Handelinge 4:5-12 (Fanie Herholdt)

14 Mei 2000

Vierdie Sondag in Paastyd

 

Ander tekste:            Psalm 23; Johannes 10:11-18; 1 Johannes 3:16-24

 

Jesus as Herder (Joh 10, Ps 23) maak ongeleerde, eenvoudige mense oortuigde, kragtige getuies en deurbreek die magsbasis van geleerde maar kragtelose godsdienstiges (Hand 4).

Teks en konteks

Vergewis jouself weer van die breë hermeneutiese lyne van Handelinge. Die preek perikoop vorm ‘n onderdeel van die gedeelte wat handel oor “getuies wees in Jerusalem” (as Hand 1:8 gebruik word as aanduiding van die struktuur van die boek).


Hoofstuk 3 – 7  beskrywe al die moeilikheid wat die gemeente van buite en van binne … Annanias en Saffira / die verwaarlosing van die Griekssprekende weduwees … gekry het en wat eindig in die steniging van Stefanus en die daaropvolgende vervolging wat gelowiges verstrooi na “Judea en Samaria”.      
Hoofstuk 3 – 4 beskryf al die moeilikheid wat ontstaan het oor die genesingswonder by die tempel. Tipies van Lukas se “Episodenstil” in Handelinge gebruik hy een insident om ‘n saak (of ‘n hele paar sake) aan die orde te stel.

Met die genesing van ‘n verlamde (3:1-11) word ‘n paar herhalende motiewe van Handelinge oopgesluit, byvoorbeeld:  (1) die tempel en die uur van gebed; (2) nie die materiële nie maar die Naam van Jesus  en  (3) vreugde oor die nuwe lewe.  

Op hierdie insident volg ook ‘n herhalende patroon (ook by Jesus se wonders), naamlik:
(1) aanvanklike verwondering by die skare, (2) die kritiese reaksie van die (geestelike) leiers, (3) waarop die apostels met vrymoedigheid getuig …  (4) wat lei tot aggressiewe reaksie van die establishment.

Die breër agtergrond van hierdie gedeelte is deurweef met interessante polariteite, kontraste en paradokse. Die wyse waarop vervolging, dreigemente en die swakheid/weerloosheid van die Christene lei tot kwalitatiewe en kwantitatiewe groei herinner aan Jesus – die Gekruisigde wat opgestaan het en oorwin. Onthou ook die ou gesegde dat die “bloed van die martelare die saad van die kerk is”. ‘n Ander insiggewende wisselwerking is die wyse waarop Lukas die fokus laat spring van die gemeentelike lewe na binne en die gemeente se getuienis na buite. Dit bring mee dat ons nie oor die kerk in kliniese statiese terme en kategorieë kan dink nie. Die kerk is binne die lewendige węreld … besig om sy identiteit as dissipels (volgelinge) en apostels (gestuurdes) van die Here te soek, te vind en uit te leef in getuienis teenoor mense/instellings daarbuite en ook mense en hul motiewe daarbinne. Die kerk se bestaan as sending en die kerk se sending is (ewe) belangrik.

Die spesifieke perikoop (4:5-12) is ‘n kort “toesprakie” van Petrus (met Johannes as stille vennoot) nadat die mense met mag, gesag, geleerdheid en invloed hulle eers ‘n nag in die tronk toegesluit het en die volgende môre ondervra. Die eerste vraag wat sulke mense vra is uiteraard “deur watter krag en in wie se gesag / naam doen julle dit”. Die toesprakie word ‘n geweldige getuienis vir “die Naam van Jesus”.

Die vraag is: Wat is die saak wat deur hierdie episode, verhaal en toespraak aan die orde gestel word? ‘n Preek kan oor elkeen van onderstaande sake gemaak word!

Een moontlikheid is die krag van die Naam van Jesus. Wat beteken dit? In die episode word onderstreep dat dit nie die apostels, die verlamde man of die geestelike leiers is wat die hoofspeler met die ware gesag is nie, maar Jesus. “Die naam van Jesus” word ‘n formule vir ander wonderwerke (4:30) die wyse waarop sondes vergewe word (10:43) en hoe mense gedoop word (8:16,10:48, 19:5). Dié Naam verleen gesag (4:17-18, 5:28,40) en mense is bereid om te sterf in sy Naam (9:16, 15:26).  Opsommend is die “Naam van Jesus”

(1)  die teenwoordigheid van God (in dié geval meer so as die tempel!)  

(2)  die ontsluiting van bevrydingskrag (meer so as al die mag en vroomheid van mense) ‘n soort identiteitsaanduiding van die apostels/Christelike gemeenskap (vgl die mense se siening van die apostels) 

 

Aansluitend hierby sal die vraag oor die eksklusiwiteit van Jesus se Naam vir verlossing (bv in die tussen-godsdiens debatte en die missiologiese vraagstukke) ter sprake kom. Dit is histories (ten regte of ten onregte) die mees prominete wirkungsgeschichte van hierdie teks. Ek reken weinig predikers in ‘n Christelike gemeente het ‘n probleem met die uitspraak dat die naam van Jesus die enigste naam is waardeur verlossing kom. Wat wel ‘n probleem raak is die arrogante en soms aanstootlike manier waarop dit gehandhaaf en verkondig word in  ‘n milieu waarin verdraagsaamheid en dialoog nodig is. Kurt Marti het op ‘n mooi manier aangetoon dat hierdie teks ook in ‘n dialogiese situasie gehandhaaf kan word. Hy maak 4 punte :

(1)  Die heil is in Christus – nie in ons wat Christene is nie

(2)  Die heil is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie

As gevolg van bogenoemde 2 kan nie oor die heil gedink en gepraat word asof dit die geestelike

besit van een groep is nie. Die heil word werklikheid juis in dialoog, gesprek, getuie wees oor grense heen met liefde … wat meer is as die konfrontasie van twee monoloë waar ons net harder praat sonder om ook te luister.

So het Jesus dit gedoen, so is dit in Handelinge gedoen en so moet ons dit doen.

 

‘n Derde moontlikheid is die werklikheid van vervolging en teenstand en die gelowiges se vrymoedigheid - parrhesia (LW: ‘n sleutelwoord in Handelinge 4:13,29,31; 9:27; 13:46; 14:3; 18:26; 19:8; 26:26; 28:31). Waarin lę die kerk se teenstand vandag? Wat is werklike vrymoedigheid en het ons die vrymoedigheid om ten spyte van seerkry en gevaar hierdie sake aan te spreek? Of sal ons net radikaal, krities en moedig wees wanneer daar vir ons bietjie “profetiese eer” in is of wanneer ons eie belang (kort of lang termyn) en ons ondersteunersgroep se goedkeuring nie in gedrang kom nie. Is daar nie hedendaagse verhale van vrymoedigheid nie? Vertel dit.      

Aansluitend hierby kan die doel van hierdie perikoop juis wees om die konflik met die Jode in Jerusalem uit te lig … en dat hierdie konflik beskryf word as ‘n soort verduideliking (of regverdiging) waarom die Gees die Kerk gelei het oor die nasionale, kulturele, religieuse grense na nuwe horisonne (mn die heiden-sending olv Paulus).

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas/Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding. Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (38:30). Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel? In Handelinge 3 vind ons die antwoord. Hier vind die verskuiwing plaas! In Handelinge 1-8 se huis-tonele … vergader gelowiges, bid hulle eendragtig, breek brood, eet in eenvoud saam, ontvang die Gees,  beoefen mededeelsaamheid, word versterk en groei. By die tempel (sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) lę mense jare verlam, soek aalmoese, maak toesprake, beleef oproer en skaregeweld, word gearresteer, in tronke gestop, gedreig, ‘n swygverbod opgelę, geslaan en selfs moord gepleeg. Dié twee instellings dra elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag. Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life” terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël. By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee). Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (Hfst 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sę” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie. Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”. Die tempel word plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid. Die huishouding vervang die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God. Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?
Geneem Jesus se lewe, die lewenswaardes wat hy uitgeleef het (gestut deur sy verhale oor die koninkryk en sy dade van genesing, vergifnis, bevryding ens) is dit duidelik dat sy naam nie meer aan die tempel gekoppel kan word nie, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar hierdie waardes as ‘n etos neerslag gevind het. As ‘n mens dus vra na die gesag waarmee ‘n mens iets doen of sę, kry jou woorde gesag en geloofwaardigheid indien dit gesteun word deur ‘n sosiale gestalte waarin dié boodskap geleef word.

Ter wille van interessante vergelykings en voorbeelde vir die preek gee ons ‘n opsomming van Elliot se navorsing oor die teenstelling tussen tempel en huishouding in Lukaanse geskrifte.

 

TEMPEL

HUISHOUDING

RUIMTE:

·         Een tempel, ingedeel volgens grade van heiligheid

·         Sentrale plek, simbool van politieke mag

 

·         Vele huise, met grade van intiemheid

·         Verspreid, ver van sentrum van politieke mag

PERSONEEL:

·         Hoofpriester, priesters, Leviete, geldwisselaars, tempelwag, Sanhedrin, Fariseërs en Sadduseërs

 

·         Gesinne, naasbestaandes, huiseienaar, diensknegte, vriende, bure en gaste

EKONOMIES:

·         Tempelbelasting, skatkis, offers, tiendes

·         Akkumulasie van skuld

·         Onteieining, gierigheid, rowerspelonk

·         Bedelplek vir armes

·         Belange van gesagdraers primęr

 

·         Wedersyds vrygewigheid, gemeenskaplike besit

·         Vergifnis van skuld

·         Versorging volgens elkeen se behoefte

·         Genoeg vir almal

SOSIALE VERHOUDINGS

·         ‘n Gemeenskap ingerig volgens grade van heiligheid

·         ‘n Reinheidssisteem gereguleer deur wette en voorgeskrewe rituele

·         Eksklusief

·         Sfeer van onboetvaardigheid, konflik, sameswering en selfs moord … = dood

 

·         “Broers en susters”, “Kinders van een God” op grond van genade en geloof

·         ‘n Huishouding geleef in maaltye en gasvryheid

·         Inklusief en integrasie van vreemdelinge

·         Sfeer van aanvaarding, berou, harmonie en eensgesindheid … = lewe

SIMBOLIEK:

·         ‘n Pervertering van God se woonplek

·         Sosiale simbool van Joodse identiteit en reinheid

 

·         Woonplek van die Gees van God

·         Sosiale simbool van die koninkryk van God en van Christelike heiligheid

 

Preekvoorstel

Dit gebeur mos dikwels dat tieners met nuwe vriende by die huis aankom en tot ergernis van die jongmense wil die ouers nou juis alles weet van wie sy/haar ouers is, waar bly hulle en wat doen sy familie ens. ‘n Ander variasie is ouers wat beswaard is oor die kinders se vriendekring. Hoekom maak ouers so? Dit kan natuurlik ‘n vorm van snobisme of klassisme wees as ouers sulke taal praat. Maar as ons die ouers die voordeel van die twyfel wil gee … gaan dit om ‘n stuk gesonde verstand en wysheid. Iemand se voorkoms, mooi woorde en goeie (aanvanklike) indruk kan nie sommer maar so aanvaar word nie. Dit moet getoets word aan die sosiale groep waartoe ‘n mens behoort.

In ons teks lę die mense in beheer van die tempel ‘n soort toets aan ten opsigte van die apostels … wat ook maar eenvoudig en ongeleerd voorgekom het. In wie se gesag doen hulle wat hulle doen … In wie se naam praat hulle? Dit is natuurlik nie verniet dat die Bybel die vraag aan die apostels koppel aan die insident waar hulle ‘n verlamde man nie materiële aalmoese gee … en hom verlamd laat nie … maar opwek om in vreugde rond te spring. Simbolies gaan dit om die opstandingskrag, die vermoë om te bevry, nuwe lewe en betekenis te gee aan iemand wat “van geboorte af” verlam is. Die kerk is die gesagvolle draers van hierdie boodskap. Die vraag van die priesterhoofde en hulle kollegas word natuurlik vanuit ‘n ander soort gesagsposisie gevra. Inteendeel in hierdie vragie en antwoord is ‘n enorme konflik opgesluit … wat ons maklik kan mis as ons nie die groter prentjie sien nie. Dit gaan nie net om ‘n naam nie … dit gaan om die sosiale węreld wat met die naam geassosieer word.

Kom saam en dan wys ek vir julle watter lewensbelangrike botsing verskuil is in hierdie skynbaar billike vraag … en die skynbaar vanselfsprekende antwoord van die dissipels.

Lukas plaas hier twee groot sosiale stelsels van destyds teenoor mekaar. As ons Lukas Evangelie lees, begin en eindig die verhaal van Jesus by die tempel. Dit is totaal anders by Handelinge … die verhaal van die kerk (Lees en bied aan die gemeente die inligting by 5.5 hierbo, tesame met die inligting van die tabelle waarin die konflik van die tempel en die kerk – as huishouding – teenoor mekaar gestel word).

Ons het dus met hierdie vraag en antwoord die punt in die verhaal van die kerk bereik waaruit blyk dat Jesus se naam – en daarmee ook die hele Jesus-węreld en Jesus-waardes – nie meer aan die georganiseerde godsdiens van destyds gekoppel kan word nie. Dit is ‘n teenstelling tussen verlamd wees en bokspring van vreugde, of ook … dood teenoor lewe!

Hand 3-4 is natuurlik net interessante kerkgeskiedenis as ons kennis neem van hierdie gebeure. Dit word egter ‘n teologiese belangrike saak as ons later lees dat die Here aan dieselfde soort Christelike gemeente kan sę dat Hy ook hulle kan verlaat (Op 2:5) of as ons besef die Here staan buite die gemeente en klop om in te kom (Op 3:20)!

Dit word volledig ‘n bestaanskrisis vir die kerk as ons moet antwoord of ons gemeente se bestaanswyse, etos (waardestelsel) en saamleef-met-mekaar  nog ‘n ruimte vir Jesus se Naam is? Word ons taal nog gedra deur ‘n geloofwaardige soort gemeenskapslewe? Indien wel, sal ons ook met gesag nuwe lewe bring !  Indien nie? Nou ja wel.