Lukas 13:1-9 (Johan van der Merwe)

18 Maart 2001

Vierdie Sondag in Lydenstyd

 

Ander Tekste: Jesaja 55:1-9; Psalm 63:1-8; 1 Korintiërs 10:1-13

Gelowiges reageer op God se genadige versorging en liefde met verwondering en vrug.

Teks en konteks

Lukas 13:1-9 is deel van ‘n versameling van Jesus se leringe aan sy dissipels en die skare wat Hom gevolg het vanaf Lukas 12:1-13:9.  Dit vorm weer deel van ‘n groter afdeling 9:51-13:21 waarin Jesus lering gee oor dissipelskap en is op sy beurt deel van ‘n nóg groter afdeling van 9:51-19:27 wat Jesus se dade en woorde op pad na Jerusalem beskryf.  9:51 lei die breër afdeling in met “toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.”  Hierdie ‘reis na Jerusalem’ verskaf die konteks van Jesus se lydensweg en ook die plasing van ons teksgedeelte in die lydenstyd van die kerkjaar.

Die voorafgaande 12:35-59 oor waaksaamheid, Jesus as oorsaak van verdeeldheid en die tekens van die tyd, verleen ‘n gevoel van dringendheid.  Dit dui beslissende tye aan en maak onderskeid tussen mense op grond van hulle houding jeens Jesus en hulle insig al dan nie dat Hy die gestuurde van God is.

In ons teksgedeelte is verse 1-5 uniek en verse 6-9 vind vae parallelle in Jesus se vervloeking van die vyeboom in Matteus 21:18-20 en Markus 11:12-14,20-21.  Drie dele kan in die perikoop onderskei word:

Verse 1-3            Die rapport oor die Galileërs wat deur Pilatus doodgemaak is

Verse 4-5            Jesus se bykomende voorbeeld van die agtien wat dood is toe die toring geval het

Verse 6-9            Die gelykenis van die onvrugbare vyeboom

 

Jesus se interpretasie van die voorvalle waarna die eerste twee dele verwys, dra die waarskuwing dat mense nie moet aanvaar alles met hulle lewens is wel net omdat sekere rampe ander tref en nie vir hulle nie.  Almal se nood is ewe groot.  Die gelykenis in 6-9 verduidelik dan dat die genade van God na ons kom met die verwagting, eintlik die logika, dat mense met verwondering en vrug daarop sal reageer.  Hoewel oordeel ter sprake is (die uitkap van die vyeboom), is die gelykenis deurdrenk van die hoop en verwagting dat die vyeboom op die tuinier se versorging sal reageer. 

Die aanleiding vir Pilatus se massamoord op die Galileërs is nie geheel en al duidelik nie.  Pilatus was in ‘n onbenydenswaardige posisie as die goewerneur van ‘n provinsie baie ver van Rome, met toenemende sosiale spanning en rewolusionêre aktiwiteit.  Drastiese stappe soos hierdie was nie uitgesluit nie, trouens, Pilatus het deur die loop van sy regering ‘n reputasie van brutale geweld opgebou.  Dit is moontlik dat hierdie voorval deel was van die fiasko wat Pilatus geskep het toe hy besluit het om geld van die tempelskatkis te gebruik vir ‘n waterleiding wat hy wou voltooi.  Die waterleiding moes water van die Gihonfontein sowat 45 kilometer van Jerusalem af direk in die stad inlei.  Uiteraard was daar Joodse verset dat Pilatus tempelgeld vir sy projek aanwend.  Moontlik was daar toe spesifieke rewolusionêre inisiatiewe uit die geledere van die Galileërs gerig teen die Romeinse Ryk en wou Pilatus ‘n voorbeeld van diesulkes maak deur die aanstigters te vermoor waar hulle besig was om in die tempel te offer.  Die tempel was immers dié plek waar die Galileërs hulle Joodsheid tot uiting kom bring het.  Dit was ‘n simbool van verset wat wou wys offers word in aanbidding gebring en nie vir ‘n waterleiding nie.  Die OAV en ander vertalings beskryf dat Pilatus die bloed van die Galileërs met die bloed van hulle offers gemeng het. 

