Ander Tekste: Gen 1:1-2:4a; 2 Kor 13:11-13; Ps 8
1.1 Saam met die Markus en Lukas Evangelies is
Matteus die draers van die hooftema van die prediking van Jesus, naamlik die
koninkryk van God (hemele). Alhoewel daar basiese ooreenstemming by hulle is,
plaas elkeen tog ook weer 'n eie aksent. By Matteus is die tema veral teen die
agtergrond geplaas van die Ou Testamentiese voorstelling en verwagting van God
se persoonlike, dinamiese en universele heerskappy en hoedat dit juis nou sy
vervulling gevind het in die koms, in omvattende sin, van Jesus Christus en ook
sal voortbeweeg tot sy voleinding.
1.2 Binne hierdie breër raamwerk van die
koninkrykstema, bevat die teks vir die
Evangelies 'n byna unieke formulering van die triniteit. Die diskussie rondom
die moontlike oorsprong daarvan duur voort netsoos die leerstellige vrae wat
daarmee saamhang. Kom dit inderdaad uit die mond van Jesus self? Of is dit die
invloed van die Hellenistiese christene op die kerk soos weerspieël in die
Briewe van Paulus? Is dit 'n eie konstruksie van die outeur op grond van
ontwikkelinge rondom die doop binne die kerk? Hoe dit ook al sy, die
koninkrykstema kan nie losgemaak word van die persone van die Vader en die Seun
en die Heilige Gees nie want in die vervulling en voleinding van die koninkryk
van die hemele, staan hulle sentraal.
1.3 Matt
28:16-20 maak deel uit van die groter afsluiting van die Evangelie wat
hoofstuk 26:1 tot 28:20 insluit en wat die dramatiese slot vorm van die verhaal
van Matteus. Inhoudelik is dit nie eintlik 'n afskeidsrede nie want dit toon 'n
verrassende openheid na die toekoms toe. Wanneer 'n chiastiese struktuur in
Matteus herken word, dan het die gedeelte baie karaktertrekke wat korrespondeer
met die geboorte en voorbereidende gedeelte van 1:1 - 4:17. Maar op sigself
word 28:16-20 ook beskou as die hoogtepunt van die Matteus-verhaal, die sleutel
tot die verstaan van die hele boek want dit vat heelwat temas saam uit die
inhoud van die boek, veral rondom dissipelskap. Die gedeelte self gee 'n kort
agtergrond beskrywing (v 16 -18a) waar 'n belangrike aankondiging gemaak word
(18b-20). Die sogenaamde sendingopdrag self val in drie dele uiteen: a. die
bekendstelling van die Opdraggewer deur Homself; b. die inhoud van die opdrag aan die elf; en c. die versekering
van die blywende bystand deur die Opdraggewer. Die opdrag word met verskillende
ander Bybelse en nie-Bybelse gedeeltes in verband gebring, soos die
verbondsluiting by Gen 12, 15, 17 en Eks 20; met 'n dekreet soos in 2 Kron
36:22-23; die versoekingsverhaal van Matt 4:1-11; die buite-Israelitiese
kroningsplegtigheid, ensovoorts.
1.4 Die gedeelte het geen parallel in die ander Evangelies nie en dit is moeilik om die bron te bepaal. Die oorwegende mening is dat dit tot Matteus se eie goed behoort. Wat die literatuursoort van die gedeelte betref, is daar verskillende menings. So word dit onder meer 'n kultiese legende (Bultmann), 'n inhuldigingshimne (Brun), 'n manifest (Harnack), 'n openbaringswoord (Dibelius) genoem. Dit herinner ook aan uitsprake in die OT waar openbaring, voorskrif en belofte met mekaar verenig word (Eks 20:2; Deut 5:2; 31:5-6; Jos 1:2-7; Jer 1:7-8; Jes 43:1-2, 4-5). Die gebruik van die Drie-eenheids formule hier was vir baie 'n aanleiding om die outentisiteit van die gedeelte te bevraagteken, dit wil sê of dit mond van Jesus gekom het. Baie eksegete meen dat dit iets wat uit 'n latere periode kom, 'n soort liturgiese toevoeging. Dit word bevestig omdat dit nêrens anders in die Sinoptiese Evangelies voorkom nie. Die doop was aanvanklik slegs in die naam van Jesus, die Heer (Hand 2:38; 8:16). Alhoewel die vorm dalk van 'n later fase was, weerspieël die inhoud wel die basiese strekking van die Evangelie.
