Ander
tekste : Ps. 99;
1 Tess. 1: 1-10; Matt. 22:
15-22.
Wanneer 'n mens die fokusteks vir hierdie week lees, roep dit heelwat
vrae op. Daar is iets misterieus aan
hierdie teks. Jy voel of jy iets
daarvan verstaan, maar net sodra jy dit probeer verwoord dan voel dit of die
betekenis jou ontglip. Met die lees van
literatuur oor hierdie teks word die vrae eerder meer as minder. Die misterie wat die teks omring weerspieël
in 'n sekere sin iets van die misterie van die Een waarvan ons in die teks
lees. Ons kry 'n prentjie van die
wonderlike teenwoordigheid van God by sy mense - van sy goedheid en
genade. Tog lees ons nie net van God se
teenwoordigheid nie, maar ook van sy verberging of afstandiname. Anders gestel: die teks skets vir ons 'n
beeld van 'n God wat 'n misterie is, maar weliswaar 'n misterie wat sy
liefdeshart ontbloot.
Die breër konteks is belangrik vir die nadenke oor en die prediking van
hierdie teks. Dit volg op die bekende
hoofstuk 32 wat handel oor die episode met die goue kalf. Die volk oortree deur 'n afgodsbeeld te maak
wanneer Moses volgens hulle te lank op die berg talm. Deur hierdie daad van ongehoorsaamheid en ongeduld word die verhouding tussen God en die volk
ernstig bedreig. As gevolg van die volk
se ontrouheid is die beëindiging van die verbondsverhouding tussen God en die
volk 'n werklike moontlikheid. In
hoofstuk 32 lees ons dan ook dat die Here se toorn oor die volk ontvlam en dat
Hy hulle wil vernietig. Na aanleiding
hiervan vind 'n merkwaardige gesprek tussen God en Moses plaas. In dié gesprek lees ons van sterk pleidooie
en verrassende toegewings. Uit die
gesprek blyk iets van Moses se volharding, maar bowenal sien ons iets van die
karakter van die God wat die volk uit Egipte uitgelei het - die God wat genadig
en goed is. Die gesprek tussen God en
Moses in hoofstuk 32 en 33 is ook nou verbind met die daaropvolgende hoofstuk
waar ons lees van vergifnis en verbondsherstel (vgl hfst 34 vers 10: “...Ek
sluit nou 'n verbond met julle...”).
Tussen die verhaal oor verbondsverbreking (hfst 32) en verbondsherstel
(hfst 34), het ons die gesprek tussen Moses en God waar niks minder as die
verhouding tussen God en die volk op die spel is nie. Moses kry dit reg om God
te laat afsien van sy plan om die volk te vernietig. Moses slaag nie net daarin om die Here te beweeg om sy toorn
terug te hou nie, maar ook om die Here se belofte te verkry dat die Here 'n
engel saam met hulle sal laat verder trek (hoewel die Here self nie verder
hulle sal vergesel nie). Tog sien ons
dat Moses nie hiermee tevrede is nie, daarom pleit hy verder. Van hierdie verdere pleidooi (wat die hart
vorm van Moses se versoek) en die goddelike respons lees ons in ons fokusteks
(verse 12 tot 23). Hieruit blyk
dat Moses wil hê dat God self hulle op hulle reis vergesel. Dit gaan dus ten diepste oor die behoefte
aan versekering dat die volk aan die Here behoort. In Durham se woorde: “Exodus 33:12-17 is at the very centre of
the composite narrative of Presence-Absence-Presence which provides the
theological center of Israel’s struggle to belong to Jahweh” (446).
'n Mens sou ons teksgedeelte kon struktureer volgens die versoeke wat
Moses tot die Here rig. Samuel Terrein
volg, in sy boek met die mooi titel The
Elusive Presence, hierdie weg:
a) die eerste versoek (33:12-14)
die pleidooi om die Here
te ken (12-13)
die goddelike antwoord
(14)
b) die tweede versoek (33:15-17)
die pleidooi vir die
Here se voortgaande teenwoordigheid (15-16)
die goddelike antwoord
(17)
c) die derde versoek (33:18-22)
versoek om die
heerlikheid van God te sien (18)
die goddelike weiering
(19-20)
die goddelike toegewing
(21-23).
