19 September 2004

Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 17:20-37 (RCL: Lukas 16:1-13)

Ander tekste: Jeremia 8:18-9:1; Psalm 113:1 Timoteus 2:1-7. (RCL: Ps. 79:1-9 of Amos 8:4-7.)

Inleiding

Ons mense raak maklik oorgerus. Ons gaan houtgerus met die alledaagse dingetjies van ons lewe voort nes die mense in die tyd van Noag of Lot. Maar as koninkryksmense moet ons waaksaam lewe. Hierdie erediens is `n wekroep! Dit is nou die tyd om vir die koms van God se koninkryk gereed te maak.

Let daarop dat die fokusteks nêrens in die siklus van die RCL gebruik word nie.

Die basisliturgie word soos volg uitgebrei:

Liedere om by die voorbereidende sang in te sluit: Lied 599:1-3 "As Hy weer kom"/NSG 336; Lied 539:1, 3 "Tien meisies met hul lampe"/NSG 229

Oproep tot lof

"Prys die Here! Ja, julle dienaars van die Here, prys die Naam van die Here! Die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word! Hoog bo al die nasies heers die Here, sy mag strek selfs oor die hemele. Wie in die hemel of op die aarde is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien? Die geringe help Hy op uit die stof, die arme laat Hy van die ashoop af opstaan om hom by vernames te laat sit, by die vernames van sy volk. Prys die Here! (vgl. Ps 113:1-8)

Sang

Psalm 113 "Sing, halleluja, prys sy Naam,"; Lied 184 :1, 3, 4. "Lofsing, die Here"/NSG 25

Verootmoediging

"As ons na mense se onverskillige lewens kyk – en ook ons eie – as ons sien hoe hulle leef asof die Here nie aan die kom is nie, moet ons saam met die profeet bid: "My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld ... Waarom tart hulle (die Here) met hulle afgodsbeelde, met hulle vreemde nikswerd gode? Ag, was my kop maar vol water en my oë 'n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het" (Jer. 8:18–9:1).

Sang

Lied 240:1, 2 "Heiland, as in ootmoed stil"/NSG 211

Epiklese – opening van die Woord

Psalm 119:113- 120

Voorbidding

As ons gelukkig en gereed wil lewe, moet ons die woorde van Timoteus ernstig neem: "Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie. Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met 'n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis" 91 Timoteus 2:1-8).

Gee geleentheid vir mense met wie vooraf gereël is om voorbidding vir verskillende sake te doen.

Diens van die tafel

"Die nagmaal is ’n verkondiging van ons toekomsverwagting. Ons het in die nagmaal die versekering dat die Here een met ons is. Tog kyk die gemeente hiermee ook vooruit na sy wederkoms, en verkondig daarmee die dood van die Here totdat Hy kom. Deur die nagmaal strek ons ons uit na die dag wanneer Christus in heerlikheid sal verskyn en alles tot volheid sal bring, die dag wanneer Hy die hemel en die aarde nuut sal maak sodat geregtigheid daarin kan woon – en God alles … vir alles kan wees.

Daarom roep die nagmaal ons ook op om seker te maak dat ons gereed is vir die dag van die Here se koms" (Uit die alternatiewe nagmaalsformulier, NGK).

Sang

Lied 584:1,3 "Ons sien die tekens van die tyd"/NSG 134 "Daar ruis oor alle lande"

Uitsending

Lied 533:1-2 "Stuur ons, Here" Lied 595:1, 2 "Ons wag op U, o Seun van God"/NSG 133 "Kyk, Hy kom weer op die wolke"/NSG 136 "Die Here kom teen middernag"

Seën

"Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom" (1 Tess. 5:23).

Sang

"Amen" kies enige van die volgende: Lied 312-315

PREEKSTUDIE – LUKAS 17:20-37

Teks

Ons perikoop beskryf `n gesprek van Jesus met die Fariseërs en sy dissipels. Die gesprek het `n vraag-en- antwoord-struktuur. Die Fariseërs (20) en dissipels (37) vra Jesus uit (Gr. eperotétheis, 20) en Hy beantwoord (Gr. apekrithé, 20; eipen, 37) hul vrae. Die tema is "die koninkryk van God" (Gr. hé basileia tou theou, 20). Twee vrae omring die perikoop (20, 37) en elkeen gee `n perspektief op die tema. Die eerste vraag (20) is na die tyd "wanneer" die koninkryk aanbreek (Gr. pote) en die tweede vraag (37) na die plek "waar" (Gr. hopou) dit gebeur. In Jesus se antwoord op die eerste vraag van die Fariseërs spreek Hy ook sy dissipels (22-25, 37) aan. Die patroon is dié van lering aan nie-dissipels (20 e.v.), gevolg deur `n vollediger verduideliking aan die dissipels (22-37). Hy antwoord onder andere in die vorm van lering (20), waarskuwing (23), korrigering (22) voorbeelde (24, 26-30), profesie (24, 25) en `n spreuk (37).

Die oorsig oor die perikoop ondersteun die verskillende Bybelvertalings se opskrif daarby. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV), New International Version (NIV) en New King James Version (NKJV) beskryf die tema met die frase: "Die koms van die koninkryk" (The Coming of the Kingdom of God – NIV). Die "koms van die koninkryk" verwys na die oomblik wat God sy goddelike mag in volheid sal demonstreer (Reiling). Die NKJV het dieselfde opskrif, maar sy indeling omvat die hele hoofstuk 17. Wat het aanleiding gegee daartoe dat die Fariseërs oor die koninkryk van God begin praat het? Die NKJV beantwoord dié vraag blykbaar deur aan te dui dat die hele hoofstuk oor dieselfde tema handel.