Lukas vertel ons nie waarom sekere Judeërs Jesus oor die dood van hierdie Galileërs kom inlig nie.  Dit mag wees dat daar ‘n mate van ‘provinsialisme’ tussen Galilea en Judea was.  Die streek Galilea was omring deur heidense gebied, wat nie noodwendig beteken dat hulle heidense gebruike sou oorneem nie, maar miskien lakser kon wees in die uitvoering van sekere wette, soos die kosher-wette (vgl. Liefeld p. 830).  Sulke laksheid kon moontlik in die oë van Judeërs aanleiding gegee het tot hierdie ramp wat oor die Galileërs gekom het. 

Hierdie rapport aan Jesus (waarskynlik deur die Fariseërs) kan ook ‘n reaksie wees op sy lering oor die dreigende oordeel en die noodsaak van bekering in 12:35-59.  Die bedoeling kan dan wees om aan te dui dat hierdie bekering wel by ander weens hulle groter sondigheid, maar nie by die geestelike ‘establishment’ nodig is nie.  Die nuusberig sou dan illustreer hoe hierdie groter sondigheid by die Galileërs ontbloot word deur die ramp wat hulle getref het. 

Hoe dit ook al sy, ‘n neutrale nuusberig aan Jesus is dit dus beslis nie.  Jesus se reaksie ontbloot egter die onderliggende selfgenoegsaamheid en die teologiese veronderstelling dat die Galileërs gestraf is vir hulle groter mate van sondigheid.  Agter gemaak-onskuldige woorde, lees Hy hulle diepste motiewe.  Jesus dui dan aan dat alle mense sondaars is en in hulle nood gelyk.  Ons kan nie ons eie of ander se geestelike lewens beoordeel volgens wat met mense gebeur nie.  Jesus veronderstel die sondigheid van alle mense en vra van die nuusdraers verootmoediging, anders “sal julle net soos hulle ook almal omkom!”  Sy ‘net soos hulle’ bedoel sekerlik nie op dieselfde bloedige manier as die Galileërs nie, maar dat hulle hulleself op ‘n koers plaas wat uiteindelik móét uitloop op hulle eie vernietiging sonder dat daar dan nog ‘n kans op bekering sal wees. 

Jesus maak die punt met sy eie teen-voorbeeld:  die voorval by Siloam, waarskynlik ook tydens die herstel van die waterleiding na Jerusalem.  Die voorvalle kan dus verwant wees, hoewel die eerste doelbewuste massamoord was en die tweede ‘n bedryfsongeluk.  Weereens wil Jesus wys hoe sy hoorders nie moet veronderstel dat dit met daardie mense gebeur het omdat hulle groter sondaars (letterlik:  skuldenaars – in skuld by God) is nie.  Ook hoe hierdie agtien omgekom het, moet vir die huidige hoorders alleen maar ‘n aansporing tot verootmoediging wees.  Jesus se waarskuwing is duidelik:  mense moet na God kyk vir hulle finale geestelike sekuriteit en dit beslis nie soek in hulleself of aflei uit rampe wat hulle tref of nie tref nie. 

Met die gelykenis van die vyeboom praat Jesus dan in bekende terme met sy hoorders.  Die verwysing is waarskynlik na Miga 7:1 waar die klag oor die onvrugbare wingerde en vyebome opklink.  Die simboliek van die vyeboom, soortgelyk aan die simboliek van die wingerd in Jesaja 5:1-7, verwys na Israel.  Jesus se verwysing in vers 6 na ‘‘n vyeboom in ‘n wingerd’ maak die simboliek dubbeld helder. 

