5 september 2004

dertiende sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir oninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 12:4-12

Ander tekste: Jeremia 18:1-11; Psalm 139:1-18; Filemon

Sien die inleiding by die vorige Sondag se liturgiese voorstel. Ons sou vandag bokant Lukas se reisverhaal kon skryf: die leefstyl van ‘n getuie (dissipel) wat op weg is. (Sien in hierdie verband David Simon se preekstudie vir hierdie Sondag.) Ek haal enkele sinne aan: "Terwyl hy op weg na Jerusalem grense oorsteek, maak Jesus nog tyd vir onderrig in dissipelskap deur sy interaksie met godsdiensleiers, die skare en ander mense. Een van die grense wat die dissipels onder vyandige omstandighede moet oorsteek, is die grens tussen ongeloof en geloof in Christus. Hulle openbare belydenis en getuienis moet wys dat hulle dit daagliks nastreef, met die leiding van die Heilige Gees."

Jeremia 18 is ‘n verhaal oor verandering. Die beeld wat gebruik word, is van God as die Pottebakker en sy volk, sy kinders, as die klei. Die beeld veronderstel verder dat verandering ‘n kenmerkende karaktertrek van die God-mens-verhouding is. Hierdie klem op verandering veronderstel dat daar vloeibaarheid en onvoorspelbaarheid in die geloofslewe is. In die woorde van Lukas beteken dit: vervolging en prysgawe in die lewe van die dissipel. In Bonhoeffer se woorde: "When Christ calls a man he bids him to come and die."

Die RCL gee die psalmteks vir vandag aan as Psalm 139:1-6 en weer vers 13-18. In hierdie sin beklemtoon Psalm 139 die positiewe boodskap van Jeremia 18. Die konstante teenwoordigheid van God in die lewe van hulle wat glo (sy getuies, dissipels of kinders), soos die psalm dit beskryf, veronderstel dat God in alles wat in hulle lewe gebeur, afgesien wat die tydelike gevolge mag wees, teenwoordig bly. Daarom kan mens die psalm maklik in verskeie elemente van die liturgie gebruik, terwyl dit direk aansluit by die verhaal van die liturgie.

god versamel ons voor Hom

Votum

"O Here, U ken my volkome,

U sien tot in my wesensgrond,

U toets my hart en gedagte

Voordat daar ‘n woord kom uit my mond.

Waar ek my ookal wend of keer,

U is voortdurend by my Heer " (Liedboek: Ps. 139:1 – beryming Lina Spies).

Of doen Psalm 139:1-6 (NAV) responsories

Liturg: Here, U sien dwarsdeur my.

Gemeente: U ken my.

Liturg: Of ek sit en of ek opstaan,

Gemeente: U weet dit.

Liturg: Here, U weet wat ek dink.

Gemeente: U ken my.

Liturg: Of ek reis en of ek oorbly,

Gemeente: U bepaal dit.

Liturg: Here, U omsluit my van alle kante,

Gemeente: U hou my vas.

 

diens van die tafel

Epiklese

O Here, U werk geduldig, soos met klei, om ons te vorm na u gelykenis.

Help ons om gewillig die prys wat dissipelskap van ons eis, te betaal.

Laat ons elkeen ons kruis in liefde dra.

Laat ons ons bruikbare diensknegte van die evangelie van Jesus Christus wees.

uitsending

Skuldbelydenis (na wet)

Deurgrond my. O God, en ken my hart,

peil my en ken my gedagtes.

Kyk of ek op ‘n kronkelpad loop,

en lei my op die beproefde weg (Ps. 139:23 en 24 vertaling van Bonaventure Hinwood).

Seën

Liturg: Die Here is met al jou paaie goed bekend,

Die Here sluit jou in van agter en van voor,

Die Here besit jou gans en al,

Die Here bly jou by waar jy ook gaan.

Psalm 139:5 en 6 (samevoeging van NAV en beryming van T.T. Cloete)

Gemeente: Met u nabyheid steeds omgeef,

. . . Heer, leer my leef (Ps. 139 slot van v. 5 na die beryming van Lina Spies).