Marshall maak sy indeling "with considerable hesitation" (17:11-18:8). Sy motivering vind hy in die geografiese aanduiding van 17:11, met die klem op Jesus se reis na Jerusalem toe. Hy erken dat die inleidende gebeurtenis min verband toon met die res van die gedeelte. Dit vertoon eerder affiniteit met die voorafgaande denklyn. Daarom is dit beter om dit as oorbrugging tussen twee dele te verstaan. Die res van die gedeelte val volgens hom in drie dele uiteen: (a) die vraag van die Fariseërs oor die koms van die koninkryk (17:20 e.v.); (b) `n uitgebreide diskoers met die dissipels oor die koms van die Seun van die mens (17:22-37), en; (c) `n slotgelykenis met verwysing na die tyd wat eers moet verbygaan voordat die Seun van die mens kom (18:1-8). Laasgenoemde gedeelte handel oor gebed, dieselfde tema as 18:10-14. Die breuk by 18:8 kan in die lig hiervan kunsmatig voorkom. Marshall meen dit is nog `n voorbeeld van die "compiler’s skill in avoiding sharp breaks in his narrative". So is dit ook nie moontlik om `n direkte skakel tussen ons perikoop en die voorafgaande aan te toon nie (Marshall).

Ter beantwoording van die vraag waarom die tema van die koninkryk in dié perikoop ter sprake kom, lê Groenewald `n verband tussen die genesing van melaatses in die voorafgaande perikoop (11-19) en ons perikoop. Die Jode het op grond van Daniël 12:1 en verder, die opvatting ontwikkel dat allerlei tekens te sien sou wees wanneer die koninkryk kom. Die genesing van melaatses sou sodanige teken van die koms van die Messias verteenwoordig. Die genesing van die tien melaatses kon daartoe lei dat `n Fariseër in alle erns vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God kom. Groenewald sien juis in Jesus se antwoord iets van die Fariseërs se opvatting omtrent die koms van die koninkryk. Die soeke na tekens dui op die Fariseërs se apokaliptiese verwagting (Marshall). Hulle kon hul vraag uit opregte belangstelling in die onderwerp stel (Morris). Dit kan ook wees dat, aangesien Jesus dikwels oor dié onderwerp gepraat het, hulle sy mening wou hoor.

Die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel (OAV) plaas `n baie spesifieke perspektief op die tema, naamlik: "die skielike koms" van die koninkryk. Die fokus is op die "onverwagse" karakter van die koms van die koninkryk. Dié element is belangrik en word uit die perikoop duidelik. Vir Jesus is die tema van die koninkryk egter ryker as dit. Morris bevestig dit met twee perspektiewe op die perikoop: sekerheid van die oordeel en belangrikheid om gereed te wees. Ook die twee vrae wat die perikoop omraam dui aan dat ons perikoop meer oor die koninkryk sê as sy skielike koms. In Jesus se antwoord op die vraag "wanneer" die koninkryk kom, is `n verskuiwing in fokus. Hy verwerp voortekens om die koms van die koninkryk te voorspel (20), asook direkte aanduidings van die lokaliteit daarvan (21). Hy stel dit pertinent dat die koninkryk in hul midde is, as antwoord op die onuitgesproke vraag: "Wat moet dan nog gebeur?" (Marshall). Die vraag na die lokaliteit word in vers 22 as `n diep verlange (Gr. epithumésete) van die Jode uitgedruk. Die verlange word gekoppel aan ‘sien’ (Gr. idein), en die koninkryk geïdentifiseer met die Seun van die mens. Die uitdrukking "dae van die Seun van die mens" verwys na die Messiaanse tyd en verlange na die Messiaanse ryk (Morris; vgl. Marshall se bespreking van verskillende betekenisse).

Jesus beantwoord die vraag na die koms van die koninkryk met `n klem- en begripsverskuiwing. Die Fariseërs verstaan blykbaar die koninkryk as "iets" onbekend en geheimsinnig. Jesus beskryf die koms daarvan as "universally visible" (Marshall). Hy identifiseer die koninkryk met die Seun van die mens (22, 24). Sy stelling (21) dat die koninkryk van God "in julle" (Gr. entos humon) is, hou hiermee verband. Die vertaling van die Griekse woord entos (21) verteenwoordig `n eksegetiese probleem met verskillende moontlike interpretasies. Morris noem vier betekenisse: (a) Die koninkryk as wesenlik iets innerliks (vgl. Reiling – nie-eskatologies). `n Verklaring van die koninkryk as suiwer geestelike teenwoordigheid in "julle" harte sluit die Fariseërs in. Dit is onwaarskynlik dat Jesus dit bedoel het (Groenewald); (b) Profesie oor hoe die koninkryk kom. Dié betekenis is moontlik, maar die woorde het dan `n gedwonge betekenis (Morris); (c) Die koninkryk is binne julle bereik indien julle op die regte wyse te werk gaan, maar Jesus stel meestal die koninkryk as gawe van God, nie as menslike prestasie nie; (d) Die koninkryk is teenwoordig, in julle midde (Reiling – nou of in die toekoms) in die Persoon en bediening van Jesus (Morris). Dié betekenis is die aanneemlikste. Die koninkryk verwys hier na die "ruler himself". Volgens Noack (In Marshall) kan die koninkryk slegs gedurende Jesus se aardse lewe op dié wyse teenwoordig wees. Die volgende verse handel oor die swaar tye tussen Jesus se vertrek en die wederkoms van die Seun van die mens as koning. Jesus maak dus voorsiening vir `n tyd tussen sy bediening en die eindtyd (Gr. parousia).

Vers 26-30 bevat twee Bybelse voorbeeldverhale oor die tyd van die Seun van die mens. `n Dubbele vergelyking tussen die dag van die Seun van die mens enersyds, en die tyd van Noag en Lot andersyds. Albei verwys na `n situasie wat geruime tyd reeds bestaan en skielik tot `n einde kom (Reiling). Dié twee Ou-Testamentiese gebeurtenisse is dikwels verbind, as voorbeelde van straf oor bose mense, asook die verlossing van getroues (Marshall). Vers 31-35 sluit by vers 30 aan, en bied `n uiteensetting van hoe daar op die verskyning van die Seun van die mens gewag en gereageer moet word. Dit bring die belangrikheid daarvan om voorbereid en gereed te wees ter sprake (Morris), asook die korrekte fokus. Dit dien as maatstaf vir die skeiding tussen mense (34, 35). `n Eksegetiese kwessie is dat die betroubaarste manuskripte vers 36 weggelaat het (Marshall, Groenewald, Morris). Dié vers verskyn nie in jong Bybelvertalings nie.

