3 November 2002

Drie en twintigste Sondag in

Koninkrykstyd

PREEKSTUDIE - 1 TESSALONISENSE 2:12-3:13

Tema

Dank God vir mense wat sy boodskap hoor, aanvaar en uitlewe.

Teks en konteks

Soos reeds by verlede Sondag se perikoop verduidelik is, maak dit weinig sin om by hierdie geleentheid net op 2:9-

13 te fokus. Die antwoord/respons van die gelowiges op die bediening van die Woord van God kom nie net in 2:13

voor nie, maar word ook in hoofstuk 3 gestel, byvoorbeeld in verse 6, 7 en 12. Daarom lyk dit meer sinvol om die

vergrote gedeelte te ontgin as teks vir hierdie geleentheid.

Weens die vervlegtheid van die twee perikope is dit goed om net weer die aantekeninge by verlede Sondag se

gedeelte deur te lees.

Vers 13: "En daarom … ook" (Kai dia touto kai) beklemtoon hierdie vervlegtheid. Die apostels is diep dankbaar dat

die Tessalonisense ook nou tel onder dié wat aan God behoort (sien 2:12). God het hulle geroep en hulle het

geantwoord. Die fokus is nou nie meer die selfverdediging van die apostels nie. Die aandag verskuif nou na wat die

hoorders gemaak het met die "boodskap van God" wat hulle van die apostels gehoor het. Die gelykenis van die

saaier herinner juis daaraan dat nie almal wat die evangelie hoor positief en met ’n blywende resultaat daarop

reageer nie. Maar met die Tessalonisense was dit anders. Hulle het die boodskap "aangeneem" (paralambano) en

"aanvaar" (dechomai – verwelkom soos ’n gas). Hoewel dié twee woorde dieselfde beteken, sou ’n mens kon dink

aan ’n nuanse soos "uiterlik hoor" en "innerlik aanvaar". Paulus gebruik dechomai dikwels met laasgenoemde

betekenis (1:6; 2 Kor 6:1; 11:4; Hand 8:14; 11:1). Dit gaan dus om ’n aanneem wat tot geloof lei, geloof wat dít wat

gehoor word, verwelkom. Dat dit gebeur het, het aan die apostels groot blydskap besorg. Wat hulle egter die diepste

blydskap en dankbaarheid besorg het – ja, hulle kon nie ophou om daaroor dankbaar te wees nie – was die feit dat

die Tessalonisense die "boodskap van God" wat hulle van die apostels gehoor het, aangeneem het as "die woord

van God" en nie "mensewoorde" nie. Juis dít was die punt wat die hele sendingonderneming óf kon laat misluk (2:1)

óf kon laat slaag. Daarom kan ’n mens maar net dink aan die gespanne verwagting waarmee die apostels

gedurende en na afloop van die verkondiging van die evangelie die reaksies afgewag het. Daarom was dit ’n

absolute hoogtepunt dat die Tessalonisense kon getuig dat hulle God met hulle hoor praat het. Die bewys dat dit

die Woord van God was, word gelewer deur die energein (energie), die deurwerking daarvan in die lewe van die

hoorders. Hierdie "deurwerking" (energeitai) is niks minder nie as ’n "omwerking van alle waardes". Dit plaas die

hoorder in die hande van die lewende God. Die ou manier van dink en doen word op sy kop gedraai. Dit het die

teenstanders in Filippi reg ingesien toe hulle die apostels beskuldig het dat hulle die "wêreld omkeer" (Hand 17:6).

Die nuwe is so radikaal anders dat dié wat op hierdie pad begin loop, hulleself ervaar as kinders wat alles van vooraf

moet leer. Om die koninkryk in te gaan (2:12) moet ’n mens ’n kind word (Matt 18:3). "Dissipelskap" beteken "leerling

wees" (Matt 28:19, 20).

Vers 14: In die Grieks vorm dit een lang sin wat deurloop tot in die helfte van vers 16. Soos dikwels by Paulus, is

hierdie lang sinne ’n teken van opbouende emosie – óf blydskap óf hartseer. In hierdie geval is dit diepe weemoed

oor die reaksie wat die volgelinge van die Here so dikwels van hulle eie mense beleef. Dít wat die Tessalonisense

beleef, is egter presies wat die Christene in Judea van die kant van hulle eie volksgenote, die Jode, ondervind het.