Sang

Lied 312 "Amen"

PREEKSTUDIE – LUKAS 12:4-12

Teks en konteks

Terwyl hy op weg na Jerusalem grense oorsteek, maak Jesus nog tyd vir onderrig in dissipelskap deur sy interaksie met godsdiensleiers, die skare en ander mense. Een van die grense wat die dissipels onder vyandige omstandighede moet oorsteek, is die grens tussen ongeloof en geloof in Christus. Hulle openbare belydenis en getuienis moet wys dat hulle dit daagliks nastreef, met die leiding van die Heilige Gees.

Vers 1-4 dien as oorgang vanaf Lukas 11:37-54 tot 12:3-12. Terwyl die maaltyd en konflik in die huis van die Fariseër voortgegaan het, het duisende mense buite saamgedrom en mekaar vertrap (1). In die teenwoordigheid van die skare het Jesus "… Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig" (1). In die proses word ander ook aangespreek in die openbaar: "… as is generally true in Luke, the formation of disciples is conducted in the presence of others who might then be moved to respond with faith and to join the band of Jesus’ followers" (Green). Dissipelskap kom sterk na vore in twee onderafdelings van die reis-narratief – C 12:1-13:21: (c) Gereedheid vir Oordeel en E 14:25-17:10: (c) Dissipelskap en bekering (sien literêre struktuur van reis-narratief by inleiding tot die preekstudie, Kingsbury).

Jesus se waarskuwing: "Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary" (1), plaas spesifieke uitdagings van en aansporings tot Dissipelskap in konteks. Suurdeeg word hier beskou as `n beeld van slegte invloed – korrupsie (Nolland). Die waarskuwing kan in die eerste plek verwys na die "pervasive religious" invloed van die Fariseërs (Stein). Volgens Marshall en Nollan waarsku Jesus nie soseer die dissipels teen die invloed van die Fariseërs as persone nie, maar teen "huigelary" (huigelaar – hypokrisis), wat die Fariseërs (Marshall; Nollan) sleg beïnvloed. Godsdienstige huigelary in alle publieke sfere – sinagoge/tempel en op die markte – is soos suurdeeg wat mense, net soos die Fariseërs, kan deurweek. Huigelary as suurdeeg som die dinge op wat die toestand en karakters van die Fariseërs en wetgeleerdes beïnvloed, soos uiteengesit en beskryf (Luk 11:37-54). In 11:39 word die Fariseërs wat die buitekant skoon hou, beskryf as "vol inhaligheid en gemeenheid" aan die binnekant.

Hierdie godsdienstige leiers se ware toestand, identiteit en karakters word totaal bedek (sugkaluptmenōn) deur huigelary in woord en daad, nogtans sal dit onthul word (apokalufthēsetai). Tweedens, al wat `n geheim (krupton) is, sal bekend word (gnōsthēsetai) (2). Gevolglik sal alles wat in die donker gesê is en agter toe deure gefluister is, ook in die openbaar gehoor en uitgebasuin word in die toekomstige oordeel (3).

Huigelary as suurdeeg kan die identiteit en karakter van die dissipels versuur en vernietig. Jesus is besorg oor sy dissipels vir wie hy direk as "my vriende" (filoi) aanspreek (4). Hy waarsku hulle nie net teen die huigelary nie. In Lukas 12:4-12 moedig hy sy vriende aan vir vreeslose belydenis en getuienis. Vers 4 en 8 is die sleutelverse van hierdie perikoop.

Vrees vir die mens of vir God?

In en deur Jesus se interaksie met die dissipels word hulle karakter oor tyd heen gevorm vir vreeslose belydenis en getuienis in die onmiddellike en verre toekoms. Dit is nie `n kwessie van of dit sal gebeur of nie. Die tyd sal aanbreek "Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagsvoerders bring …" (11). Om voor sinagoges gebring te word (Hand. 4-5; 6:8-10; 9:1-3) dui die Joodse vervolging aan. Om voor owerhede en gesagsvoerders (Hand. 12:1-5; 16:22-40; 17:6-8) te kom, dui aan dat die Heidense howe wat die mag het om alle burgers aan te hoor ook (direk/indirek) verantwoordelik was vir vervolging. Dus, godsdienstige en sekulêre leiers verteenwoordig die gesagsfigure en vyandige konteks waarin die vorming van dissipelskap plaasvind. Jesus se woorde in vers 4: "Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie", reflekteer iets van die dissipels se huidige en toekomstige omstandighede en karakter.

