1 Korintiërs 9:24-27 (Lambert Jacobs)

13 Februarie 2000

Sesde Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: 2 Konings 5:1-14; Psalm 30; Markus 1:40-45

In die geloofswedloop moet die gelowige hardloop soos iemand wat nie onseker is van sy doel nie.  Die oorwinnaarskroon, die ewige lewe, wag vir ons.  Kom ons jaag dit na, deur die genade van ons Here Jesus Christus en gelei deur die Heilige Gees!

Teks

Die perikoop is reeds in die Woord teen die lig-reeks hanteer deur Coenie Burger (1985:167-177) in die bundel met Riglyne vir eskatologiese prediking.  Hierdie postille is beslis noodsaaklike leeswerk vir enigeen wat oor die gedeelte wil preek.  Burger toon aan hoe daar deur die eeue in verskillende kerklike tradisies met hierdie teks omgegaan is.

Ek verwys lesers ook graag na die vier preekstudies wat ek in 1998-1999 se bundel hanteer het, aangesien al vier die fokustekste uit 1 Korintiërs gekom het (Epifanie 2-5). Daar het ek probeer om oor die vier weke ‘n paar hanteringsmeganismes uit te wys vir wanneer ‘n mens met 1 Korintiërs werk, wat ek nie graag hier wil herhaal nie.  Ek sal net ‘n paar lyne deurgee, veral waar dit ons teks uit 1 Korintiërs 9:24-27 direk raak.

Die brief kan soos volg ingedeel word:

1:1-3                           Aanhef: Afsenders, ontvangers, groete

1:4-9                           Danksegging

1:10-4:21                   Die probleem van partyskappe in die gemeente

5:1-6:20                      Reaksie op wanpraktyke in die gemeente

7:1-11:1                      Beantwoording van navrae uit die gemeente

11:2-14:40                 Die erediens en genadegawes

15:1-58                       Die opstanding van Christus en die gelowiges

16:1-18                       Laaste opmerkings en reëlings van Paulus

16:19-24                    Briefslot en seëngroet

Ons preekteks kom dus uit die gedeelte waarin Paulus vrae beantwoord wat in ‘n brief vanuit Korinte aan hom in Efese besorg is.  Dit lei ons af uit die inleidingswoorde van 7:1 – Perì dè hon engrápsate, wat in die NAV weergegee is met: ‘Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het’.  Hierdie ‘perì dè’ –formule kom dan ook by 7:25, 8:1, 8:4, 12:1 en 16:1 voor, telkens wanneer ‘n nuwe gemeentekwessie op tafel gebring word.

Ons teks word as ’t ware omring deur gedeeltes (in 8 en 10) waarin Paulus aandag gee aan navrae rakende die eet van vleis wat aan afgode geoffer is.  Daarin dui hy aan dat die Christen vry is, dat ons weet dat daar geen afgode is nie, maar dat ek steeds met verantwoordelikheid en liefde teenoor my naaste moet oordeel of my optrede nie dalk iemand anders sal laat struikel nie.

In Hoofstuk 9 kom hy uit by sy eie vryheid as apostel, en hoe hy eintlik sy vryheid gewilliglik ingeboet het.  Die betoog eindig in verse 24-27, waar die beeld van die atleet en die bokser ter stawing ingespan word. Die gedeelte vorm ook ‘n oorgang na Hoofstuk 10, waar die kwessie van die afgodsoffervleis weer opgeneem word (vgl Fee 1987:433).

Die gedeelte is gelaai met beelde uit die Isthmiese spele, wat elke twee jaar in die omgewing van Korinte gehou is.  Die lesers sou dus nie moeite gehad het om te kon identifiseer met Paulus se gedagtegang nie.

Daar is al redelik baie gepubliseer oor die doel van die beelde in 1 Korintiërs 9:24-27.  Burger (1985:169-170) het uitvoerig hieroor geskryf.  Fee (1986:434) gee ‘n goeie kernagtige samevatting: ‘The primary point of the metaphors is the imperative of verse 24b, which controls the entire paragraph.  Paul is urging the Corinthians to “run” the Christian life in such a way, in this case by exercising proper self-control, as to obtain the eschatological reward’.

