1 AUGUSTUS 2004

Agtste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 2 Johannes 4-11

Ander tekste: Hosea 11:1-11; Psalm 107:1–9; Kolossense 3:1-11; Lukas 12:13-21; Ps. 49:1-13(21).

Inleiding

Hosea 11:1-11 is ryk aan beelde van God as versorgende ouer en as vernietiger, maar vertel ten diepste van die vergewende liefde van God. Psalm 107 is ’n loflied wat bely dat daar aan die liefde van die Here geen einde is nie. Kolossense 3:1-11 moedig gelowiges aan om erns te maak met die dinamiese werk van God in hulle lewens; om te fokus om die wil van God uit te leef soos wat God in hulle lewens werk. Lukas 12:13-21 het dit oor ons gesindheid (waardes) ten opsigte van rykdom (die tirannie van besittings). Die Prediker-gedeelte dui op die onsekerheid van die lewe (veral t.o.v. besittings), terwyl Psalm 49 bevestig dat ons aan die Here behoort (veral v.16) en ons nie hoef te steur aan die wêreldse dinge nie. Die preekvoorstel op 2 Johannes:4-11 neem as tema: Ons word geroep om ons identiteit as Christene kenbaar te maak in ’n wêreld vol verleiers deur in liefde te leef en te bly by die waarheid van ons belydenis dat Jesus mens geword het!

Volg die voorstelle in die basisliturgie. Wat hier volg, kan gebruik word ter verryking daarvan, of as variasie ter wille van die boodskap van die bepaalde Sondag – in hierdie geval die appèl op gelowiges om ons identiteit in Christus, in liefde en in trou aan wat ons van Christus bely, uit te leef.

Voorsang

Lied 470 "U, Here, is ons koning", Lied 594 "Na ons bestaan in tyd en ruimte", Psalm 107:1 en 3 "Die mense wat behou is", Lied 293 "Jesus neem ons kleine kinders", Lied 164 "Ons is almal hier tesaam" NSG: 80, 396.

Kantory/kerkkoor

Indien jy ’n kantory of kerkkoor wil benut, kan die volgende liedere gebruik word:

Lied 166 "Kom, Heil’ge Gees" – direk na die seëngroet

Lied 228 "Halleluja" – na die Skriflesing

Lied 526 " Waar daar liefde is" – na die prediking

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Laat iemand (of dalk ’n spreekkoor van katkisante of die hele gemeente saam) die Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels) voordra. Alles wat in die erediens volg, vloei voort uit hierdie belydenis.

Aanvangswoord

Lees Psalm 107:1–3. (Alternatief: Vaste formule volgens die basisliturgie, met respons van gemeente – Ons Vader.)

Seëngroet

Omskryf Hosea 11:8-9, byvoorbeeld:

Die Here groet sy gemeente wat hy vanoggend voor Hom vergader het: Hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou laat vaar? Hoe kan Ek jou vernietig? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

Lof en aanbidding

Lied 158:1, 2, 3 "Bring my na u woning, Here"; Lied 220:1, 2, 3 "Met ons harte sing ons, Here"; Lied 450:1, 2 "Vader, Seun, Heil’ge Gees"

Wet

Kolossense 3:1-11

Verootmoediging

Lied 448:1, 2, 3 "O God, ons wil U altyddeur" of Lied 235 "Voor u wet, Heer, staan ons skuldig" of Lied 236 "O God, hoe salig om te weet"/NSG:217

Diens van die WOORD

Epiklese

Psalm 119:57-64

Skriflesing

2 Johannes:1-13

Kindertyd

Woordbediening

Indien die driedeling van die preekvoorstel gevolg word, sou dit onderbreek kon word met liedere waarin oor daardie bepaalde waarheid nagedink word.

Maak jou identiteit as Christen kenbaar / wys dat jy ’n Christen is, deur in liefde te leef volgens die gebod van God. Sing Lied 526 ’n paar maal "Waar daar liefde is".

