Ander
tekste: Psalm 47,
Efesiërs 1:15-23, Lukas 24:44-53
Omdat daar
‘n reeks tekste uit Handelinge kom, moet die prediker hom/haar vergewis van die
inleidende opmerkings by die Teks en
Konteks van die voorafgaande preekstudies. Die voorgeskrewe perikoop en die
kerklike geleentheid – Hemelvaart – sluit goed by mekaar aan. Hier volg ‘n paar
opmerkings om die teks en konteks in verband te bring met Hemelvaart en sommige
teologiese motiewe waarmee die teks ontsluit kan word om ‘n preek daaruit te
vorm. Handelinge is ‘n opvolg van Lukas Evangelie. Die evangelie gaan oor wie Jesus is (sy identiteit), wat
bepalend is vir wie die kerk is (hulle
identiteit). Let daarop dat Lukas eindig met die hemelvaart en Handeling
daarvandaan vertrek. Die hemelvaart is vir die skrywer dus ‘n soort
skarnier-gebeure tussen die tydperk van Jesus op aarde en die “era van die
Gees/Kerk”. Hoofstuk 1 is ‘n goeie inleiding vir die hele Handelinge, omdat
feitlik al die latere ontwikkelinge alreeds in hierdie verse in die kiem
opgesluit is. Weens die geleentheid sal die aksent op die hemelvaart-gebeure
(vers 9-11) val, maar die konteks van die groter perikoop is ook belangrik. Dit
is byvoorbeeld ook van betekenis hoe die perikoop ingedeel word. Indien vers
1-11 as perikoop geneem word, word die hemelvaart geplaas binne die konteks van
die Heilige Gees en die sending/getuienistaak. Kommentare, anders as leesroosters, verkies om vers 1-14 as een perikoop te neem
omdat dit ‘n strukturele en teologiese eenheid vorm. As 1:1-14 as perikoop
geneem word, is die voordeel dat ‘n kerklike/gemeentelike dimensie by die
hemelvaart toegevoeg word. Dit is sinvol en in lyn met die breër aksente van
Handelinge. Uit 1:1-14 kan die betekenis van die hemelvaart (vs 9-11) dan
Christologies (1-3, 11), pneumatologies (4-5, 8), missiologies (8, 12),
eskatologies (6,7,11) en/of ekklesiologies (12-14) uitgespel word! Ek sou
voorstel dat vers 1-14 gelees word, omdat dit verseker dat van die begin af ‘n
balans geskep word tussen die uitbou en opbou van die kerk. Deurlopend vind ons
‘n sendingmotief en ‘n gemeentelike motief. Dit sou verkeerd wees om die kerk
volledig in die apostolaat te laat opgaan, net soos wat die onderlinge
verhouding in die gemeente ook nie ‘n doel opsigself kan wees nie. Die fokus
beweeg keer op keer tussen prentjies van die kerk se na-buite-lewe en die kerk
se binne-lewe … ook hier in die eerste hoofstuk van Handelinge.
Handelinge
is na alle waarskynlikheid vir die gemeente geskryf met die doel om die lidmate geestelik te stig, te motiveer en om
leiding te gee ten opsigte van die die
weg waarheen die Here en sy kerk op pad is vanuit ‘n begrip vir die weg waarvandaan Hy met hulle gekom het.
Hoewel dit as geskiedenis aangebied word, is die teologiese intensie van die
teks van meer belang as blote historiese vrae waarin ‘n mens verstrik kan raak.
Die hele debat oor die hemelvaart as historiese gebeure kan goedskiks verbygegaan
word … in elk geval vir die gehoor wat op ‘n Donderdag vir hul stigting ‘n
erediens of biduur kom bywoon.
Vir dié wat
in vormhistoriese studies geïnteresseerd is, het Lohfink ‘n studie gedoen oor
hemelvaartverhale in die apokriewe boeke (Esra, Barug en Moses), in
buite-bybelse bronne (Herakles, Alexander die Grote en Keiser Augustus) en in
Bybelse konteks (Henog, Elia, Jesus). Hy onderskei hemelreise (gewoonlik romanagtige sielevlugte as deel van die
verering van heldefigure) van ontrukkingsverhale.