Die perikoop begin met die bekende Pauliniese formule: Ouk oídate – ‘Weet julle nie?’ In ‘n tipiese diatribe-styl sit Paulus sy paranese op die tafel (vgl Conzelmann 1975:162).

Burger (1985:169) onderskei twee belangrike fasette in die beeld van die hardloper op die baan.  Dit gaan oor volharding en uiterste inspanning.  Dit help nie dat daar net ingeskryf word vir die wedloop nie.  Die gelowige moet aanhou op hierdie pad.  Barrett (1971:217) se opmerkings is hier van belang: ‘That is, entry does not in itself guarantee a prize: it does so neither in athletics, nor in Christianity... The weight of his argument is directed simply against the notion that there is an automatic connection between running and winning.  There is none.  The Christian must not only start but continue in the right way’.

Burger (1985:169) gaan egter voort en meen dat dit selfs nie genoeg is om aan te hou hardloop nie. Daar moet met uiterste inspanning deelgeneem word.  Net ná die gedeelte hierbo, vervolg Barrett (1971:217): ‘It is implied that he must put forth all his strength’.  Morris (1958:139) meen: ‘The strenuous self-denial of the athlete in training for his fleeting reward is a rebuke to all half-hearted, flabby Christian service’.

Die beeld van die bokser sou ook met twee fasette verduidelik kon word, doelgerigtheid en met ‘n besef van die erns van die stryd (Burger 1985:169-170).  Paulus sê hy slaan nie in die lug nie.  Hy weet waarheen hy op pad is.  Só behoort die gelowige se wedloop te wees, doelgerig op God se pad.  Die bokser en die atleet besef waaroor dit werklik gaan en gaan nie maar ligtelik om met die wedloop/geveg nie.  Dit is nie ‘n vertoongeveg waar albei boksers in elk geval optreegeld kry ongeag wie wen nie, of ‘n pretdraf waar almal pryse kry wat deelneem nie.  Die geloofspad is ‘n pad wat met erns aangepak en volgehou behoort te word.

Konteks

Die verhouding ‘wet-evangelie’, ‘geloof-werke’ was nog altyd ‘n moeilike saak om mooi te balanseer.  Hierdie is een van die ‘gevaarlike’ (Burger 1985:172 noem dit selfs ‘omstrede’) tekste in dié verband.  Dit is dan ook uiters belangrik vir die prediker om hierdie verhouding mooi te deurdink, voordat die hand aan die pen geslaan word.

Die afgelope paar jaar het Johan Cilliers indringend gekyk na die wyse waarop moralisties met die evangelie op kansels omgegaan word (1996) en ook nuwe perspektiewe op die prediking geopen (1998).  Hierdie twee publikasies behoort insiggewend te wees vir die prediker wat met 1 Korintiërs 9:24-27 op die kansel gaan.

Die oproep wat vanuit 1 Korintiërs 9:24-27 uitgaan om met volharding en uiterste inspanning die wedloop van die lewe te hardloop ten einde die kroon te bereik, beteken nie dat ek nou my eie heil en verlossing probeer bewerkstellig nie.  Die aanmoediging tot doelgerigte deelname lê nog steeds ingebed binne die evangelie van genade.

Groó (1979:104) onderstreep hierdie genadekant van die wedloop: ‘So wird unser “Laufen” kein Müssen, sondern ein Dürfen, eine sehr energische Bewegung zwar, jedoch ohne Hast und Zwang’.  My ywerige hardloop is nie ‘n verpligting, ‘n dwang nie.  Ek mág maar hardloop in hierdie wedloop.  Ek wíl voluit hardloop.  Ek volg die Here op hierdie pad.  Ek hoef nie nog die baan uit te lê ook nie.  Nee, Iemand ís al om hierdie baan!