Maak jou identiteit as Christen kenbaar / wys dat jy ’n Christen is deur te bly in die waarheid van die belydenis dat Jesus mens geword het. Sing Lied 260:2, 3 "Ek glo vas in Jesus Christus".

Maak jou identiteit as Christen kenbaar / wys dat jy ’n Christen is, deur geen kompromieë te maak met die verleiers nie. "Sing Lied 271:1, 2 "Heil’ge Jesus, wat my lewe"/NSG 274

Of sing ná die Woordbediening: Lied 271:1, 2/NSG 274 of Lied 260:2, 3, 7.

Diens van die TAFEL

Indien nagmaal gevier word – volg basisliturgie

Indien die nagmaal nie gevier word nie

By die nagmaalstafel (waarop die brood en die wyn gedek is, sigbaar): Lees uit die nagmaalsformulier die volgende voor: "Die nagmaal is in sy wese ’n verbondsmaaltyd, waar die verbinding tussen Christus en sy gemeente telkens vernuut word. As verbondsmaaltyd is dit ’n viering van ons gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Die nagmaal verbind ons nie net met sy dood nie, maar help ons om in die gemeenskap met Hom te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig. Verder word ons deur dieselfde gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam, in broederlike liefde saam verbind, soos die apostel sê: ‘Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood’ (1 Kor. 10:17)."

Respons van gemeente

Lied 284:1, 2, 3 Laat, Heer, u vrede deur my vloei" of 295:3 "Heer, ons wil U wy ons lewe"

Offergawes, bulletin en voorbidding

UITSENDING

Sang

Lied 532:1, 2, 3 "Ons Vader, neem ons hande"

Seën

Jy wat in jou nood na die Here roep om hulp, Hy sal jou red uit jou ellende en jou op die regte pad bring. Jy wat versmag, Hy sal jou dors les. Jy wat honger ly, Hy sal jou die goeie in oorvloed gee.

Psalm 107:6, 7 en 9 aangepas.

Respons

"Amen" (kies enige van Lied 312-315)

 

iNLEIDING tot DIE JOHANNESBRIEWE

Inleidend

Die Johannesbriewe moet in samehang met die Johannesevangelie gelees en verstaan word, aangesien hulle ook voortkom uit die wel en weë van die Johannesgemeenskap. Die briewe moet gelees en verstaan word teen die agtergrond van die konflik wat in die gemeenskap ontstaan het oor die Christologiese en etiese implikasies van die Jesus-gebeure, soos bewaar in die Johannesgemeenskap. Binne die gemeenskap woed `n teologiese stryd wat aan die huidige leser die geleentheid bied om opnuut te oriënteer aan Jesus en die ware liefde.

Kanonisiteit

In die Johannesbriewe word die outeurs nie vermeld nie. Alhoewel 1 Johannes nie streng gesproke `n brief is nie, word dit tog onder die briewe behandel. 2 en 3 Johannes is van die kortste geskrifte in die Nuwe Testament en het `n moeisame pad van aanvaarding geloop, veral rakende die outeurskap. Dit het eers diep in die tweede eeu bekend gestaan as die Johannesbriewe. 1 Johannes was toe reeds algemeen aanvaar terwyl die ander twee nog beskou is as betwiste boeke. Eers in die vierde eeu is al drie erken as kanonieke boeke.

Literatuursoort

1 Johannes vertoon nie die algemene kenmerke van `n brief nie, terwyl die outeur 13 maal die woord "skryf" en 22 maal die frase "aan julle" gebruik. Verskeie verklarings van die literatuursoort is al aangebied en kan miskien op grond van die persoonlike aanslag en die pastorale en vermanende toon aangedui word as `n pastorale homilie of referaat met `n briefkaraker. Beide die Johannesevangelie en die briewe het ontstaan uit die Johannesgemeenskap. Die evangelie is bedoel om die gelowiges te versterk in hul geloof dat Jesus die Messias, die seun van God is. Die teenstanders het hoofsaaklik van buite die gemeenskap gekom. In 1 Johannes lê die klem op die volledige menswording van Jesus en kom die teenstanders van binne die gemeenskap self. Die teenstanders se aktiwiteite word beskou as gelykstaande aan dié van die antichriste en valse profete. Hulle was waarskynlik Christene binne die gemeenskap wat die tradisies verskillend geïnterpreteer het.

