Ander
tekste: Jeremia 1:
4-10; Psalm 71: 1-6 of Jesaja 58: 9b-14; Psalm 103: 1-8; Hebreërs 12:18-29.
By verlede
week (Die Tiende Sondag in koninkrykstyd) se uiteensetting van teks en konteks
word daar verskeie opmerkings gemaak oor die Lukaanse reisverhaal (9:51:19:27)
as die konteks waarbinne ook Lukas 13:10-17 verstaan moet word. Lesers kan dit
gerus weer raadpleeg vir meer agtergrond.
Hierdie
verhaal van die genesing op die Sabbatdag verskyn slegs in die Lukasevangelie
en dit roep ‘n soortgelyke insident in 6:6-11 in herinnering. Die ruimte
waarbinne hierdie genesing afspeel, asook die verskillende rolspelers verdien
besondere aandag. Elliott (1991:4) het reeds baie oortuigend aangetoon dat
Lukas die tempel en die sinagoge met al die agente wat dit verteenwoordig stel
teenoor die huishouding en agente wat huishoudings verteenwoordig. Algaande
word die tempel en sinagoges as die plekke waar God gedien word en teenwoordig
is vervang deur die huishoudings as die ruimtes waarbinne God waarlik gedien
word. Hierdie patroon word voortgesit in Handelinge.
Dit is
opvallend dat hierdie unieke genesing wat slegs by Lukas te vinde is, die
genesing van ‘n vrou is. Nie alleen is die sinagoge die ruimte waarbinne
hierdie wonderverhaal afspeel nie, maar dit stel ook die verteenwoordiger van
die godsdienstige status quo (die hoof van die sinagoge – ‘n man) teenoor
iemand aan die heel ander kant van die godsdienstige spektrum (‘n vrou – boonop
gebreklik). Daar is reeds dikwels aangetoon dat dit Lukas se plan is, “om die
evangelie te teken as ‘n respons van Jesus op hierdie lyding met die oog op die
opheffing of verligting daarvan, nie slegs deur God en Jesus nie, maar ook deur
die hoorders van die Evangelie by wie hy poog om ‘n deernis vir die lydendes te
wek” (Scheffler, 1991:62). En hier in Lukas 13:10-17 vind ons dat Jesus die
lyding van iemand aan die verste uiteinde van die godsdienstige leer genees om
daarmee in konflik te kom met iemand heel bo aan die leer.
Baie
belangrik is Tannehill (1986:132) se waarneming dat Lukas dikwels van
manlik-vroulike pare gebruik maak. ‘n Manlike karakter sal dus dikwels
afgewissel word met ‘n vroulike karakter in dieselfde situasie. Uiteindelik wys
Tannehill (1986:135) dat die twee genesings op die Sabbat (13:10-17 en 14:1-6)
so ‘n paar vorm, alhoewel die een nie onmiddellik op die ander volg nie. Die
twee genesingsverhale het heelwat in gemeen:
Beide is
genesings op die Sabbatdag.
Beide
karakters benodig genesing en word op dieselfde manier bekend gestel in die
Grieks, “En daar was ‘n man/vrou...”
As
verduideliking van sy genesing op die Sabbat, verwys Jesus in beide die verhale
na die wyse waarop diere behandel word op die Sabbat.
Beide die
verhale sluit af met verwysings na die skare wat óf skaam gekry het óf nie kon
antwoord nie.
In die een
verhaal (13:10-17) genees Jesus ‘n vrou en in die ander verhaal (14:1-6) genees
Jesus ‘n man. Tannehill verduidelik dat hierdie dubbele patroon belangrik is
omdat dit aantoon hoedat vroue deel in wat Jesus bied en dat vroue se ervaring
ewe geldig is as toegang tot Jesus se boodskap.
Dit lyk
asof die vrou nie na die sinagoge gekom het om genesing te ontvang nie. Dit is
amper asof sy ongesiens wou inglip want in haar tyd het siekte vir die Jode
gewys op groot sonde. Sy vra nie om genesing nie. Maar Jesus genees haar.
