Ander
tekste: Job 1:1; 2:20-22; Psalm 26; Hebreërs 2:5-12.
Hierdie
paar verse staan binne ‘n onderafdeling van Markus waarin dissipelskap op die
voorgrond staan. Jesus bevind hom op
die “pad” (8:27; 9:33, 34; 10:17, 32, 52) wat deur die openingsprofesie (1:2 en
3) aangekondig is. Hierdie oppad-wees
sal in Jerusalem eindig waar sy opponente hom huigelagtig sal vlei dat Hy
sonder aansiens des persoons “die weg van God” leer – ‘n stelling wat nóg sy
volgelinge nóg sy teenstanders ten volle begryp. Johannes is Jesus se voorganger; hy word deur God gestuur; hy
verkondig en word oorgelewer en gedood.
Jesus se lewe volg die patroon van dié van sy voorganger. Nog meer, Hy roep dissipels om hom te
volg. Volgelinge van Jesus moet hierdie
weg van God loop wat deur Johannes geantisipeer word en wat deur Jesus voltooi
word; hulle word ook gestuur om te verkondig; sal oorgelewer word; moet ook
hulle kruise opneem. Op hierdie pad
leer Jesus die mense om nie die dinge van mense te bedink nie, maar die dinge
van God te bedink (8: 33). Die
onderhawige perikoop is deel van ‘n groter subeenheid waarin dissipelskap
gekonkretiseer word in ‘n soort Haustafel
waarin huwelik en egskeiding (10:2-12), kinders (10:13-16), besittings
(10:17-31) en mag (10:32-45) ter sprake kom.
Die Talmoed
het uitspraak gelewer oor legitieme gronde vir egskeiding. Daarom is die vraag van die Fariseërs eerder
om Jesus op die proef te stel. Veral
omdat Hy hom aan die oostekant van die Jordaan bevind, die gebied van die
tetrarg Herodes Antipas wat met sy broer Filippus se vrou, Herodias, getroud
is. Hierdie huwelik het aanleiding
gegee tot Jesus se voorganger se dood (6:17 ev). Sou dieselfde vraag nie dalk lei tot Jesus se dood nie? Immers bestaan daar reeds ‘n komplot tussen
die vraagstellers en die Herodiane (3:6 en later in 12:13) - hulle is immers
dié wat aan sklérokardia ly (3:5 en
10:5).
Jesus weier
om die gesprek op hulle terme te voer.
Twee keer verneem hulle na wat geoorloof is (wat mag) en wat toegelaat
is (vv 2 en 4). Jesus daarenteen praat
oor wat gesagvol beveel (entolé) word
(vv 3 en 5). Waar hulle die dinge van
mense bedink, bedink Hy die dinge van God.
Die gesprek
gaan nie hier oor moontlike gronde vir egskeiding nie, maar of egskeiding
hoegenaamd moontlik is. Alhoewel daar
in Moses se wette vanweë die realiteit van die sonde ‘n toegewing gemaak word,
gryp Jesus terug na Genesis 1:27 en 2:24.
Hiermee wil Hy duidelik maak dat God se wil van die begin af duidelik
was dat man en vrou in die huwelik een word.
As sluitende konklusie word bygevoeg dat wat God dus saamgevoeg het, mag
‘n mens nie skei nie.
Combrink
(1985:137) merk op dat volgens die gangbare Joodse opvattinge is ‘n vrou as die
man se besitting en sy huwelik as ‘n sakeregtelike transaksie beskou. Egskeiding was derhalwe net so min ‘n
oortreding as om iets wat joune is, prys te gee. Hierteenoor neem Jesus ‘n radikaal ander stand punt in met ‘n
beroep op die wil van God soos dit by die skepping tot uitdrukking gekom
het. Hy verskuif die basis van die
diskussie van wat Moses geskryf het na wat God bedoel het; van skuiwergate wat
toegelaat word na die bedoeling van dit wat beveel word; van egskeiding na
huwelik. Egskeiding vind sy gronde in
die wet, die huwelik daarenteen is in God se goeie skepping gegrond. “Rightly understood, this shift marks a
fundamental victory over legalism and moves the discussion into the area of
gift and grace, which is more demanding but also more free.”(Williamson 1983
176)
In vv 10
tot 12 word aanvaar dat die goddelike doel met die huwelik nie altyd
verwesenlik word nie. Dit is tipiese
Markaanse “in-huis” instruksie (7:17; 9:28, 33) waartydens die dissipelkring
meer en beter ingelig word. (Eksegete
sien in hierdie gedeeltes ‘n latere tradisielaag wat die situasie in Markus se
gemeenskap weerspieël en beskou dit as “in-huis” instruksie aan die vroeë
kerk.) Lane(1982:358) sien in v12 ‘n
tradisielaag waarin Jesus eksplisiet die optrede van Herodias (wat volgens
Josefus ‘n skeibrief aan Filippus gegee het) veroordeel. Ander eksegete sien in hierdie verse dat,
gegee die situasie waarbinne die Markusevangelie oorgedra is, die reg van ‘n
vrou om te skei algemeen aanvaar is.
