Ander
tekste: Jeremia
2:4-13; Psalm 81:1-2, 11-17 of Sirag 10:12-18 of Spreuke 25:6-7; Psalm 112;
Hebreërs 13:1-8, 15-16.
Prof JJF
Durand behandel Lukas 14:7-14 saam met Jesaja 65:13-25 en 2 Petrus 3:13 in Woord teen die lig III/4 wat handel oor
die prediking van die Christelike deugde. Durand behandel hierdie perikoop dan
onder die tema, ‘Om te droom’. Kortliks
die strekking van sy argument: Lukas 14:7-14 (en die ander twee Skrifgedeeltes)
koppel fantasie, droom en ‘n regverdige gemeenskap aan mekaar. Die Bybelse
fantasie of droom is anders as ander fantasieë en drome. Dit doen ‘n beroep op
die vastigheid van God se eie eskatologiese belofte. Lukas 14:7-14 wil dan nie
die toestand van regverdigheid beskryf wat daar by die finale koms van die
koninkryk van God sal bestaan nie, maar gee vir ons ‘n aanduiding van die aard
van die regverdige dade wat tot deelname aan die koninkryk lei. Dit vertel ons
wie die regverdiges is en wat regverdigheid eintlik beteken. In Lukas 14:7-14
word meer as die gewone, aanvaarde regverdigheid gevra. Aanvaarde regverdigheid
sou wees om vriende, broers en ryk bure na ‘n maaltyd te nooi. Dié mense sal dan weer die gasheer en
gasvrou na hulle eie maaltye nooi as ‘n vorm van vergoeding. Die regverdigheid
waaartoe Jesus in Lukas 14 oproep vra egter meer: Ook diegene wat nie kan
vergoed nie behoort genooi te word: die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
Durand (1996:76) skryf, “Die droom van die gemeente is daarom ‘n Geesvervulde
fantasie wat weier om in die bestaande, in die feitlikhede van die dag, tot rus
te kom. In verbeeldingryke, Geesvervulde kreatiwiteit moet die grense van die
moontlike oorgesteek en profeties verkondig word. Maar méér nog: die gemeente
moet daarna strewe om die metafoor van die einde nou reeds in hul midde waar te
maak. Die wolf en die lam moet saam kan wei binne die ruimte van die gemeente,
die geregtigheid moet daarin kan woon.”
Lukas
14:1,7-14 val, soos al die Skrifgedeeltes van die vorige vier Sondae in Lukas
se reisverhaal (9:51-19:27). In Lukas 14:1-24 vind ons vier verhale wat almal
op die sabbatdag rondom die tafel afspeel: Die genesing van die man wat aan
water gely het (14:1-6); Jesus se les vir die gaste (14:7-11); Jesus se les vir
gashere (14:12-14); Die gelykenis van die groot maaltyd (14:15-24). Ons
Skrifgedeelte bevat eintlik twee perikope (14:1,7-11 en 14:12-14). In die
eerste verhaaleenheid rig Jesus sy woorde tot die gaste, “...vertel Hy aan die genooides
die volgende gelykenis” (vers 7). In die tweede verhaaleenheid het Jesus die
gasheer in gedagte, “Hy het ook vir die gasheer gesê...” (vers 12). Die twee
verhaaleenhede kan egter steeds in een preek aan die orde kom.
Daar is
reeds by die preekstudie van die tiende Sondag in koninkrykstyd gewys op
Moessner (1990) se uitstekende studie van Lukas se reisverhaal. Moessner wys
hoedat ons reeds in Lukas 9:51-10:24 kan sien hoe Jesus en die dissipels
uitgebeeld word as reisende gaste wat afhanklik is van huise en huishoudings om
hulle te ontvang, te huisves en te voed op hul reis na Jerusalem. Die hele
reisverhaal is vol van taalgebruik wat verwys na gasvryheid aan reisigers.
Hierdie tendens word dan voortgesit in die res van die reisverhaal. Sentrale begrippe
is gasvryheid, huise, huishoudings, eet en drink, die dien en ontvang van
gaste, eenheid in huishoudings ens.
Wanneer ons
in 14:1,7-14 vir Jesus saam met ‘n Fariseër by die etenstafel aantref, word ons
herinner aan twee soortgelyke geleenthede vroeër in die verhaal (vgl. 7:36-50
en 11:37-54). Let op die volgende ooreenkomste tussen die drie verhale:
By al drie
geleenthede is daar konflik tussen Jesus en die Fariseërs.