Wanneer die hoof van die sinagoge sy ongelukkigheid oor die genesing uitspreek,
rig hy sy opmerkings aan die skare. Hy is waarskynlik nie ontevrede met die
plek waar die genesing plaasgevind het nie, maar met die Sabbatdag waarop dit
gebeur het. Dit lyk asof hy beswaar maak op grond van die Joodse idee dat dade
soos genesings nie op die Sabbat mag plaasvind nie, tensy lewe bedreig is. Die
vrou het agtien jaar gely en kon sekerlik nog ‘n dag langer wag. Jesus se
antwoord wys egter daarop dat die koninkryk van God nie sal wag nie. Jesus sien
huigelary in die leier se opmerkings en veroordeel almal wat met hom saamstem.
Heelwat word gemaak van die wyse waarop Jesus argumenteer. Die hele twisgesprek
wat op die wonder volg is ‘n spel met die begrippe, ‘losmaak’ en ‘bind’. Jesus lê die geweldige ironie bloot. Hy mag
die vrou wat gebind was deur die Satan nie op die Sabbatdag losmaak nie, maar
die mense mag hulle donkies wat aan die krip vasgebind is losmaak en weglei.
Let op hoedat Jesus die vrou as ‘n kind van Abraham stel teenoor ‘n blote
donkie om die ironie net verder te verhoog.
Smit (1987:
213-220) pleit dat die prediking van die wonders moet kennis neem van die
breëre, sistematiese verbande waarin die kerk die wonders verstaan het en
steeds probeer verstaan. Hy gee dan vier sulke verbande wat kortliks hier
saamgevat word.
Die wonders
moet verstaan word in verband met die koninkryk van God. Die wonders is tekens
dat God se koninkryk reeds aangebreek het in Christus, maar terselfdertyd ook
tekens dat dit vas en seker sal kom. In
dié sin vervul die wonders primêr ‘n troostende of parakletiese rol.
Dit is
verder belangrik om te onthou dat die koninkryk in Christus kom. Christus is die outobasileia, die koninkryk self, die koninkryk-in-gestalte. In sy
persoon, woorde, werke, lewe en lot, breek die koninkryk aan. In dié sin vervul die wonders primêr ‘n
missionêre, getuigende, werwende of geloofskeppende rol.
In die
wonders word iets van die aard of
karakter van die koninkryk van God sigbaar. Die wonders openbaar nie slegs
die feit dat die koninkryk kom nie,
maar ook iets van hoe die koninkryk
is. Dit is die koninkryk van genade,
goedheid, liefde, heil en vreugde. Die wonders moet eintlik gesien word as paradigmas van God se genade. In die
wonders leer ons hoedat Jesus alle mense sien in die skaduwee van die dood en
wil Hy hulle daaruit bevry. Hierin word dit duidelik hoedat God Homself skaar
aan die kant van die lydende mens. Wat die aanskouers en hoorders die meeste
beïndruk, is dus nie die aanskoulikheid of die bonatuurlikheid nie, maar die goedheid. In dié sin vervul die wonderverhale tegelyk ‘n vreugdevolle en
voorbeeldig-inspirerende rol.
Die
wondervertellings demonstreer ook die wyse waarop die koninkryk ontvang word.
Die aard van geloof kom telkens ter sprake. In
dié sin vervul die wonderverhale ‘n pastorale of geloofversterkende rol.
Uit die
derde sistematiese verband hierbo word dit duidelik dat Lukas 13:10-17
wonderlike moontlikhede inhou om die aard of karakter van die koninkryk van God
sigbaar te maak. En in Lukas 13:10-17 skaar God Homself inderdaad op ‘n
besondere manier aan die kant van die lydende mens. Vir die prediking van
hierdie gedeelte is dit die moeite werd om kennis te neem van Walter
Brueggemann se perspektief op die teks as ‘kontrateks’. Hiermee maak Brueggemann dit moontlik om die
deurbreek van die koninkryk van God in wonderverhale soos dié een in Lukas
13:10-17 vir die prediking (en die ‘gewone’ leser / luisteraar) toeganklik te
maak.
Brueggemann
(1994:13) skryf oor die rol van verbeelding as die menslike vermoë, ‘to
picture, portray, receive, and practice the world in ways other than it appears
to be at first glance when seen through a dominant, habitual, unexamined lens.’
