1 Timoteus 1:12-17 (Llewellyn McMaster)

16 September 2001

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Teks

Die benaming ‘Pastorale Briewe’ verwysend na die briewe van Timoteus en Titus is eers in 1726 deur Paul Anton gebruik.

Daar is twee breë standpunte geld met betrekking tot die outeurskap van die Pastorale briewe: (1) Die Pastorale Briewe is deur Paulus self of deur ‘n sekretaris onder sy diktaat geskryf, en (2) die Pastorale Briewe is pseudoniem en mag wel sekere egte Pauliniese fragmente bevat. Diegene wat wel vashou aan die Pauliniese outeurskap meen dat die briewe geskryf is gedurende sy laaste lewensjare.

Paulus het Timoteus, sy ‘eie kind in die geloof’ (1:2) opdrag gegee om in Efese agter te bly en daar die leiding in die gemeente te neem.

Paulus voer twee hoofredes aan waarom hy I Timoteus skryf:

Hy gee opdrag aan Timoteus om persoonlik die vals leerstellinge wat sekere mense versprei teen te staan (1:3) en hy adviseer Timoteus oor hoedanig die gedrag van gelowiges in Efese as lede van ‘die huisgesin van God’ moet wees (3:15).

Die kerk in Efese het waarskynlik uit ‘n hele klomp huisgemeentes bestaan wat onder die invloed van mense gekom het wat vals leerstellinge versprei het. In Handelinge 20:30 het Paulus die ouderlinge in Efese gewaarsku dat vals leraars uit eie geledere na vore sou kom ‘wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.’ Himeneus en Aleksander word in 1:20 geïdentifiseer as twee persone wat ge-ekskommunikeer moet word.

Teenoor die valse leermeesters wat van die opregte geloof afgedwaal het en ‘in ‘n vrugtelose gepraat verval het’ (1:6), wat voorgee dat hulle leermeesters in die wet is (1:7), wat mense verbied om te trou en bepaalde soorte kos te eet (4:3), wat hulle besig hou met twisvrae, stryery oor woorde (6;4), onheilige en sinlose praatjies – alles in die naam van ‘kennis’ (6:20,21), word Timoteus aangemoedig om die ‘gesonde leer’ (1:10) te beklemtoon.

Thomas Lea identifiseer ses hoof teologiese temas wat Paulus in die Pastorale briewe aansny: die triniteit, die evangelie, die Christelike lewe, eskatologie, kerklike regering en die heil (saligheid).

Die onmiddellike of enger konteks van 1 Timoteus 1;12-17 is Paulus se opdrag aan Timoteus in 1:3-20:

1:3-11 Timoteus moet die verspreiding van die dwaalleer in Efese teenstaan

1:12-17 Paulus se persoonlike ondervinding van die evangelie van genade. Hierdie evangelie moes Timoteus verkondig

1:18-20: Timoteus kry opdrag om die goeie stryd te voer en nie toe te laat dat sy geloof skipbreuk ly soos in die geval van Himeneus en Aleksander nie.

In verse 12-14 dank Paulus God vir sy redding/verlossing ten spyte van die feit dat hy vroeër die waarheid teengestaan het. In vers 15 gee hy ‘n kort uiteensetting van die evangelie in die vorm van ‘n persoonlike getuienis, en in vers 16 verduidelik hy die positiewe doel van God se genade aan hom. Dit alles loop uit in ‘n lofprysing in vers 17.

Müller (WTL II/6) se invalshoek is nie soseer die persoonlike ervaring van Paulus as sodanig nie, maar hoe dit deel uitmaak van die bediening van die apostel.  Hy deel die perikoop soos volg in:

Verse 12-14: Die raamwerk van die gemeentelike bediening: die dinamiek van God se reddende en roepende genade;

Verse 15-17:  Die universele en altyd geldende kern van die evangeliebediening: die verlossingsboodskap van Christus, en

Vers 17: Die teologiese doelwit van die bediening.

Die eksegetiese sowel as hermeneutiese bespreking van Müller in WTL II/6 bied ‘n uiters treffende byeenbring van materiaal uit die belangrikste kommentare en ander bronne. Dit word dus sterk aanbeveel as agtergrondsmateriaal.