‘n Uitstekende vertolking van die appèl in hierdie perikoop kan gekry word by Burger (1985:174), ‘n aanhaling wat maklik maar die preek net so kan haal: ‘Nes die Korintiërs het die kerk van ons tyd ook nodig om duidelik te hoor dat die evangelie nie net vryspreek en vergeef nie, maar ook beslag lê op mense en hulle volle persoon en menswees beset en opeis vir Christus en die naaste’.

Preekvoorstel

In ons sportmal land behoort dit nie moeilik te wees om met die beeldmateriaal van die atleet en die bokser die aandag van die gemeente – veral ook die kinders – te kry en te hou nie.  ‘n Moontlikheid is selfs om die hele preek in die vorm van ‘n atletiekbyeenkoms (of boksgeveg!) in te rig, waar die prediker as kommentator optree (vgl Jacobs 1995:5-7 waar ek iets soortgelyks met 1 Tim 6:11-16 by ‘n belydenisaflegging gedoen het).  Al die elemente van die teks sou in die kommentaar ingewerk kon word.

‘n Waarskuwing sou egter tog in orde wees: Moenie só meegevoer raak dat elke enkele deeltjie van ‘n atletiekbyeenkoms iewers in die teks teruggevind móét word nie!  Fee (1987:440) waarsku soos volg: ‘It is unfortunate when such a powerful text, with its exhortation to discipline as a necessary part of the Christian life – and consequent warning if one take such exhortation lightly – gets sidetracked either in the allegorizing of details or in the kind of bodily discipline exercised in self-imposed asceticism’.  Let in dié verband veral ook op Burger (1985:174) se kritiese opmerkings op die preek van die Engelse piëtis, John Bunyan.  Burger skryf soos volg: ‘Bunyan werk deurentyd met die beeld van die hardloper.  Hy bou dit al mymerende en improviserende uit tot sulke proporsies dat hy uiteindelik in die een preek feitlik die hele “reis van Christen na die ewigheid” dek’.  Waak dus maar teen té kreatiewe improvisasie!

Indien die prediker wel sou kies om die situasie van ‘n sportbyeenkoms te skep, kan jy soos volg begin: ‘Dames en here!  Hartlik welkom by die groot atletiekbyeenkoms van (Empangeni).  Ons hoop u sal die atletiek saam met ons geniet en dat ons die een naelbytstryd na die ander sal beleef!

Sonder dan ‘n paar items uit as hoogtepunte van die program.  Maak dit items waarin jy kans kry om elemente van die teks te inkorporeer. Die hinderniswedloop het byvoorbeeld baie lewenslesse.  Die middel- en langafstand-wedlope vereis stamina en uithouvermoë.  In die velditems het jy krag nodig, maar ook tegniek.  ‘n Mens kan wys op die streng dieet wat die deelnemers moet volg, hoe hulle hulle baie lekkernye moet ontsê (vgl vers 25).  Ook die rol van die afrigter en die skare wat aanmoedig, kan uitgelig word.

Wys vir die skare op hoe baie op die spel is.  Ons lewe in ‘n tyd waarin al hoe meer sportpersoonlikhede hulle sport op professionele vlak doen.  Sport word ‘n hoogs kompeterende, multi-miljoen rand bedryf.  Jy neem dus nie maar vir die pret deel nie.  Nee, atletiek, boks, rugby, krieket, ensovoorts is jou brood en botter, jou lewensvoorsiening.  Daarom moet jy bereid wees om alles in te sit om op topvlak te presteer, anders is jy jou plek in die span en dus jou inkomste kwyt.

Vervolgens kan die vraag gestel word of ons met dieselfde passie ons geloofslewe aanpak.  Hoe belangrik is my gebedstyd, my stiltetyd, die eredienste vir my?  Het ek ‘n brandende ywer vir die werk van die Here, of het kerklike goed maar vir my opsioneel geword.  Onthou gerus Morris (1958:139) se woord oor ‘half-hearted, flabby Christian service’!

Fee (1987:441) se kommer behoort deur die prediker verwoord en in die gemeente se eie situasie op uitgebrei te word: ‘Perhaps too many contemporary Christians have lost sight of their eschatological goal and are running aimlessly, if they are in the “contest” at all’.  Hardloop ons nog enigsins?  Is ons nog hoegenaamd in die wedloop?

