, maar met oë wat met genade kyk en vanuit die kyk haar troos en
versorg (2:13).
Dit ís
inderdaad so dat alle mense, ook gelowiges, donker tye in hulle lewe ervaar,
uiters donker tye waarin mense voel dat hulle uitgelewer is aan magte waaroor
hulle geen beheer het nie, wanneer die samelewing en al sy ekonomiese,
politieke, regtelike strukture die speelveld word waarop korrupsie, geweld,
bedrog, selfsug, ensovoorts, botvier. Dink maar aan die uiterste nood waarin
mense van Angola, Rwanda, Kosovo blootgestel is. En die ergste daarin is die
gevoel van hulpeloosheid en Godverlatenheid waarin só 'n bestaansnood spot met
die belydenis dat God regeer en in beheer is (vgl broodnood in Bet-lehem!). Dit
is dan "wanneer hoop se laaste spore in wanhoop vergaan" (Ps 130,
strofe 2); dat pessimisme en bitterheid gebore uit selfbejammering so maklik na
vore tree; dat 'n hele samelewing, ook gelowiges, selfgesentreerd raak, nie
omgee of tyd het vir iemand anders nie, selfs ook nie vir die binneste
familiekring nie. Pyn en traumatiese gebeure kan mense gevoelloos, hard,
verbitterd maak. In die dae as die aardse konings faal en as boonop die uitsig
op die groot Koning verlore raak – dan word mense in hulle
bejammeringswaardigheid tog ook so afstootlik as hulle die gal van hulle
kritiek op alles en almal aflaai.
Dit kos
moed, waagmoed, om in sulke tye los te kom uit die kokon van swartgallige
selfbejammering én Godsbelastering. Hoe? Deur 'n lewensomwentelende keuse te
maak. Dit is immers beter om 'n waagstuk aan te gaan as om passief te sit en
wag op die einde. Maar dit is nog baie
beter om op 'n basis van vertroue op en oorgawe aan God, weg van die
"terugweë," weg van die ou gebaande en bekende weë, op 'n nuwe pad te
gaan – 'n pad waarop jy wel deeglik weet dat jy van die genade van mense en van
die beskerming van God totaal
afhanklik is. Dit is egter nie goedkoop genade nie; dit is nie die genade van
'n vae illusie nie, maar genade wat jou werkend laat waag, maar ook leer om te
wag! Dit is genade wat jou in 'n ander, in die Ander se oë laat kyk en dáár
genade soek en al wagtend dit vind (2:13) – genade van die een, die Een wat
geen verpligtinge teenoor jou het nie, die Een wat jou sien, raaksien, aansien
en dan omsien. Genade waarop jy net kan wag, magteloos wag in die lang ure op
die songebrande grasvelde van die lewe; genade waarsonder jy niks kan doen nie en waarvoor jy niks kan doen nie! Dit is alleen volhardende geloof en
vertroue wat gelowiges laat gaan – en leer om te wag met geduld (Rom 8:25; vgl
Hab 2:3). Hierdie wag is 'n oefening in geduld en volhardende hoop, nie 'n
uitdrukking van wanhopige "hoop maar vir die beste" nie. Dit is 'n
wag wat weet dat jy nie alles kan beplan, bereken en beheer nie – en tog in
terme van die geloof handel en oop bly vir verrassinge wat God op die weg van
waaghalsige geloof bring.
In sulke
tye is die genadevind in die oë van 'n ander natuurlik baie belangrik, veral in
die geval van die vreemdeling, die verstotene, die veragte wat só dikwels 'n
veragtende blik van ander in die samelewing kry. Belangrik in die etiek is hoe
ons die ander sien – of: nie sien nie (vgl Hauerwas). Dit is die manier waarop
ons na ander kyk, wat hulle óf tuis en aanvaar óf verworpe laat voel. Die
onaansienlikes, die vreemdelinge, is dikwels diegene wat ons konfronteer in al
hulle broosheid in 'n harde wêreld op die oes van sukses ingestel. Die
on-aansien-like bedelaar by die voordeur, die dwelmverslaafde of prostituut op
straat is 'n appèl op ons om raakgesien te word met die oog van genade.
