Lukas 13:31-35 (Danie van Zyl)

11 Maart 2001

Derde Sondag in Lydenstyd

 

Ander Tekste: Genesis 15:1-12, 17-18; Psalm 27; Filippense 3:17-4:1

 

Teks

Wanneer ons die Bybel lees, spreek 'n hele klomp voorkennis en voorveronderstellings reeds mee by dit wat ons in die teks lees of hoor.  Ons leef lank ná die gebeure waarvan in die teks sprake is; ons ken die afloop van die verhaal baie goed; ons het die teks al baie gelees en die uitleg daarvan, tenminste binne ons bepaalde teologiese en kerklike tradisie, in prediking ensovoorts gehoor.  Ons weet dikwels byvoorbaat wat die teks sê.  In die interpretasiekunde staan hierdie dinge wat tussen ons en die teks staan en wat ons verstaan van die teks onontkombaar beïnvloed bekend as ‘die wêreld voor die teks’.  Aan die een kant help dit ons om die teks beter te verstaan, maar aan die ander kant verblind dit ons ook weer vir sekere dimensies in die teks. 

Ons lees gewoonlik 'n teks, soos Lukas 13:31-35, net op die ‘gebeure vlak’, dit is as 'n direkte weergawe van die gebeurtenis.  Maar Lukas was nie daar toe Jesus hierdie uitsprake gemaak het nie.  Hy het dit later versamel en op 'n sekere manier georganiseer in sy weergawe aan sy hoorders (daarom verskil die verbande waarin die en ander uitsprake in die verskillende Evangelies voorkom van mekaar – vergelyk hoe Matteus verspreide uitsprake volgens Lukas in die Bergpredikasie byeenbring).  Alhoewel ons teks binne die breër verband van Jesus se laaste reis na Jerusalem staan (gebeure vlak), volg Lukas se vertelling eerder 'n tematiese lyn.  Een element daarvan is dat hy kort-kort Jesus se naderende kruisiging ter sprake bring.  Daarmee bewerk hy 'n groeiende verwagting by sy lesers.  Sy lesers het uit prediking al 'n mate van voorkennis van die uiteinde van Jesus se lewe gehad.  Hulle het dus méér geweet (eerste leser vlak) as die mense met wie Jesus gepraat het (gebeure vlak).  Maar tog het hulle minder geweet as ons (latere/huidige leser vlak), wat die interpretasie van die kruis deur Paulus en andere én 2000 jaar se oorlewering daarvan nie kan ontsnap nie.  Terwyl ons hierdie ‘meerdere kennis’ moet benut, moet ons tog ook probeer om weer nuut na elke teks te luister om iets te verstaan van hoedat Jesus se dissipels (gebeure vlak) en Lukas se hoorders (eerste leser vlak) dit wat ons nou lees, gehoor het. 

Op die gebeure vlak lê die twee dele van ons teks uit mekaar: 13:31-33 speel klaarblyklik in Galilea af, waar Herodus die politieke gesagvoerder was; 13:34-35 speel in Jerusalem af (vgl. Matt 23:36-39, 24:1).  Lukas kombineer dit egter in sy vertelling met 'n bepaalde doel:  vanaf hoofstuk 9, waar hy begin om Jesus se reis na Jerusalem te beskryf, gee Lukas kort-kort vooruit-flitse op die kruis (9:18v, 9:44v, 12:49v) om sy lesers bewus te hou dat Jesus oppad is na die kruis.  Ons teks dien dieselfde doel, en gee daar besondere aksente aan.