In die eerste versoek (verse 12-14) vra Moses dat die Here hom sy wil
bekend sal maak, sodat hy die Here kan ken en sy wil kan doen. Moses se pleidooi kom teen die agtergrond
van 33:1 waarin die Here die volk die
opdrag gee om weg te trek (die Here sal 'n engel vooruit stuur, maar nie self
saamtrek nie). Ons sien in die versoek
iets van Moses se angs vir die skeiding met God. Moses is skynbaar minder bang vir die tog deur die wildernis as
vir die gedagte om sonder God die reis te onderneem. Die taal van Moses se versoek wys op die eksistensiële manier
waarop hy die versoek om die kennis van God rig. Let byvoorbeeld op die gebruik van die imperatiewe soos “kyk”
(verse 12 en 13 - die 1983-AV vertaal vers 13 met “onthou”) en hoe dikwels die
voornaamwoord “U” gebruik word.
Hoewel die 1983-AV die goddelike respons as 'n vraag vertaal, volg meeste
eksegete die vertaling: “My teenwoordigheid sal (saam)gaan, en Ek sal rus gee”
( “My prensence will go, and I will give thee rest”). Die woord wat in vers 14
vir teenwoordigheid gebruik word beteken letterlik “gesig” of “aangesig”. Soos op vele ander plekke in die Bybel is
“gesig” hier die antropomorfisme wat dui op God se teenwoordigheid. Moses ontvang dus as antwoord op sy pleidooi
die versekering van God se teenwoordigheid.
Dit is egter nie teenwoordigheid op sigself nie, maar gekende teenwoordigheid (Miskotte). Dit is 'n tipe teenwoordigheid waarin God se
teenwoordigheid eksistensieel beleef word.
Uit Moses se tweede versoek (verse 15-16) blyk iets van sy
onsekerheid. Sal die Here met hulle
saamgaan? Waarskynlik hang dit saam met
die gedagte dat Moses die berg op 'n besondere manier as die woonplek van God
gesien het en dat daar dus tog 'n mate van twyfel was of God regtigwaar saam gaan
trek. Hoe dit ook al sy, God bevestig
in sy respons (vers 17) weer wat in die eerste respons beloof is, naamlik dat
Hy teenwoordig sal wees. Tog voeg die
Here ook iets by : Ek ken jou op jou naam.
Eksegete soos Muilenberg (in Ackroyd en Lindars) beklemtoon die
sentraliteit van die begrip “ken” in die teksgedeelte. Die woord kom immers ses maal in verse 12-17
voor - vyf keer in die mond van Moses en een keer deur die Here. Moses wil die Here ken op 'n dieper manier
as van te vore. Nou ontdek hy dat hy geken word. In Terrien se woorde: “Man’s knowledge of God depends on man’s
knowledge of being known by God ... Moses discovers unwillingly that theology
is not to know God but to be aware of being grasped and called to do the will
of God in history” (142,143).
In vers 18 lees ons van Moses se derde en mees ontblotende versoek: Laat
my net u magtige teenwoordigheid sien.
Of: wys my u heerlikheid. Moses
se onsekerheid en angstigheid is dus nog nie heeltemal uit die weggeruim deur
die versekering van die Here se teenwoordigheid en kennis nie. Hy soek iets meer. Hy wil nie net die belofte hoor
nie. Hy wil die heerlikheid sien.
Waar die vorige versoeke indirek was, is hierdie derde versoek baie
direk. In hierdie versugting sien ons
hoe Moses 'n prooi word van die oersonde wat soms die libido theologica genoem word - die lus na absolute kennis (vgl
Terrien). Moses soek nie net
versekering nie, hy soek sekerheid (vgl Brueggemann). Op hierdie versoek is die goddelike respons een van weiering en -
op 'n vreemde wyse - ook toegewing.
Deurdat die Here Moses se versoek weier (vgl verse 19 en 20) maak Hy sy
vryheid en soewereiniteit duidelik. Die Here bewys sy goedheid aan wie Hy
wil. Hy is immers 'n misterie wat nie
deur mense gesien of vasgevang kan word nie.
Hier sien ons iets van God se verberging. G’n wonder sommige uitleggers skryf oor hierdie gedeelte onder
titels soos “The Distancing of God” nie (Gowan). Wat uit die Here se weiering duidelik blyk is dat ons sy
teenwoordigheid deur sy naam (of openbaring) kan beleef, maar nie op 'n
volledige wyse sy heerlikheid (of essensie) kan sien nie. Ons moet dus waak om te glad en gerieflik
oor God te praat. Die Joodse geleerde Martin
Buber herinner ons hieraan wanneer hy daarop wys dat die Hebreeuse stam van die
Godsnaam 'n stotterwoord is. Ons ken immers die misterie wie ons God noem maar
gedeeltelik.
