Ander tekste: Ps 105: 1-6, 23-26, 45c; Rom
12: 9-21; Matt 16: 21-28
As 'n mens die uiters kriptiese roepingsberigte
rondom Noag (Gen 6:9-22) en Abram (Gen 12: 1, 4) buite rekening laat, kan met
reg beweer word dat hierdie teksdeel die eerste klassieke roepingsverhaal in
die Ou Testament is. Die perikoop afbakening van 3:1-15 is ’n feitlik
onlosmaakbare deel van die groter tekseenheid wat strek tot by 4:17 waar die
hele roepingsgesprek tussen Jahwe en Moses beëindig word. Vir 'n
verantwoordelike hantering van hierdie eerste 15 verse is dit daarom
noodsaaklik dat die hele gesprek en verloop van gebeure gelees en deurlopend in
gedagte gehou word.
Verskeie "standaard elemente" van 'n
tipiese roepingsverhaal, wat ook afwisselend in die ander roepingsverha1e, in
die Bybel voorkom, word vir die eerste keer in hierdie teksdeel aangetref. Dit
is naamlik die wonderbaarlike of bonatuurlike teofanie-verskynsel (brandende
bos), die dubbele noem van die naam van die geroepene (Moses, Moses), die
vreeservaring van die mens in die teenwoordigheid van God (toe word Moses
bang), die motivering vir die roeping, die duidelike uitspel van die
roepingsopdrag, die huiwering en poging tot verskoning van de mens en die
versekering van die teenwoordigheid van en hulp deur die Here, wat almal in
hierdie teksdeel voorkom. Hierdie elemente afsonderlik en in samehang met
mekaar verdien elkeen noukeurige eksegetiese aandag.
Opvallend in die teks is ook die afwisselende gebruik van Jahwe en Elohim
as Godsname in kontras met die omskrywende tradisionele naam van die God van
Abraham, die God van Isak en die God van Jakob en veral ook geheimenisvolle en
eintlik onvertaalbare persoonlike- of eienaam, "Ek is" wat in vers 14
genoem word en waaroor daar so baie geskryf en besin is. Indien iets van die
geheimenisvolle aard van God self in sy openbaring en roepingsoptrede
beklemtoon wil word, kan van die stof wat spesifiek oor vers 14 se verskeie
vertalingsmoontlikhede handel, met vrug geraadpleeg word. Ander tekselemente
wat ook interessantheidshalwe ondersoek kam word, alhoewel dit nie direkte relevansie vir die skopus van die
teksdeel het nie, is die veranderde naam van Moses se skoonpa (vgl Reuel in
2:18 en 2:21 en Jetro in 3:1) en ook die naam van die berg want hierdie
beslissende gebeure in die lewens van Moses en later Israel afspeel (vgl. Horeb
in 3:1 en Sinai-berg in hoofstuk 19 wanneer die belofte van 3:12 vervul word).
Sentrale elemente van
hierdie teksdeel wat met die oog op verkondiging ontgin kan word, is onder meer
die identiteit en karakter van Jahwe (wat na vore kom in die verrassende styl
van sy verskyning, sy handhawing van sy heiligheid, sy bekendstelling van
Homself as die God van die aartsvaders, sy besorgdheid oor die ellende van sy
volk, sy geduld met Moses en die misterieuse aard van sy Naam wat in verse 14
en 15 genoem word), die reaksies van Moses in sy kontak met Jahwe (aanvanklike
nuuskierigheid, sy bangheid vir God se nabyheid, sy minderwaardigheidbesef van
homself en sy poging om ’n greep op Jahwe te kry deur sy Naam te vra) en
natuurlik die hele aard en sentrale gerigtheid van die verhaal as
roepingsberig. Laasgenoemde is trouens ook die fokus wat Burger (Vergesel van
die Almagtige pp. 25-32) in sy oordenking oor hierdie teksdeel na vore bring.
