Markus 1:29-39 (Andé Agenbag)

6 Februarie 2000

Vyfde Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Jesaja 40:21-31; Psalm 147:1-11, 20c; 1 Korintiërs 9:16-23

Die gesagvolle optrede van Jesus bevestig sy status as Seun van God.

Teks en konteks

Die Markusevangelie ontvou in drie fases: In die beginfase stel Markus die leser bekend aan Jesus (1:1-13); in die middelfase beskryf Markus Jesus se openbare bediening aan Israel (1:14-8:26); en in die eindfase vertel Markus van Jesus se reis na Jerusalem en van sy lyding, sterwe en opstanding (8:27-16:8). Die middelfase sou as volg gestruktureer kon word:

Jesus se openbare bediening (1:14-8:26)

Jesus se gesag (1:14-3:12)

Jesus se lering (3:13-6:6)

Jesus en sending (6:7-8:26)

Dit is verder moontlik om in Markus 1:16-39 ses episodes te identifiseer waardeur Markus die aard van Jesus se bediening aanbied. Alhoewel die ses gebeurtenisse onafhanklik van mekaar is, is hulle só gerangskik dat dit amper as “’n dag in die lewe van Jesus” voorkom.

Verlede week het ons, in Markus 1:21-28, die tweede in die reeks episodes behandel. In Markus 1:29-39 vind ons die laaste vier episodes. Die eerste is die genesing van Simon se skoonmoeder (verse 29-31); die tweede handel oor genesings en eksorsismes teen sononder (verse 32-34); die derde beskryf Jesus waar Hy alleen bid in die vroeë oggend (verse 35-38); en die laaste is ‘n samevattende opmerking oor Jesus se bedieningsprogram in Galilea (vers 39).

Die storie van die genesing van Petrus se skoonmoeder is die kortste van al die genesingsverhale in die evangelies. Opmerklik is, “Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien” (vers 31). Dit is ‘n baie rare verskynsel dat genesingsverhale soortgelyke reaksies toon van diegene wat so pas genees is, maar Markus beeld graag vroue uit waar hulle op prysenswaardige manier optree (7:24-30; 12:41-44; 14:3-9; 15:40-41; 16:1). Op ander plekke wys Markus hoedat Jesus beveel dat gelowiges hulle medegelowiges moet dien as gepaste respons op die evangelie (9:33-35; 10:42-45). Petrus en sy skoonmoeder word eintlik teenoor mekaar gestel. Enersyds begin sy skoonmoeder hulle onmiddellik bedien na haar genesing, en andersyds is dit Petrus wat sy onkunde oor die ware identiteit van Jesus luidkeels te kenne gee wanneer hy in vers 37 vir Jesus onderbreek waar Hy in gebed verkeer om vir Hom te sê, “Almal soek U.” Hierdie woorde van Petrus impliseer ‘n vermaning (vgl 8:32). Hier is reeds ‘n vroeë aanduiding daarvan dat Petrus (en die dissipels) dink, “nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (8:33).

Hierdie vier stories onthul niks nuuts aangaande Jesus se identiteit en bediening nie. Tog openbaar ‘n versigtige lees van die teks Markus se hantering van twee belangrike temas wat dwarsdeur die Evangelie loop, naamlik Jesus se identiteit en die swyggebod. Dit word nie hier herhaal nie, maar lees gerus in die vorige bydrae (Vierde Sondag na Epifanie) meer hieroor. Slegs enkele toepassings op die gelese gedeelte word weergegee.

Jesus se identiteit

Die onvermoë van die dissipels om te verstaan wie Jesus is, word in Markus 1:29-39 uitgebeeld deur die feit dat Simon en die dissipels daarop aandring dat Jesus terugkeer vanuit gebed na die massas wat Hom nodig het (vers 37). In Markus verwys die “soek” na Jesus gewoonlik na die pogings van diegene wat Jesus se aandag wil aflei (3:32; 8:11) of Hom wil teëstaan (11:18; 12:12; 14:1,11,55). Verder is dit ironies dat die bose geeste telkens weet wie Jesus is (1:24,25, 34).

Jesus se swyggebod (die sg Messiasgeheim)

Vir ‘n goeie uiteensetting van die Messiasgeheim en die swyggebod in Markus, vergelyk Vorster (1988: 147-150) se bydrae in die Handleiding by die Nuwe Testament (Deel IV). Jesus het reeds in die vorige perikoop (Mark 1:21-28) ‘n onrein gees die swye opgelê. Hier vind ons weereens so ‘n swyggebod (vers 34) met ‘n verduideliking daarby, “omdat hulle geweet het wie Hy is.”

Markus 1:29-39 wil eintlik die identiteit van Jesus versluier. In hierdie sin, sê Craddock et al (1984:136), is Markus 1:29-39 ietwat van ‘n kontra-tema binne die Epifanie-seisoen. Waar Epifanie beteken, manifistasie, verskyning of openbaring, wil hierdie week se gedeelte eerder versluier. Jesus se swyggebod en die dissipels se onvermoë om te begryp, beklemtoon die versluiering. Uiteindelik is die verluiering ‘n literêre tegniek wat Jesus se identiteit eintlik wil onthul. Daarom moet die prediker deeglik kennis neem van die Messiasgeheim, die swyggebod en die doel daarvan.

Die ses episodes in Markus 1:16-39 is só rangskik dat ons die volgende ontwikkeling kan bespeur: Jesus word baie gewild by die inwoners van Galilea. Jesus reageer op sy populariteit en die dissipels reageer op Jesus. Keer op keer vestig Markus die aandag op die groeiende roem van Jesus, “En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat” (vers 28), “die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom” (vers 33); “Almal soek U” (vers 37); “Daarom kon Jesus nie meer openlik in ‘n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom” (vers 45). Die groeiende roem van Jesus, hoe Hy daarop gereageer het, hoe die dissipels op Hom gereageer het, en die versluiering van Jesus se identiteit, vorm ‘n goue draad wat deur Markus 1:29-39 loop.

Dit is belangrik om in die prediking nie vas te val in die vergeesteliking van die wonders nie. Die wonders moet in die breër samehang van die verhale waarvan hulle deel vorm gepreek word. Die prediking moet ook die nóg breër sistematiese verband waarbinne die wonders tot die koninkryk van God staan, verreken. Vergelyk in dié verband Smit se insiggewende artikel in Woord teen die Lig II/2 (pp 213-224); of vergelyk die kort samevatting daarvan in die bespreking van Markus 1:21-28 by Epifanie 4.

Die feit dat Markus 1:29-39 uit vier episodes bestaan, skep homiletiese probleme. Elkeen van die episodes kan ‘n eie vertrekpunt vorm vir die prediking:

Die eerste is die genesing van Simon se skoonmoeder (verse 29-31). Jesus se goedheid staan voorop. In Hom sien ons die koninkryk van God in aksie. Jesus vergestalt die koninkryk van God – die Outobasileia: Jesus is die koninkryk van God. Simon se skoonmoeder wys hoe lyk ‘n gepaste respons op die genesing (verlossing) van Jesus: diens. Verder skep genesing, gesien binne die breër raamwerk van die deurbreek en koms van die koninkryk, verdere preekmoontlikhede.

Die tweede handel oor genesings en eksorsismes teen sononder (verse 32-34). Volgens die Sabbatswette word die mense eers teen sononder na die Sabbat na Jesus gebring vir genesing. Heelheid is God se plan vir die koninkryk. Weereens is koninkryksprediking oor Jesus se wonders ‘n preekmoontlikheid, terwyl dit geplaas moet word binne die onmiddellike en breër konteks waarbinne dit geskrywe staan.

Die derde beskryf Jesus waar Hy alleen bid in die vroeë oggend. Jesus vind in God die bron van sy gesagvolle prediking en optrede. Hierdie diepste oriëntasie van Jesus staan natuurlik lynreg teenoor dié van optredes soos dié van Petrus in 8:33, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.” In dié verband is dit sinvol om te kyk na die openbaar-in-afsondering-patroon wat daar in Markus 1:29-39 te bespeur is. Hieronder word meer oor dié patroon gesê.

Die laaste is ‘n samevattende opmerking oor Jesus se bedieningsprogram in Galilea (vers 39). Jesus vermy die terugkeer na populêre erkenning in ‘n streek waar hy gewild begin raak het en reik uit met gesagvolle prediking en optrede na ander gebiede. Hier staan prediking nie teenoor die doen van wonderwerke nie, want beide is die verkondiging (en daarmee saam die deurbreek of koms) van die koninkryk van God (vgl Mark 1:15, “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie’”).

Preekvoorstel

‘n Preekvoorstel, waarop daar nou in meer detail ingegaan word, handel oor die identiteit van Jesus Christus. Dit gebruik as hooftema die manier waarop Jesus sy groeiende populariteit verwerk het deur voortdurend sy bediening en identiteit te verstaan vanuit die einddoel waarom Hy gestuur is: sy kruisiging. Anders gestel: Jesus het dit reggekry om sy oorkoepelende roeping te integreer met sy daaglikse lewe. In die Markusevangelie word Jesus se identiteit versluier. Die swyggebod en die idee van geheimhouding skep nuuskierigheid sowel as verwarring onder Jesus se volgelinge, destyds, sowel as vandag. In dié sin kan gesê word dat die Messiasgeheim, die swyggebod en die versluiering van Jesus se identiteit eintlik Jesus se identiteit aan die leser wil onthul. Só ‘n preek kan soos volg geformuleer word: Jesus is die Seun van God wat teen die populêre verwagting in, Homself verstaan het vanuit sy kruisiging wat voorhande was.

‘n Verhaaltjie waarmee begin kan word, is dié van twee houtkappers wat twee heeltemal verskillende werkswyses gehad het. Op ‘n dag het hulle bosboustasie besluit om ‘n kompetisie aan te bied. Die houtkapper wat die meeste bome in ‘n dag sou afkap, sou die wenner wees. Die eerste houtkapper was bekend as ‘n baie effektiewe werker en het uitgegaan met die beste tegnieke, implimente en werkskedules. Hy het normaalweg in een dag meer verrig as sewe ander houtkappers. Die tweede houtkapper was nie baie groot of sterk nie, maar hy het ‘n leuse gehad waarvolgens hy geleef en gewerk het: Begin met die einde in gedagte. Toe die kompetisie aan die einde van die dag sluit, het die eerste houtkapper, soos verwag, ‘n hele paar honderd meer bome afgekap as die tweede. Maar toe die wenner aangewys word, moes almal tot hulle verbasing hoor dat dit die tweede houtkapper is. Die beoordelaar verduidelik toe dat die eerste houtkapper inderdaad die meeste bome afgekap het, maar uit die verkeerde plantasie! Die eerste ding wat die tweede houtkapper gedoen het, was om in die hoogste boom, as ‘n uitkykpunt, te klim en te besef: “Verkeerde plantasie! Ek moet daar anderkant gaan kap!”

Die eerste houtkapper het sy agenda sódanig laat bepaal deur dit wat voorhande is, dat hy ‘n goeie indruk van die groter prentjie verloor het. Al die goeie en effektiewe dinge wat hy intussen gedoen het, was waardeloos, aangesien dit totaal buite sy breër opdrag geval het. Die tweede houtkapper was ‘n baie stadiger werker, maar die eerste ding wat hy gedoen het was om die groter prentjie te sien. Daarom het alles wat hy gedoen het getel. Dit het saakgemaak – al was dit ‘n heelwat kleiner bydra as dié van die eerste houtkapper.

In Jesus se bediening was daar sóveel dinge wat sy aandag in die normale gang van ‘n gewone dag kon gevange neem. Daar was sóveel dinge wat sy dringende en onmiddellike aandag vereis het. Vanaf Markus 1:16-39 lees ons van iets soos ‘n tipiese dag in die lewe van Jesus. Na Jesus die eerste dissipels geroep het, gee Hy onderrig in die sinagoge en dryf ‘n onrein gees uit ‘n man uit. Net na die diens in die sinagoge is hulle na die huis van Simon en Andreas. Daar genees Jesus Simon se siek skoonma. Teen die aand, toe die Sabbat ten einde loop, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Jesus toe gebring. Jesus het toe maar gehelp. Vroeg die volgende oggend, het Jesus opgestaan om in afsondering te gaan bid. Hy word wreed onderbreek deur die dissipels wat Hom wil teruglok na die massas behoeftige mense by wie Jesus nou reeds baie gewild geraak het: “Here, almal soek U.”

Hoe het Jesus gereageer op sy groeiende roem en populariteit? Hoe was dit vir Hom moontlik om sy bediening voort te sit sonder om verlei te word deur gewildheid? Die antwoord is dat Jesus se onmiddellike bediening bepaal is deur sy oorkoepelende visie. Jesus het deurentyd geweet wie Hy is en waarheen Hy oppad is. Die stem uit die hemel (1:11; 9:7) en die belydenis van die soldaat aan die voet van die kruis (15:39) gee die geheim weg: Jesus is die Seun van God. Maar Markus vertel vir ons Jesus is die lydende Seun van God wat alleen geken en verstaan kan word vanuit die (agterna) perspektief van sy kruisiging. Markus illustreer vir ons vier wyses (Craddock et al 1984:137) waarop Jesus reageer het op sy groeiende roem. Die preek kan ook goedskiks hiervolgens gestruktureer word.

Volgens Markus se rangskikking van die stories word tonele van Jesus se bediening aan die skares gevolg deur tonele van Jesus in afsondering. Let op: Verse 21-28, openbaar; verse 29-31, in afsondering; verse 31-34, openbaar; verse 35-38, in afsondering; verse 39-45, openbaar; 2:1, in afsondering. Hierdie openbaar-in-afsondering patroon vertel vir ons iets, nie alleen van Jesus se gewilligheid om te dien nie, maar ook van sy behoefte na fisiese en geestelike herstel. Hierdie patroon moet verstaan word in samehang met Jesus se afsondering vir gebed.

Jesus verkeer alleen in gebed (vers 35). Sy dissipels verstaan die nodigheid hiervan glad nie. Hulle verstaan nie waarom sy reis na populariteit onderbreek moet word met afsondering en gebed nie. Markus vertel maar net by twee ander geleenthede van Jesus in gebed (6:46; 14:32-39). Hiermee vestig Markus die aandag op God as die bron van Jesus se gesagvolle prediking en genesing. Die baie belangrike tema van die doen van God se wil kom hier ter sprake. Jesus, as die gesagvolle Seun van God, het God se wil volkome nagekom. In Getsemane het Jesus gebid, “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (14:36). Om die wil van God te ken moes Jesus tyd in gebed deurbring. Wanneer die dissipels Hom soek, onderbreek hulle waarskynlik sy gebed. Die versoek, “Almal soek U” is Markus se verwysing na die dissipels se neiging om te doen wat mense wil, eerder as wat God wil. As Jesus se roeping is om die koms van die koninkryk te verkondig (1:15), dan is sy roeping ook om die koms van die koninkryk te vergestalt. Jesus leef dit wat Hy verkondig. As Seun van God was Jesus se gesag ten diepste geanker in God self. Die enigste manier waarop Hy daaruit kon put, was gebed. Dit is, per slot van sake, die koninkryk van God wat in Jesus deurbreek. In Matteus en Lukas lees ons van die Ons Vader gebed wat Jesus vir die dissipels leer, “laat u koninkryk kom” (Matt 6:10). Jesus se modelgebed verwoord sy lewe. Anders gestel: Jesus leef sy gebed.

Jesus beweeg verder om sy bediening voort te sit aan diegene wat sy boodskap (in verkondigde woord en daad) nog nie gehoor het nie, eerder as om terug te keer na die roem en erkenning van sy vorige bedienings (vers 38). Die implikasies is duidelik: Almal word nie genees nie en almal word nie van bose geeste bevry nie. Maar Jesus wil met die tyd tot sy beskikking, soveel as moontlik mense bereik met die evangelie: Die koninkryk van God het naby gekom (1:15). Die missionêre gerigtheid van die Seun van God word hierdeur duidelik. Jesus se visie en sy roeping trek Hom weg van populariteit na die massas wat sy boodskap nog nie gehoor het nie. Jesus is meer besorg oor die vervulling van sy oorkoepelende roeping, as om toe te gee aan die versoeking van onmiddellike gewildheid en roem.

Jesus lê die swyggebod op diegene wat sy Naam en wonderdade openbaar wil maak. Hierdie swyggebod word gelê op die bose geeste (1:25,34; 3:12), diegene deur Hom genees (1:44; 5:43; 7:36; 8:26), en aan sy dissipels (8:30; 9:9). Diegene wat saam met Jesus gereis het tot by Golgota en die leë graf, weet dat die geloofsbelydenis wat vir Markus aanvaarbaar is, alleen te vinde is by die kruis (5:39).

In sy invloedryke boek, Seven habits of highly effective people: powerful lessons in personal change, skryf Steven Covey dat ons meer behoefte het aan ‘n helder visie van ons bestemming as aan ‘n padkaart. Dit is ons einddoel wat ons deurtrek. Dit is omdat ons weet waarheen ons oppad is, dat ons, êrens tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms, getroue volgelinge van Jesus kan wees. Dikwels word ons aandag van hierdie einddoel afgetrek deur die onmiddellike behoeftes en krisisse van elke dag. Ons raak dalk só besig met die dinge wat vir ons meer materiële voorspoed en sukses inhou, dat ons in die proses ons groter roeping versaak. Ons kry dit nie reg om ons onmiddellike lewe en ons groter, oorkoepelende roeping as dissipels van Christus te integreer nie.

In ons gemeentes kan ons meer krities vra na dié dinge wat ons agendas haal. Want dít is ‘n refleksie van ons prioriteite. Dikwels staan ons agendas meer in verband met dinge soos sukses, groter dankoffers, groter getalle en meer status, as wat dit geskoei is op die visie van ons bestemming. Ons raak besig met bedieningsfoefies om kop bo water te hou – intussen versaak ons ons roeping. Ons raak verblind deur die krissise wat ons in die gesig staar. Ons begin om te reageer op die krisisse. Dit raak ons bron van ‘inspirasie’ en ‘openbaring’. Só ‘n lewensingesteldheid kan twee soorte negatiewe gevolge hê. Beide ly aan dieselfde siekte: ‘n Verlies aan integrasie tussen visie en daaglikse lewe. Enersyds kan só ‘n lewe verval in neerslagtigheid en ‘n gevoel van moedeloosheid: Alles gaan verkeerd! Andersyds kan ons verblind raak deur die (oënskynlike) sukses en welvaart van die gemeente. Ons hou aan reageer op die onmiddellike goedgaan-tye en verloor ons geloofwaardigheid omdat ons nie ons daaglikse lewe integreer met ons visie nie.

Jesus Christus, die Seun van God, kon roeping en daaglikse lewe integreer. Die rede was eenvoudig. Hy het nou geleef vanuit ‘n helder visie van waarheen Hy oppad was. Mark 1:29-39 stel dieselfde uitdaging aan gemeentes en indiwiduele gelowiges.

 

Bibliografie

Craddock, FB et al 1984. Preaching the New Common Lectionary, Year B, Advent Christmas, Epiphany. Nashville: Abingdon Press. Powell, MA 1996. Epiphany. Interpreting the Lessons of the Church Year, Proclamation 6, Series B. Minneapolis: Fortress Press. Smit, DJ 1987. Die prediking van die wonderverhale in die Evangelies, 201-224, in WtL II/2, 201-224. Vorster, WS 1988. Die Evangelie volgens Markus: Inleiding en Teologie, in Du Toit, AB (Red), Die Sinoptiese Evangelies en Handelinge: Inleiding en Teologie. Handleiding by die Nuwe Testament (Deel IV), 106-150. Pretoria: NGKB. Vorster, WS 1991. Om te vertel dat Jesus Christus die lydende Seun van God is: Oor Markus en sy teologie, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks, 32-61.  Pretoria