Daarin het die Tessalonisense die Christen-Jode nagedoen/nageboots (mimêtai – mimiek). Die leerskool van God

is egter nie ’n kweekhuis waar alle negatiewe of steurende faktore effektief uitgesluit word nie. Nee, God se

leerskool is ’n toetsterrein waar dié wat sê dat hulle glo selfs felle teenkanting op die lyf loop waarin hulle die

pyndrumpel (vgl weer agoon van 2:2) liggaamlik en geestelik moet oorsteek. Van hierdie toetsing deur God (2:4)

het Paulus persoonlike ervaring gehad. Aan die Korintiërs skryf hy dat die apostels ’n "skouspel vir die wêreld"

geword het, so asof God aan hulle die laaste plek in die ry gegee het, veroordeel tot die dood in die arena (1 Kor

4:9-13).

Verse 15-16: Nou volg ’n pynlike erkenning wat Paulus ten opsigte van sy volksgenote, die Jode, moet maak. Hier

kom sy oordeel oor hulle selfs hard en finaal voor. Daar is ’n hele lys van optredes wat teen hulle getuig. Hulle

• het die Here gedood, Jesus (die sinskonstruksie beklemtoon "Here" en "Jesus") – Romeine 9:5; 1 Korintiërs

2:8;

• het hulle eie profete gedood – 1 Konings 8:4; Jeremia 26:20-24; 2 Kronieke 24:19-22; Matteus 23:29-35;

• die apostels vervolg;

• doen nie wat God verlang nie;

• is vyandig ingestel teenoor alle mense;

• verhinder dat die heidene die evangelie hoor en gered word, en

• het die oordeel van God finaal oor hulle gebring.

Tog skryf hy ongeveer vyf jaar later aan die gemeente in Rome dat daar by hom "groot droefheid en voortdurende

hartseer is oor my broers, my eie volksgenote" (Rom 9:2). Verderaan in dieselfde brief skryf hy: "my hartewens en

my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word" (Rom 10:1). Daarmee word iets weergegee van die tweespalt

wat die apostel belewe het in sy passie vir Christus en vir sy volksgenote. Sy smart is die wete dat as die Jode op

dié weg volhard, hulle hulleself afsny van God se genade.

Verse 17-18: Die wete dat die gemeente dieselfde vuurdoop van vervolging en teenkanting deurmaak, het die

apostel nog vuriger laat verlang (epithumia) om by hulle te wees en hulle te bemoedig om nie hulle geloof te verloor

nie. Die spreekwoord "uit die oog uit die hart" was dus nie van Paulus waar nie. Die Afrikaanse vertaling vertaal

tereg: "wel uit die oog, maar nie uit die hart nie" (2:17). Omdat hy die Tessalonisense voortdurend in sy hart gehad

en vir hulle gebid het, wou hy graag so spoedig moontlik (spoudazoo) na hulle toe gaan. Elke poging is egter gekeer.

Dít, sê Paulus, is die werk van Satan (teenstander; 2:18), die verleier (3:5), die Bose (2 Tess 3:3). Paulus het dus

nie die postmodernistiese weelde geken om lighartig oor die bestaan van Satan te skerts nie. Daarvoor was die

werklikheid waarmee hy daagliks moes leef net te oorweldigend.

Verse 19-20: In liriese taal noem die apostels die jong gemeente in Tessalonisense "ons hoop en ons blydskap, die

kroon (stephanos) op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms (parousia) voor die Here

Jesus sal verskyn" (2:19). Die gebruik van die term parousia (presensie, aankoms) verteenwoordig moontlik die heel

eerste keer dat dit in ’n Christelike geskrif gedoen is. Daarmee plaas die apostels hulle werk in Tessalonika finaal

bokant die vlak van persoonlike gewin. Alle kwaadwillige beskuldigings in dié verband word hiermee finaal weerlê.

Die apostels het met een doel voor oë geleef en gewerk: om saam met almal wat hulle prediking gehoor en die

Woord van God gelowig aangeneem het, voor die Here Jesus te verskyn op die dag van sy koms. Met hierdie doel

voor oë het hulle vir geen teenstand teruggedeins nie, maar was hulle bereid om ter wille van die evangelie te ly.