Dit doen Lukas deur die verse rondom bepaalde kernwoorde te konstrueer.  Die sentrale kernwoord, waardeur hy die twee insidente kombineer, is doodmaak.  Teenoor Herodus wat Hom wil doodmaak stel hy dat dit eintlik Jerusalem, die kern van die Joodse geloofgemeenskap, is wat profete, en dan ook vir Jesus doodmaak (vgl. ook sterf en stenig :33b,34b).  Teenoor Herodus wat Jesus wil doodmaak, stel hy dat Jesus na Jerusalem moet gaan.  Jesus se begeerte (ek wou) vir Jerusalem word gekontrasteer deur Jerusalem se jy wou nie.  Snydende en pynlike ironië kom hiermee na vore:  nie die maghebber Herodus het beheer oor sy lewe nie, maar Jesus self; nie die wêreldlike mag nie, maar die kerk van die tyd, Jerusalem, is verantwoordelik vir sy dood; Jesus begeer Jerusalem se heil, Jerusalem soek sy dood.  Ook die teenstellende metafore versterk die ironie: die teenstander(s) is die sluwe jakkals, Jesus die ontfermende hen.

1.         Lukas se vertellingslyn, waarvolgens Jesus doelbewus na Jerusalem beweeg (9:51, 13:22), kry in ons perikoop besondere klem: 

Hy laat hom nie deur Herodus se voornemens afsit nie (13:31).  Hy, en nie Herodus nie, het die hef in die hand.  Volgens Matteus wou Herodus se vader Hom as kind al doodmaak (2:13).  Of Herodus se vroeëre navraag na Jesus dieselfde doel gehad het is nie duidelik nie (vgl. Luk 9:9v. met Matt 2:7v).  Toe hy later deur Pilatus ingeroep is om verantwoordelikheid vir Jesus se kruisiging op hom te probeer afskuif, het hy dit slinks in terme van sy politieke jurisdiksie van hom afgeskuif, want Jesus was toe in Pilatus se magsgebied (Luk 23:6-12).  Dat Jesus hom 'n jakkals noem wys dat Jesus sy ware karakter geken het. 

Uitleggers verskil oor die rol van die Fariseërs in die verband.  Op die oog af staan hulle hier simpatiek teenoor Jesus, daarin dat hulle Hom kom waarsku (vgl. Luk 13:1).  Maar vroeër het Jesus juis telkens hulle huigelary uitgewys (11:14, 11:37-12:3).  Dit is bes moontlik dat Jesus met ‘jakkals’ nie net na Herodus verwys het nie, maar op bedekte wyse vir die Fariseërs wil wys dat hulle optrede net so slinks is.  Hulle was immers deel van die sisteem wat inderdaad vir die dood van Jesus verantwoordelik sou wees.  Hulle was net so onbekeerlik soos Jerusalem....

Jesus is in beheer van sy reisplan, Hy weet byvoorbaat hoe sy lewe moet verloop (13:32).  Hy beskryf sy bediening hier in terme van duiweluitdrywing en genesing.  Afgesien dat dit 'n prominente deel van sy bediening was, was dit juis die dinge waaroor Hy met die Fariseërs gebots het (6:6v., 11:14v., 13:10v.).  Maar dit is insgelyks bewys van wie Hy is, dis tekens van sy messiasskap (7:22, 9:9).  Dit sal Hy volbring.  ‘Vandag, more en op die derde (dag)’ is 'n Aramese segswyse wat op 'n vaste en voorsienbare tyd dui (vgl. Dan 12:7, Op 12:14).  Anders as mense (Jak 4:13-15) weet Hy presies wat sy toekoms inhou.

Sy einddoel word met 'n baie gelade woord aangedui: dit is dieselfde woord waarmee Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het (Joh 19:30).  Niks en niemand, nie die duiwel (vgl. vorige week se preek), of Herodus of die Jode of die dood sal Hom weerhou om sy doel te bereik nie.  Inteendeel, hulle word almal instrumente tot die bereiking van die doel, soos Lukas se lesers duidelik sou besef.  Dit is moontlik om in die uitdrukking die ‘derde (dag)’ ook reeds 'n sinspeling op die opstandingsdag te hoor (Luk 9:22).  Ook die dood, die kernwoord van die perikoop, bepaal nie sy lot nie, maar God.

