Ander
tekste: Johannes
21:1-19; Openbaring 5:11-14; Psalm 30
Die
perikoop kan verdeel word in ‘n inleiding oor Paulus – die vervolger van die
kerk (1 – 3) die Damaskus-gebeure wat Paulus blind laat (3 – 9) die roep en
opdrag aan Ananias (10 – 16) die gebeure toe Ananias en Paulus bymekaar kom,
met die klimaks in die woorde – broer, sien, vervul, opgestaan, gedoop, geëet
en kragte herstel (17 – 20). Die eintlike verhaal word al in 8:1 – 3
ingelei, met die tekening van Paulus wat die kerk wou uitroei. Dit spruit weer
uit die verhaal van Stefanus se steniging – wat Paulus (toe nog Saulus) passief
bywoon.
Let op die
lewendige styl van dié vertelling: Agtergrond inligting word afgewissel met
dialoog in die direkte rede. Dit verhoog die dramatiese van die vertelling. Dié
styl lig ook die inisiatief en die aksie van die Here uit. Daar is deurentyd
mense op die agtergrond, met Paulus en Ananias prominent, maar – let op ! – Paulus en Ananias is
inisiatiefloos. Dit wys op die Here wat leef en werk.
Die plasing
van hierdie perikoop binne die groter konteks van Handelinge is nie so
eenduidig nie. Na die gebeure in Jerusalem (waar Paulus kortliks vermeld word
met die steniging van Stefanus), en die verspreiding na Judea en Samaria, volg
Filippus en die Ethiopiër (Uithoeke van die aarde!?) … en dan kom Paulus op die
toneel … net om weer te verdwyn tot sy sending in hoofstuk 11:25, 26 in alle
erns begin. Tussen sy bekering en sy heiden-sending voeg Lukas die hele verhaal
in van Petrus (die Jode-sendeling) en Kornelius se bekering. Waarom dié
onderbreking? Is die verhaal van Paulus se bekering ‘n terloopse skakel, is dit
‘n hoogtepunt van ‘n verhaal wat vroeër begin het of is dit bedoel as inleiding
tot die heidensending wat kom?
Normaalweg
word die verhaal gesien as ‘n voorbereidingsverhaal tot die heidensending. ‘n
Ander moontlikheid is dat die verhaal saam gegroepeer word met ander
bekeringsverhale – naamlik die Samaritane, (8:14 – 17) die Ethiopiër wat in
Jerusalem kom aanbid het (8:26ev), Paulus, die vervolger van die kerk (9:1 –
20) en dan Kornelius die eerste heiden-bekering (10). So gelees, beteken dit
dat Lukas wil hê dat dié verhaal as ‘n bekeringsverhaal verstaan moet word. Die
besondere aksent van hierdie bekering – anders as die Samaritane en Kornelius –
is geleë in die feit dat dit die kerk se vyand is wat tot bekering kom!
Die verhaal
is sekerlik die bekendste bekeringsverhaal … en het in baie gevalle die
onbetwiste evangeliese model geword van alle ‘getuienisse’ oor hoe iemand waarlik tot bekering kom. Soms word
almal wat minder dramaties of op ‘n ander patroon ‘n Christen geword het se
egtheid gewantrou. Dit is ‘n bedenklike standpunt, wat maak dat verskeie kerke,
predikers en teoloë van ‘bekering’ wegbly – omdat die woord bekering assosiasies skep met die
uitwasse wat soms met groot skouspel op ‘n TV of kaset-bandjie aangebied word.
Gaventa het
‘n uitvoerige en insiggewende studie gedoen oor bekerings – as sosiologiese
verskynsel – en die verskillende bekeringsverhale van Handelinge. (vergelyk die
bespreking in WtL 1/9 , 92 ev, 114).
Een van haar gevolgtrekkings is dat daar ‘n groot verskeidenheid van
bekerings is en dat nie een verhaal as ‘n model aangebied word nie. Bekering is
in Handelinge ook nooit ‘n doel nie – dit is ‘n onderdeel van ‘n groter doel!