Die mens se verbeelding is ‘n geldige manier om te ken. Só voorsien die Skrif
dan ‘n paradigma waarmee gelowiges hierdie verbeelding beoefen. Hier is dit
verhelderend om te dink aan Paulus se oproep aan Christene in 1 Korintiërs
7:29-31 om te lewe as of... ‘The
problem with “as if” is that the phrase clearly acknowledges that the practice
of faith is contrary to fact. That
is, act other than life really is’ (1994:14). Wanneer Paulus die gelowiges dan
oproep om te lewe “as of’ hulle vry is van die sorge van die wêreld, bedoel hy
dat hulle hul status as vry mense moet aanvaar om dan daarvolgens te leef – al
word mens volgens jou stand in die samelewing as ‘n slaaf omskryf.
Hierdie ‘as
of’ het twee funksies. Enersyds vervul dit ‘n kritiese, negatiewe funksie. Dit
verwerp as vals die ‘as of’ wat tot nou toe as algemeen waar aanvaar is.
Andersyds vervul dit ‘n positiewe funksie. Dit bevestig ‘n nuwe ‘as of’ en maak
eintlik daarvan ‘n ‘is’. ‘It accepts an alternative construal of reality as a
legitimate and valid one, thereby displacing another “as” that is the imposed
work of some other act of imagination’ (1994:14).
Die
gebreklike vrou se sosiale konteks het haar anders omskryf – as gebreklik,
disfunksioneel en waardeloos. Sy het hierdie ‘as of’ oor haar lewe aanvaar en
daarmee saam geleef. Lukas 13:10-17 is ‘n ‘kontrateks’ in dié sin dat dit Jesus
uitbeeld as die een wat haar ou ‘as of’ bestaan teenstaan en haar werklikheid
anders verbeel. Sy aanvaar hierdie kontra-uitspraak oor haar lewe en “...sy het
onmiddellik regop gestaan en God begin prys” (vers 13). Jesus weier om die
gegewe werklikhede van die samelewing te aanvaar en verwoord ‘n ander
werklikheid. Die nuwe ‘as of’ wat Jesus oor haar lewe uitspreek is, “...hier is
‘n vrou, ‘n kind van Abraham...” Jesus gee haar ‘n ander identiteit. Haar ‘as
of’ word ‘n nuwe ‘is’. Dit is hier waar
die deurbreek van die koninkryk van God sigbaar word. Dit is die ‘kontrateks’.
‘n Preek
oor Lukas 13:10-17 behoort erns te maak met die vrou se genesing as teken van
die inbreek van die koninkryk van God haar lewe. Hierdie preekstudie wil fokus
op die naam wat Jesus uiteindelik aan die vrou toeken na hy haar genees het,
‘dogter van Abraham’. Die naamgewing simboliseer dan die inbreek van die
koninkryk in die vrou se lewe op ‘n baie konkrete manier. Haar
‘naamsverandering’ vertel van haar verandering in status. Sy verander van ‘n
blote gebreklike vrou heel onder aan die sosiale leer na ‘n ‘dogter van
Abraham’ wat deel in al die beloftes en voorregte van die volk van God.
Die preek
kan begin met ‘n beeld wat die belang van name illustreer:
Die jong
paartjie was besig om doelgerig te blaai deur ‘n boek met lang lyste name,
hulle oorspronge en betekenisse. Hulle verwag ‘n baba en hulle weet dat hulle
keuse van ‘n naam baie kan beteken vir hulle kind. Ons almal het vriende wat
ons baie moeilik kan indink met ander name. En tog kies ons nie self ons name
nie. Ons ouers kies dit vir ons. En dan groei ons as ’t ware in daardie name
in. Veral vroeër jare toe mense nog baie graag familiename uitgedeel het, was
dit asof die draer van die familienaam gegroei het in ‘n sekere soort karakter
in: Hy is nou ‘n regte Johannes Cornelius. Dit is veral wanneer dit by byname
kom dat ons besef dat ons nie self ons name kies nie. Ons name kies ons.
Dikwels is dit name wat ons hoegenaamd nie vir ons self sou kies nie. Soms word
hierdie name gekies uit liefde vir iemand en soms om seer te maak. Wie ken nie
iemand wat as volwassene vir jou ‘n storie sal vertel wat soortgelyk is aan die
volgende nie? Hy vertel jou hoedat hy ‘Vettie’ genoem is op skool en toe alles
in sy vermoë gedoen het om tog net nooit weer oorgewig te lyk nie. En wanneer
jy na sy storie luister, besef jy dat daar baie seerkry in sy bynaam opgesluit
was. Dit maak ‘n verskil wat ons genoem word. ‘Give a dog a bad name and he’ll
hang himself,’ lui die bekende Engelse spreuk.