"By being outsiders they hold up a mirror to those within" (Van
Wolde). Veral in 'n samelewing en kerk (!) waarin dikwels die ryk en sterk
"insiders" en suksesvolles tel (vgl Jak 2:2v), is die vreemdeling die
spieël om te sien hoe lyk dit om magteloos, sonder status en regte te wees (vgl
Crossan) – en daarin ook raakgesien
te word.
Die
leesrooster plaas die teks in samehang met Deuteronomium 6:1-4, Markus 12:28 en
volgende verse, waarin dit gaan om die diepe verbintenis tussen Israel en die
enigste, unieke God – 'n verbintenis wat die oë laat oopgaan vir die Koninkryk
van God en sy allesopeisende gebod van die liefde as affirmasie van hierdie
Ryk.
Die preek
sou kon begin met die stelling dat ons juis in die tyd na Pase, in die
sogenaamde koninkrykstyd, nie altyd die oorwinning van die Paaskoning sien nie.
Veral nie in die jaar 2000 nie! Al wat ons sien is die ellende, byna die
afwesigheid van God in hierdie wêreld van onreg, geweld, ordeloosheid,
werkloosheid, armoede, waar elkeen aan hom- of haarself oorgelaat word en dan
maar doen wat reg is in eie oë (vgl 1onder Teks).
Dit lei tot 'n gevoel van magteloosheid, moedeloosheid en depressie of tot
aggressie en "anger" wat ander afstoot en verwerp. En mense bied
maklik vir hulle passiwiteit of aggressie die verskoning aan dat hulle
"ongelukkig" die slagoffers is van die kwaad, van die onreggeskiedenis
van apartheid of van regstellende aksie. Baie voorbeelde in die konteks van die
gemeente en die Suid-Afrikaanse samelewing sou hiervoor aangehaal kan word
(sien ook 2 hierbo).
Is dit dan
die enigste uitweg in sulke situasies, die uitweg in en uitdrukking van
teleurgestelde verwagtinge? Of is daar juis vanuit 'n byna radikale keuse vir God en sy Ryk, 'n keuse gebou
op 'n moedige vertroue op God en sy genade wat ons uit die kokon van
hopeloosheid bevry? Geloof wat juis in die donkerte die inisiatief neem en wag
op die verrassinge wat God op die weg van waaghalsige geloof en wagtende
volharding gee (vgl pt 2 onder Teks
en konteks hierbo). Die prediking moet en mag juis in die koninkrykstyd moed
en hoop gee, gedra deur 'n geloof wat in die donker die onsienlike God sien
(Heb 11:1,27). Die prediker moet in sy eie situasie sulke konkrete
handelingsvelde vir die geloof raaksien en die gemeente se oë daarvoor open.
Vir die
waagstuk van die geloof is nodig 'n gemeenskap van liefde wat die hopelose
raaksien en in beskerming neem. Daarin moet die gemeente juis in die
koninkrykstyd uitmunt: om met die oë van genade te kyk en om te sien na ander
en daarin geleenthede skep waardeur die vlugtelinge, die vreemdes, die
werkloses, die maatskaplik-uitgestotenes weer ingevoeg word in besielde
versorgende lewensverband. Op hierdie wyse gaan die belofte van 'n missionêre
diakonaat in vervulling: "in die dae sal tien man uit al die tale van die
nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: ons wil saam met
jou gaan, want ons het gehoor dat God met julle is" (Sag 8:23).
Bibliografie
(vir albei Sondae)
Campbell, EF, Ruth, a new translation; Crossan, JD, Ruth amid the alien community; Gottwald, NK, Proclamation 6, Series B, Pentecost 3, 16-18; Hanson, KC, Proclamation 4, Series B, Pentecost 3, 36-42; Hauerwas, S, Williman, WH, Resident aliens, 95v; Jonker, L, Rut in wyer kontekste, Acta Theologia 1999; Long, G, Preaching and the literary forms of the Bible, 82-86; Sasson, JM, Ruth: A new translation; Trible, P, God and the rhetoric of sexuality; Van Wolde, E, Ruth and Naomi.