Sy onderskei uiteindelik drie soorte bekerings: Bekering as ‘n
verstelling (vernuwing of
aanpassing) en as ‘n pendulum omkeer (1800 verandering ten opsigte van bepaalde gedrag)
en as ‘n transformasie (‘n prosesmatige paradigmaskuif vanuit
die wortels tot in alle konsekwensies). ‘n Prediker moet mooi dink oor wat hy
of sy in gedagte het met ‘bekering’ en wat is die hoorders se begrip van
‘bekering’.
Hierdie is
een van drie plekke in die Bybel waar Paulus se bekering ter sprake kom (ook
Hand 22 en Hand 26 waar dit deel is van sy verdediging). Waarom drie maal? Dit
sou opsigself die belangrikheid van die gebeure onderstreep. Sommige spekuleer
dat Lukas drie tradisies oor Paulus se bekering gehad het. Ander weer reken dat
Handelinge 9 die kernverhaal is en dat die ander twee konstruksies is van Lukas
se teologie. Hoe dit ookal verstaan word, die oorvertel van die verhaal van
Paulus se bekering was vir die vroeë kerk belangrik.
In die lig
van moderne bekeringsverhale vertel Lukas eintlik ‘n teleurstellende verhaal.
Daar word niks gesê van ‘n innerlike stryd, die ‘donker nag van die siel’ of
enige ander diep geestelike wroeging by Paulus nie. Lukas noem net dat hy vyand
nommer een was van die kerk. In teenstelling tot Kornelius en die Ethiopiër het
ons hier nie te doen met ‘n belangstellende, ontvanklike mens nie – maar met ‘n
moordenaar, ‘n gewelddadige, ‘n fanatiese vyand! Wat opval is die objektiwiteit
van die verhaal – wat beklemtoon dat die Here die werk doen! Die verhaal toon
ooreenkomste met wonderwerk-stories.
Let op die
volgende aspekte in hierdie bekeringsverhaal:
Die Here
roep Paulus met die dubbel-naam … net soos met Abraham, Jakob en Moses.
Bekeringsverhale is juis roepingsverhale. ‘n Roeping veroorsaak gewoonlik ‘n
bekering … ‘n koersaanpassing.
Naas die
roeping volg ‘n opdrag … wat beteken dat meer as net die roeping tot dissipel
ter sprake is. Dit gaan om gestuur word … om apostelskap. Omdat Paulus volgens
Handelinge 1: 21, 22 nie ‘n ‘apostel’ kan wees nie (Is dit hoekom hy
voortdurend regverdiging en verdediging bied vir sy apostelskap?) is hierdie
aspek van die verhaal ook belangrik.
Bekering is
nie kits en individualisties nie – sonder die gemeente en Ananias sou Paulus
nie weer kon sien en opstaan nie. Die rol van ‘n gemeente wat ondersteun,
oplei, begelei, toerus en wat uitdagings en geleenthede bied, word te dikwels
onderskat in gevalle van bekering en/of evangelisasie. Die bekering van ‘n
individu is ook (ja, juis) ‘n gemeentelike saak!
Tog het
bekering ook ‘n toespitsing op ‘n spesifieke persoon op ‘n spesifieke tyd – let
byvoorbeeld op die feit dat sy medereisigers onaangeraak, sonder insig of enige
ervaring en reaksie bly. Tussen al die mense kom druk die Here sy vinger op
jou!
Die
godsdiens-sosioloog H Mol onderskei verskillende fases in sy algemene
beskrywing van ‘n bekeringsproses – wat in dié gedeelte mooi teruggevind word,
naamlik
(1) ‘n Losmaak van vroeëre patrone van identiteit = Paulus as vervolger,
(2) die belewing van betekenisloosheid, sinloosheid en anomalie = Paulus se vrae en die dae van
blindheid,
(3) ‘n beweging van donker na lig = “sien,
opstaan” (4) ‘n opname in ‘n nuwe geloofsgemeenskap = “broer”
Paulus is
vir ‘n tyd hulpeloos … soos ‘n kindjie
… want dit is natuurlik die enigste manier waarop ‘n mens die koninkryk kan
be-erwe. Dit vorm ‘n kontras met die
voorafgaande verhaal van Simon die Towenaar (8:9 – 24) wat mag, grootsheid en
erkenning begeer het … en nie in die koninkryk kon ingaan nie.