Vers 37 bevat die tweede vraag aan Jesus; die dissipels se vraag na die "waar" (lokaliteit) van die koninkryk van God. Hulle wil weet waar dit alles gaan plaasvind. Dié vraag volg nie baie logies uit die voorafgaande uitsprake nie. Jesus antwoord nie direk nie, maar in die vorm van `n spreuk. Hoe moet hierdie spreuk geïnterpreteer word? Volgens Marshall neem dit die punt van vers 23 op en beklemtoon dat die Seun van die mens ongetwyfeld teenwoordig sal wees. Die spreuk beklemtoon die waarheid dat die dooie liggaam die aasvoëls aantrek.

Reiling noem twee betekenisse van die spreuk; die plek waar die gebeure van vers 31-35 sal plaasvind, of die plek waar dié wat agterbly, hulself sal bevind. Hy kies eersgenoemde. Marshall meen die interpretasies is gedwonge en sluit hom by Zmijewski aan, vir wie die punt in die universaliteit van die skeiding in vers 34 en verder lê. Volgens Morris is die klem hier op die onontkombaarheid van die komende oordeel op die dag van die Seun van die mens: "Where the spiritually dead are found, there inevitably will be judgement" (ook Marshall). Daar sal geen moontlikheid van verwarring oor die plek bestaan nie (Reiling) en dus ook geen nut om te vra waar die Seun van die mens is nie (Marshall).

Konteks

Die tema van ons perikoop ("koninkryk van God") is `n deurslaggewende tema in die Nuwe Testament. Goppelt sê dat Jesus se bediening rondom dié "fascinating term" sentreer: "Everything else is related to it and radiates from it." Elke evangelis gee `n eie opsomming van die kern van Jesus se lering (Goppelt). Vir ons doel is Lukas 4:18-21 belangrik. Hierin gee die outeur sy samevatting van Jesus se leer oor die "koninkryk van God" vir die geloofsgemeenskap aan wie hy sy evangelie geskryf het.

Lukas 4:18-21 is `n aanhaling uit Jesaja 61:1-2 en 58:6. Daar verwys die profesie moontlik na die profeet se self-verstaan; geroep om die goeie nuus bekend te maak dat God intree om sy volk te help. Die profeet druk sy roepingsbewussyn met verskillende metafore uit. Vir Lukas gaan dit nie om die spreker as messiaanse figuur nie, maar dat die funksies van die Ou-Testamentiese figuur in Jesus vervul is. Hiervoor is Hy deur God met die Gees gesalf. Die idee van die eskatologiese profeet en die Messias vloei ineen. "Vandag" (21) beklemtoon die koms van Jesus self. Dit gaan ook in die gedeelte oor Jesus se lering. Die vervulling van die Skrifte vind in die hoor daarvan plaas (Marshall).

In die Ou Testament word God dikwels as koning voorgestel. Hy regeer nou as monarg, of sal in die toekoms regeer. Nêrens verbind die Ou Testament die idee van koning en heerskappy in die uitdrukking "regering of heerskappy van God" nie. Die Ou Testament verwys na God se heerskappy in vier konseptuele kategorieë (Goppelt): (a) Koningskap van God as kultiese werklikheid (troonsbestyging-psalms); (b) Doksologiese belydenis dat Jahwe se soewereine regering reeds in kontemporêre gebeure manifesteer; (c) Proto-Jesaja verskuif die konsep van God se soewereiniteit uit die sfeer van kulties-himniese verheerliking na die historiese werklikheid – binne eskatologiese verband – met die aankondiging van `n eskatologiese heerskappy van God; en (d) Die apokaliptiese denke van 200 v.C. het die verskil tussen toekomstige eskatologiese heerskappy van en sy teenswoordige regering oor alles `n dualistiese karakter gegee (vgl. Dan. 7).

Hoe vergelyk die Joodse verstaan van die heerskappy van God en Jesus se uitsprake daaroor? Goppelt sê: "The concept of a reign of God to be established in the future was known to all groups in the Jewish milieu of Jesus, but not one of them came close to using the term with the frequency and centrality of Jesus." Alle Joodse standpunte verbind twee kwalifikasies met die toekomstige heerskappy van God: (a) Sy heerskappy moet nog op die aarde gevestig word; en (b) Die vestiging van dié heerskappy lui `n nuwe histories-kosmiese situasie in – met verlossing vir almal wat daarin deel – veral vir die volk van God. Vir Jesus het die heerskappy van God beslis `n eskatologiese dimensie. Dié heerskappy beteken dat God se wil vrywillig gedoen sal word, asook dat alles heel sal wees. Jesus se uitsprake oor die komende heerskappy van God maak dit volgens Goppelt duidelik dat Hy beide `n toekomstige én teenwoordige koms bedoel.

Vir `n verstaan van ons perikoop, asook die ontwikkeling van `n preek daaroor, bied bogenoemde agtergrond `n raamwerk waarbinne nadenke oor die ryke betekenis van die "koninkryk van God" in Jesus se uitsprake in Lukas 17:20-37 geplaas kan word. Jesus se dubbele fokus (toekomstige en teenwoordige) op die konsep in ons perikoop het in die bespreking hierbo (Teks) aan die lig gekom. Dit kan ook waardevol wees om Goppelt se bespreking van "The future and present coming of the Kingdom" na te lees. Hier is dit belangrik om na te gaan hoe die kategorieë van die "toekomstige" en "teenwoordige" koms van die koninkryk in Lukas 17:20-37 funksioneer.

`n Eerste kwessie oor die "toekomstige" aanbreek van die koninkryk is dat Jesus ook ander terme as "die koninkryk" gebruik om oor die eskatologiese toekoms te praat. Die uitdrukking "daardie dag" is `n alternatiewe segswyse. Soos "daardie dag" met die verwagting van oordeel verbind is, is dit ook verbind met die koms van die Seun van die mens. In die lig hiervan sê Goppelt dat die eskatologiese diskoers van Lukas 17:22-37 herhaaldelik en met wisselende betekenis na "die dag" of "die dag van die Seun van die mens" verwys (22, 24, 26, 30). In die Hellenistiese wêreld het die parousia op die aankoms van gode en heersers gedui. Teen dié agtergrond verwys die parousia van die Seun van die mens in ons perikoop na Jesus se aankoms en nie sy terugkeer nie.