Lukas druk nie die verhouding tussen sōma ("liggaam"), psychē ("siel") en geennas ("hel") sterk uit nie. Hy vervang psychē vaagweg met die frase: "en daarna niks verder kan doen nie" met liggaam en, by implikasie, met die siel. Die konsepte sōma en psychē word in Matteus 10:28 uitdruklik gebruik vir die kontras tussen die een wat net die liggaam kan doodmaak en die een wat beide kan doodmaak en dus ook die mense in geheel in die hel kan laat gaan – te verwerp. Met betrekking tot verlede week se preekstudie (Luk. 11:40) kan ons sê dat God die buitekant en binnekant gemaak en dus die mag het om die mens in geheel te verwerp of te aanvaar. Dus, die dissipels moet God vrees wat die exousian (mag) het om dit te kan doen. Marshall vergelyk exousian in Lukas met dunamai in Mattheus 10:28, waar die gedagte van gesag, in plaas van net gewone mag, sterk na vore kom. Dit kan dalk maklik gebeur om vlugtig te beweeg en sonder bepeinsing die gesag van God toe te pas in die konteks van vervolging en dan vrae te vra, soos: Hoekom verhoed God dan nie vervolging nie? Kan Hy?

Wanneer die storie oor die vyf mossies en die tel van elke haar in konteks gelees en geïnterpreteer word, staan God se gesag en die vervolging van dissipels in `n ander verhouding. God se gesag is in noue verband met die verlossingsplan. Die vergelyking met die vyf mossies en die tel van elke haar op die kop illustreer dat die dissipels nie gevrywaar word van vervolging nie. Green som dit op, naamlik dat die feit dat God die mossies onthou, nie verhoed dat hulle op die markpleine verkoop en geëet word nie. Dat elke haar op jou kop getel is, beteken nie dat God jou veiligheid vooraf waarborg nie. `n Groter prentjie is nodig om die mossies en die dissipels se toestand en ervaring te plaas. Niks kan gebeur "… apart from God’s attentiveness, not outside God’s care, not in a way that circumvents the redemptive plan of God" (Green).

Openbare belydenis en getuienis

Wanneer hulle Christus voor die mense openlik … uitspreek/bely (homologeō) (8), neem die dissipels aktief deel aan God se reddingsplan ten spyte en te midde van vervolging. Die uitdrukking "voor die mense" verwys na publieke belydenis as `n getuienis van beide woord en daad. Die aansporing vir publieke belydenis en `n lewe van gehoorsaamheid aan God vind plaas in die lig van die Fariseërs wat nie hulle innerlike (wie hulle is) en uiterlike (wat hulle doen) lewens kon integreer nie (Stein). Dit is ook moontlik dat hulle hom (soos Petrus in Luk. 22:54-62) openlik (in woord) voor die mense sal verloën (9).

In vers 8 en 9 word die dissipels se belydenis of verloëning voor die mense op aarde met die toekomstige oordeel verbind. Dié wat Christus voor mense uitspreek, sal Christus voor die engele van God uitspreek. Dié wat Christus voor mense verloën, sal Christus ook verloën voor die engele van God. Die uitdrukking "teen die Seun van die Mens iets sê …" (10) kan ook gesien word as `n vorm van verloëning. Volgens Green is hierdie verloëning teen Jesus as mens en dus vergeefbaar.

Die ergste vorm van verloëning (laster) – as dit wat teen die Heilige Gees gesê word – is onvergeefbaar. Laster teen die Heilige Gees verwys na "committing apostasy in the face of persecution ..." Daardeur word die rol en werk van die Heilige Gees ontken en verwerp (Green). Dit is nie net iets wat in die hitte van die stryd gebeur nie. Penney se interpretasie is breër en bied dalk `n oplossing vir hierdie teologiese probleem. Wat gebeur en wat dit beteken: "… worrying about one’s life is a denial of God’s sovereign care, and to allow worrying to lead, first, to failure to witness and, finally, to actual denial of Christ is probably to blaspheme the Holy Spirit". Hoe moeiliker die konteks waarin belydenis en getuienis plaasvind, hoe makliker kan dissipels Jesus verloën of teen die Heilige Gees laster.