2.1 Die gebeure speel af in Galilea soos die
boodskap van die engel aan die vroue was om aan die dissipels oor te dra
(28:7). Verder wil dit ook die voor-kruisigingsbelofte van Jesus bevestig
(26:32). Die feit dat dit in Galilea plaasvind wil waarskynlik onderstreep dat
die gebeure van Jesus se opdragte aan sy dissipels, verstaan moet word as 'n
voortsetting van Jesus se werk, maar nou deur sy dissipels (sy kerk).
2.2 Die eintlike manifestasie van die
opgestane Heer vind plaas by 'n bérg – 'n belangrike motief by Matteus. Dit
hang waarskynlik saam met sy benadering om Jesus met Moses te vergelyk, die
twee middelaars van die verskillende verbonde
In Moses se lewe het die groot ontmoetinge, aankondiginge en opdragte
dikwels op berge plaasgevind. So doen Jesus dit ook (5:1). Dit benadruk die
gewigtigheid van die gebeure, bevestig Jesus se gesag en dit dui ook op die
openbaringsgehalte van dit wat hier plaasvind.
2.3 Die tweeledige reaksie van die dissipels,
naamlik van aanbidding en twyfel, moet verstaan word vanuit hulle verwarde
gemoed en in ooreenstemming met wat in die ander Evangelies rondom die
opstanding berig word. Om Hom te aanbid is om juis weer die buitengewone of
bonatuurlike in Hom te herken soos dit tot uitdrukking kom in sy opstanding uit
die dood. Om te twyfel is om tog nog skepties te staan vanweë gebrekkige
insig oor dit wat hier gebeur. Ten
spyte van hulle ambivalente reaksie op sy verskyning kom Jesus nader en gee
hulle die belangrike opdrag. Ook diegene wat nog twyfel het, ontvang die opdrag
eweseer as diegene wat alreeds uit oortuiging aanbid. Hiermee word ook duidelik dat die fokus in die gedeelte nie in
eerste instansie op die opstanding is nie maar eerder op die navolging van
Jesus.
2.4 Die inhoud van die opdrag self het baie
opvallende kenmerke. Eerstens, is daar die aspek van omvattendheid en
insluitendheid soos dit uitdrukking gebring word in "alle mag", "al die nasies" en "al die
dae". Dit val op dat Jesus by sy
opstanding met stelligheid die aankondiging maak dat alle mag aan Hom gegee is.
Daarmee is die laaste en eintlike mag, naamlik die dood, oorwin. Maar dit dui
ook daarop dat deur die opstanding alle andere manifestasies van mag
ondergestel is en dat Hy die enigste met absolute mag is. Die mag is op 'n
unieke wyse deur die kruis en opstanding verkry waarin ook die versoeker en sy
"aanbod" van "mag " aan Jesus ondergestel is (4:9). Hierdie
mag is aan Hom "gegee", want dit is God wat Hom uit die dood opgewek
het. In die oorwinning oor graf en dood het God die gesag aangaande die hele skepping
aan Jesus oorgedra op grond van sy gehoorsaamheid aan die wil van die Vader.
Daarom dra die mag 'n bevrydende en reddende karakter. "Hemel en aarde" bevestig die
totale omvang van sy mag. Dit het ook 'n eskatologies karakter. Barth in TIM, p 133: "It is not so much
a matter here of the resurrection of Jesus from the dead as of his exaltation
and establishment as the eschatological ruler and judge of the world". Die
opstanding beteken in werklikheid ook sy verhoging , 'n tema wat veral by
Johannes sterk beklemtoon word en wat sy heerskappy en gesag aandui.
Tweedens, kom die inklusiwiteit ook tot
uitdrukking in die uitsending "na
al die nasies". Kragtens hierdie
gesag deel Hy nou ook die opdrag uit. Die woorde herinner aan die visioen in
Dan 7:14 waarin aan die menslike wese ook heerskappy gegee word deur Hom wat
ewig lewe en waarin die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Dit
beklemtoon weereens die eskatologiese
en inklusiewe karakter van Jesus se opdrag. Dit lyk in stryd met eerdere opdragte in die Evangelie te
wees (10:5-6), maar is weer in lyn met die beskrywing van die laaste oordeel
(25:32) en die "universele" karakter van die geslagsregister aan die
begin van die Evangelie. Verder blyk dit in ooreenstemming met die basiese
strekking van die Evangelie te wees, wat wil aandui hoe die heil van Israel na
die nasies beweeg het. Die verbreding van die horison om alle volke nou binne
die gesigsveld te bring sluit nie noodwendig Israel uit nie, maar hierin is wel 'n veroordeling van Israel se trae
respons op Jesus se prediking. Die essensie is egter dat dit nou 'n wêreldwye
oriëntasie kry.
2.6
Derdens, verseker Jesus van sy voortdurende nabyheid met die woorde:
" al die dae". Die
belangrikheid hiervan word beklemtoon met die woord: "onthou".
Hierdie belofte van ondersteuning is kenmerkend van die God se teenwoordigheid
in die OT. Jesus se bevestiging van sy voortdurende teenwoordigheid hang saam
met die begin van die Evangelie in die Immanuel-naam, God met ons (1:23), en
word opvallend uitgebeeld met sy teenwoordigheid in die boot in die
wonderverhaal van die storm wat gestil word (8:23). Dit is ook 'n verdere
aanduiding van die betekenisvolheid van
die opstanding. Dit onderstreep dat dit eintlik Hy is wat steeds sy werk voortsit, nou op 'n ander wyse, naamlik deur
sy dissipels. Maar dit wil ook aan die dissipels die versekering gee, veral
hulle wat nog twyfel, dat Hy sal voortgaan om hulle te onderrig met betrekking
tot dissipelskap, maar nou in 'n ander gestalte van teenwoordigheid. Dit onderstreep
weereens die kontinuïteit met die aardse werk en lewe van Jesus. Deur hulle
word sy heerskappy en mag verder gerealiseer in die wêreld. Hierdie werksaamheid van die opgestane Jesus
deur sy dissipels gaan voort tot aan die voleinding van die wêreld wat bevestig
dat die koninkryk van die hemele vir Matteus in 'n groot mate ook nog 'n
toekomstige werklikheid is.
2.7 'n
Ander belangrike kenmerk van die opdrag is die bevel om dissipels te
"maak".. Die
"maak" hou basies twee dinge in waarvan die volgorde nie noodwendig
die belangrikste is nie: Eerstens, moet hulle die mense doop. Die doop is die
teken van die betekenis van Jesus se heilswerk en gesag en dat Hy aan die wil
van God voldoen het (3:15). Dit is dus meer betekenisvol as die doop van Johannes
(3:6). Die doop moet egter nie net in sy Naam geskied nie, maar in die Naam van
die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Daarmee word gesê dat in Hom die
Drie-enige God aanwesig en werksaam is. Dit beklemtoon die nou verbintenis wat
daar gedurig tussen Hom en die Vader is, dat Hy die geliefde Seun van die Vader
is wie se wil Hy uitvoer (26:42). Maar dit bevestig ook dat Hy die Gees ontvang
het en deur Hom gelei word.
2.8 Tweedens,
hou dit ook in om ge"leer" te word. Dit kom dikwels in Matteus
voor. Die inhoud daarvan moet in 'n omvangryke sin bedoel wees; in die redes,
in die werke in alles waarin Hy die voorbeeld gestel en waarin Hy hulle gevra
het om Hom na te volg, self in sy lyding en dood. Die "alles" dui hier die soeke na geregtigheid wat die
hoofdoel van sy lewe was. Dit is egter nie 'n leerproses om verstandelik te
ontwikkel nie of om bepaalde gebooie van Jesus te gehoorsaam nie. Dit is om tot
'n lewende verbintenis en verhouding tot Christus self te kom. In 'n sekere sin het Jesus se onderrig aan
hulle nou tot 'n einde gekom. Dit is die diskontinuïteit met wat vooraf gegaan
het. Die betekenis van dit wat Hy deur leer en lewe geleer het, word nou
verdere uitgewerk in die werksaamhede van die dissipels wat andere tot
dissipels maak deur hulle getuienis en prediking aangaande die opgestane Heer. Die uitgangspunt is dat die elf vir
wie Jesus hier toespreek alreeds sy dissipels is ten spyte van hulle twyfel.
Hulle is deur Hom in al hulle wedervaringe met Hom tot dissipels
ge"maak". Dit veronderstel verder dat hulle ook ander tot
dissipelskap moet bring volgens die wyse waarop hulle dissipels geword het.
Dissipels moet meer dissipels van Jesus
maak. Samevattend, sou mens kan praat van 'n noue samehang tussen christologie,
ekklesiologie en eskatologie in die kort perikoop.
3.1 Daar is verskillende moontlike fokuspunte
vir die prediking, soos die opstanding, alhoewel die gedeelte self nie te veel
aandag gee daaraan nie; of 'n sendingpreek want die gedeelte word dikwels as
die locus classicus van die sending gesien; of as dooppreek waarheen die
trinitariese formule wys.
3.2
Wanneer dit gebruik word vir die Drie-eenheidsfees sal aandag bestee
moet word aan die formule waarvolgens die doop moet plaasvind. Dit beteken dat
gefokus sal moet word op die werk van die Vader en die Seun en die Heilige
Gees. In die Evangelie van Matteus self kom dit saam in die werk van die Seun.
Die werk van die drie Persone kan haas nie onderskei word nie, wat nog te sê
geskei word. In die aardse werk van die Seun was die ander twee persone eweveel
aanwesig en aktief.
3.3 Tog sal ook by die fokus die kern-aspek van die perikoop nie geïgnoreer kan word nie, naamlik dissipelskap. Dit is die betekenis van die kerk by Matteus. Netsoos dit die Drie-enige God is wat in die Persoon van Jesus dissipels ge"maak" het vanaf die oomblik toe Hy hulle geroep het om agter Hom aan te kom, netso is dit ook die Drie-enige God wat by monde van die Seun die opdrag aan sy dissipels gee om nog meer dissipels te maak. Dit is met die volmag van die Drie-enige God dat Jesus die opdrag gee. Dit is in die Naam van die Drie-enig God wat dissipels ingelyf kan word in die dissipel-gemeenskap deur die doop. Dit is die Drie-enige God wat sy bystand belowe tot aan die voleinding van die wêreld. Dit is die dinamiese karakter van die gedeelte. Daar moet gewaak word teen die hantering hiervan as 'n abstrakte of dogmatiese debat, dit is evangelie. Die uitgangspunt hiervoor is dat 'n mens Matteus moet lees as 'n samehangende verhaal en nie as 'n versameling van losstaande eenhede nie. So gesien, mik die hele Evangelie op die slotverse (18-20) en moet dit van hieruit geïnterperteer word. Dit bevat dan ook die sleutelwoorde van die Evangelie waaronder ook die Drie-eenheid.