2 februarie 2003

vierde sondag na epifanie

liturgiese voorstel

Fokusteks: 1 Korintiërs 8:1-13

Ander tekste: Deuteronomium 18:15-20; Psalm 111; Markus 1:21-28

Die voorgestelde basisliturgie handhaaf die gedagte dat die gemeente in die Sondae na Epifanie haar eie sending na die wêreld by hernuwing moet ontdek. Die Nuwe Testamenttekste vir hierdie Sondag gaan voort met die lees van tekste uit 1 Korintiërs en Markus, met die Korintiërsteks as fokusteks. Alhoewel hierdie twee tekste nogal los van mekaar staan, ontdek ons tog, by nader beskouing, ‘n verhaallyn wat deur albei tekste loop. Die lyn: Lewe vir God. (Kennis (om te weet) alleen is nie genoeg nie. Die gemeente moet God liefhê en die liefde teenoor ander leef. )

In die fokusteks lees ons juis weer van die gemeente in Korinte se worsteling om Jesus na te volg en hulle eie roeping uit te leef. In hierdie geval word die gesprek rondom die eet van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is, aangesny. In vers 1b en 2 sê Paulus dat die hele diskoers eintlik gaan rondom die teenstelling tussen kennis en liefde. Dit is juis die probleem in die gemeente van Korinte, daar is gelowiges wat eerder op hulle sogenaamde meerdere kennis vertrou as op dit wat God se liefde vra. Juis daarom, sê Paulus, het kennis in sigself geen seker waarde nie.

Die ware maatstaf vir die Christelike lewe is nie kennis nie, maar liefde vir God. Om lief te hê soos God lief het. Paulus sê wat regtig saak maak is om deur God geken te word, deur Hom geroep te wees. Die bewys dat mens geroep is, sê hy, lê daarin dat ek God lief het. Dis juis hierdie liefde wat my sonder selfsug laat lewe.

Skrifverklaarders meen, volgens die taal en struktuur, dat vers 6 eintlik ‘n ou Christelike belydenis is wat juis dit wat hierbo gesê is, bevestig en vier. Letterlik vertaal en omskrywe kan mens dit hierdie Sondag en selfs op van die ander Sondae na epifanie as eenvoudige geloofsbelydenis, met respons deur die gemeente, gebruik.

Die liturg sou voor die geloofsbelydenis kon sê: "Gemeente, op die Sondae na Epifanie fokus ons op die vertellings oor Jesus se eerste optredes aan die begin van sy openbare bediening en die roeping van die kerk om Hom daarin na te volg en ons roeping uit te leef. Ons kan maklik sê ons weet (ken) alles, dat daar net een God is en geen ander gode (afgode) nie, maar daar is ander gelowiges wat nie in dieselfde mate hierdie kennis het nie. Daarom antwoord ons in ons belydenis nie met die woorde nie: ons ken Hom. Nee, ons antwoord met die woorde: ons lewe vir Hom. Dis om liefde te leef, en nie kennis nie, wat ons heel eers met ander reg laat leef — bo ons self. Kom ons doen nou saam belydenis van ons geloof volgens die ou geloofsbelydenis wat in 1 Korintiërs 8:6 opgeteken is."

Voorganger: Daar is een God, die Vader.

Gemeente: Ons lewe vir Hom.

Voorganger: Daar is een God, wat alles gemaak het.

Gemeente: Ons lewe vir Hom.

Voorganger: Daar is net een Here, Jesus Christus.

Gemeente: Ons lewe deur Hom.

Voorganger: Daar is net een Here, deur wie alles bestaan.

Gemeente: Ons lewe deur Hom.

Doen die gemeente geloofsbelydenis net voor die gebruik van die nagmaal kan die Markusteks vir vandag na die belydenis gelees word. Die liturg kan moontlik sê: "Hierdie Markusverhaal sê vir ons wie Jesus regtig is en bevestig die goddelike gesag waarmee Hy die boodskap van lig bring. In die nagmaal vier ons hierdie Jesus wat na die wêreld gekom het om lig aan die wêreld te bring en erken terselfdertyd dat Hy die mag het om ons in hierdie proses van ons sonde te bevry. Die bose gees het geweet wie Jesus is (Hom ken), ‘U is die heilige van God.’ Maar kennis is nie dieselfde saak as om sy vrymakende mag te beleef nie. Jesus se lering verander die mens se lewe, nie omdat ons net weet wie dat Hy is nie(Hom ken), maar omdat Hy ons vrymaak en ons deur Hom lewe — die liefde doen."