Die teenstanders het die menswording van Jesus nie ontken nie, maar die beslissende belang van Jesus se aardse lewe en die noodsaak van sy kruisdood gerelativeer; dus ook die etiese implikasies daarvan in die lewens van mense. Ons kry by hulle `n misplaaste perfeksionisme waar sonde nie so erg en die kruisdood van Jesus nie so noodsaaklik is nie. Hulle maak aanspraak op die besit van die Gees, maar besef nie dat die vrug van die Gees praktiese liefde is nie. 1 Johannes bied `n pastorale antwoord op die teenstanders se leer in die vorm van `n homilie met `n briefkarakter.

2 en 3 Johannes is ongetwyfeld persoonlike briewe. Elkeen beslaan die lengte van `n standaardbrief wat op een vel papirus ingepas het. Dit is die kortste briewe in die Nuwe Testament en geskryf in klassieke Grieks-Romeinse styl, wat algemeen in gebruik was teen die einde van die eerste eeu. Die brief het bestaan uit `n aanhef, verwysing na die afsender en ontvanger, met `n groet aan die einde. Die afsender by beide word aangedui as "die oudste", terwyl die ontvanger by 2 Johannes die "uitverkore vrou" is. In 3 Johannes is "Gaius, my vriend wat ek waarlik liefhet" die ontvanger. 2 Johannes is meer leerstellig en aan die gemeente gerig, terwyl 3 Johannes meer persoonlik is.

Datering en plek

Al drie die Johannesbriewe het ontstaan binne die Johannesgemeenskap – `n eksklusiewe gemeenskap waarin die Jesus-tradisie op eiesoortige wyse geïnterpreteer is. Die gemeenskap het bestaan uit Joodse Christene asook Christene uit die heidene. Hierdie gemeenskap het hulle afgesonder en stelling ingeneem teenoor die sinagoge en die wêreld. Die Johannesevangelie en briewe het binne die gemeenskap ontstaan en gegroei (die evangelie waarskynlik tussen 90 en 100 n.C.; 1 Joh. tussen 95 en 100 n.C., en die ander twee kort daarna, teen ongeveer 100 n.C.).

Bibliografie

Du Rand, J A 1985. Diktaat Nuwe Testament; Du Rand, J A 1981. Beleef julle sekerheid; Marshall, H.M. 1983. The epistles of John.

PREEKSTUDIE – 2 JOHANNES 4-11

Teks en konteks

2 Johannes bevat al die elemente van `n tipiese Griekse brief en word hier as sodanig behandel en ontleed. Die brief kan gesien word as `n herderlike skrywe waar die outeur hom sorgsaam rig tot die konkrete situasie in die gemeente – die konflik wat in die gemeenskap ontstaan het oor die Christologiese en etiese implikasies van die Jesus-gebeure. Die brief kan in vyf dele verdeel word rondom die gedagtegang wat op twee brandpunte konsentreer – die belydenis dat Jesus Christus mens geword het, en die opdrag aan die gelowige om in liefde te wandel. `n Moontlike tema vir 2 Johannes is: Leef in liefde volgens die gebod en bly by die ware leer van Christus deur julle belydenis!

Indeling van die brief

Deel 1 - Aanhef: Ons wat die waarheid ken, groet julle wat in waarheid en liefde leef (1-3).

Deel 2 - Dankbetuiging: Ek is bly dat sommige in die waarheid leef volgens die gebod (4).

Deel 3 - Versoek en motivering: Leef gehoorsaam aan sy opdrag om mekaar lief te hê (5, 6).

