Ander tekste: Eseg 37:1-14, Ps 130, Joh 11:1-45
Vir 8:1-11 kan Woord
teen die Lig I/5, p135 geraadpleeg word. Die volgende perspektiewe het 'n rol
gespeel in die preekskets:
·
Die opvallende in die teks is
die teenstellings: sondige natuur/Gees; dood/lewe. As Adamskinders is ons sondige natuur (anders as wat sommige
entoesiaste graag wil glo) nog springlewendig.
Hier, soos in Galasiërs 5, praat Paulus oor die sondige natuur as 'n
werklikheid ook in die lewe van die gelowige.
Daarom is dit ook van die gelowige waar dat die liggaam bestem is vir
die dood (vers 10). Uit die hele
hoofstuk is dit duidelik dat die gelowige op geen manier "uitgelig"
word uit die harde werklikheid van die menslike bestaan nie, asof sonde, lyding
en dood aan ons geen vat meer het nie.
·
Ek meen dat hierdie
perspektief beklemtoon moet word, omdat daar dikwels so 'n gebrek aan gesonde
gereformeerde nugterheid is by ons! En
dit veral wanneer ons siening van die werk van die Gees deur die tydgees op
sleeptou geneem word en ons in triomfalistiese vaarwaters beland. Dit wat W D Jonker (1997) skryf oor
"Ons posisie in Christus en ons aardse realiteite" kan hier as
belangrike gesigspunt dien.
·
Daarom is dit ook belangrik
om, in aansluiting by die vorige Sondae, daarop te let dat dit wat die Gees
doen, gedoen word "op grond van God se vryspraak". Ek lees (met ontsteltenis!) dat iemand soos
Dodd regverdigmaking sien as 'n soort "eerste stasie" van die
Christelike lewe, of 'n soort toetrede, waarna daar nog 'n hele ent
"gevorder" word... Ek dink die soort opvatting is nogal wyd: dat 'n
mens by die regverdiging deur die genade alleen begin, maar dan deur die werk
van die Gees vorder tot op die punt dat jy al heel oulik op jou eie voetjies
staan. Ek glo dat Rom 8 eerder wil sê
dat ons al dieper ingelei word in die wonder van vryspraak; dat alle ware lewe
(anders as godsdienstige opwinding) voortvloei uit die vryspraak. Hoe verder 'n mens vorder, hoe meer verstaan
'n mens dat jy net op God kan vertrou.
·
Maar dan groei daar ook
werklik lewe uit die vryspraak.
Vryspraak is nie maar 'n soort intellektuele kategorie waarmee ek myself
troos as my sonde my die slag pla nie.
Dit is werklik 'n nuwe posisie waarin God my plaas - en in daardie
posisie is sekere dinge waar van my!
Die Gees is besig met my (vers 6); die Gees woon in my en regeer oor my
(vers 9); die Gees gee nou al vir my die lewe al is ek besig om te sterwe (vers
10); die Gees sal ook my laat opstaan (vers 11).
·
Ons moet dus oppas vir 'n
moedelose gaan-lê-houding voor die realiteite van sonde en dood. Hoewel ons nugter die dinge in die oë moet
kyk en ons nie moet bluf dat dit geen invloed meer op ons lewens het nie, word
ons lewens tog nie daardeur bepaal nie.
Ons lewe word bepaal deur dit wat die Gees in my doen. Dat dit die Gees is wat dit doen, sê maar
net weer dat ek ook in dit wat in my lewe tot stand gebring word, nooit kan
roem asof dit myne is nie. Dit bly maar
'n wonder van God se genade - maar dan is dit tog ook 'n werklikheid.
·
Net: dit is
geloofswerklikheid. Net geloof kan sê
dat hierdie liggaam wat vir die dood bestem is, weer sal lewe soos Christus
lewe. Net geloof bely dat die
veranderinge in my lewe nie morele selfverbetering is nie, maar inderdaad die
werk van die Gees. Net in die geloof
kan ek hardnekkig teenoor die invloed van sonde en dood volhou dat ek nie deur
my sondige natuur beheers word nie, maar deur die Gees.
