1 Petrus 1:17-23 (Piet Naudé)

18 April 1999

Derde Sondag in Paastyd

 

Ander tekste: Hand 2:14a, 36-41; Luk 24:13-35; Ps 116:1-4, 12-19

 

Die opstanding skep 'n heilige (nuwe) gemeenskap 

Hierdie teksgedeelte val binne die oproep om heilig te lewe. Dit volg op die eerste deel waar die lof van God besing is vir al sy goeie dade, onder nadere die geskenk van 'n nuwe lewe en lewende hoop te midde van swaarkry.

Teks en konteks

Lees asseblief die konteksinligting by die tweede Paassondag.

Kom ons verbind hierdie week se fokusteks aan dié van verlede week. Daar het ons gelees dat God nuwe lewe en hoop skenk deur die opstanding van Jesus. Dit kleur die lewe van gelowiges met die toonaard van blydskap.

 

In 1 Pet 1:13-15 kom die verantwoordelikheid van hierdie lewe en hoop na vore. Dit moet in praktyk lei tot 'n heilige lewe in die wêreld soos die aanhaling uit Lev 11:44 (en ander verwysings) verduidelik. Levitikus is die boek in die Eerste Testament wat uitvoerige voorskrifte bevat om die eiesoortige lewenstyl van die Israeliete uiteen te sit. Hulle andersheid, reinheid, heiligheid sou daardeur gewaarborg word.

Preekvoorstel

2.1 DIE GRONDSLAE VAN 'N HEILIGE GEMEENSKAP

Dis van deurslaggewende belang om daarop te let dat net soos lewe en hoop “ontvang” word, spruit die motivering vir 'n veranderde, heilige lewe ook uit 'n klem op God se werking (indikatief). Heiligheid berus nie sommer op heilige(?) voornemens of goeie potensiaal nie. Dis, nes die nuwe lewe, Godswerk. Hierdie Godswerk  word verwoord  deur die volgende drie “merkers” in die teks:

 

2.1 Die heilige gemeenskap berus op die uitverkiesing van Christus as vlekkelose Lam voor die skepping van die wêreld (kyk vers 20).

 

2.2 Die heilige gemeenskap berus op die loskoping met kosbare, onverganklike bloed van Jesus. Die lesers sou waardering hê vir hierdie beeld uit die slawehandel. 'n Baas koop gewoonlik 'n slaaf met silwer of goud, die kosbaarste bekende metale. Ons Heer (“baas”) koop sy kinders (“slawe”) met die kosbaarste bekende middel in die koninkryk van God: Sy eie bloed (verse18-19).

 

2.3 Die heilige gemeenskap is weergebore uit onverganklike saad. Die natuurlike geboorte uit die saad van 'n aardse man word hier vervang met saad wat nie kan vergaan nie. En wat sou hierdie geestelike, goddelike saad wees? Die antwoord is eenvoudig: die lewende woord van God wat vir ewig bly (vers 23-25).

 

Die slotsom is duidelik: Uitverkies, loskoop en wederbore is handelinge van God wat ons tot heiliges maak.

 

Wie dit verstaan en in die geloof aanvaar, noem God hulle Vader (vers 17) en leef as sy heilige, gehoorsame kinders (vers 22). Hoe lyk hulle nou?

 

2.2 DIE KENMERKE VAN 'N HEILIGE GEMEENSKAP

Daar is 'n hele aantal kenmerke versteek in die teks. Ons lig net twee hiervan uit:

 

2.2.1 Heiliges begryp hulle status as “vreemdelinge” in die wêreld (vers 17).

 

Hulle is, ten spyte van die aantrekkingskrag, nooit regtig hier tuis nie. Hulle dra, soos dit vreemdelinge betaam, die paspoort van ander land. Hulle is eintlik net op besoek, hulle is op  reis na hul eintlike vaderland  (Hebreërs). Dus leef hulle in die bewussyn dat God se huis sy eie reëls het en dat Hy  regverdig oordeel. Hy weeg wat ons doen. Daarom leef ons in “vrees”, dit is eerbied vir God (vers 17).

 

2.2.2 Heiliges handhaaf 'n ongeveinsde (opregte) liefde onder mekaar (vers 22).

 

Dit herinner aan die twaalf artikels waarin ons bely dat ons aan die kerk glo as gemeenskap van die heiliges. Die uitstaande kenmerk van heiliges is nie hul kloosterbestaan nie, maar hul brandende harte (vurige liefde) vir mekaar. Kyk weer 'n slag na die beskrywing van die eerste gemeente in Hand 2 wat hul “gewildheid” gebou het op hul onderlinge verbondenheid, mededeelsaamheid en breking van die brood.

 

Samevattend dus: Wie aanvaar dat God hom of haar uitverkies, losgekoop en wederbaar het, sal heilig lewe. Dit beteken 'n lewe van vreemdelingskap en liefde onder mekaar.