Vandag se
verhaal vertel van ’n vrou. In my Bybel word sy in die opskrif ‘n naam gegee:
‘’n gebreklike vrou’. In ‘n ander vertaling word sy ‘the bent woman’ genoem.
Hoe sal jy daarvan hou om só verewig te word in die Bybel? “Sy was krom getrek
en kon glad nie meer regop kom nie” (vers 11). Sy word nie ‘n naam gegee nie.
Waarskynlik het sy die straat af geloop met haar krom liggaam en dan het mense
nie gesê, “Hier kom Hester” of “Kyk daar loop Maria” nie. Hulle het gesê, “Hier
kom daardie krom vrou, die gebreklike een”.
Dit was
asof daardie vrou se hele bestaan opgeneem was in haar naam. Haar naam het
vertel wat haar verlede is en, ongelukkig ook, wat haar toekoms sou wees. Die
enigste naam wat hierdie vrou het, is een aan haar gegee deur die dorpsmense,
en dit is ‘n naam geskoei op haar gebrek. Sy beskik oor geen ander identiteit
nie as dié van ‘n slagoffer.
Hierdie
vrou is daar vir almal wat gebukkend gaan onder soortgelyke name: Sy is ‘net ‘n
dronklap’, ‘gebreklik’, ‘stadig’, ‘stupid’,
‘’n nerd’, ‘vreeslik oorgewig’,
‘blind soos ‘n mol’, ‘plain net kommen’. Sy word raakgeloop deur Jesus. En kyk hoe
Jesus na haar verwys. Hy genees haar en dit is wonderlik. Vir die eerste keer
in haar volwasse lewe kan sy weer regop staan, reguit vorentoe kyk en herstel
word tot ‘normaal’. Maar net so wonderlik is die manier waarop Jesus met haar
praat, wat hy oor haar sê. Hy noem haar nie gebreklik, gestremd, abnormaal of
‘n slagoffer van die onreg van die lewe nie. Jesus vind dit hoegenaamd nie
nodig om haar ‘n professionele slagoffer te maak sodat haar gebrek haar hele
lewe omskryf nie. Jesus noem haar, ‘dogter van Abraham’. Dit is baie betekenisvol. Maar wat beteken
dit? Wie was Abraham? Abraham was die groot-groot oupagrootjie van Israel.
Abraham was die een aan wie ‘n belofte op ‘n sterbeligte nag gemaak is. God het
belowe om ‘n groot nasie uit Abraham voort te bring, ‘n nasie waardeur al die
nasies van die aarde geseën sou word.
Wanneer die
vrou ‘n nuwe naam kry, word dit duidelik dat die koninkryk van God nou ‘n
werklikheid geword het in haar lewe. ‘n Nuwe werklikheid, die koninkryk van
God, is oor haar lewe uitgespreek en dit is tot seën van almal wat daar was en
daarna daarvan kon getuig.
Hierdie
vrou is ‘n dogter van Abraham. Sy is ‘n erfgenaam van God se seëninge. Meer
nog: as dogter van Abraham word sy ook geroep om tot seën van die hele wêreld
te wees. Sy is bedoel om meer te wees as wat haar naam op so ‘n kru,
oppervlakkige en beperkende manier tot nou toe van haar gesê het. Sy is, as ‘n
gebuigde mens, deel van God se groot verlossing van die hele wêreld.
Sy staan
regop. Selfs as haar rug nie deur Jesus genees is nie, sou sy regop kon staan.
Haar lewe is nou opgeneem in God se beloftes aan die wêreld. Haar lewe het ‘n
nuwe naam gekry, nie meer as ‘n lang verhaal van onreg, hartseer en beperkings
nie, maar as deel van die groot drama van God se verlossing. Kom ons onthou
haar nie as net nog ‘n hartseer slagoffer nie, maar as ‘n dogter van Abraham.
Jesus wil
vir jou en my ook nuwe name gee. Hy wil nie hê dat ons moet toegee aan die name
wat die wêreld op ons lê nie. Julle is kinders van Abraham. Jou lewe is bedoel
om iets te beteken. Jou lewe het ‘n rol om te speel op die verhoog van God se
groot verlossingsdrama.