Indien die nagmaal nie gevier word nie behoort die liturg ten minste met die lees van die Markusteks die gemeente by wyse van herinnering te wys op die gesag waarmee Jesus die lig bring en lewens verander en dat ons dit juis in die nagmaal vier en bevestig kry.

Die Ou Testamentteks, Deuteronomium 18:15-20, beskryf die rol van die profeet in die gemeenskap van die gelowiges. Ware profesie is uiteindelik die preek van die Heilige Skrif op Sondag.

Psalm 111 is ‘n respons op die hele verhaal van die liturgie en kan as slotsang — danksegging na die nagmaal — gesing word. In vers 1 gee die digter in soveel woord opdrag dat die Here nou in die gemeenskap van die gelowiges geloof gaan word. Die nuwe beryming en melodie maak dat die gemeente die psalm in beurtsang kan sing. Laat die gemeente telkens as geheel die keervers sing en die vroue, manne en kinders die afsonderlike verse.

Vers 2-9 gee die redes waarom die Here geloof moet word. Die redes draai hoofsaaklik rondom God se reddingsdade in die verlede. Dit op sigself is tog ook waar van ons lof — ons lewe deur Jesus Christus wat die eintlike verlossing kom bewerk het en die lig gebring het.

PREEKSTUDIE – 1 KORINTIëRS 8:1-13

Teks

1 Korintiërs 8 handel oor 'n vraagstuk wat vir die gemeente in Korinte, ‘n gedeelte bekeerlinge uit die heidendom, van dringende belang was, naamlik die eet van vleis wat as afgodsoffers gedien het. Baie van die vleis wat op die mark beskikbaar was, of in privaathuise voorgesit is, is eers aan die afgode geoffer. Daar was ook by die tempels eetplekke waar mense ook aan die tafel van die afgod geëet het. Etes by so 'n "tempel-restaurant" kon meer sosiale geleenthede wees, maar kon ook 'n duidelike religieuse strekking hê – as deelname aan die verering van die afgod. Waarskynlik is die onderskeid tussen "religieus" en bloot "sosiaal" (in kommentare vir verskillende tipes eet van offervleis) 'n moderne terugprojeksie. Dit het stellig nie vir die Korintiërs sin gemaak nie. Die ineenvloeiing van religieuse en sosiale gebruike het juis die probleem in Korinte akuut gemaak: Wanneer kan ek die offervleis eet sonder om daarmee terug te val in afgodediens?

Kommentare veronderstel oor die algemeen dat Paulus se vraag in 8:1, uit die spanning tussen die verskillende groepe in die gemeente in Korinte voortkom. Enersyds was daar die "sterk" groep, wat geroem het op hulle kennis en vryheid in die geloof. Die groep kan moontlik gesien word as voorlopers van die latere Gnostiek, maar 'n mens moet tog versigtig wees om die gesigspunte van die Gnostiek sonder meer in hul standpunte terug te lees. Die groep se siening oor offervleis kan in hoofstuk 8 tussen die lyne gelees word. Hulle was van mening ons weet daar is net een God (8:6), en dat die sogenaamde afgode eintlik niks is nie (8:4). Hieruit het hulle afgelei dat die feit dat vleis aan afgode geoffer is, geen invloed het nie (dit bly bloot kos). Om die vleis te eet, doen dus geen skade aan jou geloof nie. Dit kan selfs beteken dat jy nader aan God kom, omdat jy op hierdie manier jou vryheid in Christus konsekwent uitoefen (8:8-9).