Behalwe hierdie breë simboliek wat duidelik is, is dit verder in enige gelykenis gevaarlik om parallelle vir elke deeltjie van die uitgebreide metafoor te probeer vind.  Dat die eienaar op die een of ander wyse God voorstel en die uitkap op oordeel dui, is sekerlik veilig om af te lei.  Dat die oordeel egter na die ‘laaste oordeel’ sou verwys, is nie noodwendig nie.  Wie eienaar is en wie tuinier is, is ook nie so duidelik nie.  Is Jesus eienaar en die apostels en hul opvolgers dan die versorgende tuinier (laat my skape wei)?  Of is God die eienaar en Jesus die tuinier, in welke geval die drie jaar genadetyd vir sommige verklaarders dan ook korreleer met die tydperk van Jesus se aktiewe openbare lewe.  Hoewel dit interessante perspektiewe na vore bring, kan sulke allegorisering die aandag aftrek van die wyse waarop Jesus deur die gelykenis die onbegryplike afwesigheid van vrug in die oorweldigende aanwesigheid van God se genade ontbloot. 

Die teenwoordigheid van ‘n vyeboom (of ander vrugtebome) in ‘n wingerd was ‘n bekende landboukundige verskynsel van die tyd.  Die oënskynlike vreemdheid daarvan hoef ons dus nie te verlei om soos sommige kommentare te analogiseer as sou die vyeboom ‘binne’ die wingerd verwys na die heidense bekeerlinge ‘binne’ die bestaande Israel nie.  Die onderskeid is hier geensins tussen Jood en heiden nie, maar tussen vrugbaar en onvrugbaar.  Die vraag is geensins waarom ‘n vyeboom in ‘n wingerd staan nie, maar waarom ‘n onvrugbare vyeboom nog geduld moet word.  Dat die vyeboom in ‘n wingerd geplant staan, dui immers juis daarop dat dit in vrugbare grond geplant is.  Die vrugloosheid van die vyeboom kan dus nie die gevolg daarvan wees dat hy ‘n ‘slagoffer’ van onvrugbare grond of verwaarlosing was nie.  Drie jaar lank al soek die eienaar vrugte.  Die boompie is dus al mooi groot en goed gevestig.  Dit word nou onwaarskynlik dat die boom weer vrug sal dra, daarom die opdrag om dit af te kap, sodat die goeie grond beter aangewend kan word.  Die tuinier erken die probleem, maar onderhandel vir tyd en kom ooreen dat as daar na nog ‘n jaar steeds nie vrug is nie, die eienaar die boom mag afkap (let wel, die tuinier sal selfs dan nie inisiatief neem in die vernietiging van die boom nie – die eienaar moet dit maar self kom doen).  Die unieke van Lukas se weergawe teenoor die ander sinoptiese evangelies se verwysing na Jesus se vervloeking en die onmiddellike verdroging van die vyeboom is die duidelike uitbeelding van God se lankmoedige genade téén die tendens van onvrugbaarheid in.  Die tragiek bly dat Israel nie haar ‘seisoen van genade’ herken en benut nie. 

Die waarskuwing teen ‘n vruglose bestaan in die gelykenis van die vyeboom is nie ‘n nuwe oproep tot redding deur goeie werke nie.  Dit wil nie voorgee dat ons verhouding met God deur die meriete van ons werke in stand gehou word nie.  Op ‘n treffende wyse word juis aangedui dat vrugte ons reaksie op God se genade is en op die wyse waarop Hy ons versorg en liefhet (omspit en bemes).  Die vrug wat ons dra is die eienskappe van ‘n lewe coram Deo (voor die aangesig van die – genadige – God).  God gun ons ruimte om te groei en vrug te dra.  Hy wring dit nie uit ons nie, Hy kweek dit in ons.  Dit maak saak hoe ons lewe en God beoordeel dit inderdaad.  Hy begryp dit nie as ons ‘n lewe leef wat nie in ooreenstemming is met sy genade en liefdevolle versorging van sy kinders nie (vgl. Fil 1:27 en 2 Tess 1:12), maar sy beoordeling is nie vir ons altyd so waarneembaar nie en is nie soos mense dit sou doen nie.  As ons lewens nie in ooreenstemming met die genade en liefde van God is nie, verwag Hy dat ons moet verander en is sy werk in ons lewens elke dag ook gerig op die aanbring van daardie verandering. 