Deel 4 - Oproepe: Bly by die leer van Christus deur die ware belydenis; moenie die bringer van dwaalleer ontvang nie (7-11).

Deel 5 - Slot: Mededeling van `n voornemende besoek en groet (12-13).

Deel 1 (1-3) bied die motivering vir die besondere verhouding tussen die lesers en die skrywer: die skrywer het die lesers lief omdat hy en die lesers saam deel het aan die waarheid. Dit is die sekerheid wat gelowiges het dat hulle aan God behoort. Daarna volg die seënwens in die vorm van `n groet.

Deel 2 (4) bevat `n dankbetuiging as formele briefelement. Dit bestaan uit die skrywer se bevinding oor die lewenswandel van die lesers. Hy is baie bly (Grieks echaren lian) omdat hy tevrede is met wat hy gevind het (Grieks eureka). Die aanleiding tot die dankbetuiging, naamlik dat die skrywer bly is dat die lesers in die waarheid leef, is die resultaat van die nakoming van die gebod. Deel twee het `n skarnierfunksie en dien as die oorgang na die briefkorpus waar die gebod en die leef in die waarheid verder verduidelik word.

Deel 3 (5, 6) bestaan uit `n versoek om mekaar lief te hê. Dit word uitgebrei deur die motivering tot die versoek, nadat die versoek eers gestel is om vervolgens gekwalifiseerd uitgebou te word. Die betekenis van peripatein (om te wandel, om te leef) is baie belangrik. Vers 6 bied die kwalifisering van die liefde (Grieks agape); om gehoorsaam te leef volgens sy gebooie. Daarna volg die kwalifisering van die gebod (Grieks entole); om in liefde te leef. Die liefde en die gebod word verbind deur die peripatein (leef, wandel). Van die gebod word gesê: Ons besit dit van die begin af; ons het dit van die begin af gehoor. Die inhoud daarvan is om mekaar lief te hê, terwyl die toets daarvan in die leef/wandel lê. Van die liefde word gesê: Dit is die inhoud van die gebod, terwyl die toets ook in die wandel/leef lê.

Deel 4 (7-11) gee `n verduideliking van die rede vir die versoek van deel 3. Die lesers se identiteit word getoets aan hulle belydenis dat Jesus mens geword het en aan hul leef in liefde. Die wat bely dat Jesus mens geword het, leef in liefde. Die gelowige maak sy identiteit kenbaar deur sy lewenswandel en sy belydenis. Die teenpool van diegene wat die gebod gehoorsaam deur mekaar lief te hê, word verpersoonlik deur hulle wat nie bely dat Jesus Christus mens geword het nie. Deel 4 bestaan uit twee onderdele: die eerste (7, 8) is `n oproep en motivering tot waaksaamheid, om nie te verloor wat julle gekry het nie, want die misleiers is reeds in die wêreld. Die tweede onderdeel (9-11) bestaan uit die oproep en motivering om nie die bringers van die dwaalleer te ontvang nie. Die baie verleiers (Grieks polloi, planoi) in die wêreld, is `n feit wat vasstaan en hulle word uitgeken aan hulle belydenis wat ontken dat Jesus mens geword het. Sulke mense is misleiers en antichriste. Hulle moet nie eers ontvang word nie. Die lesers word gevra om geen gasvryheid te betoon teenoor die misleiers nie, hulle nie eers groet nie. Dit dui alles op die stygende lyn in die afkeer van die bringers van die dwaalleer. Iemand wat die bringer van die dwaalleer groet en ontvang, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen. Die wat in die waarheid leef mag hulle nie identifiseer met iemand wat `n dwaalleer bring nie. Die hoofgedagte in deel 4 is dat die lesers opgeroep word om hulle deur hul belydenis en leefwyse te identifiseer met die waarheid.

Deel 5 (12-13) bevat die skrywer se voorneme om die lesers te besoek, om van aangesig tot aangesig met hulle te kan praat, sodat almal se blydskap volkome kan wees. Die skrywer sluit daarna af met die groet.