'n Ander groep in Korinte het probleme gehad met die vryheid wat die "sterk" groep hulleself toegeëien het. Vir die groep was die afgode ‘n werklikheid, waarskynlik omdat hulle hul lewe lank gekondisioneer is om aan die afgode as ‘n werklikheid te dink. Geloof in Christus het dus vir hulle beteken dat hulle 'n keuse teen die afgode gemaak het, vir Christus. Die afgodediens was steeds vir die "swakker" gelowiges 'n versoeking (8:10). Indien so 'n "swak" gelowige 'n afgodsoffer eet, sou hulle moontlik terugval in afgodediens en hul rug op die Christelike geloof keer. Vir Paulus beteken dit dat hulle dan verlore sou gaan (8:11). Die poging van sommige kommentare (Blomberg) om 'n sagter betekenis aan "verlore gaan" te gee, oortuig nie. Conselmann sê tereg dat dit hier, soos elders by Paulus, dui op ewige verlorenheid. Paulus rig hier weliswaar 'n waarskuwing in hipotetiese taalgebruik, maar die erns van sy waarskuwing moet nie op grond van dogmatiese oorwegings (soos 'n bepaalde vertolking van die leer van die volharding van die heiliges) verswak word nie.

Paulus skaar homself in die hoofstuk teologies aan die kant van die "sterkes". Die meeste kommentare aanvaar dat hy in 8:1 ("Ons weet dat ons almal kennis het") die "sterker" groep se standpunt aanhaal, maar dit is tog duidelik dat hy meen dat hy wel hulle insig deel (teenoor die "swakker" groep wat dit klaarblyklik nie heeltemal begryp nie, 8:7). Vir Paulus is die afgode eintlik niks in die lig van ons kennis van die een God (8:4) nie. Die geloof in die een God, word in 8:6 duidelik omskryf as geloof in die Vader as bron en doel van alle dinge (ook van ons bestaan), asook in Christus as die een Here wat die middelaar is deur wie alles ontstaan het en deur wie ons ook lewe. In die lig daarvan dat ons die Vader as bron en die Seun as middelaar van ons totale bestaan erken, vervaag die afgode tot skyngode, tot niks. Glo 'n mens dit, kan jy ook nie anders nie as om te aanvaar dat die Christen vry is om afgodsoffers te eet.

Daarmee is die saak egter vir Paulus nie afgehandel nie. Wat gemaak met gelowiges wat nog nie oor die kennis beskik nie (8:7)? Daarmee bedoel Paulus waarskynlik nié dat hulle nie in een God en een Here glo nie, maar wel dat hulle die implikasies van hierdie geloof vir ons verstaan van die afgodediens nie verstaan nie. Vir sulke gelowiges is die afgode nog ‘n lewende werklikheid. Paulus se skynbare inkonsekwentheid (8:5), as hy toegee dat daar tog baie sogenaamde gode is, baie wat "God" en "Here" genoem word, moet in hierdie lig verstaan word. 'n Afgod wat vanuit die kennis van die "sterk" groep eintlik niks is nie, is vanuit die gebrekkige kennis van die "swak" groep tog wel 'n krag om mee rekening te hou. Hierby moet onthou word dat Paulus self in 1 Korintiërs 10:19-20 die mening uitspreek dat afgodsdiens ten diepste 'n offerdiens aan bose geeste is. Hy bedoel dat, alhoewel die afgode self niks is nie, die afgodsdiens tog deur die bose geeste gebruik word om mense aan hulleself te bind. Die krag van die bose geeste hang – om Paulus se siening te probeer saamvat – egter daarvan af of 'n mens die nietigheid van afgode ingesien het al dan nie. Die bose kan jou net bind as die afgode in jou eie gewete nog vir jou 'n werklikheid is.

Hoewel Paulus teologies met die "sterkes" saamstem, neem hy tog, vanuit 'n pastorale gesigspunt, standpunt in teenoor hulle. Klaarblyklik het die "sterkes" gemeen hulle reg om hul vryheid uit te leef, bo alles kritiek verhewe was, dat die "swakkes" eenvoudig "opgevoed" moet word om in te sien dat die afgode niks is nie. As 'n "swak" gelowige dus die verkeerde afleiding maak uit die feit dat hy of sy 'n "sterk" gelowige by die tempel sien offervleis eet, dan is dit maar tot daarna toe. Die "sterkes" kan immers nie toelaat dat hulle deur die "swakkes" met hulle gebrekkige insig oorheers word nie! Dit lê immers in die logika van die lewe dat die "swakkes" hul deur die "sterkes", mense met meerdere kennis, moet laat lei.