Maar saam met die goddelike weiering in verse 19 en 20 is daar 'n
raaiselagtige toegewing (verse 21-23): Moses moet op 'n rots klim en dan sal
die Here se heerlikheid by hom verbygaan.
Die Here sal sy oë bedek en hy sal die Here se rug sien. Uit die lees van dié vreemde verse word 'n
mens getref deur die teenstelling van gesig en rug. Wat word met gesig en rug onderskeidelik bedoel? Een moontlike verklaring is dat “gesig’ dui
op God se heerlikheid. Dit is sy wese.
Daarteenoor dui “rug” op sy naam, sy openbaring. Dit is wat God wys. Dit
wat God wys is egter nie sonder kontinuïteit met sy wese nie. Wat hy wys is immers sy goedheid - sy
liefdeshart. Hier is dus 'n element van
teenwoordigheid en afwesigheid. God is
teenwoordigheid. Ons kan steun op sy
belofte, maar ons kan nie sy heerlikheid sien nie. Ons kan God se heerlikheid nie vasvat nie. Hy is die “elusive prensence” (Terrien).
Hierdie verspringende teenwoordigheid van God beteken nie dat ons niks oor God
kan sê nie.
In Karl Barth se woorde: “Ons kan nie oor God praat nie - dit is ons
verleentheid; ons moet oor God praat - dit is ons opdrag.”
Of om Sam Keen se woorde (vanuit 'n heel ander konteks en beskouing van
spiritualiteit) te gebruik:
“It all depends upon
trusting
silence
and
laughing
because
It must be said.”
Ons moet dus oor God praat, ons moet sy beloftes toe-eien, maar ons moet
waak om te meen dat ons die misterie wie ons God noem, kan verklaar of
omvat. God is meer as wat ons van Hom
kan weet. Tog is ons nie sonder kennis
van God nie - hy maak immers sy naam (sy goedheid, sy liefde) bekend. Die Nederlandse teoloog Hendrikus Berkhof
verlig met 'n nuttige beeld vanuit die meetkunde die gedagte dat ons God se
misterie nie kan omvat nie, maar dat dit wat Hy laat ken (sy naam, sy
openbaring) nie los van sy wese staan nie.
Wat God van Homself openbaar is nie maar 'n lukrake deel van die sirkel
van sy liefde nie, maar 'n deel of insnyding wat tot by die sentrum reik. Maak nie saak hoe klein die insnyding nie -
dit lei tot die hart van God.
Daar word heelwat verskillende verklarings gegee vir die feit dat Moses
God van agter af kon sien. Hoekom kan
Moses dan God se rug sien en nie sy gesig nie?
Daar is reeds daarop gewys dat gesig en rug onderskeidelik dui op God se
heerlikheid en naam. Om meer hierop uit
die brei: die gedeelte verwoord iets
daarvan dat Moses 'n kykie op God se pad deur die toekoms kry - op sy magtige
dade in die geskiedenis. Dít nooi Moses
en die volk om te volg. Sommige
eksegete wys daarop hoe die Hebreeuse woord vir rug of rugdele etimologies
verband hou met die woorde vir einde en laaste. Dit is dus nie vergesog om te sê dat Eksodus 33 vir ons iets wys
van 'n God wat van tyd tot tyd in ons bestaan inbreek en ons sy goedheid en sy
waargemaakte beloftes wys nie. Dit is
as’t ware of hy vir ons deur 'n skrefie die waaragtigheid van sy toekoms laat
sien. Hoewel min mense wat oor die
gedeelte skryf iets daarvan maak, meen ek dat in die gedagte wonderlike
moontlikhede skuil wat met die nagmaal ontgin kan word. Met die tekens van die brood en die wyn wys
God nie net sy verlede nie, maar ook sy toekoms. Dit herinner ons aan God se magtige dade in die verlede én wys heen na die toekoms wat
deur Christus se sterwe en opstanding vir ons oopgebreek is.
Dié waarborg is egter net sigbaar as ons met ons by wyse van spreke met
ons ore kyk, dit wil sê in gehoorsaamheid.
Anders gestel: ons sien eers as ons gehoorsame volgelinge is. In 'n meditasie oor Eksodus 33 wys Coenie
Burger ook op die verskillende maniere waarop daar deur die eeue heen gegis is
oor die betekenis van die geheimenisvolle woorde van Eks 33:23. Hy kies dan self vir 'n verklaring wat meen
dat die verwysing na die rug van die Here met die leiding van die volk te doen
het. Moses wou in sy gesprek met die
Here seker maak dat die Here sáám-gaan.