Ja, Hy is ‘in elk geval’ oppad, nie omdat Hy van Herodus wegvlug of omdat die Fariseërs Hom adviseer nie, maar omdat Hy doelbewus besig is om dit waarvoor sy Vader hom gestuur het te kom vervul (13:33, Heb 10:7).  Uitleggers maak heelwat van die uitdrukking ‘ek moet’ (deí me).  Dit druk nie determinisme uit nie, maar wel determinasie; Hy doen dit nie omdat Hy gedwing word nie, maar omdat Hy Hom volkome aan die doel vir sy koms na die aarde toegewy het.  Jesus se reaksie suggereer 'n houding van rustige vasberadenheid, met geen teken van angstigheid of twyfel nie.  Hy weet wat wag.  Tot aan die tafel by die instelling van die nagmaal het Hy met die determinasie voortgegaan.  Net in Getsemané oorweldig die grootheid van die taak Hom vir 'n oomblik (22:41-46).

 

Terwyl die eerste deel van die perikoop beklemtoon dat Jesus doelbewus na Jerusalem gaan, word die doel waarvoor Hy gaan in die tweede helfte duidelik gestel:

Hy gaan om te sterf (13:33b,34a).  Hy skaar homself by die tradisie van boodskappers van God wat oor die eeue na die kern van God se volk gestuur is en telkens op minder of meerdere blatante en gewelddadige wyse verwerp is.  Maar Hy is nie net een van hulle nie, Hy is die Seun, die laaste en finale (vgl. gelykenis van die landbouers, Luk 20:9v.).  Dat Hy die finale is word bevestig deur die profesie van vers 35.  Dat dit nie vir 'n profeet moontlik is nie om buite Jerusalem te sterf nie, is nie determinisme nie, maar dui op 'n feit wat deur die geskiedenis bevestig is (vgl. 6:23, 11:47-51, 2 Kron 24:20-22, Hand 7:52v.).  Daarmee word ook die posisie van Jerusalem skerp geteken (vgl. 2.3 onder). 

Dat Jesus Homself hier as profeet identifiseer (vgl. 4:24) vat as ware die hele perikoop saam: Hy weet byvoorbaat wat met Hom gaan gebeur.  Sy uitspraak van Goddelike ontferming oor Jerusalem is tipies van die Ou-Testamentiese profete wat telkens God se heilswil en heilsbegeerte vir sy volk verkondig het.  Die enigste verskil is dat dit nou die Goddelike Ek self is, wat aan die woord is.  Uitleggers herken in die besonder sprekende beeld van 'n hen se selfopofferende beskerming aan haar weerlose kuikens (teenoor die sluwe jakkals!) 'n feministiese dimensie aan die karakter van God.  (Vir ander sulke beelde in die Bybel, vergelyk Deut 32:11-12, Rut 2:12, Ps 17:8, 91:3v, Jes 31:5).  Hierdie is nie 'n direkte oproep tot bekering nie, maar 'n profetiese klae oor onbekeerlikheid (vgl. Luk 14:15v., Ram 9:1v.)

Maar ook die oordeelsaankondiging in vers 35a is profeties.  Die uitdrukking wat hier gebruik word herinner aan die situasie met die verwoesting van Jerusalem deur Nebukadnesar met die begin van die Babiloniese ballingskap in 587 v.C. (Miga 3:12 =Jer 26:18).  Lukas se lesers het by die lees van die teks reeds geweet dat die woorde met die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C. in vervulling gegaan het.  Vir Jerusalem wat Hom doodmaak wag daar ondergang, soos wat tot vandag toe deur die klaagmuur getuig word.  Maar vir Hom wag daar 'n nuwe toekoms (13:35b).  Hulle sal Hom anders sien, as die oorwinnende Messias (Ps 118:26).  Dit sou vir 'n kort oomblik met die intog op Palmsondag gebeur (Luk 19:37v.), net om om te sit in 'n ‘kruisig Hom’ (vgl. en jy wou nie :34b).  Maar Lukas se lesers, wat ook Handelinge 1:10-11 geken het, sou in die dag iets van finale oorwinning by die wederkoms herken het wanneer elke knieg sal buig en elke tong bely (Fil 2:8-11). 