`n Tweede kwessie oor die koms van die koninkryk is die verband tussen die aankondiging van die nabyheid van die koninkryk en die uitdaging aan die hoorders om met toegespitste aandag te wag. Volgens Goppelt is dit oënskynlik `n teenstrydigheid. In dié verband wys Goppelt op Lukas 17:20, 22-37 as `n tweede sinoptiese apokalips (vgl. Mark. 13). Dit dui in sy huidige vorm op `n lang verlossings-historiese beweging. Die tradisionele raamwerk daarvan was dreigende woorde wat moontlik teruggaan tot by Jesus. Daarvolgens oorval die einde, die dag van die Seun van die mens, die mensdom "in its preoccupation with daily routine" (24, 26 e.v., 28-30), onverwags. Dié dreigende woorde kon hul oorsprong binne Jesus se openbare oproep tot bekering gehad het.

`n Derde kwessie oor die teenwoordigheid van die koninkryk is die vraag na die persoon van Jesus. Goppelt bespreek dit in `n paragraaf met die opskrif "The Bringer of Salvation" en beskryf Lukas 17:20 e.v. as "best known word on the presence of the reign of God". Met verwysing na die Griekse uitdrukking entos humón (22) verwerp Goppelt die interpretasie van `n geestelik-etiese dimensie (vgl. Teks). In die lig van die konteks van dié uitdrukking in Matteus 11:6 argumenteer Goppelt dat God se heerskappy wat `n mens toekom, die totale mens insluit. Daarom kan entos slegs beteken: "in julle midde". Die koningsheerskappy van God is Jesus self. Aan die koning behoort mense. Daarom die vraag: Waar is die mense, die burgers van God se heerskappy?

Jesus se lang diskoers met die dissipels (22-37) is aanduiding daarvan dat hulle ook bekommerd was oor die toekoms. Volgens Marshall gaan dit hier beslis om `n toekomstige verskyning van die Seun van die mens. Die voorbeeld van Noag se tydgenote beklemtoon nie alleen die normale voortgang van die daaglikse lewe nie, maar meer spesifiek die mense se beheptheid met hul alledaagse aktiwiteite. In Noag se tyd was hulle so vasgevang in hul eie sake, dat hulle nie ag geslaan het op wat Noag gedoen het nie (Morris). Jesus se generasie sal hulself ook oorgee aan `n wêreldse, godlose lewe, soos in die dae van Noag en Lot (Marshall).

Die twee voorbeelde van vers 31 beskryf gewone, alledaagse aktiwiteite wat mense op die dag van die Here in versoeking sal bring om verkeerd te reageer; om eers iets te wil gaan haal en besittings te probeer red. Dié reaksie sal totaal onvanpas wees. Op die dag van die Here moet die mens se volle fokus op die Seun van die mens wees, nie op hul besittings nie (vgl. Reiling). Dit gaan hier om `n heelhartige toewyding aan die Seun van die mens, sonder enige verswaring deur `n begeerte aan materiële besittings. Dit was die probleem van Lot se vrou (32). Sy kon nie afskeid van haar besittings neem nie. Haar voorbeeld dien as waarskuwing dat iemand wat tot redding geroep is, haar lewe kan verloor deur in daardie dag aan aardse goed te dink (Groenewald). Die selfgenoegsame lewe van Noag en Lot se tydgenote sal met die koms van die Seun van die mens bewys word as vernietigend, maar dié wat op die Seun van die mens vertrou, sal lewe (33) (Morris). Hier word `n algemene beginsel gestel as basis vir die waarskuwing van vers 32.

Die skeiding tussen mense wat saam woon en werk, dui op `n skeiding wat deur die intiemste bande sny. Die skeiding is nie gebaseer op die uiterlike saamwees van mense nie, maar op die verbondenheid met Jesus (Groenewald). As daardie dag verlossing bring vir God se mense, sal dit ook oordeel bring op die goddeloses (Marshall).

Die idee van herinnering wat in die vorm van `n oproep om te onthou (Gr. mnémoneuete, 32) gestel word, is belangrik. Om te onthou is meer as bloot intellektuele handeling. Dit is om ernstig aandag te vestig op iets en sodoende aangemoedig word, of soos hier, daardeur gewaarsku word. Die verwysing na Genesis 19:26 (Lot se vrou wat in `n soutpilaar verander het) dien as waarskuwing vir diegene wat bewaar is van die gevaar, maar terugval in wêreldlikheid en sonde, en dus in die oordeel (Marshall).

Preekvoorstel

1. Noordmans bied een moontlikheid vir die prediking uit ons perikoop. In sy oordenking van Lukas 18:1-8 ("Het gebed om recht") verwys hy na 17:24-30. Jesus se gelykenis oor volhardende gebed hang volgens hom, in terme van die konteks, saam met wat ons perikoop oor die openbaring van die Seun van die mens sê. Die plotselinge, haastige koms van die Here gee aan die gelykenis oor volhardende gebed sy betekenis in die evangelie. Jesus se lering oor gebed is te verstaan binne die konteks van die koms van die koninkryk en die verkiesing daartoe. Noordmans verstaan die koms van die oordeelsdag as `n plotselinge gebeurtenis, eerder as spoedig. Hy koppel dit aan geregtigheid en sê dat reg nodiger is as brood, met verwysing na die Ons Vader-gebed. Die reg-vraag is voor die brood-vraag, in die bede: "Laat u koninkryk kom."

Vanuit dié hoek kan die koms van die koninkryk in verband gebring word met die wag op die dag van die Here, asook die sekerheid van oordeel en skeiding tussen mense op daardie dag. Hiervoor is die regte lewe belangrik. Die prediker sou op dié manier die klem waarop gewag word kon plaas, en die voorbeelde van Noag en Lot gebruik as aanduiding van die gesindheid en houding wat deur God veroordeel word. Die aansluiting by die gelykenis oor waaksame gebed kan in dié benadering dien as voorbeeld vir die korrekte fokus en houding in afwagting van die dag van die Seun van die mens.