Die sosio-politieke oorgang en transformasieproses in Suid-Afrika het noodwendig ook implikasies vir mense se geloofservaring. Dit wil voorkom of heelwat mense te midde van die winde van verandering noodwendig heelwat onsekerheid ervaar, veral onsekerheid oor die toekoms. Hulle soek dan na ankers, na sekerheid, te midde van die ‘deurmekaarspul’ om hulle. Dit is dus nie vreemd dat daar in hierdie tyd heelwat mense is wat hul sekerheid in die evangelie, die godsdiens soek nie. Daar word vinger gewys na die sekulêre regering se liberale beleid wat tot gevolg het dat wetteloosheid toeneem, dat ou tradisionele waardes vervaag en verval, en dat te veel aan die vrye keuse van die individu oorgelaat word.

Juis in hierdie tyd is die gevaar dat allerlei ‘evangelies’ verkondig word. Die versoeking is geweldig groot om in ‘n soort van godsdienstige laer terug te trek, waar die klem alleen maar geplaas word op individuele bekering en alleen maar gesorg word vir liefdediens aan die onmiddellike naaste, die binnekring van ons geloofsgemeenskap. Selfs binne eie kerkverband vind mens moeilik steun vir enigiets buite die gemeenteverband. Die gevolg is dat sinodes al hoe meer swaar trek, omdat gemeentes na binne gekeer het.

Die ‘geestelike honger’, die soek na sekerheid, vastigheid, bied aan predikers ‘n uitstekende geleentheid om die volle evangelie te verkondig – die gesonde leer wat mense en gemeenskappe gesond kan maak, wat persoonlike lewens en gemeentelike lewens radikaal kan transformeer en diensbaar vir God kan maak en gemeentelede, bewus van die uitbundige goddelike genade waarmee ons oorlaai is, nie anders kan nie as om met ‘n lied in die hart die wêreld aan die brand te steek en tekens van die Christus-ryk oprig.

Preekvoorstel

Hierdie gedeelte is ryk aan preekstof. Uit die aard van die saak sal predikers bepaalde keuses maak op grond van hul persoonlike ‘voorkeur’ of aanpak, of op grond van bepaalde ‘behoeftes’ binne ‘n bepaalde konteks. Hoe dit ook al sy, ‘n mens kan nie anders as om opgewonde te raak as jy lees hoe Paulus op treffende wyse die transformerende krag van die evangelie in sy lewe beskryf nie. Hoeveel mense sal nie in die kerk sit en ‘amen!’ daarop kan sê nie.

Dit lyk vir my of ‘n mens dan op ‘n manier die persoonlike en die gemeenskaplike moet verbind, eerder as om die twee kante van dieselfde muntstuk teenoor mekaar te probeer afspeel, of dan ‘n keuse vir die een bo die ander wil maak.

‘n Vraag wat by ‘n mens opkom is in hoe mate iets van die prediker se persoonlike getuienis in ‘n preek mag opkom. Paulus se ‘persoonlike getuienis’ in hierdie gedeelte kan nie weggeredeneer word nie. Uiteraard bestaan die gevaar dat jy te veel van jouself kan begin praat.

Iemand sê egter juis ook van die jongmense, of dan die mens van vandag, dat hulle iets van die evangelie wil sien en lees in die lewe van die prediker. Hulle wil nie maar op akademiese wyse hoor wat die evangelie is nie. Hulle stel ook nie belang in wat beskou kan word as ‘n kunsmatige voorstelling van  Christenwees nie. Hulle wil iets hoor van werklike worstelinge, werklike veranderde lewens – en natuurlik wil hulle dit sien in ‘n gemeentelike bediening waarin mense met blydskap die evangelie uitleef en diensbaar is aan God en ander

Hierin lê daar myns insiens deel van die impak van Paulus se manier van skrywe. Hy skroom nie om van die ommekeer in sy lewe te praat nie, hy is nie bang om homself die grootste van alle sondaars te noem nie. Maar hy laat beslis ook nie na om te vertel van hoe hy oorlaai is met die genade van die Here nie.

Die punt wat Müller maak is egter van kardinale belang. Ons mag nie hierdie volle evangelie so verskraal dat die ‘ekklesiologiese’ aksent daarvan  afgestomp word nie. Ek sou steeds sy preeklyn volg en dit so aanbied dat dit die gemeente vandag opgewonde maak en opwek tot liefdediens en ‘n onophoudelike lofoffer tot eer van Hom wat ewig Koning is!