In die konteks van Lydenstyd waarsku die eerste deel van die teks teen gewaande geestelike sekuriteit, selfoorskatting en skynheiligheid.  Die gelykenis van die vyeboom waarsku teen ‘n vruglose bestaan in die lig van God se genade.

Ook die ander RCL tekste suggereer die tema van bekering van die kerk en die volk van God.  Dit kan dan gelees word as ‘n semper reformandum oftewel voortgaande bekering en heiliging wat ‘n Christelike lewenstyl teweegbring wat in ooreenstemming is met die genade en liefde van God en getuig van verwondering oor hierdie onverdiende versorging en volgehoue liefde.  Hierdie ‘bekering’ gaan gepaard met beter begrip van en verwondering oor die genade van God.  Daaruit volg ook verootmoediging in soverre die lewenswandel nog nie in ooreenstemming met hierdie wonderlike genade is nie. 

Preekvoorstel

‘n Vriend van my, as enigiets kleins skeefloop, soos as ek my toon stamp of hy laat val ‘n glas het dikwels die gewoonte gehad om dan op sy kenmerkende droë manier op te merk:  ‘Ja-nee, party mense word dadelik gestraf!’  Hy het daarmee eintlik ‘n grap gemaak oor die idee van sommige dat enigiets goeds of slegs wat met jou gebeur die direkte gevolg is van jou goeie of slegte dade. 

Ons is nie presies seker wie hier in ons teksgedeelte na Jesus toe kom met hoofopskrifte van die dag se koerant nie.  Heelwaarskynlik was dit maar weer die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat soos gewoonlik Jesus op die een of ander tegniese punt wou vastrek.  Doodonskuldig, botter kan nie in die mond smelt nie, kom rapporteer hulle aan Jesus die nuus van die dag.  “Het u gehoor, Rabbi, Pilatus het ‘n klomp Galileërs doodgemaak waar hulle besig was om in die tempel te offer!”  Ons weet min van die agtergrond van hierdie voorval waarna die mense verwys, maar dit het waarskynlik te doen met ‘n projek van Pilatus om ‘n waterleiding te laat bou van die Gihonfontein na Jerusalem (vgl. agtergrond by Teks en Konteks).  Dit word beweer dat Pilatus geld uit die tempelskatkis onttrek het om hierdie projek te finansier, iets wat die Jode uiteraard baie kwaad sou gemaak het.  Daar was dalk al onder die Galileërs ondergrondse beweging om die Pilatus se Romeinse oorheersing te ondermyn en hierdie projek en die neem van geld uit die skatkis kon dalk net die vonk in die kruitvat gewees het.  Dit kon dalk ‘n klompie leiers van die Galileërs gewees het wat uit protes in die tempel gaan offer het en so vir Pilatus ‘n gulde geleentheid geskep het om van hulle ‘’n voorbeeld te maak’.  Hy pleeg daar ‘n massamoord, so brutaal dat die OAV vertaal dat hy hulle bloed met die bloed van hulle offers gemeng het. 

Die Fariseërs was nie so geneë om teen die Romeinse owerheid in opstand te kom nie, omdat hulle heel gemaklik onder die Romeine geleef het en aansien en bevoorregting geniet het.  Dit kan dus wees dat hulle gevoel het die Galileërs moes nie teen Pilatus in opstand gekom het nie.  Dit kan ook wees dat daar ‘n mate van ‘provinsialisme’ was en die Jode van die provinsie Juda bietjie neergesien het op die Jode van die provinsie Galilea.  Galilea het aan baie heidengebiede gegrens en dit kon wees dat hulle in die proses onder die invloed van heidense gebruike minder streng die Joodse wette oor kos en klere nagekom het, wat aanleiding kon gee tot die neersien op hulle. 