’n Sterk eskatologiese gerigtheid het dus die sendingwerk van die apostels, die vroeë Christene en van die kerk

deur al die eeue gekenmerk. Dit het aan die sendingwerkkragte ongekende dryfkrag voorsien. Dit was die krag

waarmee die apostels die sendingreise aangepak, gemeentes gestig en opgebou het. Hierdie onstuitbare passie

om die gelowiges op die pad van volle geloofsontwikkeling te begelei, blyk ook duidelik uit 3:1-13.

Hoofstuk 3:1-13: Paulus kon nie tot rus kom oor die feit dat hulle arbeid in Tessalonika kort geknip is en hulle

gevolglik nie die Tessalonisense ten opsigte van die basiese geloofskennis kon begelei nie. Toe elke poging van sy

kant om terug te gaan geblokkeer is, het hy Timoteus gestuur om daarheen te gaan en die gelowiges te bemoedig.

Groot, eintlik uitbundig, was sy blydskap toe Timoteus terugkom en vertel dat die Tessalonisense groei in geloof en

liefde en dat hulle vasstaan in die Here en dat hulle ook aan die apostels in liefde dink en na hulle verlang (3:6, 8).

Paulus se bekommernis dat die werk daar alles verniet sou wees, was dus onnodig. Met dié bemoedigende nuus

kon Paulus nie anders nie as om in onophoudelike dankgebed voor die troon van God te staan (3:9). Wat belangrik

is, is dat die apostel deur middel van die gebed kon voortgaan met sy belangrike begeleiding van die gemeente in

Tessalonika op ’n vlak wat deur geen verbod of ander teenkanting geblokkeer kon word nie. Hy kon en het elke dag

gebid dat hulle sal toeneem in liefde vir mekaar en vir alle mense en dat hulle heilig en onberispelik voor "God ons

Vader" sal staan met die koms van "ons Here Jesus" saam met almal wat aan Hom behoort (3:13). Groei in

onderlinge liefde en vir alle mense, toename in innerlike krag en heiligheid, is nie die eindproduk van menslike

inisiatief nie maar die vrug van God wat in die gelowiges werk (2:12, 13). Daarvan getuig Paulus in van sy ander

briewe. God stort (oorvloedig) sy liefde in die gelowiges se harte uit deur die Heilige Gees wat Hy aan hulle gee

(Rom 5:5; vgl Gal 5:22-23).

Preekvoorstel

Een van die kwellendste vraagstukke waarmee die prediking vandag worstel, is of lidmate nog belewe dat die preek

"die woord van God" is. Hoor mense nog, wanneer daar uit die Bybel voorgelees en gepreek word, "God se woord"?

Word so ’n ingesteldheid en verwagting by gemeentelede nie deur ’n verskeidenheid faktore so ingekort dat dit nie

meer gebeur of selfs nie kán gebeur nie?

Daar is moontlik verskeie faktore verantwoordelik vir die erodering van hierdie verwagting en ingesteldheid by mense.

Kerklike interpretasies en verklarings wat weens onvoldoende eksegetiese onderbou die Skrif aan allerlei ideologiese

buikspraak dienstig maak, maak die aanspraak dat dit in die kerk om die Woord van God gaan,

ongeloofwaardig en lagwekkend. Die belangrike ontledings van Johan Cilliers in sy boek Die uitwissing van God op

die kansel kan hier met vrug weer onder oë geneem word. Dieselfde erosie vind plaas waar daar onder ’n soort

transformasie-manie allerlei verskuiwings in die erediens plaasvind wat die luister na die Woord van God vervang

met allerlei "opluisteringsaktiwiteite". Die gevolg is dat die erediens waarin die Woord van God sentraal en bepalend

moet funksioneer, ’n gesellige/gemoedelike byeenkoms word waar mense se belewenisse die wentelas vorm. Die

modernistiese/postmodernistiese tydsgees wat godsdienspluralisme as vertrekpunt en nie as konteksgegewe neem

nie, laat geen ruimte meer vir die unieke boodskap van die Christelike geloof nie. Enige verwagting om in ’n

Christelike erediens "God te hoor" word daardeur by die wortel afgesny. Die sekularistiese kultuur glimlag meewarig

oor eenvoudige mensies wat nog aan sulke mites glo. Leslie Newbigin wys in sy belangrike boek Foolishness for

the Greeks daarop dat die wetenskaplike bestudering van die Bybel deur akademici en die geweldige oorheersing

wat die Skrifkritiek verkry het, die Bybel uit die hand van die gewone gelowige geneem en opgeëis het as dokument

van ’n gilde geleerdes. Dit alles het by gelowiges ’n onsekerheid en selfs skeptisisme oor die betroubaarheid

(korrektheid) van wat nog geglo kan word, meegebring.