·
Ongelukkig het "geloofswerklikheid"
by ons so iets van 'n onwerklike klank - as jy sê iets is net 'n
geloofswerklikheid, dan sê jy daarmee dis nie harde feite nie. Wat maar net weer sê dat geloof by ons 'n
baie vlak woord geword het. Die
prediker sal dus besondere moeite moet doen om duidelik te maak dat
geloofswerklikheid gaan om die dinge wat ons wel nie kan sien nie, maar tog van
oortuig is; dit is die dinge wat vir ons gedrag en toekomsvisie meer bepalend
is as dit wat ons met die blote oog kan sien.
Daarom is dit in my eie stryd teen die sonde so dat ek gedra word deur
dit wat ek oor die Gees glo en nié deur dit wat ek raaksien van oorwinnings en
nederlae in my lewe nie.
·
Die perikoop is myns insiens
te eng afgebaken; ek sou ten minste 1-17 wou hanteer. Eintlik dwing die gedeelte jou om wyer te werk; om terug te gryp
na hoofstuk 7 en te antisipeer op die gedeelte oor lyding en heerlikheid in 18
ev.
Soms as 'n mens van vakansie af terugkom, ruik jou huis benoud en
muwwerig. Dan is dit die lekkerste ding
om die vensters oop te gooi sodat vars lug deur die huis kan waai. Dit voel mos na nuwe lewe! Dis die prentjie van die Heilige Gees wat ek
wil oordra: Die Gees wat soos 'n vars wind deur ons lewens waai en vir ons nuwe
lewe en nuwe hoop bring. Die Gees doen dit
omdat Hy GOD se Gees is; God self wat op 'n onsigbare en onverstaanbare manier
by ons is en in ons werk.
In Rom 8 stel Paulus die lewe wat die Gees bring, teenoor die dood
wat ons in hierdie wêreld ervaar. In
die res van die Romeinebrief praat hy op verskillende maniere oor die
"dood". Ek wil drie beelde
gee van die dood. Die eerste is die
beeld van die graf: die simbool dat alles in ons wêreld, al ons planne en
prestasies, op niks uitloop nie. Paulus
sê in Rom 8:20-21 dat die skepping onderworpe is aan verydeling en
verslaaf is aan verganklikheid.
Die boek Prediker praat dieselfde taal: "Alles kom tot niks... dit
is 'n gejaag na wind." Of dink aan
Job se droewige lied: "Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en
vol onrus. Hy is soos 'n blom wat
oopgaan en dan verlep, soos 'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan
nie."
My tweede beeld van die dood haal ek uit die nuusblaaie. Dink aan 'n middestad-situasie, waar mense
op straat doodgemaak word vir 'n paar rand, waar iemand doodgeskiet word om sy
kar in die hande te kry. 'n Samelewing wat gebou is op die kreet: "Elkeen
vir homself en na die duiwel met die res!" So 'n prentjie maak ons bang, want dit teken vir ons 'n
samelewing wat regeer word deur die dood.
Só, sê Paulus in Rom 1, lyk ons wêreld ook: "Hulle is een en al
ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid... hulle haat God."
My derde beeld van die "dood" is dié van 'n verslaafde. Hy wil sonder die drank, of die dwelms, maar
hy is magteloos. Hy weet hy vernietig
sy lewe, en tog kan hy nie ophou nie.
Hy verag homself, maar hy kan nie verander nie. Dit is 'n beeld van die mens in die mag van
die sonde, soos Paulus dit teken in Rom 7: "Die goeie wat ek wil doen,
doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek." Paulus noem die mens 'n gevangene mag van
sonde. Dit laat hom uitroep: "Ek,
ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan
verlos?" Dit ken ons: die totale
moedeloosheid oor jou eie swakheid wat jou keer op keer pootjie. Ook dit is die dood.
