Kolossense 3: 1-4 (Ockert Meyer)

4 April 1999

PAASSONDAG

 

Ander tekste: Ps 118:1-2;14-24; Hand 10:34-43 [Jes 25]; Joh 20:1-18 [prediking]

Teks en Konteks

In hierdie eerste vier verse van Kolossense word die voorafgaande temas saamgevat en word ook die teologiese grondslag gelê vir die betoog oor die ou en die nuwe lewe wat met vers 5 begin word. 'n Mens moet daarop let dat die Kolossense se opstanding met Christus beskryf word met 'n werkwoord wat die verlede tyd (Aoristus) aandui. Waar in Romeine 6 die imperatief gebaseer is op die dood van Christus, word dit hier gebaseer op sy opstanding.

 

Die werkwoord  zhtew wat in die Afrikaanse vertaling met ‘strewe’ of ‘soek’ vertaal word, verwys veral na 'n oriëntasie van die mens se wil. Paulus span die woord hier as 'n direkte opdrag in, terwyl die teenwoordige imperatief daarop dui dat hierdie strewe 'n voortdurende stryd is. Hierdie soeke gaan egter nie oor iets wat die mens nog moet gaan vind nie; die soeke begin met dit wat reeds gevind is (Barth).

Paulus se verwysing na die dinge daarbo moet nie in 'n ruimtelike sin verstaan word nie, maar moet eerder eties geinterpreteer word. Veral gaan ‘die dinge daarbo’ eintlik oor Hom wat aan die regterhand van God sit. Anders gestel, omdat Christus ‘daarbo’ is, daarom moet die gelowiges hulle lewens laat rig en laat beheer deur die dinge wat Hy verkondig het en deur dit wat Hy self verteenwoordig.

 

Die werkwoord  kekruptai  (Perfektum), plaas die klem op beide die durende effek en die permanente resultaat van die gelowiges se verborgenheid in God: Julle lewe is met Christus in God verborge en dit sal so bly. Veral is die motief waarskynlik om hulle te verseker, dat alhoewel hulle lewens dalk onder aanvegting kan verkeer en hulle verborgenheid in God onsigbaar is, dit by God volkome veilig is. "In sekere sin is die uitdrukkings: 'is opgewek' (1a), 'die dinge daarbo waar Christus is' (1b), 'Christus sit aan die regterhand van God' (1c), die dinge wat daarbo is' (2), 'ons lewens wat saam met Christus verborge is in God' (3) en 'Christus wat ons lewe is' (4), parallelle of sinonieme wat almal presies dieselfde inhoud tot uitdrukking wil bring, te wete die vastheid, versekerdheid en betroubaarheid van ons (eskatologiese) heil.(...) Wat met Christus gebeur het, het met ons gebeur en wat nog met Hom sal gebeur, naamlik sy openbaring in heerlikheid (4), sal met ons gebeur." (DJ Smit)

 

Die term ‘met Christus’ is een wat in die Pauliniese corpus baie min gebruik word. Hierdie frase is egter nie 'n formule soos die bekende ‘in Christus’ nie, dit is veel eerder 'n motief waardeur op 'n verskeidenheid van maniere aan die intieme persoonlike verbintenis tussen die gelowige en Christus uitdrukking gegee word. “Both the phrase and related verbs are employed in Colossians to describe the death and resurrection with Christ as a past event and the resulting new existence for the Christian: it is his life with Christ. Like Christ’s life it is hidden in God.” (O’Brien). (My beklemtonings -OSM)

 

Dit is geweldig belangrik vir die behoorlike verstaan van die omvang van die Paasgebeure dat dit nie los van die dood gesien word nie. Die verband tussen dood en opstanding word uitstekend deur Hans Küng verwoord: “Opstanding beteken om in God te sterf. Dood en opstanding is baie nou met mekaar verbind. Opstanding geskied met die dood, in die dood en uit die dood. Hierdie ‘sterwe in God’ is nie iets wat as vanselfsprekend aanvaar kan word nie, dit is nie 'n soort natuurlike ontwikkeling of die verlange van die menslike natuur wat ten alle koste vervul moet word nie. Die dood is die mens se saak, die opstanding kan slegs God s’n wees. Die mens word opgeneem, geroep, tuisgebring en daarom finaal aanvaar, gered deur God. Hy word in die dood - of beter - van die dood geneem as 'n daad van God se getrouheid. En dit is 'n verborge, onvoorstelbare, nuwe daad van die Skepper, 'n nuwe daad van Hom wat die dinge tot lewe roep wat eintlik nie is nie. Daarom het ons hier nie met 'n bonatuurlike ingrype in die natuurlike verloop van dinge te doen nie, maar met 'n werklike geskenk en 'n ware wonder.” (uit: Christ sein).