Bekering
word met die sakrament(e) afgerond – ‘n doop (inlywing) en miskien ‘n nagmaal
(9:19 geëet)
‘n Ewe
legitieme kant van hierdie perikoop – wat baie nuttig in die prediking kan wees
– is die ontleding van Ananias se gestuurdheid. Dit is ook ‘n klassieke
roepingsverhaal, dit vra ook ‘n soort bekering – teen sy vrese, eie
onwilligheid, die mense se opinie en ‘common sense’ in. Dit is die soort
bekering wat lidmate dikwels nodig het!
Ananias antwoord ook met die
klassieke ‘Hier is ek’ en die
doodgewoon gehoorsame … ‘en hy het toe gegaan’. Na hierdie klein rolletjie in ‘n groot drama met groot name hoor ons nooit
weer van Ananias nie. In bogenoemde opsigte is en bly hy vir gelowiges (en die
kerk) ‘n rol-model. Hoeveel maal was ‘n onbekende moeder, onderwyser of vriend
nie instrumenteel in die vorming van mense wat later invloedryk was! Daarom …
doen jou deeltjie in geloof en gehoorsaamheid soos Ananias.
‘n Preek
tydens die PAASKRING, moet aantoon
hoekom die opstanding en bekering aan mekaar gekoppel word. Bekering is nuwe
lewe. Paulus se bekeringsverhaal vertel hoe die draai plaasgevind het en Wie
daarvoor verantwoordelik was. Vers 18 en 19 het sterk Paasondertone in die
uitdrukkings: Skille wat afval,
sien, opstaan, kragte herwin
Wanneer
laas was jy deel van ‘n groep mense wat vertel hoe lewendig hulle kerk is?
Wanneer laas het jy gehoor dat iemand sulke ‘lewendige’ stories van ons
gemeente vertel? Wat sê nuwe intrekkers oor hul eerste indrukke van ons
gemeente? Wat vertel die ou lidmate vir nuwe lidmate wanneer hulle by ons
ontvang word? Watter stories vertel ons die graagste vir besoekers … of bly ons
maar eerder stil? As ons antwoorde op hierdie vrae moet gee sal ons dalk ‘n
lekker skindersessie begin. Die maklikste stories om te vertel is seker om die
eienaardighede van die leraar(s) en wat ek dink van hul prediking en huisbesoek
uit te saai. Tweede op die lys is stories oor kerkraad en mense wat voorsit in
die kerk, maar ook kan voor-vloek by die werk.
Met ‘n ernstiger probeerslag sal ons darem kan vertel van wors-maak vir
‘n basaar, ‘n lekker kermis, ‘n geslaagde fondsinsameling, ‘n nuwe
gemeentestruktuur, ‘n huweliksverykingsseminaar wat aangebied word, ‘n
manne-en-hul-seuns kamp en (as ons die jaar gelukkig is) ‘n mooi Pinksterreeks.
Iewers in die gemeente is daar ‘n paar bidders, EE3 werkers en sendingvriende …
maar ons is nie so heeltemal seker wat hulle doen nie. O ja, en in die
briewekolomme van die publieke pers word gestry oor die kerk, gays en Jona-in-die vis.
As ons
Handelinge mooi bekyk is die boek ‘n saambring van ‘n reeks stories oor die
kerk. Dit is die stories wat destyds graag vertel is. Die stories is natuurlik
Paas en Pinkster stories – want dit gaan deurentyd oor Jesus wat opgestaan het
en in die gemeente leef deur sy Gees. Die stories word so vertel dat ons almal
kan sien en weet dat die Here leef! Baie opvallend in die reeks verhale is die
bekeringstories … die bekering van 3000 mense uit ‘n kritiese skare, die
histories vervreemde Samaritane, die wêreldreisiger uit Afrika, die
kultuur-vreemde Kornelius … en (in ons teksgedeelte) die kerk-vyandige Saulus.