Die kritiese en selfs skeptiese houding teenoor elke pretensie en aanspraak dat wat gesê word "die Woord van God"

is, is egter nie net ’n moderne probleem nie. Dit het mense deur die eeue heen besig gehou. In die Bybelse

geskiedenis lees ons van die aartsvaders, die profete asook die Nuwe-Testamentiese dissipels, apostels en getuies

se worsteling met dié vraag. Mense was en is erg skepties en krities teenoor sulke aansprake. Wat die situasie nog

moeiliker gemaak het, was die aantal swendelaars wat vir persoonlike gewin en om allerlei bymotiewe ook beweer

het dat hulle van God gestuur was. Die gevolg was dat mense traag was om sulke rondreisende predikers te

vertrou. Sulke mense is fyn deurgekyk en daar is veral gewig geheg aan hulle manier van optrede en lewe. Daar is

ook gekyk na die uitwerking wat hulle leringe gehad het op die gewone mense wat na hulle gestaan en luister het.

Teen hierdie agtergrond is dit nie vreemd nie dat die Tessalonisense se aanvaarding van die apostels se verkondiging

as "die Woord van God" soveel dankbaarheid by Paulus ontlok het (2:13). Paulus jubel. Die wonder het

in die lewe van die Tessalonisense gebeur. Hulle het die Woord van God gehoor. Hulle het die boodskap wat aan

hulle gebring is as God se boodskap, as die Woord van God, ontvang en aangeneem. Dit is egter duidelik dat wat

hier in Tessalonika gebeur het, juis dit is waarvan Jakobus so treffend skryf wanneer hy sy lesers aanmoedig om

ootmoedig die Woord wat God in hulle geplant het aan te neem omdat dit die Woord is wat ’n mens kan red (Jak

1:21). Hierdie Woord moenie net gehoor en geneem word nie, maar dit moet in die binneste "verwelkom" word,

geïnternaliseer word. (Kyk weer na die aantekeninge by v 13 hier bo). Daarmee het alles in ’n nuwe lig te staan

gekom. Tradisionele bindinge en waardes word grondig en nuut geëvalueer, want nou het die lewende God die

sentrale plek in hulle lewe ingeneem. Hulle ontdek dat hulle ingetrek is in ’n nuwe kragveld, naamlik die kragveld

van God se heerskappy en heerlikheid. ’n Mens hoor nie die Woord van God en bly dieselfde nie. Jy bly net

dieselfde as jy dit nie "gehoor" het nie, nie ingeneem het nie. Van die kragtige deurwerking van hierdie Woord het

die Hebreërskrywer goed geweet: "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee

snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings

en gedagtes van die hart" (Heb 4:12).

Wat egter van die Tessalonisense gesê word, moet ook van ons gesê word. Mense moet sien dat ’n nuwe krag

(energeia) in ons aan die werk is en dat ons lewe ingrypend daardeur geraak/omgekeer word. Die verrassende is

dat hierdie allesomwerkende krag die Christelike identiteit al sterker na vore bring hoe meer dit bestry word. Nie

alleen stel dit gelowiges in staat om teen teenstand staande te bly nie, maar ook om die vyandskap en teenstand

van die wêreld met toenemende liefde te beantwoord.

Bibliografie

Donfried, K P 1993. The theology of 1 Thessalonians, in Donfried/Marshall. The theology of the shorter Pauline

Letters. Du Preez, J 1981. Die Briewe aan die Tessalonisense. Ellingworth/Nida 1976. Translator’s Handbook. Holtz,

T. Der Erster Brief an die Thessalonicher (EKK). Jewett, R 1986. The Thessalonian Correspondence. Pauline

rhetoric and Millenarian piety. Malherbe, A J 1987. Paul and the Thessalonians. The philosophic tradition of pastoral

care. Morris, L1979. 1 & 2 Thessalonians. Van Leeuwen, J A C 1953. De Brieven aan de Thessalonicensen.

Wanamaker, C A. The Epistles to the Thessalonians.