Ter uitbouing van die homiletiese potensiaal van hierdie teksdeel kan dus
literatuur wat handel oor roepingsbesef binne die geloofsverband met vrug
geraadpleeg word. In hierdie opsig dink mens onder andere aan Luther, Calvyn en
Bonhoeffer se boeiende omskrywings en motiverings van vocatio as ’n sentrale
impetus in die gelowige mens se lewe. Ook Brunner se Divine Imperative is in
hierdie opsig vermeldenswaardig. ’n Nogal belangrike faset in hierdie verband
is die feit dat die Here juis vir Moses roep. Wie Moses op daardie stadium was,
'n man met 'n donker verlede en 'n bra uitsiglose toekoms, het vir Jahwe
blykbaar nie saak gemaak nie. God gee nie om wie mense is in terme van hulle
eie perspektief nie. Hy weet immers wat sy plan en doel met hierdie oënskynlik
vasgeloopte skaapwagter se lewe is. Daarom kom ontmoet en roep Hy hom en
sodoende kry ons ’n eerste kyk in die styl van Jahwe wanneer Hy direk met ’n
bevrydingsaksie begin. 'n Ander aspek van hierdie verhaal wat beslis ook aandag
verdien, is die motivering van Jahwe vir sy bemoeienis met Moses en Israel se
lewens. Vanaf vers 7 tot vers 10 van die berig word uitgespel dat Jahwe se
besorgdheid oor die lot en lyding van Israel aan die hand van die verdrukker,
die sentrale motivering vir sy betrokkenheid en optrede is. God word beweeg tot
optrede en verlossing vanweë die lyding en ellende van sy mense. Daarom roep en
gebruik Hy ook ander mense om in afhanklikheid van en vertroue op Hom by die
noodlydendes betrokke te raak.
Om hierdie teksdeel in
sy geheel as preekteks te hanteer en ook die verdere teksgedeelte tot by 4:22
te profileer, is dit baie moontlik om daarop te fokus as 'n roepingsberig. ’n
Basiese lyn van verkondiging wat gevolg kan word, is dan min of meer die
volgende:
Inleidend kan gevra word
na die koers of doel van die kerk en of na die gelowige mens as koninkryksagent
se lewe in die tyd en omstandighede waarin ons tans leef. Die verhaal van Ibsen
se Peer Gynt, wat ’n soort
altruïstiese, selfhandhawende lewe sonder rigting of doel geleef het, (Burger:
Vergesel van die Almagtige p.59) kan op aangepaste wyse gebruik word om die
belangrikheid van hierdie vraag te laat tuiskom. Die uitgangspunt vir hierdie
soort vraag is dat ’n kerk en/of gelowige mens se identiteit ten nouste
saamhang met hulle verstaan en ook aanvaarding van hulle roeping voor God.
In 'n tweede rondte word
die antwoord op hierdie vraag gegee as dat die kerk en gelowiges van huis uit
moet verstaan dat God daarvan hou en dit blykbaar deurlopend verkies om te werk
deur middel van 'n roeping in mense se lewe. Sy kontak en gesprek met Moses is
immers hoofsaaklik daarop gemik om hom tot besef te bring van sy roeping as
medewerker in God se heilsplan vir Israel.
Vir Israel self het Hy later weer ’n verdere en breër roeping gehad: Om sy heilswil voor die volke te demonstreer.