In dié brief word die lesers/gemeente opgeroep om in die eskatologiese tussentyd stelling in te neem teen die verleiers van wie daar baie is, wat ontken dat Christus mens geword het. Die gelowiges gee uitdrukking aan hul identiteit deur hul woorde en dade; die belydenis dat Jesus mens geword het, in liefde te leef, en in die waarheid te bly. Die Christene word opgeroep om getrou te bly aan die leer van Christus, deur dit te bely en daarin te bly. Verder moet hul lewenswandel in liefde hul belydenis staaf. Hul sekerheid as kinders van God word deur hul lewenswandel in liefde bepaal.

Die betekenis van "om te wandel" of "om te lewe" het `n persoon se hele bestaan en optrede ingesluit. Dit lyk asof die skrywer persoonlike kontak gehad het met sommige gelowiges. Hulle manier van leef in liefde het hom aangespreek. Daarom roep hy almal op om so te leef. Om lief te hê is die kern van die Christelike leefwyse waartoe elke gelowige telkens weer opgeroep moet word. Prakties beteken die oproep om in liefde te leef, dat jy jouself vir ander moet gee soos wat Jesus homself vir ons gegee het. Die sterk aanval op die misleiers en hulle identifisering as antichriste gaan daaroor dat die hart van die evangelie (dat Jesus mens geword het) hier op die spel is. Daarom kan geen kompromieë gemaak word nie. Geen mate van ondersteuning mag aan die misleiers gegee word nie. Daarom ook die opdrag om selfs nie te groet of gasvry te wees nie. Ja, `n gemeente kan opgeroep word tot heilige ongasvryheid wanneer sy onderlinge vrede en verhouding met God bedreig word.

Preekvoorstel

Die tema kan wees: Ons word geroep om ons identiteit as Christene kenbaar te maak in `n wêreld vol verleiers, deur in liefde te leef en te bly by die waarheid van ons belydenis dat Jesus mens geword het.

Enkele inleidende vrae: As jy vandag gevang en aangekla word dat jy `n ware Christen is, sal daar genoeg getuienis wees om jou te kan skuldig bevind? Wanneer is iemand `n ware Christen? Watter uiterlike bewyse is daar dat iemand werklik die Here Jesus as Verlosser ken?

Die valse moet voortdurend onderskei en geskei word van die egte. Soms is dit nie so maklik nie, omdat die wêreld vol verleiers is. Soms is die valse ook baie nader as wat ons sou dink, byvoorbeeld binne die gemeente of gemeenskap, soos die geval in die Johannesbriewe. Die toets vir egte Christenskap is liefde, en die toets van die ware belydenis, dat Christus mens geword het. Stel jouself die volgende prentjie voor: Dit is `n donker onheilspellende nag. Dit reën en kort-kort verlig `n weerligstraal die donkerte. Teen die agtergrond sien jy `n kasteel, en in die kasteel brand een lig. Jy beweeg nader. Deur die venster sien jy die volgende toneel. Op `n bankie lê `n jong man wat netjies geklee is, oënskynlik leweloos. In die vertrek is `n mal professor en `n boggelrug helper aan die werk. "Wat maak ons?" vra die helper. Die professor antwoord: "Ons maak `n ware Christen. Die een buisie vloeistof na die ander word vir die jong man ingegee: Salomo se wysheid, Paulus se ywer vir die evangelie, Gideon se dapperheid, Simson se krag en allerlei pragtige eienskappe van bekende Bybelse figure. Uiteindelik word die elektriese kabels aan die jongman gekoppel en die skakelaar aangesit. Skielik is daar lewe. Die jong man op die bank kom orent en kyk rond. Hy staan stadig op en skielik gryp hy die professor aan die keel en tel hom teen die muur op. Die professor roep benoud na die helper en gee opdragte om te kyk wat hulle kon vergeet het. "Ons het iets vergeet, roep hy!" Die helper krap rond, kom met `n buisie te voorskyn en lees daarop: "liefde". "Ons het liefde vergeet prof" roep hy uit. Met sy laaste asem antwoord die professor: "Dan het ons `n monster gemaak!"