 

Sonder twyfel is dit so dat hierdie oproep van Paulus aan die gemeente van Kolossense deur die viering van Paassondag op 'n besondere manier gedra en versterk word. Op Paassondag word nie alleen die opstanding van Jesus uit die graf herdenk en gevier nie, maar gaan die vreugde van die dag ook oor die feit dat die gelowiges deur hierdie gebeure verlos is van die greep en die vernietiging van die dood en die doodsbestaan . Daarom is dit geweldig belangrik dat, in voortsetting van die betekenis van die dag en ontsluiting van die teks, die oproep in Kol 3 as die oproep tot 'n deelname in die feesvreugde gehoor sal word. In hierdie sin fasiliteer die teks 'n vierende betrokke-wees van die gemeente by die opstandingsgebeure, maar breek dit ook 'n uitsig oop op 'n nuwe bestaanswyse omdat Christus se geskiedenis ten diepste my geskiedenis geword het.

 

Want so lui die paasboodskap: die opstanding van Jesus Christus verleen aan my eie storie en aan die storie van die kerk die soort sin wat die verganklikheid en die betekenisloosheid van die lewe op 'n radikale wyse ontken en transendeer.

 

Dit is egter ook geweldig belangrik dat aan hierdie Paasboodskap nie, soos dikwels in die kerk die geval is nie, as 'n eenmalige gebeure, 'n jaarlikse soort bewusmaking gesien word nie, maar dat die gemeente verstaan wat Paulus hier in Kol 3 probeer duidelik maak. Die opstanding van Jesus Christus maak die gelowiges permanent deel van 'n nuwe bestaanswyse.

 

Die Nederlandse teoloog Noordmans, het die opstandingslewe by geleentheid met die volgende beeld verduidelik. Hy sê vir die gelowiges is elke nuwe dag nie soos nog 'n spyker in hulle doodskis nie, maar met die gelowiges gaan dit soos met 'n bergklimmer. Elke dag wat hy verder klim word die uitsig verder en die perspektiewe ruimer.

 

JH Bavinck sluit 'n mooi meditasie oor 1 Kor 15:57 waarin dit oor die oorwinningslewe gaan, op die volgende manier af:

"Nou is ek bang dat u miskien dink: ja, dis alles maar mooi woorde. Dat u dink, aan my lot maak dit egter geen verskil nie, want ek merk van die oorwinningslewe niks nie. My lewe is soos 'n donker, slegte pad deur 'n mistige bos op 'n pikdonker aand. Ek sien nie eers 'n strepie lig nie." Bavinck vervolg dan: "Ek wil hê dat u nou vir 'n oomblik doodstil gaan sit en dan baie rustig die volgende woorde vir uself herhaal: Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. En dat u nou ernstig dink aan die manier waarop Christus ook vir u gely het (en dat u daarom nie alleen saam met Hom in sy lyding is nie, maar ook saam in sy opstanding), dat u sal begryp dat ook u die voorwerp van sy liefde is. Dán kan u stadig u kop optel in die grootse wete: dit is tóg waar: in alles is ons méér as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet."  

Preekvoorstel

'n Aantal jaar gelede het die film Awakenings gedraai wat die verhaal vertel het van 'n dokter se navorsing oor en werk met post-enkefalitis pasiënte. As gevolg van hulle siekte is dié mense heeltemal afgesluit van die wêreld rondom hulle, in dié sin dat hulle oënskynlik enige vermoë om te kan kommunikeer of om enige reaksie te toon op enige iets wat rondom hulle gebeur, verloor het. Mettertyd het die dokter egter die verbasende ontdekking gedoen dat daar by hulle tog definitiewe tekens van breinfunksie teenwoordig was. Deur sy navorsing het hy op 'n middel afgekom wat die potensiaal gehad het om hulle vanuit die tronk van doodsheid te bevry. By wyse van 'n eksperiment is dit aan 'n pasiënt, Leonard, wat toe reeds vir 30 jaar in die 'koma' was, toegedien. Die volgende oggend toe die verpleegpersoneel by Leonard kom, het hulle die verstommende ontdekking gedoen dat hy na 30 jaar weer 'wakker' geword het. 'n Mens kan vir jouself beswaarlik die vreugde voorstel.