By twee
geleenthede vind daar genesings plaas. Jesus vergewe ‘n vrou haar sondes (7:48)
en hy genees ‘n man wat aan water gely het (14:4).
By twee
geleenthede word dit eksplisiet gesê dat Jesus fyn dopgehou is (11:54 en 14:1).
Dit is duidelik wat die motief van die Fariseërs was om Jesus uit te nooi na ‘n
maaltyd saam met hulle.
By twee geleenthede
word die aanvaarde etiket rondom tafelgemeenskap die geleentheid om oor die
etiket van die koninkryk van God te praat (7:38 e.v. en 14:7 e.v.).
Die unieke
van 14:1,7-14 is dat dit ‘n maaltyd is wat op die Sabbatdag plaasvind. Die
leser weet nou al dat die tafel gedek is vir groot konflik.
Johnson
(1991:225) wys daarop dat die maaltyd in die Hellenistiese literatuur dikwels
die ruimte gevorm het waarbinne filosofiese gesprekke plaasgevind het. In die
Joodse literatuur word hierdie literêre vorm, genoem die Simposium, met enkele wysiginge oorgeneem. Die wysgere word nou
Joodse geleerdes wie se wysheid geïllustreer word deur hul toewyding aan die
Tora. Johnson verduidelik, ‘It is part of Luke’s presentation of Jesus as a
philosopher as well as a prophet, therefore, to have him so often at table.’
Wie in
14:7-14 blote sosiale kommentaar of gesprekke oor etiket sien, mis die punt van
die teks, sê Craddock (1990:176). Die maaltyd word die geleentheid waartydens
Jesus ‘n gelykenis vertel. Die gelykenis lyk oënskynlik asof dit handel oor
etiket, maar eintlik handel dit oor die koninkryk van God. Tafelgemeenskap word
vir ‘n Jesus ‘n geleentheid om iets oor die aard van die koninkryk van God te
sê. Net sodra dit lyk asof Jesus vir hooggeplaastes ‘n nuwe tegniek wil leer om
by die beste sitplekke uit te kom deurdat dat daar met ‘n skyn van nederigheid
in die agterste sitplekke gesit gaan word, keer Jesus die appelkar om. Hy
ontmasker daarmee die oppervlakkigheid van die bestaande sosiale sisteem en
gedrag.
Die
koninkryk word onthul daar waar ware nederigheid is en waar die
selfgesentreerde sosiale sisteem deurbreek word om te sorg vir die armes,
kreupeles ensovoorts. In plaas daarvan om mense uit te nooi omdat hulle jou
later weer kan uitnooi, vereis die koninkryk van God ‘n ander standaard: Nooi
diegene uit wat jou guns aan hulle nie kan terugbetaal nie. Die punt is dat God
eintlik die gasheer is in sy koninkryk en wie kan God terugbetaal? Jesus roep
sy dissipels dus op tot koninkryksgedrag: Nooi as julle gaste mense uit wat
geen status het of instaat is om dieselfde weer aan julle te doen nie.
Aangesien God ons almal se gasheer is, behoort dié van ons wat gashere (en
gasvroue!) is eintlik op te tree soos gaste. Geen wonder nie dat Lukas se
viervoudige lys van armes, kreupeles, verlamdes en blindes (vers 13) reeds in
die loflied van Maria (1:46-55) asook Jesus se ‘intreerede’ (4:16-30) onthul
word as koninkryksmense.
Craddock
(1990: 177) herinner ons dat die sinagoge en die kerk tradisioneel verbind is
tot die versorging van die armes en gestremdes. Hier doen Jesus egter nie ‘n
beroep op gelowiges om te voorsien in die behoeftes van die armes en gestremdes
nie, ‘he says to invite them to dinner. This is the New Testament’s
understanding of hospitality... Hospitality, then, is not having each other
over on Friday evenings but welcoming those who are in no position to host us
in return. Nor does the text speak of sending food to anyone; rather, the host
and the guest sit at table together’ (1990:178).
Durand
(1996:71-78) se invalshoek bied wonderlike moontlikhede vir die prediking. Dit
word egter nie hier herhaal nie. Die meeste preke oor hierdie Skrifgedeelte
gebruik hedendaagse etiket rondom die maaltyd as die vertrekpunt van die preek.