Hy moet in Jerusalem sterf (34b,35a).  Dit gaan hier inderdaad nie maar oor 'n geografiese lokaliteit nie.  Jerusalem is die kern van God se bemoeiing met die mensdom tot op daardie stadium.  Meer spesifiek staan dit as simbool van die Joodse volk, die tempel en die godsdienstige leierskap wat vir sy dood verantwoordelik sou wees (Luk 9:22, 23:13-25, Matt 27:25).  In kort: Jerusalem staan vir die kerk van die tyd.  Hulle wat as ware met die sleutels van die koninkryk toevertrou is, het deur hul geskiedenis bewys dat hulle die grootste struikelblokke en teenstanders van die koninkryk is, omdat hulle van God se ontferming oor die nood van mense niks verstaan nie, maar dit net vir hulself toeeïen (vgl. Luk 15:1v.).  Vergelyk hieroor verder by Konteks

Konteks

As teks wat binne sy vertellingsverband bedoel is om die verwagtingslyn na die kruisgebeure op te bou, pas dit baie goed in as lydenstydteks. 

Gomes (1985) lê veral klem op Jesus wat as ware profeet in Jerusalem sterf, terwyl dit die lot van die valse profeet is (Deut 13:5 e.a.).  Jesus word inderdaad op 'n valse aanklag van laster tereggestel (Joh 19:7, Lev 24:16).  Hy wys ook dat die paradoksale verband tussen God se oordeel en ontferming oor die mens in sonde hier 'n besondere uitdrukking vind.

Kysar (1988) sê Jesus word hier voor die konkrete versoeking gestel om sy agenda deur die politieke maghebber te laat bepaal.  Die kerk en gelowige moet telkens vra deur wie ons ons agenda in die navolging van Jesus laat bepaal: ekonomiese belang, populariteit, sosiale druk, populêre godsdiens, of die kruis.

Pervo (1994) vind hier dat ‘God is willing to play the chicken against the fox’, dit wil sê, die pad van die kruis is nie die pad van mag nie, maar van die magtelose.  Die pad van die koninkryk is nie ‘plain sailing’ nie; maar dit is die weg waarop en waardeur die nuwe uit die oue gebore word.

Anderson (1997) sê 'n preek oor die perikoop moet bowenal die gemeente onder die indruk bring van die moet (:33).  Mens moet besef dat daar geen ander uitweg uit die sondebestaan is nie, behalwe die kruis.  Hy wys ook op die ironie in die teks in Jerusalem (=kerk?) as stad van vrede (Gen 14:18 salem-> shalôm) en stad van geweld. 

Die navolging van Jesus is een van die sub-temas in die Lukasevangelie.  Dit vorm bepaald die direkte konteks van ons teks (13:22.v, 14:25v.).  In die verband dien die teks dus as 'n baie duidelike voorbeeld van wat dit beteken om jou kruis op te neem.  Wanneer hierdie lyn in die prediking geneem word, handel die teks nie net oor wat Jesus vir ons gedoen het nie, maar ook die pad waarop Hy ons geplaas het en voorgegaan het.

Die omruiling van rolle is 'n ander sub-tema, wat uit die verband aan die teks 'n bepaalde perspektief gee (vgl. 13:30, 14:14v., 14:21v.): Jerusalem verteenwoordig die teendeel van wat dit bedoel was om te wees.  Teenoor die Romeinse staat wat, veral in die tyd van Lukas se eerste lesers, op die oog af die grootste bedreiging vir die vir die boodskap van die kruis was, stel die teks (die moontlikheid) dat dit diegene kan wees aan wie die boodskap toevertrou is.  Dalk kan dit destyds in verband gebring word met die onwilligheid van die Joodse kerkleiding om nie-joodse gelowiges op eie waarde te aanvaar, oor wie Lukas in Handelinge 10,11 en 15 spesifiek skryf.