Juis op dié punt stel Paulus homself teenoor die "sterkes". Hy doen dit reeds in 8:1, waar hy skryf: "Kennis maak verwaand, maar liefde bou op." Die woord "verwaand" of "opgeblase" word dikwels deur Paulus in die brief gebruik, om die "sterk" groep te beskryf (dit kom 7 keer in verskillende vorme in die brief voor, en buite die brief slegs in Kolossense 2:18). Die woord beskryf die houding van 'n mens wat sy of haar kennis gebruik as 'n rede tot selfverheffing. Daardeur raak daardie persoon primêr gefokus op sy of haar eie opbou (hoe meer kennis ek verwerf, hoe meer kan ek van myself dink). Die woord "opgeblase" is in die verband 'n goeie metafoor. Dit dui op iets wat oppervlakkig na "groei" lyk, maar in werklikheid leeg en betekenisloos is. Hierteenoor gebruik Paulus die woord "opbou" (oikodomei), wat werklike groei beskryf as 'n stadige, volgehoue bouproses. Paulus gebruik die woord nooit in 'n individualistiese sin nie, maar altyd wanneer hy van die opbou van die gemeente praat. Werklike groei vind nie deur selfgerigte kennis plaas nie, maar deur liefde (agape).

Paulus neem nie 'n anti-intellektuele houding teen kennis in nie, maar het dit teen 'n selfvoldane kennis van mense wat meen hulle weet alles (8:2). Hy sluit aan by die band wat die Ou Testament tussen kennis en liefde veronderstel, naamlik dat werklike kennis van God daarin bestaan om Hom lief te hê. Paulus se argument neem hier 'n verrassende wending: "Maar as iemand God liefhet, ken God hom" (8:3). Die laaste deel van die vers praat die taal van verkiesing; om deur God geken te word, is om deur God gekies te word. Uitverkiesing moet hier nie verstaan word (soos soms ongelukkig voorgestel) as 'n soort abstrakte en arbitrêre keuse wat God maak deur sommige mense te kies en ander te verwerp nie. Paulus se gedagte lê hier in lyn met 1 Johannes 4:19: "Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." Só toon Paulus aan dat 'n ware kennis van God daarin bestaan dat ons hierdie vrye, onverdiende liefde van God ontvang en dat ons daardeur leer om Hom lief te hê. Dit beteken dat ons kennis van God moet meewerk dat ons ook mekaar liefhet soos wat Hy ons liefhet – ook liefde vir die "swakker" gelowiges in hulle swakheid. Kennis van God wat jou opgeblase maak, gevoelloos vir swakker medegelowiges, is in stryd met die ware kennis van God.

Teen die agtergrond kry Paulus se omskrywing van geloof in die een God en een Here in vers 6, 'n dieper betekenis. As ons vanuit en tot die een God en Vader leef, slegs deur die een Here bestaan, het geen gelowige enige grond om sigself bo ‘n ander te verhef nie. Ook die vryheid wat ons kennis bring, moet anders verstaan word; as vryheid om mekaar in liefde te dien (vgl Galasiërs 5:13). Vryheid beteken inderdaad dat ek vry is om afgodsoffers te eet, maar ook dat ek niks verloor as ek dit ter wille van die swakker broer nie eet nie. Teenoor die "sterker" gelowiges se opvatting dat hulle uitoefening van vryheid op grond van hulle meerdere kennis (deur die eet van afgodsoffers) hulle moontlik "nader" aan God kan bring, stel Paulus dat dit eintlik 'n heeltemal onverskillige kwessie is (8:8) – maar juis daarom behoort 'n mens dit maklik te vermy ter wille van die "swakker" gelowige. Paulus skryf nie 'n vaste reël voor nie, maar sê wel dat hy die eet van vleis totaal sou afsweer eerder as om die gevaar te loop om 'n medegelowige te laat struikel (8:13). Hy beskuldig die "sterker" gelowiges dat hulle die "swakkeres" aanmoedig tot ondergang (8:10-11). Dat Paulus dieselfde woord gebruik as vir "opbou" in 8:1, beklemtoon die erns van sy kritiek. In plaas van werklike opbou deur die liefde, vind hier 'n opbou tot ondergang (Calvyn: ruinosa aedificatio) plaas!