Hoe dit ook al sy, Jesus sien dwarsdeur hulle nuusberig dat hulle eintlik impliseer die Galileërs is dood omdat hulle groter sondaars as ander mense was en dat die ramp die oordeel van God oor hulle sonde was.  Ook dat hierdie oordeel van God hulle wat die Fariseërs is nie tref nie, omdat hulle nougeset lewe en die guns van God geniet. 

Jesus kom dan sommer met nog ‘n nuusberig wat hoofopskrifte gehaal het.  Agtien mense is dood toe die toring van Siloam ineengestort is, ‘n toring wat waarskynlik gebou is as deel van hierdie waterleiding-projek van Pilatus.  Hierdie agtien sterf nie in ‘n doelbewuste aanval nie, maar omdat hulle op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was en hierdie ongeluk toe gebeur het.  Oor albei hierdie voorvalle konfronteer Jesus die voorveronderstellinge van die Fariseërs.  Hulle moet nie dink slegte goed het met al hierdie mense gebeur omdat ‘party mense dadelik gestraf word nie. ‘  Vir Jesus is dit maar net weer ‘n tipiese manier waarop mense hulleself mislei om te dink dat hulle nie in nood is nie en nie bekering tot God nodig het nie.  Die argument is immers:  ‘dit gaan goed met my, dus het ek nie sonde nie en hoef ek my nie te bekeer nie’.  Dit was waarskynlik die mense se reaksie juis omdat Jesus in hoofstuk 12 vir hulle probeer wys het dat hulle onder die oordeel van God staan en hulle moet bekeer. 

Waar die Fariseërs mense indeel volgens die vir wie die ongeluk tref en dus deur God gestraf word en die wat gemaklik lewe en dus sonder sonde is en die guns van God geniet, kom Jesus met ‘n ander indeling.  Vir Hom is daar net twee soorte mense:  die mense wat reageer op sy genade en sy liefde en die mense wat nie daarop reageer nie, dit wil sê die mense wat ‘vrug dra’ en die mense wat ‘nie vrug dra nie’. 

‘n Storie illustreer die punt:  Daar was eendag ‘n melkboer wat sy plaas verkoop het.  Kort voor die nuwe eienaar daar sou kom boer, besoek hy toe die plaas sodat die vorige boer vir hom kan verduidelik hoe sy kampe-stelsel op die plaas werk.  “In daardie kampie sit ek bruin koeie, en in daardie kampie sit ek swart koeie, en in daardie kampie sit ek die wit koeie;  in daardie kampie sit ek die koeie met kort bene en in daardie kampie die koeie met lang bene;  in daardie kampie sit ek die koeie met skerp horings en in daardie kampie die koeie met stomp horings;  daar die met lang horings en daar die met kort horings;  daar die met nat neuse en daar die met droë neuse”, en so het hy aangegaan.  Die nuwe boer het hom so geluister en gesê:  “as ek hier kom boer gaan ek net twee kampe hê:  in die een sal die koeie wees wat melk gee en in die ander sal die koeie wees wat nie melk gee nie.”

Met hierdie ander manier om na mense se verhouding met God te kyk, vertel Jesus dan die gelykenis van die vyeboom.  Dat die vyeboom in ‘n wingerd staan, wys nogal dat dit veronderstel was om vrugte te gee – die grond is immers so vrugbaar dat die wingerd daar geplant word en aard.  So die vyeboom kan homself nie as die slagoffer van omstandighede soos droogte of onvrugbaarheid van die grond beskou nie. 

Maar wat sê Jesus eintlik met hierdie gelykenis?  Sê Hy nie ook maar dat as julle nie ‘goeie mense’ is nie, dit wil sê vrug dra nie, sal julle geoordeel word (uitgekap word) nie?  En kan daardie oordeel dan nie maar goedskiks ook rampe wees wat mens tref soos vir die Galileërs of die mense by Siloam nie? 