Die kernpunt van die teks is dat Jesus moet gaan om doodgemaak te word.  Met hierdie noodsaaklikheid het Hy na die wêreld gekom (Luk 4:43, 9:22).  Dit gaan hierin nie om die besluite of dwang van mense en owerhede, of van onbekeerlike Jode nie.  Die moet vind ‘verklaring’ alleenlik in die karakter van God, waar oordeel en ontferming/redding mekaar ontmoet.  Ons teks getuig van die beslissende en noodsaaklike van die kruisgebeure: daarsonder is daar geen heil nie.  Buite die kruis is daar gee evangelie nie.  Sonder deelgenootskap aan die versoeningsoffer aan die kruis is daar geen deelgenootskap aan die koninkryk nie.

Jonker (WTL) skryf dat die sonde ten diepste die kruis noodsaaklik maak.  In die prediking gaan dit nie oor sonde in die algemeen of oor ander (Jerusalem) se sonde nie, maar oor die gemeente se eie sonde se aandeel aan die kruis. 

Ons teks sê dat niks of niemand God se heislplan kan frustreer of ontspoor nie.  Jesus kom die heilsweg loop tot op die derde dag, tot dit volbring is, aan die kruis, die oop graf en tot op die dag wanneer elke tong sal bely.

Die appél van die teks lê in die ironiese werklikheid dat dit (dikwels) nie die wêreldlike magte is nie, maar die kerk (-leiding) wat nie verstaan waarmee God besig is nie.  Dit is hulle/ons wat met soveel mag, sleutelmag beklee is wat die grootste gevaar vir die ontsporing van die evangelie inhou, juis wanneer die kruisweg en die kruis uit die oog verloor word.

Dit was juis die volksleiers wat meestal in die Ou Testament deur die profete aangespreek is.  Sedert die terugkeer uit ballingskap het daar 'n stelsel in Juda ontstaan waar die sosiale, politieke en ekonomiese gesag by die priesters en rondom die tempel gesentraliseer geraak het.  Dit is hierdie stelsel wat in die Nuwe-Testamentiese tyd sy verlengstuk in die Joodse Raad, wat uiteindelik vir die kruisiging van Jesus verantwoordelik was, gevind het.  By hulle het dit uiteindelik om mag en selfhandhawing gegaan.  Die geestelike en fisiese nood van gewone mense, die mense met wie Jesus gemeng het, die ‘sondaars’ het hulle nie aangegaan nie.  Van die kruis, van selfprysgawe ter wille van andere, het hulle niks verstaan nie. 

Wat die saak so erg en ernstig maak is dat die Joodse leiers Jesus nie uit ‘boosheid’ gekruisig het nie, maar in dodelike erns vir die saak van God – soos hulle dit verstaan het.  Hulle het Hom as 'n bedreiging vir die koninkryk soos hulle dit verstaan het, gesien.  Hulle het Hom as Godslasteraar gekruisig.  By hulle het teologie ideologie geword, want dit het hulle belange dienstig geword...

Hierdie ideologiese verblinding, waar ons so besig raak met die kerk en die oorlewing van die kerk dat mense in nood uit die blikveld verdwyn, is die grootste struikelblok in die pad van die evangelie.  Die kruis sny alle triomfantalisme by die wortel af, sê Jonker (bl. 16).  Die pad van die evangelie is die pad van die kruis.  Die lydensgeskiedenis het 'n voor- en na-geskiedenis:  voor Jesus en na Hom het profete vir die heil van mense al gesterf.  Ons teks konfronteer alle kerklike strukture, van Bybelstudiegroepe en kerkraadskommissies tot sinodes, met die kruis.  Dit daag ons om te vra hoe ons met die sonde en nood van mense besig is. 

'n Ander aspek wat hierby kan aandag kry is die gevaar om soos die Fariseërs wolf-wolf te skree teen Herodus, die staat of ander ‘goddelose’ strukture.  Inderdaad is daar dinge soos godsdiensvryheid, aborsiewette ensovoorts wat duidelik onder oë geneem moet word.  Die probleem en gevaar is dat diegene wat so skree dalk deel (van 'n sisteem) mag wees wat die hart van die koninkryk nie goed verstaan nie en, onder die dekmantel van vroomheid, veel groter bedreiging vir die Evangelie beteken as diegene ‘daar buite’.  Al wou die Fariseërs vir Jesus soos 'n hen beskerm, wys Hy dat hulle ook jakkalsbloed in hulle omdra.  Hy is die hen, hulle die onwillige kuikens...