Hierop antwoord die Here dat hy inderdaad voor-gáán! Die hoogste goed in die lewe is dus nie om
God te sien nie, maar om aan Hom gehoorsaam te wees. Alleen deur te volg gaan 'n mens se oë oop om te sien.
Daar is 'n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des
levens krijgt niemand ‘n program”. Dit
verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons
inhou nie. Niemand weet immers wat op
die lewensreis vir hulle as indiwidue of as gesin of as kerk voorlê nie. In die lig van hierdie onsekere karakter van
die lewe, gebeur dit dat mense deur die eeue vrae gevra het soos: Wat bied vir
ons 'n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe? Of:
Waarin lê ons diepste geborgenheid te midde van al die persoonlike, sosiale
en kosmiese katastrofes wat ons van hoor of beleef?
Vrae soos hierdie vra 'n mens nie elke dag nie. Tog is daar tye wanneer hierdie vrae na die oppervlakte beur -
soos wanneer 'n mens onsekerheid, seer of onstuimigheid beleef. Dit is dan ook meestal in sulke tye dat ons
as gelowiges tot die ontdekking kom dat ons diepste geborgenheid nie in
materiële welvaart of in sukses of by ander mense lê nie, maar in God
self. In sulke tye ontdek ons dat ons
aan God kan vashou - of eerder: dat Hy ons vashou. Dan beleef ons wat gelowiges dikwels bely, naamlik dat God daar
is vir ons as ons Hom nodig het. Ons
kan weet: te midde van die onsekere en brose aard van ons lewens het ons 'n
goddelike Reisgenoot op wie ons kan staatmaak.
In ons mens-wees kan ons egter voel dat dit alles goed en wel is dat ons
God as Reisgenoot en diepste geborgenheid het, maar dat dit darem alles baie
vaag is. Wie is God nou eintlik? Ons weet so min van Hom. Ons kan Hom nie sien nie. God is nie 'n maatskappy op die beurs waarin
ons kan belê nie. Al wat ons het is
brose woorde wat sê dat God daar sal wees vir ons. Benodig ons lewens nie 'n stewiger fondament nie?
Gedagtes soos hierdie maak dat 'n mens nogal begrip kan hê vir die mense
wat die goue kalf gemaak het (Eks 32).
Waarskynlik het hulle ook hierdie behoefte gehad na meer sigbare en
tasbare reisversekering as brose beloftewoorde. Skrifverklaarders wys dan ook daarop dat die volk waarskynlik nie
'n ander god wou uitbeeld nie. Nee,
hulle wou aan die God wat hulle uit Egipteland uitgelei het gestalte gee. Hulle was op soek na iets meer
konkreet. God is so vaag. Hulle soek na groter klarigheid.
In Eksodus 33 sien ons dat hierdie behoefte nie net by die volk leef nie,
maar ook by Moses. Uit Moses se gesprek
met die Here sien ons dat dit vir hom van wesentlike belang is dat die Here
hulle op hulle reis na die beloofde land vergesel. Daarom is Moses nie tevrede met die Here se belofte dat Hy 'n
engel met hulle sal laat saamtrek nie.
Nee, die Here self moet saamgaan.
Daarom pleit Moses vir die Here se teenwoordigheid by hulle. In ons teks sien ons dat die Here hieraan
toegee. Hy verseker Moses weer eens dat
hy by hulle teenwoordig sal wees. Tog
lyk dit of hierdie versekering nie vir Moses genoeg is nie. Daarom vra Moses in vers 18: Laat ek tog net
u magtige verskyning sien. Letterlik
staan daar dat Moses vra dat die Here sy gesig aan hom moet wys. Moses soek dus daardie ietsie meer as net
die versekering dat die Here by hulle sal wees. Hy wil nie net die versekering hoor nie, hy wil hê dat die
misterie onthul word sodat daar nie bloot by hom versekering deur hoorsê is
nie, maar sekerheid deur sien. Hy wil vir eens en wil altyd weet wie die Een is
wat met hulle saamgaan.
Waar God aan die vorige versoeke van Moses toegegee het, sien ons dat God
nie aan hierdie versoek van Moses toegee nie.
God onthul nie sy heerlikheid nie.
Deur hierdie weiering herinner die teks ons dat ons nie vir God kan
verklaar of in ons gedagtes en skemas vasvat nie. In 'n preek oor hierdie gedeelte verwys Robert McAfee Brown na
die Franse denker Gabriel Marcel se onderskeiding tussen 'n misterie en 'n
probleem. 'n Probleem is iets wat in
wese oplosbaar is. Deur briljantheid of
geluk kom die oplossing een of ander tyd.