Die volgende preektitels illustreer hierdie tendens baie goed, ‘Manners of the
Kingdom’; ‘The cream of the crop, or the skimmed milk of the earth?’; ‘Welcome
to the party!’; ‘Mind your manners!’ Die preke poog dan om aan te toon hoedat
die etiket van die koninkryk van God haaks staan op die etiket wat aan die orde
is in ons sosiale strukture en praktyke. Die prediker kan veelvuldige
voorbeelde in sy / haar eie konteks vind van aanvaarbare sosiale gedrag rondom
maaltye en dan aantoon hoedat Jesus se koninkryksetiket dit relativeer. Dit is
egter baie belangrik om God as die gasheer as organiseringsbeginsel te hê.
Hieruit vloei dit voort dat ons nooit vir God kan terugbetaal vir sy gasvryheid
(genade, verlossing ens) nie. Koninkryksetiket is om gasheer en gasvrou te wees
soos wat God dit is: Gasvry sonder om iets terug te verwag aan mense van wie
ons in elk geval beswaarlik iets kan terug verwag. Dit is die soort nederigheid
waarvan Jesus in vers 11 praat en wat eintlik opkom vanuit die karakter van God
soos verteenwoordig deur Jesus Christus.
Iemand het
gevra, “Etiket? ‘n Etiket is iets wat ‘n mens om ‘n lelike blik sit om dit ‘n
bietjie beter te laat lyk.” Tóg weet ons dat etiket darem meer as dit behoort
te wees. (Die prediker behoort eintlik ‘n blikkie met ‘n etiket daarom op die
kansel te hê. Op die regte oomblik kan die etiket afgehaal word om die vaal ou
blikkie te onthul! Later in die boodskap kan die blikkie weer gebruik word)
William
Willimon, studenteleraar aan Duke Universiteit in die VSA, vertel hoedat hy die
volgende lewensles geleer het by ‘n suksesvolle besigheidsman wat mense moes
evalueer en aanstel in diens van die maatskappy: Kyk hoedat iemand eet en dit
sal jou alles vertel wat jy wil weet van so ‘n persoon se karakter. Maniere is
wat ‘n mens doen, nie vir jouself nie, maar uit agting vir ander. En dan vertel
William Willimon die volgende verhaal ten koste van homself (met die tong in
die kies!). “Ek het op ‘n stadium aansoek gedoen vir ‘n betrekking aan Yale
Universiteit en daar is onderhoude met my gevoer. Die eerste aand het hulle my
uitgeneem vir ete by Maury’s. Daar is ek toe van aangesig tot aangesig met vyf
Yale professors. My gasheer sê ek móét eenvoudig die Franse Uiesop probeer, wat
hy ook toe sommer namens my bestel. En toe kyk hy met ‘n dekadente genot hoedat
ek die snelvuur vrae probeer antwoord oor hierdie boek en daardie teorie terwyl
ek probeer om ‘n lepel deur die ondeurdringbare kaaskors te kry. As jy op ‘n
manier deur die kaaskors breek, skiet dit sop oral oor jou. Toe probeer ek eet,
en al wat ek regkry is om kos van bo tot onder oor my das en in my hare te kry.
OK. Ek het nie die aanstelling gekry nie.”
Jesus het
die mens só goed verstaan. En hy het ook verstaan dat mense se etiket rondom
die etenstafel jou alles vertel wat jy wil weet van so ‘n persoon se karakter.
Die etiket van hierdie wêreld het dikwels vir Jesus die geleentheid gebied om
mense iets te leer van die koninkryk van God se etiket.
Blaai ons
deur Lukas se evangelie, vind ons uit hoe dikwels ons Jesus aantref waar Hy aan
tafel is, besig om ‘n maaltyd saam met mense te nuttig. En elke keer is die
maaltyd ‘n geleentheid vir Jesus om sy luisteraars te leer van die koninkryk
van God. Jesus is baie bewus van die feit dat sy tyd min raak. Hy is oppad na
Jerusalem waar hy die beker van lyding moet drink, so nou leer hy andere van
die lewe rondom die etenstafel. Dit is die sabbatdag en Jesus word deur ‘n
Fariseër van alle mense genooi om saam met hulle te eet. Lukas het ons reeds by
twee geleenthede vertel van Jesus wat maaltye saam met Fariseërs nuttig, en
elke keer spat die vonke! Hierdie keer is die ete boonop op die sabbatdag. So
ons verwag die ergste. Die ete begin sommer op ‘n slegte noot vir Jesus se
gasheer toe hy ‘n siek man genees by sy huis – boonop op die Sabbatdag. Stel jouself
die verleentheid voor! Het hierdie Jesus dan nie respek vir die Wet nie? Lukas
vertel ons in vers 6 dat hulle almal maar stilgebly het. Miskien was dit nie
baie betaamlik om by ‘n vooraanstaande Fariseër (vers 1) se huis te veel van ‘n
ophef oor ‘n ding te maak nie. Maar die atmosfeer rondom die etenstafel is
sommer klaar gespanne.