Preekvoorstel

Ek het (regtig) onlangs 'n opebrief van besorgde Christene oor die e-pos gekry.  Hulle het dit oor die magsmisbruik, selfbevoordeling ensovoorts deur die leierskap van 'n bekende en hoogaangeskrewe sendingorganisasie in Kwazulu-Natal (weet nie of ons naam Kwasiza-Bantu moet noem nie).  Daar is sprake dat die leiers die organisasie Die Weg begin noem.  Oor die meriete van die saak kan ek nie oordeel, maar dit wys dat sulke verwordings op die mees onwaarskynlike plekke voorkom.  'n Belangrike aspek van die reformatore se opstand teen die Roomse Kerk van destyds was die mag van die leierskap en die skeef-ontwikkellings wat as gevolg daarvan in die leer en praktyke van die kerk ontwikkel het....

Nader tuis in ons eie tyd dien die voorbeeld van hoe die teologie en ideologie van apartheid ons op 'n dwaalspoor gebring het.  Maar ook in die (haastige) soeke na kerkeenheid het dinge nie altyd goed verloop nie.  Daar is verhale van mense in leiersopsisies wat, tenminste vir die gevoel van baie, die situasie as ‘t ware ryp gedruk het...

[Hierdie voorbeelde kan na gelang van omstandighede, maar met die nodige sensitiwiteit uitgebou word]. 

Lê nou die verband tussen hierdie voorbeelde uit ons eie tyd en kring met ‘Jerusalem’ van ons teks:  Waarom is Jesus deur die Joodse kerkleiding gekruisig?  Hulle het nie verstaan waarom dit in God se heilsplan gaan nie.  Hulle was besig met hulle eie teologie en hulle eie verstaan van die koninkryk.  Vir hulle het dit oor die handhawing van idees en sisteme gegaan.  En onlosmaaklik daarmee vervleg was die sekuriteit van hulle eie posisies.

Wat hulle nie verstaan het nie, was die boodskap van die profete, die boodskap dat God se pad van verlossing die pad van selfprysgawe, van offer en dien, die pad van die kruis is.  Daarom het hulle die profete wat hul aangespreek het doodgemaak; bring die gelykenis in Lukas 20:9 en volgende verse hier by.

Natuurlik is dit haas onmoontlik om jou eie blindheid raak te sien: in al die gevalle in ons openingsvoorbeelde het die aangeklaagdes (aanvanklik) die aanklagte ontken.  Ons teks sê "Ek wou julle (ook deur My profete) bymekaarmaak soos 'n hen met haar kuikens doen".  "Maar julle wou nie...!"

En wie is die profete?  Dis hulle wat die dringende boodskap van die kruis, van God se ontferming en vleeswording in die nood van mense, maar ook die boodskap van bevryding van verblindende magte van mag en geld en posisie en voorspoed en aansien verkondig.... En daar was profete wat voor die Profeet gesterf het, maar daar is steeds profete wat die kruisweg voortsit...

Omdat die Profeet MOES sterf is dit moontlik dat die kuikens wel by die Hen skuiling soek, dat die Jerusalem-leiers wel bekeer.  Want bekering kom waar die ideologie van die kerk weer in lyn met die visie van die koninkryk kom, waar die kruis weer van simbool van mag na simbool van sterf en versoening en diens terug verander word.

Natuurlik sien ons, van dominee, kerkraad tot getroue wyks en Bybelstudie lid onsself graag eerder as profeet as Jerusalem-leier.  Dis dus vir òns wat hierdie teks daar is, dis vir ons wat lydenstyd daar is, dis vir ons wat die kruis daar is.  Dis vir ons wat Jesus MOES sterf, sodat ons uit ons verblindings bevry kan word.  Hy HET dit volbring tot op die derde dag, en sal tot op die jongste dag. 

"Here, openbaar aan ons die magte wat ons bind en verblind.  Maak ons tot profete, gesante van u kruis".