Eksodus 17:1-7 (Annes Nel)

26 September 1999

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Ps 78:1-4, 12-16;  Fil 2:1-13;  Matt 21:23-32

Teks

a)  Die verhaal is op die oog af ’n etiologiese vertelling – waar Massa en Meriba aan hulle name gekom het.

Childs bevraagteken egter hierdie oppervlakkige lees van die teks.  Volgens hom is daar verskillende motiewe aanwesig in die verhaal.  Daar is sprake van ’n konflik, die wonder van watervoorsiening en murmurering.  Volgens Childs was die tradisie van hierdie motief die aanleiding tot die stories oor die plekname en nie andersom nie.  Die plekname het dus nie aanleiding tot die tradisie gegee nie.

 

b)  Eksegete is dit eens dat ons hier met ’n kombinasie van verskillende verhale te doen het.  So byvoorbeeld sê Meyer dat dit sterk herinner aan die verhaal van Mara (15:22-27).  By hierdie geleentheid vind daar ’n ernstige en verwytende gesprek tussen die volk en Moses plaas.  Dit lei daartoe dat Moses hom tot die Here wend.  Volgens Hyatt is dit ’n kombinasie van twee verhale met dieselfde tema, maar met twee plekke wat as gevolg daarvan ontstaan het.  Waarskynlik is dit variante van dieselfde gebeurtenis.  Fensham sien die sentrale motief van Num 20 en Eks 17 in die sogenaamde ‘rib’ of  regstryd wat ontstaan het.  Die moontlikheid dat Moses gestenig kon word (wat in die wet vir bepaalde oortredings voorgeskryf word) en die naam Meriba (wat afstam van die woord ‘rib’),  bevestig Fensham se vermoede. Veral Num 20:1-13 moet saam met hierdie gedeelte gelees word.  Dat dit in die verhaal, van die kant van die volke gesien, veral om verset gaan, is baie duidelik uit die Numeri-verhaal:  ‘Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: ‘As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is! … ‘Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?’ (Num 20:2,3,10). Von Rad sê dat ‘Massa and Meribah. . . imply that legal cases were investigated and decided by ordeal there’.

 

Childs som die samestelling van die verhaal raak op: ‘There is such a variety in the Old Testament’s use of the Meribah tradition that one can suspect a complex history of tradition lying behind the present narrative. Unfortunately the evidence for tracing this development is no longer available, and one is left with a variety of hypotheses which have little chance of being established or disproved.’

 

c)      Oor die individuele verse kan die volgende opmerkings gemaak word. 

17:1:  Die reis van die volk het ’n spesifieke doel.  Dit kan afgelei word uit die woorde dat die volk uit die Sinwoestyn getrek het en ‘op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het.’   Oor waar Refidim geleë is, is daar geen eenstemmigheid nie. Die kombinasie van die name Meriba en Kades, kom dikwels in die Ou Testament voor (Num 27:14; Deut 32:51; Eseg 47:19; 48:28).  Dit het daartoe gelei dat sommige geleerdes Sinai-Horeb in die omgewing van Kades plaas.  ’n Ekskursie oor hierdie saak kan deur belangstellendes in Hyatt se kommentaar op Eks 19 gelees word.

 

17:2:  Waarskynlik is die versoek van die volk, dat Moses vir hulle water moes gee, deur ’n segsman oorgedra.  Dit was die gebruik dat die gesinshoof so iets sou doen.  Dat daar ’n mate van identifisering tussen Moses en God se gesag is, is reeds uit Eks 14:31 duidelik: ‘Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.’  Ook hier is dit duidelik dat die verset teen Moses ten diepste ’n verset teen God is. Moses se waarskuwing dat hulle die Here se geduld op die proef stel is een van die uitstaande kenmerke van die se volk gedrag tydens die uit- en woestyntog (Hyatt).  Dikwels gaan dit oor kos en water.  Lester Meyer is van mening dat die daar ’n paar verskillende verklarings vir die betekenis van kos in die woestyn in die Eksodusboek na vore kom.  In die eerste plek is dit ’n toets vir die volk.  In Eks 16:4 sê die Here: ‘Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.’  Wanneer die Here dan in die behoeftes van die volk voorsien het, word die volk ook opgeroep (op grond van die indikatief van God se sorg), om getrou te wees aan God: ‘Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom ’n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle ’n vaste reël neergelê.  Hy het gesê: ‘Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou’  (15:25,26). Tweedens gaan dit in die sogenaamde kosverhale oor die openbaring van God se krag en heerlikheid. Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: ‘Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het,  en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie’ (16:6,7).  Laastens is die kosverhale ’n uitdrukking van God se voorsienende sorg vir mense in ’n omgewing wat niks kan bied in terme van lewensonderhoud nie (16:32).