Vers 11 se "voor" gesagsfigure gebring word, word ook `n geleentheid vir belydenis of vrees en verloëning. Die woord "verdedig" (apologeiseisthe) druk die konteks uit waarin die belydenis of die vorm waardeur dit soms sal plaasvind. Die woord "verdediging" roep die gedagte op van iemand wat voor `n hof verskyn. Iemand wat vrees, maar die dissipels moet hulle nie bekommer nie. Tydens moeilike, vyandige en gevaarlike omstandighede, soos verdediging voor die rade en howe van destyds, sal die Heilige Gees hulle leer oor die hoe – en – waarmee van verdediging (12). Hierdie is die fundamentele verstaan van die Gees in Lukas-Handelinge: die "Gees van profetiese bemagtiging" vir omvattende getuienis – getuienis in woord en daad onder spesifieke omstandighede en behoeftes (Penney).

Preekvoorstel

Mede-Christene met goeie bedoelings kan maklik druk uitoefen op ander om links en regs in die openbaar te bely en te getuig. Almal doen dit, hoekom doen jy dit nie? Het jy al `n siel vir Christus gewen? As jy dit nog nie gedoen het nie, word dit dikwels gesien as `n teken van ongehoorsaamheid aan die groot opdrag: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …" (Matt. 28:19). Onder druk antwoord iemand dalk: "ek weet nie hoe nie, of ek is vreesbevange, daarom doen ek dit nie." As moontlike oplossings word talle goed-bedoelde "How-to-do-It"-gidse voorgestel vir ideale konflikvrye situasies. In die meeste gevalle is die klem op hoe moeilike persone, situasies en vrae benader en beantwoord behoort te word. Dit word aanvaar dat belydenis en getuienis meestal plaasvind in veilige situasies en konflikvrye kontekste. Alles behels net "siele wen vir Christus". So nou en dan kan ons liefde betoon en kospakkies uitdeel. Almal doen dit mos. Miskien het vorme van dissipelskap so deel geraak van ons samelewing, kulture en godsdienstige instellings, dat ons nie meer vervolg word weens die inhoud en aard van ons belydenis en getuienis nie. (Is dit dalk hoekom so min Christene deesdae intensief vervolg word? Is dit dalk van die redes hoekom so min predikers net nou en dan oor omvattende reinheid preek? – New Interpreter’s Bible.) Wanneer die omvattende reinheid (alle dinge word rein), gekenmerk deur liefde en barmhartigheid en geregtigheid (volg verlede week se preek), die inhoud en vorm van ons belydenis, asook ons getuienis bepaal en dryf, dan sal ons op talle maniere vervolg word. Nogtans sal die Heilige Gees ons bemoedig en bekragtig, en ons karakters vorm in en deur omstandighede, vir vreeslose belydenis en getuienis.

In ons teksgedeelte berei Jesus, op pad na Jerusalem, sy dissipels voor vir die realiteit van vervolging wat vrees kan inboesem. Dit is onafwendbaar, omdat hulle Christus bely en oor hom getuig voor en teen persoonlikhede, magte, instellings en strukture. Hulle sal, net soos met Christus, in "murg en been" vervolg word, as gevolg van hulle belydenis en getuienis. Om Christus na te volg te midde van hierdie sisteme en strukture, kan dalk wees soos `n mossie in die winter maande in `n wip gevang word; nat, bevrees, magteloos, vermink of dood gemaak.

Op weg saam met Jesus na Jerusalem is Petrus byvoorbeeld onderrig en gevorm vir belydenis ten spyte en te midde van vervolging. Toe Jesus gevange geneem word in Jerusalem, het Petrus hom in die openbaar verloën. Later, is Petrus en Johannes ook gevange geneem en voor raadslede, famielehoofde, skrifgeleerdes en lede van die hoëpriesterlike huis gebring. Petrus bely en getuig toe vrymoedig oor Christus wat verlossing bring (Hand. 4). Vir Petrus word Jesus se belofte oor die bystand van die Heilige Gees `n werklikheid: "Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê ..." (4:8). Vers 12 is die kern van sy publieke belydenis en getuienis oor Christus: "Hy bring verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie."