Konteks

Die saak van afgodsoffers lê eintlik buite die verwysingsraamwerk van die lidmate vir wie ons preek. 'n Gewilde "vertaling" wat hiervan gemaak word, is om Paulus se beredenering te probeer toepas op etiese kwessies waaroor gelowiges sou kon verskil (byvoorbeeld die gebruik van alkohol) (Blomberg). Blomberg sê dat enige etiese kwessie wat na analogie van 1 Korintiërs 8 hanteer word, drie elemente moet bevat: (a) 'n bedreiging vir Christelike vryheid; (b) 'n potensiële struikelblok, en; (c) 'n medegelowige wat spesifiek deur hierdie kwessie tot sonde verlei sou kon word. Vir Blomberg gaan dit in die hoofstuk oor die balans tussen permissiwiteit en wettisisme. Die kritiese balans tussen permissiwiteit en wettisisme is meesal veel moeiliker as die handhawing van een van die twee uiterstes. Indien 'n prediker dié moontlikheid gebruik, sou dit kon lei tot sinvolle besinning oor die aard van etiese besluitneming by gelowiges. Die preek kan dan duidelik maak dat liefde, eerder as teoretiese teologiese kennis, die deurslag behoort te gee, en dat egte teologiese kennis altyd dien as aansporing tot die liefde. Daarom is etiese besinning vir gelowiges 'n saak van vaardigheid om liefde in 'n praktiese situasie te bewys – ook aan 'n "swakker" medegelowige – en nie 'n saak van reëls en beginsels (waardeur die menswees van 'n ander dikwels misken word) nie.

'n Tweede preekmoontlikheid wat ten nouste by die eerste aansluit, het betrekking op die kwessie van die grens tussen kerk en wêreld. Dit is enersyds moontlik dat gelowiges daardie grens so sterk kan trek dat die kerk in 'n soort ghetto-bestaan teruggedwing word, 'n eksklusiewe posisie waarin geen kontak tussen kerk en wêreld moontlik is nie. Andersyds kan die kerk so betrokke raak by die wêreld, dat die kerk geen eie identiteit, geen andersheid meer het nie. Dit is duidelik dat die kerk telkens gedwing word om sy bestaan in hierdie wêreld vanuit sy basiese geloofsoortuiging te oordink en om sy andersheid te vind, nié in sy besondere teologiese insigte nie, en ook nie in sy nakoming van rigiede wettiese reëls nie, maar in die lewe van liefde teenoor mekaar as mense "vir wie Christus gesterf het" (8:11).

'n Derde preekmoontlikheid wat binne bepaalde situasies relevant kan wees, raak die saak van "demone" en "bindinge" wat in sekere Christelike strominge tans op die voorgrond is. Die ekstreme voorbeelde van hierdie beskouings beweer dat selfs sekere objekte (soos Chinese teekoppies) 'n demoniese binding op jou huis kan plaas. Ons is dikwels geneig om sulke beskouings sonder meer van die tafel af te vee, op grond van goeie teologiese oorwegings. Die vraag is net of ons teologiese kennis ons nie ongevoelig en liefdeloos maak vir medegelowiges vir wie die dinge werklike bedreigings inhou nie, en of daar nie 'n baie groter liefde moet wees waarin ons medegelowiges se vrese ernstig opneem (sonder om hulle daarmee gelyk te gee in hul teologiese beskouings) nie. Die teks kan dus dien as basis vir 'n ewewigtige bespreking van hierdie problematiek.

Preekvoorstel

Hierdie preekvoorstel is vir die vyfde Sondag na Epifanie, ‘n tyd waarin dit oor toewyding aan Christus as die Woord wat mens geword het gaan; 'n saak van kennis, ja, maar bo alles van liefde en vreugde in die geloofsgemeenskap, waarby Jesus as Lig vir die wêreld bely word. Hierdie gedagtelyn word in die preekvoorstel uitgewerk. Ons vier die fees tans in 'n situasie van diepe onsekerheid oor wat ons regtig van God en van Jesus Christus weet.