`n Mens kan al die mooiste Christelike eienskappe hê, maar as ons nie liefde het nie, is ons niks anders as godsdienstige monsters of Christen-steins nie. Ware Christene maak hul identiteit kenbaar in `n wêreld vol verleiers, deur in liefde in die waarheid van die belydenis dat Jesus mens geword het, te leef en te bly.

`n Preek sou met die eerste waarheid kon begin: Maak jou identiteit as Christen kenbaar. Wys dat jy `n Christen is, deur in liefde te leef volgens die gebod van God. Die betekenis van die Griekse woord peripatein (om te leef of te wandel) moet hier beklemtoon word. Die toets vir egte Christenskap is om in liefde te leef. Die definisie van liefde (1 Joh. 4:19; 3:16; 4:11) moet ook hier ter sprake kom. Ware- Christelike liefde is `n ten-spyte-van-liefde. Dit word gemotiveer deur God se liefde vir my. Dit is om eerste lief te hê, soos wat Hy my eerste liefgehad het. Dit beteken ook om myself te gee vir ander, soos wat Jesus Homself ter wille van my gegee het. Dit bestaan uit selfopoffering en selfprysgawe; om jouself, jou tyd, jou gawes, jou geld ter wille van hulle wat op jou pad kom, te gee; hulle wat aanspraak maak op jou tyd, geld, kragte, geduld en vergifnis. Ja, dit beteken dat jy jouself moet gee vir hulle wat jou ook irriteer, jou rus verstoor, en selfs hulle wat jou vyande is. Hierdie Christelike liefde is `n manier van leef. Dit behels konkrete dade van liefde en omgee vir mense!

Tweedens kan daar stilgestaan word by die gedagte dat jy jou identiteit as Christen kenbaar moet maak. Wys dat jy `n Christen is deur in die waarheid van die belydenis dat Jesus mens geword het, te bly. Jou identiteit as Christen word ook getoets deur die ware belydenis dat Jesus mens geword het. Hierdie waarheid is deur die misleiers ontken. Die woord (belydenis) en die daad (liefde) kan ook nie van mekaar geskei word nie. Hier kan die waarheid van ons belydenis aangaande Jesus beklemtoon word, sodat lidmate hulle opnuut kan verbind aan die waarheid wat ons bely aangaande Jesus as die Seun van God wat mens geword het om ons te verlos aan die kruis. Verwys ook na die Jesus-debat en die sogenaamde nuwe hervorming. Lidmate moet opnuut gelei word tot die ware belydenis dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het om ons te kom verlos!

Derdens kan die kwessie dat jy jou identiteit as Christen kenbaar moet maak (Wys dat jy `n Christen is), deur geen kompromieë met die verleiers verswak moet word nie. Die verleiers is oral. Die gevaar dreig om kompromieë aan te gaan. Ons leef in tye waar kompromieë en verdraagsaamheid van ons verwag word, en as `n besondere deug verkondig word. Kyk eerder na waaroor ons saamstem as waaroor ons verskil, word gesê. Moenie dink jou waarheid is al waarheid nie, word gewaarsku. Die Bybel is egter duidelik dat waar die hart van die evangelie op die spel is, geen kompromie gemaak mag word nie. Ja, selfs heilige ongasvryheid is in orde wanneer die kernwaarhede van ons geloof bedreig word. Ons moet ook raakgesien dat die verleiers dikwels van binne af kom en groot skade aan die saak van God en sy kerk kan doen.

Bibliografie

Du Rand, J A 1983. Beleef julle sekerheid; Du Rand, J A 1985. Nuwe Testament diktaat; Marshall, H M 1982. The epistles of John; Kümmel, W G 1982. Introduction to the New Testament; Du Plessis, P J 1978. Die Briewe van Johannes.