Ander
tekste: 1 Samuel 1:4–20, 1 Samuel 2:1–10,
Psalm 16.
Jesus gaan
uit die tempel uit (13 :1)! Met hierdie
woorde kondig die Markus-perikoop die finale breuk aan tussen Jesus en die
godsdienstige Jodedom van sy tyd. Die werkwoord en die sinskonstruksie
beklemtoon die finaliteit van Jesus se handeling. Hy gaan uit die tempel uit om
nie weer daarheen terug te keer nie. Dit is asof ons hier te doen het met die
dramatiese afsluiting van Jesus se konfrontasie met die Joodse godsdienstige
leiers in Jerusalem. Jesus het naamlik kort vantevore op ‘vernietigende wyse
hulle huigelary bloot gelę (12 38 –
40). Nou is Hy klaar met hulle en die tempel wat hulle ontwy het. In
Matteus-weergawe kom dit nog duideliker uit. Hier is die oorgang tussen Jesus
se gesprek met die skrifgeleerdes en die Fariseërs en sy uitgang uit die tempel
meer direk en volg op sy woorde : “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien
nie…”
Die
dissipels begryp nie hierdie oomblik van beslissing nie. Soos goeie toeriste
roep hulle hul bewondering uit vir die tempelgebou. Nou volg Jesus se
aankondiging van die vernietiging van die tempel (v 2). Dit is ‘n
oordeelsaankondiging en nie maar net ‘n blote profetiese voorsegging wat gaan
kom nie. Weer eens kom hierdie kant van Jesus se uitspraak sterker na vore by
Matteus, omdat hy dit teen die breër agtergond plaas van Jesus se laaste
openbare toespraak in Jerusalem waarin Hy Jerusalem se onbekeerlikheid aan die
kaak stel (Matt 23 : 37 – 38).
Die
dissipels se vraag na wanneer hierdie dinge gaan gebeur, word nie direk deur
Jesus beantwoord nie, maar Hy rig twee waarskuwings: 1) hulle moet waak teen
misleidings wat gaan kom en 2) hulle moet nie verskrik word deur die
gebeurtenisse wat die einde voorafgaan nie.
Die
misleidings het te doen met persone wat hulle as verlossers (messiasse) sal
voordoen (v 6). Dit word vry algemeen aanvaar dat Jesus se uitspraak dat baie
onder sy Naam sal kom, nie verwys na pogings om letterlik impersonasies van
Jesus self te wees nie, maar na mense met die pretensie om ‘n messiasrol te
vervul.
Die oorloë
waarna verwys word in vers 7 staan waarskynlik in verband met v 6 en het te
doen met oorloë wat die gevolg is van messiaanse fanatisisme.
Al hierdie
dinge, die oorloë, die aardbewings en beroeringe word in vers 8 die begin van die
smarte (archč oudinoun) genoem. Die
woord wat hier gebruik word, kan ook met “geboortepyne” vertaal word. Daarom
bied die 1983-Afrikaanse Bybel ‘n omskrywende vertaling, miskien nie ten
onregte nie : “Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd”.
Saam met
Matteus 24 en Lukas 21 vorm Markus 13 deel van die sogenaamde Sinoptiese
Apokalips waarin Jesus ‘n profetiese blik op die toekoms werp. Hy doen dit in
die taal van die Ou-Testamentiese apokaliptiese profesie soos ons dit veral by
Daniël aantref (sien bv v 14) en van
die laat-Joodse apokaliptiek wat Hom voorafgegaan het. Die vraag is natuurlik
na watter tyd hierdie uitsprake van Jesus verwys.
Met die oog
op die prediking kan ons goedskiks die standpunt ignoreer van sommige histories-kritiese
teoloë wat beweer dat hierdie woorde in Jesus se mond gelę is deur ‘n skrywer
of skrywers wat reeds bekend was met die inname en verwoesting van Jerusalem
deur die Romeine in die jaar 70. Hiernaas is daar egter nog steeds meer as een
moontlike interpretasie.
Populęr by
sekere kerklike groepe is die siening dat Jesus se profetiese rede, as deel van die Nuwe-Testamentiese
eskatologie, na die “eindtyd” verwys. Jesus is met ander woorde besig om hier
die tekens van die aanbreek van die eindtyd en sy wederkoms aan te dui. Dit is
asof ons hier te doen het met ‘n stuk toekomsgeskiedenis wat vooruit geskryf
is, ‘n beriggewing wat ons presies vertel hoe dit teen die einde gaan lyk. Dit
is egter duidelik dat Jesus nie hier besig is met ‘n verre toekoms nie. Hy
spreek die huidige geslag aan en waarsku hulle om te waak teen die misleiding
en die verskrikking wat hulle te beurt sal val. Sonder twyfel het Jesus se
profesie hier te doen met die val van Jerusalem ongeveer 40 jaar na sy
kruisdood. Maar, soos in die geval van die Ou-Testamentiese profesieë, het
Jesus se voorsegging nie net te doen met die huidige geslag van hoorders en die
onmiddellike toekoms nie. Dit het ook betrekking op alle geslagte vorentoe om
die tye en die tekens te onderteken, en om, sonder dat hulle verskrik word deur
die omstandighede, voortdurend op hulle hoede te wees vir misleiding deur
sogenaamde redders. Die waarskuwing en troos van Markus 13 is ‘n saak wat deur
elke geslag Christene gehoor en toegepas moet word.
Hierdie
herhalende en meervoudige vervulling van Jesus se profesie sluit natuurlik nie
die eindvervulling uit nie waarop alles ten slotte afstuur. Indien die
gelowiges egter te veel konsentreer op die eindvervulling as iets van 'n verre
toekoms, is die gevaar groot dat hulle hulle werksaamheid in die hede kan
verloor. Die hede is immers reeds deel van die einde; ons leef in die “laaste
dae” wat aangebreek het met opstanding van Christus en sy terugkeer na ons toe
in die Heilige Gees.
Dit alles
geld natuurlik nie net die waaksaamheid teen misleiding nie, maar ook die
bemoediging in allerlei vorme van verskrikking. Die groot vertroosting is dat
die smart en lyding wat die gelowige ervaar, nie net aan die einde nie, maar
nou reeds en by herhaling ervaar kan word as die begin van ‘n nuwe, beter,
tyd. Die geheim van eskatologiese
prediking is dat dit sy aktualiteit in die hede sal behou en nie, soos dikwels
gebeur, by die gemeente die gedagte oproep van ‘n verre toekoms nie. In so ‘n
geval word alles ‘n bietjie onwerklik en leef die gemeente nie meer uit die
dringende besef dat die einde reeds voor die deur is nie.
‘n Preek
oor die Markus-perikoop sou kon begin deur daarop te wys dat vrae oor die
einddinge, oor die wederkoms van Christus en oor die “tekens van die tye”
telkens opleef in tye van onsekerheid oor die toekoms. As alles oënskynlik
onverstoord en rustig voortgaan, bekommer mense hulle nie maklik oor die
toekoms nie. Sodra groot probleme begin opduik en dit lyk of die gevestigde
dinge aan die wankel is, word bekommerde vrae oor die toekoms gestel. Die
toekoms is dan ook nie meer iets waarna uitgesien kan word nie, maar word
gevrees.
Vervolgens
kan gepoog word om ‘n korreksie aan te bring op die populęre opvatting oor die
eskatologie in die gemeente. Die wederkoms van Christus en die tekens wat dit
aandui, is nie iets van ‘n verre toekoms nie, maar van die hede. Christus kom
tot ons in die hede. “Hy verskyn aan almal van ons, daagliks, duisende kere, in
onherkenbare gestaltes, op ongeleë tye…” (DJ Smit, Woord teen die Lig, 6, 98). Die begeleidende tekens is ook duidelik
om te lees. Hoeveel “messiasse” word nie aan ons voorgehou nie. Suid-Afrika het
ook al sy deel van sulke redders gehad. Dit is nie altyd dat hulleself hulle as
sodanig aandien nie (soms wel), maar dikwels word hulle deur die publiek só
gesien en in dié siening deur die gemeente gevolg sonder die nodige gelowige
diskresie. Later ontdek ons dat ons mislei was!
Die vermaning tot waaksaamheid en die onderskeiding van die geeste is nie al wat in die prediking weerklank moet vind nie. Die vertroosting van Markus 13 is net so belangrik, indien nie belangriker nie. Die probleme waarmee die gemeente in die hede gekonfronteer word en die dinge waaroor die toekoms gevrees word, mag nie tot verskrikking lei nie. Jesus gee geen belofte dat van hierdie dinge nie sal gebeur nie, maar wel belowe Hy dat selfs in die weg van smarte die nuwe gebore word. Dit is hierdie sekerheid wat die apostel Paulus daartoe bring om uit te roep dat alles ten goede meewerk vir die geroepe kind van God (Rom 8 : 28). Daar kan inderdaad ‘n tyd kom dat alles slegs donker en uitsigloos is. Okke Jager skryf iewers dat nimmereindigende van leed en ongelukkigheid die beste onder ons kan knak en breek (sien aanhaling by Woord teen die Lig, 6, 89). Maar dit is juis dan dat ons weet dat die Here naby is. Hy regeer, al vind ons dit moeilik om die aard van sy regering te verstaan. In ons leed kom Hy na ons toe, al herken ons Hom nie…totdat ons skielik ontdek dat alles op ‘n onverklaarbare wyse nuut geword het. Dan weet ons weer eens, met groot stelligheid, die nuwe hemel en die nuwe aarde lę voor die deur.