2. Noordmans bring Lukas 17 ook in `n ander oordenking ("Moraal en Evangelie") ter sprake, na aanleiding van Efesiërs 4:30. Hy vra `n vraag wat vir prediking oor ons perikoop relevant is: "Maar waar kom die moraliteit dan ter sprake?" (met verwysing na Paulus se leer). Hy sluit by Lukas 17:27 aan. Die beskrywing van die normale aktiwiteite van dié mense kan die indruk wek dat Noag se tydgenote immoreel geleef het. Noordmans waarsku egter dat sodanige afleiding nie deur Jesus se woorde gesteun word nie. Jesus sê wel (26) dat mense in sy tyd dieselfde dinge doen en op dieselfde ou patroon aangaan. Die voorbeelde van Noag se tydgenote en Lot se vrou sê klaarblyklik wat Jesus hier bedoel oor gesindheid en lewenshouding.

Ek kies `n benadering tot die prediking wat die verband tussen bewussyn van die koninkryk van God (teenwoordig en toekomstig) en die etiese dimensie van dissipelskap (gelowiges, kerk) lê. Noordmans wys op die verskil tussen Paulus se leer en dié van onder andere die Stoïsyne van sy tyd. Daar is ten opsigte van praktiese aanwysinge nie groot verskille nie, maar daar is tog `n verskil. Ook hemelsbreed. Daarom kan ons God dank, ook met die oog op ons handel en wandel, dat ons die kerk en die Bybel in ons lewe het. Die vraag is: Help die kerk en Bybel gelowiges om vandag waaksaam op die koninkryk van God te reageer en te wag? Vir dié invalshoek sluit ek aan by die voorbeelde van Noag se tydgenote en Lot se vrou, asook die oproep om te "onthou".

Die etiese dimensie van gelowiges se reaksie en wag op die koninkryk van God vra na die praktiese karakter van die koninkryk. Cassidy sê die opwindendste implikasie van Jesus se uitsprake oor die koninkryk is: "it is really all about people." Chilton en McDonald belig die praktiese karakter van die koninkryk só: "The Kingdom has emerged from dream-world and begun to convey its secrets through the world of experience." Die koninkryk van God-metafoor is die simbool wat die ontmoeting tussen die simboliese sfeer van God en Christus en die sosiale sfeer van die menslike lewe artikuleer. Dit beskryf die heerskappy van God oor mense en oor die harte van mense. Die koninkryk van God handel ten diepste oor "the kingdom of right relations" (Chilton & McDonald). Dit plaas ons prediking oor die etiese dimensie binne die konteks van die evangeliebediening en die geloofsgemeenskap.

Binne dié konteks behoort die vraag oor hoe die kerk die koninkryk (heerskappy) van God uitleef, en as "betekenisvolle ander" `n invloed op die verskillende terreine van die lewe uitoefen, aandag te kry. Chilton en McDonald sê dat die "performance of the Kingdom in the ministry of Jesus" `n spesiale soort gemeenskap geskep het, toegerus vir verkondiging en diens. Dit is `n soort gemeenskap wat die karakter vertoon van die eskatologiese gemeenskap – deurdrenk van "ultimate concern, and enacting God’s Kingdom on earth". Die hart van hierdie gemeenskap is "a sharing, selfgiving ministry". Die gemeente moet "herinner" word aan hierdie identiteit van Jesus se volgelinge en hoe hulle te midde van die teenwoordige en komende koninkryk van God, dié identiteit vergestalt.

Bibliografie

Cassidy, M 1998. The passing summer. A South African Pilgrimage in the politics of love; Chilton, B & J I H McDonald 1987. Jesus and the ethics of the kingdom; Goppelt, L 1983. Theology of the New Testament, Vol. 1; Groenewald, E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas (NGKU); Marshall, I H 1979. The Gospel of Luke. A commentary on the Greek text; Morris, L 1983. Luke (Tyndale); Noordmans, O 1990. Verzamelde Werken, Vol. 8; Reiling, J & J L Swellengrebel 1971. A translator’s handbook on the Gospel of Luke.

PREEKSTUDIE – LUKAS 17:11-19

Hierdie preekstudie val tussen die tekste van hierdie en die vorige Sondag. Alhoewel dit nie in die RCL as sodanig opgeneem is nie, word dit tog geplaas om die sirkel van Lukas 17 te voltooi.

Teks

Hierdie bekende verhaal kom slegs in Lukas voor. Dit behoort dus nie tot die tradisies wat deur Matteus, Markus en Lukas gedeel word nie. Daar is wel heelwat temas in die gedeelte wat dikwels in die evangelies voorkom: genesingswonders, genesing van melaatses in besonder, Jesus se verhouding tot melaatses, Samaritane en ander nie-Jode, en die uitspraak "Jou geloof het jou gered". Nogtans is dit moeilik om hierdie verhaal in een van die bekende literêre vorme (genres) in te pas. Dit is byvoorbeeld nie ’n tipiese genesingsverhaal nie en beklemtoon ook nie in die eerste plek Jesus se aanvaarding van mense wat deur die samelewing verwerp word nie. Die verskillende temas word hier op ’n unieke manier met mekaar verbind. Volgens party verklaarders het die gedeelte amper die aard van ’n voorbeeld of gelykenis.

Die verhaal het twee duidelik onderskeibare dele wat parallel met mekaar loop: vers 11-15a en vers 15b-19. Albei dele begin met ’n reis, beskryf dan ’n ontmoeting met Jesus, wat lei tot ’n uitspraak van Jesus, en eindig met ’n slotaanmerking (van die verteller in 5a en van Jesus in 19). Die leser word as ’t ware genooi om die twee gedeeltes met mekaar te kontrasteer. Tien word genees, een word gered (Craddock). Boonop val die klem in die eerste gedeelte daarop dat die tien almal melaatses was, terwyl die klem in die tweede gedeelte daarop val dat die een boonop ’n Samaritaan was.