 

Na 'n paar dae het dit egter geblyk dat die middel alleen vir 'n beperkte tyd werk. Leonard het gou weer in sy doodslaap verval. Na 'n volgende toediening van die middel het hy vir 'n kort tydjie wakker geword; om daarna maar weer weg te raak. Vandaar die naam 'awakenings'.

 

Miskien is hierdie verhaal in 'n sekere sin die beste beskrywing van die manier waarop die opstanding in ons lewe funksioneer. So een of meer keer per jaar, met Paasfees of wanneer ons daaraan herinner word ervaar ons iets van die opstandingskrag van Jesus Christus. Maar dit is alleen maar 'n soort 'awakening'. Dit is van korte duur. Vir die groter deel van ons bestaan is ons dikwels ook in 'n soort doodslaap; ontbeer ons die krag en die moontlikhede wat Paasfees in ons lewe bring. Dalk vergeet ons gewoon van die Paasgebeure of dalk neem ons dit nie werklik ernstig op nie.

 

Wat ook al die geval mag wees, dit lyk of die gemeente van Kolossense dieselfde probleem as ons gehad het. In hierdie hoofstuk praat Paulus op 'n baie ernstige, maar ook baie pastorale wyse met die gemeente. Uit die res van die brief blyk dit dat daar mense in of buite die gemeente was wat die gelowiges mislei het met die dinge wat hulle verkondig het. Wat dit presies was weet ons nie. Maar 'n mens kan uit Paulus se weerlegging van hulle leerstellings die afleiding maak dat hulle nie dit wat die Here Jesus gedoen het, ontken het nie. Maar, en dit is waarop dit hier aankom, dit wat Jesus gedoen het, was volgens hulle egter nie genoeg nie. Verlossing, bevryding, nuwe lewe ens. moes nog deur 'n bepaalde soort dissipline en die nakoming van sekere ander voorwaardes voorafgegaan word.

 

Daar is 'n sekere vlak waar ons die probleem van die Kolossense waarskynlik baie goed verstaan. Want ons ken die stryd teen die ou lewe, ons weet maar te goed ons gedagtes gerig is op ons aardse nood en behoeftes. Meer nog, ons weet hoe ons hele bestaan as't ware in beslag geneem word deur die dinge wat ons telkens maar net dieper en dieper in die doodsbestaan laat wegsak.

 

Daarom het hierdie woorde van Paulus veral op hierdie dag vir ons besondere relevansie: "Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit."  Die één ding wat sonder meer uit hierdie woorde duidelik word, is die feit dat Paulus die opstanding uit die dood nie as die een of ander ideaal sien nie, maar dat hy dit sien as iets wat reeds gebeur het. En let wel, dan nie iets waaraan die gelowiges moet wérk om deel aan te kry nie, maar iets waaraan hulle reeds ten volle deelagtig is.

 

As Paulus hier sê "strewe na die dinge daarbo...", bedoel hy nie dat ons moet iets gaan soek wat ons nog al die tyd ontwyk nie, maar dan bedoel hy dat ons moet toelaat dat dit wat ons reeds gevind het, dat dit ons lewe beheer. (vergelyk Barth se opmerking). Hierdie strewe gaan oor iets waarby my wil by betrokke is. 'n Mens kan dit vergelyk met iemand wat 'n groot erfporsie ontvang het maar wat dan voortgaan om soos 'n arm man te leef. Paulus sê hier: "Laat julle lewe beheer word deur dit wat julle reeds ryker geword het. Gáán, léwe nou soos 'n ryk man."

 

Een van die dinge waartoe die Ou Testamentiese profete die volk van God gereeld opgeroep het, was om te onthou. Om nie te vergeet wie hulle is en waar hulle vandaan kom nie. In 'n sekere sin is dit presies wat hier gebeur. En dit is presies waarom ons Pase vier. 

 

Want om te onthou in die bybel is nie alleen om iets wat gebeur het in die herinnering te roep nie, maar dit is om toe te laat dat dit wat in die verlede gebeur het, dat dit my toekoms verander. Dit is om toe te laat dat God se verlede my verlede word en God se toekoms, ook my toekoms. Maar veral gaan die viering van Paasfees daaroor om weer, saam met die hele gemeente, die opgestane Jesus Christus aan die regterhand van God te sien. En dit gaan daaroor dat hierdie selfde Christus vandág, nou in ons bestaan kom inbreek, dat sy roepstem die dooies weer tot lewe roep. In ons viering van die paasgebeure kom steek God Self die vreugdevure op, steek Hy Self die fakkel op wat sy lig versprei oor elke donker gangetjie en hoekie waarin ons ook al onsself mag bevind.