Natuurlik is die oordeel van God ‘n realiteit.  Maar hierdie gelykenis is eerder deurdrenk van hoop en verwagting as van die dreigende oordeel.  Die tuinier kyk na hierdie vyeboom nie vir dit wat nou op die oppervlak afwesig is nie, maar vir dit wat kan kom!  Vrugte in oorvloed!  En daarmee in gedagte gaan hy voort om hierdie vyeboom met die grootste deernis te versorg deur die grond rondom om te spit en dit te bemes.  (Mens sien byna hoe hy met die boom praat terwyl hy hom versorg, soos mense wat baie lief is vir plante soms met hulle plante doen!) 

Al die faktore is dus gunstig om die sappigste vrugte voort te bring.  Die boom móét eenvoudig reageer op sulke liefdevolle versorging.  Daarom die byna sekere verwagting dat die boom gunstig op hierdie laaste jaar se versorging sal reageer.  Gebeur dit nie, mag die eienaar maar die boom uitkap, maar let wel, die tuinier sal nie eers dan dit oor sy hart kry om dit self te doen nie, want dat die boom nie vrugdra nie sal vir hom onbegryplik wees en ‘n bron van groot hartseer.  Dan moet die eienaar maar self die onvermydelike kom doen waar die tuinier dit nie hoef te aanskou nie. 

Daar is mense wat hulle verwonder oor die genade en liefde van God en met wederliefde teenoor God en groot genade teenoor hulle medemens op hierdie liefde van God reageer.  En dan kry jy mense wat ongeërg daaroor heenkyk, onbewus selfs van die persoonlike versorging wat logies gesproke toewyding aan God en diensbaarheid aan mense in hulle lewe behoort voort te bring.  Daar is diesulkes wat, in plaas van dat God se genade en liefde hulle harte vir Hom oopmaak en hulle hande vir mense, hulle bly verstik in die donkerte van hulle geestelike selfgenoegsaamheid.  Hulle gaan maar voort om hulle selfwaarde te soek in die feit dat daar mense is wat in hulle oë sondiger is, kerklosser is, onverskilliger lewe, en deur groter rampe gestraf word. 

Vir diesulkes sê Jesus, julle nood is groot en ek sal julle versorg en liefhê en oorweldig met my genade totdat julle dit besef.  En as julle dit nie besef nie en nie omdraai na My toe nie, sal ek, die Almagtige God, magteloos moet toekyk hoe julle verlore gaan.  En dit sal die een ding wees wat Ek, die Alwetende, nie sal begryp nie.  Want dis tog vanselfsprekend dat groot genade en groot liefde enige harde hart sal versag en sal vul met daardie liefde en genade. 

Die storie word vertel van ‘n tienerdogter wat toenemend rebels geraak het na die egskeiding van haar ouers.  Sy het by haar ma gebly en een aand laat bel die polisie om te laat weet dat die ma die dogter by die polisiekantoor kan kom oplaai.  Sy is gearresteer terwyl sy onder die invloed van drank bestuur het.  Ma en dogter het nie ‘n woord gepraat terwyl hulle teruggery het nie, ook nie by die huis nie tot die volgende middag.  Die ma het die ys gebreek deur haar dogter ‘n klein toegedraaide boksie te gee.  Die dogter het dit ongeërg oopgeskeur en binne in die boksie ‘n klip gekry.  Sy het haar oë verontwaardig dakwaarts gerol en sarkasties gesê:  “O, dis nou pragtig, wat moet ek hiermee doen?”  Lees die kaartjie, het haar ma gesê.  Sy het die koevert oopgemaak en die kaartjie gelees.  Die trane het gekom en haar ma het haar vasgedruk.  Op die kaartjie het gestaan:  “Hierdie stukkie klip is meer as 200 miljoen jaar oud.  Dit is hoe lank dit sal vat voor ek sal moed opgee met jou.” 

So is God:  die God van tweede kanse en ‘n nuwe begin. 

 

Bibliografie

Morris, L. Luke (Tyndale).  Liefeld, W.L. Luke in Gaebelein, F.E. (ed.) The Expositor’s Bible Commentary Vol. 8.  Soards et al Preaching the RCL Year C Lent/Easter.  Groenewald, E.P. In gelykenisse het Hy geleer, p. 164-169.