Vers 11 skep ’n paar probleme vir die vertaler, omdat Lukas hier ’n ongewone konstruksie gebruik. As Jesus besig was om van Galilea oor die grens na Samaria te gaan om Jerusalem te bereik, moes Galilea eerste genoem gewees het. As Jesus op die grens langs beweeg het, wonder ’n mens wat die reisplan was. Nogtans raak hierdie probleem nie werklik die prediking nie. Die hoofpunt is blykbaar dat Jesus en sy dissipels in ’n area was waar Jode en Samaritane naby mekaar gewoon het.

Geleerdes weet nie of egte melaatsheid (Hansen se siekte) hier ter sprake is nie. Wat die Bybel (OT en N T) melaatsheid noem, kon verskeie velkwale insluit wat óf aansteeklik was óf as aansteeklik beskou is. Wat belangrik is, is dat diegene wat as melaats gereken is, nie toegelaat is om hulle normale lewe in die gemeenskap voort te sit nie. Hulle moes êrens buite die dorpe ’n heenkome vind en moes naby kontak met ander mense vermy. As iemand per ongeluk naby hulle gekom het, moes hulle diegene luidkeels waarsku dat hulle melaats is. Dit is nie verbasend dat melaatses soms in groepe saam gebly het nie, want dit was al vorm van gemeenskapslewe wat hulle toegelaat is. Let op dat hierdie melaatses van afstand af met Jesus praat.

Volgens die Ou Testament (Lev. 13-14) kon melaatses wat gesond geword het, na die priesters gaan. As die priesters geoordeel het dat hulle inderdaad genees was, is hulle "rein" verklaar. Die enkele Samaritaan sou seker nie saam met Jode na die priesters in Jerusalem gegaan het nie, maar na die Samaritaanse priesters by die berg Gerasim.

Klaarblyklik het hierdie melaatses van Jesus gehoor, waarskynlik juis in verband met genesingswonders. Hulle spreek Jesus aan as "meester". Die Griekse woord (epistate, hier in die vokatief) dui nie (soos rabbi, wat ook met "meester" vertaal word) op ’n leermeester nie, maar op iemand met gesag. Hulle wil dus nie van Jesus leer nie; hulle vra eerder dat hy sy mag gebruik om hulle te genees.

In Lukas 5:12-14 lees ons hoe Jesus ’n ander melaatse genees het. In daardie geval het Hy die persoon aangeraak en die persoon is "onmiddellik" (13) genees. Hier stuur Jesus die tien na die priesters en die genesing vind eers plaas nadat hulle van Jesus af weg is. Die wending in die verhaal kom wanneer een oplet dat hy "rein" geword en terugdraai na Jesus. Wat op die oog af ’n genesingsverhaal was, word skielik iets anders. Hierdie tegniek om ’n verhaal wat blykbaar "klaar" is met ’n onverwagte kinkel weer voort te sit, kom nogal dikwels in die Bybel voor. In sulke gevalle is dit telkens die tweede gedeelte wat die kernboodskap bevat (vgl. Du Plessis).

Hierdie een wat teruggedraai het, was, behalwe dat hy melaats was, ook ’n Samaritaan. Hy was dus, wat Jode betref, dubbeld ’n uitgeworpene. Jode het Samaritane as afvalliges en "basters" beskou en het gewoonlik nie eens met hulle gepraat nie (vgl. Joh. 4:9). Jesus self praat in vers 18 van die Samaritaan as ’n "uitlander". Dat ’n Samaritaan jou naaste kon wees, was vir die meeste Jode ondenkbaar. Daarom was die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vir hulle ’n skok. In die evangelies (veral Luk.) word Jesus se aanvaarding van mense wat deur die samelewing verwerp is, dikwels beklemtoon. Melaatses, Samaritane en tollenaars was tipiese voorbeelde van sulke "onaanvaarbare" mense. Tog val die klem hier eerder op die Samaritaan se aanvaarding van Jesus. Dat diegene buite die Joodse gemeenskap vir Jesus meer erkenning gegee het as sy "eie mense", is nog `n tema by Lukas.

Die Samaritaan val voor Jesus neer wanneer hy Hom bedank. Sommige verklaarders wys daarop dat ons nie sonder meer kan sê dat Jesus hier aanbid word nie. Die tegniese woord vir "neerval in aanbidding" word nie gebruik nie. Maar die Samaritaan prys God en dank Jesus. Dit is dus duidelik dat hy erken dat God deur Jesus werk.

Jesus se laaste woorde aan die Samaritaan verwys nie na die geloof wat tot sy genesing gelei het nie. In ’n sin het almal in geloof gehandel toe hulle, op grond van wat Jesus gesê het, hulleself aan die priesters gaan toon het. Boonop sê Jesus hier dat die Samaritaan "gered" is, terwyl daar elders gesê word dat almal "rein geword" het, of "genees" is. Hoe ons hierdie verskil moet verstaan, is ’n sleutelvraag vir die interpretasie.

Konteks

Wanneer daar oor hierdie gedeelte gepreek word, val die klem meestal op die kontras tussen die dankbare Samaritaan en die "ondankbare" nege. Daar is egter rede om versigtig te wees vir so ’n eenvoudige uitleg. In die eerste plek het ons geen rede om te beweer dat die nege God nie gedank het nie. Hulle kon dit immers langs die pad gedoen het. As ons aanvaar dat hulle op weg was na Jerusalem om hulleself aan die priesters te wys, kon hulle dit ook – heel gepas – in die tempel gedoen het. In vers 18 sê Jesus dat nie een van hulle omgedraai het om God te verheerlik nie. Oor gebrek aan dankbaarheid sê Hy niks.

Tweedens praat Jesus (19) oor die Samaritaan se geloof, nie oor sy dankbaarheid nie. In die verse net voor hierdie gedeelte (17:7-10) waarsku Jesus sy dissipels dat hulle nie dank moet verwag as hulle bloot hulle plig gedoen het nie. Stellig het Jesus in sy dienskneggestalte ook nie dank vir Homself opgeëis nie. Erkenning dat Hy God se gestuurde is, is ’n ander saak – dit is iets wat wel vir Lukas baie belangrik is.