 

Deur die vreugde wat God in en deur Jesus Christus in ons kom wakker maak word ons daaraan herinner dat dinge nie meer is soos wat dit was nie. Want die oop graf ontken alles wat ons die moed tot die lewe ontneem. Dit verkondig dat daar geen enkele situasie in ons lewe meer kan wees waarin daar geen hoop êrens te vind is nie. Dit beteken dat daar te midde van die grootste ontreddering of in die mees uitsiglose situasie nog 'n pad uit kan wees.

 

'n Mens kan dit vergelyk met iemand wat in 'n vreemde stad verdwaal het. Die meeste van ons sal waarskynlik iets van hierdie ervaring kan herken. Aanvanklik kry 'n mens so 'n gevoel van 'n onrustigheid oor die gebrek aan bekende bakens en dan die paniek as jy besef dat jy geen idee het waar jy jouself bevind nie en hoe om daar uit te kom nie. Die verligting wat 'n mens ervaar as jy dan iets sien wat bekend is en waaraan jy jouself kan oriënteer is iets wat amper fisies oor jou spoel.

In die vreemde, en dikwels bevreemdende wêreld, in ons vrees en paniek is daar een bekende baken: die oop graf van Jesus Christus. Dis ons oriëntasiepunt. Dit ons baken. Dit dui die pad en die weg uit aan. Dit is die gesig van hoop, die teken van God. Die teken van hoop te midde van hierdie lewe en die teken van God se trou, óók op hierdie aarde.

 

Die oop graf van Jesus Christus verkondig dus nie alleen dat daar 'n weg uit die dood is nie, maar -en veral- dat daar 'n weg in die lewe is. Die opstanding ontken op 'n radikale manier die aansprake van die chaosmagte en die magte van die dood. Dis nie waar dat hulle die laaste sê het nie. Dit is Jesus wat aan die regterhand van God sit. Deur sy oop graf het God nie alleen die dood vir sy kinders ontgrens nie, maar het Hy ook die dade van die Diktator en sy demone begrens.

 

Op Paassondag vier ons nie alleen hierdie oorwinning nie, maar vier ons die feit dat Christus se oorwinning ook ons oorwinning is. En te midde van die vreugde word ons verseker daarvan dat ons lewe, soos die oorwinning, verborge in God is. Dat ons lewe deel geword het van 'n nuwe realiteit, naamlik die realiteit van God en van sy sorg.

 

Ons vier dit nie op Paassondag omdat dit net waar is van hierdie dag nie, maar juis omdat dit waar is van al die dae van ons lewe. En dalk veral omdat dit waar is te midde van al die dinge wat ons ookal te beurt mag val.

 

Hoe hierdie wete daagliks in 'n gelowige se lewe te midde van selfs die mees bedenklike omstandighede kan inbreek en 'n nuwe perspektief kan open, kan dalk die beste aan die hand van die volgende vertelling van 'n Nederlandse Jodin, Etty Hillesum, duidelik word. Sy skryf op 20 Junie 1942, met ander woorde toe die vervolging van die Jode op sy ergste was, in haar dagboek die volgende:

 

"Ek het vanoggend met my fiets na die rand van die stad gaan ry om daar van die vars, ongerantsoeneerde lug te gaan inasem. Oral langs die pad het ek borde gesien wat die Jode belet om in die bospaadjies te gaan ry. Ek het daaraan gedink dat bokant die pad waarop ons verbied word om te ry, die wye hemel, oop uitgespan lê. Niemand kan ons daar verbied nie. Eintlik kan hulle niks aan ons doen nie. Hulle kan ons sekerlik lastig val en ons van ons besittings en van 'n bietjie bewegingsvryheid beroof. Die grootste roof pleeg ons egter aan onsself: deur onsself agtervolg, verneder en verdruk te voel. Ek dink die lewe is mooi en ek voel te midde van al die vervolging heeltemal vry. Want die hemel binne my is so wyd en oop uitgespan soos die hemel bokant my..."

 

Miskien is dit waarop vandag ten diepste aankom:  Jesus Christus is self die oop hemel binne ons en deur sy oop graf kom open God die hemel ook bokant en langs en voor ons.

 

Bibliografie

CW Burger, BA Müller & DJ Smit: Woord teen die Lig 1/3;  Dirkie Smit: Christus is die Heer!