Dit is
waarom ons in die kerk die naam van ons kindertjies noem wanneer ons hulle
doop. En dan, alhoewel die ouers die kind ‘Nadia’, ‘Johan’ of ‘Marietjie’ noem,
lê ons nou op daardie kind ‘n baie meer bepalende en onthullende naam:
‘Christen’. Ons voorspel dat daardie kind se lewe ‘n lang verhaal gaan wees
waarin hy / sy sal ingroei in daardie naam, sal inleef in God se genadige droom
vir ons.
Fred
Craddock vertel van ‘n ontmoeting wat hy gehad het met iemand in ‘n restaurant.
“Is jy ‘n
prediker?” vra die man.
Ietwat
verleë antwoord Fred, “Ja.”
Die man
trek ‘n stoel nader en kom sit aan Fred se tafel. “Prediker, ek sal jou ‘n
storie vertel. Daar was eendag ‘n jong seun wat baie hartseer grootgeword het.
Die lewe was baie moeilik want my ma het my gehad sonder om ooit getroud te
wees. Weet jy hoe ‘n klein dorpie in die staat Tennessee sulke mense verwerp?
Weet jy wat julle kinders noem wat nie ‘n pa het nie? Wel, ons het nooit kerk
toe gegaan nie. Niemand het ons in elk geval ooit saamgenooi nie. Maar om een
of ander rede het ons een nag die kerkie besoek toe daar ‘n soort
herlewingsdiens was. Daar was so ‘n groot, lang prediker, aangetrek in ‘n swart
pak, wat die spreker was. Hy het die klein kerkie behoorlik geskud met sy
bulderende stem. Ons het heel agter gesit, Ma en ek. Ek kan nie eens onthou
presies waaroor die prediker gepreek het nie. Na die diens toe ons by die
agterdeur wil uitglip, voel ek die groot prediker se hand op my skouer. Ek was
baie bang. Hy het afgekyk na my, my in die oë gekyk en gesê:
‘Seun, wie
is jou pa?’
‘Ek het nie
‘n pa nie,’ het ek met ‘n bewerige stemmetjie geantwoord, ‘Ek het nie ‘n pa
nie.’
‘O ja, jy
het,’ bulder die groot prediker, ‘jy is ‘n kind van die koninkryk, jy is duur
gekoop, jy is ‘n kind van die Koning!”
‘Daarna was
ek nooit weer dieselfde dieselfde nie. Prediker, preek dit.’
Die man het
sy stoel weggetrek, sy hand uitgesteek na Fred en homself bekend gestel. Fred
Craddock sê die naam het ‘n klokkie gelui. Hy was die legendariese
oud-goewerneur van die staat Tenessee.
Jy is ook
‘n seun of dogter van Abraham. Jou naam, wat ookal mense jou mag noem, is
‘Christen’. Staan regop, leef nou so.
Gaan in vrede.
Bibliografie
Kommentare:
Craddock,
FB 1990. Luke. Interpretation: A
commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF
1990. Saint Luke. TPI New Testament
Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according
to Luke (X – XXIV). The Anchor Bible.
New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The
Liturgical Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the
Greek Text. The New International Greek
Testament Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament.
Minneapolis: Augsburg Publishing House.
Ander:
Brueggemann,
W 1994. Texts under negotiation: The
Bible and postmodern imagination. Minneapolis: Fortress Press. Elliott, JH
1991. Temple versus household in
Luke-Acts: A contrast in social institutions. (Toe nog) Ongepubliseerde
referaat by die Universiteit van Port Elizabeth se Departement Nuwe Testament.
Dié geskrif is later gepubliseer in: Neyrey, JH 1991. The social world of Luke-Acts: Models of interpretation. Peabody:
Hendrickson. Tannehill, RC 1986. The
narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The
Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Scheffler, EH 1991. Die
teologie van die die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in
Roberts, JH et al (Reds), Teologie in
konteks. Pretoria: Orion. Smit, DJ 1987. Die prediking van die
wonderverhale in die evangelies, in Woord teen die Lig II/2: Riglyne vir die prediking oor die
gelykenisse en wonderverhale. Kaapstad: Lux Verbi.