Ons wêreld is 'n wêreld van die dood: in sigself 'n muwwe wêreld, 'n
wêreld sonder oop vensters, sonder die vars lug van hoop. Die evangelie wat Paulus bring, sê: In
hierdie wêreld het God 'n venster oopgemaak, deur hierdie wêreld waai die vars
bries van die Gees van God. Ons lewe in
'n wêreld van dood, maar die Gees bring lewe.
Die Gees waai deur ons bedompige, selfgesentreerde, hulpelose, moedelose
bestaan - en leer ons om te lewe saam met God.
Só sê Rom 8:2: "Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die
lewe gee, het jou vrygemaak..." Vers 6 onderstreep dit: "Die dinge waarmee die Gees Hom
besig hou, bring lewe..."
Vers 10 herhaal dat die Gees vir ons die lewe gee. Die vraag is
nou: HOE bring die Gees vir my die lewe?
Beteken dit dat ek die een of ander spesiale ervaring moet hê? Of moet ek kan sê: "Kyk net hoe het ek
verander - ek MOET dus die Gees hê!"?
Vir Paulus gaan die werk van die Gees nie in die eerste plek saam met
spesifieke ervarings nie, en ook nie met die gelowige se lewensverandering
nie. Vir hom is die belangrikste die
band wat die Gees lê tussen die mens en Christus. Dit blyk duidelik uit Rom 8, seker die enkele hoofstuk in die
Bybel waarin die Heilige Gees die meeste genoem word. Die hoofstuk begin met die woorde: "Daar is dus nou geen
veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie." Paulus begin by Christus wanneer hy oor
die Gees wil praat. Hy lê die
nouste verband tussen Christus en die Gees.
In vers 9 praat hy van "die Gees van Christus." In vers 10 sê Paulus dat Christus in
ons is; en in vers 11 weer dat die Gees in ons is.
Wat beteken hierdie noue verband tussen Christus en die Heilige Gees vir
ons? Ons kan kyk na wat Paulus in
Romeine 8:3 oor Christus sê: "God het met die sonde afgereken deur
sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die
sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel." Die MENSWORDING van Jesus is die venster wat
God oopgemaak het in ons bedompige wêreld.
Jesus was 'n mens soos ons, blootgestel aan ons versoekinge en ons
probleme, met dieselfde swakhede wat ons ken - maar Hy het nooit toegegee aan
die druk van die wêreld nie; Hy het nooit gesondig nie. Tog is Hy is veroordeel sodat ons nie
veroordeel sal word nie.
Die Heilige Gees leer ons om hierin te glo. Daarom sê Rom 8:2 dat die Gees vir ons IN CHRISTUS die lewe
gee. Hierdie geloof het twee
kante. Die een kant is dat my lewe as doodsbestaan
deur die Heilige Gees vir my openbaar word.
Ek kan saam met Paulus uitroep: "Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan
verlos?" Dit is op hierdie punt
van wanhoop aan myself dat die Heilige Gees vir my die evangelie van Christus
laat verstaan. Geloof is om al my
menslike pogings om myself te red, te laat los, en my vertroue te plaas op dit wat
God in Jesus Christus vir my gedoen het: "Wie sal my verlos?" vra
Paulus, en antwoord dan: "Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here."
Wat die Gees doen, is om ons die evangelie regtig met ons hart te laat
verstaan, sodat ek kan begryp: Dit gaan ook om my. As die Bybel van sonde praat, praat dit ook van MY sonde. As daar gepraat word van die dood, dan gaan
dit ook oor MY; EK ervaar ook die dood in my eie bestaan. Dit is al 'n geweldige werk van die
Gees. Ons wil so graag dink ons is
darem nie so sleg nie. Ons verdedig
onsself teen die kritiek wat die Bybel op ons lewer. Ons verdedig onsself letterlik tot die dood toe. Dit is net die Gees wat jou sagmaak tot jy
besef: "Maar dit is ek, ek self, wat so sondig is, wat so magteloos is om
goed te doen! Dit is ek self wat
verslaaf is aan die sonde! Dit is my
drome en my dade wat in die graf gaan eindig!"