Betroubare verkondiging en navolging van Christus vind plaas in `n spanningsvolle interaksie met mense in tradisionele en moderne sisteme en strukture, met hulle godsdienstige en kultureel-politieke gesagsfigure (Newbigin). Vandag is daar nog steeds situasies waar betroubare dissipelskap, belydenis en getuienis sal lei tot vervolging. Dit is waar die Christene se karakters en integriteit op die spel is, maar ook verder gevorm en verdiep word. (Die prediker kan een individuele of gemeenskaplike storie uit die Bybelse of kontemporêre wêreld gebruik en vervolgingstonele, as gevolg van betroubare dissipelskap, skets: dissipels in die vroeë kerk, die belydende kerk in Nazi-Duitsland, en persone en kerke in Suid-Afrika. Dit sal goed wees as die stories kan uitbeeld hoe die karakters en integriteit van dissipels en die gemeenskap van dissipels op die spel is en gevorm word in tye van vervolging.)

Die volgende verhaal verduidelik dat die randetiese keuses wat getuies vir hulle geloof in Jesus moet maak, soms in abnormale en uiterste omstandighede baie moeilik kan wees.

In Nagasaki, Japan, was intensiewe vervolging van Christene eens alledaags. Die roman Silence vertel die verhaal van twee priester-sendelinge, Ferreira en Rodrigues, wat in die 16de eeu deur gesagsfigure vervolg is weens hulle verkondiging van die evangelie. Hulle word op alle maniere vervolg, sodat hulle Christus moet verloën in die openbaar en afvallig word. Die "Trap op die gesig van Christus" was die formele en simboliese handeling van die verloëning. Die "put van marteling" – vir ure, soms dae, halfnakend en koponderstebo hang met wonde op die voorkop, en alle soorte slegte reuke uit `n put inasem – was van die ergste strawwe vir onwilliges. Ferreira en Rodrigues word toe in die tronk en op straat gemartel, rondgesleep en vertoon. In hulle selle moes hulle luister na die gekreun van Christene in die put van die marteling. Almal moes sien en hoor watter prys Christene uiteindelik (nog sou) betaal. Die wortels moes uitgeruk word. As die leiers sou ingee, dan sou die volgelinge vanselfsprekend hulle voorbeeld volg. Baie van hulle doen dit toe, maar is nie vrygelaat nie.

Ferreira en Rodrigues is verder emosioneel in `n hoek gedryf. Hulle moes eers Christus verloën, dan sou hulle volgelinge vrygelaat word. Ferreira het gevoel dat God stil is. Al wat hy kon hoor, was die gekreun van Christene in die put van marteling. Toe "trap hy op Christus se gesig". Hy het dit net gesien as `n maklike uitweg vir hom en sy mede-Christene. Dit was vir hom net `n formele simboliese handeling.

Vir Rodrigues was dit anders. Hy het maande lnk met sy mede priester-sendeling geworstel. Met gemengde gevoelens – vrees en opgewondenheid – het hy in die tronk gesit en kort-kort voor die magistraat verskyn. In Japan, in die voorste linie van kruis-kulturele getuienis, te midde van die marteling op strate, in die tronk, voor die magistraat, het hy gesigte gesien.

Ferreira het die gesig van die kerk in Europa wat hom gestuur het, verteenwoordig. Ferreira daag Rodrigues toe uit: Vrees hy die verwerping van die kerk of vir die verloëning van Christus, terwyl sy medegelowiges uiters gemartel word? Ferreira het hom al gekonfronteer: "… you dread to betray the Church. You dread to be dregs of the Church, like me." Hierdie woorde pynig hom. Hy worstel: "Nee, Nee!" skreeu hy deur sy vingers, terwyl sy hande sy gesig bedek. Hy kan nie. Hy moet Christus naboots en verduur tot die uiterste toe!