Party mense is vreeslik slim oor God. Hulle weet presies wie en hoe Hy is, wat Hy wel en wat Hy nooit sal doen nie. Sulke mense is gewoonlik net so slim oor wat ons behoort te doen en wat ons nie mag doen nie. Hulle kan in enige situasie vir jou die korrekte reël gee, die eksakte beginsel, vir jou voorskryf wat mag en nie mag nie. Baie mense is met die slimmigheid danig beïndruk. Hulle reken die kerk moet so slim wees. Sulke mense neem dominees kwalik as hulle sou sê: "Ek weet nie, ek is onseker hieroor." Hulle hunker na die dae toe die kerk nog met groot sekerheid kon sê: "Dit is sonde en dat nie. Dit mag jy en dat is verbode." Sommige mense sê dat die kerk swak geword het, onseker, ploeterende mense wat nie meer weet wat reg en verkeerd is nie. Sommige sal dalk nog verder gaan. As die kerk nie eers meer mooi weet wat reg en verkeerd is nie, en as die kerk dikwels so verkeerd is oor wat mag en wat nie mag nie, kan jy dan die kerk nog ernstig opneem? Weet die kerk nog ooit waarvan ons praat as ons oor God praat?

In die gemeente van Korinte was mense wat gereken het hulle ken God. Mense wat weet wat mag en wat mag nie. Die probleem was net dat hierdie mense nie met mekaar saamgestem het nie. Hulle het by dieselfde punt begin redeneer, oor dieselfde kwessie gepraat, maar by teenoorgestelde eindpunte uitgekom. Die punt waar hulle begin het, was die eenvoudige waarheid, die een waarheid waarvan die kerk vandag nog seker is: Daar is net een God. Die saak waaroor hulle gepraat het, was 'n brandende probleem in hulle wêreld: As jy in die een God glo, mag jy dan nog vleis eet wat aan die afgode geoffer is? Dis hier waar hulle by teenoorgestelde antwoorde uitgekom het.

Die een groep, wat hulself die "sterkes" genoem het, het geredeneer dat daar net een God is, reg? Dus is al die afgode skyngode, hulle is eintlik niks, reg? Dit beteken dat as 'n stuk vleis aan hierdie niks geoffer is, maak dit geen bloue duit verskil nie. Jy kan dit maar eet. Jy kan selfs in die afgodstempel gaan sit en dit eet. Wat maak dit tog nou saak? Vleis is vleis, maak nie saak waar jy dit kry nie – en jy is vry om te eet net soos jy lekker kry, al is dit nou ook in die skadu van 'n afgodsbeeld. Reg? Natuurlik reg!

Die ander groep, wat deur hulle teenstanders as die "swakkes" bestempel is, het weer geredeneer: "Daar is net een God, reg? Dus mag ons met die ander gode niks te make hê nie, reg? Dit beteken dat as 'n stuk vleis aan 'n afgod geoffer is, is dit aan 'n vals god, dalk selfs aan die duiwel self toegewy, en daaraan mag jy nie raak nie. Netnou is jy pens en pootjies terug in die afgodsdiens waar jy nou die dag nog gesit het. Vleis is nie sommer vleis nie. Vleis kan die stuk aas aan die duiwels se hoek wees, dit kan jou teruglok na jou ondergang toe. Reg? Natuurlik reg!

Wat maak jy as Christene so verskil? Wat Paulus doen, is om amper punt vir punt met die sterkes se teologie saam te stem. Daar is net een God, reg. En dit beteken die afgode is eintlik niks, nog steeds reg. En natuurlik beteken dit dat vleis is, dat jy maar kan eet, ook al is die vleis aan 'n afgod geoffer. Jy is vry, nog steeds reg. Paulus weet al hierdie dinge. "Ons weet dat ons almal kennis het," skryf hy in vers 1. Maar dis nie die punt nie. Want, skryf Paulus verder: "Kennis maak verwaand." Letterlik staan daar, "opgeblase." Soos 'n ballon… Julle wat so danig sterk is, julle wat so seker is julle weet presies waar julle met God aan of af is, is opgeblase, sê die apostel. Dan gaan hy aan om hul ballonne te prik.