Laasgenoemde verhale het twee funksies, naamlik (1) om waardering vir die
ontrukte leier uit te spreek en (2) om die betekenis van dié leier vir die wat
agter bly en ten opsigte van die toekoms te beklemtoon. Dit is met ander woorde
verhale wat bewus is van die hartseer van die geleentheid sowel as die
onsekerheid/uitdaging van die toekoms (Let byvoorbeeld op Elisa se reaksie op
Elia se hemelvaart in 2 Kon 2:12-18).
‘n Verdere
teologiese vraag waaroor die prediker vir hom/haarself duidelikheid moet kry is
die vraag na Hemelvaart as heilsgebeurtenis. Hemelvaart is nie werklik ‘n
heilshistoriese gebeure met dieselfde teologiese en heils-implikasies as die
geboorte, kruisiging, opstanding van Jesus en/of Pinkster nie. Die verwysing
daarna in Bybelse tekste (buiten hierdie enkele verse by Lukas) is min. Dit is
ook nie so seker dat die hemelvaart ‘n selfstandige karakter en betekenis het
nie. In die Twaalf Artikels word die hemelvaart betekenis-gewys (1) as ‘n
verlenging van die opstanding bely of (2) as ‘n oorgang gekoppel aan die
uitdrukking “sit aan die regterhand van die Vader”. In laasgenoemde geval kom
die hemelvaart dus tereg in die sfeer van
Jesus se koningskap (hemelvaart as ‘n soort troonsbestyging?!) of die
feit dat ons ‘n Voorspraak by die Vader het (belangrike teologiese konsepte by
Johannes en Paulus). Die probleem is dat hierdie twee aksente nie regtig uit
hierdie teksgedeelte in Handelinge kom nie … en tog is hierdie teksgedeelte
feitlik die enigste Skrifgronde vir die kerk se belydenis van ‘n hemelvaart!
Die prediker sal hier moet besluit in watter mate die teks self en in watter
mate die geleentheid (Hemelvaartsdag) die preek bepaal.
‘n Baie
interessante vraag wat die prediker hom/haarself moet afvra , is die vraag na
die waarskynlike gehoor wat teenwoordig sal wees by ‘n hemelvaartsdiens. Wie
gaan gewoonlik na hemelvaartsdienste? Watter deel van die gemeente? Wat is die
aard van hulle spiritualiteit? Moet die preek hulle pastoraal ondersteun,
empaties aanmoedig of vermanend konfronteer? Vorm dit die eerste aand van die
tien dae lange Pinksterbidure? Antwoorde op hierdie vrae sal waarskynlik bepaal
op watter wyse die inligting geselekteer en ingespan word.
Daar is ‘n
groot verskeidenheid van voorbeelde van preeksketse in Woord teen die Lig I/9, 131-9.
Die lyn
waarvoor ek kies is die feit dat die hemelvaart die kerk dwing om te glo …
geloof as vertroue en verwagting, om die onsienlike te sien, om op aarde te
leef met die afwesige teenwoordigheid van God.
Inleiding:
Omdat daar
‘n Kersfees was, weet ons God wil graag by ons wees. Dit bring vir ons vreugde.
Omdat daar ‘n kruisiging was, weet ons God deins nie terug nie. Dit wek by ons
liefde. Omdat daar ‘n opstanding was, weet ons die lewe is sterker as die dood.
Dit gee ons hoop! Omdat daar ‘n hemelvaart was, weet ons … Weet ons wat? En wat
maak hemelvaart aan ons geloof? Wat het nou eintlik verander met hemelvaart?
Watter gemoedstemming kom byvoorbeeld by u op rondom hemelvaart?
Vir sommige
bring Hemelvaart ‘n oorwinnende, triomferende gevoel, omdat dit een van Jesus
se trappe van verhoging is … tussen
die opstanding en op pad na die regterhand van die Vader. So bely ons dit week
na week in ons geloofsbelydenis … en so sing al elf die hemelvaart-gesange (In
NG Kerk se gesangboek … gebruik dalk ‘n voorbeeld of twee). Hemelvaart is binne
hierdie konteks die Koning se troonsbestyging.
Vir ander
is en was hemelvaart nog nooit ‘n vrolike en uitbundige geleentheid nie. Ek
weet nie of daar in die kerk se geskiedenis of tradisie ooit vrolike gebruike
rondom hemelvaartsdienste is of was nie!? Hemelvaart staan vir baie van ons in
die teken van afskeid . Mense wat agterbly. Ons identifiseer met dissipels wat
half verwese na ‘n leë hemel staar … met die wete dat ‘n goeie era verby is en
die toekoms effens onseker.
In ons
teksvers kan ons beide hierdie aspekte terugvind. Aan die eenkant kry ‘n mens
die dissipels wat na die hemele kyk … omdat (terwyl) hulle Hom nie meer kan
sien nie. Hulle is alleen agtergelaat met die oorweldigende opdrag om nog die
uithoeke van die wêreld te bereik. Aan die anderkant kry ons engele wat hulle
aanmoedig en versterk (tipiese engele-werk!) om met verwagting vorentoe te kyk.
Dit is ‘n saak van vreugde en opwinding omdat hierdie selfde Jesus net so sal
terugkom.
Na die
hemelvaart het ons geloof – ongeag die gevoelens wat ons daaroor mag hê – altyd
die karakter dat ons aan ‘n Onsigbare Jesus getrou moet bly … nie net as
dissipels nie, maar as apostels. Die dissipels was in ons teks gekonfronteer
met die nuwe werklikheid dat Jesus nie meer sigbaar en fisies teenwoordig was
nie. Daarvoor moet hulle wag tot ‘n eendag.
So ook vir ons. Tot met die wederkoms leef die kerk in geloof … “tussen die
tye” … met ‘n reeds en ‘n nog nie … tussen herinnering en hoop … in die sfeer
van God se afwesige teenwoordigheid … soms met sigbare tekens en wonders en
soms leeg, voortvlugtend en ontredderd.
Soos met
Abraham is geloof in Handelinge en na
die hemelvaart “om die Onsienlike te sien”. Geloof is volgens die bekende Hebreërs
11 om seker te wees van die dinge wat ons nie sien nie … om voort te gaan
“sonder om te weet waar ons gaan uitkom” … slegs vertrouend op die
belofte-woord wat ons ontvang. Omdat Jesus opgevaar het, kan Christelike geloof
nie eintlik iets anders wees nie as om te lewe in die spanning van sien en tog
ook nie … van God se teenwoordigheid al is hy afwesig … of soos Luther op ‘n
stadium die paradoksale van geloofsbelewinge verwoord het: Toe Hy ver van ons af was, was Hy naby en toe Hy naby was, was Hy ver.
Die werklikheid van hierdie geloof word verwoord in die psalms van ouds, maar
ook in ons moderne mense se belewenis. (Elke prediker kan in die lig van sy
gemeente hier aan voorbeelde dink)
Om dit vir
ons moontlik (draaglik) te maak om in hierdie spanningsveld in die geloof te
volhard gee ons teksgedeelte twee belangrike bakens wat die hemelvaartgebeure
omraam. Aan die een kant ontvang die gelowiges ‘n roeping en belofte en aan die
anderkant is die werklikheid van ‘n gemeente.
Die roeping
en die belofte gee rigting. Iemand wat in ‘n spanningsveld sonder koers is, sal
halfpad ophou of verdwaal. Die verhaal van Handelinge is die verhaal van
gelowiges wat soms die wonderlikste deurbrake, wonders, groei na binne en buite
beleef. Dit word herhaaldelik beskryf as gebeure waarin die Here byvoeg en
toevoeg. Maar dit is die een helfte van die storie. Dit is ook ‘n verhaal van
uitgelag, gedreig, geslaan en toegesluit word … ‘n verhaal van teleurstellings
en bedreigings, mislukkings en magteloosheid, konflik en stryd. Tye waarin die
Here se teenwoordigheid mense oorweldig, aangryp, verander en sigbaar werksaam
is … maar ook tye waarin die Here nie ingryp (bv om Stephanus se lewe te red
nie), nie ‘n skipbreuk verhoed nie, nie die verbrokkeling van verhoudings (Paulus
en van sy kollegas) stop nie, nie ‘n hofsaak ‘n goeie wending laat neem nie,
nie pyn en vervolging be-eindig nie. Hand 1:8 loop egter soos ‘n goue draad
deur die hele verhaal. Julle sal krag
ontvang en julle sal my getuies wees tot aan die uithoeke van die aarde.
Vir die Handelingeskrywer is hierdie belofte en roepingswoord so ‘n werklikheid
dat dit aan die hele verhaal rigting gee. Die verhaal sluit af met Paulus in
Rome – al is hy in ‘n tronk, verhoorafwagtend – as ‘n duidelike bewys dat die
Here op koers is. Dit is geloof wat rigting het en daarom volhard met ‘n lewe
vol van die voorlopigheid van “tussen die tye”.
‘n Groep
Die engele
moet die dissipels aanvanklik help om hul oë weg te draai van die leë hemel.
Maar ons kan nie regtig op die engele reken nie. Oor en oor het ons al gehoor
en sê ons vir mekaar dat die Here sy werk doen deur mense te gebruik. Daarom is
dit so belangrik om te sien dat die Hemelvaart spontaan oorgaan in ‘n
bymekaarkom van die gemeenskap van die gelowiges. Niemand van ons kan alleen
glo nie. Op ons eie is volhardend glo net soveel moeiliker, indien nie
onmoontlik nie. Maar dit is nie nodig nie en die Here het dit ook nie so bedoel
of gewens nie. Onthou julle nog sy gebed vir sy dissipels? Was dit nie dat
hulle mekaar sal liefhê en dat hulle een sal wees in die wêreld nie! Die
gemeente is ‘n soort tuisbasis, ‘n emosionele ondersteuningsgroep, ‘n ruimte
vir motivering, verwerking, verantwoording en volharding. Deur die hele
Handelinge brief sien ons keer op keer hoe die gemeente uitreik, nuwe horisonne
oorsteek, nuwe terreine verken en nuwe gemeentes stig … om altyd weer terug te
keer, altyd weer versterk te word, altyd weer iewers te herlaai in die
gemeenskap van die gelowiges.
Omdat daar
‘n hemelvaart was, weet ons Jesus is afwesig
teenwoordig. Maar ons weet ook dat Hy afwesig teenwoordig is.
Ons moet
binne hierdie spanningsveld glo. Sal ons die geloof behou?
Ons sal die
geloof behou as ons keer-op-keer seker maak van ons roeping en die beloftes.
Dit bly ons kompas en sal ons help om die toekoms in gaan.
Ons sal ons
geloof behou as ons keer-op-keer seker maak dat ons deel is en bly van ‘n
gemeenskap van gelowiges. Dit sal ons leer om na mekaar om te sien … terwyl ons
wag dat hierdie Jesus weer kom soos wat Hy vertrek het.
Bibliografie
E Haenchen
(KEK), R Pesch (EKK) J Roloff (NTD) Schneider (Herder) Willimon (Interp)
Ander
Burger,
Muller, Smit, Woord teen die Lig 1/9,
Gaventa, From darkness to light. Aspects of conversion in the New Testament;
Craddock, Hayes ea, Preaching the new Common Lectionary; Soards, Dozeman,
McCabe, Preaching the Revised Common Lectionary
Artikels
Elliot JH, in HTS 47/1 en in HTS 47/2 oor die tempel versus die huishouding in Lukas-Handelinge