Ferreira neem hom saggies aan die skouer op pad na die magistraatsgebou. Elke keer wanneer Rodrigues voor die magistraat moes verskyn, is `n houtplaat, met `n koperplaat waarop Christus se gesig uitgekerf is, voor sy voete geplaas. Hy word toe so fisies, emosioneel en geestelik gemartel! Gaan hy vandag op hierdie man se gesig trap? Toe hy na die gesig gekyk het, het sy oë dof geraak en raak hy deurmekaar, vertel die verhaalskrywer. Net voor hulle sy sel verlaat het, het Ferreira hom aangemoedig: "Skep moed!"

Toe trap Rodrigues die gesig. Hy was vry, vry van marteling, maar emosioneel en geestelik vasgebind. Hy kon nie sy huis sonder die toestemming van die magistraat verlaat nie. Die sendinggenootskap het hom geskors. Hy was sonder sy status en regte as priester-sendeling. Hy het gewonder of ander sendelinge gehoor het van sy verloëning? Vir sommige Christene was dit moeilik om te aanvaar. Vir die ander mense, die magistraat, offisiere en gesagsfigure in Japan, was dit `n slag teen die "Christendom". Volgens sommige is die wortels van Christendom stadig maar seker deur die kulturele en godsdienstige moddermoeras van Japan ingesluk.

Rodrigues het aanvaar dat hy Christus net formeel en simbolies verloën het. Hy het dit gedoen onder die omstandighede en ter wille van die ander Christene, wie se marteling sou eindig sodra hy Christus so sou verloën. Ja, hy was soms onbetroubaar. Dalk het hy sy karakter en integriteit voor mense verloor. Maar nou was dit nie meer nodig dat hy sy onbetroubaarheid moes verdedig nie. Verloëning het sy hart geskeur, maar in sy hart het hy na aan God gevoel. Alles het te doen gehad met sy geworstel met (die) Christendom in sy eie hart – hoe hy dit uitleef, wat met hom gebeur en nog sal gebeur. Hy het geweet: nou het hy sy Heer op `n heel ander manier ontmoet. Vir hom was alles nodig sodat hy op `n dieper vlak met sy Heer (en ander mense) kon wandel. Sy liefde vir Hom was nou anders. Toe hy die gesig formeel en simbolies getrap het, het iets met hom gebeur wat hy nie verstaan het nie. Hy het nie net Ferreira se verleidelike stem: "Skep Moed!" gehoor nie. `n Geweldige blydskap het oor hom gevloei. Hy was nie alleen nie.

Vir Rodrigues word persoonlike en gemeenskaplike ervaringe van vervolging uiteindelik deel van sy hernude belydenis en getuienis van karaktervorming en integriteit in konteks. Niks wat met hom en die Christene in Japan gebeur het, kon God se verlossingswerk in Jesus Christus kortwiek nie. Sy mede-priester-sendelinge en die sendinggenootskap moes weet, sluit hy sy brief aan hulle: "Op die oomblik is ek die laaste priester in die land. Nogtans, was Ons Heer nie stil nie. Al sou ek ook stilgebly het, tot op hierdie dag sou my lewe van hom gepraat het."

Bibliografie

Endo, S 1980. Silence. Taplinger Publishing Company; Green, J B 1997. The New International Commentary on the New Testament: The Gospel of Luke. Eerdmans; Gowler, B D 1991. Host, guest, enemy, and friend: potraits of the Pharisees in Luke and Acts. Peter Lang; Heil, J.P. 1999. The meal scences in Luke-Acts: An audience-oriented approach. Society fo Biblical Literature; Kingsbury, J.D. 1991. Conflict in Luke: Jesus, Authorities, Disciples. Fortress Press; Marshall, I.H. 1978. The New Testament international Greek testament commentary: The Gospel of Luke. The Paternoster Press; Newbigin, L. 1993. Preface, in James M Phillips en Robert T Coote (eds.), Toward the 21st Century in Christian Mission. Wm B Eermans, 1-6; Nolland, J 1993. Word Biblical Commentary (Volume 35B). Word Books; Penney, J M 1997. The missionary emphasis of Lukan pneumatology. Sheffield Academic Press; Stein, R H 1992. The New American commentary: An exegetical-theological exposition of the Holy Scripture (Volume 24, Luke). Broadman Press; The Interpreter’s Bible (Vol IX). Abingdon Press; Wuthnow, R 1993. Christianity in the 21st Century: Reflections on the challenges ahead. Oxford University Press.