Hertrou na
egskeiding is volgens Markus vir beide die man en die vrou ekwivalent aan
owerspel. Die stelling is nie
voorskriftelik nie; Jesus sê nie “As jy skei, moenie weer trou nie.” Die stelling is deskriptief; die
veronderstelling is dat hertrou na egskeiding plaasvind en beskryf dit as ‘n
skending van die verhouding wat met die eerste huwelik tot stand gekom
het. Jesus is nie besig met nuwe
wetgewing nie; Hy sê nie “Geen hertrou na egskeiding nie”. Hy is wel besig om duidelik uit te spel wat
egskeiding en hertrou inhou. “(His
answer) set(s) the early church counter to easy and selfish views of the
marriage relationship in the surrounding culture. For whoever has ears, it still does.”(Williamson 1983:178).
In vv 13-16
bring mense (ouers? vriende? familie?) kinders na Jesus toe sodat Hy hulle moet
aanraak. Die dissipels wil dit verhoed
waarop hulle deur Jesus aangespreek word.
Hier is die interaksie tussen Jesus en sy dissipels, en nie tussen Jesus
en sy opponente nie. Die vertelling
word op hierdie manier op die geloofsgemeenskap afgestem om navolgers en
voornemende navolgers te leer.
In v 14b
toon Jesus dat daar ‘n positiewe verband tussen die kinders en die koninkryk
van God is. Die woorde “want die
koninkryk van God is vir sulkes (toioutón)” kan beteken dat dit bedoel is “vir
hierdie en ander kinders soos hulle” of, soos wat die 1983-vertaling dit
opneem, “vir mense soos hulle”. Lg
betekenis word deur vers 15 ondersteun terwyl eg deur die konklusie van die
vertelling in vers 16 ondersteun word.
Vers 15 dui
op ‘n progressie van Jesus se houding teenoor die kinders na die houding van
die kinders self en laastens na die houding van dissipels teenoor die koninkryk
van God. Die dissipels verhinder
kinders wat na Jesus gebring word; Jesus sê dat eerder om die kinders te
verhinder moet die dissipels van hulle leer.
Kinders se afhanklikheid word ‘n metafoor vir die ontvangs van die
koninkryk. Die punt is nie die
nederigheid van Matteus 18:3-4 nie, ook nie die onskuld soos in die Pastor van
Hermas nie. Die sleutelfrase is “soos
‘n kindjie ontvang”. Die
dissipels/mense moet leer om klein te word voor God. “Kinders kan abba sê en sê dit ook; volwassenes sê dit nie meer
nie en moet dit weer leer” (Grundmann soos aangehaal deur Smit 1983:99).
Vers 16
beskryf op besonderse stemmingsvolle wyse wat Jesus aan die kinders doen. Smit (1983:95) sien hierin meer as ‘n
parallel wat rabbi’s met hulle katkisante doen. Elkeen van die werkwoorde/aksies (aanraak, arms om hulle slaan,
hande op hulle lê, seën) is swanger van betekenis binne die Christelike
tradisie. Hulle word as sy eiendom
aangeneem, Hy tree vir hulle in by God – daar gebeur iets heilsaam met die kinders. “Met reg sou ‘n mens kon vra wat die doop
anders of meer is as presies dit.” (Smit 1983:95)
Williamson
(1983:180 ev) skryf dat die primêre betekenis van 10:2-12 vir ons tyd in die
sterk beklemtoning lê dat reeds met die skepping heteroseksuele verbintenisse
deel van God se goeie plan vir die mensdom die gegewene is. Dat die bande heteroseksueel moet wees, word
deur die teks as voorveronderstelling geneem en geïmpliseer. Dat hierdie bande permanent is, word
eksplisiet in Jesus se woorde aan die Fariseërs gestel. Hierdie verstaan van die huwelik bied ‘n
vaste oriënteringspunt in ‘n tyd wat gekenmerk word deur verwarring op die
gebied van die seksuele.
Die
perikoop is ondubbelsinnig oor trou in die huwelik as God se genadige plan en
dat dit ‘n nastreefbare doelwit moet wees vir alle egpare. Alhoewel die dringende vraag, beide in die
teks en in ons lewens, dikwels oor egskeiding gaan, verskuif Jesus die aandag
na die huwelik. Hy roep ons op om verby
die kompleksiteite van spesifieke probleme en situasies te kyk na wat in die
skepping gegee is. Die verbintenis
waarna ons fisies en geestelik smag word die beste bereik deur getrouheid aan
een maat in ‘n lewenslange verhouding.
Almal in die teks – Fariseërs, dissipels, Jesus – is daarvan bewus dat
God se goeie plan op duisende maniere gedwarsboom word en man-vrou verhoudings
gekorrupteer word. Hulle en ons weet
dat die verhouding tussen man en vrou dikwels nie daarin slaag om aan alle
fisiese en geestelike behoeftes te voldoen nie. Trouens, dikwels is sulke verhoudings ‘n wrede parodie van die
goddelike bedoeling daarvoor. Deur op
die plan eerder as op die probleem te fokus, waak hierdie teks teen die
uitgrawing van goddelike waardes deur menslike mislukkings. Die teks beklemtoon die erns van die huwelik
vir hulle wat dit oorweeg. Die teks
verseker ons ook van die Here se seën aan almal wat (met wisselende mate van
sukses) daaraan werk om hulle huwelike te bou en te verryk.
Die teks
het betrekking op die mate waartoe ons opgewasse is teen die vrees vir ‘n
huwelik en op die mate waartoe ons faal om aan die hoë eise daarvan te
voldoen. Wat ons mislukkings betref,
gebruik ons, soos die Fariseërs, die wet as ‘n manier om aan God se eise te
ontkom. Op die manier legitimeer ons
ons optrede en veroorsaak dit dat ons dit regverdig. In hierdie opset, soos in baie ander, verkies ons om deur ons eie
optrede (lees: “goeie werke”) gered te
word, eerder as om te erken dat ons gefaal het en dat ons net maar op die
genade aangewese is. Alhoewel Jesus
hier die noodsaak van die wet erken, relativeer Hy nogtans die wet, verwerp Hy
legalisme en dring Hy aan op die prioriteit van God se wil enersyds, en op
interpersoonlike verhoudinge andersyds.
Vrees vir
die huwelik spruit dikwels uit ‘n legalistiese verstaan van die teks. Paartjies, in ‘n poging om Jesus se lering
oor egskeiding te vermy of om die wetlike vereistes van ‘n burgerlike huwelik
te omseil, kies soms om bloot saam te woon.
Hierdie teks gee nie ‘n antwoord op die vraag of ‘n huwelik bestaan nie,
ook nie op die vraag of God ons
saamgevoeg het nie. (Die etiek van die
Pastorale briewe is hieroor duidelik.)
Die teks sê wel dat in die omgang tussen een man en een vrou word bande
bo die wet gevorm en wat daarom nie deur die wet uitgewis kan word nie. Deur ‘n wetlike huwelik te omseil kan die
eise tot trou en getrouheid nie ontwyk word nie.
Enige een
wat deur die vrees dat hy of sy nie aan die eise van die huwelik sal voldoen
nie gedryf word om nie in die huwelik te tree nie kan verseker wees dat God se
skeppingsorde aan die kant is van die huwelik tussen man en vrou. Die woorde van 10:27 kan as evangelie ook in
die verband van die huwelik interpreteer word.
Die
parallelle gedeeltes in die Sinoptici steun die huwelik en huwelikstrou teenoor
egskeiding en legalisme. Wat die Markus
teks besonders maak, is vers 1 wat die leser herinner dat dit lering oppad na
Jerusalem is. Die gedeelte staan ook te
midde van lydensaankondiginge waarin gepoog word om navolgers die kruisweg te
leer. Jesus in sy persoon en deur sy
lering bied aan gelowiges die model van sterwe-om-te-kan-lewe. “Nowhere is that model more applicable or
more necessary than in the intimate, long term realationship in which two
persons become one. Nor does any element in the gospel challenge
more profoundly the usual understandings of self-actualization and
self-fulfillment of an egocentric culture.” (Williamson 1983:181.
Kursivering JCR. In die verband
sien ook “DJS” se oordenking “Burgerlike heldhaftigheid” onder Geestelike Waardes
in Die Burger 13 Maart 1999 p10.)
Die naasmekaarstelling
van Jesus se optrede teenoor die kinders met sy leer oor die huwelik moet die
leser ook laat dink aan die effek wat ‘n egskeiding op kinders het. Die naasmekaarstelling is ook in ‘n ander
opsig belangrik: Die woorde “Wie die
koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie”
staan as ‘n verdere waarskuwing teen legalisme in ons verhouding met God, en
gevolglik in elke aspek van ons lewe.
Dit beteken, byvoorbeeld, dat ons nie die koninkryk ontvang deur wette
teen egskeiding na te kom nie, ook ontvang ons nie die koninkryk deur allerlei
wetlike verpligtinge binne die huwelik na te kom nie. Deur volhardende nougesetheid kan ons genoeg doen om in ‘n
eiegeregtige selfbehae te verval (lees: “op ons goeie werke te roem). Dit sal egter nog lank nie beteken dat ons
enersyds die doel met ons huwelik bereik het nie, of andersyds, dat ons die
koninkryk helaas ontvang het nie. Aan
ons huwelike moet ons werk, tog is dit, paradoksaal, ‘n gawe van God, soos wat
die koninkryk is. Een manier waarop die
genadige heerskappy van God ‘n werklikheid in ons lewens word, is wanneer man
en vrou mekaar openlik (lees: “in ‘n openbare seremonie”) in hulle gesamentlike
lewe ontvang, en ook hulle kinders en lewe saam as blye geskenk uit Gods hand
ontvang. “Perhaps this kind of
receiving is the greatest gift we can offer each other. To such as receive in this way belongs the
Kingdom of God.” (Williamson 1983:182).
Die
gedeelte bied verskeie preekmoontlikhede. Deur op verse 1-12 te konsentreer kan
die prediker die lig van die teks op huwelik, huweliksverryking en egskeiding
laat val. Insigte vanuit Louw (1983,
1986 en 1989) kan in die verband bygewerk word. Etlike artikels in NGTT 16 van Maart 1985 bied bykomende
stof.
Williamson
(1983:181) maak die voorstel dat kreatiewe homilete dalk die betekenis van die
teks kan bedink vir jong mense wat vir die eerste (en hopelik laaste) keer ‘n
huwelik oorweeg; vir getroudes wat dalk met ‘n moeilike huwelik worstel en
begin dink aan egskeiding; vir geskeides wat hertrou oorweeg (sien veral Louw
1986:57 ev); vir persone wat ‘n affaire
buite die huwelik het; vir homofilie; vir selibaatskap. Hy rig ook die waarskuwing dat so ‘n
benadering maklik in legalisme kan ontaard.
Combrink (1985:149) sluit hierby aan:
“Loop ons nie die gevaar om ‘n nuwe kasuïstiek rondom Jesus se uitspraak
oor die huwelik op te bou wat dan van egskeiding die een onvergeeflike en
onherroepbare sonde maak nie? Sal ons
dan nie maar eerder aanvaar dat ons in hierdie opsig, net soos ten opsigte van
alle gebooie en die hele wet van God, geroep word tot ‘n getrouheid aan die wet
wat meer inhou as dié van die Fariseërs en die skrifgeleerdes nie? Maar dat ons dan ook in hierdie opsig, ook
en juis wanneer ons faal in ons sonde, uit die versoening en genade van God mag
lewe sonder om onder die juk van ‘n nuwe legalisme te buk.”
Smit (1983)
konsentreer op verse 13-17 in ‘n dooppreek.
Binne die
dampgees van die Leesrooster is die
groter uitdaging seker om die teks as geheel te neem. Williamson (1983) soos hierbo breedvoerig onder “Konteks”
aangehaal, bied uitstekende stof.
Predikers wat dit goed deurdink, sal hopelik ook van ‘n nuwe kasuïstiek
en legalisme bewaar word.
Bibliografie
Achtemeier, E 1987. Preaching about family relationships. Philadelphia: Wesminster. (Preaching about ... series). Die Burger, 13 Maart 1999. Burgerlike heldhaftigheid – Geestelike waardes p10. Combrink, H J B 1985. Nuwe-Testamentiese uitsprake oor die (on)ontbindbaarheid van die huwelik. NGTT 16, 131 - 151. Lane, W L (1974) 1982. The Gospel of Mark. Grand Rapids: Eerdmans. (NICOT) Louw, D J 1983. Versoening in die huwelik – riglyne in die pastorale bediening. Durban: Butterworth. Louw, D J 1986. Geen mens mag skei nie (?): Riglyne vir die pastorale hantering van egskeiding. Kaapstad: N G Kerk-uitgewers. (Stellenbosse Teologiese Studies 13) Louw, D J 1989. Gesinsverryking. Riglyne vir groei en kommunikasie. Pretoria: Academica. Rhoads, D and Michie, D 1982. Mark as story: An introduction to the narrative of a Gospel. Philadelphia: Fortress. Schrage, W 1988. The ethics of the New Testament. Philadelphia: Fortress. Smit, D J 1983. Markus 10: 13-17 in Burger, C W, Müller B A en Smit, DJ (reds), Riglyne vir doopprediking, 93-101. Kaapstad: NG Kerk-uitgewers. (Woord teen die lig 5). Verhey, A (1984) 1986. The great reversal: Ethics and te New Testament. Grand Rapids: Eerdmans. Williamson, L Jr 1983. Mark. Atlanta: John Knox. (Interpretation)