Die kerk
leef van sulke bekeringstories, Die Here leef in bekeringstories. ‘n Gemeente
wat nie meer bekeringstories het om te vertel nie, moet onrustig slaap. Sonder
bekerings beteken dit dat die kerk so aangepas het by die wêreld dat geen
verandering meer nodig is nie. Sonder bekeringsstories gee ons die indruk dat
dit glad nie meer belangrik is dat mense deur God geroep word nie. Kan daar
hoegenaamd ‘n gemeente wees en sal daar ‘n kerk wees wat die toekoms oorleef as
daar nie ‘n sensitiwiteit is vir mense wat ‘n behoefte het aan bekering – maar
die mense self (en die lidmate) weet nie hoe nie?
Ons sal ‘n
fout maak as ons dink alle bekerings lyk soos Paulus s’n. Bekering beteken nie
noodwendig …. (Die prediker kan besluit watter wanvoorstellings van bekering
uitgelig word). Bekeringstories … volgens hierdie gedeelte en in die res van
Handelinge … is :
SIEN-stories.
Paulus sien
‘n lig – met ‘n stem wat dit interpreteer. Sy medereisigers ‘sien’ nie.
Na duister
‘sien’ hy en ‘die skille val van sy oë af’ – met die hulp van Ananias.
Stories oor
hoe mense ‘tot die lig kom’ (die prediker kan self aan realistiese voorbeelde
uit sy/haar gemeente dink) is die stories waarvan gemeentes leef. Dit is die
stories wat vertel dat Jesus leef!
Paulus se
bekeringstorie word nie vertel omdat ‘n bekeringsverhaal so bekoorlik,
aangrypend, sensasioneel of wonderlik is nie. Bekeringstories word vertel omdat
dit roepingsverhale is. Iemand sien … iemand draai om … omdat die Here vir die
persoon ‘n taak en opdrag het. Paulus kom tot bekering omdat die Here hom
gekies en geroep het om die heiden-apostel te wees.
Ons as
gemeentelede moet die verhale vertel oor hoe ons bewus geraak het van take wat
die Here aan ons toevertrou. Soms mag hierdie take ‘n radikale nuwe opsie wees,
soms sal dit net ‘n aanpassing wees binne ons bestaande take en soms mag dit
verhale wees waarin ons opnuut bewus geraak het van dieselfde taak waartoe ons
lank gelede al geroep is. (Dink aan Paulus wat later in sy lewe weer hierdie
bekeringsverhaal vertel!). Die prediker kan hier ook aan voorbeelde dink …
hetsy evangelisasie, kategese, sending, ouerskap, take in die publieke sektor …
selfs ten opsigte van ons loopbane.
Die
klassieke bekeringsverhaal van Paulus is nie die verhaal van ‘n besondere
individu wat uitstyg bo die gemiddelde weens die besondere karaktertrekke en
wilskrag van die persoon nie. Paulus kan nie tot bekering kom sonder die
gemeente – in dié geval verteenwoordig deur Ananias – se hulp en ondersteuning
nie. Inteendeel die bekering van Paulus veroorsaak ook ‘n eiesoortige
‘bekering’ by Ananias (lees: die gemeente). Bekeringsverhale word
gemeente-stories omdat die gemeenskap van die gelowiges betrek word by ‘n
bekering. Die gemeente help die bekeerling om te verstaan wat gebeur. Dit is
ook reg dat ‘n bekeerling sy/haar roeping toets en help beoordeel deur medegelowiges
te raadpleeg!
Daar is min
dinge so wonderlik as om lidmate te hoor praat oor hoe daar lewe in hulle
gemeente is … hoe mense wat in die duister was tot die lig kom … hoe mense hul
lewe aanpas en beleef in terme van ‘n roeping van God en hoe gevestigde lidmate
self ‘n soort bekering beleef om in te val met God se lewendmakende Gees.
Daar is egter min dinge so irriterend as mense stories dramatiseer en met ‘n stuk voorspelbaarheid vertel – omdat hulle voel hulle moet dit doen. Of as mense hierdie wonderlike verhale vertel terwyl die hoorder ‘n gevoel kry dat dit aangedik word. Dit is nie nodig nie. Wat nodig is, is dat ons oë sal oopgaan vir die lewe en werk van God in ons tyd en in ons mense se lewens. Waar God lewend maak, rigting gee, roep, stuur en ondersteun deur ‘n broer en suster. En as ons sien moet ons met vrymoedigheid vertel.