 

17:3:  Die verwyt van die volk was nie ongewoon onder die nomadiese volkere nie.  Volgens Fensham kon die mense dit van die leier verwag om te weet waar die waterputte en oasisse is van die gebied waardeur hulle trek.  Die woorde van hierdie vers is ’n eggo van Eks 16:3: ‘As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.’

 

17:4:  Moses se woorde in hierdie vers dui twee dinge aan:  enersyds sy irritasie met die volk (‘Wat moet ek met hierdie volk aanvang’).  Let daarop dat Moses nie praat van sy volk of selfs die Here se volk nie, maar van ‘hierdie’ volk.  Andersyds word sy vrees ten toon gestel (‘Netnou gooi hulle my met klippe dood’).  Steniging was dikwels die uiting van wraak deur ’n menigte wat nie meer beheer kon word nie.  Soos in 1 Sam 30:6, waar Dawid in sy nood na die Here geroep het omdat die manne daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi omdat hulle ‘verbitterd’ was, roep Moses hier om hulp.

 

17:5:  Die opdrag van die Here om ‘voor die volk’ verby te loop, is ’n aanduiding dat Moses se vrees ongegrond is.  Dit beklemtoon ook die Here se geduld met sy mense.  Die leiers van Israel moet as getuies saamgaan, want die volk moet besef dat hulle nie vir Moses teengaan nie, maar die Here self.

Die opdrag aan Moses om die kierie/staf waarmee hy op die Nyl geslaan het in die hand te neem, moes onmiddellik vrees by die volk tot gevolg gehad het.  Die rede is eenvoudig:  Moses se staf het die water van die Nyl in bloed verander.  Die verwysing na die staf saam met die Nyl het die oordeel opgeroep.   Uit die verhaal word dit egter duidelik dat die Here, ten spyte van hulle doelbewuste verset teen sy Moses se gesag, die staf as simbool van sy genade gebruik.

 

17:6  Die woorde ‘Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan’, is van groot betekenis. Die uitdrukking dui op ’n teofanie of Godsverskyning tydens die verhaal van die volk se klag oor die water.  Hierdie woorde van die skrywer is ’n doelbewuste teenstelling met die woorde wat die verset van die volk in vers 7 opsom: ‘Is die Here by ons of nie?’  In die Numeri weergawe van die verhaal is dit nie net die leiers van die volk wat getuies is die versorging deur die Here nie, maar die hele volk.  Hoewel daar in hierdie verhaal nie uitgebrei word op die teofanie nie, moet aanvaar word dat dit deel van hierdie verhaal is.

In hierdie vers word die alleenwerksaamheid van God beklemtoon.  Childs benadruk hierdie punt:  ‘The whole point of the story turns on the gracious and surprising provision of God who provided water for his people when none was available.’  Die Joodse tradisie het die idee begin ontwikkel dat die rots, met sy watervoorraad, die Israeliete op hulle pad na die beloofde land gevolg het.  Waarskynlik verwys Paulus na hierdie tradisie in 1 Kor 10:4. Die verwysing na Horeb is ietwat problematies, aangesien die heilige berg eers in Eks 19 deur die volk bereik word.  Waarskynlik kon die skrywer homself nie indink dat God op ’n ander plek as die heilige Horeb verskyn nie. 