As iemand reken hy weet nogal so wat, skryf Paulus, as iemand homself aanstel oor sy danige kennis, dan weet hy eintlik nog niks. Want die belangrikste ding is nie dat ons allerhande goed oor God weet nie. Die belangrikste is nie dat ons slim is oor God nie. Die belangrikste is dat ons God sal liefhê. Dit kan selfs 'n kind, 'n ongeleerde, 'n verstandelik uitgedaagde mens regkry – dikwels beter as mense wat loop en spog oor hulle slimmigheid. Want sien, ons kry God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het: "…as iemand God liefhet, ken God hom." Dis nie so belangrik of ons God verstaan nie. Dis veel belangriker dat ons glo Hy verstaan ons. Dis nie so belangrik of ons alles van God weet nie. Dis veel belangriker om te vertrou daarop dat Hy alles van ons weet. As jy glo dat God dwarsdeur jou sien en jou liefhet vir wie jy is, dan leer jy om God lief te hê. En dis waaroor dit eintlik gaan.

Daarom vat Paulus ook die beginpunt van die hele redenasie oor vleis of nie vleis nie, en hy dop dit om. Dis nou nie meer 'n teoretiese stelling oor die een God nie, maar 'n geloofsbelydenis, 'n loflied oor God wat ons liefhet en vir wie ons lief is. Al die ander gode, sê hy, is maar skyngode, is eintlik niks. Hoekom? Nie in die teoretiese sin dat hulle nie bestaan nie, terwyl ons God wel bestaan. Dis seker waar, maar dis ook so vervelig soos 'n Sondagmiddag vir kinders. Die punt is dat hierdie gode dalk iets is vir die mense wat nie ons God ken nie. Maar sodra jy ons God leer ken, die Vader wat ons eerste liefgehad het, dan vervaag hierdie ander gode tot niks. Want, skryf Paulus, daar is vir ons net een God, "die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe."

Dis belangrik om op die klein woorde in hierdie loflied van Paulus te let: alles is uit die Vader, maar deur die Here Jesus Christus. Ons lewe vir die Vader, maar deur die Here Jesus. Die Vader is die Bron van ons bestaan en die Einddoel van ons bestaan, maar Jesus is die Middelaar. Deur Hom leer ons die Vader as Bron ken; deur Hom leef ons vir die Vader. Eenvoudig gestel beteken dit: sonder Jesus sou ons nie weet van God as Vader en as Bron nie; sonder Jesus sou ons nie vir God kon leef nie. Jesus is die bewys van God se liefde vir ons. Jesus se menswording, sy kruisdood en opstanding, sê vir ons dat God ons eerste liefgehad het. En so leer ons deur die Gees, deur die geloof, om God ook deur Jesus lief te kry en vir Hom te leef. Kennis van God is dus nie die resitasie van 'n geloofsbelydenis nie; dis nie die formulering van teologiese beginsels nie. Kennis van God is om deur die evangelie van Jesus oorrompel te word, om oorweldig te word deur die wete dat God jou eerste liefgehad het – en om God te leer liefkry. Ware kennis is liefde.

Wat die wêreld nodig het, is nie 'n kerk wat slim is oor God nie. Wat die wêreld nodig het, is nie 'n kerk wat homself slim hou oor reg en verkeerd nie. 'n Kerk wat die koerantvoorblaaie haal met indrukwekkende uitsprake lyk dalk goed, maar is nog nie noodwendig goed nie. Want dikwels is die onuitgesproke gedagte agter die slim kerk, die indrukwekkende kerk, dit: Ons weet beter en doen beter, ons is op 'n hoër vlak as die ander mense. 'n Slim kerk is baie keer 'n opgeblase. Wat die kerk moet weet: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. Wat die kerk moet doen, is so moeilik dat net God dit in ons kan doen: Ons moet daardie liefde leef, ook wanneer ons kennis ons by verskilpunte uitbring, en juis wanneer ons verskille dreig om mekaar die afgrond in te jaag. Want as ons liefhet, het Jesus al gesê, dan sal die mense weet dat ons sy dissipels is.

Bibliografie

Barrett, C.K. 1968. A Commentary on the First Epistle to the Corinthians; Blomberg, C. 1994. 1 Corinthians. The NIV Application Commentary. Grand Rapids; Conzelmann, H. 1975. 1 Corinthians. Hermeneia; Philadelphia; Pop, F.J. 1978. De Eerste Brief van Paulus aan de Corinthiers. De Prediking van het Nieuwe Testament. Nijkerk.