Natuurlik
weet ons die belangrike Fariseër het nie vir Jesus uitgenooi omdat hy so baie
van hom gehou het of omdat dit die in-ding was om Jesus by jou aan huis te hê
nie. Lukas sê dat hulle vir Jesus fyn dopgehou het (vers 1). Hulle wou
natuurlik iets teen hom kry wat tot sy ondergang kan lei. Maar Jesus het hulle
nóg fyner dopgehou, want hy kom toe agter dat almal die voorste sitplekke aan
tafel uitsoek. Jesus sien hoe hulle etiket werk. Daarom besluit Jesus dat dit
die ideale geleentheid is om die gaste en die gasheer te leer oor die etiket
wat werklik saakmaak en wat lewe gee: Die etiket van God se koninkryk. Jesus
vertel vir hulle ‘n gelykenis.
Die
prediker kan op hierdie punt die gelykenis oorvertel (vers 8-11). Dit kan
aangevul word met ‘n meer kontemporêre weergawe: Dit laat my dink aan ‘n vrou
wat by die onthaal van ‘n troue redelik ver van die bruidstafel gesit het. Toe
een van die familielede na haar toe gaan en haar vra of sy vir haar ‘n beter
plekkie kan kry, antwoord sy, “Nee wat, die bruidspaar se vriende behoort naby
aan hulle te sit!” Later het die predikant by haar huisbesoek gedoen en daar
bars sy woedend uit, “Ek het ten minste van die vader van die bruid verwag om
my te kom vra om nader aan die bruidstafel te sit!”
So dikwels
boemerang ons pogings om nederig te wees...omdat ons nie regtig so nederig wil
wees nie. Ons sien dit net as ‘n ander manier om goed te lyk. Aanvanklik moes
Jesus se gaste gedink het, “Skitterend! Wat ‘n uitstekende tegniek om nader aan
die belangrikste gaste te sit! Al wat jy doen is om aanvanklik heel agter te
gaan sit en binnekort behoort die gasheer jou uit te nooi om nader te skuif.”
Die oomblik wat die gaste so begin dink het, het hulle reguit in Jesus se
valstrik in geloop. En hy som dit die beste op, “Elkeen wat hoogmoedig is, sal
verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (vers 11). Jesus
ontmasker die gaste se tafeletiket. (As die prediker van ‘n blikkie gebruik maak,
kan dit die ideale geleentheid wees om weer die etiket van die blikkie af te
stroop.) Die hele ou spulletjie is toe nie so bedagsaam as wat dit gelyk het
nie. Jesus konfronteer hulle wêreldse etiket wat op die uiterlike nakoming van
sekere reëls geskoei is (soos die etiket wat ‘n lelike blik moet mooimaak) met
die etiket van die koninkryk wat geskoei is op innerlike waardes van die
karakter.
Deesdae
hoor ons hoedat baie mense pleit vir goeie waardes in die samelewing. William
Willimon haal sy vriend, Stanley Hauerwas aan, “Gebruikte motors het waardes,
mense nie! Wat mense het is goeie gewoontes, gedrag, maniere. Wys my hoe iemand
optree, in die kleinste alledaagse dingetjies, en dit vertel jou wat jy behoort
te weet van dit wat die belangrikste is in so ‘n persoon se lewe.”
Vals
nederigheid is geen nederigheid nie. Die beroemde Russiese skrywer Anton Chekov
skryf in 1879 ‘n brief aan sy jonger broer waarin hy die verskynsel van vals
nederigheid baie goed ontmasker. Hy het ‘n brief van sy broer ontvang waarin sy
broer die brief onderteken met “van jou niksbeduidende, en obskure klein
broertjie.”