 

17:7:  Hoewel die volk nie in hierdie perikoop die vraag gevra het of die Here in hulle midde is of nie, word hierdie dade van wantroue in en opstand teen Moses deur die gesien as die betwyfeling van God se teenwoordigheid.  In die name van die plekke word die sonde van Israel reeds aangegee: ‘Moses calls it Massah and Meribah, words meaning ‘proof’ (beproewing) and ‘contention’ (twis). This is said to be ‘because of the faultfinding of the children of Israel, and because they put the LORD to the proof by saying, ‘Is the LORD among us or not’’ (Meyer).

Konteks

1.  Hoewel die vraag:  ‘Is die Here by ons of nie?’ nie letterlik deur die volk gevra is nie, is dit duidelik dat die skrywer hulle gesindheid hiermee opsom.  Hierdie gesindheid kan natuurlik vanuit ’n pastorale hoek bekyk word.  Die opstand teen Moses en teen die Here was inderdaad sonde, maar hierdie mense was dors.  Volgens Eks 15 het hulle drie dae in die woestyn rondgedwaal sonder om water te kry.  Toe hulle dit wel kry, was dit bitter.  Ja, die Here het ’n wonderwerk gedoen en die water soet gemaak, maar die ervaring om dors te wees word nie gou vergeet nie.  Pastoraal gesien kon die gesindheid van Moses dus seker bietjie mooier teenoor hulle gewees het.  Nou vra hy wat hy met ‘hierdie volk’ moet doen en beskuldig hulle dat hulle die Here beproef.  

 

Ons interpretasie Moses se optrede kan goeie perspektiewe vir die prediking open.  Ons leef in ’n tyd waarin daar maklik verskonings deur predikers uitgedink kan word waarom sonde in sy kern  nie aangespreek hoef te word nie.  Ek noem enkele voorbeelde.  ’n Mens moet verstaan waarom mense soms rassisties is … die lang toue en regstellende aksie en taxi’s en moorde op plase en bomme maak dit nie maklik nie!  ’n Mens moet verstaan hoekom sommige lidmate nog teen die eenheid van die kerk gekant is … die gesindheid van sommige kerke, die agtergrond van sommige belydenisse, die finansiële implikasies vir pensioenfondse van predikante in sekere kerke, die feit dat lidmate oor ’n lang tyd deur die kerk geleer is om te dink soos hulle dink, moet ons tog verstaan!  ’n Mens moet verstaan dat mense deesdae bekommerd is oor die toekoms…die rentekoerse en onstabiele ekonomiese markte, werksonsekerheid en politieke onsekerheid maak dit nie maklik om die Here sommer net vir alles te vertrou nie!  ’n Mens moet verstaan!

 

Maak die begrip wat ons dikwels toon nie dalk die profetiese stem van die kerk stil nie?  Veroorsaak ons pastorale aanslag nie dalk dat mense maar voortgaan met ’n lewe waarin die teenwoordigheid van God verduister of selfs ontken word nie?  Is ons samelewing nie dalk die terrein van ’n moderne Massa en Meriba weens die bitterheid, opstand en weerstand van mense wat doelbewus kies om nie net uit God se genade te leef nie?  In sy boekie, Waar stond de kerk?, skryf Buskes oor die kerk se rol voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nederland:  ‘Indien die kerk haar aggressiewe karakter verloor, kom die aanval van die kant van die wêreld.  Indien die kerk met haar verwagtinge nie die wêreld deurdring, dring die wêreld met sy ideale die kerk binne.  Die kerk groei vas aan allerlei menslike, al te menslike ordeninge en belange.’ 

 

Buskes sê dat die kerk inderdaad sy priesterlike karakter oor baie jare nagekom het, maar tog baie min van sy profetiese karakter behou het: ‘Die priester sê ja vir die bestaande orde.  Die profeet sê nee.  Die priester is die man van rus en orde.  Die profeet is die onrusstoker.  Die priester hoort by die bestaande maatskappy en is een van die steunpilare.  Die profeet staan teenoor dit en is die heilig ontevredene.’  Miskien is Moses se houding en die skrywer se ‘onpastorale’ blootlegging van die sonde van sy mense iets wat ons dalk ernstiger moet neem. Natuurlik sal dit dalk tot gevolg hê dat sommige profete van die Here ook tot God sal moet roep omdat die weerstand teen hulle stem hulle lewe kan kos.

 

2.  Die vraag:  ‘Is die Here by ons of nie?’ is ’n hierdie gedeelte ’n samepersing van die sonde van die volk.  Al het hulle hierdie woorde nie gesê nie, het hulle lewenshouding die teenwoordigheid van die Here onder hulle bevraagteken. Die woorde van Lester Meyer is in hierdie opsig uiters insiggewend: ‘…they have failed to trust Yahweh despite all that he has done for them; they have turned against his agent when the going got difficult; and they have made their loyalty to Yahweh conditional on their own comfort and safety. The proper question is not ‘Is the LORD among us or not?’ but ‘Are we with the LORD or not?’ It is not Yahweh who is being tested, but Israel; and Israel has failed the test.’ 

 

As ’n mens die opmerkings wat hierbo by 17:2 geskryf is ook in gedagte hou, is dit duidelik dat die sogenaamde kosverhale ’n duidelike toetsing van die geloof van Israel in die bevrydende en teenwoordige God was.  Die land waardeur hulle getrek het, kon nie in hulle behoeftes voorsien nie.  Hulle was totaal op die Here aangewese.  Maar feitlik elke keer wanneer hulle swaarkry, verlang hulle terug na Egipte.  Ten diepste is dit hulle sonde.  Hulle kan nie aanvaar dat God met hulle op pad is nie.  Later som die Deuteronomis God se doel met die woestyntog op:  ‘Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.  Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom’ (Deut 8:2,3)

 

Soms maak voorspoed dat ’n mens in God glo.  Skynbaar is dit ’n algemeen menslike verskynsel om God makliker in goeie tye raak te sien.  Ons beskou ons geloof as ’n soort versekeringspolis teen die hartseer en lyding van ons lewe.  Solank die Here voorsien, bewys dat Hy God is, ek dit ervaar, is Hy ook teenwoordig.  Dit is nie geloof nie, maar godsdiens.  En godsdiens is dikwels ongeloof, omdat dit op ervaring en nie op God Woord gebou is nie (Berkhof).

 

Ongelukkig is dit ook waar van krisisse.  Hoewel krisissituasies mense soms op ’n punt bring dat jy jou hulp by die Here soek, is dit waar dat krisissituasies die potensiaal het om jou visie op God se teenwoordigheid te verloor. Wanneer ons uit ons omstandighede probeer aflei of God by ons is of nie, is dit lewensgevaarlik vir die geloof.  Die vraag:  ‘Is die Here by ons of nie?’ is die tipiese vraag wanneer mense in die een of ander krisis gedompel word.  Simundson skryf in sy kommentaar op Job dat ons vir mense kan sê dat God altyd by ons is, maar dat hulle in die realiteit van die trauma, pyn of smart, God nie sommer net vind nie.

 

Verskillende boeke het verskyn om hierdie lewensingesteldheid uit te druk.  Titels soos: If God is so good, why do I hurt so bad… Where is God in my suffering? (Simundson), gee uitdrukking aan die moeite wat mense het om God in krisistye raak te sien. Natuurlik is dit waar wat Calvyn oor die geloof gesê het:  Wie nog nooit gevrees het het nog nooit geglo nie…Waar die vuurtjie van geloof brand, trek die rokie van twyfel!  Maar die uitdaging van die geloof is juis om God in krisistye te vertrou, wanneer jy niks sien of ervaar van sy teenwoordigheid nie.  De Reuver skryf op ’n plek dat sekerheid van geloof iets totaal anders is as heerlike selfversekerdheid in windstil weer.  Nee, geloof is, soos Luther sê, om soos ’n held met die louter onmoontlike om te gaan, om God om sy hals te val.

 

Die Hebreërskrywer haal Ps 95 aan om na hierdie gebeurtenis te verwys.  Sy kommer is dat sy lesers, soos Israel van destyds, hardkoppig sal word en na die ou soort lewe sal terugverlang.  Soos Israel van destyds, is die kerk in die woestyn, op pad na die beloofde land.  Op hierdie pad sal die kerk telkens voor die toets gestel word om uit die hand van God te leef, om sy teenwoordigheid in krisissituasies raak te sien, om met die louter onmoontlike om te gaan.  Op hierdie pad sal die kerk en sy lidmate daarteen moet waak om die Here op die proef te stel deur te lewe asof Hy hulle nie lei nie.

Preekvoorstel

1.  Die preek kan begin met die verwysing na heelwat gedeeltes in die Bybel waarin aangedui word dat God se mense Hom dikwels teleurstel en beproef (Ps 106; Ps 95; Jes 7).  God was selfs spyt dat Hy die mens gemaak het.  Soos ons voorvaders in die Bybel en daarna, word ons lewe gekenmerk daardeur dat ons in opstand teen God kom.

 

2.  ’n Verdere punt kan die sonde van die mense in hierdie verhaal verduidelik.  Die plekname en ander getuienis in die Bybel oor hierdie gebeurtenisse kan vrugbaar gebruik word om hulle verset teen God, wat op die ontkenning van sy teenwoordigheid en die beloftes wat daarmee saamhang neerkom (sien interessantheidshalwe Heb 13:5 en let daarop dat hierdie belofte aan die kerk gegee word wat, soos Israel, op pad is na die beloofde land).

 

3.  In die meeste gevalle het ons goeie redes waarom ons nie die leiding van God volg nie.  Die eerste punt onder die konteks hierbo kan help om die saak te belig.  Ons leef in ’n tyd van ontkenning van ons aandeel in sonde.  Dis die kerk die ekonomie, my werkprogram of my agtergrond, kultuur of ouerhuis wat gemaak het dat ek nie die teenwoordigheid van die Here in my lewe kan raaksien nie.  Hoewel hierdie sake in gedagte gehou word, kan ons nooit die erns van ons sondige geneigdheid om nie onder God se leiding te leef, onderskat nie.  Ons twisredes teen die kerk, ons ouers, ànder se sonde teenoor ons, is baie dikwels ’n twis met God omdat ons nie uit sy genade wil leef en Hom in lewe, sterwe, onrus en onstabiliteit wil vertrou nie.  Ons stenig dikwels die waarheid omdat ons groter begrip, ’n meer pastorale houding verwag as: ‘Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?’ (17:2).  Ons moet goed verstaan dat ons nie kan wegkruip agter ons omstandighede wanneer omstandighede ons vertroue op God toets nie.  Dan vertrou jy die Here of jy leef asof Hy nie bestaan nie.  Suider-afrika bied ons die unieke geleentheid, bied die kerk die unieke geleentheid om in ’n skynbaar hopelose situasie, tot rus te kom in God se sorg en teenwoordigheid.  Miskien is ons soek na mag en onafhanklikheid te sterk om sommer so eenvoudig te leef!  Bonhoeffer sê:  Wat vasstaan is dat ons nooit iets van God kan eis nie, maar tog alles mag vra.  Wat vasstaan is dat in die lyding van ons bestaan, die ware vreugde lê, dat in ons sterwe, die lewe opgesluit lê.

 

4.  Toe Moses die staf waarmee hy op die Nyl geslaan het, opneem, moes vrees en bewing die volk en sy leiers beetgepak het.  Watter oordeel gaan ons nou tref?  God se genade verras Moses en ‘hierdie’ volk.  God se mense bly syne.  Daarom oorweldig Hy hulle met water om hulle dors te les.  Sy teenwoordigheid verdryf die volk sy twyfel en dors.

 

Walter Luthi vertel die verhaal dat hulle buurman kleintyd baie mooi geel perskes aan sy boom gehad het.  Vir hulle was dit altyd begeerlik.  Een van die takke van die buurman se boom het in hulle ‘gebied’ oorgehang, maar was bietjie hoog.  Een dag, terwyl hy strek om by een van die perskes te kom, groet die buurman hom uit die boom tussen die takke.  Dit is onnodig om te sê dat hy homself uit sy bloedgroep geskrik het.  Toe sê die buurman:  die lekkerste perskes is hier hoog in die boom.  Hou jou hande:  ek pluk vir jou af.  So het die buurman hom oorlaai met die grootste en mooiste perskes. Ek dink dat dit ’n goeie beeld kan wees om God se oorvloedige genade vir sy volk te beskryf.