Dit is reeds 'n vars wind wat deur my bedompige lewe waai. Ek kry die moed om eerlik te wees oor
myself. Ek hoef nie meer voor te gee
dat ek eintlik darem heel goed is nie.
Ek kan eerlik voor God uitroep: "Ek, ellendige mens!" Maar dit is nie al nie; Goddank; dit is nie
al nie. Die Gees vertel my ook van die
kruis van Jesus en oortuig my: "Dit is vir jou." Die Gees sê dat die straf op my sonde klaar
gedra is. Die Gees verseker my dat daar
ook vir my geen veroordeling is nie.
Die Gees maak my 'n kind van God.
Hy doen dit deur my te leer glo, deur my te leer om tot God te roep:
"Abba! Vader!" Dit is die wonderlikste wat die Gees my
leer.
Nou sal 'n mens dink: Dit is die makliker werk van die Gees, om die goeie
nuus aan ons oor te dra. Maar dit is
nie waar nie. Daar is iets in ons
sondige harte wat sukkel om die goeie nuus heeltemal te glo. Soms leer mense om te verstaan dat hulle
sondaars is; hulle leer hulle eie magteloosheid ken - maar dan raak hulle
wanhopig. Hulle kan net nie die goeie
nuus glo dat Jesus klaar alles gedoen het om hulle kinders van God te maak nie. Hulle kan net nie sover kom as om te God
werklik uit hulle harte as hulle liefdevolle Vader te sien nie. Hulle bly bang vir God. Dit is die Gees se grootste wonder in die
mens; dat Hy jou vrees vir God afbreek en jou leer om God as jou Vader te
vertrou.
Die evangelie is nuus wat net te goed is om te glo. Baie Christene dink só: Hulle kan maar net
die heeltemal glo dat die evangelie waar is nie. Hulle leef nog asof hulle onder veroordeling staan, asof God nie
hulle Vader is nie. Hulle is nog vol
vrees. Daarom is dit die groot teken
van die werk van die Gees: as 'n doodgewone sondaarmens kan uitroep: "Ek,
ellendige mens! Wie sal my van hierdie
doodsbestaan verlos? Aan God die
dank! Hy doen dit deur Jesus Christus
ons Here."
Dit is die twee kante van die geloof.
Daarom maak geloof ons "dubbelmense". Aan die een kant weet jy: In myself is ek 'n
magtelose sondaar. Aan die ander kant
glo jy: In Christus is ek 'n kind van God.
In myself verdien ek God se straf.
In Christus noem ek God my Vader.
Dit bring spanning in my lewe: die spanning tussen die sondaar wat ek in
myself is, en die kind van God wat ek in Christus is. Daardie spanning hou aan tot by die wederkoms van Christus.
Christene wil die spanning dikwels na een van
twee kante oplos. Soms wil ek omdraai
na my ou, sondige menswees en sê: "Ag, ek is nou maar 'n sondaar, wat help
dit ek probeer myself bluf dat ek Christen is?" Dan moet die Gees my weer oortuig dat ek in Christus tog kind van
God IS. Maar soms raak ek daaroor so
opgewonde dat ek wil sê: "Kyk vir my!
Ek is kind van God, en dus nie so sleg nie. Ek is eintlik nie so 'n vreeslike sondaar nie. Ek is nogal heel goed." Dan moet die Gees my herinner daaraan dat ek
in myself nog maar sondaar is.
Sien u: as die Gees Homself vir 'n oomblik van ons sou terugtrek, sou ons
geloof in duie stort! Sonder die Gees
kan ons nie eers bely dat ons aan Christus behoort nie; sonder die Gees kan ons
nie vir God "Vader" noem nie.
Sonder die Gees is daar geen kerk nie.
Daarom dank ons God - want sy Gees IS vir ons gegee.