“Weet jy,”
antwoord Chekov, “voor wie jy jou niksbeduidendheid moet bely?” Hy gaan toe
voort om sy eie vraag te beantwoord, “Voor God, as jy wil, voor intelligensie,
skoonheid, die natuur, maar nie voor mense nie. Voor mense moet jy wys wat jy
werd is. Jy is tog nie ‘n skurk nie, is jy? Jy is mos ‘n eerlike kêrel, nie
waar nie? Wel, dan moet jy die eerlike mens in jou respekteer en erken as die
eerlike mens wat nooit niksbeduidend is nie. Moenie die proses van jou
selfaanvaarding verwar met die erkenning van jou niksbeduidendheid nie.”
Terug by
die etenstafel. Hoe ‘n mens eet, vertel wie jy is. En ‘n kind van die koninkryk
gaan nie bloot die uiterlike etiket van die etenstafel nakom omdat almal dit so
doen nie. ‘n Kind van die koninkryk leef die koninkryksetiket wat diep uit die
hart kom en nie terugbetaling verwag nie – soos wat die volgende episode aan
die Fariseër se etenstafel illustreer.
Jesus praat
nou met die gasheer. En weereens begin hy by die aanvaarbare sosiale gedrag.
Dit was heeltemal korrek om jou vriende, broers, familie of ryk bure uit te
nooi sodat hulle jou waarskynlik weer uitnooi om jou op dié manier te vergoed
(eintlik werk dit nog presies dieselfde in ons eie samelewing!). Weereens sê
Jesus eintlik dat die aanvaarbare etiket van die wêreld nie genoeg is in die
lig van die koninkryksetiket nie. Van kinders van die koninkryk van God word
méér verwag. “Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes
en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed
nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het”
(verse 13 en 14).
‘n Bietjie
humor op hierdie punt is seker in orde. Stel jouself voor hoe so ‘n ete moet
lyk waarheen armes, kreupeles, verlamdes en blindes genooi word. ‘n Amerikaanse
Baptiste prediker (Dit is altyd goed om die omstrede stories aan iemand anders
toe te skryf!) stel homself die toneel soos volg voor. “Alles is ‘n groot gemors.
Hierdie mense het nie ons maniere nie. Hulle eet sommer met hulle hande, hulle
slurp die sjampanje op. Die blinde ou steek sy vinger in die sopbak. Die
kreupele struikel en mors rooi wyn op die bruid se rok. Die verlamde raak
betrokke in ‘n bakleiery met die arm ou en probeer hom met sy wandelstaf slaan.
Maar Jesus kyk na alles met ‘n glimlag op sy gesig, want hierdie mense is sy
mense.”
Dit is
duidelik dat ons etiek, ons etiket, werk met die beginsel van wederkerigheid.
Ons doen iets vir ander mense as ‘n poging om hulle sover te kry om weer iets
vir ons te doen. Jesus verkondig ‘n radikaal ander etiket – die etiket van die
koninkryk van God. Die sleutel vir die verstaan van hierdie etiket is geleë in
God se karakter en sy verhouding met ons. God is die eintlik gasheer. Ons is
die gaste. Sy gasvryheid jeens ons is niks anders nie as sy genadige
verlossing. En ons kan niks doen om dit te verdien nie. Ons is die armes,
kreupeles, verlamdes en blindes. God as gasheer wys vir ons hoe ons gasheer en
gasvrou behoort te wees. Doen die goeie sonder om enigiets terug te verwag.
Kom ons
haal die etiket van die vuil blikkie af. Laat die mense ons maar sien soos ons
is. Dit gaan in elk geval nie oor die voorkoms van die blikkie nie, maar oor
die manier waarop die blikkie iemand kan dien. Wat wil die blikkie doen? Mooi
lyk of bruikbaar wees? Immers, Jesus was die blikkie wat gedien het... en later
weggegooi is op die ashoop. “...behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en
rykes met leë hande weggestuur” (Luk 1:53).
Bibliografie
Kommentare:
Craddock,
FB 1990. Luke. Interpretation: A
commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF
1990. Saint Luke. TPI New Testament
Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according to
Luke (X – XXIV). The Anchor Bible.
New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The
Liturgical Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the
Greek Text. The New International Greek
Testament Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament.
Minneapolis: Augsburg Publishing House.
Ander:
Durand, JJF 1996. Om te droom: Jesaja 65:13-25; Lukas 14:7-14; 2 Petrus 3:13, in Woord teen die Lig III/4: Riglyne vir die prediking oor die Christelike deugde. Kaapstad: Lux Verbi. Moessner, DP 1989. Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative. Minneapolis: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Scheffler, EH 1991. Die teologie van die die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks. Pretoria: Orion.