Dalk kan ’n mens nader aan die betekenis van die gedeelte kom as jy onthou dat beide geloof en dankbaarheid woorde is wat ’n magdom verskynsels dek. Christene is geneig om te aanvaar dat geloof deurdring tot ’n mens se diepste wese en ’n totale lewensverandering meebring – wat inderdaad waar is van reddende geloof. Sulke geloof is so ’n gewigtige saak dat die kerk nooit van geloof as ’n deug wou praat nie; dit is eerder gesien as ’n genadegawe.

Maar daar is vorme van geloof wat bra oppervlakkig is en byna niks van ’n mens vereis nie. Trouens, soms is dit moeiliker om jou geloof aan iets te weerhou as om dit daaraan te gee. ’n Student het op ’n keer ’n vriend, wat ’n uitgesproke ateïs was, betrap dat hy bid en verbaas gevra: "Vir wat bid jy? Jy’s mos ’n ateïs." Die vriend het doodluiters geantwoord: "Voor ’n eksamen is daar geen ateïste nie." Nood leer bid, maar noodgeloof duur net so lank as wat die nood daar is. As geloof bloot "the power of positive thinking" is, kan ons dit kwistig rondgooi, want sulke geloof kos niks. Ons kan, as ’t ware, by God brandversekering uitneem en ons premies in goedkoop geloof betaal.

Die druk om te glo word nog sterker as jou situasie desperaat is. Vir die persoon wat sterf aan VIGS (of kanker of wat ook al) is dit moeilik om nie minstens effens te glo as iemand ’n wonderoplossing vir die probleem aanbied nie. Die kuur klink geloofwaardig omdat daar niks anders is nie. Hoogs intelligente mense laat hulle deur kwaksalwers aan die neus lei as die kwaksalwers belowe, wat niemand anders kan aanbied nie. Hoewel sulke geloof vir ’n tydjie mense se optrede radikaal kan beïnvloed, verander dit nie op die duur mense se lewens nie.

Hierdie vorm van geloof kom ooreen met ’n ewe oppervlakkige vorm van dankbaarheid. Gans ondankbaar is byna niemand nie. Trouens, daar is ’n soort spontane gevoel van dankbaarheid wat ’n mens skaars kan onderdruk. As dinge wat amper skeefgeloop het skielik tog regkom, fluister ’n mens "Dank Vader" voor jy jouself kan keer. Ongelukkig eindig dit ook net daar.

Uit hierdie hoek kan ons weer kyk na die tien melaatses. Ja, hulle het in hulle nood by Jesus aangeklop en Hom as "meester" aangespreek. Aangesien daar vir hulle weinig ander hoop oor was, kon hulle dit net sowel probeer. Toe Jesus boonop vir hulle aangesê het om na die priesters te gaan, was daar vir hulle genoeg rede om dit "in geloof" te doen. Wat anders was daar nou eintlik vir hulle om te doen? Hulle sou tog geen belangrike afsprake misloop nie! Stellig was hulle ook – op hulle manier – dankbaar toe hulle sien hulle is genees. Des te meer rede om dadelik by die priesters uit te kom en ’n hele leeftyd se verwerping eens en vir altyd agter die rug te kry. Met ’n nuwe lewe binne die Joodse gemeenskap voor hulle kon hulle skaars dink aan ’n lewe in ’n heel nuwe gemeenskap.

Die Samaritaan se dankbaarheid het hom meer gekos. Hy moes terugdraai terwyl hy nog "op die boeke" ’n melaatse was. Vir al tien het die ontmoeting met Jesus die einde van ’n ou lewe beteken, maar net vir hom het Jesus deel gehad aan die begin van sy nuwe lewe. Hier beweeg ons op gevaarlike, onseker terrein, want ons kan nie in die karakters se koppe inklim nie. Hoekom het die Samaritaan dit belangrik geag om terug te draai? Ons weet net dat dit vir hom so belangrik was dat hy daarvoor sy eie "reiniging" kon uitstel. Almal moes besef het dat Jesus, omdat Hy melaatsheid kon genees, "groter" was as die siekte. Het net hierdie man verder gekyk en besef dat Jesus in die volste sin groter was as melaatsheid – groter as die verskil tussen melaatses en "reines", groter as die verskil tussen Jode en Samaritane? Dat wat Jesus is, groter is as wat hy kan doen?

Die teks se beklemtoning dat die enkeling wat teruggedraai het ’n Samaritaan was, moet in die verklaring verreken word. In al die evangelies, maar veral in Lukas, wys Jesus met verbasing daarop dat die onwaarskynlikste mense aan Hom die grootste erkenning gee. ’n Romeinse offisier aanvaar dat Jesus eenvoudig met ’n woord sy kneg kan genees – asof dit vanselfsprekend is (Luk. 7:1-10). ’n "Slegte vrou" aanvaar dat Jesus sondes kan vergewe – wat "goeie Jode" nooit aanvaar het nie (Luk. 7:36-50). Die Kanaänitiese vrou (Matt. 15:21-28; vgl. Mark. 7:24-30) word ook vir haar geloof geprys. Terselfdertyd is dit "vrome" Jode wat Jesus se gesag en handelinge in twyfel trek. Hulle maak selfs sy wonders af as die werk van die duiwel.

In Lukas begin Jesus se openbare optrede met sy "preek" oor Jesaja 61. (Luk 4:16-30). Daar voer Jesus aan dat sy werke toon dat Hy die "gestuurde" is wat die genadejaar van God aankondig. Hy waarsku egter ook dat dit dalk slegs buitestanders sal wees wat dit erken. In sy antwoord op Johannes die Doper se vraag (Luk. 7:18-23) beklemtoon Jesus weer dat sy werke getuig dat Hy die "Een wat sou kom" (die Messias), is. Dit is wat die Samaritaan erken wanneer hy sy dank aan God betuig deur voor Jesus neer te val. Dit is wat by die ander melaatses verbygegaan het. Bovon sê tereg dat wondergeloof nie reddende geloof is nie. Wondergeloof kan lei tot die beëindiging van ’n probleem – die melaatses word genees. Reddende geloof lei tot ’n nuwe lewe waarin God se verlossingswerk in Jesus erkenning kry.

Omdat hulle siekte hulle buite die gemeenskap gedryf het en hulle lewens bedreig het, het al die melaatses Jesus se genesingswerk nodig gehad. Ons kan nie sê dat die Samaritaan Jesus nog meer nodig gehad het omdat die Samaritane vir Jode uitgeworpenes was nie. Immers, die vyandigheid het van albei kante gekom (vgl. Luk. 9:51-55). Die kern is ook nie dat Jesus in genade die Samaritaan aanvaar het nie. Die klem val daarop dat die Samaritaan vir Jesus aanvaar het, terwyl die ander bloot Jesus se gawe aanvaar het. Inderdaad, die wonder van geloof is groter as die wonder van genesing (Tiede).

God is in besonder die God van die armes, noodlydendes en verdruktes. Dit toon Jesus as Hy die tien melaatses genees. Dit beteken ongelukkig nie dat God se sorg altyd by sulke mense erkenning kry of met geloof beantwoord word nie. Net die Samaritaan – die onwaarskynlikste persoon – keer terug om voor Jesus neer te val. Net die Samaritaan ontvang die groter gawe van Jesus: "Jou geloof het jou gered" (nie genees of gereinig nie). Die ander het nie die gawe van genesing verloor nie (Plummer), want God se genade eis nie betaling nie. Hulle was dus wel wenners (en was dalk daarvoor dankbaar), maar hulle het die boerpot gemis. Hulle het hulle prys gaan haal en vir Jesus agtergelaat.

Conzelmann sê van Jesus se wonders dat hulle in Lukas getuienisse en bewyse is van Jesus se goddelike sending, maar dat hulle telkens misverstaan word. Tog was daar party mense – juis mense wat na regte nie "erfgename van die beloftes" was nie – wat raakgesien het dat God in Jesus op beslissende wyse ingegryp het in die geskiedenis. Sulke mense soek nie ’n prys wat hulle rustig kan wegdra nie, maar prys God "hardop" (15).

 

Preekvoorstel

Soos ek probeer aandui het, is hierdie eenvoudige gedeelte glad nie so maklik nie. Die gevaar is dat die prediker verstrik sal raak in al die belangrike Bybelse temas wat deel vorm van die gedeelte en die kernpunt sal mis. Ja, Jesus se genade bereik ook (en veral) die noodlydendes, die melaatses en die VIGS-slagoffers. Ja, dankbaarheid is belangrik. Tog dui die teks self daarop dat dit hier gaan om die soort geloof en dankbaarheid wat mense deel gee aan God se nuwe gemeenskap. Hoe diep gaan ons geloof en hoe ver strek ons dankbaarheid? Het ons bloot God se kospakkies (ons daaglikse brood!) nodig, of onthou ons dat ons nie van brood alleen lewe nie?

Die verskil tussen melaatses en Samaritane moet in die preek aandag kry. Daar is wel die gevaar dat lang verduidelikings met baie voorbeelde die aandag van die preektema sal aflei. ’n Kort verduideliking wat duidelik maak dat melaatses in verskriklike nood was en dat Samaritane bloot buite Israel se gemeenskap gestaan het, is genoeg. Die genade word aan die noodlydendes gegee, maar net die buitestander antwoord met diepgaande geloof en dankbaarheid.

Die gedeelte kan redelik eenvoudig uitgelê word met as tema "Hoe ver strek ons geloof en dankbaarheid?" Daar kan dan gewys word op al die vorme van oppervlakkige geloof en dankbaarheid: "Die Here help ons" en "Dank Vader". Geloof in die diepere sin kan nie van dankbaarheid geskei word nie, omdat sulke geloof juis lei tot ’n lewe van dankbaarheid. Sulke geloof verander nie net my omstandighede nie, maar my lewe. Daarby hang hierdie geloof af van die erkenning van God se werk in Jesus (Nolland), nie van erkenning van my nood nie.

Dit is dikwels diegene buite die "normale" geloofsgemeenskap wat van hulle voete geruk word deur God se genade, terwyl die "binnekring" God se sorg as vanselfsprekend aanvaar en hulle min daaraan steur. Vir die Samaritaan was die genesing ’n wonderwerk van God; vir die ander was dit bloot wonderlik om genees te wees. Daarom draai die Samaritaan om, as ’t ware voordat hy die genesingsgawe heeltemal ontvang het (hy is nog nie rein verklaar nie). Dit is die keerpunt in die teks en moet in die preek ook duidelik na vore kom. Die ander se houding is: "Take the money and run." Hulle kry hulle ou lewe terug (hulle word weer "rein"), maar net die Samaritaan kry ’n nuwe lewe.

Die slot sou kon beklemtoon dat God se genadegawe meer is as genesing of watter ander "ding" ook al. Die genadegawe is Jesus self. Ons kan, soos die nege, God se gawes gebruik om weer (met ’n tikkie dankbaarheid) meesters van ons lewens te word. Ons kan ook, soos die Samaritaan, deur die gawes gelei word om dankbare diensknegte te word (vgl. Johnson). Du Plessis sê tereg dat verlossing herstel en heil vir die hele mens bring en dat dit ’n blywende band met God impliseer.

’n Ander opsie vir die skeppende prediker is om hierdie verhalende gedeelte verhalend te preek. Ek sou dan die verhaal vertel uit die oogpunt van die nege en uit die oogpunt van die Samaritaan. Die tema bly dieselfde, maar dit kom uit die vertelling voort en word nie vooraf aangekondig nie. In die slot sou ’n mens die Samaritaan ’n "opsomming" kon laat gee (maar sonder veroordeling van die ander). So ’n preek kan baie effektief wees, mits die prediker verbeeldingryk is en hard daaraan werk. Vir so ’n preek kan ’n mens nie "riglyne" gee nie.

Bibliografie

Bovon, F (EKK); Craddock, FB (Interpretation); Du Plessis, I J (KNT); Green, J B (NCOT); Johnson, L T, The Gospel of Luke; Marshall, HI (NIGTC); Nolland, J (Word); Plummer, A (ICC); Rengstorf, KH (NTD); Tiede, DL (ACNT); Gouldner, MD, Luke: A New Paradigm; Jeremias, J, New Testament theology; Conzelmann, H, The theology of Saint Luke. Du Plessis hanteer die gedeelte besonder goed.