Daarteenoor is 'n misterie in wese onverklaarbaar en onoplosbaar. In hierdie sin kan ons na aanleiding van ons
teks sê dat God nie soos 'n probleem is wat ons 'n greep op kan kry nie. Nee, God is 'n misterie wat ons begrip
ontglip.
Wat is die implikasies hiervan vir ons lewens? - Uiteraard hou dit in dat
ons nie te maklik en gerieflik oor God moet praat nie. Dit beteken dat ons nie net moet leer om oor
God te praat nie, maar ook om voor Hom en oor Hom stil te kan wees. - Teenoor
dit wat 'n mens kan verklaar staan 'n mens in die reël nie verwonderd nie. Omdat God 'n misterie is en nie 'n probleem
om op te los nie, kan ons lewens die karakter van verwondering dra. - Naas hierdie elemente van stilte en
verwondering, beteken die beskrywing van God as misterie dat ons lewens dikwels
in die teken van worsteling staan.
Geloof gaan dus nie net oor antwoorde nie, maar (veral) oor vrae en
dialoog.
Ons teks wys dus op God as 'n misterie wat die pleidooi om sy heerlikheid
te ontbloot weier. Tog eindig ons teks
nie met verberging nie. God weier
weliswaar om sy heerlikheid of sy gesig te wys, maar dit beteken nie dat God
niks van Homself bekend maak nie. In
die vertelling van Exodus 33 sien ons dat die Here vir Moses in 'n rotsskeur
plaas en sy oë bedek. Hy beweeg dan in
sy heerlikheid by Moses verby. Wanneer
die Here sy hande wegneem, sien Moses die Here van agter af. Wat wil hierdie vreemde woorde vir ons
sê? Miskien kan 'n mens dit so stel:
God wys nie sy gesig (sy heerlikheid of essensie) nie, maar hy wys sy karakter
... sy goedheid. Die misterie wie ons
God noem ken ons ten dele, maar Hy ken ons ten volle. Aan ons onthul dié Misterie sy liefdeshart. Hierdie Here is vry, maar hy gebruik sy
vryheid om genade en liefde te betoon, om te vergewe en af te sien van sy
toorn.
Van die konsert van die lewe kry niemand 'n program nie. Tog glo ons dat ons nie sonder waarborge is
nie. Nie omdat ons so heldersiende oor
die toekoms is nie, maar omdat God in sy liefde en genade van tyd tot tyd vir
ons sy rug laat sien. Hy wys ons sy toekoms. Hy herinner ons aan sy magtige dade in die
verlede en gee ons so 'n kykie op sy magtige dade in die toekoms. Dit is hierdie skrefies van sy heerlikheid
wat God vir ons wys as hy ons voed met die brood en die wyn of ons op soveel
ander maniere ontmoet. Dít maak dat ons
geborgenheid op ons lewensreis kan beleef - nie omdat ons die toekoms ken nie,
maar omdat ons geken word deur die Een wat die toekoms vir ons oopgebreek en
verseker het aan 'n kruis. As christene
glo ons dat dit juis aan die kruis is dat die goddelike Misterie sy liefdeshart
die duidelikste wys. Daar sien ons in
die veragte gesig van die gekruisigde die vreemde heerlikheid van God. Dit is alleen as ons in gehoorsaamheid Jesus
volg dat ons hierdie veragte gesig herken as die oorwinnende Lam op die troon
(vgl Openbaring 22:3,4).
Kommentare: Cassuto, U; Childs, B S (OTL); Durham, J I (WBC); Fensham, F C (POT); Fretheim, T E (Interpretation).
Aanvullend: Ackroyd, P H & Lindars, B, Words and Meanings: Essays presented to David Winton Thomas, 159-181; Breuggemann, W et al, Texts for Preaching: A Lectionary Commentary Based on the NRSV- Year A, 526-528; Brueggemann, W, Old Testament Theology, 150-182; Brown, R M, Reclaiming the Bible: Words for the Nineties, 3-8; Burger, C, Vergesel van die Almagtige, 82-89; Gowan, D E, Theology in Exodus: Biblical Theology in the Form of a Commentary, 217-255; Meyer, L, The Message of Exodus, 155-162; Miskotte, K H, Als de goden zwijgen (versameld werk 8), 295-303; Soards, M, Dozeman, T, McCabe, K, Preaching the Revised Common Lectionary (Year A, After Pentecost 2), 89-92; Terrien, S, The Elusive Presence, 138-152; Van der Laan, J H et al (reds), Woord in beweging 3, 180-187.