Derdens is dit nodig om
die vraag na die motivering van die roeping aan die orde te stel. Hoekom roep God mense as medewerkers? Hoekom
gebruik Hy spesifieke mense, het Hy mense nodig? Dit wil voorkom of ons teks en in ’n sin die hele Bybel, hierop
net een antwoord het, naamlik die nood en behoefte van ander mense (verse 7 en
9). God sien en weet dat mense swaarkry en seerkry. God neem die nood van mense
ter harte. Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien. Daarom roep
Hy mense ter wille van ander mense. Omdat Israel in die steengroewe van Egipte
gely het, het Hy vir Moses kom roep, omdat Israel telkens onder las van die
Filistyne gely het, het Hy die Rigters geroep om bevrydingsaksies te loods,
omdat die volk swaar gely het vanweë hulle eie sonde en ongehoorsaamheid, het
Hy telkens profete geroep om te vermaan en te oortuig van sy bedoeling, omdat
die ganse aarde en sy inwoners sug onder die gebrokenheid as gebrokenheid as
gevolg van die sonde het God sy eie Seun geroep tot Middelaar en daarna sy
Geesbeheerde kerk tot draer van die evangelie van bevryding. God word telkens
deur die nood en gesukkel van mense
gemotiveer om ander mense te roep as sy helpers en medewerkers om hierdie nood
aan te spreek en mense vry te maak. Wat natuurlik hinder is die vraag : Hoekom
wil Moses, gelowige mense en die kerk in die breë baie maal nie hoor en
positief reageer wanneer God hulle roep nie? Wat laat mense huiwer en weier om
hulle roeping raak te sien, of wanneer hulle dit tog besef, dit te aanvaar en
te begin uitvoer? In hierdie lig van die teksdeel en de breër verband kan daar
op drie moontlike redes vir hierdie onwilligheid gewys word
·
Moses, seker alle mense, besef
op ’n vlak dat om gehoorsaam te word aan jou roeping nie sommer so maklik is
nie. Dit gaan, soos wat Moses later telkens ondervind het, baie maal moeilik en
taai wees. 'n Roeping vra baie maal opofferings en meer as net 'n bietjie
moeite. Hier is Bonhoeffer sy bekende uitspraak: "If Christ (God) calls a
man, He bids him to come and die" toepaslik. Mense voel dit aan en is
daarom terughoudend en traag om saam te werk.
·
Moses en eintlik maar alle
mense, is te veel van hulleself bewus.
Ons sien net ons eie gebreke en tekorte raak en sê dan gou ek kan nie.
Wie is ek nou? Hoe kan ek nou iets
beteken of regkry? Hoe kan die Here my gebruik? Nee wat, daar is darem baie
beter en bekwamer mense as ek vir hierdie of daardie taak. En daarmee hoop ons
om los te kom van ons roepingsverantwoordelikheid en eintlik van Jahwe self.
·
Ons word nie gewoonlik diep
geraak en geroer deur die nood en swaarkry van ander mense nie. Op ’n manier
kan ons mense wat ons sien seerkry en ly, selfs jammer kry sonder om werklik
deernis met hulle te hê tot op die punt van ontferming oor hulle. ’n Soort
afsydige simpatie wat ons weerhou van direkte en persoonlike betrokkenheid is
meestal ons reaksie. Daarom is ons traag om die nood van ons mense te erken as
roepingsmotiverings.
Ten slotte kan God se reaksie op Moses en mense se huiwering en onwil hanteer word. God is anders in sy gesindheid en gerigtheid as ons mense. Daarom het die Here God natuurlik net een antwoord op die huiwering en weiering van mense om hulle roeping te aanvaar. Hy gee aan Moses en aan elke mens wat Hy roep, die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en bystand (vers 12). Dit is heeltemal genoeg om mense die moed te gee om te doen waartoe Hy hulle roep, al dink ons baie maal nie so nie. God roep en stuur sy medewerkers nie alleen nie. Per slot van rekening word mense nie geroep en aangestel tot projekbestuurders nie, maar slegs tot medewerkers van die Ingenieur in beheer, die Here God self. Wanneer Moses en ook ons dit hoor en besef en nogtans weier om ons roeping te aanvaar, kom dit eintlik neer op 'n twyfel aan Jahwe se integriteit, op ’n stuk ongeloof in sy belofte van bystand en uiteindelik in Homself as die Here wat in beheer is.