Hou egter voortdurend die gevaar van wettisisme en moralisme in gedagte.  Miskien sou die beeldspraak ook daarin kon help deur die skare daarop te wys dat die hoofborg van die byeenkoms alles moontlik gemaak het.  Sonder sy inset sou die hele byeenkoms nie kon plaasvind nie, sou die atlete nie kon deelneem en hulle bes lewer nie.  Groot applous vir die borg!

Net so maak die verdienste van Jesus Christus aan die kruis my geloofslewe moontlik, skep God vir my die geleentheid om vir Hom te kan lewe.  God ‘borg’ my geloof, gee vir my dit wat Hy dan van my vra (vgl Cilliers 1998:27), lei my deur sy Heilige Gees se konstante inspraak om sy kind te kan wees.  Sal atlete dan nie voluit hardloop vir so ‘n borg nie?  Sal hulle nie selfs deur pyn en tekortkominge breek om aan die groot Afrigter eer te besorg met hulle wedloop nie?

Dit moet ook gesê word dat enige roem wat die hardlopers behaal, húlle nie toekom nie. Lees maar weer ‘n vers soos Efesiërs 2:8-10: ‘Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.  Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het’.

Is dit vir die atleet sleg om voluit te hardloop?  Doen sy dit teen haar sin?  Nee, dit is waarvoor sy oefen.  Dit is waaroor deelname vir haar gaan.  En tog lyk dit asof gelowiges baie keer dink dat ons nou by die moeilike, swaarmoedige kant van die geloofslewe kom as ons praat van toewyding.  Coenie Burger (1985:177) vat dit uitstekend saam: ‘Hierdie eis van God is nie ‘n jammer of ongelukkige saak nie.  Dit is nie so dat dit die swaarder, vreugdelose deel van die evangelie is nie.  Die vreugde wat die evangelie baar, is juis ten nouste verbind aan hierdie heelhartige oorgawe en diens aan God’.

Daar sit ‘n stuk onafwendbaarheid aan die gelowige se wedloop.  Paulus sê elders vir die Korintiërs dat God se liefde hom ‘dwing’ (2 Kor 5:14) om die evangelie te verkondig.  Die mens wie se lewe deur God verander is, omgekeer is, hol nou vir ‘n vale!  Hy kan nie anders nie.  God het hom op die baan neergesit en die Heilige Gees jaag hom hier van agter af aan.

Sluit gerus die ‘atletiekbyeenkoms’ af met ‘n oproep tot almal om self die spykerskoene te gaan aantrek, die bietjie gewig wat om die middel versamel het, af te skud, en baan toe te kom, vir ‘n wedloop wat teen ‘n lekker stewige pas afgelê gaan word.  Dit is ‘n ernstige resies waar ons nie sommer maar so vir die grap gaan saamdraf nie.

Nee, hiervandaan hardloop ek voluit vir my Heer!  Ek is doelgerig gefokus op die eindpunt.  Die oorwinnaarskroon wag vir ons.  Dit is reeds vir ons verkry deur die Borg.  Ons wil dit tog nie misloop nie, of hoe?!

 

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Burger, C W 1985. 1 Korintiërs 9:24-27, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig I/6: Riglyne vir eskatologiese prediking, 167-177. Kaapstad: NGKU; Cilliers, J H 1996. Die uitwissing van God op die kansel: Ontstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi; Cilliers, J H 1998. Die uitwysing van God op die kansel: Inspirerende perspektiewe op die prediking - om God te sien en ander te láát sien. Kaapstad: Lux Verbi; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress;  Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans;  Fürst, W 1973. Septuagesimae: 1 Kor 9,24-27. GPM 28, 114-120; Groó, G 1979. Septuagesimae: 1 Kor 9, 24-27. GPM 34, 100-104; Jacobs, L D 1995. Hardloop die wedloop van die geloof: 1 Tim 6:11-16. Lewende Woorde 3 (4), 5-7; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP.