Ander
Tekste: Jesaja 62:1-5; Psalm 36:5-10; Johannes
2:1-12
Die Eerste
Korintiërbrief word deur Lategan (1984:78-79) soos volg ingedeel:
1:1-3 – Aanhef: Afsenders, ontvangers, groete
1:4-9 – Danksegging
1:10-4:21 –
Die probleem van partyskappe in die gemeente
5:1-6:20 –
Reaksie op wanpraktyke in die gemeente
7:1-11:1 –
Beantwoording van navrae uit die gemeente
11:2-14:40 – Die erediens en genadegawes
15:1-58 –
Die opstanding van Christus en die gelowiges
16:1-18 –
Laaste opmerkings en reëlings van Paulus
16:19-24 –
Briefslot en seëngroet
Al die
preektekste van die volgende drie weke kom uit die gedeelte waarin Paulus vrae
rondom die erediens en die gawes wat die Gees gee, aanspreek. Fee (1987:569) se opskrif by hierdie drie
hoofstukke is dan ook tereg: ‘Spiritual
gifts and spiritual people’. Hierdie konteks behoort regdeur in gedagte
gehou te word.
In 1
Korintiërs 12:1-11 kom die verskille tussen Paulus en die gemeente in Korinte
tot ‘n punt, veral rondom die vraag na wat ‘geestelik/Geesvervuld’ is. Die lengte van Paulus se antwoord (hfste.
12-14) sowel as die aard van veral hoofstuk 14, dui daarop dat Paulus ook hier,
soos in die res van die brief, regstellend optree en nie bloot inligting
deurgee nie.
Verse 1-3: Die
perikoop begin soos elders in 1 Korintiërs met peri wat daarop dui dat hierdie bespreking ‘n antwoord is op ‘n
navraag van die gemeente in Korinte.
Die presiese aard van die navraag vanuit Korinte is onbekend. Groenewald (s j:155) meen dat die Korintiërs
probleme ondervind het om te onderskei tussen die “uitinge van die gees van die
afgode en die Gees van God”. Die
uitspraak, “Jesus is Here!” (v 3), was vir die vroeë Christene radikaal en dit wat
hulle onderskei het van hulle eertydse heidense verlede. Die punt wat Paulus maak, is dat net soos
wat hulle vroeër meegevoer is na stom afgode, iemand wat nou met die Heilige
Gees vervul is, gelei word om die klassieke Christelike belydenis te maak: “Jesus
(die gekruisigde) is (deur sy opstanding) Here (van die hele skepping).”
Verse 4-6: Die
konsep van ‘eenheid in verskeidenheid’ wat betref die geestesgawes is gegrond
in die goddelike Drie-eenheid self: ‘genadegawes – Gees’, ‘bedieninge - Here’
werkinge – God’. In hierdie verband
merk Furnish (1999:96) op: ‘These serve the rhetorical purpose of emphasizing
that the varied gifts have one and the
same divine source’.
Vers 7:
Belangrik is dat die Gees die gawes gee tot voordeel van almal, in
belang van die gemeente. Weer Furnish
(1999:95): ‘What God intends, according to Paul, is “the benefit of all”
(12:7)’. Die gemeente moet opgebou word
deur die benutting van die gawes wat die Gees gee. So dek Paulus die tafel vir dit wat gaan volg in hoofstukke 13 en
14. Die gawes is daar om die gemeente
mee op te bou en nie uitsluitlik vir die doeleinde van die individuele gelowige
nie. Hierdie belangrike aspek word deur
Hübner (1980:253) onderstreep: ‘Wie die Trias: “Geist” - “Herr” - “Gott” nicht
drei göttliche Ursprünge aufspaltet, sondern die spätere Lehre von der Drei-einheit präludiert, so spalten die
verschiedenen “Gnadengaben” die Gemeinde nicht auf, sondern konstituieren ihre
Einheit’.
Verse 8-11: Dan
word ‘n lys van gawes ter illustrasie gegee.
Belangrik is dat die lys in hierdie paar verse nie noukeurig uitgewerk
is nie, en ook nie volledig is nie. Dit
is bloot verteenwoordigend van die verskeidenheid van die Gees se
manifestasies. Paulus se gedagte is om
‘n redelik wye lys te voorsien sodat hulle kan wegkom van hulle fokus op een
gawe, te wete die spreek in tale. Die
Gees word aan die een kant as oorsprong van die gawes aangedui, maar aan die
ander kant ook as norm (pneuma) daarvan.
Die fokus
bly op die één God wat deur die één Gees ‘n verskeidenheid van gawes uitdeel in
belang van die gemeente.
Verskeidenheid, nie eenvormigheid nie, is essensieel vir ‘n gesonde
gemeente. Vers 11 onderstreep die feit
dat God die gawes uit vrye wil, uit absolute genade gee. Die feit dat die gelowige nie kan roem oor
sy of haar gawes nie, word deur Hübner (1980:251) beklemtoon: ‘”Gnadengaben”
sind nicht Besitz, Seinsqualität, Leistung des Menschen, der Gemeinde, der
Kirche, sondern Gaben der “Gnade” Gottes.
Sie sind “Gnadengaben”.
Die drie
perikope fokus op die gawes wat die Heilige Gees aan die gemeente gee. Dit is egter belangrik om die teks nie te
oorvra nie en daarom is Furnish (1999:95-96) se opmerkings van belang om
deurgaans in gedagte te hou: ‘Despite the importance that Paul attaches to the
working of the Spirit, both in his ministry and in the believing community
overall, there is no considered doctrine of the Spirit in 1 Corinthians. There is also nothing in this letter to
suggest that he has reflected on precisely how the Spirit or the Spirit’s
working is related to God and Christ’.
Conzelmann
(1975:204) wys daarop dat geen ander teksgedeelte in die Nuwe Testament ‘n
duideliker blik verskaf op die gemeentelike lewe in die vroeë gemeentes, en
veral ook juis die werksaamhede in die erediens, as juis hierdie drie
hoofstukke in 1 Korintiërs nie.
Om die
presiese blikpunt van hierdie perikoop vas te stel, kan die volgende aanhaling
uit die kommentaar van Fee (1987:575) beslis van waarde wees: ‘When all of that
has been sorted out, and especially in light of their special zeal for tongues,
it seems most likely that Paul’s concern at the outset is singular: To insist
that “inspired utterance” in itself does not mark what is truly “spiritual”,
but the intelligible content of that utterance, content that is ultimately
tested by the basic Christian confession of the lordship of Jesus Christ’.
Waar die
openingsparagraaf (1-3) die werkinge van die Gees in die regte Christologiese perspektief plaas, plaas
die res van die perikoop dit in die regte teologiese
perspektief. Alles - gawes, mense, kerk
- het hulle oorsprong te danke aan die één God wat alle dinge in alle mense
werk (6).
Wat doen jy
as jy sê jy is ‘n christen? Jy bely
daarmee: “Jesus is die Here!” Paulus sê
in vers 3 van die teksgedeelte, jy kan daardie belydenis net uitspreek deur die
Heilige Gees. Daarom sou ‘n moontlike
tema vir die preek kon wees: Ek bely deur
die Gees. Dit is deur die werking
van die Heilige Gees dat ek kan uitroep: “Jesus is die Here! Jesus is mý Here!”
Vir ons
hier in Suid-Afrika was dit oor die algemeen nog nie juis moeilik om só ‘n
belydenis te maak nie. Dit het my ook
nie eintlik iets gekos nie. My
belydenis as Christen vra nie eintlik juis van my enige opoffering nie. Niemand dank my af die oomblik as hulle hoor
dat ek ‘n belydende christen is nie.
Maar vir
die christene in die eerste eeu was dit meestal nie so eenvoudig nie. Korinte was ‘n hawestad, trouens die stad
was eintlik tussen twee hawens geleë.
‘n Hawestad het gewoonlik ‘n hele klomp dinge wat met hom saamkom. Een daarvan in Korinte se geval was die feit
dat baie verskillende soorte mense na die stad gelok is, met natuurlik ook al
die verskillende godsdienste. Die stad
het dus gewemel van tempels en beelde vir al die verskillende gode.
Maar
Korinte was ook die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje. As setel van die streek kan ‘n mens aanvaar
dat die Romeinse owerheid gesteld was daarop dat dinge reg gedoen moes
word. So moes die keiser byvoorbeeld as
god vereer word, iets wat vir die Christene natuurlik dwars in die krop gesteek
het. Akwila en Prisilla, Paulus se
kollegas, was juis in Korinte omdat hulle pas vantevore uit Rome verban is deur
keiser Klaudius.
Dus, as
iemand in daardie tyd bereid was om te bely: “:Jesus is Here”, kan jy maar
aanvaar dat dit nie vir hom of haar maar om’t ewe was nie. O nee, dit het hom gekos, heel dikwels sy
werk en lewensonderhoud, partykeer ook sy familiebande. Die uitspraak, “Jesus is Here”, was dus vir
hulle ‘n radikale geloofsbelydenis.
Daarmee het so iemand radikaal gebreek met sy vroeëre heidense
verlede. Sy hele lewe sou nou anders
wees.
Die punt
wat Paulus hier maak, is dat net soos wat hulle vroeër amper willoos meegevoer
is na stom afgode, so word iemand wat nou met die Heilige Gees vervul is, gelei
om die klassieke geloofsbelydenis te maak: Jesus die gekruisigde is deur sy
opstanding en hemelvaart Here van die hele skepping.
As ek dan
nou soos die mense van Korinte sover gebring word om te bely dat Jesus die Here
is, het dit bepaalde implikasies vir my hele lewe. Vroeër in die brief sien ons dat dit my deel maak van die
gemeente as tempel van God en hoe dit ook implikasies het vir hoe ek my liggaam
hanteer.
Nou sê
Paulus dat my belydenis deur die Gees ook belangrik is vir my verstaan van die
gawes wat God gee. In die gemeente van
Korinte was daar onderlinge verskille en verdeeldheid (vgl. 1 Kor 1:10). Hulle het onder andere die dominees teen
mekaar afgespeel. ‘n Groot probleem in
die gemeente was geestelike hoogmoed.
Hulle het graag geroem op hulle wysheid en kennis en welsprekendheid.
En nou het
die gemeente boonop verskillende gawes van die Gees ontvang, en elkeen klop
homself op die skouer en sê ék het die gawe wat vir die gemeente se welwese die
belangrikste is. Dit is skynbaar veral
die gawe van tale wat in Korinte ‘n belangrike rol gespeel het. Dit is dan ook die enigste van Paulus se
briefadresse waar hierdie gawe so druk onder bespreking was. In die ander briewe word dit beswaarlik
genoem.
Nou kom
Paulus en hy blaas hulle ballon so ‘n bietjie af. Hy wys vir hulle op die verskeidenheid van gawes en hy doen dit
op ‘n ongelooflike manier. Kyk ‘n
bietjie na verse 4-6. Paulus knoop die
verskeidenheid in gawes aan die verskeidenheid binne die goddelike
Drie-eenheid. Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ‘n verskeidenheid van
bedieninge, maar dit is dieselfde Here
wat die opdrag gee; daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit
is dieselfde God wat alles in almal
tot stand bring. Die konsep van
eenheid in verskeidenheid wat betref die gawes in die gemeente is dus gegrond
in die Drie-eenheid self.
Dit is baie
belangrik dat ons die besondere eenheid in hierdie gedeelte moet raaksien. Die Korintiërs het gedink, en net so is daar
baie groepe in ons tyd wat so dink, dat omdat die Gees teenwoordig is in krag
en gawes, hierdie krag en gawes die werklike getuienis is van die Gees se
teenwoordigheid. Met ander woorde, daar
waar ons bepaalde kragtige gawes in aksie sien, daar kan ons seker wees is en
werk die Heilige Gees. Nie so vir
Paulus nie! Een Engelse skrywer stel
dit goed: “The ultimate criterion of the spirit’s activity is the exaltation of
Jesus as Lord.” Die Gees werk daar waar
Jesus verkondig word, daar waar Jesus as Here bely word, waar God se Naam
grootgemaak word! Dit is die
uiteindelike kriterium vir die werk van die Gees, nie ‘fancy’ aktiwiteite nie,
selfs al is ‘n mens ook dankbaar as hulle onder leiding van die Gees verrig
word.Dus, my gawes en bedieninge moet so aangewend word, dat dit sê: “Jesus is
die Here!” Wanneer ek blomme rangskik
vir die kerkgebou of koppies regsit vir die teedrink of die saal se geute
skoonmaak of iets skryf vir die gemeenteblad of iemand in die hospitaal besoek
of iemand bel sommer net om te hoor hoe dit gaan, of as ek by my selgroep of
Bybelstudiegroep se byeenkoms is, oral moet ek deur my gawes en betrokkenheid
uitroep: “Jesus is my Here!” Want dit
kan ook gebeur dat ek al daardie dinge en nog baie ander doen om ander redes,
dalk sodat ék verheerlik kan word en nie die Here nie. Dan moet ek myself dringend afvra: Is dit
nog ‘n gawe van die Gees waarmee ek hier die Here se saak dien, of is ek maar
op my eie aan die gang?
Baie keer
word daar erg krities na die gereformeerde kerke gekyk omdat daar nie sulke
buitengewone dinge in die byeenkomste gebeur nie. Beskuldigings soos “Julle het nie die Gees nie!” of “Julle
inhibeer die werking van die Gees!”, word dan gemaak. En baie keer is dit juis hierdie aspek wat die klemverskille
bring. Wie word daardeur
grootgemaak? Is dit ‘n groot lawaai met
weinig wol? Of is dit werklik
verkondiging van die belydenis van die gekruisigde Christus? God werk deur sy Gees, sigbaar, daar waar sy
Naam verkondig en sy koninkryk uitgebou word.
Die Heilige
Gees is nie ‘n blindelingse meevoering nie.
Die Gees word deel van my denke.
Daarom kon Paulus ook vir die Romeine oproep in Romeine 12:2: “Laat God
julle verander deur julle denke te vernuwe.”
God neem my met Hom saam deur sy Gees op sy pad. God het aan sy kerk alles gegee wat nodig is
om kerk te wees in hierdie wêreld. Ons
moet net saam met die Heilige Gees op hierdie pad gaan, nie op ons eie pad nie.
Hierdie
gedeelte is al deur die eeue heeltemal uiteenlopend geïnterpreteer. Charismatiese ouens trek dié kant toe en die
gereformeerdes weer ander kant toe. Mag
God tog gee dat ons nooit sal probeer om die Heilige Gees in ‘n kassie te sit
oor hoe Hy moet optree en wat Hy kan en mag doen nie. Mag vers 11 tog realiseer, dat die Gees sal doen wat Hy wil waar
Hy wil.
Kom ons kyk
ook nie in ons gemeente wie doen wat en wie se werk lyk die belangrikste of die
mees prominente nie. Nee, kom ons vra
almal: Here, gee aan my die gawes om u voluit te kan eer! Here, help my om deur dit wat ek doen en
deur die gesindheid waarmee ek dit doen, U Naam groot te maak, dat my lewe en
ons gemeente se lewe sal uitroep: “Jesus is die Here! Jesus is ons Here!”
Bibliografie
Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Furnish, V P 1999. The theology of the first letter to the Corinthians. Cambridge: University Press; Groenewald, E P s.j. Die eerste brief aan die Korinthiërs. Kaapstad-Pretoria: NGKU; Hübner, E 1980. 2. Pfingsttag: 1. Korinther 12:4-11. GPM 34, 250-257; Lategan, B C 1984. 1 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 57-79. Pretoria: NGKB; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP.