Ander
tekste: Psalm 148; Handelinge 11: 1 - 18;
Openbaring 21: 1 – 8
Hierdie
perikoop begin met 'n belangrike stelling oor Jesus se verheerliking. Wat
opvallend is, is die geweldige lading in hierdie paar verse van tydsbegrippe . Die opmerking van Jesus
waarmee vers 31 begin, konsentreer sigself as 't ware in die ‘nou’. Die uur
waarin alles in 'n sekere sin gaan kulmineer, is ophande. Hierdie uur het
aangebreek.
Maar nou is
daar iets geweldig interessant aan die wyse hoe die evangelis die spanning van
hierdie nou-moment’ gebruik. Hierdie donkerste
uur van die Heer word aan die evangelis geopenbaar as die uur van Jesus se
verheerliking. Die uur waarin Jesus aan die kruis opgehang sal word, die
uur van sy dood, word op 'n paradoksale wyse ook die oomblik van sy
verheerliking.
Die
belangrikste aspek van hierdie verheerliking is egter die wedersydse verheerliking van Vader en Seun. Die Seun het die Vader
op aarde verheerlik en deur die voltooiing van sy werk hier, neem Hy die
verheerliking van die Vader as 't ware op in die gebeure van die kruis en in
hierdie laaste oomblikke waarin alles voleinding vind.
Die
verheerliking beteken hier dus eerstens die verhoging van Jesus uit die
nederigheid van sy aardse gestalte en tweedens dui dit ook op sy ontvangs van
die mag (Bornkamm).
Geweldig
belangrik vir die verstaan van die openbaring van God en die verheerliking van
Jesus Christus in die getuienis van Johannes is die is die insig dat dit iets
is wat in die lyding en sterwe van Jesus bereik word. Sy lyding en sterwe is
nie alleen die deurgang of die poort na die heerlikheid toe nie, dit is reeds
in sigself die deurbraak van die goddelike doksa.
Anders gestel, op hierdie oomblik waar vir die oë van mense die wêreld die werk
van God oënskynlik op die rotse laat loop, op hierdie oomblik; ‘nou’ openbaar
God dat Jesus inderdaad die Gestuurde is, die Een deur wie die toekoms – God se
toekoms – kom. ‘This glorification does not consist simply of his achieving in
heaven the glorification that is due to him. It means above all that he is
glorified in mediating salvation and in giving life to all believers’
(Schnackenburg).
Hierin lê
die verstommende en die ongelooflike van die verheerliking vervat: dit is nie
iets wat alleen ten bate van sy kinders gebeur nie; dit is iets wat ten diepste
aan die gelowiges gebind word. Selfs Jesus se verheerliking geskied nie sonder
sy kinders nie! ‘This orientation of Jesus' glorification to those who are
already entrusted to him and who will follow him in the future cannot be
overemphasized’ (Schackenburg).
'n Laaste
opmerking wat met die verheerliking saamhang. Na hierdie uitsprake oor die
verheerliking lees ons dat Jesus Hom weer tot sy dissipels rig. Hy rig Hom tot
hulle wat getrou gebly het om vir hulle te sê dat Hy nog net 'n klein rukkie by
hulle is. Die aanspreekvorm hier is uniek in die Johannesevangelie. Jesus noem
hulle ‘my kinders’: 'n baie intieme, deernisvolle en persoonlike aanspreekvorm.
Alhoewel 'n
hele aantal eksegete meen dat die opdrag van 'n nuwe gebod 'n latere redaksionele toevoeging is, is dit steeds –
selfs as aanvaar word dat dit wel 'n redaksionele toevoeging is –'n baie
belangrike gegewene (vergelyk Schnackenburg in die verband).
Belangriker
egter vir die prediking is die hele kwessie van die 'nuutheid' van die gebod.
Hierdie nuutheid in die Johannese geskrifte en selfs in 'n wyer verband in die
Nuwe Testament kan nie net verduidelik word as die antitese tot die
Ou-Testamentiese gebod om jou naaste lief te hê nie (vgl. Lev 19:18) Selfs 'n
oppervlakkige lees van die Ou Testament toon dat die liefde tot die naaste
reeds daar 'n ‘ou’ gebod was. Vir die Johannese kring was die gebod om jou
naaste lief te hê, nuut in die sin dat dit 'n baie spesifieke soort gerigtheid
by Jesus ontvang het: die was van die dissipels se voete en die oorgee aan die
dood terwille van ander. ‘The love that has been given to us in anticipation by
God opens up for us a new living space in
which we can and should love our brothers in an entirely new way. As
Augustine observed: “This love renews us, so that we are new men, inheritors of
the new covenant and singers of the new song'" (Schackenburg).
Daarom word
hierdie nuwe gebod ook nie eenvoudig aangebied as morele eis nie, maar as 'n
nuwe moontlikheid wat voortdurend tot verwerkliking roep. Die nuutheid gaan dus
nie oor 'n relatiewe nuutheid nie, maar dit word in 'n absolute sin bedoel: 'n eskatologiese aanwysing. Dit gaan oor
die nuutheid wat pas by 'n nuwe wêreld, by 'n nuwe gemeenskap.
Soos ook
elders in die vierde evangelie die geval is, slaan die kaqws hier nie op 'n
vergelyking nie (dus nie ‘net soos Jesus’ nie), maar eerder as 'n motivering of
begronding (‘volgens die wyse waarin/ omdat’). Dit gaan dus nie in die opdrag
om jou naaste lief te hê daaroor om vir Jesus na te boots nie (wie kan dit in
elk geval doen?), maar om jou optrede te laat rig deur dit wat Hy reeds vir ons
gedoen het.
Die krag om
so te kan liefhê word dus nie geput uit die voorbeeld
van die dissipels of die voorbeeld van Jesus self nie, maar uit die immer teenwoordige liefde van Jesus – die
liefde waarin ons daagliks deur die geloof deel het. Die vraag is dus nie, soos
'n mens inderdaad onder baie Christene dikwels hoor 'wat sou Jesus gedoen het?’
nie, maar eerder 'wat stel Jesus my in staat om te doen?'
'n Laaste
eksegetiese opmerking: dit is bekend dat die Johannese opdrag om lief te hê 'n
baie spesifieke gerigtheid op die geloofsgenoot het. Dit impliseer egter nie 'n
ontkenning van die liefde wat aan alle mense geskuld word nie, maar wel 'n baie
duidelike prioriteit. Die liefde onder die geloofsgemeenskap skep die ruimte
waarin die liefde vir buitestaanders integriteit en geloofwaardigheid ontvang.
Die vyfde
en die sesde Sondag na Pase se tekste vertoon 'n sekere samehang, in die sin dat
hier na die konsekwensies van die opstanding van Jesus gekyk word, in soverre
as wat dit die gelowige se twee mees belangrike verhoudings raak: dié met die
naaste (Joh 13) en dié met God (Joh 14). Die lewenswyse wat die paasgemeenskap
se bestaan kenmerk, word aan die hand van die begrip ‘liefde’ uitgewerk.
'n Mens sou
sommer met die intrapslag in die bespreking oor so 'n onderwerp moet waarsku
dat juis hierdie mees bekende 'Christelike eienskap' ook waarskynlik een van
die mees verslete begrippe in ons geloofswoordeskat is. Ook gelowiges se
verstaan van hierdie liefde word dikwels meer deur sentiment, eerder as 'n
werklike nuwe 'eskatologiese' perspektief gekenmerk.
Daarom is
dit ook baie nodig dat die prediker sal poog om konkreet inhoud aan die uitspel
en die uitwerk van die liefdesgebod te gee. Te dikwels leef daar by baie
Christene nog die oortuiging dat die liefde alleen om 'n bepaalde soort
gesindheid gaan. Dat die liefde dus eintlik ten diepste net as 'n soort
oortuiging leef.
Voorts maak
die emosie wat die kwessie van liefde omring, dit vir mense ook moeilik om
konkreet aan dinge soos offervaardigheid te dink. Maar ook die offervaardigheid
voel dikwels so groot en so geweldig dat baie gelowiges voel dat dit eintlik
net as 'n soort ideaal voorgehou word, juis omdat dit so onbereikbaar lyk.
Daarom sou dit ook vir die prediker raadsaam wees om aan sy eie konteks te
dink, aan die geloofsgemeenskap waarin hy/sy hom/haarself bevind, oor wat nodig
is, uitdagings, oor behoeftes, nood ensovoorts.
In sy 'gemeente-uitleg'
van die Johannesevangelie maak Walter Lüthi die opmerking dat hy by geleentheid
met 'n baie ervare berader gepraat het en dat die persoon vir hom gesê het dat
hy iemand wat hard en verbitterd geword het, wat oënskynlik nie meer tot liefde
instaat is nie, altyd aanbeveel om saam die nagmaal te gaan vier. Hier sê die
persoon, word die vertrapte tuin weer opnuut aangeplant. Hier leer die persoon
weer om lief te hê, omdat hy/sy konkreet iets van Christus se liefde in
beweging sien.
Lüthi
eindig die spesifieke gedeelte met die opmerking dat Christus ons aan ons
geloof herken. Vir Hom is die geloof deurslaggewend, maar die wêreld kan ons
helaas nie aan ons geloof eien nie. Die wêreld besit nie die oë om die geloof
te kan raaksien of eien nie. Maar vir iets anders het die wêreld wel 'n oog en
'n sterk gevoel – en dit is vir ons liefde.
Uit die
preekvoorbeelde sou ek kies vir 'n meditasie uit die pen van van Ruler getiteld
Over heerlijkheid en liefde. Hy begin
deur te sê dat dit in hierdie woorde van Jesus gaan oor heerlikheid en liefde.
Maar dan nie in die sin dat diegene wat werklik vir God en die naaste liefhet,
in die heerlikheid te staan kom nie. Nee, juis andersom. Dit is alleen die
mense wat binne die sfeer van God se heerlikheid lewe wat werklik vir God en
die naaste kan liefhê.
'n Mens sal
maklik en met reg kan sê dat die liefde nie meer moontlik is nie omdat daar so
min heerlikheid op aarde is. Dit is alles so donker. Maar dan was dit tog ook
veel donkerder in die wêreldgeskiedenis toe Jesus hierdie woorde gespreek het.
Dis juis te midde van hierdie donker tyd wat Jesus verklaar het: Nou word die
Seun van die mens verheerlik en God word deur Hom verheerlik. Waar die ergste
met Hom gebeur, dáár praat Jesus van heerlikheid.
En dit
bring ons by die kern van dit waarom dit vir van Ruler gaan: Die verhoging van
Jesus lê nie alleen in sy hemelvaart nie, maar reeds in sy kruisiging. Dit gaan
nie daaroor dat Hy deur die lyding die heerlikheid binnegaan nie. Dis nie asof
die heerlikheid eers na die lyding kan kom nie. Dit is veel eerder lyding en
heerlikheid in één, die heerlikheid te midde van die lyding.
Hoe kan 'n
mens dit so sien? Die antwoord op hierdie vraag lê daarin dat hierdie lyding en
sterwe van Jesus 'n offer is en dit is alleen in die offer waar die volle
heerlikheid gevind kan word.
Daarom, sê
van Ruler, moet ons nie twyfel aan hierdie wêreld en die lewe nie. Ook nie
wanneer die duisternis van alle kante om ons saamtrek nie. Veral nie dan nie.
Want Jesus sal in die doodsnood wees tot aan die einde van hierdie wêreld. Iets
van die duisternis van die Godverlatenheid, wat van 12 tot 3 oor Golgota gehang
het, hang reeds vir eeue oor die aarde. Maar – en hierin lê die onvoorstelbare
troos – hierin, in die duisternis is die Here self teenwoordig.
Hierdie
teenwoordigheid van die Here in die Godverlatenheid is alleen in die liefde te
ervaar. Sonder die mag van die liefde sou ons dit nie kon volhou nie. Hy het
vir ons lief. En ons is lief vir Hom, die verborge God. Alleen binne hierdie
liefde kan die lewe wáárlik geleef word.
Daar is
sekerlik nie nog 'n woord in die Bybel wat deur so baie mense geglo word en
deur so min mense beoefen word nie. Julle
moet mekaar liefhê.
As 'n mens
sover kan kom as om vir die grootste deel van die gemeente te kon vra om een
versie in die Bybel te kies waarin hulle meen die totale boodskap van die Bybel
die beste in saamgevat word, sou dit waarskynlik hierdie een wees Julle moet mekaar liefhê.
Vier
woorde. Vier woorde waarin 'n wêreld vervat is. 'n Nuwe wêreld. Maar ook 'n
vreemde en dikwels onbekende wêreld.
Daar is 'n
vreemde paradoks aan hierdie vier woorde. Ons begeer dit; ons begeer dit dalk
meer as enige iets anders. Maar terselfdertyd vrees ons dit wat hier van ons
gevra. Miskien is dit die diepste krisis in die kerk rondom hierdie vier
woorde. Ons is ontsettend skerp van sig vir die gebrek aan liefde in die kerk,
maar ons is totaal blind vir ons eie gebrek aan liefde. Dit wat ons van ander
verwag is presies dieselfde as dit wat ons nie bereid is om self te gee nie.
Kan dit
verander word? En indien wel, hoe kan dit verander word?
Kom ons kyk
of die teksgedeelte in Johannes 13 nie vir ons kan help met 'n moontlike
antwoord op hierdie vraag nie.
In
hoofstukke 13 tot 17 vertel Johannes van Jesus se afskeid van sy dissipels.
Hierdie vier hoofstukke is eintlik niks anders nie as 'n gereedmaak en 'n
voorbereiding van die dissipels op die lyding en sterwe van Jesus. Daarom dra
hierdie hele gedeelte amper die karakter van 'n soort geestelike testament. Dis
Jesus se nalatenskap aan sy vriende. Dit is wat hulle moet onthou as Hy nie
meer in sy persoon by hulle is nie. Geweldig belangrik is die gebeure wat direk
voorafgaan aan hierdie opdrag van Jesus dat hulle vir mekaar moet liefwees.
Daar is twee goed wat gebeur waarvan Johannes vertel. Die eerste een is dat
Jesus sy dissipels se voete was en die tweede een is dat Hy aankondig dat een
uit hulle kring Hom gaan verraai. Dan volg die opdrag dat hulle vir mekaar moet
liefhê en direk hierop die versekering aan Petrus dat hy vir Jesus drie maal
gaan verloën. Die opdrag aan die twaalf dat hulle mekaar moet liefhê word dus
ingebed tussen die waarskuwing dat een uit hulle kring van vriende Hom gaan
verraai en dat een Hom gaan verloën. Tussen die pyn van verraad en die seer van
verloëning lê die vermaning tot liefde. Wat dit egter nog meer aangrypend maak,
is die feit dat Jesus nie hierdie opdrag in die lug laat hang nie. Sy dissipels
sou nie na sy gesprek met hulle kon sê: "Ons wonder wat Hy bedoel het toe
Hy gesê het dat ons vir mekaar moet lief wees" nie. Hoekom nie? Want Hy
het vir hulle gewys wat Hy bedoel. Hy het dit vir hulle baie konkreet en
prakties gemaak toe Hy hulle voete gewas het. In vers 15 na die voetwassing sê
Hy: Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel,
en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. En dan weer in vers
34 Soos Ek julle liefhet, moet julle ook
mekaar liefhê.
Met ander
woorde: Hierdie liefde waarvan Ek praat word nie gediskwalifiseer deur
vernedering, verraad en verloëning nie. Hierdie liefde vra nie na wie dit
verdien nie en dit vra veral nie na wie skuld wie nie.
Dis mooi
woorde, maar wat beteken dit? Ons weet
dat popsterre skryf liedjies oor liefde, skoolkinders skryf vir mekaar briefies
oor liefde en ons luister en kyk na verhale oor liefde. En niks wat ons in
hierdie verhale hoor en sien lyk so nie. Hier is verraad die doodslag vir
liefde en verloëning die eerste woord van wraak.
En omdat
dit so vreemd klink in ons wêreld is ons onmiddellik in die versoeking om te
dink dat dit nie werklik bestaan nie of dat dit nie werklik moontlik is nie.
Daarom moet
'n mens dalk begin deur te vra: Wat word bedoel met ‘liefde’?
In 'n soort
meditasie oor hierdie gedagte skryf die Hollandse priester-skrywer, Huub
Oosterhuis so:
"Ek
verstaan onder liefde: die duisende nuanses van vriendelikheid en vriendskap,
van takt en geduld, van bedagsame eerbied en medelye, van volgehoue lojaliteit
en spontaniteit, van goeie bedoelings en deernis waarmee mense mekaar behandel.
Ek verstaan onder liefde ook die volharding en optimisme waarmee die wêreld 'n
beter plek gemaak word, téén almal wat vernietig en verwoes. Alles wat ten
goede is, wat bydra tot meer reg en vrede vir meer mense, dit noem ek
liefde."
As 'n mens
mooi luister na wat hy sê, gaan dit in hierdie verstaan van liefde oor die wyse
waarop ons ander behandel, oor die manier waarop ons teenoor mense optree. En
wat Jesus sê, is dit: sy liefde, die liefde wat Hy vir sy vriende het, is
anders as die liefde waarvan ons in tydskrifte lees en wat ons op die televisie
en die flieks sien. Dis anders omdat ervarings van verraad, verwerping en
teleurstelling in mense, nie sy liefde doodmaak of vernietig nie.
Of as 'n
mens dit kan verduidelik in terme van Oosterhuis se beskrywing van liefde:
Teleurstelling in mense, ervarings van verwerping deur mense moet ons nie
weerhou van vriendelikheid en
vriendskap nie. As mense my nie laat welkom voel nie, mag dit my nie beroof van
takt en geduld, bedagsame eerbied en medelye nie. En veral; hier in die kerk,
waar hierdie dinge wat die meeste teenwoordig moet wees, soms so pynlik
ontbreek –- juis hier moet ons volhard met ons lojaliteit en goeie bedoelings
en deernis wat ons aan mekaar verskuldig is.
Natuurlik
is dit moontlik dat vriende jou kan versaak, natuurlik is dit moontlik dat medegelowiges
jou kan teleurstel, natuurlik is dit moontlik dat jy die kerk liefdeloos kan
beleef. Hierin is ons nie alleen nie. Sy naaste vriende, sy vertrouelinge het
vir Christus versaak en teleurgestel.
Maar wat Hy
vir ons deur sy Woord sê, is dit: Moenie
leef vanuit die mislukkings van mense nie, maar leef vanuit die oorwinning van
God. Gaan voort om om te gee. Wees lief vir mekaar.
Waarom?
Eenvoudig omdat dit is wat ons God en ons Vriend en die Een wat vir ons lief
is, van ons vra. En hoekom vra Hy dit? In vers 35 sê Hy: "As julle mekaar
liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."
Maar, wil
Johannes 13 sê, dit is nie alleen wat Hy van ons vra nie, dit is ook wat Hy vir
ons gee. Deur die gebeure van die kruisiging en die opstanding gebeur daar iets
met die ou wêreld en die ou mense. God besoek ons. God se nuwe wêreld breek
hier in. Wie deel van God se gang deur en met die wêreld word, deel in sy
liefde. Kry daadwerklik deel daaraan. Ontvang dit as 'n integrale deel van ons
kindskap.
Dáárom is
dit ook so 'n belangrike saak in terme van ons getuienis. Want hierdie liefde
is nie iets wat ons self kan genereer nie. Ons word nie gebore met die liefde
vir mekaar nie, ons word alleen deelagtig deur ons tweede geboorte, as ons van
bo gebore word. Dit is ook die rede waarom Jesus kan sê: "As julle mekaar
liefhet, sal almal weet dat julle
dissipels van My is."
Daar is 'n
mooi verhaal van 'n baie ryk man wat grotendeels deur die toedoen van sy
gewetenlose broer feitlik al sy besittings verloor het. Na die verlies van sy
rykdom het hy amper soos Job sy vrou verloor en sy kinders moes in 'n soort
bedelaarsbestaan van die aalmoese van ander leef.
Soos Job
het die man besluit dat hy aan die wêreld sal wys dat hy nie alleen vir God
lief is as gevolg van al sy welvaart nie, maar dat hy ook aan hom getrou sal
bly al het hy byna niks. Maar mense het nie gehou van iemand wat ten spyte van
soveel teenspoed steeds gelowig en vroom bly nie. Elke sug of smart van die man
was vir hulle 'n teken dat hy soos Job teen God in opstand kom, of dat hy
besluit het om hierdie God te versaak.
Dit het
byna 'n obsessie by die man geword om aan die dorpenaars te wys dat hy anders
as hulle is. Hy het toe met God gepraat en vir Hom gevra dat Hy vir hom moet
wys wat hy kan doen sodat die mense glad nie meer oor sy kindskap kan twyfel
nie. Maar die Here het hom nie op sy vraag geantwoord nie.
Toe het hy
in 'n daad van onpeilbare barmhartigheid al sy spaargeld wat hy oor die arm
jare bymekaar gemaak het, aan die armes gegee. Die armes was dankbaar, maar die
mense was nie oortuig nie. Hy probeer vir homself 'n kliëntebasis opbou, het
hulle gesê.
Hy het weer
met die Here gaan praat en gepleit dat Hy hom tog moet help. Maar die Here het
hom steeds nie geantwoord nie. Hy het toe in 'n projek betrokke geraak waarin
hulle vir die dorp 'n nuwe kerk gebou het, 'n waarlik imposante gebou wat as 'n
soort teken van God se heerlikheid bo al die ander geboue in die dorp
uitgetroon het. Die mense het gesê dat hy homself probeer verewig.
Die man was
moedeloos en het weer na die Here toe gegaan. Tot sy verbasing het die Here hom
geantwoord. Hy het gesê: In die grootste huis in die dorp woon 'n man, 'n ware
skurk. Iemand vir wie niemand enige respek het nie. Niemand kom ooit by hom nie
omdat hulle sy geslepenheid so goed ken. Hy het versorging nodig. Jy ken hom.
Dis jou broer. Gaan, en versorg hom en wees lief vir hom. Dán sal almal weet
dat jy my kind is.
U ken die
liedjie: Ubi caritas. Waar daar
deernis is en liefde, daar is die Heer. Eintlik moet dit 'n bietjie anders lui.
Waar die Heer is, daar is deernis en
liefde.
Waar die
Heer teenwoordig is, by sy kinders, in sy gemeente, dáár is die liefde. Daar
leef die liefde. Of moet ons liewer sê, daar leef dit voort. Voort as die
liefde van die opgestane Jesus Christus in sy kinders.
Bibliografie
Bornkamm, G: Herr, tue meine Lippen auf, dl 3, 161-167; Lüthi,W: Johannes: Das vierte Evangelium.; Oosterhuis, H: Van U is de toekomst-Kome wat komt, 240-243; Schnackenburg, R: The gospel according to St John; Van Ruler, AA: Sta op tot de vreugde, 120-122